Skrywersonderhoud: Kleinboer gesels oor Van my beste vriende is groen pyltjies en bruin bottels

  • 1

Fanie de Villiers skryf onder die skuilnaam Kleinboer en is die skrywer van die romans Kontrei (bekroon met die Jan Rabie-Rapport-prys), Werfsonde en Hierdie huis. Met Van my beste vriende is groen pyltjies en bruin bottels debuteer hy as digter. Sy gedigte bevat huislike toneeltjies (nie altyd vredig nie), bedenklike groenkrui-gedagtes, en geheueflitse na wilder jare. Die bundel is in winkels beskikbaar, maar kan ook direk by naledi.online bestel word, en aflewering is gratis.

Remona Voges het met Kleinboer gesels.

Foto van Kleinboer: Magriet Theron

Van my beste vriende is groen pyltjies en bruin bottels
Kleinboer
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781928518327

Hallo Fanie! Hoe gaan dit met jou? Oorleef jy darem nog die inperking?

Weens die korona-inperking het ek aanvanklik slegs vanaf die huis gewerk (taalversorging vir ’n tydskrif), maar nou word ons twee dae per week in die kantoor toegelaat en ek is bly daaroor. Daar is iets te sê vir lendene omgord, skoene aantrek en die pad vat. Ek het tevore ’n roman geskryf met die titel Hierdie huis, maar te veel van ’n goeie ding is nie meer lekker nie. Ek begin aan verlamming ly wanneer ek te lank aaneen tuis sit. Om "knip naels" eindelik vanaf my taaklys te skrap, voel na ’n groot prestasie. En hierdie LitNet-vrae lê al vir twee weke in my inboks en hiberneer en word nou eers beantwoord, jammer! Ek verfoei myself oor ek te lui is om my pantoffels uit te trek; teen vieruur die middag slof ek soms nog rond. Eenmaal boonop in die tuin in hondestront getrap, en die groefies in die sole is fýn. Dit was ’n noodgeval. Ek kon nie "ontstront pantoffel" op my taaklys gaan skryf nie; ek moes dadelik ’n geskikte stokkie soek vir die skoonkrap. 

’n Ander nadeel van die inperking is dat my digbundel nie voldoende na winkels versprei kon word nie.

Waar kom jou skuilnaam, Kleinboer, vandaan?

In die dae toe Koos Kombuis nog die little magazine, Ons Klyntji, uitgegee het (meer chaoties as wat Toast Coetzer dit deesdae doen, maar dit het ook meriete gehad), het hy my gevra om telkens ’n rubriek te skryf. Ná ’n paar kere het hy voorgestel dat ek dit onder ’n skuilnaam doen, want die krieketspeler, Fanie de Villiers, was my naamgenoot. Ek sê toe vir Koos, maar daar was tog ’n skrywer asook ’n hartchirurg genaamd Chris Barnard, en dit was nie erg verwarrend nie. Koos het my egter wel omgepraat om ’n skuilnaam te kies, en dit was maklik. In daai stadium het ek ’n rissiestruik en ’n lappie spinasie in die agterplaas van my erfie gehad, en ek bring die "klein" landbou-aktiwiteit en my kort gestalte toe bymekaar.

Foto van Kleinboer: verskaf

Jou bundel is "’n koffietafelboek vir ganjamense en ander fragmentlesers". Ek moet vra hoe jy voel oor die feit dat dagga die afgelope tyd amper meer wettig as sigarette is?

Ek was nog nooit ’n tabakroker nie. In my jonger dae het ek wel soms ’n sosiale sigaret gerook, byvoorbeeld by ’n partytjie. Die lekkerste deel was die aansteek daarvan, om die vlam van die vuurhoutjie nader te bring en die sigaret "brand te maak", soos ’n seuntjie wat met vuur speel. Maar dan het die nikotien my hartklop opgejaag en ’n blos op my wange veroorsaak, dit was irriterend. Daarenteen bring dagga ’n verandering in ’n mens se bewussyn te weeg. Ek het skoon dagga gerook, met ander woorde sonder ’n tabakmengseltjie by. Ek was meestal ’n naweekroker. Dagga en drank met die braai, naby die Bluetooth- luidspreker en sy goddelike musiek in die garage. In die erf het ek meer gesiggies as gewoonlik in boombas gesien. Wanneer ek die vleis of nog drank in die kombuis gaan haal het, het ek getrip op die geluide van ons wasmasjien, veral wanneer dit naby die einde van ’n siklus vinnig tol. Dit het soos krautrock geklink, of Tangerine Dream. Puriste drink nie saam met dagga nie, maar zol het my moerse dors gemaak. Ek kon twee bottels wyn uitdrink en nog bier en whisky skink ook. In Engels noem hulle die gekombineerde effek van dagga en drank crossfade. As ’n mens nie briek aandraai nie, kan dit lei tot ’n blackout.  

Ek het op 23 Junie 2019 laas dagga gebruik. Op daai dag het ek nie daggakoppe gehad om te rook nie, toe maak ek ’n heksebrousel tee van ’n moerse klomp blare van ’n groot daggaplant wat ek tevore in my erf geoes het. Dit was ’n oordosis en die effek het vir ure aangehou. Ek was ontsettend paranoïes, selfs te bang om in die agterplaas uit te gaan, al het die son nog geskyn. Sê nou tsotsi’s spring oor die grensmuur en slaan my kop in terwyl ek braai? Toe roep ek dagga vaarwel. Ek voorsien wel nog een of twee hasjisj-pypies in my toekoms, maar saam met ’n ervare roker wat my oppas en gerusstel. Dalk in Rotterdam met my Nederlandse vriend (ek sou verlede maand die eerste keer in 32 jaar na Europa vlieg, my vliegkaartjie was reeds gekoop, maar toe kelder die koronavirus my reis).

Fotobron: Unsplash

Ek het ingesien dat my daggarokery oor die naweke die band met my vrou begin beduiwel het. Sy het voor die TV gesit terwyl ek in die garage alleen aan die trip was. In my eerste boek, Kontrei, het ek uit Prediker 18:1 aangehaal: "Hy wat hom afskei, soek sy eie begeerte," en bygevoeg dat ek as jongeling gedink het dit handel oor masturbasie. Maar hierdie keer het die "afskeiding" vir my beteken dat ek wegdryf van my vrou ter wille van daggagedagtes en insiggies. Aan die positiewe kant moet ek byvoeg dat seker die helfte van my digbundel op ’n Sondagoggend geskryf is terwyl my brein sy pad met woorde probeer oopkap uit die eiesoortige babelas wat dagga gekombineer met drank veroorsaak het.

Terloops, ek het eenkeer magic mushrooms probeer en sal dalk weer. Dit was soos ’n waarheidserum. Die warm trane het verlossend gevloei en ek het gelag ook.

Jy het al drie romans met groot sukses gepubliseer. Hoe was die ervaring vir jou om ’n digbundel saam te stel? Is dit iets wat jy weer sal aanpak?

Die saamstel van ’n digbundel was vir my veel makliker as die byeentrek van ’n roman se baie drade en gebeure in ’n sekere volgorde. Of ek nog ’n bundel sal skryf? In hierdie stadium voel dit vir my na nee. Gert Vlok Nel is in dié opsig ’n rolmodel met sy eenmalige bundel, Om te lewe is onnatuurlik.  

Van my beste vriende is groen pyltjies en bruin bottels is ’n lywige bundel met byna 100 gedigte. Hoe lank het dit jou geneem om die bundel te voltooi?

Dit het my sewe maande geneem om al die gedigte te skryf. Daarteenoor was dit met van my romans ’n worsteling van vyf jaar en selfs langer.

Jou fassinasie met Johannesburg en spesifiek Yeoville het nog altyd in jou werk weerklink. Wat is dit omtrent dié plek wat jou verbeelding so aangryp?     

Ek het in Julie 1990 my huis in Yeoville betrek, dis amper 30 jaar gelede. Yeoville het my aangetrek oor dit Johannesburg se mees boheemse area was, met heelwat kunstenaars, skrywers en musikante. In Rockeystraat was daar talle kroeë en allerlei interessante winkeltjies. Uit ’n beleggingsoogpunt was dit ’n ramp. Tot aan die einde van die 1990’s kon ’n mens nog lekker daar jôl, maar toe het die white flight, wat in 1994 se kant begin het, verhaas. Ek, met my swart vrou, het aangebly. Die toestroming was erger as wat ek verwag het. Eindelik het Yeoville drie keer meer inwoners as tevore gehad en die eiendomspryse het getuimel. Die township het na die stad gekom, met spazawinkels en sjebiens in elke straat. Die munisipale regulasies is ook geïgnoreer. Mense het byvoorbeeld lustig agterkamers in hul erwe aangebou sonder om planne in te dien vir goedkeuring, sodat al hoe meer huurders ingestop kon word. Uit ’n skrywersoogpunt was dit nie ’n ramp nie, want die "nuwe" Yeoville het materiaal in die oog laat spring wat ’n steriele buurt in byvoorbeeld Midrand nie sou kon voorsien nie. Sinkdakke in Yeoville word nie meer geverf nie, ’n mens sien orals roes, asook mure waarvan die verf afdop. Deesdae is die meerderheid inwoners nie meer swart Suid-Afrikaners nie, maar mense van die Kongo, Nigerië en veral Zimbabwe. My vrou sê ek is nou te oud om in Rockeystraat te drink en sy is reg. Dis ook gevaarlik om saans terug te stap huis toe.

Jy word deur sommige mense as ’n redelik kontroversiële figuur beskou. Pla dit jou as mense jou etiketteer? Hoe hanteer jy kritiek? 

Hoewel my vriende meestal Afrikaanssprekend is, lewe ek buite die lager. Niemand op straat in Yeoville weet ek is ’n skrywer of waaroor ek skryf nie. Nee wat, kritiek kry nie veel vatplek aan my nie. En by die werk hou ek ’n lae profiel en loop nie met my lewenstyl te koop nie. My kollegas weet net ek braai elke naweek.

"My kollegas weet net ek braai elke naweek" (Fotobron: Unsplash)

Daar was kritiek op die hoofkarakter in my romans, maar die vet weet, hy het prostitusie nie probeer vergoeilik nie. As gevolg van sy onderdrukte seksualiteit in sy jongmansjare was bordele later vir hom ’n soort van toevlugsoord. Voorin die Engelse vertaling van Kontrei, met die titel Midnight Missionary (ek is spyt ek het dit nie Cuntry genoem nie), het ek hierdie stukkie van Franz Kafka laat invoeg: "I passed by the brothel as though I passed the house of a beloved." (Die hoofkarakter was meer as ’n dekade laas in ’n bordeel; deesdae is skaak sy stokperdjie, asook oplees oor ruimteverkenning.)

Waarom skryf jy?

Want die mond kan nie backspace nie. Wat gesê is, is gesê. Met die pen is daar darem die moontlikheid om iets beter te formuleer voor jou woorde ander bereik. Ek skryf ook om ’n wyer gehoor te bereik. Ek kan byvoorbeeld op Facebook skryf ek is so lief vir my vrou soos die koronavirus vir longe, en hoop mense kan daarmee identifiseer of daaroor lag, terwyl my vrou self dalk sal frons as ek dit sê (sy is nie op Facebook nie, maar gebruik wel WhatsApp).

Ek is ook gek oor woordspel en met die geskrewe woord werk dit dikwels beter. Die ander dag lees ek byvoorbeeld in die Guardian: "Yeast of our worries: Marmite supplies hit by COVID-19 brewing slowdown." Daardie "Yeast" wat "Least" se plek inneem, dit bekoor my. In Orange Grove se Louis Bothalaan het ek verby ’n charismatiese kerk gery met ’n uithangbord wat Orange Groove sê. Sulke dinge laat my na my notaboek gryp. (Dit was ’n onskuldige fout. Baie swart mense spreek dit as Orange Groove uit, nie Grove nie.)

In die Mojo-tydskrif het ek iets gelees wat ’n musikant gesê het (dit ontgaan my nou wie dit was), en ek wens ek het dit geskryf: "I thrust my lowlife thrills down the nation’s throat." 

Ek is ’n privaat mens wat vreeslike dinge oor myself in die openbaar bely om van die las ontslae te raak, en gelukkig gee skrif afstand. Ek skryf ook oor dinge wat my seermaak. Ek het byvoorbeeld my ma se diamanthangertjie wat ek geërf het in ’n onbesonne oomblik vir ’n prostituut in ’n kroeg gegee. Jare later pynig dit my steeds. ’n Ander pynlike voorval was toe ek in my oprit oor my hondjie, Woester, gery het. Sy was 16 jaar oud en reeds doof, en kon my kar nie hoor aankom en padgee nie. Ek het agteruit gery en daar was ’n blindekol. ’n Band het darem nie oor haar gegaan nie, maar die onderstel het haar seergemaak en bietjie bloed het by haar snoet uitgekom. Sy het op ’n manier half herstel, en ek het haar eers drie maande later by die veearts laat uitsit met die vae troos dat ek haar nie doodgery het nie, maar dat ouderdom haar ingehaal het. Ek skryf hierdie dinge in ’n joernaal en deel dit soms met ander.

Skryf kan moeisaam wees, ’n pyn in die gat. Ek tik wel elke oggend moeiteloos oor koffie ellelange WhatsApp-boodskappe aan my tweelingbroer; die woorde vloei eenvoudig by my vingers uit. Ek sou hom nie elke oggend met sulke lang stories kon bel nie.

Jou werk het altyd ’n outobiografiese inslag. Hoe reageer mense oor die algemeen op wat sommige as "skokkende" feite oor jou lewe sal beskryf? Vind jy dit moeilik om jouself en jou naastes op papier bloot te stel? En hoe voel jou geliefdes daaroor?

Die geliefdes wat onder my dak woon kan nie Afrikaans lees nie. Dit wat ek skryf is ’n borrel waartoe hulle nie toegang het nie, al is die inhoud dikwels oor hulle lewens. Ek is wel versigtig om nie my tweelingbroer bloot te stel nie, maar soms is daar insidente wat verleentheid bring, soos toe ’n moedswillige kollega by sy werk ’n koerantuitknipsel van ’n onderhoud met my teen sy kantoordeur vasgeplak het.

Wat is jou skryfproses as dit kom by die skryf van gedigte? Verskil die manier waarop jy die bundel aangepak het baie van die wyse waarop jy ’n roman sou aanpak?

Met die romans moes ek aantekeninge wat oor jare gemaak is, saamsnoer in een geheel, soos bergstroompies wat afloop na spruite en eindelik ’n rivier vorm, terwyl ’n gedig dikwels met ’n idee begin het en dan binne ’n dag of twee voltooi is. Die romans se aantekeninge was op chaoties-verspreide stukke papier en in verskillende rekenaarlêers, terwyl die gedigte meer direk tot stand gekom het, meestal dadelik in dieselfde rekenaarlêer getik.

In "Naamloos" skryf jy: "(dié is nie ’n roman nie, mens hoef nie / alle besonderhede te verklap nie)". Is hierdie gegewe iets wat jou na die digkuns aantrek? Die element van verskansing en suggestie wat daarmee saamgaan?

In die romans moes ek ’n storie vertel, daarom was besonderhede, name en plekke belangrik. Met die gedigte kon ek meer universeel omgaan, en meer suggestief en selfs duister.

Jy is al beskryf as die Boere-Bukowski. Wie is jou grootste invloed as dit kom by die digkuns?

Vreemd genoeg het iemand, nadat my eerste boek verskyn het, geskryf dit is deels soos Charles Bukowski se werk, en dit was die heel eerste maal dat ek van hom gehoor het! Maar ek het sedertdien heelwat van sy boeke gelees en voel gevlei om met hom vergelyk te word. Hy was ook ’n outsider wat die underbelly ondersoek en die skurwe kant van die lewe gevoel het.

Ek was ’n BSc-student wat seker eerder tale moes studeer het. Maar uit eie beweging het ek groot dele van die Groot Verseboek gelees, en daarna baie bundels van my gunstelinge, insluitende Breyten Breytenbach, Johan van Wyk, Jeanne Goosen, Wilma Stockenström en Gert Vlok Nel. Ek hou ook baie van die oorlede Amerikaner Kurt Vonnegut se werk, veral oor die humor daarin. En hoe besielend is hierdie stukkie van Walt Whitman nie: "Washes and razors for foofoos – for me freckles and a bristling beard."

Ek het heelwat Nietzsche gelees en nie alles gesnap nie, maar hy kon dinge wonderlik en poëties stel. Hierdie is ’n lieflike boektitel: The Gay Science.

Die lirieke van rock songs het my ook baie inspirasie besorg en my bewus gemaak van die magic en krag van woorde en die ongekaarte kant van die lewe, byvoorbeeld Bob Dylan wat op "Sara" sing: "Sleeping in the woods by a fire in the night, drinking white rum in a Portugal bar." En Bruce Springsteen se song "Adam Raised a Cain" op die album Darkness on the Edge of Town. Cain wat die oor ook vang as cane, met ander woorde Kaïn wat gevoer en onderrig word, maar ook ’n rottang wat dreigend gelig word. En die Amerikaanse band Devo wat sing "I’ve got praying hands" … of is dit dalk preying?

Jy is ’n voltydse taalpraktisyn. Vind jy dat dit jou kreatiewe proses soms bietjie kelder? Of strek dit juis tot jou voordeel?

My werk as taalversorger kelder die kreatiewe proses deels deurdat ’n mens gatvol raak van heeldag voor die skerm sit en ander mense se skryfsels redigeer. Saans is ek nie lus om te skryf nie. Die oggend is my kreatiewe tyd, maar dan moet ’n mens jou eie dinge tuis agterlaat en opsaal vir werk. Dis paradoksaal dat ek nou weens die koronavirus ingeperk sit en heelwat tyd het, maar dat hierdie vrae wat ek vir LitNet beantwoord verreweg die meeste is wat ek vanjaar in ’n dag getik het. Ek het wel die verskoning dat ek tans aansterk ná ’n groot skoueroperasie (ek sit hier met slegs my linkerhand en tik), en ek voel ook my digbundel het onlangs verskyn, so ek kan soos ’n branderplankryer bietjie rus op my plank vir ’n ruk, terwyl ek vir die volgende lekker golf wag.

Hoewel daar ’n aantal liefdesgedigte in jou bundel verskyn, skryf jy in "Nie" (bl. 36) "ek’s nie ’n liefdesdigter nie". Watter soort digter is jy?

Ek weet nie! Ek is nie in staat om my enigste ou bundeltjie of myself aan ’n spesifieke kapstok te hang nie. Iewers het Breyten gedig: "alles gaan om my aan en in my om – ook ek is hier". Op my afgewaterde manier probeer ek maar daai gevoel vasvang.

Sal jy asseblief ’n gedig in jou bundel met ons lesers deel?

Daar is ’n hele paar ligsinnige, oneerbiedige optelgediggies in die bundel (farting around). Ek sal een van hulle hier deel, dan kan mense maar die bundel vir die "dieperes" koop:

Onbehoorlike geheueflits vind uiting

pas rillend in die tuin gaan pis
en onwillekeurig die ou grappie onthou
van ’n oningewyde leerling
wat deur sy onderwyseres verlei word
en eindig met
hoe lekker piepie ek nou
juffrou
(stenig my maar)

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top