Hoe het jy jou hart op boeke verloor?
My ma was ’n onderwyseres wat huisvrou geword het. Ek kon die ABC opsê voor ek skool toe is.
My pa (ook ’n onderwyser) het ’n groot boekrak gehad. Dit was meestal ligte leesstof. My pa was ’n lid van die 707-Boekklub en het elke maand ’n boek in die posbus gekry. Spioenasie-rillers, dikwels in vertaalde Afrikaans. Maar dit het gehelp om die leesaktiwiteit vroeg op my af te stempel. Daar was darem ook ’n AG Visser en ’n Langenhoven uit my ouers se studentedae in die boekrak.
My ma het my en my tweelingbroer vroeg by die biblioteek laat aansluit. Eenkeer tydens ’n vakansie het sy gesê: “Julle draf ’n voetpaadjie uit biblioteek toe.” Ek het veral CF Beyers-Boshoff en Elmar Steyn se boeke opgeslurp. Daar was ook elke maand ’n nuwe Reader’s Digest en in die huis, en weekliks ’n Huisgenoot.
In my laaste jare op hoërskool het ek ’n renons in boeke ontwikkel. Voorgeskrewe boeke het lees soos wérk laat voel. Ons Engelse matriekboek, Barlasch of the Guard, was ’n afgryslik onverstaanbare boek vir ’n Oos-Randse seun. Dit het vaagweg gegaan oor ’n Poolse soldaat wat die oorlog oorleef het en nou deur ’n mistroostige landskap en ruïnes strompel op soek na iets, die vader weet wat. En dan moes ons moeilike eksamenvrae daaroor beantwoord! Ons Afrikaanse voorgeskrewe boek, Die gekneusde jaar, het my darem effens minder gekneus.
In my twintigs het ek weer begin lees, uiteenlopende skrywers soos Kurt Vonnegut, Breyten Breytenbach, Nietzsche. Maar deesdae lees ek skandalig min, nie eens ’n boek per jaar nie. Ek het laas jaar gevat aan ’n Roth – dis goed geskryf, maar ek het nie verder as ’n derde gevorder nie. Ek worstel met my eie skryfwerk; is amper klaar met ’n boek.
Wat is jou gunsteling-reël uit ’n boek
Ek hou meer van Kafka se dagboeke as van sy stories. Op 11 Maart 1915 het hy byvoorbeeld geskryf: “Ek, asof van hout gemaak, ’n klere-droograk wat tot in die middel van die kamer gestoot is. En nogtans hoop.”

