Oor Nuwejaar het professor Miller Moolman nostalgies begin geraak. Oor sy pa. En oor sy pa se werksgereedskap en sy power tools. Mens kan ook praat van “kraggereedskap”, maar werktuie klink gevaarliker en meer macho as mens dit in Engels stel: ’n “angle grinder” is byvoorbeeld soveel grimmiger en aggressiewer as ’n “hoeksnyer”. ’n Gereedskapskis is iets kosbaar wat oorgeërf word van ’n vader deur ’n seun, soms vir generasies aaneen, al verloor hierdie gereedskap hulle waarde in teenstelling met hulle moderne eweknieë.
Mans uit alle beroepe – witkraag- sowel as bloukraagwerkers – vertel in verrassend baie artikels op die internet van die maak van kosbare herinneringe tussen pa en seun met hierdie gereedskap. Daar is die rituele van Pa wat sy werksgereedskap gereeld skoonmaak, poleer en ophang in die garage – die uitstalruimte van manlike trots. Die bordhout met die buitelyne waarteen hierdie robuuste kleinode hang, moet verkieslik langs die kar wees. Dis ’n teken dat Pa die kar self in stand hou.
Die herinneringe aan pa-en-seun se jeugdige male bonding is, aldus hierdie artikels, skerp sintuiglik en konkreet. Pa se sweet en velolie het ingetrek in die houtgrein van ’n handvatsel. Daar was die hitte, die geraas en stof, die afwagting – en die roes. Ek ontdek selfs elegieë wat volwasse mans, in tere herinnering aan hulle vaders en hul werksgereedskap, geskryf het. Ek lees die liefdevolle memoires van vroue wat hulle pa’s se kraggereedskap onthou. Hierdie gereedskap het Pa gedefinieer as simbool van werkersklasedelheid: Pa het goed verander, gemaak, réggemaak. Hy was ’n towenaar. Uiteraard figureer Pa se gereedskapskis soos Pandora se boks, en is daar mans wat liefs van hulle vaders se gereedskap wil vergeet. Hoe dit ook al sy: Seuns onthou hulle vaders, op welke wyse ook al, via hulle gereedskap.
En professor Moolman begin te vertel ...
Toe ek ’n klein seuntjie was, het Pa my toegelaat om saam met hom houtwerk te doen. Sy gereedskap was netjies, met klein boutjies aan bordhout in die garage vasgeskroef. Elke stuk gereedskap het sy plek gehad en elkeen was met presisie opgehang. Maar die Black & Decker-boor was in ’n kas in die garage weggebêre – die boor het verhewe status geniet.
Pa het ook aangedring dat ek my eie gereedskap kry, en kort voor lank het ek my gereedskapskissie ontvang met ’n miniatuurfiguursagie, hamer, skroewedraaier en tang. My bors het geswel van trots.
Toe ek as jong volwassene my eerste bonus kry, het ek by ’n groot ysterwarekettingwinkel ingestap en gesê ek wil hier uitstap met ’n gereedskapskis wat volgepak is met alles wat mens benodig om ’n man te wees. Ek het ’n Bosch-boor gekoop – ’n grote – want die skerp punt van ’n man se gereedskap is sy boor. Hoe groter, hoe beter. Pa was ’n Mercedes Benz-man, en ek is ’n BMW-man. Ek het op soortgelyke wyse besluit ek is ’n Bosch-man, nie ’n Black & Decker-man soos Pa nie. Van my vriende het industriële bore gekoop, egter met min huishoudelike nut. (En hier hoor ek vir Freud keelskoonmaak.) Vandag is daar USB-herlaaibare bore en skroewedraaiers, maar ek vermoed ’n “regte” man sal nie gereedskap vertrou wat herlaaibaar is en geassosieer word met rekenaartoerusting nie. Hoe kan ’n 12 volt-boor nou ’n gat in die muur maak?
Saam met ’n man se kraggereedskap kom die kragwoorde. Pa, normaalweg ’n gentleman wie se taalgebruik onberispelik is, vloek en swets skielik soos ’n matroos as daai toolbox oopgaan, en die grotman maak sy opwagting in selfs die mees sensitiewe siel. Al gesien hoe smyt ’n man sy spanners neer? Nee, ’n man sit nie sy spanners neer nie – hy góói dit. Menige vrou en kind vlug wanneer Pa begin boor, grind of sweis. (Dalk is moersleutels hier ’n meer gepaste bewoording vir spanners.) Want die gebruik van gereedskap aktiveer ’n primitiewe instink by ’n man, ’n oerdrang om die wildernis te tem en na sy wil te vorm. En sy toerusting kon net sowel die antieke tegnologieë van skerpgemaakte klip of been van die Javaman gewees het. Nee, sommige dinge verander nooit. Ma en kroos loer grootoog hoe Pa sy boor by die verlengkoord inprop, deur die huis loop en die trigger trek soos dié van ’n masjiengeweer terwyl hy soek na nóg ’n plek om gate te boor; dán weet jy HKGK.
Of Pa staan op ’n leer om Ma se nuwe kombuiskaste te installeer. Die kinders loop op eiers en Ma gee stilswyend en geduldig die gereedskap vir Pa aan.
Uiteraard moet Pa ook iets van elektrisiteit af weet, want hy moet die muurprop kan regmaak nadat Ma se stofsuier ’n onverwagse vlam daarby laat uitkrul het. Hy moet elektriese drade kan verleng sodat Ma meer beweeglikheid het wanneer sy haar haardroër gebruik.
Pa het eelte op sy palms en tussen sy duime en wysvingers, ’n aanduiding van hoe ’n (ware) man sy gereedskap vashou.
Dalk is Pa een van daardie amateurs wat naweke onder sy kar lê en hom tune, en uiteraard sal sy stel spanners byderhand wees. Die shifting spanner is ’n groot kosbaarheid en is die one-size-fits-all onder die spanners. Baie pa’s lê bloot onder hulle karre omdat dit die middel tot die doel self is – dis ritualistiese gedrag. Of dalk ’n lekker plek om vir Ma te beloer as sy vir hom ’n glas koue Oros bring. Selfs al is daar niks met die kar verkeerd nie, sal Pa hom genope voel om aan die enjin te werk (hy het later die duur les geleer “if it ain’t broken, don’t fix it”). En as Seuna se fiets nuwe briekblokkies moet kry, sal hy die klein moersleuteltjie wat die nuwe stel briekblokkies vergesel, ignoreer en die blokkies met sy nommer 11-moersleutel vasdraai. Want ’n man moet die regte gereedskap vir elke situasie gebruik. Pa sal die horries kry as jy ’n tang in stede van ’n moersleutel gebruik om ’n boutjie vas te draai!
Daar is altyd die risiko van besering met hierdie gereedskap, veral kraggereedskap – en veiligheidshandleidings word weggesmyt of vlugtig gelees. Groot ysterwarewinkels word die besoekplek – en mekka – van witkraagwerkers wat hulle oerinstinkte ontdek en toerusting vir hulle hedendaagse grotte aankoop. ’n Gesogte item is die hoeksnyer, maar “angle grinder”, soos reeds genoem, klink baie gevaarliker.
En so het Pa een middag tuisgekom, hoog in sy skik met sy nuwe grinder. Daardie staaleetkamertafel wat hy al lank reeds wou modifiseer in ’n koffietafel (met bypassende hoogte, of eerder laagte), was nou binne sy bereik. Pa het die tafel pens en pootjies omgekeer en die hoeke netjies een vir een gesny tot die hoogte wat hy gemeet het. Die hond het geweet hy moet wegkruip en het altyd vinnige stert-tussen-die-bene drafstappe geneem na sy wegkruipplek sodra Pa sy tools aan ’n verlengkoord begin koppel het. Die hond het op ’n kol gedink Pa is klaar gegrind en wou kom aas vir kos; hy het hom boeglam geskrik toe Pa steeds voortgaan en die hond sien hoe die sproeivonke uit die angle grinder reën. Tot sy dood het die hond ’n vreemde ander pad na sy kosbak gevolg.
Maar Pa het, helaas, nie reg gemeet nie. Sommige pote was 500 mm, maar ’n ánder een nader aan 505 mm. Tot sy groot ergernis het die gedane tafel begin bokspring as jy iets daarop neersit. Pa het die maatband blameer – een van daardies wat met ’n veer werk as jy ’n knoppie druk en die lint terugspring in sy huls. Uiteindelik het Pa die een staalpoot wéér korter gesny, net om te ontdek dat die oorblywende drie pote nou korter gesny moet word. Lang storie kort: Pa het uiteindelik geëindig met ’n tafel wat (uitsluitlik) gebruik kon word om fondues by te eet, streng Japannese styl. Die tafelblad het die kos darem so ’n entjie van die grond af gelig. Nou ja, hierdie verminkte tafel was waarskynlik die meubelweergawe van ’n amputee. Maar ná daardie eksperiment het Ma vir Pa laat belowe dat hy onder geen omstandighede weer ’n angle grinder sal gebruik nie. En dat hy nóóít weer daardie grynslag op sy gesig sal kry soos toe hy daai ding vir die eerste keer aangeskakel het nie ...
Op die apeks van die kraggereedskap staan die sweismasjien. Min mans bemeester die kuns van boogsweis. Maar wanneer ’n ou dit regkry, herken jy sy huis aan die magdom hekke: sekuriteitshekke, hekke binne-in hekke, afdakke, dubbele diefwering ... want ’n man wat sweis uitgefigure het, is soos ’n vrou wat nie kan ophou hekel nie. Sy hekel truie, tafeldoeke, komberse, mussies vir die kleinkinders en mussies vir haar teepotte, ensovoort. Hierdie man sweis selfs ’n afdak langs die dubbelgarage, waar sy nuwe woonwa binnekort gaan staan, of as ekstra parkeerplek as die familie kom kuier. Om goed en reg te kan sweis, word ’n onversadigbare verslawing. Dit is egter so dat ’n groot groep witkraagwerkers nooit ’n sweismasjien kan bemeester nie en heeltyd veroorsaak dat die huis se hoofskakelaar trip.
Nog ’n deel van die indrukwekkende repertoire van gereedskap in die garage is Pa se grassnyer. Wat hy uiteraard sélf kan regmaak. En dit móét ’n petrolgrassnyer wees, nie ’n elektriese een nie. Want wie gebruik nou ’n stupid elektriese grassnyer – kantoorwerkers? Dit is egter onseker of Pa weet wat hy doen wanneer hy die grassnyer uitmekaar haal en op misterieuse wyse “regmaak” ... en die langerwordende gras oorstaan tot die volgende Saterdag.
Ook vroue het kraggereedskap van hulle eie. Ma het haar erfstuk, ’n Singer-naaldwerkmasjien soos ’n kleinood opgepas en gereeld laat diens. Dit was een van daardie swart masjiene met die goue letters en dekorasies op wat ’n ton geweeg het en wat jy met ’n pedaal soos ’n traporrel gewerk het. Hierdie masjien het die alfavrou in Ma laat ontwaak en wanneer die pedaal deur die voorhuis gebrul het, het sy met ’n string ongekende kragwoorde die herstelwerk aan haar gesin se klere gedoen. Veral wanneer die gare gekoek het of die naald gebreek het. Later het Pa vir haar ’n Empisal elektriese masjien gekoop. Hoewel Ma altyd haar bril opgesit het wanneer sy hierdie masjiene gebruik het, was daar altyd die een kind in die gesin met beter oë wat die eer gehad het om die gare vir haar deur die masjien se naald moes kom ryg.
Die nutsman Riaan Garforth-Venter van die gelyknamige televisieprogram laat dit so maklik lyk om kraggereedskap te hanteer; en insgelyks Tim Taylor van Home improvement doer in die ’90’s. En of dit nou ’n kettingsaag, ’n breekhamer of boorpunt is wat deur adamantium kan dring – bewapen met sy kraggereedskap het ’n man ’n onversadigbare begeerte om te skep, herstel en te vernietig.
Maar professor Moolman het deur die jare sy les geleer; hy het lank reeds die nommer van ’n professionele nutsman op sy selfoon geberg, ’n noodkontak wat hy bel as hy selfs net ’n driepuntprop aan die uwe se bedlampie wil aansit. Daardie gene is egter steeds onderliggend: Ek het opgelet dat die prof se kragwoordtelling skielik piek wanneer hy en die nutsman oor ’n installasie beraadslaag.
Lees ook:
Kommentaar
’n Vriend het as privaatboukontrakteur in SA gewerk, en ’n paar jaar gelede ’n goeie werk aanbod gekry in Nieu-Seeland. Groot skok en ontnugtering oor gereedskap. Daar word nét elektriese handgereedskap, met herlaai-"stasies" vir alle gereedkap, by die nuwe werkplek gebruik! Hy werk seker lekker want hy is nog nie terug nie. Die nuwewetse toerusting maak hom beslis nie minder man nie, want hy werk steeds met sy hande
in stof en saagsels en is sy hemp saans nat gesweet. Dankie vir die skrywe. Die onthou wat dit wakker maak, is 'n verrassing: Ek het ook grootgeword aan my pa se voete in sy werkkamer waar die houtreuk saam met die netjiese handgereedskap teen 'n bord gehang het. Ek was klein en kon oral inkruip en het ook so uitgevind van die spesiale wegsteekplek van ’n bottel met bruin vloeistof in. Ek was maar net 'n kind, wat het ek geweet.
Skitterende rubriek, het nou lekker gelag! En ja, die grotman openbaar homself saam met 'n oop tool box. Puik skrywer.
En vra jy vir die verkeerde gereedskap of part óf erger nog, jy vra daarvoor op die verkeerde naam (nomenklatuur is alles) by jou plaaslike hardewarewinkel, word jy soos ʼn botspop aangegaap terwyl die winkelassistent meewarig vir ʼn kollega glimlag. (Jargon is ewe geliefd onder akademici om studente op hul plek te hou, bv. woorde soos promovendus of promotor. Imponderabilia.) Ja, bokant die inspeksieluik hou kennis, eerder as geloof, tog die sleutel tot saligheid.
Puik artikel. In so baie van die woorde sien ek my man raak en besef die waarde van pa-en-seun-tyd rondom 'n toolbox. Ewige herinneringe. Baie dankie.