Analoognostalgie: ’n elegie aan ’n verlore tyd

  • 1

Platespeler: Pexels from Pixabay

...
Mense ly toenemend aan tegnologiese uitputting, wat op sy beurt ’n vervreemdende uitwerking tot gevolg het. Vir die eerste keer in die geskiedenis van die mensdom bevind ons ons op die drumpel van digitale ontsterflikheid.
...

Die rimpeleffek van ’n historiese landmerk is kulturele verandering. Sedert die uitbreek van die Russies-Oekraïense Oorlog het die Alexandrov Ensemble se musiek nuwe momentum gekry. Ongeag wié die aggressor of slagoffer in hierdie oorlog is: Russiese militêre en volksmusiek was nog altyd mooi. Henry Longfellow het immers gesê musiek is die mensdom se enigste universele taal. Nóg so ’n voorbeeld van ’n skuif in kultuurdenke was waarneembaar ná die impak van die 9/11-terreur. Daar het ’n ongekende oplewing in “Withuis-films” ontstaan: Hollywood het met mening teruggeslaan en die beeld van die heroïese Amerikaanse president, wat op gereedheidsgrondslag enige terreur of vyand van hierdie supermoondheid sou beveg, het tot ’n gewilde subgenre in populêre filmkuns gelei.

En ’n paar maande gelede, met die koms van ChatGPT en KI, het die konsep analoognostalgie opnuut onder die soeklig gekom. Dominic Schrey, ’n PhD-student aan die Karlsruhe Instituut van Tegnologie, se proefskrif is in boekvorm gepubliseer as Analoge Nostalgie in der digitalen Medienkultur – en hierdie boek was dadelik ’n kommersiële sukses. Alhoewel daar semantiese en tegnologiese verskille in die definisies van analoog en digitaal bestaan, dui analoognostalgie in kort op die verlange na ou tegnologieë en artefakte versus die moderne, digitale tegnologieë van ons tyd.

Ook in Afrikaanse boeke wat onlangs verskyn het, vind hierdie nostalgie beslag. Tom Dreyer se verrassende digdebuut, Nou in infrarooi, is ’n voortsetting van die spel met analoogmetaforiek rondom die gebruik van retrolense, -filters  en kamerategnieke in sy oeuvre. Dreyer se fokale verbeeldingskag neem die leser ’n paar dekades terúg in die tyd – en die nostalgie is tasbaar. Hy verwys in sy gedigte onder meer na lens flare, daardie betowerende stralingsgloed wat so dikwels in analoogfotografie voorkom. In Dreyer se bundel kortprosa, Kodachrome, suggereer die titel reeds hierdie analoognostalgie, en verwysings na meganiese knypers wat sagte speelgoed in glaskaste “vang”, View-Masters, ens, kom voor. Dreyer se volgehoue bemoeienis met filmmakers soos Quentin Tarantino se werk bevestig hierdie analoognostalgie, want dié filmmaker is sinoniem met analoogfilmkuns soos die gebruik van selluloïedfilm.

In die onlangse bundel kortprosa, Hierdie land (met bydraes deur 56 verskillende skrywers) blyk die nostalgie na beter, vergange tye weer eens duidelik. Ons bevind ons in ’n tyd van post-Covid ennui. Suid-Afrika en die res van die wêreld staan voor talle politieke en sosiale uitdagings. Mense ly toenemend aan tegnologiese uitputting, wat op sy beurt ’n vervreemdende uitwerking tot gevolg het. Vir die eerste keer in die geskiedenis van die mensdom bevind ons ons op die drumpel van digitale ontsterflikheid. Wanneer sommige Facebook-maters wat ons ontval het, verjaar, word hulle gelukgewens asof hulle nog met ons is, ’n tragikomiese gebeurtenis wat ons dag ná dag aanskou. Maar daar gaan ’n dag aanbreek wanneer die argivering van ons digitale data gaan lei tot die skep van ontsterflike avatars. Te midde van al hierdie omwentelinge raak dit egter duidelik: Die wêreld het homesick geraak. Nostalgie beteken om die verlange om “huis toe te wil gaan”, maar dit is ook ’n verlange na dít wat nooit bestaan het nie. ’n Verlange na ’n beter tyd, want nostalgie is immers ’n sentiment van verlies en ontheemding.

Analoognostalgie is nie vreemd gemeet aan die feit dat elke tydsgewrig probeer om die idealisme en romantiek van vorige tydsgewrigte te herroep en te rekonstrueer nie. “Onthou-jy-nog” as litêrere stylgreep wat op ’n kol bestempel is as kitsch, is weer koel en die meeste mense swig voor die versoeking na ’n “trip down memory lane”. Op Facebook-bladsye soos “Onthou jy nog”, “Kan jy nog onthou” en “Do you remember” dagdroom die middeljariges en oues oor ’n metaforiese tuiste wat vir ewig verlore is en  slegs via herinneringe en foto’s bestaan. Nostalgie bind mense aan mekaar. Tog is daar ’n skadukant aan hierdie Facebook-bladsye, en dit is dat die hunkering na die verlede – met sy kleinode van bevoorregting – indirek ’n verlange is na die era van apartheid.

...
Nostalgie bind mense aan mekaar. Tog is daar ’n skadukant aan hierdie Facebook-bladsye, en dit is dat die hunkering na die verlede.
...

Daar is mense wat glo dat die verlede outomaties ’n beter plek was as nou – maar volgens die toekomskundige Alvin Toffler is die toekoms nie beter of slegter nie, bloot anders. Tog ly ons almal aan “toekomsskok” (aldus Toffler), daardie duiselingwekkende gevoel wat die mens ervaar met die ontydige aankoms van die toekoms. Tegnologie se toekomsverandering is nie lineêr nie, maar eksponensieel. Tegnologiese verandering stel met ander woorde hoë eise aan die mens en iewers gaan almal vasskop teen hierdie verandering – selfs die grootste tegnokrate onder ons.

In die film Midnight in Paris beweer ’n karakter tereg: “Nostalgia is denial – denial of the painful present ... the name for this denial is golden age thinking – the erroneous notion that a different time period is better than the one one’s living in – it’s a flaw in the romantic imagination of those people who find it difficult to cope with the present.” Daar is die bittersoet herlewing in retrokulture met die vervaardiging van artefakte, gebruiksitems en modes uit die jaar toet. En daar is die steampunksubkultuur wat die digitale tydperk bloot weglaat en die zeitgeist van die Eerste Industriële Revolusie ekstrapoleer, ’n glorieryke tydvak van stoomtreine en meganiese artefakte soos opwenhorlosies en robotte. Die relieke uit die verlede keer terug, en vintage is nou vir sommige meer gewild as modern. Binne die postmodernisme se versnipperende en plunderende effek van vorige tydsgewrigte bestaan daar tans ’n terughunkering na die modernisme. 

Maar waarom is analoognostalgie relevant?

Binne die kulturele geheue word elke belangrike tegnologiese vernuwing geboekmerk as ’n nostalgiese narratief van afname en verlies. In 1983, die jaar waarin die CD (compact disc, of laserskyf) amptelik sy opwagting in Noord-Amerika en Europa gemaak het, skryf David Lander in Rolling Stone: “Maybe there’s something in music that numbers and lasers can’t translate.” Die aankoop en speel van vinyls is besig om te herleef. En nee, dit is nie net vlooimarkhippies wat hierdie plate smous nie – ook kettingwinkels verkoop nou platespelers, vintage-styl, maar met verbeterde tegnologie. Tog is dit die plaat, die artefak of ou nisproduk self wat die merke van die tyd en slytasie dra. Daar is iets uniek aan elke persoon se plate. ’n Plaat haak altyd op dieselfde plek(ke) vas en sommige raas soos ’n gruispad. Hierdie haakplekke dui op verwonding; dit dra onmiskenbaar die letsels van die lewe, in teenstelling met digitale musiek wat geen agtergrondgeraas het nie. Mense ken hulle plate op ’n intieme wyse en wéét wanneer die haakplekke kom.

In die televisiereeks Californication word die protagonis, Hank Moody, uitgebeeld as ’n ouwêreldse romantikus wat sy boeke op ’n tikmasjien tik en na vinyls (byvoorbeeld Warren Zevon, of Elton John se “Rocket man”) luister. In een van die eerste episodes kom dié dialoog voor:

Surfer Girl: I fucking love vinyl.

Hank Moody: Yeah, it just sounds better. It’s warmer, right? It’s just human.

Surfer Girl: You’re just an analog guy in a digital world, aren’t you?

Met analoognostalgie word slytasie soos die grein, strepe en onderbrekings op films, of die omwentelinge en haakplekke van LP’s, verestetiseer. Dit is die nostalgiese spore van ’n vergange tyd van meganiese reproduksie; dit getuig van ’n aura van die lewe self, ’n aura wat vergesel word van foute, onvolmaaktheid, egtheid en outentisiteit. Analoognostalgie skep die gevoel van huislikheid, oorspronklikheid en natuurlikheid – en dat jy nader aan die werklikheid beweeg. Paradoksaal bied analoognostalgie in ’n era van digitale volmaaktheid die moontlikheid om hierdie tasbare tegnologiese verval op estetiese wyse te bewaar. Binne die kulturele verbeelding is dit moontlik om die hede op kritiese wyse deur die lens van die verlede te bekyk. Analoogmedia word, ironies genoeg, júis deur die gebruik van digitale tegnologie gerekonstrueer. Gister se nooit volprese nuwe toestelle is vandag se afgeleefde apparatuur en môre se uitgediende rommel. Retrokultuur is net so deel van die digitale kultuurlandskap soos hoëdefinisie-skermtegnologie en blitsvinnige optiese vesel.

Nostalgie het grotendeels die plek van epogmaking, wat kenmerkend was van die moderne kultuur, ingeneem. Dalk beweeg tegnologie te vinnig, daarom beweeg die mens terúg in die tyd om die verlede deur die onderskeie kultuurlense wat digitale tegnologie bied, te bekyk. Nostalgie word nie noodwendig gebore uit die verloop van tyd nie, maar word gekenmerk deur die oorgange in ’n kultuur. Historiese gebeure bestaan nie bloot as ’n kousale kroniek van gebeurtenisse nie, maar as ’n herlewing van die mens se kultuurverbeelding.

Organiese lewe – soos in die geval van analoogmedia – lei onafwendbaar tot disfunksionaliteit, verval en dood, in teenstelling met die ontsterflike moontlikhede wat digitale media bied. Dalk is die mens geprogrammeer om te sterf, daarom die belewenis van analoogmedia as eg en werklikheidsgetrou. Volgens die fotograaf en skrywer David Bate onthou ons inligting beter via analoogtegnologie. Só byvoorbeeld onthou jy die hardekopieë van ou foto’s beter as dié in digitale databanke. Skynbaar beskik digitale fotografie nie oor dieselfde bergingsvermoë wanneer dit by die menslike geheue kom nie. Geheue is gekoppel aan verwonding en pyn – en onvolmaaktheid.

Daarbenewens kleef daar steeds ’n glorie aan erfenismedia: om ’n “regte” papierkoerant te lees en die nuusbulletin en weervoorspelling deur die gebruik van analoogmedia te luister of te kyk. Baie van hierdie lesers en kykers bevind hulle op die platteland, of is al jarig en sal graag vertel dat hulle verkies om ’n koerant “vas te hou”. Analoogtegnologie is baie taktiel; met die onlangse gesprek op sosiale media oor sogenaamde boekdiewe wat skrywers se boeke en nuusmedia onwettig aflaai en in pdf-formaat rondstuur, het dit my weer opgeval hoe baie lesers ’n boek wil vashou en smag na die reuk van ink. Maar tussen die reëls lees mens ’n tegnologiese weerstandigheid téén die lees van boeke in e-formaat.

Ek weet nou wel nie hoe ink ruik nie (weet iemand dalk?), maar ek onthou duidelik die ou bokstiewies met haasore van my kleinkinderjare – en die gedruk en gedraai van knoppe. Die sneeubeeld op die skerm. Alles het met die hand gewerk, ook hoëtroustelle (inderdaad hardhándige tegnologie!). Die sofistikasie van ’n streelpaneel was op daardie stadium nog toekomsfiksie.

Ai, die nostalgie ...! Een van my eerste herinneringe aan ’n telefoon was ’n swart bakelietfoon. Die gehoorbuis was so swaar jy kon iemand daarmee doodslaan. Dit was in die ’70’s toe jy nog die skyf met die nommers gedraai het as jy bel. Mens sien hierdie ou fone dikwels in espionage-televisiereekse. In ’n noodgeval het jy gebruik gemaak van ’n telefoonhokkie; die lyn het ’n paar keer gesluk voor jy kon praat. En ’n kollekteeroproep was die oupa van ’n please call me, wat ondertussen vervang is met die gratis WhatsApp-opsie op slimfone.

...
’n Klassieke voorbeeld is die film Basic instinct: Die videoband was erg gerek en het begin lol by daardie ikoniese toneel waar Catherine Tramell (vertolk deur Sharon Stone) deur ’n span polisiemanne ondervra is.)
...

Daar was wraggies ’n tyd toe rekenaarfonts nog Letraset was; toe ons meme met Silly Putty afgetrek het; toe ons nog tjeks en posorders uitgereik het ... ’n tyd toe ons briewe met ’n pen geskryf en in rooi posbus gegooi het; ’n tyd van padkaarte, telefoongidse en ’n pakkie foto’s wat by ’n Kodak-winkel lê en wag. (Jy het nooit geweet wat uit Pandora se boks sou spring nie en jy het vir die flops óók betaal.) Ons het ons films (videokassette) by Blockbuster uitgeneem, en die kolle, strepe en onderbrekings – vorige kykers se fassinasie met ’n oomblik – het in die film voorgekom. (’n Klassieke voorbeeld is die film Basic instinct: Die videoband was erg gerek en het begin lol by daardie ikoniese toneel waar Catherine Tramell (vertolk deur Sharon Stone) deur ’n span polisiemanne ondervra is.) Filmkritici verwys na hierdie slytasie as “tekstuele puin”. Ál bogenoemde analoogmedia is intussen met selfoon- en digitale funksies vervang.

Die skrywer Jos Vandeloo het dekades gelede beweer dat die evolusie van die mens se tegnologie vinniger beweeg as die mens se vermoë om emosioneel en psigologies te evolueer. Hierdie stelling was nooit so relevant soos juis nóú nie. Die goue era van analoogtegnologie – van uitgediende, maar ontsterflike mediaformate – sorg inderdaad vir welkome respyt te midde van ’n snel veranderende tegnologiese wêreld.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top