
The talented Mr Ripley deur Patricia Highsmith (1958)
Die misdaadreeks Ripley wat tans op Netflix wys, het inderdaad die tonge los. Leon van Nierop beskryf dit in sy Rapport-resensie (14 April) as “’n meesterstuk vir die televisiefynproewer”. Die skrywer en skepper van die oorspronklike Ripley-romans, Patricia Highsmith, is vergelykbaar met die misdaadskrywer Stieg Larsson, wat lof ingeoes het vir die skep van die oorspronklike en boeiende protagonis Lisbeth Salander.
Tom Ripley het ’n indrukwekkende bloedlyn. Highsmith het vyf romans oor dié komplekse psigopaat en triekster geskryf, fiksie wat uitspeel oor vier dekades, getitel The talented Mr Ripley (1955), Ripley under ground (1970), Ripley’s game (1974), The boy who followed Ripley (1980), en Ripley under water (1991). Ripley-interpretasies het hul weg gevind na radioverwerkings, vyf films en ’n televisiereeks; en Tom Ripley is vertolk deur die akteurs Matt Damon, Alain Delon, Dennis Hopper en John Malkovich, en in die huidige minireeks deur die minder bekende Andrew Scott. Maar dit is die eerste roman, The talented Mr Ripley, wat die verhaalgegewe vorm en as spilteks vir die res dien.
........
Die talle interpretasies van, en ’n moderne (her)besoek aan, Ripley in die gedaante van ’n neonoir minireeks hou verband met die geleidelike opbloei van die antiheld in die afgelope paar jaar se film- en televisieproduksies.
........

Ripley's game deur Patricia Highsmith (1974)
Die talle interpretasies van, en ’n moderne (her)besoek aan, Ripley in die gedaante van ’n neonoir minireeks hou verband met die geleidelike opbloei van die antiheld in die afgelope paar jaar se film- en televisieproduksies. Mens dink byvoorbeeld aan Breaking bad, The blacklist, of House of cards, waar die tradisionele (morele) held plek maak vir ’n donkerder argetipe in die gedaante van die antiheld. Waar Joseph Campbell se mitiese held in The hero’s journey waarskynlik die pas aangee vir die tradisionele held of protagonis, is die psige van die antiheld veel meer kompleks en genuanseerd, en die morele kompas gebroke. Baie antihelde is dan misdadigers. Ripley se persona en optrede herinner aan dié van ’n psigopaat (en narsis, alhoewel ek dié gonswoord, wat intussen tiperend van die popsielkunde van die dag geword het, met ’n knippie sout gebruik). Hoe dit ook al sy: Op ’n ironiese of ambivalente manier is mense aan die triekster-psigopaat se kant en hoop heimlik dat hy skotvry afkom van sy streke. Die triekster sorg vir heerlike verhale en dis ’n geval van hoe om die stelsel te klop. Die triekster is uitgeslape en deur illusie en misleiding kies hy ’n kortpad na sukses. Dit is dalk ook so dat kykers ’n fassinasie met psigopate het – hulle is nie bang om die wet te oortree of kanse te vat nie. Hulle bly in beheer. En hulle sjarme en uitgeslapenheid wanneer hulle in ’n hoek gedryf word, is, om die minste te sê, vir gewone, eerlike sterflinge bewonderenswaardige eienskappe.
Die kernverhaal van Tom Ripley is welbekend. Dit is die jaar 1958, en Ripley, ’n sukkelende swendelaar van New York City, ontmoet die skeepsmagnaat Herbert Greenleaf, wat onder die indruk verkeer dat Ripley saam met sy seun, Dickie Greenleaf, aan Princeton studeer het. Greenleaf bied Ripley ’n duisend dollar aan om na Italië te reis en vir Dickie te oorreed om terug te keer huis toe, en Ripley stem daartoe in. Dit bied immers ’n welkome respyt van sy sukkelbestaan en swendelary om aan die lewe te bly. Sentraal tot die narratief staan Ripley se brandende begeerte na rykdom en aansien, en ek haal aan uit The talented Mr Ripley (die roman):
A lot the sordidness mattered now, he thought as he went into the room. As soon as he could get a passport, he’d be sailing for Europe, probably in a first-class cabin. Waiters to bring him things when he pushed a button! Dressing for dinner, strolling into a big dining-room, talking with people at his table like a gentleman! He could congratulate himself on tonight, he thought. He had behaved just right. Mr Greenleaf couldn’t possibly have had the impression that he had wangled the invitation to Europe. Just the opposite. He wouldn’t let Mr Greenleaf down. He’d do his very best with Dickie. Mr Greenleaf was such a decent fellow himself, he took it for granted that everybody else in the world was decent, too. Tom had almost forgotten such people existed. (bl 13)
In Atrani, Italië, ontmoet Tom vir Dickie (Richard) Greenleaf en sy Amerikaanse vriendin, Marge Sherwood. Ripley voel hom dadelik aangetrokke tot Dickie en sy rykmanslewe, en hy doen sy bes om deel te word van Dickie se binnekring. Dickie se vriend, Freddie Miles, is egter uit die staanspoor agterdogtig teenoor Ripley en oor sy motiewe.
Nadat Herbert Greenleaf vir Ripley per brief ingelig het dat hy nie langer sy dienste benodig nie, vertel Ripley vir Dickie daarvan. Dickie sê dat hy en Marge wil trou en dat sy en Ripley se paaie eerder moet skei. Ripley oorreed Dickie egter om, vir oulaas, saam met hom ’n reis na San Remo te onderneem. Tydens dié reis huur Dickie en Ripley ’n boot; daar ontstaan ’n rusie tussen die twee, en Ripley slaan vir Dickie met die roeispaan dood. Hierdie eerste moord ontketen ’n kettingreaksie van gebeure: Hy steel Dickie se ringe en horlosie en later ook die res van sy besittings, insluitend ’n Picasso-skildery, en neem geleidelik Dickie se identiteit oor. Ripley lei ’n dubbele lewe as Tom Ripley en Dickie Greenleaf; hy vervals briewe met Dickie se tikmasjien, en skep die illusie dat Dickie nog leef. Ripley boek ook in verskillende hotelle in, óf as Tom Ripley, óf as Dickie Greenleaf; hy leef van Dickie se trustgeld, en slaan vir Freddie met ’n glasasbak dood nadat dié onder die indruk van Ripley se skelmstreke en bedrog gekom het. Ripley (aka Dickie Greenleaf) gooi jakkalsdraaie om die polisie, wat intussen Freddie se lyk in ’n motor ontdek het. Ripley vervals ’n brief wat Dickie kwansuis aan hom (Ripley) geskryf het en suggereer dat hy van plan is om selfmoord te pleeg, en die polisie neem aan dat Dickie sy eie lewe geneem het omdat hy Freddie vermoor het. Uiteindelik kom Ripley in besit van al Dickie se weelde, besittings en trustgeld, wat Herbert Greenleaf in goeder trou aan Ripley uitbetaal, omdat hy glo dat hy ’n goeie vriend van sy seun was.
Lokprent | The talented Mr Ripley (1999)
Anthony Minghella se immergroen 1999-filmweergawe van The talented Mr Ripley is welbekend met Matt Damon in die rol as Ripley en Jude Law as Dickie Greenleaf. Maar om die 1999-aanbod met Netflix se noir interpretasie te vergelyk, sou onregverdig wees. Die stemming, toonaard en vertolking van die produksies is haas uiteenlopend. Die 1999-filmweergawe spel lewenslus, kleur, krag en son – mens dink byvoorbeeld aan die tonele waar Dickie, Marge en Ripley op die strand sit, sondeurdrenkte Technicolor-kinematografie. Die jazzklub waar Ripley saam met Dickie “Tu vuò fà l’Americano” sing, verbeeld die één kortstondige oomblik wanneer hy, Ripley, gelukkig is – ’n toneel wat paradoksaal dien as inkleding van die res van die tragedie wat volg. Kleurvol en romanties korreleer die film met Highsmith se roman, waarin daar ook talle verwysings na die son voorkom.
........
Die 1999-filmweergawe spel lewenslus, kleur, krag en son – mens dink byvoorbeeld aan die tonele waar Dickie, Marge en Ripley op die strand sit, sondeurdrenkte Technicolor-kinematografie. Maar die son het ook ’n skadukant, soos die agt episodes in die 2024-minireeks aandui.
........
Maar die son het ook ’n skadukant, soos die agt episodes in die 2024-minireeks aandui. Hierdie Tom Ripley het ys in sy are; hy is onpeilbaar en kompleks. Hy is nie ’n sjarmante psigopaat soos in die voorgangerfilm The talented Mr Ripley nie. Nee; hy is ’n berekende en somber moordenaar. Om die film en die reeks te vergelyk, sou wees soos om Mozart en Mahler te vergelyk – dit is ’n ongelyke speelveld. In Ripley is die karakters ouer, stroewer, met meer gravitas; die film, weer, is meer Hollywood, meer Amerikaans; en die pas van die reeks is aansienlik stadiger. Die fokus verskuif van die polsende verhaallyn in die film na die estetika van ruimte in die reeks, soos die talle kunswerke ook aantoon. Die atmosfeer is een van angs en paranoia; die karakters se gesigsuitdrukkings is ambivalent en moeilik om te peil.

The talented Mr Ripley deur Patricia Highsmith (2008-drukweergawe)
Ripley is geskep, geskryf en geregisseer deur Steven Zaillian (wat talle toekennings vir Schindler’s list se draaiboek ontvang het). Ripley is in swart-en-wit verfilm met Andrew Scott as Tom Ripley, Johnny Flynn as Dickie Greenleaf, en Dakota Fanning as Marge Sherwood in die hoof- en ondersteunende rolle. Die monochrome fotografie is gebore uit Zaillian se fassinasie met die omslag van Highsmith se roman. Hy verduidelik: “The edition of the Ripley book I had on my desk had an evocative black-and-white photograph on the cover. As I was writing, I held that image in my mind. Black and white fits this story – and it’s gorgeous.” Die kinematograaf, Robert Elswit, wat ’n Oscar-toekenning vir There will be blood ontvang het, behartig Ripley se kinematografie wat opval in die treffende kontraste tussen lig en donker, en wat op sy beurt die kil, afstandelike fokalisering van die hoofkarakter simboliseer. In elke episode word ’n kunswerk van Caravaggio as visuele kode ingespan. Trouens, die eksterne ruimte en kuns in Ripley boots die verhaallyn na. As voorbeeld: Nadat Ripley ’n moord gepleeg het, zoem die kamera in op ’n marmerbeeld wat vingerwys en só die suggestie van ’n aanklag dra. En vir die kyker voel dit of daar in enige stegie, op enige oomblik, ’n lyk versteek kan lê … Ripley bied ’n siklorama van Italië deur ’n lens van ou en presiese argitektuur, van beelde en drakekopspuiers wat op voyeuristiese wyse na die karakters staar en gluur en waarin die spel tussen lig en donker ’n kopknik in die rigting van Hitchcock of die film Psycho is. Die noirfilmkuns beweeg weg van kleur en aksentueer eerder die donker hoeke van die verhaal. Jude Law, wat die rol van Dickie in die filmweergawe vertolk het, beskryf die reeks tereg as ’n “forensiese” en “sinistere” kyk op Ripley. Al is die uitbeelding van Italië in dié reeks brutaal, selfs banaal, is dit altyd mooi: ’n land van tydlose kuns en goedkoop poskaarte. En die dramatisering van karakters – ’n voordeel van noirfilmkuns – sorg vir ’n goeie skeut onheil in die gedaante van donker skadu’s in gesigte. Ripley (Andrew Scott) se oë gloei soos oniksalbasters; die bloed tydens moorde vertoon swart, en alledaagse dekor, soos blindings, skep ’n gevoel van beklemming. Om nie te praat van die gekrys en gekreun van ’n ou hysbak, die gekraak van trappe laat in die nag, of ’n klok wat onverwags, senutergend, die stilte verbreek nie. Ek het altyd geweet katte is enigmatiese diere, maar die kat wat die “getuie” is van ’n moord, neem in dié reeks amper diaboliese dimensies aan. Ook die silhoeëtfotografie word slim en treffend aangewend – Elswit ken al die truuks.
........
Nabootsing en manipulasie; kuns se egtheid versus die vervalsing daarvan; kuns as muse, maar ook kuns as metaforiese deelgenoot is die modus operandi van die misdade in Ripley, óf misdaad as kunsvorm lei tot verdere temas wat die kyker nog lank laat nadink.
.......
Die karakter Freddie Miles, Dickie se vriend en dramaturg, sorg vir ’n verrassing: In die 1999-film word die rol vertolk deur Philip Seymour Hoffman, ’n bombastiese, voortvarende plesiervraat en rokjagter. In Ripley word die rol vertolk deur Eliot Sumner, ’n akteur en musikant wat nie met binêre genderrolle identifiseer nie. Hierdie afwysing strook waarskynlik meer met die woke tydsgees waarin ons leef. Sumner se vertolking is onpeilbaar, stil en magneties: verfrissend anders. Die suggestie van ’n erotiese aantrekkingskrag tussen Ripley en Dickie is daar, soos ook in die filmvoorganger die geval is, alhoewel Highsmith in Sight & Sound (1988) beweer dat sy as skrywer nie die bedoeling van ’n gay verbintenis tussen Ripley en Dickie in gedagte gehad het nie, maar dat dit waarskynlik so geïnterpreteer kan word. Ripley se verliefdheid op Dickie is dalk eerder ’n liefde vir alles wat Dickey verteenwoordig: geld, invloed, aansien – ’n vorm van selfliefde, want Ripley is verlief op Dickie as die persona wat hy begeer om self te wees (word); ’n liefde wat met Dickie se geleidelike identiteitskaping narsistiese afmetings aanneem. Temas oor identiteit, en Ripley se labiele identiteit, kom ook onder die soeklig. In Highsmith se roman vra die eksterne verteller tereg: “Can anybody commit a forgery against himself?” Nadat Ripley Dickie geword het, het hy sy identiteit “terugverander” na homself (Tom Ripley), wat neerkom op die vervalsing van ’n eie identiteit. Daar is reeds verwys na die eksterne milieu en kunswerke in Ripley wat temas naboots: Met die verwysing na identiteit is die barokmeester Caravaggio se Dawid en Goliat (ook bekend as Dawid met die kop van Goliat) ter sprake – ’n skildery wat in die Museo del Prado, Madrid bewaar word, en wat die Janus-identiteit van Tom Ripley weerspieël. Nabootsing en manipulasie; kuns se egtheid versus die vervalsing daarvan; kuns as muse, maar ook kuns as metaforiese deelgenoot is die modus operandi van die misdade in Ripley, óf misdaad as kunsvorm lei tot verdere temas wat die kyker nog lank laat nadink. Die vervalsing van die briewe en tjeks, wat paradoksaal ook ’n “kunsvorm” is, laat mens wonder oor die egtheid en outentisiteit van dinge.
Die sosiale konteks van die roman is ook van belang. In post-Tweede Wêreldoorlog-Amerika en -Europa gesetel, bied Ripley ’n skerp blik op klasongelykhede en die obsessie met materialistiese sukses. Ripley se strewe na rykdom en status is ’n refleksie van die omliggende kultuur waarin individue se selfbeeld/identiteit gekoppel aan sosiale stand en welvaart word.
........
En net wanneer die kyker wonder of Ripley nie te grimmig of nihilisties is nie, sorg die Italiaanse speurder, Maurizio Lombardi, in die tweede helfte van die reeks vir humor.
........
En net wanneer die kyker wonder of Ripley nie te grimmig of nihilisties is nie, sorg die Italiaanse speurder, Maurizio Lombardi, in die tweede helfte van die reeks vir humor. Lombardi het geen erg aan Amerikaners nie, en sy geradbraakte Engels en onbeholpe uitspraak van woorde is inderdaad komies.
Ripley is, ten slotte, ryk aan simboliek. As voorbeeld: Tom Ripley kan nie ophou om na Dickie se twee ringe te kyk nie; die ringe simboliseer vir hom die onbereikbare status wat hy begeer. Kort ná Dickie se moord steek Ripley die ringe aan sy vingers, nou as simbool van sy transformasie en nuwe identiteit as welvarende en bevoorregte jongman.
Die volgende simbool wat aandag geniet, is dié van water. Ripley haat water en kan nie swem nie; en sy ouers het in Boston Harbor verdrink. Tog vermoor hy vir Dickie deur hom van ’n boot af te stamp en die indruk te skep dat hy verdrink het. Via water word Ripley hergebore in sy nuwe identiteit; en water figureer as liminale simbool, verteenwoordigend van bevryding en ’n reiniging van sy vroeëre, armoedige bestaan.
Kritiek teen Ripley wat verreweg in die meeste resensies geopper word, is dat die karakters te oud is. In The talented Mr Ripley word Ripley en Dickie se ouderdomme as 25 aangedui. Is dit realisties dat Tom Ripley, wat vir jare van klein bedrogskemas geleef het en afhanklik was van sy tante vir aalmoese, skielik in sy laat 30’s as vyfsterpsigopaat ontluik? Is dit realisties dat Dickie al vir ongeveer 18 jaar van sy pa se trustgeld leef? Waarskynlik; alhoewel die vertolking deur jonger karakters dalk net meer realisties sou gewees het. In die reeks is Tom Ripley nader aan die middeljarige Ripley in Ripley’s game (2002), meesterlik vertolk deur John Malkovich. Hoe dit ook al sy: Tom Ripley is al vir langer as vier dekades ’n kultusfiguur sedert die eerste interpretasie van die karakter in die 1960-film Purple noon. Elders vermeld ’n kritikus dat Patricia Highsmith haar tyd vooruit was met die skep van dié veelkantige en komplekse karakter en triekster; en die diversiteit van interpretasies getuig van ’n volgehoue aantrekkingskrag en universele temas wat Highsmith se status as reus in kanonieke misdaadfiksie bevestig.
Lokprent: Ripley (2024) | Netflix
Lees ook:
Oor nostalgie (en retro-estetika): ikonografie in film – Deel 1
Crime fiction in South Africa: the history, the hype and the “genre snob” debate
As jy van moord droom deur Deborah Steinmair: domestic noir op sy beste

