As jy van moord droom
Deborah Steinmair
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799399240
Hoe oorleef ’n ma die ontvoering van haar enigste kind? Sy skep ’n alternatiewe realiteit, ’n verbeeldingswêreld waarin haar dogter nie op die ouderdom van ses verdwyn nie, maar waarin sy ’n suksesvolle volwassene word.
Die ma in Deborah Steinmair se nuwe roman skep egter nie net ’n ander, meer aanvaarbare werklikheid nie, sy droom ook van moord – hoe sy die booswigte wat haar kind 20 jaar gelede gesteel en as seksslaaf verkoop het, die een ná die ander afmaai. Soos boewe in ’n rekenaarspeletjie. Of moor sy werklik? Want die lede van die pedofielring wat by haar kind Maryna se verdwyning betrokke was, word een vir een van die gras gemaak ...
In dié roman is daar dus nie net een werklikheid nie, maar verskillende weergawes daarvan, en vervaag die grense tussen realiteit en verdigsel, met die gevolg dat die hoofkarakter, Erin, sowel as die leser, soms nie kan onderskei tussen hersenskim en realiteit nie. “Hoeveel werklikhede kan een kop akkommodeer?” wonder sy.
Soos dikwels die geval is by die hoofkarakter van domestic noir, verloor Erin de Ridder deur die loop van die boek haar greep op die werklikheid. Wanneer haar verdwene dogter ná 20 jaar by haar voordeur instap, merk Erin op: “My kop het weer versplinter. Die werklikheid wat ek met moeite aanmekaargestik het, is losgeruk, al die nate.”
Huishoudelike noir word trouens gekenmerk deur ’n onbetroubare (vroue)verteller met ’n beskadigde psige, sodat die leser oorgelewer is aan haar verdraaide persepsie van die werklikheid.
Omdat domestic noir se verhaalgebeure meestal in en rondom die huis plaasvind, word daar grotendeels uit die vrou se perspektief geskryf, en gaan dit oor die “female experience” van verhoudings, moederskap en veral die huwelik binne die ruimte van ’n huishouding. Die huis is egter nie die geborge, veilige plek wat dit veronderstel is om te wees nie. Dit is ’n slagveld waar verskeie vorme van geweld gepleeg word, hetsy dit mishandeling, molestering of drankmisbruik is.
Ten opsigte van dié gegewe, maak die verteller in As jy van moord droom die volgende opmerking teenoor haar man:
Huise is gevaarlik, Bert. Dis nie in oerwoude of middestede waar gevare skuil nie. Suburbs is oorlogsones, picket fences is vlymskerp. Daar is woorde so blink soos messe, daar is steakmesse, lemmetjies, skêre, miergif, whiskey, oop dreine, swembaddens, lewende kragdrade ...
Juis omdat domestic noir se storielyn, soos reeds genoem, binne die ruimte van die huis, of in die “veilige” omgewing van ’n voorstad voltrek word, en daar gevolglik uit die oogpunt van die vrou vertel word, het dit dikwels ’n sterk feministiestiese karakter. As jy van moord droom se verteller pas nie in binne die konvensionele rolle van dienende eggenote en versorgende moeder nie; inteendeel. Dit is eerder haar man wat die versorger en “verpleër” is: “Ons rolle was omgekeer. Jy wou eindeloos analiseer en oor emosies praat. Ek het opgekrop en gedoen.”
Bowenal kom Erin in opstand teen die “pedogemorste” wat betrokke was by haar kind se ontvoering, sowel as “die oom” wat vir Erin as kind misbruik het. Herhaaldelik laat sy haar uit oor hoe sy mans wantrou, en dat sy nie van hulle hou nie. Tog is sy bewus van die feit dat kinderverkragters dikwels vroulike “handlangers” het, soos Gert van Rooyen se Joey Haarhoff, of Dirk Prinsloo se advokaat Barbie.
Steinmair pak die onderwerp van kindermolestering aan sonder om prekerig of grafies te raak. Sy benader dit op haar idiosinkratiese, dikwels eksentrieke manier van waarneem, en met dieselfde skerp humorsin en spitsvondigheid wat ook haar vorige romans, Marike se laaste dans (2011), Die neus (2012), Wenkbrou (2013) en Moestas (2013), gekenmerk het.
Die trefkrag van As jy van moord droom lê veral in die geloofwaardige karakterisering van die twee vroupersonasies, Erin en Maryna. Aanvanklik vind Erin geen aanklank by die bot, vetsugtige en daggarokende Maryna nie, maar deur middel van boeke, musiek en ’n speelding genaamd Miesies Muis ontstaan daar ’n gemoedelikheid en selfs aanvaarding tussen ma en kind, maar sonder dat hulle mekaar se beste vriendinne word.
In dié opsig herinner As jy van moord droom aan Marilynne Robinson se Housekeeping (1980), wat ook uit die perspektief van ’n onbetroubare vrouekarakter vertel word, en handel oor twee aweregse vroue wat gedurig op vlug is – soms letterlik uit die kloue van die patriargie wat hulle wil inperk, soms in die verbeelding. Net soos Robinson se personasies Ruthie en Lucille, is Erin en Maryna in ’n stryd gewikkel met die oorweldigende emosies wat gepaard gaan met verwerping en verlies. Hierdie karakters resoneer met almal wat al ooit ’n randeier was, wat nêrens inpas nie, en wat gekies het om nie die uitgetrapte paadjies te volg wat die samelewing van jou verwag nie.
Soos in die Britse skrywer Ian McEwan se roman The child in time (1987), wat ook handel oor kinderontvoering, word daar in As jy van moord droom geen kitsoplossings vir gebroke verhoudings, of maklike antwoorde gegee op kwessies soos hoe om trauma te hanteer of daarvan genees te word nie. Daar is immers nie eens amptelike vervolging vir die booswigte wat by Maryna se ontvoering betrokke was nie.
Nogtans is daar bevryding van “’n wêreld se mans”, sowel as ’n bevryding van droefheid, vergestalt in Maryna se “hergeboorte” teen die berghang wanneer sy die volgende Chinese woorde in die sand skryf: Mo Chou. “Bevry van hartseer.”
Steinmair skryf hier met ’n vaardige gestropenheid, met “woorde so blink soos messe”, wat As jy van moord droom heerlik leesbaar maak. Sy is, soos haar karakters, ’n vrou vir woordekonomie, wat net die nodigste binne ’n bestek van 299 bladsye sê, sonder onnodige “story fillers” en mooiskrywery.
Dit is hierdie eienskap wat lesers sal laat besef dat dié boek veel meer om die lyf het as die deursnee-domestic noir-roman. Dis ’n gelaagde, strak skildery van “twee katels, ’n waskom en ’n tafel”, en op een van die katels, die silhoeët van ’n logge vrou met ’n katjie op haar skoot ...
Lees ook: