As jy van moord droom: ’n onderhoud met Deborah Steinmair

  • 1

Foto van Deborah Steinmair: Izak de Vries

As jy van moord droom
Deborah Steinmair
LAPA

Naomi Meyer vra vir Deborah Steinmair oor Deborah se jongste boek, As jy van moord droom.

Geluk met hierdie boek, Deborah!

Die omslag van die boek beeld ’n sin uit wat in die boek staan. Wat was eerste: die titel, jou besef van die inversie van die woord, die karakters, of ouerskap?

Seker maar ouerskap. Hoewel, vandat ek klein is droom ek soms dat ek moord gepleeg het. Die besonderhede en die motivering is vaag, maar ek onthou duidelik dat ek ’n lewe geneem het. Die skuldgevoel is oorweldigend. Wat het ek gedoen? Waarom? 

Ek het eers later toevallig gesien “moord” en “droom” is palindrome. Soveel drome. 

Ek weet ek het dit pas gevra, maar is ouerskap waar dit alles begin het? Of lees ek net so baie hierin oor ek self ’n ouer is?

Vir iemand wat van kleins af knaend skuldig voel (eendag is dit vir my bevestig – my ma het by geleentheid op my gegil dat alles my skuld is, nog altyd, dat ek vandat ek gebore is alles verkeerd gedoen het), is ouerskap ’n mynveld. Soveel geleenthede vir vars skuldgevoelens.

En as jou kind dan wel na jare weer op jou stoep opdaag, en sy is nie wie jy gehoop het sy sal wees nie, sal jy haar steeds liefhê? Ek weet nie of die vraag verband hou met die roman en of dit bloot ’n persoonlike vraag is nie.

Dit is die kernvraag wat ek probeer beantwoord en ek dink die gevolgtrekking is dat jy sal. Nie onvoorwaardelik of by voorbaat omdat sy jou kind is nie, maar omdat sy naby jou is en jy haar weer ervaar, sal jy haar van vooraf leer liefkry. Daar is natuurlik baie ander vrae wat by implikasie geopper word, soos: Sê maar sy het ’n moorddadige psigopaat geword? My gevoel is nogal dat ’n mens haar steeds sou liefhê. Daar is soveel kwessies wat in die sop bygeklits word: skuldgevoel, jammerte, identifisering, bloed.

Die donker (humor). Gebeur dit vanself, die lag vir al die absurditeite van die lewe, hoe vreeslik ook al? Weer eens: dalk is dit ’n persoonlike vraag, dalk handel dit oor jou boek.

Dit gebeur vanself. Dit is my reaksie op ’n gek wêreld. Dit is seker my stem. Ek kan dit nie onderdruk nie. Ek het nogal gedink hierdie boek is heel ernstig en donker en glad nie snaaks nie. Ha.

Wil Anker dan Acker wees?

As jy van moord droom praat – ek moet vra: Jy het baie onlangs in warm boekgesprekke betrokke geraak. Anders gestel: Jy was die een wat jou opinie gelug het oor sake wat die meeste mense net gewoon daar sou laat. Hoe voel jy hieroor noudat jou eie (volgende) boek amper op die rak is? En wat gebeur as jy aan die ontvangkant van so iets is? (En ook: Dink jy jou bronnelys is voldoende?)

Ek voel natuurlik hoogs senuagtig met groen koring op die land. ’n Mens is maar altyd bang. Daar is soveel slaggate. Iemand geleerd kan byvoorbeeld my boek oor ’n akademiese kam skeer en te lig bevind. Maar, wil ek met hande omhoog pleit: Ek hardloop nie saam met die groot honde nie; my aanslag is ligter. Ek wou nog nooit ’n Groot Afrikaanse Roman skryf nie; die kwessies en die doek is kleiner, dis huishoudelike noir, dit gaan oor die dinamika in gesinne, die patologie van families. Ja, ek is vrekbang. En sal maar enige opstoppers absorbeer. Het ek ’n bronnelys? Nou kan ek nie onthou nie. Ek steel van oral, maar net blink flarde, nie paragrawe nie. My nes is uitgevoer met dawerende Bybelverse en ou Afrikaanse gedigte.

Buysdorp, Red Dog en ’n besinning oor die geskiedenis

Terug by hierdie boek van jou: Waar het dit begin? Wat was jou inspirasie(s)?

Ek het al meermale gelees van kinders wat vir jare vermis was en weer huis toe gekom het, soos in Emma Donoghue se wonderlike boek Room, waar die kind met haar eie kind teruggevind is. Dan het ek altyd gewonder: Hoe moet dit wees? Ek het al gedroom my kinders word gesteel. Goed, kom ek wees eerlik: My eie jongste kind het vir ’n paar jaar by my ouers gewoon omdat my lewe, finansieel en andersins, te onstabiel was en ek geglo het dat dit haar ’n meer standvastige basis gee. Daar was dae dat ek elke oggend vir ’n paar uur gehuil het. Sy het (uiteindelik) gefloreer by my ouers, en dit was ’n bitter moeilike aanpassing om haar (toe sy hoërskool toe is) weer by my te hê. Daar was natuurlik wilde vreugde, maar ook heelparty probleme. Sy was baie kwaad vir my. Ek het eindeloos probeer kompenseer, opmaak. Dit het jare geneem (dis eers die afgelope jaar of wat) voordat ons weer ’n goeie, hegte verhouding het. Maar in daardie situasie was baie inspirasie vir die boek. Ek onthou kere waar sy vir my gegil het dat sy my haat en wens sy was nooit gebore nie en dat ek nooit kinders moes gehad het nie. Ek onthou wanhoop en skuld en woede, maar altyd, altyd, verterende liefde. Gelukkig lees my kind nie LitNet nie, want sy was baie gebelgd toe ek haar as (herkenbare) karakter in Marike se laaste dans gebruik het. Maryna is nie my jongste kind nie, maar daar is oomblikke, trekke. Party mense is eenmaal storieagtig.

Nêrens tuis nie, sê sy? Maar daar's báie plek vir haar op my boekrak

Ek weet Cecilia Britz was aanvanklik jou uitgewer. Het jy haar geken? Wat was haar rol in die totstandkoming van jou boek?

Ek het haar een keer ontmoet, jare gelede. Sy was vriendelik en aanmoedigend. Wat is die Afrikaanse woord vir “personable”? Ek het die voltooide manuskrip vir haar gestuur en sy het gou laat weet dat sy dit wou uitgee en ’n paar aanbevelings gemaak. Dit was alles per e-pos, maar sy was ’n simpatieke teenwoordigheid op die agtergrond. Haar dood is ’n verlies vir die uitgewersbedryf. Skrywers soek persoonlike aandag.

Jeannette Ferreira was die redigeerder en sy is uitstekend. Sy het sekere vrae gehad, soos: Is dit geloofwaardig dat die kind, Maryna, so ’n uitsonderlike geheue het en so vroeg kon lees en skryf? Dit was alles die waarheid, aspekte van my wat ek vir die karakter geleen het. 

Hoekom het jy die boek geskryf?

Omdat ek by antwoorde wou uitkom, my ’n scenario enduit wou verbeel, die verhoog wou inklee, die landskap wou bewoon. ’n Katarsis, ’n reis na die rand van die afgrond.

Jou hoofkarakter is deurtrek van letterkundige verwysings. Hoeveel van sy is jy?

Sy het trekke van my (die letterkundige verwysings), maar ek het haar doelbewus anders as ek geskryf. Sy is emosioneel terughoudend, praat nie graag oor gevoelens nie. Ek sing soos ’n kanarie oor gevoelens en huil maklik. Sy is jammer vir mans, ek nie juis meer nie. Sy is prakties, wat ek ook kan wees. Ek dink skryf is soos droom: Al die karakters is op die ou end aspekte van jouself. 

Ek kan nie byhou met jou sosiale kommentaar nie. Kom ek staan stil by feminisme. Wie is die Bert vir wie jou karakter skryf? Is hy jou (fiktiewe) ideale leser?

Seker soos jy sê. Of eintlik is dit vir haarself wat sy skryf, om haarself te verontskuldig, by antwoorde uit te kom, dinge te verwoord wat sy net op papier kan doen. Ons is seker almal ons eie ideale lesers.

Ja, die boek handel oor ouerskap. Oor die konstante verlies. En teen die tyd dat mens dit besef, is dit te laat. Hoekom dink jy het mense kinders?

Dis die triomf van optimisme oor ondervinding. Blinde geloof. Liefde. Dis iets wat biologie of ’n mens self jou aandoen: Jy word ’n wandelende, oop wond. Niks is ooit weer eenvoudig nie. En dan skielik is hulle groot en hulle is mense na wie jy kan opsien en jy is diep dankbaar oor hulle en lê steeds nagte wakker en hoop ’n baksteen val nie op hul kop nie, maar jy is só bly jy het kinders.

En dan onverwagse humor te midde van moorde. Hoe het jy geweet hoe groot is Jacob Zuma se neef Khulubuse? (Ek moes hom google; jy is reg.)

Ek lees die koerante baie oppervlakkig: koppe, inleidings, opskrifte by foto’s. So neem ek van baie dinge kennis sonder dat dit te veel van my tyd in beslag neem, soos Zuma se lywige neef.

Skoonma se tong en hen en kuikens in silwer koffieblikke. Waar en hoe het die titels van die hoofstukke gekom?

Ek hou van hoofstuktitels eerder as nommers. Ek haat syfers. Ek het in die hoofstukke gekyk na ’n sin wat my opval, liefs buite konteks sodat dit nie die storielyn verklap nie. En as dit vaag is, kan dit op verskillende maniere geïnterpreteer word, soos digkuns, en dalk meer suggereer as die letters op papier.

Duiwelsduo: die eerste boekeoorlog

Wat is jou idee van ’n ideale boekresensie?

Wanneer ’n resensent ’n boek lees en resenseer op grond van wat die boek is, nie op grond van vooropgestelde idees of genrespesifikasies nie. Moet dit nie te diep of te vlak blaai nie. “Kry” dit. Maak die leser lus om dit te lees. Ons sal maar sien.

Al die wrange grappies – “stuur my”, maar die poskantoorpakkies word nooit gestuur nie, en Skat wat sy naels skerpmaak. Was dit vir jou lekker om die boek te skryf? 

Dis altyd vir my lekker om te skryf. Soos Jeanne Goosen gesê het: Skryf is soos toor, of soos droom terwyl jy wakker is. Dis ’n wonderlike tonnel om in te vertoef. Ek geniet my gate uit. Dis my ideale omgewing. En dan moet jy uitklim en voortgaan met jou lewe.

Wat is jou beste skryftyd? Wanneer het jy die boek geskryf?

Ek moet “in einem Guss” skryf: ’n Idee pak my beet, ek begin daarmee stoei, ek slaap al minder en deug vir niks. Ek het die boek in Januarie verlede jaar geskryf, nadat ek lank met die idee geloop het. Ek het dag en nag geskryf. Ek slaap so ’n paar uur, dan word ek wakker met die karakters en ’n situasie of ’n vraag in my kop en gaan skryf weer. Slaap weer ’n paar uur en lees met verwondering wat die elwe in die nag vir my geskryf het.

Dit was net voordat ek by Protea begin werk het, dus was my tyd my eie. Ek het geen ander werk daardie maand gedoen nie. Nou weet ek nie hoe ek sal skryf terwyl ek voltyds werk nie. Ek weet nie of ek soos Irma Venter, wat ek bewonder, ’n uur hier en daar in ’n koffiewinkel kan gaan sit en skryf nie. Ek word verteer deur ’n storielyn en karakters. Vroeg in die oggend, voor dagbreek, is my beste tyd. Maar as die bal eers aan die rol is, enige tyd.

Om moord te pleeg is in mens, as hulle jou ver genoeg druk. Hoe ver is dit? (So ver soos eendag? Of baie nader?)

Ek dink dis nader, vlak by jou vel. Mits iemand wat jy lief het, bedreig word en daar ’n wapen naby jou hand is.

Ek is terug by die humor. Alleman met die vergeetbare gesig, die een wat haar moontlik dophou. Waar kom jou karakters vandaan?

Die karakters meld aan. Uit die niet. Uit ’n geleefde lewe, miljoene indrukke en snarse geheue. Ek maak nooit notas soos Jeanne nie. Dalk moet ek. Maar ek voel as iets my beïndruk in die oomblik, sal dit êrens neerslag vind, op my retina ingebrand wees, in my onderbewuste ’n ekstrak, ’n kwas vorm waaruit ek later kan meng.

Gesprekke oor die geheue: Hoe verdag dit is. Is jou boek fiksie? Is dit pastiche (ek dink ek haal jou aan) uit jou eie lewe? Uit andere s’n? Vir wie behoort jy erkenning te gee?

Geheue is heel verdag. Dis pastiche uit my eie en ander se lewens. Ek weet nie vir wie om erkenning te gee nie. My gekantelde oog? Al die boeke wat my gevorm het? My kinders?

Tieners met te veel tyd op hande. Al die ongeformuleerde vrae. So baie sosiale kommentaar. Wie is jou ideale leser? 

Mense wat dink oor die lewe – nie die groot bestaansvrae nie, maar klein, knaende goedjies. Ek dink gister: Daar is seker in ’n Skandinawiese taal ’n woord vir daardie oomblik wanneer jou handsak te laag oor jou heup hang dat jy die motorsleutel in die kantsak met jou een hand kan bykom, dan moet jy alles neersit om die sleutel op te diep.

“Ellende word nooit eweredig verdeel tussen die dae van ’n mens nie.” ’n Aanhaling wat so uit die bladsy opspring. Gebeur hierdie aanhalings in die oomblik? Terwyl jy in die storie is? Vertel my van jou proses. Die beplanning. Weet jy voor die tyd wat gaan gebeur? Wat gebeur het? Die begin, die slot?

Dit gebeur in die oomblik, terwyl ek worstel met ’n situasie. Daar is min beplanning. Ek weet min of meer wat gaan gebeur, maar word ook dikwels verras. Ek het die begin en ’n vae einde in my kop wanneer ek begin skryf. Dan begin die karakters speel. Dis ’n magiese proses. Een van “my” skrywers, Marius Crous, haal aan die begin van sy digbundel Tussenganger, wat nou enige oomblik op die rak gaan wees, vir Kenneth Goldsmith aan: “The function of a writer is more like being a DJ than being Jimi Hendrix.” Ek stem saam. 

...........

Kom luister na Deborah Steinmair tydens die Domestic noir: behind closed doors-gesprek by die Toyota US Woordfees: 9 Maart by die Drostdy Teater.

  • 1

Kommentaar

  • Leana Lategan

    Uitstekende onderhoud. Ek het pas die boek gelees. En wens ek kan dit vir almal vir wie ek omgee, present gee.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top