’n “Confidence artist” of “confidence trickster”, of net ’n “con”. ’n Triekster. Selfvertroue speel ’n belangrike rol in hierdie skelms se modus operandi om jou te bedrieg en jou vertroue uit te buit. Hulle is merkwaardig charismaties en mens kan nie help om van hulle te hou nie. In die film Catch me if you can speel Leonardo DiCaprio die rol van Frank Abagnale, ’n voormalige tienertriekster op wie se skelmstreke die film gebaseer is. Abagnale het ’n indrukwekkende swendelaarsloopbaan as ’n voormalige Pan American World Airways-loods gelei. Hy het hom ook as dokter en prokureur voorgedoen. Reeds op die ouderdom van 15 het hy met tjekbedrog begin en miljoene ponde verduister. Nadat die FBI hom vasgetrek het, het hy minder as 5 jaar tronkstraf uitgedien en op die ouderdom van 26 begin werk vir die einste FBI, wat hom genader het vir sy expertise met bedrog. Abagnale is vandag 73 jaar oud. Hy het sy jakkalsstreke meer as 40 jaar gelede laat staan – maar gebruik sy insig om ander trieksters uit te vang. It takes one to know one. Abagnale is ook een van die voorste kenners in die wêreld op die gebied van kubermisdaad.
Die triekster is ’n argetipe wat dikwels voorkom in volksverhale, sprokies en mitologie, en is deel van die mens se kollektiewe geheue. ’n Triekster is ’n skurk wat mense se vertroue wen, hulle uitbuit, en tot die laaste sent uit hulle sal swendel as hulle die kans kry. As ’n reël is hulle suave en meelewend, hoogs intelligent en kan van gedaante of identiteit verwissel. Verhale oor die triekster, soos dit voorkom in die orale tradisies in die Zoeloe-, Venda-, of Noord-Sotho-kulture, se doel is om luisteraars te vermaak. Of dit nou Duitsland se Till Eulenspiegel (Tyl Uilspieël), Loki in die Noorse mitologie, of Prometheus in die Griekse mitologie is, die patroon is identies. Die triekster bly getrou aan sy bedrieglike aard en sorg steeds vir hope vermaak in die moderne media. Mens dink bv aan Kaptein Jack Sparrow in Pirates of the Caribbean, of Jerry die muis in Tom & Jerry. Films soos The wolf of Wall Street of Dirty rotten scoundrels skep die indruk dat hierdie trieksters verromantiseer of selfs verheerlik word as tipe anti-held. ’n Triekster kan ook shapeshift, ’n transmogrifikasie om sy prooi te bedrieg. In die moderne praktyk sou dit neerkom op ’n vals CV of identiteit. Die skelmroman, of pikareske roman, het trieksters of “pikaro’s” as karakters, bv Draaijakkals van George Weideman, of Niggie van Ingrid Winterbach. Maar waarom is die argetipe van die triekster so gewild – dit is dan ’n bedrieër? Frank Abagnale kry tot vandag toe bewonderaarspos. Op ’n ironiese of ambivalente manier is mense aan die triekster se kant. Die triekster sorg vir heerlike verhale, en dis ’n geval van “how to beat the system”. Die triekster is uitgeslape en deur illusie en misleiding kies hy ’n kortpad na sukses.
Victor Lustig het probeer om die Eiffel-toring vir skroot te verkoop, maar het gevlug met ’n vet tjek – omkoopgeld. ’n Talentvolle skilder soos Wolfgang Beltracchi het miljoene gemaak uit vervalste skilderye – maar die ironie is dat sy talent tóé vir die eerste maal raakgesien is, en vandag maak hy megabucks op ’n wettige wyse. Charles Ponzi se Ponzi-skemas woeker nog voort, en ’n ene “Dr Conti” het die hele wynbedryf vir ’n ride gevat. Haas ongelooflik. Maar, voordat ons vergeet: Hierdie trieksters is so skelm soos kleinhuisrotte. Die volgende vraag: Waarom is mense so goedgelowig? Waarskynlik omdat dit makliker is. Wie wil nou konstant wantrouig – of paranoïes – deur die lewe gaan? Ek dink “die groot leuen” (“Grosse Lüge”), soos Hitler dit beskryf het in sy boek, Mein Kampf (met verwysing na propagandatruuks), speel ook ’n rol. Mense koop in op die groot leuen, nie die klein leuen nie. ’n Hedendaagse voorbeeld is waarskynlik toe Trump beweer het dat die demokrate die verkiesing “gesteel” het en sy volgelinge die US Capitol bestorm het. Die groot leuen vorm waarskynlik ook die hoeksteen van samesweringsteorieë of fopnuus.
.......
Geheime, aliasse en vermommings. Volgens Frank Abagnale het baie van die con artist of triekster se streke deel geword van kubermisdaad. Tegnologie kweek misdaad, sê hy, en dis vandag, met al die tegnologiese hulpmiddels, baie makliker om niksvermoedende mense te bedrieg as in die sestigerjare.
.........
Geheime, aliasse en vermommings. Volgens Frank Abagnale het baie van die con artist of triekster se streke deel geword van kubermisdaad. Tegnologie kweek misdaad, sê hy, en dis vandag, met al die tegnologiese hulpmiddels, baie makliker om niksvermoedende mense te bedrieg as in die sestigerjare. Dis waar, ja, maar IT-skelms of kuberkrakers pleeg gesiglose bedrog. Dis die teenoorgestelde van die con, met die klem op selfvertroue. In films word ’n hacker gewoonlik uitgebeeld as ’n wanaangepaste nerd met die een of ander versteuring, waarskynlik Asperger-sindroom; en dié hacker het ’n spul weird pelle wat soms kom inloer wat Genius aanvang. In haar boek oor trieksters, The confidence game, benadruk die skrywer Maria Konnikova ook die selfvertroue van hierdie skurke. Sy beskryf dit as geniale manipulasiemetodes, en die prooi is oorwegend mense wat emosioneel weerloos is. As jy bv jou werk verloor het, is jy nie net oop vir trieksters wat jou uit jou geld uit bedrieg nie, maar ook vir trieksters in die romantiese sfeer. Mense wat aanlyn date, is dikwels gewisse slagoffers.
Konnikova het voorts uitgebrei op watter uitdaging dit is om navorsing te doen oor trieksters. Hulle vertel nie eens die waarheid oor hulle bedrog nie – hulle vergroot sekere dele, of laat hulle mislukkings weg, want dis in hulle aard om leuens te vertel. As navorser het sy dit moeilik gevind om objektief te bly – sy het haarself betrap dat sy verskonings soek vir hulle optrede, dat sy misdaad rasionaliseer. Haar subjekte was uiters charismaties en empaties. Die verrassendste was seker toe sy uitgevind het dat al die trieksters met wie sy gesprekke gevoer het ’n propperse agtergrondstudie oor háár, die navorser/skrywer gedoen het! Hulle het onder meer haar aanlyn artikels gelees en heerlik saamgesels. Om haar objektiwiteit bo verdenking te hou het sy met hulle slagoffers ook begin praat. Konnikova verwys na die drie “donker persoonlikheidseienskappe” waaroor trieksters beskik, nl: (1) Psigopatie. Hulle het hoegenaamd geen berou oor die skade wat hulle mense berokken nie, want hulle is in wese gewetenloos en ervaar geen empatie nie. (2) Narsisme. Trieksters het opgeblase ego’s en dink die geld wat hulle uit mense swendel, is hulle reg. ’n Triekster wat ’n CV met ’n PhD-kwalifikasie vervals, glo werklik dat hy slimmer is of meer weet van ’n onderwerp as iemand wat werklik ’n PhD het. (3) Machiavellisme. Dit behels superieure vermoëns om mense te manipuleer om presies te kry wat hulle wil hê. Trieksters beskik oor ’n verbluffende oorredingsvermoë en sal énigiemand kan bedrieg. Hulle is emosionele predatore en voel absoluut vere vir die bloedspoor wat hulle agterlaat. Professionele kenners op die gebied van fisionomie en kommunikasiekunde meld ook dat mens nie trieksters se mikro-uitdrukkings wanneer hulle leuens vertel kan lees nie. Verslae van ondergerapporteerde bedrog is volop: Slagoffers verwittig nie die polisie van die scams waarin hulle beland het nie. Die behoud van mense se reputasie is vir hulle belangriker as die verleentheid om bekend te staan as iemand wat onnosel genoeg was om te val vir ’n swendelaar se rykwordskema. ’n Ontstellende waarheid is dat trieksters tot lyste saamstel van hulle slagoffers wat hulle “sucker lists” noem, en dit dan aan ánder skelms verkoop! Dit is die sg “beste slagoffers”. Ongelukkig is dit só dat mense wat een maal geval het vir ’n bedrogspul, weer ’n slagoffer daarvan kan word. Volgens Abagnale is ’n veel groter persentasie millennials slagoffers van kubermisdaad, terwyl ouer mense weer meer geld verloor, omdat hulle meer geld het.
Die gevaartekens dat iemand dalk ’n triekster is, is die volgende:
- ’n Triekster praat vinnig, is ’n ekstrovert (kenners verwys na ekstreme ekstraversie), maak indringend oogkontak, en laat jou spesiaal voel (jy maak saak vir hom/haar).
- Om miljoene te maak, verg nie harde werk of moeite nie – dit klink te goed om waar te wees.
- Trieksters is lief vir name-dropping – gewoonlik dié van top maatskappye of stinkryk individue (met wie hulle kwansuis skouers skuur).
- Trieksters sal jou sal waarsku teen ánder trieksters.
- Op hulle sosialemediaprofiele is daar tekens van vals selfvertroue, bv waar hulle gevaarlike sport soos valskermspring beoefen, of spog met ’n supermodel aan die arm.
- Wees veral bedag as die persoon ’n klein sosialemediagevolg of -vriendekring het, of lanklaas iets op die forum gepos het.
- Trieksters sal jou vertel van die droomlewe wat op jou wag: oorsese vakansies, reise, miljoene op jou oudag, ens.
- Dikwels ry trieksters vinnige en duur motors (as blyke van hulle “sukses” – maar agteraf bars hulle om die paaiemente te betaal, of die bank kom vat die motor terug).
Dale Carnegie se 1936-blitsverkoper, How to win friends and influence people, wat oorspronklik afgestem is op raad vir sakesukses, kan ironies genoeg as die triekster-bybel gesien word.
En terug na Donald Trump: Dié voormalige president het herhaaldelik verwys na “con artists”, “a con game”, “a con job” – dieselfde leksikon wat voorkom in The art of the deal (1987), waarvan hy en Tony Schwartz mede-outeurs was. Wanneer Trump die woord con gebruik, dui dit op ’n bedrogspul, maar hy sien homself as die volmaakte con man wat nié bedrieg kan word nie. Een van die talle digotomieë of alternatiewe feite rondom Trump … Die skelmstreke waarvoor hy sy neus optrek, dui waarskynlik op ’n projeksie van homself.
Volgens Abagnale verskaf mense hopeloos te veel inligting van hulself, wat identiteitsdiefstal vir ’n swendelaar maklik maak. Met die verleiding van die sosiale media en vertroue in ons aanlyn vriende, vertel ons wanneer en waar ons gebore is, waarheen ons gaan, wat die name van ons ouers en kinders is, ens. En Abagnale verduidelik hoe maklik dit is om iemand se identiteit vas te stel. “Ek sit op ’n lughawe en wag,” demonstreer hy. “Jy stap verby, en ek neem ’n foto van jou met my iPhone. Ek kan ’n toep soos PittPatt gebruik – dis ’n gesigsherkenningsprogram wat eers deur die FBI gebruik is, maar later oorgekoop is deur Google. As jy bv op Facebook is en sê waar en wanneer jy gebore is, het ek reeds 98% gevorder om jou identiteit te steel. Met iemand anders se identiteit kan ek baie doen: Ek kan verbande aangaan, krediet bekom, werk kry – dis die ideaal van enige triekster om iemand anders te word.”
Volgens Abagnale is daar twee definitiewe leuenverklikkers dat jy dalk met ’n triekster te doen het:
.......
’n Triekster gaan jou manipuleer om dadelik inligting van jouself te verskaf, bv kredietkaartbesonderhede, of om ’n betaling te maak. Oombliklik – dis dringend. Anders verloor jy big time.
........
’n Triekster gaan jou manipuleer om dadelik inligting van jouself te verskaf, bv kredietkaartbesonderhede, of om ’n betaling te maak. Oombliklik – dis dringend. Anders verloor jy big time. Wanneer iemand jou bel vir lg inligting, vra om terug te skakel en maak seker jy weet presies met wie jy praat. Moenie aan FOMO ly nie; dis heel waarskynlik ’n kroekspul. Moenie die regering, Ontvanger, polisie of jou bank goedsmoeds vertrou nie. As jy regtig ’n lotery gewen het, sal jy nie gevra word om ’n oorplasing te doen om die wenbedrag op te eis nie. Daar is ook geen verdagte vervoer- of hanteringskostes of belasting betrokke by sulke “meevallers” nie. Waak teen onopspoorbare bronne – wettige transaksies word gedoen via ’n bankrekening en die detail kan geverifieer word; wees bedag op transaksies wat met obskure metodes, soos geskenkbewyse, gedoen word. Trieksters is professionele storievertellers; moenie ’n slagoffer van die “gold rush” word nie.
Fred Brito is waarskynlik een van die beste trieksters wat die wêreld nog gesien het. En hy het hoog gemik – aansoek gedoen vir poste wat PhD-kwalifikasies vereis. In sy roemryke – of eerder, avontuurlustige – loopbaan was hy onder meer werksaam as advokaat, sielkundige, hofpsigiater, dirigent, fondsinsamelaar by die Rooi Kruis, en hy was ’n geliefde priester onder die Latino-gemeenskap. Brito het in sy aansoek vir die pos as hofpsigiater ’n mediese skool en verwysing gefabriseer. En raai wat? Toe sy voornemende werkgewer dié verwysing skakel, toe antwoord Brito – in ’n ánder stem – en bevestig presies watter geskikte kandidaat dr Mark Esparza is! Hy het vier verskillende selfone gehad, elk met die korrekte areakode. Vir sy pos as dirigent het hy musiekvideo’s bestudeer. Die res – observasie en handboeke.
Nie net het hy sy werkgewers vir jare ’n rat voor die oë gedraai nie, hy het ook die hoogste akkolades ontvang. Sy gunsteling job was dié van priester en die kerk het hom vereer vir sy onbaatsugtige diens (en liefde) vir sy gemeente. Weer eens: Dit ís die waarheid; Vader B Gomez de Esparza het alles in sy vermoë vir sy arm gemeente gedoen … Maar wag, laat ek nie in dieselfde strik as Konnikova trap en begin verskonings maak vir die skelm nie. Brito was ’n paar tale magtig en kon dit selfs met verskillende aksente praat. (On)gelukkig het gulsigheid en die verduistering van fondse by tye sy werksaamhede gekelder, maar hy kon vinnig van gedaante verander en homself instudeer in sy volgende job. Tydens ’n onderhoud op I almost got away with it maak hy die interessante opmerking dat die gebruik van taal, vaktaal, jargon of koeterwaals – noem dit wat jy wil – van essensiële belang is om geloofwaardig in ’n rol te wees.
Brito beloof gereeld hy is gerehabiliteer, net om weer te verdwyn – sy tydlyn laat jou kop duisel van die vaart en energie tussen sy verskillende beroepe en kriminele vonnisse; en net Vader Tyd en ’n nuwe alias sal verklap watter loopbaan hy nóú volg. Hy het reeds meer as 70 verskillende cons beoefen.
Dis tog tragies dat so ’n begaafde individu sy lewe en fantasieë letterlik uitspeel – want in der waarheid beskik Brito oor ’n superieure intellek en talent om te skryf en toneel te speel (alles in disguise, ongelukkig). Mens wonder of hy onder normale, of eerder wettige, omstandighede dieselfde loopbaankeuses sou volg, dieselfde suksesse sou behaal? Of is die con self die middel tot die doel? Die lewe is ’n speeltoneel, inderdaad.
Kommentaar
Fassinerend, briljante skryfwerk, Nini!
Briljant, Nini!
Heerlike interessante artikel!!