’n Unieke noirdebuut: Junx deur Tshidiso Moletsane

  • 0

...
Dis ’n unieke noirdebuut in ’n vars stem, eie en eg aan ons gekwelde, kreatiewe en gevaarlike hartseer land. Skryf kan dié man skryf, en die element van magiese realisme met die pratende kokkerot-en-rot-vretende engel-duiweltjie op die skouer werk uitstekend.
...

Titel: Junx
Skrywer: Tshidiso Moletsane
ISBN: 9781485904403
Uitgewer: Umuzi Trailblazer

“It starts normally enough.”

So begin Tshidiso Moletsane se debuutroman Junx, maar die jong hoofkarakter se Jozi-partytjienag wat strek van township shacks tot middestadse hole is allesbehalwe doodgewoon.

Sy wipwarit van drank-en-dwelm-aangevuurde wellustige avonture wissel tussen doodsveragtelik en doodsverlangend – die skaam, angstige antiheld weier al vir maande sy depressiemedikasie en raak al hoe meer uitgeteer, maar sy briljante, vrugbare en welbelese brein werk oortyd en hy beland al hoe dieper in die moeilikheid. Hoe later hoe kwater.

Wat begin as ’n plan om die jaarlikse Sexy-Honey-Super-Chubby-musiekkonsert-en-paartie in Braamfontein by te woon en tussendeur ’n vry met ’n gelukkige einde te kry, loop uit op ’n gesteelde toeristehuurkar met ’n rewolwer in sy lyfband, via ’n dwelmsmousvriend se oordosis, smerige bordeeleskapade en pizza-etery by sy twee besties cum vaderfigure se kwasispirituele Wits-studentekommune, voor hy met die polisie en bedonnerde woke toeriste op sy hakke by die jol opdaag en daarna treinspoor langs vlug tot op ’n verlate treinwa. Gaan dit goed uitwerk? Maak dit saak? Inderdaad skadu’s van Trainspotting, net met Mzansi se nihilistiese, Netflix-kykende en taxiryende verlore Gen Z in plaas van verslaafde bleek Skotte.

Die verhaal begin waar die eerstepersoonsverteller ná ’n eksistensiële, galaktiese droomvlug in sy smerige kamertjie wakker word en ’n zol met sy maat Ari deel. Dié verbeeldingsvriendjie is sy konstante metgesel en gespreksgenoot van kleindae af, ’n gevleuelde en parmantige bont pelsdiertjie, sowel beskermengel as duiwelsadvokaat wat altyd die waarheid praat (die naam Ari se herkoms is hoeka óf arend óf leeu). Hul aand uit word meer van ’n wakker nagmerrie as wat die openingstoneel kon voorafskadu.

Lewe en dood, seks en seksualiteit, drank en dwelms, ras en politiek … Junx skram nie weg van die harde werklikheid en taaiste vrae nie en tref soos ’n vuishou in liriese, beeldryke taal vol raak verwysings na skrywers, musiek, flieks en eietydse populêre kultuur en omstrede plaaslike figure.

Daar’s ’n wonderlike toneel in die kommune waar die studente hom vra om ’n gebed aan hul profeet te lei voor hulle gaan dans en drink, en dit blyk dié is niemand minder nie as Trevor Noah as kleuter in ’n ornaat geraamde portret. Mens kan Junx net daarvoor alleen gaan koop – die slot van sy dis-moerse-weird-maar-hier-gaat-ons-gebed lui: “It is only with your grace that we are able to navigate our way through this accursed existance, Trevor. And as we head out tonight we know you are with us in spirit. Please watch over and protect us, Trevor. Shield us from drunken fights and STDs and bad drugs. Help us get back home with our sanity intact and without incident. In your holy name, dearest prophet Trevor, we pray. Amen.” En dan: “I kiss little Trevor Noah on the forehead once I’ve finished. I’m not sure if I was supposed to say amen or if I should’ve just said enkosi, since he’s Xhosa.”

Daai was een van vele onvergeetlike tonele, maar ’n enkele saak om tog te opper is nie ’n morele een oor die geweld, seks en drank-en-middel-misbruik nie, want mens besef dis menige jongmens se realiteit; dis net effens jammer die droewige, depressiewe (naamlose?) hoofkarakter gaan mank aan reddende eienskappe wat mens meer vir hom wil laat cheer. Hy’s darem lief vir sy ma, wat hy as ’n heilige beskryf, maar sy figureer glad nie. Die keuse van iemand só donker en meedoënloos selfvernietigend dat die leser nie lekker vat aan hom kan kry nie, herinner op ’n vreemde manier aan die soortgelyke “royal fokop van ’n lewe” van die gehawende joernalis en selferkende vieslike verloorder Flip Lochner in André P Brink se roman Duiwelskloof met sy mislukte huwelik, mislukte loopbaan en mislukte lewe. Nie dat hul omstandighede of agtergronde ooreenstem nie, en Junx se arme antiheld se jong lewe is grootliks om historiese redes so uitsigloos en miserabel. Dit sou net help as daar darem meer as ’n sprankie likeability was, of ten minste meer vonke van humor of hoop, sodat sy lot jou sterker kan aangryp. Hy praat wel hier en daar reguit met die leser, wat ’n mate van betrokkenheid skep, en hy mag “hoog”, dronk en honger wees, maar hy bly vlymskerp soos ’n Minora-lemmetjie.

...
Gordel in, drink genoeg lewerpilletjies en gaan paartie saam. Dis ’n willewragtig van ’n lang nag.
...

Dat dié roman met sy treffende voorblad van ’n swart man met etniese velversierings en gloeiende groen lense in die rooi neonlig ’n raak refleksie van ons tye is, ly geen twyfel nie. Die Witsgegradueerde letterkunde- en filosofiestudent en EFF-lid Koketso Poho skryf in sy voorwoord vir Junx dat swart lewe ’n ewige jukstaposisie is, altyd ’n stryd om gesien en gehoor te word, en by verstek so naby aan die dood as wat die mensdom kan kom. Geweld, hetsy fisiek of in terme van materiële omstandighede, is die gegewe van swart lewe. Mense stomp hulself af van hul werklikheid deur hedonisme en gevoelloosheid. Daar is volgens hom twee Suid-Afrikas: die glansryke een in toerismetydskrifte en op Instagram, en die Azanië wat brand omdat swart mense soos agterplaasbewoners en tweederangse burgers in hul eie land bly. Hy skryf: “Junx is ’n fiktiewe maar eerlike uitbeelding van swart mense se gemeenskap en psige, al mag dit vulgêr en grotesk voorkom vir sensitiewe lesers. Dis ’n konfrontasie met ’n nasie wat probeer worstel met sy realiteite.”

Moletsane het sy manuskrip al in 2016 aan ’n uitgewer voorgelê met die meeste van sy notas om die boek te voltooi op sy foon – maar toe word hy gekaap en geskiet en verloor als. Hy’t darem oorleef en van voor af begin en verdeel deesdae sy tyd tussen Soweto en Weltevreden Park. Junx is sy eerste roman.

Dis ’n unieke noirdebuut in ’n vars stem, eie en eg aan ons gekwelde, kreatiewe en gevaarlike hartseer land. Skryf kan dié man skryf, en die element van magiese realisme met die pratende kokkerot-en-rot-vretende engel-duiweltjie op die skouer werk uitstekend. Gordel in, drink genoeg lewerpilletjies en gaan paartie saam. Dis ’n willewragtig van ’n lang nag.

Junx is uitgegee deur Umuzi as die eerste in die nuwe Trailblazer-reeks vir korter, grensverskuiwende fiksie van Afrika onder die vaandel van Penguin Random House SA, en is in sagteband (ISBN 978-1-4859-0440-3) en elektroniese formaat (ISBN 978-1-4859-0495-3) beskikbaar.

Hier is jou naaste tak van Bargain Books

As jy nie die boek sien nie, vra gerus die personeel om dit te bestel.

Sien ook:

Press release: Tshidiso Moletsane wins 2022 Sunday Times Fiction Award

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top