Vlug ET640

  • 4

Prent: Canva

Dis net ná 8 die oggend en ek stap op vlug ET640, in ’n Boeing 787-8, onderweg na Addis Abeba vanaf OR Tambo Internasionale Lughawe (of die destydse Jan Smuts). Ek sal my weer op Hanoi se Noi Bai-lughawe bevind, maar eers 42 uur later.

Ek neem my plek in. Sitplek 26L. By die venster. Soos die meeste reisigers (dink ek) wil ek by die venster sit. Dis soms ongerieflik vir wanneer jy water wil afslaan en jy menssku is, soos ek. Maar nogtans verkies ek dit – my eie private hoekie met die wêreld daar buite. Die grote ystervoël word teruggestoot, neem ’n linksdraai en mik na die lang, swart aanloopbaan. Die twee kolossale enjins word oopgemaak tot volle krag en daar gaat ons – die wiele word opgetrek en in die voël se blikpens gebêre. Addis Abeba, ons is op pad.

Langs my sit ’n Indiërman. Die donker-van-gelaat-soort. Ek skat hom iewers in sy vroeë of middel-30’s. Sy boep bult prominent deur sy pers T-hemp. Hy maak hom in sy sitplek gemaklik. Skop sy plakkies uit, neem ’n snuif snot – dit word van heel bo in sy sinusse gehaal en afgetrek tot in die keelgat. Dan neem hy ’n kruisbeenposisie in. Die kajuit begin vreemd ruik. Dié man se voete – wat nou in my rigting wys – ruik soos die aartappelplantgis wat die ou boeretannies maak vir suurdeegbrood.

Net bo Ongata Rongai, ’n klein nedersetting naby die Jomo Kenyatta-lughawe buite Nairobi, Kenia, begin die vliegtuig wipplank ry. Turbulensies. Iets wat ek háát. Ek gryp aan my sitplek vas en hoop op die beste. Ek dink toe terug aan die tyd toe ek vir ’n maand lank in ’n skeepsvraghouer in dié nedersetting geplak het. Dit was die beste tyd van my lewe. En eg Afrika – iets waarvoor ek lief is. Of lief geword het ná my besoek aan Kenia. Dit laat my summier van die turbulensies en vrot voete vergeet.

Toe ek weer voor my op die elektroniese padkaart kyk, is ons skuins verby Mount Kenya. Leestyd. Ek haal C Johan Bakkes se Openbaring uit my rekenaarsak en lees voort op bladsy 92: “Kerke, kloosters en kastele.” Hier lees ek van hom wat iewers oor Ethiopië vlieg op (wat hy noem) ’n Fokker 50. Soos ek kan aflei, is dit ’n klein vliegtuig, want sy reistyd van Lalibela in die Wollo-provinsie tot iewers, is ’n halfuur lange vlug.

.........
Toe ek weer voor my op die elektroniese padkaart kyk, is ons skuins verby Mount Kenya. Leestyd. Ek haal C Johan Bakkes se Openbaring uit my rekenaarsak en lees voort op bladsy 92: “Kerke, kloosters en kastele.” Hier lees ek van hom wat iewers oor Ethiopië vlieg op (wat hy noem) ’n Fokker 50. Soos ek kan aflei, is dit ’n klein vliegtuig, want sy reistyd van Lalibela in die Wollo-provinsie tot iewers, is ’n halfuur lange vlug.
...........

Ek giggel my amper ’n papie toe ek lees hoe hy uit ’n óórlekker moment ’n noodprosedurebiljet vir sy kroeg gegaps het en ’n (die) Fokker 50-klub gestig het wat die volgende behels: Jy moes al op hierdie klein Fokker 50 gevlieg het, ’n noodprosedurebiljet gegaps het en ’n Fokker van 50 wees.

Dadelik is ek jaloers dat ek nie my eie kroeg het nie en dat ek nie ’n Fokker van 50 is nie. Ek het wel op ’n klein Fokker 50 gevlieg toe ek nog in my prille jeug was. Maar anyway, te moer met alles, dink ek. Ek gaan hierdie Boeing 787-8 se gelamineerde A4-biljet vat as memorabilia. Ek krap voor my in die pamfletsak en druk die biljet in my rekenaarsak in. Later sou ek uitvind dat iemand in China in hegtenis geneem is omdat hy ook ’n biljet gegaps het. Maar wie nie waag nie, nè? Nóú gaan ek my eie donnerse klub stig. Die Boeing 87-klub met die volgende vereistes: Jy moes al op ’n Boeing 87 gevlieg het, ’n noodprosedurebiljet gegaps het, en jy moet ’n Fokker van amper 30 wees.

Ná vier ure se reis, 39 000 voet bo in die lug – iewers oor Afrika – is ek voos. Eintlik gatvol. Ek dink nie daar is ’n beter woord nie. Ek is moeg vir die ou se voete en ek is moeg vir die gedreun van die vliegtuigenjins. Ek wil land.

Ek is honger, en genadiglik is dit kostyd. Die vlugkelnerin kom verby met haar klein silwer trollie terwyl sy die befaamde “chicken or beef, chicken or beef”-reëltjie uiter. Sy hou by ons stil. Die Indiër het een of ander vegetariese dis vooraf bestel.

“What would you like, sir?” vra ’n lang, skraal Ethiopiese vrou my.

Ek besluit toe dat ek spiteful gaan wees en vra vir die biefdis. Spiteful – waarom so? sal jy dink. Om die man terug te kry, want waarom sal hy sy stinkende voete amper onder my neus kom druk? Maar hoe is ek spiteful? Wel, as jy enigiets van kultuur weet, sal jy weet dat Hindoes beeste aanbid. Dié goed is vir hulle Heilig.

Hy kyk my snaaks aan toe ek my biefdis met gebakte hande aanneem. Ek kon ’n veer voel of Bessie bees nou Heilig is of te not. Ek is honger.

Ek vra toe daarby vir ’n botteltjie Cuvée Spéciale Vin Rouge om die bief-stew en rys te komplementeer.

*

Die padkaart wys dat ons naby Bishoftu is – ’n dorpie sowat 30 km buite Addis. Ethiopië is groen, merk ek. Landerye en rolling hills, soos die Engelsman sal sê, is oral waar jy kyk. Regs van my sien ek iets wat na ’n vulkaan lyk. Voetpaadjies kronkel teen die kante van sy ribbes op. Huisies lê soos konfetti gestrooi in die son. Ek maak ’n nota op my selfoon dat ek op Google moet naspeur of dié ’n regte vulkaan is en of dit aktief is of nie. (Google sê dis Mount Zuqualla en dis nie aktief nie.)

........
Soos die vliegtuig na benede toe daal, sien ek ’n veewagter wat agter ’n trop diere stap. Dit laat my terugverlang na die plaas op Reivilo in Noordwes en die tyd toe ek met ’n trop Australiese beeshonde my stiefpa se Bonsmara-beeste bymekaar moes maak vir dosering en wie weet wat nog.
.........

Soos die vliegtuig na benede toe daal, sien ek ’n veewagter wat agter ’n trop diere stap. Dit laat my terugverlang na die plaas op Reivilo in Noordwes en die tyd toe ek met ’n trop Australiese beeshonde my stiefpa se Bonsmara-beeste bymekaar moes maak vir dosering en wie weet wat nog.

Net voor ons land prewel die man iets in Hindi. Dit klink asof hy dieselfde ding oor en oor sê. Seker ’n opskietgebed sodat ons veilig moet land en nie soos die 2019 ET-vlug, waarop 157 mense omgekom het, naby Bishoftu neerstort nie.

’n Plaat geboue met blou, groen en rooi dakke begroet ons soos ons nader aan die aanloopbaan vlieg. Hier en daar ’n gele wat kop uitsteek. En sinkhuisies met geroeste dakke. En Afrika-stofstrate.

Met ’n harde knal soengroet die vliegtuigwiele die aanloopbaan. Ons vyf-en-’n-halfuur-vlug is verby. You have arrived at Bole International, sê ek vir myself. Die lughawegebou lyk soos ’n moeë bedelaar met uitgestrekte arms wat op iets beter wag. Of in niepoëtiese Afrikaans: verwaarloos.

Al langs die taxiway na die lughawegebou staan mans en vroue gebuk in weerkaatsbaadjies, met pik en graaf, besig om die onkruid tussen die wit en pers kosmosblomme uit te skoffel. Ek is diép in Afrika, dink ek. Hier gebeur dinge anders as by die huis – ’n trekker of grassnyer sou alles net plat en afsny.

“Ladies and gentlemen, welcome to Bole International Airport in Addis Abeba,” kondig ’n vrou oor die vliegtuig se luidsprekers aan.

Die vliegtuig kom tot stilstand. Passasiers staan op en gryp na hulle tasse. Die Indiër staan ook op en al wat ek hardop kon sê – en in Afrikaans – is: Vat jou plakkies en fokof.

Hy draai om en kyk na my.

“Namaskar, welcome to Ethiopia,” sê ek voor ek na my rugsak gryp en die maag van Bole-lughawe betree, wagtend op my vólgende vlug.

Lees ook:

Odd Bins & Breyten

  • 4

Kommentaar

  • Linda Opperman

    Het uit my maag gelag. Pragtige beskrywing van die vlug. Kruwoorde was beslis 'n moet.
    Giggle steeds.

  • Gerard Scholtz

    Bole bly my gunsteling lughawe. Die hele wêreld kom in alle reuke en kleure daar onsteriel bymekaar.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top