Odd Bins & Breyten

  • 0

Zalman S Davis skryf eerlik en sonder voorbehoud oor ’n Pretoriaanse toep-lus wat strek oor buurte en paaie, en oor wyn met digkuns (en Riku Lätti!) as voorspel.

Ná ’n dag in Pretoria bevind ek my op Tinder, die dating toep vir al die so-called decent mense. Op my kamerbalkon sit ek in my kort, pienk slaapbroekie en kyk uit op die Uniegebou wat ’n paar kilometer ver is. As jy mooi kyk, sien jy die Nelson Mandela-standbeeld in die middagson blink. 

Swipe links, swipe regs. Match. You have matched with D. D, 24, looking for a long-term partner. Hy is trots op wie hy is en wat hy doen. South African. Graduate. In die mediese veld. 

Hy is aantreklik. Sy gesig is melkbottelwit. Blonde-rooi krulhare hang voor sy diep-blou oë. In een van sy foto’s is hy in uniform. Stetoskoop om die nek en ’n bultende crotch wat onmiddellik aandag trek. 

“Hey :),” stuur ek hom ’n boodskap.

Bietjie meer as ’n uur later kry ek ’n antwoord: “Hey! You’re super attractive.”

Die volgende dag stuur ek ’n soppy reply: “I can say the same about you.” 

“Cute. How about a lunch date?” vra hy.

My vingers gly oor my selfoonskerm, oor sy naam. Ons ken mekaar skaars ’n volle 24 uur en hy wil al op ’n date gaan. That’s rushed. 

Ek laat weet hom dat ek dit ongelukkig nie sal kan maak nie. Ek het reeds iets aan. Ek gaan by ’n vriendin in Louwlardia en Moreleta Park gaan kuier, maar ek deel my WhatsApp-nommer. 

“Haha, great stuff. I have a quick meeting but I’ll pop you a message,” skryf hy terug.

“Sure. I look forward.” 

Minute later kom ’n boodskap deur op WhatsApp. Dit was vinnig, sê ek. Ja, sê hy, hy fok nie rond nie.

........
Deesdae copy en paste ek die basiese dinge oor myself.
........ 

Vir ’n paar minute praat ons oor al die vervelige kenmekaar-dinge: van wat jy doen, waar jy woon en dies meer. Deesdae copy en paste ek die basiese dinge oor myself. ’n Mens kan dit wragtag nie elke keer herhaal nie – veral nie as jy 215 matches het nie. Ja, dis ’n brag!

“Kom cuddle hier,” sê hy, “ek is in Menlo Park.” 

Reeds in die bed ná hopeloos te veel wyn, laat weet ek in ’n stemopname dat ek iewers in die omgewing van Moreleta is. Ek weet self nie juis waar nie. 

“Jy is besope.”

“Not really. Haha.”

“Well, I mean. You could be here in 30 minutes,” sê hy.

Hy stuur sy location. Ek bekyk dit met ooglede wat vlermuis hang. Ek laat weet hom hy is ver. Moer ver. 18 kilometer ver. Fok. 

“I mean. You’re welcome to spend the night. But we can’t hook up though. Alternatively, tomorrow is an option ... but I’m working tomorrow night so not suuuuper ideal.” 

Vir ’n halfuur lank praat ons oor hoe dit sou wees as ons in mekaar se beddens was. Hoe ons sou wyn drink, chat en cuddle. Vir my sou dit idillies gewees het. Ek was lovers’ day (Valentynsdag) laas in iemand se arms. 

***

Die volgende oggend Bolt ek met ’n moerse babelas na my vriendin se huis toe in Muckleneuk, ’n ou rykmansbuurt met lowerryke strate en die bekoorlike Magnolia Dell-park. 

In die ry, stuur D vir my ’n boodskap. “Let’s try for tonight.”

Ek sê dis reg. Hy sê dis kief, en dat ek tog net moet weet dat hy nie hookups doen nie. Fair enough. ’n Ordentlike knaap. 

“Wat gaan jy vandag doen?” vra hy.

“Ek gaan poetry lees en wyn drink.” 

“Ugh, dis wonderlik. Ek begin om seweuur werk en dan vlieg ek miskien Zambië toe. Vir critical care en daarna on call for flights. So kom ons kyk hoe om met alles te werk.”

Dit pas my.

By die huis vang ek ’n vinnige stort, trek ’n skoon onderbroek aan en klim dan weer in die bed met ’n glas wyn en Breyten Breytenbach se Die ysterkoei moet sweet. Maar al waaraan ek kan dink, is dié jong paramedikus. Vir een of ander rede is ek ’n magneet vir ouens in die mediese veld. 

Ek gaan staan op die balkon met BB se digbundel en my glas wyn. Neem ’n foto en plaas dit op my WhatsApp status.

D reageer daarop. “Ek sal nou vir jou een van my gunstelinge stuur.”

Ek antwoord dadelik met ’n stupid dankie.

“Jy antwoord so vinnig. Dis hot. I could never.”

Wel, ek fok mos nie rond nie. 

Ek kry ’n skermskoot van TT Cloete se Eerste worp. Onmiddellik is ek beïndruk; ek dink ek het die jackpot geslaan. Ek het nog altyd gewens om ’n man te kry wat van poetry hou. 

Intussen praat hy oor ’n baba wat hy moet red. Drie maande oud. En iets van SIDS, wat ek moes google. Sudden Infant Death Syndrome. 

Skermskoot.

Ingrid Jonker se Ontvlugting

“So, Ingrid is morbied. Maar ek is verlief op haar hele lewe wat basies ’n rebellie was.” 

Ek brag so bietjie en laat val dat ek die Ingrid Jonker: L’Art Poétique-digkompetisie in Suid-Afrika begin het en dat ek ’n hegte vriendskapsband met haar dogter, Simone, gehad het. Everything to impress. ’n Man moet jou beste voet voorsit. 

Die gesprek raak ná die poetry vir my ietwat vervelig, veral toe hy begin uitvra of ek van Paul Roos- of Grey College-outjies hou. Hoe de fok moet ek weet? If you’ve got it, you’ve got it. Dit maak nie saak vanuit watter skool jy kom nie, laat weet ek. 

Ek leer toe hy hou van Malbec- en Pinot noir-wyn. Ek is maar die queer-tipe: laaik my sagte Merlot. 

“Mkay, addy my,” sê hy. 

Ná ek op Google gaan uitvind het wat “addy” beteken, stuur ek vir hom my location en die uitgetikte adres: XXXXXXX straat.

“I need a hug. Imma phone you again,” sê hy. 

Vir ’n uur en 10 minute beplan ons om mekaar te sien. Soos hoërskooldogters. Tydens ons oproep sien ek hoe D iets tik. 

Dan: XXXXXXXXX straat. Ek moet nóú na hom toe. Dis wat hy wil hê. 

“Ek dink jy moet na my toe kom,” laat weet ek, “ek is reeds in my slaapklere.” 

Ek is versot op my slaapklere, veral op die pienk slaapbroekie wat ek by die Japannees geërf het toe hy vir 10 dae in Hanoi kom kuier het. Die swart hoodie wat ek daarby dra, is niks spesiaals nie.

“Okay cool. Maar dan gaan ek nou ry.” Ek kan in die agtergrond hoor hoe hy in sy kar klim.

Ek gaan sit op my bed, neem die laaste sluk wyn in my glas om die senuwees te tem. 

Om negeuur kry ek ’n stemboodskap: “Ek is by jou hek.” Hoe meer ek na sy stem luister, hoe meer aantreklik raak dit.

***

Sy motor kom deur die skuifhek gery. Hy parkeer net voor my onder die avoboom. My hart wil nie bedaar nie. Ek is altyd op my senuwees wanneer ek ’n persoon vir die eerste keer ontmoet.

D klim uit. Hy is lank en bietjie fris gebou. Hy ruik lekker. Sy klere sit styf om sy arms en bene. 

“Hey,” groet hy en gee my ’n stywe druk. Ek wou dadelik vermurwe. Dit het so goed gevoel. 

Ons stap saam die nag in tot binne my vriendin se huis. Elke liewe lig is af. Almal slaap. 

“Wil jy my ontvoer? Alles is so donker.”

Ek glimlag. “Dalk.” 

Een vir een klim ons die krakerige houttrappe op tot by my kamer. 

Die besonderse uitsig oor Pretoria en die Uniegebou vang sy oog. Vir ’n ruk staan ons op die balkon. Ons oë ontmoet mekaar s’n. Dan gaan ons in.

Bo my bed staan ’n bottel Shiraz Odd Bins 635 en twee glase. Ek skink vir ons en gaan sit op die bed. 

“Het jy ’n digbundel?” 

“Ja, kyk daar langs die bed,” sê ek, “my gunsteling is Breyten.” 

Hy is nie so mal oor Breyten nie, maar hou van sekere gedigte. 

D haal Die ysterkoei moet sweet van die stapel boeke af wat langs my bed staan. Dan kom sit hy amper kruisbene langs my. Hy blaai tot op bladsy 56. “Son en skedel”

........
Met ’n sagte stem lees hy: “soos die bloeisel vrot aan die tak ...” 
Hoendervleis slaan uit oor my hele liggaam van pure genot. 
........

Met ’n sagte stem lees hy: “soos die bloeisel vrot aan die tak ...” 

Hoendervleis slaan uit oor my hele liggaam van pure genot. 

Ek vat ’n sluk wyn en lees “ek wag in my hart”. 

Heen en weer verplaas ons die bundel na mekaar se hande toe. 

Die Odd Bins word al hoe minder, maar die oomblik al hoe mooier. 

D kom lê onder my linkerarm. Ek vryf aan sy skouer. Hy streel oor sy selfoonskerm, druk ’n paar knoppies om iets te speel. Dis nie lank nie of “ek sal sterf en na my vader gaan” dring deur die luidspreker. 

Jissus!

Net daar wou ek skree: Trou met my! Dié gedig en Breyten se voorlesing daarvan is my swakpunt.

Ons drink nog wyn, klim onder die duvet in. Sy lê in die holte van my arm het verander in ’n cuddle. Iets waarna ek gesmag het. 

’n Bekende deuntjie speel ná BB se voorlesing. Dié van “Hoofstroom”. Riku Lätti. My gunsteling-Afrikaanse song. 

Gun my net die oomblik

daar’s iets wat ek wou sê

ek voel jou lewe soos jy in my arms lê ...

“Ons moet probeer slaap,” sê D.

Hy trek sy klere uit, behou net sy mooi briefs. Sy lyf is volmaak. Ek trek my hoodie uit, gooi dit neffens my op die vloer neer. Ons lê in mekaar se arms. Sy krullebol onder my ken. Die liewe-Jesus-hangertjie om sy nek hou waak oor ons. Of oor hom. 

Ek skakel die bedlampie af.

Ons sou heelaand min slaap en net snoesig in mekaar se arms lê – in verskillende heilige cuddle posisies ...

My hand het die kontoere van sy lyf gaan verken. Sy asemhaling was hoorbaar in die stilte van die nag. 

Daar was soveel meer wat ek wou doen, maar tog was daardie oomblik tussen ons meer as genoeg in hierdie harde Suid-Afrikaanse winter. 

Zalman S Davis is uitgewer, Kokertoekenning-wenner, stigter van beide die Chris Barnard-prys en die Ingrid Jonker-digkompetisie, en skrywer. Volg hom gerus op Insta.

Lees ook:

Die jong man van Oekraïne, ’n ware verhaal

Seen elsewhere: Rest in peace, Simone Cilliers Jonker

’n Onderhoud met Zalman Davis, die jongste uitgewer in die land

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top