’n Onderhoud met Zalman Davis, die jongste uitgewer in die land

  • 11


Hy is skaars 23 jaar oud, maar die boeke wat hy onder die vaandel van sy uitgewery, Minimal Press, uitgegee het, pryk reeds op toonaangewende boekwinkels se rakke. Van hierdie boeke het puik resensies van top-resensente in die hoofstroommedia ontvang. 

’n Voorbeeld is dié van Joan Hambidge en Dewald Koen vir die digbundel Duifiedorings deur Thomas Deacon. Daar was ook goeie resensies vir die bundel My Father’s Blazer deur Pelelani Makanya, asook vir die Ingrid Jonker Waterfall Moss and Sun wat deur haar dogter, Simone, in Engels vertaal is. Die Croyez-stories (kortverhale) en die Môre is jy (gedigte) het dekking in hoofstroomkoerante gekry en het goeie blootstelling op E-nuus, kykNET en ENCA gehad. 

Hoe op aarde het die jonge Zalman Davis dit man-alleen in ’n baie moeilike en mededingende mark reggekry? En is hy nie bang dat mense hom weens sy jeugdigheid dalk nie met erns sal beskou nie? 

Zalman is gedrewe, ’n werkesel en wat ’n mens dalk “’n ou siel” kan noem. Hy het al geleef en ervaar, sy kop gestamp en is al telkemale deur die bedryf ontnugter en verras. Hy is ook ’n perfeksionis, wat graag by ervare skrywers en kenners in die boekbedryf kers opsteek en byna obsessief oor navorsing op die gebied is.

Benewens bekende skrywers soos Thomas Deacon het Malene Breytenbach ook reeds ’n skrywerskontrak by hom geteken.

Carla van der Spuy het hom ’n paar vrae gevra.

Jy is vermoedelik die jongste uitgewer in die land wat inderdaad indrukwekkend is. Hoe voel jy daaroor? En is jy nie soms bang dat mense jou weens jou jeugdigheid sal onderskat nie?

Ek was aan die begin skrikkerig, maar dan het ek maar net harder gewerk om hulle verkeerd te bewys. Dit mag indrukwekkend klink om as die jongste gereken te word, maar ek is nederig-dankbaar oor die pad wat Minimal Press loop en die ondersteuning wat ek van bekende skrywers kry.

Waar het jou liefde vir skryf begin?

Ek was in 2015 ’n beskuldigde in ’n hofsaak nadat ek en ander skoolseuns by koshuisontgroening betrokke was toe ek ’n joernalis van ’n groot dagblad leer ken het. (Ek mag nie haar naam noem nie.) Ek het haar opgespoor en haar vertel dat ek soos sy wou wees. Hoewel ek op ’n landbouskool was en graag wou boer, het ek ook in die joernalistiek belanggestel. Sy het my toe gehelp om ’n pos by ’n plaaslike koerant Die Stellalander op Vryburg te kry waar ek geleer het hoe om koerantartikels te skryf. Ek het ’n digbundel laat publiseer wat ’n groot misoes was. Die eindproduk was van swak gehalte en ek kon daardie tyd nie behoorlik skryf nie.

Jare later het ek en my lewensmaat, Franz Geldenhuys, (hy is ’n musiek- en koor-onderwyser en sanger) optredes uitgevoer waar hy klavier gespeel en ek poësie voorgelees het.

Vertel hoe dit gebeur het dat jy op so n jeugdige ouderdom n uitgewer geword het.

Dit het alles begin nadat ek op 19-jarige ouderdom as gevolg van selfpublikasie ingeloop is. Dit het my ’n klein fortuin gekos om my boek die lig te laat sien. Dis toe dat ek besluit het ek wil mense help en hulle die geleentheid bied om hul werk te publiseer sonder dat dit hulle ’n hoop geld kos of dat hulle ingeloop word. Daar is ook baie stories wat verlore gaan en wat nie noodwendig by groot uitgewers inkom nie. Dus kyk ek daarna en of ek daardie skrywer ’n geleentheid kan bied. Mens moet egter in gedagte hou dat daardie werk dan wel publiseerbaar moet wees.

Ek het ook baie oor verskillende aspekte in die bedryf geleer; van uitleg, omslagontwerp en bemarking. ’n Groot uitgewer het my touwys gemaak ten opsigte van omslae en setwerk en ek het besef dat ek dit aanvanklik heeltemal verkeerd gedoen het. Ek het my kop met elke liewe aspek van die bedryf gestamp en later geleer hoe om op my foute te verbeter.

Waar kom die naam Minimal Press vandaan?

Ek het lank oor die naam getob omdat ek alles tot op die been wil sny en omdat ek self by elke aspek betrokke wil wees en persoonlike aandag aan die skrywers wil gee. Ek wou nie hê dit moet ’n plek wees waar daar so baie mense werk dat persoonlike interaksie in die slag bly nie. Die uitgewer moet enige tyd vir die skrywer WhatsApps kan stuur en ontvang en net daar wees vir die skrywer. Vandaar die naam “Minimal Press”.

Watter genres het Minimal Press al die lig laat sien?

Ek het al digkuns, fiksie, historiese fiksie en kortverhale gepubliseer. Basies enige genre. Daar is ook ’n nie-fiksie misdaadboek en ’n kinderboek op pad.

Hoe kry jy skrywers? Stuur mense manuskripte vir jou of gee jy opdragwerke?

Hulle stuur hoofsaaklik vir my manuskripte, maar soms vra ek ’n spesifieke skrywer om ’n bepaalde boek te skryf wat ek in gedagte het. Of ek vra die skrywer of hy/sy nie reeds oor so ’n manuskrip beskik nie. Dis hoe ek op Malene Breytenbach afgekom het.

Voorsien jy om uit te brei en wat is jou toekomsplanne?

Ek wil beslis uitbrei en die boeke wyer na internasionale feeste, soos die Frankfurtboekefees in Duitsland en selfs die London Book Fair neem. Ons gaan reeds vanjaar na vyf of ses verskillende boekefeeste toe in Suid-Afrika. Ek sal ook graag meer boekblootstelling op televisieprogramme, soos Ontbytsake, ENCA en Morning Live, sowel as op ander groter platforms wil kry. Ons het vanjaar reeds tien boeke wat gepubliseer gaan word. 

Jy is baie deeglik en glo aan behoorlike redigering en proeflees en goeie illustrasies. Jy ontwerp baie omslae self. Is dit nie n vreeslike duur proses om die boek op die rak te kry nie?

Ja, dit kan ’n paar rand kos, veral as jy ’n klein uitgewery bedryf soos wat ek doen. Ons kan nie soos wat die geval met groot uitgewers is duisende boeke druk nie. En as jy duisende op ’n slag druk, is dit goedkoper. In hierdie stadium is elke boek wat ons druk ’n bietjie duurder as wat groot uitgewers sou betaal. Omslagontwerp kan ook duur wees, maar ek maak gebruik van vryskutontwerpers en veral studente wat ook in die bedryf betrokke is, soos ’n student wat die illustrasies vir die kinderboek Poppedonsie gaan doen. Hoewel hulle minder as ander illustreerders vra, moet die gehalte steeds hoog wees.

Jy behartig alle aspekte van n uitgewer. Van die keuring van die manuskrip tot verspreiding en bemarking. Ons weet almal dat bemarking en verspreiding die moeilikste is. Om boeke in die boekwinkels te kry is moeilik en alle boeke word ook nie geresenseer nie.  Resensente sit met stapels boeke waaruit hulle moet kies. Hoe op aarde het jy dit reggekry?

Weereens navorsing, navorsing, navorsing. Ek staan soggens agtuur op en werk tot drieuur in die oggend. Ek probeer heeltyd om meer kennis in die veld op te doen om sodoende te verbeter. Dit is ook belangrik om jou trots in jou sak te steek as jy wil hê iets moet gebeur. Ek kontak skrywers, verspreiders en joernaliste gereeld vir blootstelling. Hulle kan net “ja” of “nee” sê. Jy moet maar ietwat dikvellig wees en deursettingsvermoë aan die dag lê.

Vertel meer oor die Croyage- en die L’Art Poetique-kompetisies wat jy begin het en die groot belangstelling wat dit verlede jaar geniet het.

Ek het die Croyez begin om vir opkomende skrywers ’n platform te gee om te verbeter. Baie skrywers kom nie by groot uitgewers in nie en is ook te bang om groot uitgewers te nader. As hulle iets op my platforms kan regkry, kan hulle dalk ook die moed kry om groot uitgewers te nader. Die L’Art Poetique-kompetisie is ter ere aan Ingrid Jonker se bydrae tot die Letterkunde en ook haar geveg vir menseregte. In 2019 het L’art Poetique landwyd altesame 270 inskrywings, asook uit Namibië en reg oor die wêreld van lande soos China, Viëtnam en Skotland ontvang. Die L’Art Poetique word vanjaar deur die FAK geborg.

Die top-20 gedigte en kortverhale is in twee afsonderlike bundels gepubliseer. Ingrid Jonker se dogter, Simone, het die digkuns beoordeel en die kortverhale is deur bekende skrywers, soos Dibi Breytenbach en boekkenners, soos Karin Behrens van Lekkerleesboekrak beoordeel. 

Die kompetisies het wye publisiteit ontvang. Die naam van die Croyez word binnekort verander en na een van ons bekendste skrywers vernoem. Sy vrou en dogter gaan ook by die kompetisie betrokke wees. Die aankondiging sal binnekort gemaak word.

Wat beskou jy as die mites oor boekskryf? Soos miljardêrskap?

(’n Gelag.) Baie mense glo dat slegs groot uitgewers hoëgehalteboeke kan lewer, maar dit is nie so nie. Dit is meestal die geval, maar daar is darem ook enkele suksesvolle selfpubliseerders. Maar dan het hulle geld uitgehaal om die manuskripte behoorlik te laat redigeer, proeflees en te verseker dat die uitleg van hoogstaande gehalte is.

’n Groot mite is dat jy sakke vol geld maak. Met die uitsondering van groot skrywers, soos Deon Meyer en John Grisham, wat groot kontrakte kry en wie se werk in flieks omskep word, is dit nie raadsaam om jou gewone agt-tot-vyf-werk te los nie. Baie mense verkeer ook onder die indruk dat as ’n uitgewer jou eerste boek gepubliseer het, die pad vir die res van jou lewe vorentoe oop is.

Party skrywers dink bemarking hang van die uitgewer af. Dit is beslis nie die geval nie. In die meeste gevalle doen die uitgewer bemarking, maar die skrywer moet ook sy kant bring.

Jy skryf graag self en het al besonder goed in AVBOB-digkompetisies gevaar. Is jou hart eerder by die digkuns as by ander genres?

AVBOB het my vir drie van my gedigte betaal. Ek het reeds twee bundels, naamlik Halfgees en Swartwater, geskryf waarvan laasgenoemde die suksesvolste was. Poësie is my groot liefde, maar ek het my hand ook aan my eerste misdaadboek gewaag en as alles goed gaan behoort dit vanjaar te verskyn. Verskeie groot skrywers het positiewe terugvoer op hierdie manuskrip gegee.

Julle woon op n groothoewe en jy wil ook graag met hoenders boer. Boerdery en skryf is darem twee teenpole!

Ja, dit is so. Nes die letterkunde was boerdery nog altyd in my bloed. My ouers boer ook nog. Dit kan lonend wees om met hoenders te boer. Meer hoenders beteken meer boeke!

Hoe ervaar jy die boekwêreld? Die mense?

Dis moeilik en jy kou soms harde bene, maar dit bly fantasties. Jy huil dikwels van moedeloosheid en wil sommer in die Vaalrivier inloop, maar dit bly steeds wonderlik. Dis ’n groot leerskool vir my. Op die ou einde is alles die moeite werd.

Ek het ook al agtergekom dat baie van die groot suksesvolle skrywers die nederigste is. Hier en daar kry jy iemand met ’n groot kop, maar ek was verras. Mense soos Joan Hambidge, Malene Breytenbach en Jeanette Stals, is glad nie hoogmoedig of intimiderend nie. 

Wat beskou jy as die definisie van n goeie boek en waarna kyk jy as jy n manuskrip vir publikasie aanvaar?

As ek ’n boek keur, kyk ek eerstens hoe dit geskryf is. As dit wemel van spelfoute, as kommas, punte en leestekens onnodig uitgelaat is, kyk ek nie verder nie. Die manuskrip moet boeiend wees met baie hoeke en verrassings. En dan moet dit natuurlik ’n goeie storie wees. ’n Mens kan dit nog ’n kans gee as jy ’n klein bietjie daaraan moet werk. As ek onseker oor ’n spesifieke manuskrip is, kry ek ’n vryskutkeurder wat ’n kenner op daardie bepaalde gebied en genre is en vra hul hulp en mening.

Carla van der Spuy se boek, Plaasmoorde- slagoffers vertel self, en die Engelse weergawe, Farm-Murders – victims tell their own stories, word vanjaar deur Minimal Press herdruk . Haar eerste kinderboek, Poppedonsie, verskyn ook later vanjaar by die uitgewery.

  • 11

Kommentaar

  • Zalman, my beste wense en gebede vir jou sukses, nou en in die toekoms. Mag die Heer jou seën met die keur van Sy seëninge! Groete uit Reivilo. 🙏

  • Trots op jou Zalman. Ja, ons is deur baie moeilike tye, maar jy het bo uitgekom. Love, Mom

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top