Draaie, swaaie en afdwaalpaaie. Reisstories saamgestel deur Corlia Fourie en Annelize van Rooyen: ’n resensie

  • 0

Titel: Draaie, swaaie en afdwaalpaaie. Reisstories
Samestellers: Corlia Fourie en Annelize van Rooyen
Uitgewer: Queillerie (2024)
ISBN:
9780795802751

Beplande droomreise wat byna in ’n Survivor-oorlewingsdrama ontaard, romantiek wat in paniek eindig, en knyp-jou-oë-toe-en-bid-of-vloek-selfdoodritte. Alles is nie altyd room en kaviaar vir geesdriftige reisigers met sterre in hul oë nie. Soms het hulle ’n beskermengel nodig wat oortyd werk.

Om 46 skrywers se reisstories te publiseer was ’n goeie bemarkingstrategie.

Dit beteken 36 skrywers se familie en aanhangers is almal potensiële kopers van die boek. Dit verseker ook meer boekbekendstellings landwyd wat darem met minstens een of twee skrywers aangebied kan word. En, die belangrikste, meer blootstelling vir ons skrywers.

Boonop bied die verskeidenheid ’n wye keuse van verhale wat in ’n groot aantal mense se smaak behoort te val. Of hulle nou ’n reis na daardie bestemming toe beplan, of reeds daar voet aan wal gesit het.

Moet dit egter nie as ’n selfhelpboek beskou nie. Daarvoor is die individue se ervarings te persoonlik, en elkeen is uniek.

Die boek bestaan uit verskeie afdelings, soos in die inhoudsopgawe gelys: ’n Bus vol plesier; Hoe sag wieg ons bootjie; So ry die trein; Laat die wiele rol; Vlieg hoog, vlieg ver; Verblyf; Bagasie; Ontmoetings; Onvoorspelbare weer; Bestemmings; Die tale wat ons praat.

Soos die voorwoord lui, is die stories wat in hierdie bundel saamgevat is, snaaks, verrassend en hartseer. Maar dis die diep menslike verhale wat ontroer.

Nie verhale wat soos toerismebrosjures klink en waar bestemmings idillies in die oortreffende trap besing word nie. Dus nie die stories met daardie doodsteek in die skryfkuns, naamlik oormatige byvoeglike naamwoorde, nie.

Maar nou ja, dis seker deels te verstane as die reisiger meegevoer raak.

Hoewel ek bydraes deur skrywers soos Dana Snyman en Erns Grundling mis, is hierdie boek ’n genot.

In die afdeling “’n Bus vol plesier” voel jy jammer vir die arme passasiers wat op die Greyhound in Amerika moet reis. (Ek was self op 18 as uitruilstudent 24 uur lank op een.) Maar as jy nie oor iets kan huil nie, lag jy maar daaroor. Verkieslik agterna.

Marita van der Vyver skryf vermaaklik oor vreemde karakters wat wissel van ’n luidrugtige vrygelate tronkvoël tot ’n Asiatiese toeris wat die uitmergelende reis in sy ontwerpersklere onderneem en met “’n verdwaasde bomskok-uitdrukking” tussen sy medepassasiers uitstaan. En die bedwelmde siel wat in die middel van die nag uit die bus uit in die “stikdonker verlatenheid” langs die pad agtergelaat is. (’n Busbestuurder het heelwat mag. Les: Wees vriendelik en nederig met die man agter die stuurwiel. Net soos die geval met “spietkops” is.)

Irma Joubert pak in Jamaika ’n reis aan in ’n bus wat sy as “’n stukkie geskiedenis”, ’n “museumstuk uit haar jeug” wat aan haar skoolbus uit die vyftigerjare in Nylstroom herinner. Volgens haar man is dit ’n Tweede Wêreldoorlog-trok wat omgebou is. En boonop oorvol, onpadwaardig, met ’n ongelisensieerde “Kamikaze-busdrywer” op ’n lewensgevaarlike bergpas wat langs verskriklike afgronde kronkel. Daarna volg ’n bamboesrit rivier-af met ’n waterval voor. Bid jou aan.

Vir Colleen Naudé het haar droom van ’n Franse kanaalvaart met fynproewermaaltye op ’n maanverligte dek net druipnat chaos geword.

Mens moet seker ’n masochis wees om weer so iets aan te pak.

........
Onder die verhale wat ek die meeste geniet het, was dié wat informeel en toeganklik geskryf is en maklik lees. Verhale wat vir die gewone leser geskryf is en nie noodwendig vir letterkundiges nie. Net lekkerleesstories soos in tydskrifte.
........

Onder die verhale wat ek die meeste geniet het, was dié wat informeel en toeganklik geskryf is en maklik lees. Verhale wat vir die gewone leser geskryf is en nie noodwendig vir letterkundiges nie. Net lekkerleesstories soos in tydskrifte.

Een van die stories wat vir my uitstaan, is die een van die deurwinterde joernalis Martie Retief Meiring getiteld “Ek dink hulle was ’n sportspan”. Sy was in 1966 ’n verslaggewer in Londen toe ’n Oostenrykse kollega haar uit Wene bel en voorstel dat hy haar deursmokkel Hongarye toe – ’n land wat destyds agter die Ystergordyn was.

Tipies joernalis wou sy met die voortvarendheid eie aan die jeug met die Orient Express ry, omdat sy gehoor het dit word deur “skadu-manne” van agter die Ystergordyn gebruik.

Dan volg daar avonture van die soort wat jy in ’n spannende krimi lees. Met die verskil dat dit werklik gebeur het.

Haar slot is treffend en iets wat die leser onkant vang.

Moenie altyd vyfstergerief verwag as jy oorsee reis nie. So vertel Jacques Pauw in “Op Siberië se spoor” dat die huisie waarin hulle vertoef het, snoesig en gerieflik was, al was daar nie ’n badkamer nie. Toe volg die ontnugtering van alle ontnugterings: Die hele plaas waar hulle was, het een puttoilet gebruik.

Van die reise, soos in “Die woestyn” van Lien Botha, raak ’n bietjie eentonig en uitgerek met die rits name van oornagplekke en restaurante. Hoewel sy ’n vaardige skrywer is, herinner dit meer aan ’n dagboekinskrywing eerder as ’n boeiende reisverhaal.

C Johan Bakkes se “Oupa op reis met ’n baba” het jou dik van die lag. Hy trek jou dadelik by die storie in, en al vertel hy altyd dat hy “vir ongerief gebou is”, het hy nooit voorheen die ongemak, chaos, lawaai, eiesinnigheid, vloermoere en rigiede reëlings (die een kleinding moes elke middag vieruur gebad word) rondom reisgenote in doeke beleef nie.

En ek weet dat hy al op die koudste en warmste plekke op aarde was!

En, skryf hy, die kinders se tydige en ontydige doekruilings het nooit met sy rookstoppe gekorreleer nie.

Bakkes vertel graag tydens boekbekendstellings dat hy die mees onbekroonde joernalis in Suid-Afrika is.

Wat daarvan? Hy is een van die gewildstes.

Sophia Kapp wat so hartlik met haarself as ouerwordende enkelloper die draak steek, beleef postmiddeljarige angst omdat dit aanvanklik lyk asof sy een Kersfees dalk stoksielalleen gaan wees en “baked beans met ’n vurk uit ’n blik gaan eet”.

Dis geen wonder dat veral vroue haar boeke verslind nie.

Dit werk veel beter vir ’n leser as ’n greep uit ’n reis geneem word eerder as die afrits van ’n lys name van katedrale en museums waaroor jy blitsig op die internet kan oplees.

So hou mens saam met Elma Potgieter asem op in haar verhaal, “’n Smokkelstorie”, waarin sy nogal waaghalsig is.

Verblyf kan ook ’n reis maak of breek, veral soos Carina Stander in “Slaapplekke met ’n siel” vertel. Lees gerus haar storie twee keer voor jy jou dogter se verblyf oorsee bespreek. Sy het al haar hoof skelm neergelê in ’n jeughostel se kombuis, in ’n derderangse hotelletjie wat as bordeel bedryf is, in ’n modderhut in Zimbabwe en in ’n perdestal in Grahamstad.

Mens lees ook lekker aan Zelda Bezuidenhout se “Die mag van ’n rosyntjie”. Sy het haar lewe lank van die “bedwelmende chaos” van New York gedroom, aangevuur deur flieks soos Working girls en Big fish. Hier ontmoet sy bekendes in die vermaaklikheidswêreld wat spaghetti net so morsig soos ander eet, en ’n yslike man van Texas, met wie sy 27 jaar lank tot sy dood vriende was.

Vir sulke ervarings moet jy net uitreik en saam kan lag. En dit doen sy met oorgawe.

Daar is stories wat in flieks omskep kan word, soos Carié Maas se “Toe, soos in Timboektoe”, waarin sy met slenters gevang word en in ’n stadium vrees dat sy ontvoer word.

Moeder Natuur speel nie altyd met reisigers se planne saam nie. Wees voorbereid op onbekende weertoestande. Die snerpende koue in Rusland (–26 om presies te wees) dryf PP Fourie, ’n geheelonthouer, na vodka.

En in “Hoogmis op Paternoster” wonder jy of Mariëtte Crawford dalk ’n gespook beleef het.

Die ongeneeslik avontuurlustige Marion Erskine se “Gestrand in ’n Pakistanse paradys” vertel hoe mededeelsaam die armstes onder die armes teenoor hom, ’n nie-Moslem, is. Sy respek teenoor die plaaslike mense saam met wie hy ’n gevaarlike nagmerrierit tydens Ramadan aangepak het, en hom uit respek vir hulle ook van water weerhou het, en boonop op televisie beter geriewe vir sy nuwe vriende bepleit het, is sekerlik te danke aan sy vriendelike persoonlikheid en aanpassingsvermoë.    

........
Dit bly die toevallige en terloopse ontmoetings met vreemdelinge wat daardie warm menslike gevoel aan verhale gee.
........

Joan Kruger se “Kakamas>*<Parys>*<Pofadder” bevat die lekkerste en oortuigendste dialoog wanneer sy saam met haar 80-jarige ma Europa besoek.

Joan se goeie bedoelings om die organiseerders in te lig dat haar ma oud is wanneer dinge begin skeefloop, lei tot skreeusnaakse voorvalle as haar ma luidkeels protesteer wanneer sy in rolstoele ingeboender word.

En dan is daar daardie oomblik as jy ’n mede-Suid-Afrikaner raakloop en skoon bewoë raak.

Wat tale betref, is daar soms ’n te verwagte Babelse verwarring, soos wat Erika Theron-Murray in “Die tale wat ons praat” skryf. So word die temperatuur met goeie bedoelings snikwarm in hul hotelkamer in Oostenryk gestel, want hulle kom mos van warm Afrika af.

Jy lees van die goedheid van die mens. Diegene wat nog vertroue in hul medemens het. Soos die eienaars van ’n hotel wat vir die naweek weg is en vir die gaste ’n briefie los met hoeveel wat kos en waar hulle alles kan kry en kan betaal. Met geen sterfling in sig nie. Mens lees ook van diegene wat geen taal gemeen het nie, maar met handgebare en glimlagte ’n hond uit ’n bos kuier.

Ja, daar is oral knorrige mense en daar is oral goeie mense.

Mense het dit al oorgekom dat verlore bagasie halfpad om die wêreld reis voordat dit uiteindelik by jou uitkom, en dat hul droomhotelkamer vuil en vol kokkerotte is.

Dit sorg natuurlik vir lekker stories agterna. Maar dit bly die toevallige en terloopse ontmoetings met vreemdelinge wat daardie warm menslike gevoel aan verhale gee.

Wyle Jim Reeves het immers gesing: “A stranger is just a friend you do not know.”

Of jou reiservaring rampspoedig of ’n sprokie was, liasseer mens dit maar net onder “O” vir “Ondervinding”.

Daar is mos ’n gesegde wat lui dat niks wat met ’n skrywer gebeur (baie van die mense wat bydraes gelewer het, is bekende skrywers en joernaliste), ooit vergeefs is nie.

Lees ook:

FMR-resensies: Die binneland in deur Dana Snyman en Hierdie land, ’n bundel deur verskeie skrywers

Swerfjaar: Leef om die storie te vertel

Hier gaat ons! Reise en rampe deur Gerard Scholtz: ’n resensie

"My lewe in Oesbekistan": Oor tandartsbesoeke, begraafplase, woonstelpret, ryloop en spoeg

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top