Hier gaat ons! Reise en rampe deur Gerard Scholtz: ’n resensie

  • 2

Hier gaat ons! Reise en rampe
Gerard Scholtz
Uitgewer: Hemel & See Boeke
ISBN: 9781928283249

Die boek se agterblad vertel: “Op 40 voel Gerard Scholtz onfiks, vet en verveeld. Hy koop ’n tweedehandse fiets en trap saam met sy vrou Anuta die Argus tot hulle gereed is om verder te reis. Van St Petersburg tot Moskou; die lengte en breedte van Frankryk; oor die Alpe, oor die groot riviere van Europa, Ierland en Wallis reis hulle. Later is dit twee skoeters waarmee hulle elke jaar tot 10 000 kilometer deur Europa aflê. Hulle reis ook per trein, per motor, boot en soms te voet.

“In hierdie bundel spreek Gerard se vertellings van sy kennis en liefde vir geskiedenis, kuns, musiek, letterkunde … Hy word veel meer as net reisiger en verteller. Gerard neem die leser ook ’n op metafisiese avontuur …”

Die boek was een van die boekpryswenners vir die beste verkope in die leefstylkategorie by die US Woordfees op Stellenbosch.

Ek blaai natuurlik heel eerste na die middel, waar al die foto’s wag. ’n Hele 32 bladsye veelkleurige foto’s waarop Gerard en Anuta lag, soms doodmoeg, soms platsak en soms moedeloos is, maar altyd aan’t ontdek, ontgin en groei. Ek val weg met die kort aanhef waarin hy skryf: “Ek is ’n deurmekaar, maar verbete dokumenteerder. Skryf alles neer, hou dagboek, skryf briewe, maak lysies en neem foto’s.”

Hy skryf verder dat hy by elke storie ’n kaart wou hê, omdat kaarte so ’n belangrike onderdeel van reis is, en hy het toe die kaarte self geteken. Daar is klein notas op oor waar hulle gehuil het; verdwaal het; in ’n hotel op ’n mooi plein gebly het; ’n jongman van Rooiels ontmoet het; hoe mooi die lenteweer was.

Sy vertellinge is soos ’n loom wintersmiddag in die sonnetjie: Jy weet jy moet opstaan en iets nuttig gaan doen, maar jy sit dan nou so lekker. Sy stories laat jou nog ’n bietjie wil sit; nog bietjie wil ervaar saam met hulle.

Dis egter daardie kantaantekeninge op sy selfgetekende kaarte waarin die prag van onthou vir my lê. Dis die goed wat mens so gou vergeet, maar wat op daardie oomblik in ’n verre land die verskil tussen lekker en sleg kuier is. Ek is dankbaar Gerard is ’n “deurmekaar, maar verbete dokumenteerder”, want daarin lê die pure genot van die boek vir my.

Ek het saam met hom gevoel toe hy by sy skooltjie waar hy ’n haasbek seuntjie was aankom en spyt is dat hy nie daardie herinneringe in die verlede gelos het nie; ek het gelag dat die trane loop vir hul ervaring op Moskou se lughawe en vier lange ure in ’n horingoue Topolev moet staan en vlieg. Ek knik half ingedagte instemmend vir myself in die nanagure, met net sy woorde en die bedliggie as getuies, toe hy vertel van hul ontmoeting met Estelle du Toit en Johan Adler in Tessalonika en hy agterna mymer: “Weer word hierdie skitterende reis na Olimpus nie net die aankoms by die eindbestemming nie, nie net die ontmoeting met Zeus nie. Maar dit gaan oor die ondervindings en terloopse ontmoetings tydens die reis: lig wat vir ’n oomblik deur blare skyn, ’n priester in swart wat vinnig agter ’n deur verdwyn, ’n skepbeker by ’n fontein, ’n marmerbeeld se weerkaatsing in water … En ons is ryker met alles wat ons langs die pad versamel het.”

Ek moet met Madri Victor saamstem, wie se opmerking ook op die skutblad vertoon word, wanneer sy sê: “Dié reisindrukke word oordenkings oor menswees.”

Want al voel dit aan die einde van die boek asof jy vir Gerard en Anuta persoonlik ken, voel dit ook asof jy jouself beter verstaan, omdat jy met elke verhaal jou eie reisverhale opdiep. Die beskrywings van beelde en straatjies en velde en kosmarkte, ook só deel van jou herinneringe, dat jy weer opnuut besef hoeveel ryker jy is omdat jy reis en groei en ontdek.

Hierdie is ’n lekker boek om in een sit te lees; maar die stories is so lekker pittig geskryf dat jy ook net af en toe een of twee verhaaltjies kan lees vir verryking.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top