"My lewe in Oesbekistan": Oor tandartsbesoeke, begraafplase, woonstelpret, ryloop en spoeg

  • 5

Prent (links): https://pixabay.com/photos/bibi-xanom-mosque-samarkand-196898/; foto van Emile Minnie (regs): verskaf

Emile Minnie is ’n Suid-Afrikaanse musikant wat in Oesbekistan woon. Hy skryf al ’n geruime tyd op Facebook oor sy ervarings in dié land.  Die bydraes het onder die LitNet-redaksie se aandag gekom en hy is versoek om daarop uit te brei. Hier onder verskyn die eerste van ’n reeks Elders gesien-bydraes uit Emile se pen.


Hier is die eerste reeks Elders gesien-inskrywings, wat verlede week verskyn het:

"My lewe in Oesbekistan": Medeklinkers vir Afrika, moltreine, ’n vrat en gebaretaal onder die water

Hier is die volgende aflewerings uit Emile se pen:

  1. Vleis

’n Vleisie op sy tyd is ’n lekker ding. Ek het grootgeword met braaivleis op Saterdagaande en mense wat lag, gesels en brier drink. Die geur van braaivleis laat my verlang na my familie, braaibroodjies, sosaties en liefde.

...........
’n Vleisie op sy tyd is ’n lekker ding. Ek het grootgeword met braaivleis op Saterdagaande en mense wat lag, gesels en brier drink. Die geur van braaivleis laat my verlang na my familie, braaibroodjies, sosaties en liefde.
............

Die prentjie in Oesbekistan lyk ’n bietjie anders as in Suid-Afrika. Hier geniet die mense ’n perdevleisie. Jy lees korrek, liewe leser. Black Beauty se nasate beland hier op die etenstafel. Vleis in hierdie land is letterlik ’n perd van ’n ander kleur. Hoender, skaap, bok en bees is wel op die spyskaart, maar saam met die gekraai, geblêr en geloei, hoor jy ook die gerunnik van die Black Stallion.

My heel eerste kennismaking met hierdie fenomeen was een oggend by die blikkieskos-afdeling van die plaaslike koswinkel. Wat maak ’n perd op hierdie blikkie? het ek gewonder. En toe daal die werklikheid op my neer in al haar galoppende glorie. My ontbyt het dik geword in my keel, en ek moes inderhaas by die wasgoedafdeling aan die Stasoft gaan snuif om my te help kalmeer.

Een aand tydens een of ander nasionale opskop daag my Oesbekiese vriende Atgam en Diyor by my huis op met groot bakke kos en vrolikheid. Die eerste dis wat hulle met groot entoesiasme voor my neersit, is ’n bord vleis wat gemaal is saam met stringe deeg. Dit lyk soos deeg-en-vleis-spaghetti. Dit ruik nie soos enigiets wat ek al ooit geëet het nie. My sesde sintuig skop in en ek weet voor my heilige siel daar lê nie bees op my bord nie. Nou is ek in ’n penarie. As ek nie eet nie, gaan my vriende hoogs in die gesig gevat voel. Maar hoe kry ek ’n stuk perd oor my lippe? Ek besluit toe om deur te druk. Ek neem ’n beleefde happie en kou met ’n valse glimlag terwyl ek sê hoe lekker dit is. En toe gebeur daar ’n vreemde ding: My smaakknoppies spring soos een man op en klap hande. Ek vat nog ’n hap. My smaakknoppies pass uit van plesier. My valse glimlag is weg, en ek eet met mag en mening aan hierdie vreemde dis. Dit proe hemels. Binne ’n japtrap is alles silwerskoon, behalwe my gewete. Hoe kón ek? gil my gewete. Hoe kon ek nié? gil my smaakknoppies. En daar bevind ek my in die niemandsland tussen skuld en plesier.

Wanneer daai deeg-en-vleis-spaghetti nou verbykom, is ek die een wat watertand staan en wik en weeg, verlangend na die eenvoud van ’n gebraaide vleisie saam met my geliefdes op ’n Saterdagaand.

  1. Boks

Ek loop nog altyd ’n wye draai om ’n boksgeveg. Die naaste wat ek al aan ’n geveg gekom het, was om die woorde van die liedjie “Eye of the tiger” vir ’n 80’s-partytjie te leer.

Maar Oesbekistan doen vreemde dinge aan ’n mens. Toe die geleentheid hom voordoen om ’n professionele geveg te sien, is ek voor in die koor. Ek dink dit het te doen met die feit dat die meeste mense hier so beheersd en uitdrukkingloos deur die lewe gaan. In my verbeelding het ek gesien hoe die skares hulleself verloor in hulle toewyding aan die bokssterre. Ek het spoeg en sweet sien spat, kledingstukke deur die lug sien trek, en histeriese geluide gehoor wat gemaak is deur elke denkbare menslike orgaan en kanaal wat ’n klank kan maak. Ek het in my verbeelding gesien hoe gee blinkgesmeerde, lenige meisies in goue bikini’s en hoë hakke selfversekerde treë wanneer hulle die ronde-nommers in die bokskryt omhoog hou. Ek het die testosteroonvlakke voel styg in en om my, en dit alles nog vóór die vegters die kryt betree het.

Maar, helaas.

Die beligting was indrukwekkend. Die klank kristalhelder. Die seremoniemeester stylvol in sy pak klere. Maar nie ’n druppel spoeg of ’n enkele kledingstuk het deur die lug getrek nie; niemand het histeries gegil nie; die meisie wat die rondes aangekondig het, was kuis in haar knielengte romp en sneeuwit tekkies; die vlakke van testosteroon was laer as by ’n ma-en-dogter-tee in Vrede se kerksaal.

Druipstert is ek huis toe. En heelpad terug het ek geloop en neurie: “It’s the eye of the tiger ...,” beheersd en uitdrukkingloos, soos dit my in hierdie land betaam.

  1. Hande

Om vir die ander span te speel, is onwettig in Oesbekistan. ’n Mens gaan tronk toe as jy gevang word met jou hand in die verbode koekblik. Die algemene opinie is dat dit glad nie hier bestaan nie, en dat 100% van die bevolking so rein is soos die hemelse sneeu. My oë rol spontaan.

..........
Om vir die ander span te speel, is onwettig in Oesbekistan. ’n Mens gaan tronk toe as jy gevang word met jou hand in die verbode koekblik. Die algemene opinie is dat dit glad nie hier bestaan nie, en dat 100% van die bevolking so rein is soos die hemelse sneeu. My oë rol spontaan.
............

Gister is ek op ’n stampvol moltrein. Almal is tjoepstil en grootoog agter hulle maskers. Al wat jy hoor is die geklak-klak van die wiele op die spore. Voor my staan ’n jong man. Hy hou vas aan ’n ysterpyp wat van die dak na die vloer loop. Net nog ’n mens in ’n see van mense. Dan raak ek bewus van nóg ’n hand op die ysterpyp. Die tweede hand behoort aan nog ’n jong man wat langs my staan. En soos die trein ruk en wieg, begin die twee hande al hoe nader aan mekaar beweeg. Bietjie vir bietjie, stadig maar seker. Ek dink eers ek verbeel my, en ek kyk weg, maar wanneer ek weer kyk het een se pinkie onder die ander se duim verdwyn. En daar bly hulle. Twee hande wat mekaar gevind het.

Ek is verstom. Kan dit wees? Die eienaars van die hande kyk nie vir mekaar nie. Is hulle onbewus van hulle vingers se sensuele dans? Of aanskou ek ’n moedswillige, tere, onwettige liefkosing, reg onder almal se gemaskerde neuse? Ken hierdie twee mense mekaar? Vind hulle hande mekaar daagliks op hierdie trein, om mekaar net vir ’n oomblik in die geheim te bemin? Of is hierdie die Oesbekiese ekwivalent van ’n one-night stand?

Die trein kom rukkend tot stilstand, die deure gly oop, en albei hande verdwyn in ’n maalkolk van moue. As treine kon praat, sou hulle vannag staan en gons oor die twee hande wat so geheimsinnig, en tog so skaamteloos, baljaar in die verbode koekblik.

  1. Begraafplaas

Ek geniet dit om so nou en dan ’n begraafplaas te besoek. Ek hou van die rustigheid, en die finaliteit van die datums op die grafstene herinner my altyd daaraan dat ook mý lewe’n begin en ’n einde het.

Oesbekistan is ’n Moslem-land, maar hier en daar staan daar nog ’n Russies-Ortodokse Kerk – ’n oorblyfsel van toe die Russe nog hier koning gekraai het. Een oggend vat ek die pad na die St Alexander Nevsky-kerk. Die kerkgebou is ’n vaal blou in die warm son. Ek gaan in. Teen die mure verwag ek dramatiese skilderye en glinsterende beelde, maar daar is net ’n ingedagte priester wat my ’n halwe kyk gee, en voortgaan om die banke af te stof. Die skilderye teen die mure lyk soos ’n laerskoolkunsprojek.

Ek stap uit en gaan wandel tussen die grafte deur. Die meeste grafte is verwaarloos. Omtrent almal het ’n bankie en ’n tafeltjie langs die graf. Asof die dooies jou nooi om jou kosmandjie te bring en by hulle te kom piekniek hou.

By een graf staan ’n deftige kar. ’n Statige ouer dame gee bevele aan ’n jong vrou wat op haar knieë besig is om ’n graf te was. ’n Skoonma en haar skoondogter. In hierdie kultuur trek die skoondogter by die skoonouers in ná die troue, en sy moet dan dans na skoonma se pype. Selfs grafte was.

Ek stap aan en gaan sit by een van die grafte se piekniektafeltjies. Die son is warm op my vel. Ek maak my oë toe, en ek dagdroom van die see. Met die tyd wat ek nog oorhet, gaan ek beslis weer in die see swem. Maar tot dan is die vaal blou van ’n Russiese kerk my enigste oseaan.

  1. Woonstelpret

Ek het my dam se eende gevind.

Een Vrydagaand word ek uitgenooi na ’n bordspeletjies-aand by iemand se woonstel. Ek was effe pap ná die week se werk, maar ek besluit om tóg te gaan. Net vir ’n rukkie. Daar aangekom is almal bietjie vreemd en ongemaklik, die gesprekke draai om werk en herkoms, en ek beplan om bitter vinnig huis toe te gaan en ’n fliek te kyk. Maar geleidelik begin almal ontspan, daar word al hoe meer gelag, en toe ek weer sien, is dit al middernag.

...........
Een Vrydagaand word ek uitgenooi na ’n bordspeletjies-aand by iemand se woonstel. Ek was effe pap ná die week se werk, maar ek besluit om tóg te gaan. Net vir ’n rukkie. Daar aangekom is almal bietjie vreemd en ongemaklik, die gesprekke draai om werk en herkoms, en ek beplan om bitter vinnig huis toe te gaan en ’n fliek te kyk. Maar geleidelik begin almal ontspan, daar word al hoe meer gelag, en toe ek weer sien, is dit al middernag.
..............

Skielik gil die voorbok: Kom ons hou ’n danskompetisie! Dadelik word die skoene uitgeskop en ons maak ’n sirkel rondom die deelnemers. Twee manne, ’n lang een en ’n vet een, haal Oosterse danspassies uit. Die vettetjie wen die tweegeveg. Dis mý beurt. Ek spring in en skud blad met my teenstander. Skielik daal Afrika op my neer, en ek begin ’n rieldans doen soos nog nooit vantevore nie. My bene doen wilde skoppe, my boude swaai vanself, en my arms skud soos twee rinkhalse wat paar. Ná maande se beheersd en beleef wees, het Afrika besluit: Dis nou genoeg. Ek laat wáái nou. Die mense om my voel die opwinding, en almal klap saam hande en fluit wolwefluite.

Ek word as die danskampioen van die aand verklaar, en ek sak pootuit en natgesweet op ’n rusbank neer, dankbaar en verlig dat ek uiteindelik hierdie lawwe klomp eende gevind het.

  1. Skoonmaker

Elke klas in my skool het ’n skoonmaker. Myne is ’n stil vrou met goue tande. Op dag een, toe ek buk om ’n papiertjie op te tel, verskyn sy uit nêrens en keer my met groot gebare. Dis háár werk, kom ek agter, en ek moenie inmeng met haar portefeulje nie.

Maar die vrou laat my ongemaklik voel. Heeltyd loop sy verby my klaskamer met ’n emmer of ’n mop en glimlag skalks vir my. Ons klaskamers het glasmure, so die glimlag is nie ’n vinnige een nie. Dit begin by een hoek van die klas en eindig eers vele goue flitse en benoude oomblikke later by die volgende hoek. Tydig en ontydig is sy in my klas met ’n lap of ’n besem, aan’t vryf, vee en goue tande wys. Die skoonmaakobsessie bereik nuwe hoogtes wanneer sy my bord afvee. Die lap word stadig en sensueel oor die bord gevryf terwyl sy nou en dan liggies kreun en haar boude stadig swaai. My lessenaar loop die heel ergste deur. Vorentoe leun sy, ’n lap in elke hand, en dan bewerk sy daai lessenaar dat selfs die laaie begin sweet afvee. Ek is later so benoud wanneer sy kom skoonmaak, ek maak myself dadelik uit die voete.

Dan is daar die jaloesie. Enige vroulike kollega wat my kom sien, word aangegluur met flitsende dolke vir oë. Later kom niemand meer na my klas toe nie, want Gouetand Medusa maak hulle te gespanne.

Nou werk ek daagliks onder haar wakende oog. Sy sorg vir ’n superblink vloer en (sluk) lessenaar. Ek werk in stilte in my glaspaleis, en Medusa maak seker geen stofkorrel of vrou kom ooit naby my nie.

  1. Tennis

My pa is mal oor tennis. Kyk én speel. As kinders het ons goed geweet van McEnroe se tantrums en Chris Evert-Lloyd se skoonheid. Op skool het ek dag en nag klavier gespeel, so sport het maar taamlik aan die kort ent getrek. Op 49 besluit ek dis tyd vir tennis om ’n comeback te maak, en ek skryf in vir lesse by Alexander. Sasha vir short.

Sasha is 21, lank van gestalte en brandmaer. Ons lesse is formeel en saaklik. Ek moet leer om die bal te spin, en Sasha wys week na week vir my hoe die bal teen die raket moet draai. Ek oefen vir ure ná werk teen die muur by die tennisklub. Vele balle verdwyn oor die muur en word nooit weer gesien nie. Elke Saterdag is ek stiptelik om 09:00 op die baan saam met Sasha, elke keer wys hy vir my die spin-aksie, en elke keer spin alles behalwe die bal. Ek is later mal van frustrasie. Die stomme Sasha bly week na week kalm, en toe begin daai masker ook te glip. Hy gooi sy hande in die lug ná elke mislukte poging. Sy skouers sak dramaties elke keer wat my houe windskeef deur die lug trek. Op die ou einde besluit ek genoeg is genoeg. Ek koop vir Sasha ’n chocolate, bedank hom vir al sy geduld, en staak my lesse, asook enige drome van sierlike houe wat oor die net trek. Sasha lyk of hy nie kan besluit of hy wil lag of huil nie. Ek dink die oomblik is te groot vir hom.

’n Paar weke later nooi Amal my vir ’n vriendelike potjie tennis. Ek besluit om dit ’n kans te gee. Ons is al twee redelik wankelrig op die baan, maar vir die eerste keer geniet ek dit. Ons lag vir skewe houe en wens mekaar geluk as ’n bal dit deur die genade oor die net maak. Ons maak ’n afspraak om mekaar elke Saterdag vir ’n vriendelike potjie te kry. Ek bel my pa en sê vir hom ek is nou ’n sosiale tennisspeler. My pa sê hy is baie trots op my. Wanneer ek eendag weer terug is in Suid-Afrika, gaan speel ons twee beslis ’n potjie.

...........
Ek bel my pa en sê vir hom ek is nou ’n sosiale tennisspeler. My pa sê hy is baie trots op my. Wanneer ek eendag weer terug is in Suid-Afrika, gaan speel ons twee beslis ’n potjie.
.............
  1. Ek, die gas

My vriend Shamil nooi my een aand saam na ’n ete aan huis van ’n welgestelde familie. Ons daag op by ’n kasarm van ’n huis. Alles wat kan blink, skitter asof dit hulle laaste kans is. Selfs die buitegeboue rondom die huis het kandelabers. Liberace sou homself natgepiepie het van opwinding oor al die bling.

By die ingang word ons ingewag deur ’n man met ’n skottel water. Almal kry kans om hulle hande te was, en elkeen kry ’n persoonlike handdoekie vir die afdroogslag. Hierdie gasheer ken sy storie. Ek kom agter daar is nie ’n enkele vrou in sig nie. Al die werkers en gaste is mans. Shamil sê dis ’n kultuurding. Ek laat dit daar.

Die huis is gebou rondom ’n massiewe binneplein. Ek verwag om enige oomblik ’n standbeeld of ’n monument te gewaar. Maar daar is net rye op rye tafels, elke tafel keurig gedek met watertandlekker peuselhappies: neute, heuning, vrugte, tertjies en koekies. Alles om die honger te stil voor die hoofgereg bedien word.

Ek wil nog hap aan ’n aanloklike tertjie, toe spring almal op en beweeg soos een man in die huis in. “Tyd om te bid,” sê Shamil. “Doen net wat ek doen.” Ek wil nog protesteer, maar die stroom sleep my saam. Die volgende oomblik staan ek in ’n ry saam met omtrent ’n honderd mans, en ek probeer hulle bewegings volg. Maar ek sukkel. Ek voel soos die nuweling in ’n aerobics-klas wat heel agter staan en hoop niemand sien hom raak nie. Ek verwag enige oomblik iemand gaan oor ’n megafoon gil: “Sal die fake Moslem dadelik die gebou verlaat!” Ek wonder wat hulle doen met nuuskierige agies soos ek. Is doodgooi met klippe nog op die kaarte?

Ná ’n ewigheid is die biddery verby, en ek en Shamil sit weer by ons tafel. Die enkele tertjie lyk hartseer op my bord. Die hoofgereg verskyn. Dis sagte lamsvleis met rys. Ongelooflik lekker. Daar is een groot bord vir elke twee gaste, so almal sit twee-twee en eet om ’n bord. Heel gesellig.

Die hoofgereg is skaars in, of daar daal ’n stilte oor die gaste neer. ’n Bewerige stemmetjie weerklink oor ’n mikrofoon. Nóg ’n gebed. Die temery hou vir dertig minute aan. Almal sit en staar vir hulle hande. Dit voel soos kerk wanneer mens ’n kind is. Jy verstaan nie ’n woord nie, maar jy weet jy moet stilsit. Uiteindelik sterf die stemmetjie weg met ’n laaste geprewel. Almal spring weer op. Hierdie keer maak hulle ’n beeline vir die uitgang. In ’n oogwink is al die tafels verlate. Ek en Shamil is die enigstes wat agterbly. “Wat gaan aan?” vra ek. “Hoekom storm almal huis toe?” Shamil trek sy skouers op. “Dis ’n kultuurding,” sê hy, en skielik mis ek die uitbundigheid van my kultuur, die spontane lag, die laatnagkuiers, die grappe, die gesels, die gemaklike stiltes. Vergeet die kandelabers en die swier, gee my eerder die eenvoud van ’n goeie kuier saam met ou, geliefde vriende.

  1. Tandarts

Dis onvermydelik: Op een of ander stadium moet ’n mens by ’n tandarts uitkom, of jy nou in Tietiesbaai of Timboektoe bly. In Suid-Afrika was my tandarts Emma – ’n sagte mens met helderblou oë. Emma het my altyd laat kies tussen vyf geure wanneer sy my tande gepoleer het. Min het ek geweet hoe baie ek eendag vir Emma sou mis.

Hier in Oesbekistan het baie mense goue tande. Om dit te vermy, oefen ek om in Russies te sê: “Geen goud nie, asseblief.” Hier het almal ook ’n heilige respek en bewondering vir als wat Koreaans is. Ek verstaan nie die groot bohaai nie, maar net om veilig te speel, kies ek ’n praktyk met ’n Koreaanse naam vir my eerste tandartsbesoek. Ek klim op my fiets en ek vat die pad.

Met die intrapslag sien ek die Koreaanse invloed stop by die naam. Die res is alles pure Oesbekies. Groot tannies in los rokke en kopdoeke sit soos vreedsame sardyne in ’n ry op ’n dun bankie. Die TV blêr in Oesbekies. Die jong ontvangsdametjie sit agter ’n deurskynende Perspex-toonbank en doen haar naels. Ek maak ’n afspraak. Sy bekyk my van kop tot toon, glimlag stout, en skryf my details in ’n boek. Ek moet ’n paar minute wag, sê sy speels. Ek gaan sit langs een van die sardyntannies. Die ontvangsdame hou aan om vir my te loer en te glimlag deur haar deurskynende toonbank, terwyl sy ritmies haar naels vyl. Ek glimlag flou terug.

Die tandarts verskyn om ’n hoek. Hy sê my naam, en ek volg hom na sy spreekkamer toe. Ek verduidelik ek is daar vir ’n check-up, en hy beduie ek moet op die tandartsstoel gaan sit. Ek gaan sit, die stoel sak terug, en ek maak my mond oop vir die ondersoek.

Skielik is daar ’n meisie met ’n groen lap langs my. Sy draai daai lap soos ’n bulvegter, en die volgende oomblik verdwyn my hele gesig onder die lap. Dis pikswart om my. Net my mond steek uit. Ek wonder hoe lyk hierdie affêre nou van bo af: ’n groen lap met tande? Dan begin daai tandarts vir my te bewerk. In stilte. Dit krap en spuit en spoel en suig vir ’n vale. My mond proe soos ’n meubelwinkel, en my bene klim oor mekaar soos ek gril. In die donkerte kom ek agter al twee my hande is besig om my tottie stywer en stywer vas te druk van benoudheid. Net wanneer ek voel ek ruk nou hierdie lap van my gesig af, is die foltering verby. Die meisie lig die lap van my gesig af en gee vir my iets om die meubelwinkel-smaak mee weg te spoel. Dit werk nie.

“Kom terug oor ses maande” sê die tandarts saaklik, en begelei my tot by die ontvangsdame. Haar naels is seker almal gebreek, want sy vyl nog steeds. Met dieselfde stoute glimlag vat sy my geld en sê totsiens. Ek stap uit, klim op my fiets en ry huis toe. En heelpad terug bly dink ek aan Emma met haar sagte blou oë en haar vyf geure.

  1. Minas en Mielas

’n Paar weke terug vang my oog ’n advertensie vir ’n musiekoptrede by ’n hotel. Elektro-musiek en ’n teeseremonie deur ene Minas Connect. Interessant, dag ek, en ek besluit om te gaan.

By die hotel aangekom is ek die eerste een in die gehoor. Die verhoog is gedrapeer in Oosterse lappe, en iemand maak tee in ’n hoek. Soos die mense begin aankom, bevind ek my al hoe meer aan die wierookbelaaide, alternatiewe kant van die tagtigerjare: kleurvolle “tie-dye”-hemde met bypassende sweetbande om die kop, sandale, gebleikte jeans, baarde en lang hare. Dit voel soos Groentemarkplein in Kaapstad, jare gelede, en dis ’n lafenis vir die oog ná al die somber uitrustings wat mens gewoonlik hier op straat sien.

Dan verskyn Minas op die verhoog. Hy lyk soos ’n hippie-apostel in sy kleurvolle, gestreepte, vloeiende katoenklere. Hy kyk my vol in die oë en glimlag vir my. ’n Warm, opregte glimlag. Ek kry trane in my oë. Dis die eerste keer in ’n baie lang tyd dat ’n bietjie menslike warmte na my rigting kom. En net daar, nog voor ek sy musiek gehoor het, weet ek dat ek en Minas ’n pad gaan stap.

Hy neem stelling in agter ’n rekenaar en klankbord, en begin eksotiese ritmes en klanke optower. Dit voel of ek in ’n Arabiese tent in die Sahara sit. Iemand bring vir my geurige tee. Mense begin spontaan dans op die polsende ritmes. Op ’n tafel pak ’n meisie gekleurde hopies sout uit en nooi mense om met hulle vingers patrone in die sout te trek. Die atmosfeer is speels en vrolik. Inhibisies verdwyn soos meer en meer mense begin dans op die ritme van Minas se musiek. Dan verskyn ’n fluitspeler op die verhoog. Hy begin om Oosterse klanke en melodieë op te tower. Die musiek maak kleure en gevoelens binne my wakker. Ek wil deel wees van hierdie towerkrag. Ek wil saam skep aan hierdie klank-oase ...

Te gou sterf die musiek weg. Ek sweef half eufories verhoog toe soos een wie se kat eerste prys gewen het by ’n katteskou. Ek skud Minas se hand en sê in my beste Russies dankie. Hy vat my hand in al twee syne, en glimlag weer vir my.

Daai aand kry ek Minas se nommer in die hande. Ek stuur vir hom ’n boodskap en sê vir hom ek speel klavier, en kan ek saam met hom musiek maak? Hy sê ja. Nou speel Minas sy “beats”, en ek speel my klavier. En saam skep ons nuwe wêrelde van klank en kleur. My hart is vol.

  1. Ryloop en spoeg

Daar is twee verskynsels in Oesbekistan wat my verbyster. Die eerste een is hoe maklik mense hier ryloop. Enige tyd van die dag of nag, of jy nou ’n growwe beer van ’n man of ’n tingerige meisie is, kan jy langs die pad gaan staan en jou hand uitsteek, en sowaar as vet, iemand sal stop en jou oplaai.

Ek wou natuurlik dadelik self kyk of ek óók opgelaai gaan word. Een oggend gaan staan ek kordaat in die straat en steek my duim uit. Maar niemand stop nie. Nie ’n siel nie. Gou-gou sou ek leer dat die duim geen rol speel in ’n Oesbekiese duimry-scenario nie. Jy steek jou hand elegant uit, soos die koningin van Engeland, asof jy wag vir ’n soen op die hand. Toe ek nou eers my hand-aksie reg het, word ek links en regs opgelaai deur mans en vrouens, jonk en oud. Ongelooflik hoe die mense mekaar hier vertrou, en hoedat vertroue eintlik so natuurlik en normaal is.

Die ander verskynsel is ’n bietjie vreemder: In hierdie land spoeg die mans. Nie die vrouens nie, net die mans. ’n Man sal in sy kar sit by ’n rooi verkeerslig, skielik die deur oopmaak, uitleun en doodluiters ’n ghwel op die teer deponeer. Elke keer wanneer dit gebeur, moet ek my inhou, of ek sal die man net daar en dan die leviete voorlees oor openbare sindelikheid. Nou rol ek net my oë en gil “sies!” in Afrikaans wanneer ’n Oesbekiese spoegbal deur die lug trek. Hopelik kry iemand die boodskap.

.........
Nou wonder ek: Watter van mý gewoontes verstom of verbyster die Oesbeke? Doen ék dalk iets wat die Oesbeke tot in hulle murg laat gril? Ek sal maar op die uitkyk wees vir ’n oog wat rol of ’n gil wat gril, maar so far, so good.
...........

Nou wonder ek: Watter van mý gewoontes verstom of verbyster die Oesbeke? Doen ék dalk iets wat die Oesbeke tot in hulle murg laat gril? Ek sal maar op die uitkyk wees vir ’n oog wat rol of ’n gil wat gril, maar so far, so good.

 

  • 5

Kommentaar

  • Jo-Ann Watson

    Ek geniet jou skrywe oor al die verskillende fasette, leefstyl en gewoontes daar in die vreemde Oesbekistan so baie, dankie! Bewonder jou ook om so ver weg van alles bekend en bemind 'n nuwe bestaan te voer.

  • Carin Foce (Lombard)

    Jou skrywe is vir my wonderlike herinnering van ons gesin se 18-maande-verblyf in Moskou. Alles wat jy noem, werk ook so in Moskou! Praat van verkeerde gewoontes: Moet nooit ‘n nuwe baba optel en vertroetel nie - die Russe kry die aapstuipe want jy breek een of ander towerspel wat vir die eerste 3 maande baie belangrik is en jy’t kieme! Sies! Wens ek kon jou ontmoet en stories uitruil en vergelykings tref. Het hulle ook ‘n probleem oor jy van Afrika af kom en nie die regte velkleur het nie? Die Russe het geweier om te glo en is van Afrika en het besluit ek is Frans omdat my van Frans is. Niks kon hulle oortuig dat ek NIKS van Frankryk in my het nie!

  • Wat 'n oorspronklike blik op 'n samelewing waarvan ek niks weet nie! Emile, jou lewe klink soos 'n sprokie daar in 'n verre land, ver van Seepunt en die mense hier wat jou musiek mis. Mag jy net vrede en liefde vind op jou reis. xx

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top