"My lewe in Oesbekistan": Medeklinkers vir Afrika, moltreine, ’n vrat en gebaretaal onder die water

  • 17

Prent (links): https://pixabay.com/illustrations/registan-square-palace-samarkand-1026770/; foto van Emile Minnie: verskaf

Emile Minnie is ’n Suid-Afrikaanse musikant wat in Oesbekistan woon. Hy skryf al ’n geruime tyd op Facebook oor sy ervarings in dié land.  Die bydraes het onder die LitNet-redaksie se aandag gekom en hy is versoek om daarop uit te brei. Hier onder verskyn die eerste van ’n reeks Elders gesien-bydraes uit Emile se pen.


  1. Medeklinkers vir Afrika

Die eerste ding wat ’n mens se ore opval in Oesbekistan is die Russiese taal: Oesbekies word orals gepraat, maar die lingua franca is Russies, en hierdie taal pak jy nie sonder handskoene aan nie. Met die intrapslag word jy al oorrompel deur ’n rits medeklinkers. Die Russe was nog nooit groot op klinkers nie. Name soos Honolulu of Madagaskar sal swaar val op ’n Rus se tong. Nee wat, hoe meer medeklinkers langs mekaar, hoe beter. Vat nou maar die woord vir “hallo”. In Russies is dit здравствуйте. Foneties klink dit iets soos zdraws-woei-tje. Bid jou dit aan. Net om hallo te sê moet jy al drie medeklinkers langs mekaar inryg. Ná ses maande kry ek dit al effe reg, maar dit gaan nog steeds knit one, slip two. En dan is daar die letter t. Dié kry so ’n ekstra stywe lippie by, wat hom meer soos ’n super-beskaafde dame se t laat klink. So ’n mens se brein gaan deur ál vyf ratte net om hallo te sê. Gelukkig het die Russe besluit om die woord Afrika nét so te los, so ek kan met oorgawe en met perfekte uitspraak my herkoms deel.

  1. Wie loer, kry niks

Die Oesbeke loer graag. Party hou hulle koppe reguit vorentoe terwyl hulle oë skalks in jou rigting moonwalk. Ander staar onbeskaamd. Ek weet ná ses maande nog steeds nie of hulle net vir mý loer, en of hulle vir mekaar ook loer nie. Is loer ’n nasionale tydverdryf, of snuffel hulle oë dadelik ’n vreemdeling uit? Aanvanklik het ek vreeslik ongemaklik gevoel met al die skalkse oë op my. Maar deesdae as ek ’n loerder betrap, vat ek hom vas met ’n vierkantige kyk in die oog. Moonwalk-oog sowel as onbeskaamde kyker kies dan vinnig die hasepad en laat my met rus, vry om na hartelus my eie loerwerk te doen. Want hier is soveel wat nuut is vir my Suid-Afrikaanse brein: skrefiesoë met ronde gesigte en vol lippe; Noord-Kaapse boeregesigte met Griekse neuse; verrimpelde, eentandige tannies met haakneuse direk uit Hansie en Grietjie se sprokie; Midde-Oosterse amandeloë met melkwit velle en ’n unibrow. Dit lyk of die hele wêreld al hier was, en of almal iets van hulleself agtergelaat het. Dalk sien die Oesbeke in my gesig nóg ’n nuweling, iemand wat nóg ’n gelaatstrek gaan byvoeg tot hierdie groot pot vol gesigte. En hulle wonder terwyl hulle loer: Watter gelaatstrek gaan hierdie gesig in ons land agterlaat?

  1. Vladimir

Om gemasseer te word is een van my top-ervarings in die lewe. Jy dryf weg op wolke van jasmyn en lemoenbloeisel terwyl ervare hande jou sus en streel en jou geraamte laat glimlag. In my 20 jaar in die Kaap het ek maandeliks by Everard gaan lê vir 90 minute van saligheid. Everard was ook baie intuïtief, en hy het dadelik geweet as daar hartsake was wat uitgepraat moes word. Sodoende het hart en lyf daar uitgestap met ’n glimlag op die bakkies.

In Oesbekistan het ek oral gesoek vir nóg ’n Everard. Hier is heelwat spa’s en salonne, maar hulle spesialiseer almal in nuwe wimpers en om verborge liggaamsdele te bleik, so ’n Everard nommer 2 was daar beslis nie. Uiteindelik word ek verwys na Vladimir. Mense vertel net hoe wonderlik hy is, en ek besluit om hom ’n kans te gee. Min het ek geweet ...

Vladimir ontvang my in ’n kleurlose, verbeeldinglose vertrek. Met ’n knik en ’n grom word ek beveel om te lê. En daar trek Vladimir los en hy kneus en martel my dat ek amper uitpass. My krete van pyn word geïgnoreer, en Vladimir boor sy kneukels net dieper tussen my rugwerwels in. Ná 20 minute se hel staan ek bewerig op en strompel by die deur uit. Vladimir grom ’n totsiens, maar ek hoor niks. Ek klou net aan die naaste paal vas en droom ek dryf weg op wolke van jasmyn en lemoenbloeisel, en ek verbeel my ek hoor Everard se stem.

  1. Tennis

Tennis is groot in Oesbekistan. Van kleibane tot ping-pong – hier is alles. Ek het laas op hoërskool tennis gespeel. Ek en die bure se kinders was meer aktief in die tennishuisie as op die baan, maar ek het darem so nou en dan ’n raket in die hand gehad. Toe my Oesbekiese vriend Diyor my nooi vir ’n potjie, stem ek dadelik in. Met my lang Suid-Afrikaanse arms sal ek mos maklik die klein Oesbekie wen. Maar ek was in vir ’n ding.

............
Tennis is groot in Oesbekistan. Van kleibane tot ping-pong – hier is alles. Ek het laas op hoërskool tennis gespeel. Ek en die bure se kinders was meer aktief in die tennishuisie as op die baan, maar ek het darem so nou en dan ’n raket in die hand gehad. Toe my Oesbekiese vriend Diyor my nooi vir ’n potjie, stem ek dadelik in. Met my lang Suid-Afrikaanse arms sal ek mos maklik die klein Oesbekie wen. Maar ek was in vir ’n ding.
..............

Die eerste paar minute verloop heel beskaafd. Houe word goedgunstiglik in die ander een se rigting gemik. Maar geleidelik begin ons mekaar rondjaag. Die temperatuur styg, swetswoorde word geuiter wanneer ’n bal misgeslaan word, en toe ek die kans kry om ’n wenhou by die net te slaan, trek ek los teen ’n stink spoed. Raket laag uitgestrek, rug kromgetrek, storm ek vir daai bal soos ’n volstruis wat besig is om te verstik. Halfpad net toe voel ek skielik hoe iets in my rug losskiet. My rugspiere trek saam in ’n almagtige spasma, en ek pass amper uit van skok en pyn. Die wenhou vergete, draai ek dadelik brieke aan en trippel in slow motion, treetjie vir ego-gekrenkte treetjie, van die baan af. Diyor is skoon verbouereerd, en wil net help. Ek waggel koponderstebo soos ’n swanger skilpad kar toe. By my woonstel help Diyor my tot by my deur. Hy is vol medelye, en hy belowe om later te kom inloer om seker te maak ek is oukei. Ek weet nie of ek my verbeel nie, maar ek kan sweer hy loop met ’n effense wip in sy stappie terug na sy kar toe.

  1. Moltrein

Die Oesbeke is ’n besadigde klomp. Hulle praat deur die bank met gedempte stemme. Op straat sal jy nooit iemand hoor uitbars van die lag of kraai van die lekkerte nie. Hier kraai die mense na binne. Ook hulle klere se kleure is gedemp. Orals sien jy net skakerings van swart, grys en donkerblou. As jy wel iewers ’n helderrooi tekkie of serp gewaar, staan hy uit soos ’n seer vinger.

Mense praat baie van die indrukwekkende moltreinstasies van Tashkent. Een Saterdagmiddag besluit ek om te gaan kyk, en ek begeef my ondergronds. Skielik is ek in ’n wonderwêreld van helder verligte kandelabers, mosaïek, eksotiese beelde en sierskrifgedigte op mure. Ek verwag enige oomblik dat die gordyne gaan oopgaan en dat ’n diva uit die dak gaan sak en haar blaasbalke ooptrek. Maar ek word vinnig teruggebring aarde toe deur die stilte. Daar is klomp mense om my, maar almal is tjoepstil. As iemand wel iets sê, klink dit soos wanneer iemand suutjies vra “Waar is die aambei-room?” in ’n apteek. Wanneer die moltrein die stasie intrek, wag almal beleefd hulle beurt af om in te klim. Niemand gil of stoei hulle pad vorentoe nie. Op die trein sit almal netjies op hulle plek, hande op die skoot gevou, asof hulle poseer vir ’n jaarbladfoto. Niemand maak oogkontak nie. Niemand sê boe of ba nie. Ek raak skoon benoud. Ek is gewoond aan spontane, luidrugtige mense om my. Hierdie stilte voel onnatuurlik.

By die volgende stasie klim ek vinnig af en vat die trappe twee-twee na bo. Op straat groet die sonlig my met soene op my wange en my voorkop, voëls skop ’n hengse lawaai op in die bome bokant my, en ’n klein seuntjie hardloop oopmond kekkelend verby my, reguit na die arms van sy wagtende pa. Sy pa vang hom en swaai hom laggend die lug in. Pa en seun skater uit hulle mae, en vir ’n oomblik voel ek tuis in hierdie stil, gedempte land.

https://samarkanda-travel.com/notes-underground-tashkent-metro/amp/

  1. Quiz night

Om 19:00 op ’n Woensdagaand wag ek vir my taxi op ’n straathoek. Dis al taxi nommer drie. Nommer een het gekanselleer, en nommer twee het heeltemal verdwaal. Nommer drie lyk ook bietjie verward, as ek op die kaart sien hoeveel U-draaie hy maak. Dan bel hy my en begin in Oesbekies te brabbel. Ek vra die naaste verbyloper om asseblief aan die siel te verduidelik waar ek staan. Die verbyloper praat met taxi nommer drie, en gesels daarna met my. Heel gemaklik. Niemand hier het airs en graces nie.

Die volgende oomblik ry twee karre in mekaar vas voor ons. Ek trek los met ’n vierletter-kragwoord, maar almal bly kalm. Die twee motorbestuurders klim uit, skud blad (bid jou dit aan) en gesels dan soos ou vriende oor die skade. Ek is verbaas oor hoe beleefd en rustig alles verloop. Dan daag my taxi op en vat my tot by my eerste quiz night.

Quiz night is groot in Oesbekistan. Dis ’n bietjie soos high-tech bingo. Groot TV-skerms, polsende ligte en ’n dawerende aanbieder rond die prentjie af. Die deelnemers is hoofsaaklik welaf Russies-sprekende Oesbeke. Hulle lyk ook anders as die man op straat. As jy nou ’n foto neem sal jy sweer ons is in ’n biertent by die KKNK op Oudtshoorn. Die Russe hier lyk baie Afrikaans. Of dalk mis ek net my mense.

By ons tafel word ek voorgestel aan die span. Een van my spanlede lyk soos Yoko Ono. Ek het nog nooit ’n Yoko look-alike van naby gesien nie, so my mond hang oop. Ek verkyk my aan haar wimperlose skrefiesoë en haar groot borste. My skaamtelose gestaar laat haar ongemaklik voel. Haar klein mondjie is op ’n suur knop getrek en sy steek haar klein handjie pap en onwillig uit om my te groet. Ek dink nie ek en Yoko gaan boesemvriende word nie.

Haar broer sit langs my en hy sê vir my ek ruik soos gemmerkoekies. Yoko spring op en stap wipperig toilet toe. Met die wegwip sien ek sy het bonatuurlik plat boude. Met die terugwip sien ek haar boepmagie en haar broek se knoop wat bokant haar magie vasknyp vir al wat hy werd is. Sy gooi haar lang, gladde Yoko-hare heen en weer terwyl sy wip. Ek hou al hoe minder van Yoko, maar ek hou my in.

Wanneer die quiz night verby is (ons span kom laaste) groet ek almal met die hand. Yoko is hierdie keer effe meer gewillig om blad te skud. Ek vat die taxi huis toe. Op pad wonder ek wat maak ek in hierdie vreemde land. Dalk sal ek nooit verstaan nie, maar terwyl ek hier is, sal ek probeer om minder openlik vir Yoko look-alikes te staar, en om die meeste te maak van elke quiz night.

  1. Atgam

Om ’n vreemdeling in ’n vreemde land te wees kan soms eensaam raak. Veral naweke. Dis hoekom ek elke naweek in die plaaslike swembad gaan lengtes swem: ’n salige onderwaterwêreld waar ek veilig en ver verwyderd is van my eensaamheid en die mensdom se dramas. Op en af swem ek, 40 lengtes, 40 minute lank, die geluid van die water ’n sussende ritme.

...........
Om ’n vreemdeling in ’n vreemde land te wees kan soms eensaam raak. Veral naweke. Dis hoekom ek elke naweek in die plaaslike swembad gaan lengtes swem: ’n salige onderwaterwêreld waar ek veilig en ver verwyderd is van my eensaamheid en die mensdom se dramas. Op en af swem ek, 40 lengtes, 40 minute lank, die geluid van die water ’n sussende ritme.
............

Eendag sien ek ’n man sit op die rand van die swembad en kyk vir my. Ek dag eers dis weer ’n Oesbekiese beloerdery, en ek hou aan swem, maar die man hou aan kyk. Later is hy in die swembad en hy beloer my onderwater. Dís ’n eerste. Toe ek weer sien, is hy langs my, en hy begin in Russies met my praat. Al wat ek kon uitmaak was dat hy my akrobatiese bewegings geniet. En daar bevriend ek vir Atgam.

Atgam is ’n taxibestuurder, hy droom daarvan om Amerika te besoek, en hy het ’n tattoo wat sê “Everything will be fine”. Hy het ook ’n passie daarvoor om onder water te wees. Sy gunsteling tydverdryf is om swembad toe te gaan en onder die water te kyk hoe mense swem. Dis effe weird, ek besef dit, maar op hierdie stadium is enige bietjie vriendskap beter as niks. Ek en Atgam baljaar vir ure onder water. My lengtes is vergete, en ons twee duik en doen onderwater-handstande en blaas borrels en praat gebaretaal onder water. Hy sê hy voel gewigloos en vry onder water.

Later groet ons, want hy moet hospitaal toe gaan. Sy suster lê op sterwe en hy wil haar gaan besoek. Haar grootste begeerte is om vir oulaas die berge te sien. Atgam sê hy sal my kom haal, dan vat hy my saam. Voor hy verdwyn, sê hy met ’n halwe glimlag: “Everything will be fine.”

  1. Knieë

Daar is een liggaamsdeel wat groot konsternasie vir die gemiddelde Oesbeek veroorsaak. Dis nou nie die tipe konsternasie waaraan ek gewoond is nie. Niemand ululeer nie, niemand toi-toi nie, en niemand skiet met ’n vuurwapen in die lug op nie. Maar die konsternasie gebeur wel, al is dit baie subtiel. Ek sien dit in hulle oë: elegante dames doen ongemerk ’n double take, ou tannies staar met pieringoë, en mans se oë trek op skrefies om beter te kan sien. Jy wonder seker watter liggaamsdeel hier ter sprake is. Is dit die skouer met sy sensuele ronding? Is dit die soepel nek? Of is dit dalk ’n dy wat dril? Helaas, vriende, dit is die knie. ’n Ontblote knie ontlok in Oesbekistan drange wat Glenda Kemp en Oupa, die luislang, op hulle wulpsste nooit kon vermag nie. En die reaksie is deur die bank dieselfde: Almal weet dis verkeerd om te kyk, maar niemand kan hulleself help nie. In Oesbekistan is die knie die skaamste van skaamdele.

Ek het hierdie les per ongeluk geleer toe ek een middag met ’n kortbroek gaan fietsry. Ek kon glad nie verstaan hoekom die mense my onderlyf so aanstaar nie. Ek het heeltyd bly seker maak my broek se knoop is vas. Eers later het ek agtergekom dat my knieë die eintlike fokuspunt is. En toe ek om my kyk, sien ek dat daar nie ’n enkele ontblote knie om my is nie. Van babas tot oumense: Elke knie was sedelik bedek. Skielik het ek poedelnakend gevoel. Elke paar oë wat in my kaal knieë ingeboor het, het my meer en meer ongemaklik laat voel, soos Adam en Eva ná hulle appel-etery, met nie ’n enkele vyeblaar in sig nie.

En net daar maak ek ’n besluit: Vandag vier ek my knieë. Met ’n breë glimlag en ’n wafferse wip op my fiets se saal, het ek elke geskokte paar oë begroet, al die pad huis toe. By die huis het ek ’n soen geplaas op elke kniekop, vir my knieë gesê hulle is pragtig, en dadelik ’n paar langbroeke se broekspype gaan afsny. Nou ry ek skool toe, huis toe, winkel toe, laggend in my kortbroek. Kniekoppe poedelkaal op my ysterperd. Oesbekistan se eie Lady Godiva.

  1. Fisio

Ná my onlangse rugbesering tydens tennis met Diyor, bly my rug seer, en ek besluit om by ’n fisio te gaan aanklop, net om seker te maak al my werwels is nog in plek. Mens maak nie afsprake by dokters hier nie. Jy daag net op en wag jou beurt af. By die kliniek verduidelik ek aan die ontvangsdame in my beste Russies hoekom ek daar is, en aan haar gesigsuitdrukking kom ek agter sy verstaan glad nie wat ek sê nie. Net voor ek ’n angsaanval kan kry uit pure frustrasie, staan ’n jongman nader. Hy stel homself voor in perfekte Engels as Bekzod, die plaaslike gim-instrukteur. Ek vertel hom my verhaal, en in ’n japtrap doen hy die vertaalwerk. Die volgende oomblik is ons in ’n hysbak op pad na die fisio se spreekkamer.

Die fisio wat my en Bekzod ontvang is ’n dame in haar sestigs wat lyk of sy die inspirasie vir haar outfit by Madonna se “Like a prayer”-video gekry het: kant-handskoentjies, ’n valletjiesrok en dramatiese grimering. Bekzod spring dadelik in en vertel haar hoekom ek daar is. Ek is dankbaar vir sy bydrae, want op hierdie stadium weet ek nie of ek dalk onwetend in ’n Leon Schuster-fliek beland het nie. Madonna sê ek moet my hemp uittrek en vooroor buk. Hier kom dit nou, dink ek, maar sy gly net met haar handskoen-handjie op en af oor my rugstring, en sê ek moet môre terugkom. Ongelukkig is die volgende dag ’n werksdag, so ek sal nie kan kom nie. Madonna gooi haar hande in die lug. Sy is ’n besige dame. Op pad uit sê Bekzod hy het raad. Hy is nou nie ’n gekwalifiseerde fisio nie, maar as gim-instrukteur het hy al ’n paar gevalle soos myne gesien, en hy sal my beslis kan help. Ek stem in. Enigiets is beter as niks.

Ek word na ’n kleedkamer gevat, en Bekzod sê ek moet op een van die bankies op my maag gaan lê. Teen hierdie tyd is ek seker ek is in ’n fliek, so ek gaan lê. ’n Man in ’n japon staan belangstellend nader terwyl Bekzod sê ek moet in- en uitasem. Met die uitasem druk hy met sy volle gewig op my rug. Ek gil kliphard, meer uit skok as uit pyn. Nog ’n paar manne staan nuuskierig nader om die petalje te aanskou. Bekzod sê ek is te gespanne, ek moet relax. Ek wil opspring en weghol, maar nou is daar ’n audience, en ek kan hulle nie teleurstel nie. Bekzod sê ek moet weer in- en uitasem. Nou weet ek wat kom. Ek dink aan goue strande en blou lug, haal diep asem, en met die uitasem druk Bekzod my rug dat jy net werwels hoor pop. Ek staan wankelrig op en loop ’n paar treë, en jou wrintiewaar, die rugpyn is weg. Ek bedank Bekzod hartlik, en bied aan om hom te betaal, maar hy wys my aanbod van die hand. Hy is bly hy kon help.

Op pad uit loop ek verby Madonna met haar kant-handskoentjies. Sy gee vir my ’n ondeunde glimlag en ek dink: Die lewe is inderdaad vreemder as ’n fliek.

  1. Karaoke

Ek kon nog nooit backtracks verstaan nie. Jy druk ’n knop, geblikte musiek begin te speel, en jy begin perform asof jy saam met ’n simfonie-orkes sing. Ek het op skool, toe ek nog hare gehad het, gereeld met ’n haarborsel voor die spieël gesing saam met liedjies wat op die radio speel. Backtracks val vir my in daai kategorie: haarborsel-musiek.

Dan is daar karaoke. Dis vir my nog ’n trippie erger. Net mense wat weet dat hulle gehoor dronk genoeg is om als te vergeet sal hulself willens en wetens oorgee aan ’n karaoke-verhoog. Of mense wat daarvan droom om voltyds met ’n backtrack te sing. Nou ja, dit was my opinie voor ek Oesbekistan toe gekom het.

Een aand word ek saamgenooi na ’n karaoke-partytjie. Ek wil eers my neus optrek, maar my musiekjuffrou het altyd gesê mens moet als darem een keer probeer, en daar begeef ek my in die karaoke-onderwêreld van Oesbekistan. Hier is karaoke ’n geslote geleentheid. Jy en jou vriende huur ’n kamertjie in ’n gebou vol kamers. In elke kamer is ’n diskobal, flitsende ligte, ’n hengse TV-skerm, twee goue glitter-mikrofone en ’n Oosterse gordyn met baie tossels. Een kyk na daai tossels, en almal in ons geselskap verander in Whitney Houston. Die musiek begin blêr, die diskobal draai, en ons gooi ons hande in die lug en begin elke liedjie kliphard uitbasuin in die goue mikrofone. Later is my hemp skoonveld, die sweet stroom van my af, en ons dans en sing asof vir ’n skare van duisende aanhangers. Daardie nag het ek die krag van karaoke leer ken.

As iemand my nou nooi vir ’n karaoke-aand, sê ek dadelik ja. Ek het dit selfs al oorweeg om my eie karaoke-aand saam met vriende te reël. As julle my weer sien, staan ek met ’n goue mikrofoon in die hand en sing Whitney Houston-treffers voor ’n tosselgordyn. Met ’n backtrack.

  1. Vrat

’n Vrat is ’n lelike ding. Hy wriemel homself in jou vlees en bloed in, en daar maak hy homself tuis in al sy onooglike glorie. Daar is vele rate om van hom ontslae te raak: van droë ys tot ’n geblaas tydens volmaan, maar meeste van die tyd bly vrat se kind sit.

My lewensreis met ’n vrat het in Brasilië begin. Daar het ek iewers getrap waar ek nie moes nie, en die mees dinamiese en hardnekkige vrat kom toe saam terug huis toe. Onder my voet. Vir jare het ek geloop met dié groeisel wat tydig en ontydig brand. Ek het skaam geraak om kaalvoet te loop, want lelik was nog nooit mooi nie, en netnou steek ek iemand aan.

In Oesbekistan besluit ek genoeg is genoeg, en ek gaan klop aan by die naaste dermatoloog: Dokter Karumov. Dokter Karumov het sagte bruin oë en ’n plooilose voorkop. Die res van hom is pal agter ’n masker. Hy het ook ’n vriendelike assistent met ’n onuitspreeklike naam. Ná ’n vinnige ondersoek sê Dokter Karumov die vrat moet gebrand word. En daar begin hy daai vrat te bewerk met ’n klein soldeerystertjie dat jy net rookbolle sien trek. Aanvanklik voel ek niks, en vind die hele spektakel amusant. Maar later begin ek ruik hoe brand my vleis, en skroeiende weerligstrale begin deur my voet skiet. Ek ruk my voet weg, maar die vriendelike assistent is nou baie onvriendelik, en hy druk my voet met sy volle gewig vas. Ek begin gil en kreun, maar dokter Karumov en sy soldeerystertjie hou net aan om my vleis te braai. Sy foon lui. Dis die temalied van Kill Bill. Daryl Hannah klink soos die fluitende predikantsvrou met moord op die brein. Hy ignoreer die foon en hou aan braai.

Ná ’n ewigheid en ’n sterk vermoede dat ek in my broek gepiepie het, sit Dokter Karumov sy martel-instrument neer. My voet ruk spontaan soos een wat besig is om ’n epileptiese aanval te kry. Dokter Karumov uiter sagte, sussende woorde in Russies terwyl hy my voet masseer. Ek dink aan daai flieks waar die martelaar sy slagoffer eers pynig, dan paai, en Dokter Karumov pas die profiel perfek. Voor ek kan keer, begin die proses van voor af. My gille is nou heelwat hoër en harder, en ek probeer vreeslik hard om skuim om my mond te produseer, maar al my pogings word geïgnoreer. Selfs die feit dat die wagkamer skielik heeltemal leegloop het geen impak nie. Die assistent druk net my voet nóg stywer vas, en Dokter Karumov soldeer daai vrat tot op die been.

Wanneer die foltering verby is, gee die dokter vir my ’n botteltjie rooi ontsmettingsmiddel en sê ek moet oor ’n maand terugkom. Ek hinkepink op een voet uit. Die assistent is weer vriendelik en vol medelye. Hy gee vir my ’n inspuiting vir die pyn, en help my tot by my fiets. Ek trap met een voet huis toe. Die ander voet spartel in ’n ander dimensie.

’n Maand later is ek terug by Dokter Karumov. Die roof is af, my voet is pienk en gesond, en my martelaar glimlag vir my met sagte bruin oë en ’n plooilose voorkop van agter sy Oesbekiese masker.

  1. Seven Day Spa

My soektog na ’n masseur neem my na die deur van die Seven Day Spa. Die website beloof sagte beligting, welriekende olies en ’n professionele massage. Met die intrapslag word ek begroet deur ’n vaal vrou met ’n lang sigaret in die hand. Masseurs is mos vreeslik gesteld op gesondheid. Ek moes eintlik toe al onraad vermoed het, maar ek besluit ek gee die vrou die voordeel van die twyfel. Dalk ly sy aan haar senuwees. Tussen bolle rook deur kwoteer sy vir my ’n astronomiese prys. Tien keer duurder as die advertensie op die webtuiste. Ek wil net begin beswaar maak toe daar ’n gedaante voor my verskyn: pikswart gekleurde hare in groot, sagte krulle geblaas, bloedrooi lippe wat die hele onderste helfte van haar gesig opvat, en eyeshadow wat sorg vir die boonste helfte. Haar ronde lyfie peul met mag en mening uit ’n baie stywe denimbroek. Sy glimlag vriendelik. Daar is lipstiffie op haar tande en een tand lyk ’n bietjie vrot. Sy vertel vir my in detail watter liggaamsdele sy gaan takel: kop, rug, hande en voete. Terwyl sy praat maak sy ’n suggestiewe beweging met haar gebalde vuis. Sy herhaal haar lys van liggaamsdele, sowel as haar choreografie. Drie maal. Net om seker te maak ek kry die boodskap.

“Give me the money!” gil die roker tussendeur swaar bolle rook. Haar senuwees is seker op vandag. Ek raak heeltemal verbouereerd. Ek draai om en storm uit. Die vars lug bring my tot verhaal. By die naaste koffiewinkel gaan sit ek en skryf dadelik hierdie storie neer. Net ingeval ek enige detail vergeet van die dag toe ek so hittete onsedelik aangerand is op ’n masseertafel deur ’n stel bloedrooi lippe met eyeshadow.

  • 17

Kommentaar

  • Marzanne le Roux

    Hoe op dees aarde beland jy daar? Musikant? Wat werk jy? Dankie - ek het nou lekker in volkleur als saam beleef 🤗

  • Marzanne, ek het, soos meeste musikante, tydens Covid begin rondkyk vir 'n alternatiewe inkomste. 'n Musiekpos in Oesbekistan het opgeduik, en ek het gespring, veral omdat ek op daardie stadium nog nooit van die plek gehoor het nie. Twee weke later was ek op 'n vliegtuig Tashkent toe. Ek gee klasmusiek vir kinders. Die eerste jaar was hel, maar ek sit nou al gemakliker in die saal.

  • Hi Emile, ek het nou so gelag. Baie lekker om Oesbekistan deur jou oë te sien. Wat is jou blog se naam? Ek hou baie van jou skryfstyl.

  • O wêreld, ek het nou so lekker gelag (min gespin oor dit 01h45 hier in SA is). Ek love absoluut jou vertellings.

  • Johan Claasen

    Dankie Emile, ek het heerlik gelees. Jou beskrywings is in die kol. Terloops, ek en vroulief Lynette het jou verlede jaar in die Irish Pub in Tashkent raakgeloop waar jy musiek gemaak het. is jy steeds in Tashkent?

  • Hoe duur is dit by julle? Het 'n mens 'n visum nodig en hoe gemaklik kan jy rondbeweeg met jou Engels?

  • Magda Laurens

    Ai, jy moet boeke skryf! Ek lees baie en jou stuk hoe jy Oesbekistan beleef, is skreeusnaaks! Ek dink LitNet het nou die beste skrywer ontdek. Jy vloek nie en jou beskrywings en taalgebruik is ontsettend goed. Na die boek ... kan daar 'n fliek gemaak word. Moet nooit ooit ophou skryf nie.

  • Cecile, baie dankie. My blog op Facebook is onder my persoonlike profiel, Emile Minnie. Enigeen kan dit sien op Facebook.

  • Johan Claasen, baie dankie. Ja, ek is nog al die pad in Tashkent. Ek voel nogals tuis in hierdie onbekende land. Waar is julle tans?

  • Marga, die lewe hier is goedkoper as in SA. Suid-Afrikaners moet vir 'n visum aansoek doen om hier vakansie te kom hou. Bittermin mense hier praat Engels, maar hulle is almal baie gretig om dit te leer.

  • Santie Rautenbach

    Dit was nou heerlik om jou raak te lees op LitNet. Gaan vir seker jou Facebook opsoek. Dankie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top