Wie sê ’n oorbruggingsjaar is net vir waagmoedige jongmense bedoel? So ’n avontuur is wat Marita van der Vyver onderneem het toe sy kort na haar twintigste verjaardag ’n swerfjaar in Europa aangedurf het. Maar veertig jaar later pak sy en haar pas afgetrede Franse man ’n “geriatriese gap year” aan – ’n vae droom wat skielik ’n angswekkende, bevrydende werklikheid geword het.
Lees aflewering een, waar die reeks begin het, hier:
Hier onder volg nou die laaste aflewering in die reeks:
Ons het gedog ons gaan hierdie swerfjaar soos ’n stringetjie krale bewaar. Sluit dit af, bind die twee punte aan mekaar vas, maak dit ’n halssnoer, ’n armband, ’n geslote sirkel. Iets wat blink om op ’n vaal dag uit te haal en te bewonder: Sjoe, kyk net wat het ons reggekry.
Nou begin dit al hoe meer soos ’n work in progress voel.
............
Ons wou eindig waar ons begin het. Ons wou hierdie kring simbolies toetrek op die dorpie in Vaucluse waar ons laas jaar die eerste nag van ons nuwe huislose bestaan deurgebring het. Tóé al het dit op ’n digterlike manier gepas gevoel om ons volgende hoofstuk dáár aan te durf, waar my storie en die Fransman se storie ’n kwarteeu gelede saamgesmelt het.
.............
Ons wou eindig waar ons begin het. Ons wou hierdie kring simbolies toetrek op die dorpie in Vaucluse waar ons laas jaar die eerste nag van ons nuwe huislose bestaan deurgebring het. Tóé al het dit op ’n digterlike manier gepas gevoel om ons volgende hoofstuk dáár aan te durf, waar my storie en die Fransman se storie ’n kwarteeu gelede saamgesmelt het.
Na elf maande van swerf bel ons dus ons voormalige buurman, Armando, ’n babbelende Italianer wat my altyd aan die akteur Roberto Benigni herinner, om te hoor of ons vir ’n week lank verblyf op die dorp kan huur. (Elke klein dorpie in Provence met meer vakansiehuise as “gewone huise” het iemand soos Armando nodig – ’n soort concièrge/nutsman/skakelbeampte/verhuringsagent – wat die sleutels van verskeie vakansiehuise veilig bewaar.) Die dorp bars uit sy nate, waarsku Armando, in hierdie eerste somer ná die Covid-inperkings afgeskaf is.

Die dorpie in Vaucluse - St Roman de Malegarde - waar ons stories 'n kwarteeu gelede saamgesmelt het
Maar die goeie nuus is dat die Switser wat ons gewese huis gekoop het, ’n deel daarvan omgeskep het in ’n studiowoonstel wat per nag of per week gehuur kan word, en dié is blykbaar nog beskikbaar. En meteens voel dit weer soos daardie welgeluksalige toeval wat ons soveel keer die afgelope jaar getref het. Ons wou mos terugkeer na ons wortels. Hier kry ons onverwags die kans om nie net op dieselfde dorpie te bly nie, maar in dieselfde huis as dekades gelede.
En wat ’n verrassende, vertroostende ervaring word die verblyf toe. Niks het verander nie, en tog het alles verander. Die naam van die huis, Le Chant du Mond (Die Lied van die Wêreld), pryk steeds op die terracottamuurtjie langs die hek. Dit was daar lank voor ons die ou kliphuis bewoon het – dis juis die naam wat Alain oortuig het dis die regte tuiste vir hom, want dis die titel van ’n roman van Jean Giono, een van sy mees geliefde Franse skrywers – en dis goed om te weet dis steeds daar, twintig jaar ná ons die huis verlaat het.
Ek het destyds nog skaars van Giono gehoor – hy is nie naastenby so bekend in die Engelse leeswêreld soos in Frankryk nie, maar die naam het ook vir my instinktief reg gevoel. ’n Letterkundige verwysing vir ’n huis waarin ’n skrywer woon, ’n musikale verwysing vir die skrywer se musiekmal lewensmaat, en die inklusiewe internasionale omvang van ’n lied wat deur ’n veeltalige en multikulturele gesin gesing kan word.
Ja, ek het waarskynlik aan die Von Trapp-gesin in The sound of music gedink. Later het ek besef dat ons eerder met die Addams Family identifiseer.

Die huis waar ons die eerste nag van ons daklose swerfjaar deurgebring het, oorkant die straat van Le Chant du Monde
’n Veel groter verrassing was dat my getroude van, Claisse, steeds op die posgleuf in die voordeur geverf is. Dít verwag jy nie as jy ná dekades terugkeer na ’n voormalige tuiste nie.
Binne-in het alles ook onthutsend dieselfde gebly: dieselfde blou teëls in die kombuis, dieselfde groot oop klipkaggel en beknopte dakbalkon, dieselfde onpraktiese trappe tussen alle leefruimtes. Dis waar ons dogter die eerste twee jaar van haar lewe deurgebring het, en toe sy eers begin kruip en daarna leer loop in ’n huis waar elke vertrek op ’n verskillende vlak as die res gebou is, moes ons elke deuropening versper om te keer dat sy by ’n trap aftuimel en haar nek breek. Ons was gek oor die ou kasarm, maar dit was nie ’n kindervriendelike woonplek nie.
Die studiogedeelte is op die onderste van vele verdiepings ingerig, in ’n vertrek wat eeue gelede ’n stal was en wat ek destyds as skryfkamer gebruik het. In die lang krip teen die muur, voorheen met strooi vir plaasdiere gevul, het ek stapels boeke gebêre. Boeke was immers my kos, veral in die lang wintermaande wanneer al die vakansiegangers uit die dorpie verdwyn, nes die strooi wat die diere in die winter moes voed.

Die Lied van die Wêreld, Le Chant du Monde
Intussen is die krip verwyder om plek te maak vir ’n dubbelbed – die enigste verandering in ons gewese tuiste waaroor ek spyt is. Nie dat ek die dubbelbed betreur nie, ek mis net die krip. Die bed het nuttig te pas gekom toe ons platgeslaan is deur nóg ’n hittegolf – die hoeveelste in hierdie Europese somer van rekordtemperature – wat ons ure lank roerloos op die bed voor ’n elektriese waaier vasgepen het. Al ons planne om ou vriende op te soek en op ou paaie terug te stap het soos roomys in die hitte gesmelt. Hittegolwe is wat gebeur terwyl jy besig is om ander planne te maak, het ons met dor lippe vir mekaar geprewel.
Pandemies ook, het ons nogmaals besef. Ná ek in ’n vorige rubriek geskryf het hoe vréémd dit voel om terug te wees in Europa waar niemand meer maskers dra of sosiale afstand handhaaf nie, het ’n volgende golf Covid-infeksies natuurlik oor die bevolking gebreek. Op ons tweede dag in ons voormalige huis stuur Armando ’n boodskap dat hy positief getoets het, ná vlugtige kontak met ’n Amerikaanse vakansieganger met Covid, en aangesien Armando daagliks met álmal op die dorpie in aanraking kom, word almal van ons onmiddellik “kontakgevalle”. Wat beteken ons moet afsprake met ou vriende afstel terwyl ons drie dae wag om ’n negatiewe uitslag van ’n PRC-toets te kry.

My getroude van staan 20 jaar later steeds op die voordeur
So, tussen die hittegolf en die Covid-golf het ons soos wrakstukke op die dubbelbed uitgespoel, Simenon en Stephen King gelees, liters yskoue gazpacho opgeslurp en aan skywe spanspek gesuig. Nie heeltemal die triomfantelike terugkoms wat ons ons verbeel het nie. Ons het gedog ons sou terugkeer met sakke vol stories wat om vrolike tafels met ou vriende gedeel sou word. Amper soos in Breyten se beroemde gedig “’n Hand vol vere” het ons gedog “hoe ons dan sal huil en tee drink”. Hoewel ons seker eerder wyn sou drink. Ons het gedog, ja.
Maar terwyl ons kontak met mense moes vermy, het ons tog op ’n paar van ons ou paaie teruggedwaal. Ons het vreeslik stadig verby die huis gekruie wat ons laas jaar moes verkoop, verlig om te sien die laventel en die rose groei steeds wild en welig, die bome wat ons geplant het, is nie afgekap nie, die water van die fontein in die voorhof vloei steeds. My hart is nog heeltemal te seer oor daardie huis om dit van binne te wil sien. Dalk sal ek oor ’n paar jaar deur die breë gang kan stap en by my gewese werkkamer inkyk, soos ek nou deur Le Chant du Monde stap en na die gewese stal met die gewese krip kyk, met niks meer as verwonderde herkenning nie. Maar nie nou al nie.

'n Dakbalkon met 'n uitsig in Le Chant du Monde
Ons het ook ’n lang ent gery tot by ’n dorp tussen die berge waar ek en my kleuterseun in ’n verlate hotel gewoon het voordat ons almal saam in Le Chant du Monde gaan woon het. Meer as twee dekades later is die hotel éérs verlate en die aanloklike naam, L’Auberge Fleurie (Die Blomherberg), meer misleidend as ooit. Ons word bekoor deur evokatiewe name, ek en my man, meer as vir praktiese woonplekke. Dit behoort teen dié tyd duidelik te wees.
In 1999 kon ek niks beter as ’n beknopte, lelike, moderne woonstelletjie vir my en my kind bekostig nie – of ek kon ’n hele leë hotel met ’n mooi naam vir dieselfde maandelikse huur kry. Natuurlik het ek die hotel gekies. Ek het gedog dit sou ’n goeie idee wees om ’n boek in ’n leë hotel te probeer skryf terwyl my seuntjie in die la-a-ang gang tussen sewe of agt leë vertrekke op sy fiets ry.
Ek het gedog, ja.

Die fontein op die dorpie waar ons storie begin het
En toe sneeu dit die hele eerste maand van die jaar. En ek onthou Stephen King se verlate, toegesneeude hotel in The Shining, en hoe die hoofkarakter waansinnig raak terwyl hy ’n storie probeer skryf, en Jack Nicholson se maniese grynslag in Kubrick se rolprent, en die spookkindertjies wat in die lang gang opgemerk word, en ek wonder al hoe meer of ek nie maar eerder die lelike moderne woonstelletjie moes gekies het nie.
Gelukkig het die sneeu gesmelt voordat ek na drankmisbruik, waansin of gesinsmoord gedryf is. Ek het oorlewe en die boek klaar geskryf en saam met my seun van Die Blomherberg na Die Lied van die Wêreld getrek, waar Alain en sy seuns reeds gewoon het en ons babadogter binnekort by ons sou aansluit.

Nog 'n fontein in Provence - voor die huis van vriende by wie ons darem kon gaan kuier
Toe ek so twintig jaar gelede Gabriel Garcia Marquez se outobiografie lees, was ek dadelik afgunstig oor wat ek as ’n volmaakte titel beskou het: Living to tell the tale. Hoe ouer ek word, hoe meer besef ek dis eintlik maar waaroor alles gaan. Om voluit te lewe en stories daaroor te vertel. Al vertel jy die stories net vir jouself. Of jou vir geliefde wat dit saam met jou belewe het.
Uiteindelik maak dit nie eens saak dat die hittegolf en die pandemie ons verhoed het om ons swerfstories met ons vriende te deel nie, want aanstaande week bokspring ons bo-oor die Engelse kanaal tot in Brittanje, waar daar sekerlik nog stories wag. Eintlik vlug ons vir die hitte, al die pad tot in Skotland, waar dit beslis koeler is. En ons vlieg nie oor die water nie, ons kruip ondergronds, in ons motor in ’n trein in ’n tonnel onder die see, maar waarom nou ’n lekker storie met saai feite bederf.
Punt is, ons stringetjie krale is nog nie toegeknoop nie, en ons begin wonder of ons dit ooit weer toegeknoop sal kry.
Laas week byvoorbeeld nooi ’n vriend ons om later vanjaar ’n huis op die eiland Korsika te gaan oppas. Net die plek om jou boek klaar te skryf, sê hy toe ek flou teëstribbel dat ek weer aan die skryf moet kom – stilte en afsondering, lieflike see-uitsigte, swemplekke en staproetes – wat meer wil jy hê? Korsika is fantasties, beaam my man met blink oë, want hy was al daar en ek nog nie. Korsika is fantasties, sing ons kinders in ’n koor saam toe ons hulle van die uitnodiging vertel.
Ons gaan vermoedelik vóór die einde van die jaar nog ’n paar krale vir ons stringetjie op Korsika optel.

L'Auberge Fleurie - Living to Tell the Tale
Intussen moet ek hierdie rubriekskrywery staak om aan ’n boek te werk. Ek troos myself daaraan dat die einde van iets, enigiets, altyd die begin van iets anders beteken. En ek hou die kring oop, want wie weet, dalk het ek binnekort ’n onweerstaanbare storie oor Korsika wat dadelik vertel moet word.
Lees ook:
Swerfjaar vir seniors: Op soek na ’n holte vir swerwersvoete


Kommentaar
Meesleurend en pure leunstoelreisgenot!
Jy maak my bitter nuuskierig oor wat deelbare, nadere besonderhede betref wat jou beskrywing van Alain as "musiekmal" omskryf.
Geniet Skotland!
Ek het hierdie reeks opgeslurp soos 'n Coke float. Dit was heerlik om saam te reis, Marita. Dankie vir die deel van julle avontuur.
Ek voel diep genoop om uit my huisboksie te klim, Marita. Al maak ek dit nie landuit nie, maar om stories anderkant my werf te loop leef. Jy gee my miere!