Swerfjaar vir seniors: ’n Vreemde, bekende wonderland

  • 5

Foto’s en teks: Marita van der Vyver

...
Ek het so dikwels gewens ek kon vreemdelinge weer ’n slag sien glimlag. Nie bloot die oë wat bo ’n masker uitloer nie, maar die hele gesig wat oopbreek, mond vol tande, neus wat kreukel, knalrooi lipstiffie of ’n snor wat soos ’n ruspe op ’n bolip bewe, kuiltjies in wange of kepe in die ken, alles wat ’n glimlag voorheen, vC – voor Covid – was. Voor Covid ons openbare glimlagte kom steel het.
...

Eindelik terug in Frankryk voel ek so vervreemd soos Alice wat deur die haas se tonnel tot in Wonderland getuimel het. Verbaas, verdwaas en verwilderd swerf ek deur la France profonde – “die diep platteland”, soos Parysenaars dit noem – want dis verkiesingstyd, politici se gesigte pryk op plakkate in selfs die kleinste gehuggie, en niemand dra meer maskers nie.

Vreemde kreature op plakkate in “la France profonde”

Jy sou sweer COVID-19 was net ’n uitgerekte nagmerrie, nou’s ons almal wakker geskud en alles gaan eenvoudig voort soos voorheen.

Maar sommige van ons sukkel nog om wakker te word.

Nóóit, in hierdie skynbaar eindelose pandemie, het ek gedog dat daar ’n dag sou kom dat ek maskers of sosiale-afstandhouding mis nie.

Ek het so dikwels gewens ek kon vreemdelinge weer ’n slag sien glimlag. Nie bloot die oë wat bo ’n masker uitloer nie, maar die hele gesig wat oopbreek, mond vol tande, neus wat kreukel, knalrooi lipstiffie of ’n snor wat soos ’n ruspe op ’n bolip bewe, kuiltjies in wange of kepe in die ken, alles wat ’n glimlag voorheen, vC – voor Covid – was. Voor Covid ons openbare glimlagte kom steel het.

Piekniekplek met ’n uitsig naby Millevaches (Duisend koeie) in Corrèze

In meer as nege maande van rondswerf op drie kontinente was ons altyd uitermate versigtig, want om in die middel van ’n pandemie, nadat jy jou huis verloor het, as ’n swerwer te lewe, verg enorme selfdissipline. Ons het ons maskers bly dra en ons hande bly ontsmet, selfs in dele van Amerika waar jy houtgerus met ’n vuurwapen by ’n winkel kan instap, maar moorddadige kyke kry as jy dit durf waag om met ’n masker op te daag. Verál in daardie dele.  

Nogtans het ek gesmag na onbevange omhelsings, na vreeslose fisieke kontak met vriende, na die tradisionele Franse soengroet op albei wange – die einste soenery (twee of drie of vier keer, afhangend van waar in die land jy jou bevind) wat ek in die verlede spottend as ’n onnodig tydrowende gewoonte afgekraak het. Jy daag by ’n sosiale geleentheid op en die helfte van die aand flits verby terwyl jy man en muis omslagtig moet soengroet, dan is daar ’n kort verposing waarin jy gou ’n bietjie kan gesels voordat jy weer begin soengroet om au revoir te sê.

Maar nou is ons terug in die land waar die soengroet skielik ook terug is (darem nog nie heeltemal so geesdriftig soos vC nie), waar net Asiatiese toeriste nog maskers dra (soos ook vC), waar jy onder jou medepassasiers in die metro se oksels vasgedruk word en probeer om nie asem te haal nie (soos vC). En ek voel geheel en al onvoorbereid vir hierdie vreemde, bekende, nuwe wêreld.

Dit het alles net te vinnig gebeur. Die een oomblik is ek nog in Suid-Afrika, waar ek aanmekaar agter ’n masker versmoor,  waar my temperatuur gemeet word wanneer ek in ’n restaurant wil eet, waar ek vorms moet invul en sertifikate moet wys voordat ek ’n toneelstuk kan kyk in ’n teater wat net halfvol mag wees, en die volgende oomblik ... letterlik die volgende oomblik ... klim ek in Johannesburg in ’n Swiss Air-vliegtuig, ná ek op Oliver Tambo-lughawe ook gemasker in toue moes staan om verby die sekuriteitstoestelle en die paspoortbeamptes te skuifel, en skielik is daar geen masker in sig nie.

Soos om deur ’n spieël te stap en ’n parallelle heelal te betree.

Lausanne in Switserland

Ek wéét ons land oor ’n paar uur in Switserland, waar alle Covid-reëls oorboord gegooi is terwyl ons gemasker deur Suid-Afrika gereis het, maar dit ontstig my nogtans om meteens deur ongemaskerde medepassasiers omring te wees. Op Suid-Afrikaanse bodem, nog voordat die vliegtuig in die lug is. Elke keer as iemand naby my hoes, wil ek onder die sitplek induik.  

Uiteindelik is ek omtrent die enigste passasier wat die hele nagvlug lank my masker dra. (Saam met enkele Oosterlinge en ooglopend verswakte bejaardes.) Ek, wat hierdie gedwonge maskerdraery so verpes het, besef dat ek dit waarskynlik nooit weer sonder ’n masker in ’n vliegtuig sal waag nie.

Dalk is dit ’n vorm van posttraumatiese stres. Dalk net gesonde verstand. Dis in elk geval ’n erg verwarrende gewaarwording.

Ons seun Hugo se huis in die Savoie-streek

En toe ek eers in Switserland aankom, raak alles net meer verwarrend. In Lausanne, waar ons ’n paar dae by my seun in sy nuwe woonstel kuier, soek my vingers outomaties na die pak maskers in my handsak elke keer as ek by ’n gebou instap. Selfs buite, by die Saterdagoggendmark in die middestad waar ongemaskerde menigtes om groentekraampies saamdrom en ongesaniteerde vingers die vars vrugte betas, trap ek verbouereerd rond. Asof ek in ’n groep probeer dans, maar heeltyd uit pas bly.

Is ek die enigste mens in hierdie skynbaar sorgelose massa wat skuldig voel om nie meer ’n masker te dra nie? Is dit net omdat ek weet dat my vriende in Suid-Afrika en elders steeds gemasker moet lewe? Nes ek gereeld in Europa skuldig voel wanneer ek te lank onder die stort staan, bloot omdat water so skaars is daar waar ek vandaan kom?

Ek flous die skuldgevoel deur ’n paar pragtige murgpampoentjieblomme te koop om vanaand in Daniel se woonstel met ricotta en kruisementblare te vul. Dis somer in Europa, troos ek myself, ons kan oranje blomme eet, what’s not to like. Hou om hemelsnaam tog net op om oor maskers en siektes te stres.

Maar ek kry dit nie reg nie.

Ongemasker langs die blou meer van Lausanne

Die volgende dag wag ons in ’n lang, kronkelende tou op ’n sypaadjie om tuisgemaakte roomys by ’n gesogte winkeltjie naby die meer te koop. Niemand dink aan sosiale afstand nie, vreemdelinge se laggende monde voel heeltemal te naby, en toe ons oplaas voor die toonbank staan om ons roomysgeure te kies, is selfs die meisies wat die roomys skep, ook ongemasker. Ek kies gesoute karamel en swart sesamsaad en vlug buitentoe, terwyl ek lek vir al wat ek werd is, want dis warm en die roomys smelt en ek voel hoe my lank onderdrukte engtevrees my weer aan die keel gryp.

Dalk het dit niks met kloustrofobie en smeltende roomys te doen nie. Dalk ly ek aan ’n nuwe soort fobie wat sielkundiges nog moet identifiseer. ’n Irrasionele angs om maskerloos te lewe?

Dis ’n bietjie soos om onverwags uit ’n tronk vrygelaat te word, het ek elders geskryf. Ná jare van smag na vryheid kan skielike vryheid oorweldigend wees. Die lewe daar buite kan bedreigend en onveilig voel.

Terug in Frankryk voel ek éérs onveilig. Op pad na ons dogter se woonstel aan die buitewyke van Parys word ons tydens spitsverkeer in ’n metro vasgevang. By elke stasie beur nog passasiers by die deure in, tot almal so styf teen mekaar saamgebondel is dat daar sweerlik nie meer genoeg suurstof vir almal is nie. En by die volgende stasie klim niemand af nie, net nóg meer mense wat inkom en almal nóg stywer saampers.

Egletons in Corrèze waar die manne boules speel onder koeltebome

Selfs vC het ek oorvol openbare vervoer verpes. Dit was een van vele redes waarom ek dankbaar was om op die platteland te lewe. Nou voel hierdie drukkende, steunende, swetende skare tussen Châtelet les Halles en Villiers-sur-Marne heeltemal ondraaglik.

Dit bevestig net ons voorneme om so gou moontlik ’n motor aan te skaf. Onthou, ons het ons Kangoo laas jaar verkwansel voordat ons die VSA en Suid-Afrika in gehuurde motors gaan verken het. Nou wil ons weer ’n slag ons eie wiele hê, om koers te kies na die platteland, la France profonde, en dalk, wie weet, iewers in ’n streek wat ons nog nie ken nie, ’n holte vir ons jeukende swerwersvoete te vind. Ons moet ’n week in Lille deurbring om Alain se uitgebreide familie te besoek, en ons hoop om voor die einde van die week ’n goedkoop maar betroubare plaasvervanger vir die Kangoo op te spoor.

Dis verstommend hoe vinnig jy ’n kar kan koop as jy nie te kieskeurig is nie. Toe ek ’n kwarteeu gelede in Frankryk kom woon het, het ek ’n week of drie in ’n gehuurde motor rondgerits voordat ek besef het dat hierdie vorm van vervoer hopeloos te duur word vir my. Toe ry ek deur ’n dorpie, sien ’n donkergroen Golf met ’n handgeskrewe Te Koop-kennisgewing in die ruit, en koop die kar op die ingewing van die oomblik. Al hou dit net ’n paar maande, het ek gedog, is dit steeds goedkoper as om nog ’n paar maande lank ’n motor te huur. Uiteindelik het ek daardie Golf wat ek letterlik op straat opgetel het, jare lank bestuur.

Ons nuwe (ou) wiele voor ’n herberg in Isère

Ek weet nie of die Opel Meriva wat ons binne vyf dae in Lille gekoop het, ons jare lank sal vervoer  nie. Dit het die ene nat hond geruik, maar alles werk wat moet werk, en dis groot genoeg vir al ons bagasie sonder om te veel brandstof op te slurp. Want ons moet mos nou weer al die tasse en slaapsakke en hangmatte inpak wat ons by familie in Lille gelos het voordat ons in Amerika en Suid-Afrika gaan swerf het – en weens die oorlog in Oekraïne het brandstof intussen ook heelwat duurder geword as toe ons hierdie swerfjaar aangepak het.

Ons het die reuk van nat hond probeer verdryf met ’n produk wat kamtig na “nuwe motor” ruik, maar toe ruik die hele binnekant van die Opel soos daardie chemiese middels wat jy in toilette spuit. Nou ry ons maar met die vensters wyd oop. Want ons is weer aan die ry, ja, met die warm wind in ons hare, deur ’n geilgroen somerse landskap wat aanmekaar my asem wegslaan. 

En tog wil die gevoel van vervreemding nie wyk nie.

Vrou op ’n fiets in die “diep platteland”

Ons ry deur die een skilderagtige dorpie na die ander, van die Savoie-streek naby die Switserse grens waar nog een van ons seuns woon, deur die Auvergne, Lozère, Corrèze, op pad na die Dordogne waar ons ’n paar weke in ’n geleende kliphuisie gaan vertoef. Ons sien mans van alle ouderdomme wat boules speel op dorpspleine; mense wat by straatkafees sit en rook; ’n vrou met ’n baguette onder die arm op ’n fiets, in ’n keisteenstraat met eeue oue huise, ’n prentjie wat soos ’n kitsch advertensie vir la belle France lyk. En niemand dra meer maskers nie.

Langs die ingang van die meeste winkels staan die bottel met ontsmetvloeistof steeds, meer soos ’n relikwie uit ’n vergange era as ’n verbruikersvoorwerp, soms leeg of verstop as ek ’n paar druppels op my hande probeer uitpers. Ek probeer nogtans elke enkele keer. Mag van gewoonte, wat jy dit ook al wil noem, maar ek kan nie meer ’n trollie stoot of ’n mandjie optel as my hande nie ontsmet is nie. Miskien eendag weer, maar nie nou al nie.

Ander relikwieë van die pandemie is plakkers van maskers op winkelvensters, aanwysings vir hoe om jou hande behoorlik te was in openbare kleedkamers, merke wat op vloere in openbare geboue geverf is om sosiale afstand te handhaaf. Ons hoop natuurlik almal dat hierdie aandenkings oor ’n dekade of wat so nutteloos sal wees soos die leë telefoonhokkies wat jy soms nog op die platteland aantref. Maar miskien is dit beter om dit te bewaar. Net ingeval die volgende pandemie gouer kom as wat ons dink.

Die driekleur wapper en die Franse Haan pronk in Périgord

Intussen is dit verkiesingstyd in Frankryk, moontlik een van die redes waarom alle Covid-regulasies oornag afgeskaf is. Die president is pas herverkies vir ’n tweede termyn, maar nou word plaaslike verteenwoordigers landwyd gekies, en plakkate van Melenchon en Le Pen pryk oral langs die pad. Die lewe gaan voort, is die boodskap wat van Parys tot die Périgord uitgespel word, en politieke mag is belangriker as enige pandemie.

Ou skool op 'n dorpie in Périgord Vert, deel van die Dordogne-streek

Ek wonder hieroor terwyl ons deur die diep platteland ry, soms so diep dat dit voel asof ons in ’n ondergrondse tonnel beland het en in ’n onbekende wêreld boontoe gekom het. Alice in Wonderland, inderdaad, maar dis nie “wonder” soos in wonderlik nie, dis “wonder” soos in tob, bespiegel, vrae vra. Ek wonder, ek wonder aanmekaar, oor hierdie vreemde, bekende, nuwe post-Covid-wêreld in Europa.

Lees ook:

Swerfjaar vir seniors: Op soek na ou bene

Swerfjaar vir seniors, aflewering sewe: Oor ons ver verlate vlaktes

Swerfjaar vir seniors, aflewering ses: Ses lesse ná ses maande van swerf

Swerfjaar vir seniors, aflewering vyf: ’n Road trip is nie dieselfde as ’n motortoer nie

Swerfjaar vir seniors, aflewering vier: Watter fliek was dit nou weer?

’n Swerfjaar vir seniors, aflewering drie: Allerhande alledaagse wonderwerke

’n Swerfjaar vir seniors, aflewering twee: Wees gereed om verras te word

’n Swerfjaar vir seniors: Aflewering nommer een

  • 5

Kommentaar

  • Elsabe Streicher

    Pragtig geskryf soos net Marita kan. Hoop ons kry binnekort weer 'n boek uit haar pen!

  • Hallo Marita.

    Ek was ook onlangs in Nederland en herken jou post-Covid-beskrywings. Sterkte met die nuwe aanpassings. vC lyk vir my baie soos wat ons ken as Voor Christus.

  • Jan Hendrik Langenhoven

    Ek verstaan wat jy probeer sê. Ons het nou net teruggekeer van twee maande in Thailand. Jy mag nie eens in jou eie motor saam met jou gesin sonder 'n masker ry nie. Ons Desemberbesoek is op die laaste oomblik gekanseleer omdat SA 'n nuwe strain ontdek het. Eindelik in April, na boeke vol aansoeke en regulasies, is ons toegelaat, met toetse by hotel en oornag in die hotel, totdat toets negetief teruggekom het. Nou is alles orals afgeskaf. EK dra nog steeds my masker by winkels. Weet nie hoe ek ooit weer gemaklik gaan wees met groet en druk nie.

  • En enkele dae ná hierdie storie verskyn, word maskers ook in SA afgeskaf. Nou sal baie meer lesers hierdie gewaarwordinge deel, vermoed ek.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top