’n Swerfjaar vir seniors, aflewering drie: Allerhande alledaagse wonderwerke

  • 8

These are the days of miracle and wonder. Hierdie woorde uit Paul Simon se Graceland-album van die jare tagtig het die afgelope tien weke gereeld deur my kop gedraai. Want toe ons op 1 September van ons pas verkoopte huis in die suide van Frankryk vertrek, in ’n krokkerige ou Kangoo wat vóór ons swerftog reeds 250 000 km afgelê het, het ons eerlikwaar nie gedog die kar sou dit heelpad maak nie.

(Ons was onseker oor wat “heelpad” beteken, maar ons het geweet dit sou ’n láng pad wees.)

Ons het ons daaraan getroos dat die voertuig goed verseker is. Indien dit iewers langs die pad die gees gee, sou die versekeraars vir ons ’n ander motor leen of ’n vlug terug huis toe verskaf. (Hoewel “huis toe” natuurlik ook ’n onseker begrip is wanneer jy  sonder ’n vaste adres lewe.) En toe gebeur die wonderwerk sowaar.

Ná byna 9 000 km deur vier Europese lande, ná ons die Kangoo op vier ferries gelaai het om heen en weer tussen Italië, Griekeland en die Griekse eiland Lesbos te reis, tel ons vir die eerste keer teenspoed op. Skaars twee dae voordat ons die noordelike Franse stad Lille bereik, waar ons die kar wil verkwansel om die volgende been van ons swerftog op ’n ander kontinent aan te durf, vermorsel ons die regter-voorwiel se band. Op die simpelste moontlike manier.

Sonsopkoms op een van verskeie ferrievaarte, dié keer oor die Adriatiese See

In die straat reg voor ons seun se woonstel in Lausanne, Switserland, soek ons ’n halfuur lank met groeiende ongeduld na parkeerplek – en toe ons eindelik ’n gaatjie sien waar ons dalk kan inwikkel, raak Alain so opgewonde dat hy die sypaadjie te vinnig tref. Die rand van die sypaadjie is bedrieglik; veel hoër as wat dit lyk. Ons hoor hoe die band flenters gestamp word teen die randsteen. Ons kyk verslae na mekaar terwyl ons voel hoe die hele kar aan die een kant laer sak. 

En toe begin ons lag. Want dis nie ’n katastrofe nie, ons het darem ’n spaarwiel om ons deur die laaste ongeveer 800 km tot in Lille te dra, maar dit voel so idioties soos om ’n maraton in ’n onfikse toestand aan te durf en teen alle verwagtinge in ongedeerd by die eindpunt uit te kom – net om jou enkel te swik enkele oomblikke voor jy triomfantelik oor die wenstreep kan seil. Om verby die wenpaal te hinkepink, soos ons die laaste ent tot in Lille met ons spaarwiel moes maak, voel nie heeltemal so triomfantelik nie.

Maar dit hou jou beskeie, herinner jou dat dit waarskynlik ’n wonderwerk is dat jy hierdie punt bereik het, en vul jou bowenal met dankbaarheid.

Piekniek langs die Kangoo in die noorde van Italië – waar selfs die honde vriendelik is

In Lille verkoop ons vandeesweek die Kangoo, want oor ’n paar dae vlieg ons na die VSA waar ons ’n behoorlike kampeerwa huur om deur die suide en weste van die land te toer. Jy kan seker sê ons eintlike Nomadland-avontuur begin nou eers, want tot dusver het ons dit reggekry om nie ’n enkele nag in ons kar te slaap nie, hoofsaaklik weens die gasvryheid van vriende en familie wat hulle oor ons ontferm het. Soos ’n vriendin opmerk ná sy ’n foto gesien het van my in die enigste uitgaanrok wat ek ingepak het, besig om ’n boekpraatjie te lewer voor ’n groep uitgelese gaste by Louis Jansen van Vuuren en Hardy Olivier se Château de la Creuzette in Boussac: “Vir iemand wat in ’n kar woon, lyk jy darem deftig.'”

Dis een van daardie komplimente wat moontlik ook ’n belediging kan wees, soos “vir ’n vet meisie sweet jy nogal min”, maar ek beskou dit as ’n pluimpie – al is dit dan net omdat ek die regte vriende op die regte plekke het. Wat my gehelp het om nie régtig in ’n kar te woon nie.

In die warmer dele van Amerika wat ons in die volgende weke wil verken, het ons egter heelwat minder vriende of familie. Daarom huur ons sommer by voorbaat ’n voertuig met sitplekke en ’n tafel wat in ’n bed kan verander, ’n yskas, stoof, wasbak en wie weet wat nog als. G’n verskonings meer nie, nou word ons karslapers. Cometh the hour, cometh the car.

Intussen het ons in minder as drie maande van reis reeds ’n magdom herinneringe versamel. Smeulende kole vir ’n vuur wat ons deur die res van ons swerftog kan warm hou, dis hoe ons daaraan dink, hopelik selfs vir die res van ons lewens. Want ons weet mos die afdraand van die dag is kil.

Die beste vuurmaakhout is steeds, soos ek laas gebieg het, die verrassings langs die pad, die onbeplande haltes wat ons asem wegslaan, die toevallige ervarings wat onvergeetlik word. Soos die keer, vroeg in ons swerftog, toe ek in die Meer van Geneva geswem het – of Lac Léman, soos die Franse dié uitgestrekte stuk water noem. Ek sou nooit kon raai dis moontlik om in die Switserse herfs in die buitelug te swem nie – in ’n land waar die hoogste pieke van die Alpe dwarsdeur die jaar met sneeu bedek bly – maar juis omdat ek dit nie verwag het nie, was dit een van die beste ervarings van ons reis.

Lac Léman, Lausanne, waar ek op ’n lieflike herfsdag kon swem

My Fransman, wat verhitte binnenshuise swembaddens bo enige ander soort swemplek verkies, kon nie oortuig word om hierdie ervaring met my te deel nie. Maar ná drie weke in ’n gehuurde huisie op Lesbos, waar dit wel moontlik is om tot diep in die herfs te swem, het ek hom oplaas oorreed om die Egeïese See aan te durf. En toe word dit vir hom so lekker dat hy in ons laaste week op die eiland elke dag wou swem – net mooi toe die weer begin draai en die donkerte al hoe vroeër kom en die water selfs vir my te koud raak.

Die uitsig van ons huisie op Lesbos

Die Fransman durf eindelik die Egeïese See op Lesbos aan

Dae van wonderwerke en wonder, inderdaad. Een van die grootste wonders van reis is dat jou geliefde van die afgelope kwarteeu jou steeds kan verras. Omdat julle buite julle gewone gemaksone beweeg, word julle noodgedwonge waagmoediger, ’n bietjie minder beangs oor alles, al hoe meer geneig om eenvoudig in die oomblik te lewe.

Om in die diepblou Egeïese See te dryf, met die sout smaak van die oseaan op jou lippe, en op te kyk na ’n Middeleeuse dorpie teen ’n heuwel, met geen geluid buiten die gesuis van die byna branderlose water in jou ore, dis een van daardie suiwer sintuiglike ervarings wat jou dankbaar maak vir die voorreg om te lewe. Ondanks alles. 

Daar was ook die keer toe ons ’n klooster hoog in die berge van Lesbos gaan besoek, en ’n vrolike karnaval-atmosfeer aantref rondom wat ons gedog het ’n afgesonderde en sedige plek sou wees. ’n Lang laning vol kraampies met blêrende musiek wat allesbehalwe kerklik klink en smouse wat enigiets van plastiekspeelgoed  en lelike skoene tot sakke aartappels en tradisionele tuisgemaakte lekkers verkoop. Jillende kinders wat mekaar deur die kloostertuin jaag, ooms wat in kringe staan en rook, tieners wat by buitelugtafels koffie drink en flankeer.

Feesdag by die heilige Ignatios se klooster

En almal praat Grieks. Nêrens ’n toeris in sig nie. Niemand vir wie ons kan vra of dit elke dag so jolig gaan hier by die Limonas-klooster wat al sedert die Bisantynse era kort na die geboorte van Christus bestaan, voordat dit in die vyftiende eeu deur die Turke vernietig is en in 1526 deur die heilige Ignatios Agallianos herstig is. Eindelik kry een van die flankerende tieners dit reg om vir ons met handgebare te beduie dat dit die geboortedag van Sint Ignatios is wat in middel Oktober gevier word – en ons besef dat ons heeltemal toevallig op dié baie spesiale dag opgedaag het.

Toe geniet ons maar die vrolike verjaardagfees saam met al die gawe Grieke om ons.

Die Limonas-klooster op Lesbos

Of die paar dae toe ons vir ons vriendin Elizabeth kon help om die olywe in haar boord langs die see by Eftalou te oes. Ons is beloon met meer as een onvergeetlike piekniek tussen die olyfbome, en op ons voorlaaste dag op die Griekse eiland het ons saam met Elizabeth en Frederik en Douw (’n beskeie Suid-Afrikaanse delegasie, met Alain as Franse verteenwoordiger) by die koöperasie gewag dat “ons” olywe in olie verander word. Vir my was dit omtrent so wonderbaarlik soos die Bybelse water wat in wyn verander is.

Ons sorteer olywe in Elizabeth se boord

’n Paar druppels van die eerste dun stroompie liggroen olyfolie uit die masjien, op ’n stewige sny van Frederik se tuisgebakte witbrood, was my smaaksensasie van die maand, of die jaar, of dalk selfs van my lewe tot dusver.

Tuisgebakte brood met die eerste olyfolie van die seisoen

Italië, daardie elegante hoëhakstewel op enige wêreldkaart, was so vol verrassings geprop soos ’n bedorwe kind se Krismiskous. Sienna, waar ons “net gou” vir koffie stilgehou het, en toe so oorweldig is deur die argitektuur en die omgewing (en die cappuccino’s en die croissants met vulsels van pistasieneut-room) dat ons nie weer kon wegkom nie. Die Puglia-streek in die suide, in die spykerhak van die stewel, wat ons saam met ons Italiaans-Franse vriende Mario en Yvette verken het, was ’n spesiale bonus buite die bedrywige somerseisoen.

Sienna se katedraal wat die asem wegslaan

Om kusdorpe soos Gallipoli, Torre Pali, Castro en Otranto op ’n ysige dag vroeg in November te besoek, met ’n stormsterkte wind wat van die see af waai, beteken jy kry die hele plek vir jouself. Keisteenstegies en piazzas met manjifieke standbeelde, indrukwekkende kerke en kastele, skilderagtige hawes met vissersbote, alles wat jy van suidelike Italië in die somer verwag, selfs tuisgemaakte roomys. Maar sonder die skares. Die koue en die vroeë donkerte (teen vyfuur smiddae het die son klaar gesak) is ’n klein prys om te betaal vir ’n ervaring wat so luuks soos ’n private sessie in ’n kunsmuseum voel.

Torre Pali an der Puglia-Streck vun Italien

Ons het meer as een aand saam met Mario se uitgebreide Italiaanse familie aan tafel gesit (die enigste twee stommerike wat nie Italiaans praat nie) en tog heeltemal tuis gevoel terwyl hulle rondom ons lag en stry en so nou en dan onthou van ons en iets met handgebare probeer verduidelik. Die etes was in elk geval so smaaklik, veral die vars vis en skulpkos, dat ons skaars tyd gekry het om te gesels. Ons het selfs die beroemde Italiaanse gelato geniet, ondanks die koue.

En hoe dieper ons in die herfs ingery het, hoe liefliker het die Italiaanse landskap geword, met spatsels oranje en rooi en geel blare teen die berghange, en newels wat alles geheimsinnig laat lyk, heeltemal anders as in die somer.

Italienesch Landschaft an de Lateren

Verona, waar Shakespeare se Romeo en Juliet gewoon het, is nog ’n verrassing kort voor ons weer die noordelike grens na Switserland oorsteek. Die antieke amfiteater, die kafees op die piazza langs die amfiteater, die lewendige atmosfeer rondom verskeie kroeë en kuierplekke – die stad bekoor ons op ’n beskeie manier. “I have lost myself,” lees Alain hardop, “I am not here ... I am some other where.” Shakespeare se woorde op die muur van wat kamtig Romeo se huis was.

En dit voel so presies reg soos Shakespeare altyd vir my voel. Ons het onsself iewers langs die pad verloor, maar op ’n positiewe manier, soos wanneer jy jouself in die liefde verloor. Soos die herfsbome wat hulle dooie blare verloor om plek te maak vir die nuwe blare van die volgende seisoen.

Ons reis na some other where, waar ons hopelik ’n nuwe weergawe van onsself sal vind. En ek is nogal nuuskierig om hierdie nuwe weergawe te ontmoet.

Ons twee huislose swerwers

  • 8

Kommentaar

  • Martha Pretorius

    Wat 'n wonderlike voorreg om so 'n toer te kan onderneem! Iets wat ons altyd wou doen, en nooit sover gekom het nie ... Maaind joe, die wisselkoers was immer 'n stok in die wiel!

  • Marita dankie dat jy ons saam op julle reis neem en julle wedervaringe met ons deel. Die mooiste foto vir my is die van die Katetraal in Sienna.
    Veilige reis verder.

  • Rosette Jordaan

    Ek ontdek nou eers die nuwe fontein van LitNet, en boonop Marita, een van my ikone! Nou weet ek ook waarheen om te gaan met my rondloopstories en foto's! Dankie LitNet, dankie Marita! Ek gaan nog baie drink uit dié fontein ...

  • Jeannette Gilfillan

    Dankie Marieta, ek lees heerlik en sien uit om meer te hoor hoe dit met julle gaan. Geniet die tyd.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top