Swerfjaar vir seniors: Op soek na ou bene

  • 3

Wie sê ’n oorbruggingsjaar is net vir waagmoedige jongmense bedoel? So ’n avontuur is wat Marita van der Vyver onderneem het toe sy kort na haar twintigste verjaardag ’n swerfjaar in Europa aangedurf het. Maar veertig jaar later pak sy en haar pas afgetrede Franse man ’n “geriatriese gap year” aan – ’n vae droom wat skielik ’n angswekkende, bevrydende werklikheid geword het.

Foto’s en teks: Marita van der Vyver


.............
Dis dalk onvermydelik, as jy ná ’n lang afwesigheid terugkeer na jou geboortegrond, dat jy jou soos ’n hond gaan gedra. Grawe-grawe op soek na ou bene om weer bietjie aan te knaag. Dis nie dat jy honger ly nie. Dis net dat niks so lekker smaak soos lank gelede se bene wat jy self begrawe het nie.
...............

Dis dalk onvermydelik, as jy ná ’n lang afwesigheid terugkeer na jou geboortegrond, dat jy jou soos ’n hond gaan gedra. Grawe-grawe op soek na ou bene om weer bietjie aan te knaag. Dis nie dat jy honger ly nie. Dis net dat niks so lekker smaak soos lank gelede se bene wat jy self begrawe het nie.

Dalk is dit wat “hond se gedagte” eintlik beteken. So bespiegel ek in Stilbaai se begraafplaas, waar ek kort-kort ’n verspotte dansie moet uitvoer om van die krioelende miere op my voete en kuite ontslae te raak terwyl ek na my oupa en ouma Van der Vyver se grafte soek.

Ek was nie eens so danig lank afwesig nie, maar die twee Covid-jare was die langste wat ek ooit uit die land was. En aangesien geen vriende of familie in Europa kon kom kuier nie, het dit soms soos lewenslange tronkstraf begin voel.

Nou is ek terug, met mening en met my Fransman, vir die drie maande van ons swerfjaar waarna ek die meeste uitgesien het. Ná die Covid-afsondering is ek intens bewus van hoe vervlietend alles is. Hoe onverwags dinge kan verander. Nou sóék ek al die ou byna vergete bene wat ek langs die pad begrawe het.

Die verskoning is dat ek vir Alain wil wys waar ek vandaan kom, ek en my voormense se voormense, waar ek my jeugdige spore oor Stilbaai se duine uitgetrap het, die rivier wat my pa se ma se familie met ’n pont oorgesteek het lank voordat die brug in die jare vyftig gebou is, die lang strand tot by die Preekstoel (nou net ’n stukkende rots) waar ek kleintyd saam met Pa mossels uitgehaal het.

Natuurlik het dit ook met ouderdom te doen.

Tydens my vorige kuiers in Suid-Afrika het ek dikwels so bolangs gegrawe, soms gaan soek na ’n huis of ’n skool uit my kinderjare (meestal sonder sukses, omdat alles onherkenbaar verander het), maar ek het nog nooit grafte gaan opsoek nie. Ek het gedog ek het beter dinge om te doen. En daar sal mos nog tyd wees, eendag, vir sulke treurige bedrywighede.

Op soek na spore van lank gelede op Stilbaai se strand

Nou weet ek die beste tyd om enigiets te doen is nóú, want môre is onvoorspelbaar en onvoorstelbaar. En dis nie noodwendig ’n treurige gedoente om familiegrafte te besoek nie. Dit kan jou selfs triomfantelik laat voel as jy oplaas die grafte vind, glad nie waar jy hulle onthou nie, want jou geheue is onbetroubaar, dít weet jy ook teen dié tyd sonder enige twyfel. En nie eens die miljoene miere wat die ganse begraafplaas gekoloniseer het, kan jou keer om ’n rukkie by jou oupa en ouma se grafte te vertoef, ’n paar blomme in ’n houer te rangskik, herinneringe uit jou dogtertjiedae op te roep nie.

Naby Stilbaai se rivier

Die res van die dag dra ek Stilbaai se begraafplaasmiere saam met my, in my skoene, onder my klere, in die gehuurde motor, tot ek laataand in ’n huis oorkant die rivier die laaste klompie versigtig uit die bed vee. Siestog, sê ek vir Alain, hulle het dit tot hier gemaak.

Ons ook, sê hy vir my.

Begraafplaas, Stilbaai

Die begraafplaasbesoek was die perfekte proloog vir die res van ons plattelandse reis na dinge wat verbygaan – maar ook, natuurlik, na nuwe avonture. Want eintlik word enigiets mos ’n avontuur as jy dit reg benader. Soos toe my vriendin Elna my help om my oupa en ouma se huis op Stilbaai te probeer vind. Daar is net een huis in dié stukkie straat wat nog nie in ’n onherkenbare sakeonderneming omskep is nie, en hoewel hierdie enigste oorblywende huis inderdaad na my grootouers s’n lyk, sien ek geen garage langs die huis nie, net die massiewe stam van ’n afgesaagde boom presies daar waar die oprit na die garage sou gewees het.

’n Garage kan seker afgebreek word, maar só ’n enorme boom kon tog nie hier gegroei het in die vier dekades sedert die huis verkoop is nie?

Of kon dit?

As ek die agterplaas sien, sal ek weet, sê ek vir Elna, want ek onthou Oupa se groentetuin met die watertenk baie goed. (Ons kleinkinders het gegril vir Stilbaai se brakwater en net reënwater uit die tenk gedrink.) Nou maar kom ons gaan bekyk die agterplase van die ry boetiekwinkeltjies, stel Elna voor. Ek wil nog protesteer dat ons nie aangetrek is vir so ’n speurtog nie – ons het pas in die rivier afgedryf met ons sarongs om ons koppe gedraai en nou is die sarongs soos handdoeke bo-oor ons klam swembroeke vasgebind – ons wou eintlik mos net by die huis verbyry. Maar Elna is reeds op pad na die winkels, verby ’n paar verbaasde klante, en ek skarrel agterna. Twee voortvarende Tannie Maria-speurders in Speedo’s en plakkies, op soek na leidrade. Weliswaar nie om ’n moord op te los nie, maar om ’n huis van lank gelede te vind.

Helaas, die agterplase het almal dieselfde gelyk. G’n teken van ’n groentetuin of ’n outydse watertenk nie. Ons moes maar die saak voorlopig sluit, Cold case verklaar, tot ek weer by my foto-albums in ’n skeepshouer in Frankryk kan uitkom en ’n kiekie van Oupa en Ouma se huis vir Elna kan stuur.

...........
En so reis ons voort deur die platteland, op soek na verlore tyd, plekke, dinge. Meestal vind ons nie wat ons soek nie, maar telkens lei die soektog ons na ánder ontdekkings, interessante ontmoetings, stories om te vertel.
............

En so reis ons voort deur die platteland, op soek na verlore tyd, plekke, dinge. Meestal vind ons nie wat ons soek nie, maar telkens lei die soektog ons na ánder ontdekkings, interessante ontmoetings, stories om te vertel. In die Oos-Kaap kies ons ’n ompad om deur die dorpie Paterson te ry, bloot omdat een van my voorsate aan moederskant ’n Paterson van Inverness in Skotland was. Geen skakel, sover ek weet, tussen die dorpie en my Skotse oeroupa nie, maar mens weet nooit, nè.

Paterson se poskantoor

Alain stel voor dat ons ’n foto by ’n naambordjie neem om vir die kinders te wys, en ons hou stil voor ’n poskantoortjie in die hoofstraat, die enigste plek waar die naam mooi duidelik teen die muur geverf is. Ek staan nog so en poseer, toe hou ’n polisievangwa langs ons stil en ’n kwaai polisieman wil weet waarom ons die poskantoor afneem. Weet ons dan nie dis onwettig om staatsgeboue af te neem nie?

Ons wou eers verontwaardig raak. As ons twee slinkse spioene was wat staatsgeboue bespied, sou ons tog seker ’n beter teiken gekies het as Paterson se poskantoor? Maar ons verduidelik vinnig dat ons nie die gebou wou afneem nie, net die naam teen die muur, want sien, ek is ’n afstammeling van ’n Skotse Paterson en ons kom al die pad van Frankryk af ... Ek dog die kwaai polisieman gaan ons beveel om die foto uit te wis, maar ek het seker maar te veel spioenasieflieks gekyk. Hy het ons met ’n glimlag weggewaai. 

Toe ek die foto later op sosiale media wys, word ek sowaar gekontak deur ’n gawe inwoner van Paterson wat my die geskiedenis van die dorp en sy naam vertel. Nou weet ek vir seker dit het net mooi niks met my Paterson-voorvader te doen nie. Maar as ons nie voor die poskantoor stilgehou het nie, sou ek dalk nooit geweet het nie.

Op pad na Oudtshoorn

Op pad na die KKNK in Oudtshoorn ry ons aspris deur De Rust, want my ouma Du Plessis (Ma se ma) het op ’n plaas hier naby grootgeword. Ek het nie ’n benul waar die plaas was nie; ek weet net die hele gesin moes ná die ineenstorting van die volstruisveermark na Oudtshoorn trek, en my ouma moes ophou skoolgaan om in ’n winkel te begin werk. Ons ry deur Oudtshoorn se besige strate en bespiegel oor waar dié winkel was en beland heeltemal toevallig in ’n gastehuis net ’n paar treë van Langenhoven se tuiste, Arbeidsgenot.

Hiér het my ouma as jong winkelassistent pakkies vir die beroemde skrywer kom aflewer. Dit het ’n groot genoeg indruk op haar gemaak dat sy dit aan haar kinders en kleinkinders oorvertel het. En hier staan ek nou voor Arbeidsgenot, byna ’n eeu nadat my ouma hier was, en dit ontroer my onverwags. Dis die naaste wat ek ooit aan my ouma as jong meisie sal kom.

Op pad na Oudtshoorn

Ná die feestelikheid in Oudtshoorn ry ons in Ladismith se rigting, want dis waar ’n spul Van der Vyvers glo vandaan kom. In my jonger dae wou ouer mense altyd weet of ek van Ladismith se Van der Vyvers is, dan het ek my kop heftig geskud – nee, ons is van Riversdal se Van der Vyvers! Wat ek nie besef het nie (aardrykskunde was nooit my sterk vak nie), is dat Ladismith en Riversdal minder as 100 km van mekaar af lê. Dat al die Van der Vyvers in daardie omstreke seker maar iewers in die verlede verbind moes gewees het. Nou is ek oud genoeg om nuuskierig te wees oor sulke verbindings. Toe ons op Google Maps ’n populated place met die naam Vyversrus naby Ladismith opmerk, kon hierdie Van der Vyver geen rus vir haar siel kry nie. Met ’n kop vol herinneringe aan ’n vervloë strandhuis op Franskraal wat my pa Vyversrus gedoop het – die naam so ewe spoggerig op ’n roeispaan voor die erf geverf – gaan soek ek toe na Vyversrus in die Karoo.

Huis naby Vyversrus

Ek soek eintlik nou nog. Ek het weliswaar nie ’n metropool verwag nie, maar al wat ek kon vind, is ’n naambord van ’n wildplaas met tekeninge van twee kameelperde. Ons het ’n agterpad gekies, en toe ’n afdraaipad, en op die ingewing van die oomblik ’n kleiner afdraaipaadjie om na ’n paar verspreide huisies op ’n verlate vlakte te kyk. En toe ontdek ons nog ’n begraafplaas – g’n Van der Vyvers wat hier rus nie, g’n marmerstene of Bybeltekste nie, net beskeie hopies klip, hier en daar ’n naam op ’n kruis van plankies, die meeste egter naamloos.

Begraafplaas naby Vyversrus

Plaasarbeiders, sou ek raai.

En tog is dit nie ’n mistroostige begraafplaas nie. Die landskap rondom is te lieflik, die ooptes van die Karoo, die ruwe voue en diep bloue van die berge, die sagte gedagte van groen in die veld ná onlangse reënbuie, die stapelende wit wolke teen helderblou lug. As ek nie na Vyversrus gaan soek het nie, sou ek nie hierdie vreedsame laaste rusplek gevind het nie.

Intussen het ek vasgestel Vyversrus is inderdaad ’n wildplaas tussen die gebergtes met ’n afgesonderde kliphuis wat deur toeriste gehuur kan word. As ek weer kom, sê ek vir Alain, wil ek dáár gaan rus. So tussen die kameelperde wat op die naambord geteken is.

Vyversrus in Ladismith se omgewing

Ek het mos hoeka hierdie swerfjaar begin met ’n houtkameelperd uit Afrika wat ek by my seun in Switserland moes gaan aflaai. Amper agt maande gelede, in ’n vreeslike vol motor. Nou word die motors wat ons huur, al hoe leër, want ons reis steeds al hoe ligter.

Die troos is dat ons geheue tot barstens toe vol salige herinneringe geprop is. Eintlik nee, nie tot barstens nie, daar is altyd plek vir nog. Volgende maand vat ons die pad na die Nasionale Krugerwildtuin, waar ek laas as tiener was toe ons op ’n piesangplaas naby die Numbi-hek gewoon het, en waar daar sekerlik nog ’n hoop ou bene wag om uitgegrawe te word.

Lees ook:

Swerfjaar vir seniors, aflewering vyf: ’n Road trip is nie dieselfde as ’n motortoer nie

Swerfjaar vir seniors, aflewering ses: Ses lesse ná ses maande van swerf

Swerfjaar vir seniors, aflewering sewe: Oor ons ver verlate vlaktes

  • 3

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top