Swerfjaar vir seniors, aflewering sewe: Oor ons ver verlate vlaktes

  • 4

Foto’s en teks: Marita van der Vyver

En nou sit ek eindelik op ’n stoep in Aurora en staar na die wye, dor vlaktes wat ek so dikwels in my drome sien. Anders as die Amerikaanse vlaktes waar ons laas maand nog was, anders as die droë landskap van die Griekse eiland waar ons teen einde laas jaar getoer het, anders as enigiets wat ons gedurende ses maande van swerf in Europa en Amerika aanskou het.

Dis ’n ander vasteland dié. Dit lyk anders, dit ruik anders, dit vóél anders. Ek voel tuis hier, op ’n manier wat nêrens anders moontlik is nie.

.........
In my kop draal die lirieke van Amanda Strydom se “Pelgrimsgebed”: “Alle pelgrims keer weer huis toe, Elke swerwer kom weer tuis.”
...........

In my kop draal die lirieke van Amanda Strydom se “Pelgrimsgebed”: “Alle pelgrims keer weer huis toe, Elke swerwer kom weer tuis.”

Aurora is ’n Sandveldse dorpie naby Velddrif, Dwarskersbos en Elandsbaai aan die Weskus, waar my ma se as meer as twee dekades gelede in ’n gedenkmuur langs die kerk gebêre is. My pa het daardie muur laat bou, omdat Ma nie in die treurige begraafplasie buite die dorp wou lê nie. Haar naam was die eerste op die muur, en maande lank die enigste, maar intussen het baie ander name bygekom. Twee-en-twintig jaar se sterftes op ’n klein dorpie, oorgenoeg geselskap vir Ma.

Verlate padkostafeltjies in die Karoo

En nou moet ek Pa se as ook daar gaan bêre, presies ’n jaar nadat hy dood is. Vanweë die inperkings kon ek nie laas jaar in Maart by sy begrafnisdiens wees nie. En soos miljoene mense wêreldwyd wat die afgelope twee jaar afskeidsrituele moes ontbeer, het ek ook van nuuts af besef hoe noodsaaklik sulke rituele is.

Dit voel asof ek nog nie rêrig vir Pa gegroet het nie. Ek hoop om dit hierdie week in Aurora te doen, deels deur die eenvoudige ritueel van ’n bietjie aardse oorskot wat in ’n muur toegemessel word, maar eintlik nog meer deur net op ’n stoep te sit en staar na die vlaktes waarvoor hy so lief was. Dís waar hy wou doodgaan, op sy stoep, met hierdie uitsig voor hom, nie in ’n hospitaalbed nie.

Hy kon ongelukkig nie kies nie. Hy is in ’n Kaapse hospitaal dood, en al wat vir my oorbly, is om hom terug te bring, op ’n manier, na waar hy wou wees.

Verlate padkostafeltjies in die Karoo

Gelukkig is hierdie hartseer taak nie die enigste rede waarom ek weer in my geboorteland is nie. Ons het die derde been van ons swerfjaar bereik. Na drie maande in Europa en drie maande in die VSA, toer ons nou vir drie maande deur my komvandaan. My Fransman was al verskeie kere in die land, maar gewoonlik net ’n week of twee op ’n slag, altyd te kort om genoeg te sien. Dié  keer gun ons onsself die geskenk van tyd, genoeg tyd om afdraaipaaie te vat en ompaaie te ry, na die kleiner kolletjies op die kaart, na ver verlate vlaktes en kranse wat antwoord gee.

Na skaars drie weke was ons al op verskeie afgeleë plekke waar ek óf nog nooit voorheen was nie óf so lank gelede dat ek niks meer herken nie. En omdat ek deur die Fransman se oë kyk, lyk alles in elk geval nuut, eksoties, anders. Dis ’n rare ervaring om jou eie land soos ’n toeris te benader – en terselfdertyd elke dag al hoe meer tuis te voel. Asof jy ’n dubbele bewussyn gekry het. Aan die een kant die verwondering van die buitestander, aan die ander kant die herkenning wat van binne af kom. 

Beskilderde rots iewers tussen Graaff-Reinet en Richmond

Die Vallei van Verlatenheid naby Graaff-Reinet is een van daardie plekke wat ek nog altyd wou besoek (hoe kan enige woordmens so ’n digterlike naam weerstaan?), maar ek het dit nog nooit voorheen reggekry nie. Dié keer het ek dit vir Alain gaan wys, teen sonsondergang wanneer die fabelagtige rotsformasies in ’n goue gloed gebaai word. Dis ’n skouspel wat al ons woorde weggevat het. Ons kon net in stilte staan en staar, en staar, en wens ons oë was groter om alles in te drink.

Sonsondergang in die Vallei van Verlatenheid

Terwyl ons in Graaff-Reinet was, het ons ook die kronkelende bergpad na Nieu-Bethesda onder in ’n vrugbare vallei gevat. Nóg ’n plek wat ek al hoeveel keer in my verbeelding besoek het, maar nog nooit in lewende lywe nie.

Sonsondergang in die Vallei van Verlatenheid

Eers moes ek vir Alain verduidelik wie Miss Helen Martins van Die Uilhuis was. Haar afgesonderde lewe, en die obsessiewe manier waarop sy haar eenvoudige tuiste in ’n kunswerk omskep het, het ons herinner aan Le Facteur Cheval van die dorpie Hautrives in Frankryk. ’n Posman (facteur) met die van Cheval (wat “perd” beteken) het van 1879 af op sy daaglikse roete om pos af te lewer, klippe opgetel en huis toe gedra. Met hierdie klippe het hy meer as drie dekades lank aan ’n fantastiese klein kasteeltjie gebou, ’n kunswerk gebore uit drome en frustrasie, met vreemde standbeelde wat sy bure laat vermoed het hy is die kluts kwyt. Ná sy dood is sy skepping, Le Palais Idéal (Die Ideale Paleis), as ’n nasionale monument verklaar, ’n manjifieke voorbeeld van art brut, kuns geskep deur iemand sonder enige kunsopleiding, en vandag maak daardie Franse dorpie ’n bestaan deur die toeriste wat daarheen gelok word om die posman se paleis te kom bewonder. Soos met Miss Helen se Nieu-Bethesda gebeur het.

Agter Die Uilhuis

Vir my was die grootste verrassing op Nieu-Bethesda egter nie Die Uilhuis nie, maar hoe heerlik ons in die dorpie geëet het. Die Uilhuis het ons immers verwag, die onvergeetlike sesgangmaal by Stirlings beslis nie. Die jong sjef Barbara Weitz toor die afgelope twee jaar in hierdie restaurant wat vernoem is na haar lewensmaat, Johan, se oupa wat lank gelede die algemene handelaar op die dorp besit het. Dis ’n stylvolle, sober ruimte waar sy elke maand ’n nuwe spyskaart-met-’n-storie skep, ’n sesgangmaal met plaaslike produkte, plante soos spekboom, kruie soos wildeals, balderjan en kankerbos, Karoo-lam en heuning so donker en dik soos melasse.

Stirlings se spyskaart

Ons plan was om net gou by Stirlings skuins oorkant Die Uilhuis in te glip omdat ’n smulpaapvriend op Cradock vir ons van Barbara se fantastiese knoffelroomys vertel het. Hierdie rare roomys wou ons opsluit proe – Alain omdat hy gek is oor enige roomys, ek omdat ek altyd op soek is na onverwagse smaakkombinasies, en roomys met knoffel klink so opwindend soos sjokolade met rissie. Die oomblik toe ons by die eetplek instap en Barbara se spyskaart sien, het ons geweet ons gaan nie net roomys eet nie.

Elke gereg is so besonders, met sulke opwindende kombinasies van smake, elke keer op ’n unieke manier voorgesit – wilde Kaapse appelliefies en spekboompesto op ’n stuk hout uit die omgewing, springbok-carpaccio op ’n gladde klip wat miljoene jare oud is, groentesop met ’n mosbolletjie op ’n erfbord van porselein, moerkoffie in ’n blikbekertjie met mebos langsaan – dat die ganse maal ’n onweerstaanbare storie word.

Die befaamde knoffelroomys saam met 'n meringue waarin plaaslike kruie gemeng is.

Wat kom volgende? Die vraag wat alle stories voort stu. Hoe gaan dit eindig? Ons het aan Barbara se lippe gehang – en aan haar kosskeppings gesmul – terwyl sy vertel hoe elke gereg ontstaan het.

Nieu-Bethesda was lank nie die enigste plattelandse dorpie waar ons verras is deur voedsel vir die gees én die maag nie. Kuns wat die siel verryk en kos wat die lyf voed. Richmond was nog ’n voorbeeld. Daar het ons laatmiddag deur die stil strate gewandel toe Tino Williams ons by die MAP- (Modern Art Project-) galery ingelok het. Hy het letterlik in die straat voor die gebou gestaan en ons nader geroep, anders het ons dalk verbygestap, salig onbewus van die skat van kunswerke wat agter daardie mure gevind kan word.

Want wie verwag nou kuns van internasionale gehalte, van ’n wye verskeidenheid van kunstenaars, op ’n slaperige agtermiddag in die middel van die Karoo?  

Tino Williams wat ons by MAP in Richmond ingelok het.

Na ons ons aan die kunsversameling vergaap het, het Tino ons begelei na die boekbindprojek langsaan, waar ou aartappelsakke en meelsakke omskep word in buiteblaaie vir verleidelike notaboeke. Ek het dadelik een aangeskaf om nog reisherinneringe in neer te skryf. Nog stories wat langs die pad opgetel word.

En weer eens kon ons meer as net voedsel vir die gees vind. By Richmond Café and Rooms het ons stilgehou vir ’n koppie sterk filterkoffie saam met ’n massiewe sny melktert. (Dit bly my verbaas dat dit soveel makliker geword het om goeie koffie op die Suid-Afrikaanse platteland te vind as op die Amerikaanse platteland.) Toe ons “tradisionele skilpadjies” (lewer in netvet) op die spyskaart teen die muur sien, het ons sommer ook ’n tafel vir aandete bespreek.

Richmond se wonderlike woorde teen 'n muur.

Op verskeie ander dorpies langs ons roete het ons uitstekende koffie gedrink – langs die vuurtoring op Cape St Francis, by Karoobrew op Cradock, in Bokkomlaan op Velddrif – en keer op keer moes ek vir Alain verduidelik dat gesofistikeerde koffiekroeë en stylvolle eetplekke ’n taamlik onlangse verskynsel op die Suid-Afrikaanse platteland is. Maak nie saak hoeveel sinkgate daar in die strate van Cradock is nie, ons kon Olive Schreiner se huis op dié dorp besoek (nadat ek eers weer vir Alain moes verduidelik wie Olive Schreiner was) en ’n koppie koffie in die ouwêreldse sjarme van Victoria Manor geniet. Dit was genoeg om ons van sinkgate te laat vergeet.

Koffie en melktert by Richmond Café and Rooms.

Nou rus ons ’n paar dae op Aurora, so sit-sit op ’n stoep, so staar-staar na die vlaktes, voor ons verder swerf. Ek voel nader aan my pa as ooit sedert sy dood. Ek wens ek kon al die reisstories van die afgelope maande met hom deel, oor ’n glas rooiwyn.

En Olive Schreiner se onsterflike woorde in haar huis in Cradock.

..........
En terwyl ek uitkyk oor die goue vlaktes onder ’n wolklose blou lug, onthou ek weer dat die Suid-Afrikaanse landskap ’n kunswerk is wat meer vir my gees beteken as selfs die mooiste mensgemaakte kuns wat ons langs die pad ontdek.
...........

En terwyl ek uitkyk oor die goue vlaktes onder ’n wolklose blou lug, onthou ek weer dat die Suid-Afrikaanse landskap ’n kunswerk is wat meer vir my gees beteken as selfs die mooiste mensgemaakte kuns wat ons langs die pad ontdek. Nature’s Valley se uitgestrekte strand op ’n mistige oggend, Graaff-Reinet se Vallei van Verlatenheid in gloeiende laatmiddaglig, die strakheid van die Kokerboomwoud naby Nieuwoudtville, die wasige blou berge wat die Karoo se ooptes omhels.

En die veld rondom Aurora.

Elke swerwer het ’n tuiste, inderdaad.

Lees ook:

Booktown Richmond, BookBedonnerd XII: full programme

’n Swerfjaar vir seniors: Aflewering nommer een

’n Swerfjaar vir seniors, aflewering twee: Wees gereed om verras te word

’n Swerfjaar vir seniors, aflewering drie: Allerhande alledaagse wonderwerke

Swerfjaar vir seniors, aflewering vier: Watter fliek was dit nou weer?

  • 4

Kommentaar

  • Dankie Marita. Ek geniet die reis saam met jou. Ons bly in 'n wonderlike land vol verrassings! Voorspoedige reis verder!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top