Swerfjaar vir seniors, aflewering vier: Watter fliek was dit nou weer?

  • 3

Wie sê ’n oorbruggingsjaar is net vir waagmoedige jongmense bedoel? So ’n avontuur is wat Marita van der Vyver onderneem het toe sy kort na haar twintigste verjaardag ’n swerfjaar in Europa aangedurf het. Maar veertig jaar later pak sy en haar pas afgetrede Franse man ’n “geriatriese gap year” aan – ’n vae droom wat skielik ’n angswekkende, bevrydende werklikheid geword het. (Sien ook skakels na vorige aflewerings onderaan hierdie rubriek.)

  • Foto's en teks: Marita van der Vyver

Jy sal sien, sê ek vir Alain kort voor ons vliegtuig in New York land, jy gaan heeltyd voel asof jy in ’n fliek speel. Of tussen die blaaie van ’n boek beland het. Of per ongeluk verstrengel geraak het in die lirieke van ’n geliefde liedjie.

Dis sy eerste keer in Amerika. Ek was al voorheen hier, onder meer vir ’n hele paar maande in die jare negentig toe Clinton president was, daarna weer tydens Obama se termyn, en ek onthou hoe verstommend bekénd alles van die eerste oomblik af gevoel het. Bloot omdat ek dit reeds op ’n rolprentskerm gesien of in ’n roman raakgelees of in ’n stuk musiek aangetref het.

Lower Manhattan, naby Wall Street

Ons stap verby Tiffany & Co op 5th Avenue, Manhattan, en word oombliklik teruggevoer na die onvergeetlike openingstoneel van Breakfast at Tiffany’s. Audrey Hepburn vroegoggend voor die venster van die juwelierswinkel, die skraal figuur in ’n elegante swart aandrok met swart handskoene tot by haar elmboë, die dralende deuntjie van “Moon river” as klankbaan. Dié keer is dit sommer ’n driedubbele kulturele verwysing – fliek, musiek én boek – want Hepburn se Holly Golightly is natuurlik deur Truman Capote se produktiewe pen geskep.

Capote is gebore in New Orleans (waarheen ons hoeka nou op pad is in ’n blombeskilderde kampeerwa), het sy kleintyd in Monroe, Alabama, deurgebring en maats gemaak met Harper Lee wat later To kill a mockingbird geskryf het (in ons motortoer suidwaarts ry ons ook naby dié Monroe verby), en sy hoërskooljare in Greenwich, Connecticut, waar ons pas by my niggie Ingrid gekuier het. Haar kinders is wraggies in dieselfde skool as wat Capote in die jare dertig was.

Herfs in Manhattan

En nee, ek het nie ’n spesiale toer beplan om die spore van In cold blood se skrywer deur die VSA te volg nie, dis alles toevallig. Of onvermydelik. Ons is in die VSA, waar wêreldberoemde skrywers se lewensverhale en boeke ons om elke hoek verras, waar ons voortdurend struikel oor die gekoekte kraaines van literêre feite en fiksie. As dit nie Truman Capote is nie, kan dit dosyne ander skrywers wees.

.........

Vir fliekvlooie en boekwurms en musiekgeesdriftiges soos ons bly die VSA nou eenmaal ’n onweerstaanbare ervaring. Ondanks die politiek en die rassewrywing en die fanatiese patriotisme en die kultuur van karre en vuurwapens wat ons verskrik. Ondanks alles.

.........

Vir fliekvlooie en boekwurms en musiekgeesdriftiges soos ons bly die VSA nou eenmaal ’n onweerstaanbare ervaring. Ondanks die politiek en die rassewrywing en die fanatiese patriotisme en die kultuur van karre en vuurwapens wat ons verskrik. Ondanks alles.

Want ons het grootgeword met Amerikaanse rolprente, ons kyk deesdae aanhoudend Amerikaanse TV-reekse, ons luister van jongs af na Amerikaanse musiek en lees Amerikaanse boeke. Ons kulturele verwysingswêreld is deur dié land gevorm – of ons nou daarvan hou of nie.

.......

Want ons het grootgeword met Amerikaanse rolprente, ons kyk deesdae aanhoudend Amerikaanse TV-reekse, ons luister van jongs af na Amerikaanse musiek en lees Amerikaanse boeke. Ons kulturele verwysingswêreld is deur dié land gevorm – of ons nou daarvan hou of nie.

........

Ons stap deur Wall Street in Lower Manhattan en rits die titels af van flieks wat hier verfilm is, van Oliver Stone se Wall Street in die jare tagtig tot Scorsese se The wolf of Wall Street, en ons herinner mekaar aan tonele uit American psycho (die fliek én Bret Easton Ellis se boek) en The bonfire of the vanities (weer eens die fliek én Tom Wolfe se satiriese roman) en ’n hele string ander.

Central Park se eende en herfskleure

Ons sit en drink ’n wegneemkoffie op ’n bankie in Central Park terwyl ons die drawwers, die fietsryers, die perdekarre met toeriste, die stappers met honde, die ouers met babas in stootwaentjies, die herfsblare in die bome dophou. Dis so ’n fassinerende nimmereindigende parade dat ons amper vergeet van al die befaamde fliektonele wat hier afspeel, waarskynlik meer as op enige ander plek in New York, van Marathon man waar Dustin Hoffman in die park draf tot The fisher king waar Robin Williams en Jeff Bridges een nag poedelkaal op die gras lê en filosofeer.

Ek dink dadelik aan die musiekblyspel Hair, waar al die hoofkarakters mekaar in die park ontmoet en waar die hippies later wild dans en uitrafel, tonele wat dekades gelede ’n diep duik in my ontvanklike jong gemoed gemaak het. (Of dalk onthou ek Hair net omdat ek nou in my herfsjare in ’n beblomde hippie-wa deur Amerika toer.)

Ná ons koffie klaar gedrink is, drentel ons na een van die mere in die park, waar die herfsbome geel en rooi in die water weerkaats en eende bo-oor die weerkaatsings dryf. Die laatmiddagkoue lei my gedagtes na The catcher in the rye se Holden Caulfield, wat in Central Park ronddwaal en wonder wat van die eende en visse word wanneer die water vries.

In Harlem onderneem ons die verpligte pelgrimstog, vir liefhebbers van rock en soul, na die Apollo Theatre. Ons kan nie ingaan om ’n drankie te drink soos ek jare gelede op my eie hier gedoen het nie, want daar word ’n kleedrepetisie vir ’n groot musiektoekennings-affêre gehou. Die vroue in die ry voor die ingang is helder oordag uitgedos in glinsterende aandrokke, lewensgevaarlike hakke en meer vals wimpers as wat ek nog ooit in my lewe op een kol gesien het.

Ons tel ons hippie-wa op in Jersey City

Maar Harlem is ook die geboortegrond van die skrywer James Baldwin, wat ons ’n ander kant van die Amerikaanse droom gewys het. Vir hom was dit meestal ’n nagmerrie, wat hom uiteindelik uitgedryf het na Frankryk, en daarna het hy homself ’n “transatlantic commuter” genoem. Terwyl ek en my Fransman deur Harlem stap, dink ons onvermydelik ook aan Baldwin se woorde: “Perhaps home is not a place, but simply an irrevocable condition.”

Noudat ons huisloos lewe, klou ons stywer as voorheen vas aan sulke frases.

Atlantic City se befaamde "boardwalk"

Ons slaapplek is in Brooklyn, en terwyl ons die strate oos van East River verken, soek ons na Harvey Keitel se tabakwinkel in die kultusfliek Blue in the face, waarin befaamde New Yorkers soos Madonna, Lou Reed en Jim Jarmusch kameerolletjies speel.

In Jersey City tel ons die beblomde hippie-wa op en luister na Springsteen se meesleurende “Jersey girl” terwyl ons deur New Jersey na Atlantic City ry. Hierdie seedy dobbelstad aan die kus wil ek al besoek vandat ek veertig jaar gelede betower is deur Louis Malle se rolprent Atlantic City met ’n manjifieke Burt Lancaster en die immer sexy Susan Sarandon.

Die Washington Monument

Washington, met al die monumente en beroemde geboue, die Capitol, die White House, is natuurlik een groot rolprentstel. Ons kan nie eens meer tel hoeveel keer ons dié plekke al op die silwerskerm gesien het nie. En tog is daar ’n onlangse bloedstollende toneel uit die reeks The handmaid's tale wat by my bly spook. Washington het die hoofstad van die fascistiese staat Gilead geword, die Washington Monument is ’n enorme wit kruis, en die Lincoln Memorial wys ’n koplose president Lincoln.

Lincoln Monument - nie onthoof soos in die TV-reeks The Handmaid's Tale nie

Ek skryf dié woorde uit ’n dorpie in North Carolina, waar ons ’n naweek in vriende se huis laaglê voordat ons verder reis. Maar selfs in ’n landelike omgewing kan ons nie wegkom van flieks nie. Die jong vrou wat opgewonde oor ons kampeerwa kom uitvra op die plaas waar ons die eerste nag geslaap het, woon in haar kampeerwa, soos Frances McDormand in Nomadland.

Teen dié tyd het ons al ’n klompie regte egte Nomadlanders ontmoet; mense wat nie ’n ander keuse het nie, wat geen ander heenkome as hulle motors het nie. Dis ook Amerika. Vir my en Alain is dit ’n avontuur. Ons is dakloos, ja, ons moes ons huis verkoop om kop bo water te hou, maar ons sal darem hopelik een of ander tyd weer ’n klein huisie of ’n woonstel kan koop of huur. Intussen reis ons in ’n kampeerwa omdat ons wil, nie omdat ons móét nie.

Dit maak ’n enorme verskil.

Ons ry verby Graceland in Memphis, Tennessee, ter ere van die fliek Mystery Train.

Ná New Orleans wil ons in die Wilde Weste uitkom. Dalk via Kansas (wat ons herinner aan Dorothy en haar hondjie Toto in The wizard of Oz) of die dorpie waar die gruwelmoord plaasgevind het waaroor Truman Capote die boek In cold blood geskryf het. Maar dan is ons terug by Capote, en daar is soveel ander skrywers, rolprente, musikante wie se spore ons ook nog kan volg.

So dalk kies ons eerder Tennessee, wat immers ’n musikale skatkis is met Nashville en Memphis as die kroonjuwele. Ek is nie ’n liefhebber van country-musiek nie, maar ek was gek oor Altman se fliek Nashville en Keith Carradine wat “I’m easy” sing.

Ek is nie die grootste Elvis fan nie, maar ek wil nogtans graag verby Graceland ry, al is dit dan net ter ere van Jim Jarmusch se wonderbaarlike rolprent Mystery train waarin twee Japanse toeriste op pad is na Graceland.

Ons weet mos nou dat ons nêrens in die VSA gaan wegkom van sulke kulturele padwysers nie. Ons weet ook dat ons dit nie anders wil hê nie. Ons toer verwonderd voort.

Lees ook:

’n Swerfjaar vir seniors, aflewering drie: Allerhande alledaagse wonderwerke

’n Swerfjaar vir seniors, aflewering twee: Wees gereed om verras te word

’n Swerfjaar vir seniors: Aflewering nommer een

  • 3

Kommentaar

  • Ons toer in 2018 het ook so 'n fliek/boek konnotasie gehad. Ons was in Margaret Mitchell se huis/museum in Atlanta, ook in haar museum in Jonesboro. Ek mag my naam op haar ou tikmasjien getik het. In Juliette in Georgia het ons regte Fried green tomatoes by die regte Whistlestop Cafe geëet, waar die fliek gemaak is. En in Savannah was ons in die Johnny Mercer huis, waar Midnight in the garden of good and evil afgespeel het. Ek het op die kolletjie gestaan waar Jim Davis doodgeskiet is. In Bonaventure begraafplaas was ons by Bird Girl se graf, waar Lady Chablis ook die voodoo goed laat doen het. Ons het die regte Bird girl ook in 'n kunsgalery gesien. Dit was die wonderlikste reis ooit. Ons het in Savannah ook op die bankie gesit waar Forrest Gump gesê het Life is like a box of Chocolates.

  • Annora Eksteen

    Dit is werklikwaar interessant en wonderlik om in die reisproses weer boeke, films en musiek met dieper insig wat net die jare kan bring, te kan oproep.

    Ek het lank terug toe ons daar in die VSA gebly het in Boston, 'n poskaart gekoop - dalk nog die dag toe ek by Louisa May Alcott se bruin Concord huis was en al wat my aangetrek het was die gesig van James Baldwin. So mooi foto. Ek wonder nou of hy gay letterkunde geskryf het.

    'n Heerlike spannende roman wat ek onlangs gelees het: SONG YET SUNG deur James McBride, gepubliseer in 2008, sal my nou vir altyd anders na Maryland en Chesapeakebaai laat kyk - die 19de eeuse wilde-oester-watermanne en die ondergrondse gospel slawetrein.

    "This book began one chilly October morning in 2004 when I was wandering around the back roads of Dorchester County. I came across a sign on Route 50 near Cambridge announcing that the birthplace of Harriet Tubman was nearby. After moseying a little further, I found myself in a dead cornfield several miles outside town staring at a sign: HARRIET TUBMAN 1820 - 1913."
    - James McBride

    Goeie Griet - Memphis Tenessee - The Wild West - alles wat julle nou gaan binnery vrolik met die Hawaii-kampeerdery - en dan?

    "Dans tous les cas, profitez-en Hänsel und Gretel et voyagez en toute sécurité."

    (Met dank aan Google Vertaal - ek leer so drie Franse woorde per maand.)

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top