’n Swerfjaar vir seniors: Aflewering nommer een

  • 24

Wie sê ’n oorbruggingsjaar is net vir waagmoedige jongmense bedoel? So ’n avontuur is wat Marita van der Vyver onderneem het toe sy kort na haar twintigste verjaardag ’n swerfjaar in Europa aangedurf het. Maar veertig jaar later pak sy en haar pas afgetrede Franse man ’n “geriatriese gap year” aan – ’n vae droom wat skielik ’n angswekkende, bevrydende werklikheid geword het.

Die groot huis met die fontein waar ek langer as in enige ander huis in my lewe gewoon het (foto: Marita van der Vyver)

So vat ons twee seniors toe op 1 September die lang pad na wie weet waar, met al ons aardse besittings vir die volgende jaar in ons ou Renault Kangoo gelaai. My rooi karretjie het ons reeds ’n maand vroeër verkoop, saam met heelwat van ons meubels en dinge wat meteens vreemd oortollig geword het. Wat onontbeerlik is, meestal besittings met sentimentele eerder as geldelike waarde, is in ’n skeepshouer gestoor.

“Soos vlugtelinge uit ’n oorloggeteisterde land,” mompel Alain terwyl hy oor sy skouer kyk na alles wat in die Kangoo geprop is nadat ons die agtersitplekke platgeslaan het.

Saam met twee groot tasse vir ons klere en twee kleintjies vir winterklere wat ons waarskynlik later nodig gaan kry en twee kajuittassies met ons skootrekenaars en persoonlike dokumente, is daar ook ’n boks vol wyn en olyfolie uit ons streek wat ons vir vriende langs die pad wil skenk, en twee sakke vol van my boeke om uit te deel en te smous. En ’n kameelperd uit hout gekerf, amper so lank soos ’n mens, wat ons by my seun in Switserland moet gaan aflaai omdat hy nie langer sonder dié aandenking uit sy geboorteland kan lewe nie. En ’n skaatsplank, ’n opgerolde tapyt, ’n tuisgebreide lappieskombers en ander “noodsaaklike” besittings waarsonder ons dogter in haar nuwe woonstelletjie in Parys ook nie langer kan lewe nie.

Die oorlaaide Kangoo op die oggend van ons vertrek (foto: Marita van der Vyver)

Ons rol toe maar die kameelperd toe in die tapyt en gooi die gebreide kombers oor die hele boksemdais om die chaos agter in die kar te bedek en ons hopelik ’n bietjie minder soos daklose vlugtelinge te laat lyk. Want hoewel ons inderdaad dakloos is ná ons vroeër dié oggend die sleutels van ons huis aan die nuwe eienaars oorhandig het, is ons darem nie op vlug nie. Ons is, soos Frances McDormand se karakter in die fliek Nomadland sê: “Not homeless. Houseless.”

Daar is ’n groot verskil. Jou tuiste is immers veronderstel om te wees waar jou hart ook al is, en vir die voorsienbare toekoms lê ons hart op die lang pad, uitgestrek oor die wêreldkaart, kloppend van vreugde oor onbekende plekname, bonsend van vrees om uit ons gemaksone gedryf te word. Bowenal aan die brand van nuuskierigheid oor waarheen die wind ons gaan waai.

.........

Miskien moet ’n mens elke twintig jaar so ’n oorbruggingsjaar aandurf, begin ek nou bespiegel, om ’n nuwe perspektief op jou lewe te kry.

.........

Miskien moet ’n mens elke twintig jaar so ’n oorbruggingsjaar aandurf, begin ek nou bespiegel, om ’n nuwe perspektief op jou lewe te kry. My eerste keer was in my vroeë twintigs, pas ná ek graad gevang het op Stellenbosch, in die dae toe ’n gap year nog nie ’n alombekende begrip was nie. Vir my was dit bloot ’n wegkomkans van alles wat bekend was, ’n seer begeerde sprong na die eksotiese “oorsee”, soos al daardie 19de-eeuse reisigers wat oor hulle “Grand Tour” deur Europa geskryf het.

Ek was egter heelwat meer platsak as my romantiese rolmodelle van ouds. Met heelwat minder bagasie, letterlik en figuurlik.

My gidsboeke was eerder George Orwell se Down and out in Paris and London, of Hemingway se A moveable feast, of James A Michener se The drifters wat vele jong lesers in die jare sewentig oor sorgelose swerftogte laat droom het. Bewapen met ’n groot rugsak en ’n baie dun beursie, en so waagmoedig soos jy net kan wees as jy onnosel en onervare is, het ek ’n jaar lank deur Europa geswerf.

Daardie jaar van 1980 het my kop oopgeblaas, my vooroordele weggeblaas, my perspektief vir die res van my lewe verskuif. Ek moes op allerhande beskeie maniere aan die lewe bly – deur ’n baba op te pas in Frankryk, klante te bedien in ’n Griekse restaurant, ’n teetrollie rond te stoot in die gange van Rio Tinto Zinc se Londense hoofkantoor. In ’n wit oorjassie agter my trollie vol teekoppies en versnaperinge het ek, bedorwe wit meisiekind uit Afrika, gou agtergekom ek is onsigbaar vir die kantoorpersoneel. Die meeste het nie eens opgekyk as ek vir hulle ’n koppie tee skink nie.

.........

Daardie jaar van 1980 het my kop oopgeblaas, my vooroordele weggeblaas, my perspektief vir die res van my lewe verskuif.

.........

Dit het my bewus gemaak, tot vandag toe, van werkers in uniforms en oorjasse wat dikwels soos spoke in groot geboue beweeg. Skoonmakers, bedieners, veiligheidswagte, die hele stil skare wat selde raakgesien word deur beterbetaalde beroepslui in kantore en ander openbare geboue, of haastige reisigers op lughawens en stasies. Sedert my eerste swerfjaar probeer ek hulle in die oë kyk, waar ek hulle ook al teëkom, want ek sal nooit vergeet hoe dit voel om onsigbaar te word nie.

Twintig jaar later, op die vooraand van my veertigste verjaardag, was dit weer tyd vir ’n sprong na die onbekende, om weg te kom uit ’n groef wat net te gemaklik begin voel het. Dié keer het dit heelwat meer moed gekos om ’n swerfjaar aan te durf, want ek was ouer en banger, met ’n huis wat verhuur moes word, ’n motor wat verkoop moes word, rekeninge en polisse wat maandeliks betaal moes word, al hoe meer besittings wat ek nie saam met my kon piekel nie. Boonop was ek ’n enkelma van ’n kleuterseun wat saam met my moes swerf. Dis juis die feit dat my seun binnekort sy skoolloopbaan sou begin en alle swerftogte dus vir minstens twaalf jaar uitgestel sou moes word wat hierdie een skielik so dringend noodsaaklik laat voel het. 

In my tweede wegkomkansjaar het ek, soos die ironie dit wou hê, aan my roman Wegkomkans geskryf – en halsoorkop verlief geraak op die Fransman wat nou, ’n kwarteeu later, saam met my hierdie derde wegkomkansjaar aanpak. Wie sê die lewe is nie vol onverwagse kringlope en sirkelvlugte nie?

Waar ons die eerste oggend ná ons vertrek wakker geword het – die dorpie St Roman de Malegarde in die Vaucluse-streek, waar ek 25 jaar gelede gedurende ’n vorige swerfjaar vir Alain ontmoet het (foto: Marita van der Vyver)

Terwyl ons soos wafferse sigeuners in ons oorlaaide Kangoo na wie weet waar ry, luister ons na musiek uit ons jeugjare wat meteens weer splinternuut klink. Spesiaal vir ons geskryf. Soos Janis Joplin se rasperstemweergawe van Kris Kristofferson se Me and Bobby McGee, met ’n liriese frase wat moontlik ons motto vir dié Jaar van Waagmoedig Lewe gaan word: “Freedom is just another word for nothing left to lose.”

Want ons moes baie verloor voor ons hierdie soort vryheid kon wen. Hoewel ons lankal droom oor ’n láng reis wanneer Alain die dag aftree, het ons altyd gedog ons sou ’n huis hê om na terug te keer wanneer ons moeg gereis raak. Gedog ons sou ons huis verhuur, soos ek twee dekades tevore gedurende my tweede oorbruggingsjaar met my Stellenbosch-huis gemaak het. Maar ons weet mos wat van Dog geword het, nè.

Waar ons ’n paar oggende later wakker geword het – op vriende se olyfplaas naby Lourmarin in die Luberon-streek (foto: Marita van der Vyver)

..........

Ons het nie rekening gehou met Covid nie. Hoe die pandemie ’n Afrikaanse skrywer in Europa se inkomste kan laat krimp tot sy nie meer die paaiemente op haar huis kan bekostig nie.

...........

Ons het nie rekening gehou met Covid nie. Hoe die pandemie ’n Afrikaanse skrywer in Europa se inkomste kan laat krimp tot sy nie meer die paaiemente op haar huis kan bekostig nie. Of hoe die inperkings en die afsondering en die opeenvolgende golwe van eensaamheid my man se dreigende depressie soos ’n tydbom sou laat tik tot dit onvermydelik moes ontplof nie. Alain was ’n jaar lank met siekverlof, kon nie sy volle salaris verdien nie en moes uiteindelik ’n paar maande vroeër aftree as wat ons beplan het.

Kortom, ’n sameloop van onaangename omstandighede wat die finansiële en emosionele mat onder ons voete uitgeruk het. En die finansiële mat was in elk geval maar altyd ’n klein bidmatjie eerder as ’n luuksueuse tapyt. Dit het ons gedwing om ons groot ou huis op die Franse platteland te verkoop. En van die oomblik dat ons dié besluit geneem het, het alles teen ’n verhoogde spoed gebeur. Soos ’n video op fast forward, dis hoe die afgelope drie maande lyk as ek daarna terugkyk.

Ons huis is letterlik binne ’n dag verkoop. Die heel eerste egpaar wat kom kyk het, het verlief geraak op die “gees van die plek”. (Die vrou is al veertig jaar lank ’n joga-afrigter, wat moontlik verklaar waarom sy nie die stof en die spinnerakke raakgesien het nie.) Ek en Alain het verskrik en verruk na mekaar gekyk, en besef dat dit vir die eerste keer in ons gesamentlike lewe nie nodig was om dadelik weer ’n huis te soek nie, omdat hy pas afgetree is en ons jongste kind pas die nes verlaat het.

Ons rek bietjie bene in die Middeleeuse dorpie Vézenobres, teen die heuwel op die agtergrond.(foto: Marita van der Vyver)

Boonop hoef ons vir die eerste keer nie ’n huis naby sy werkplek te soek nie, want hy het nie meer ’n werk nie.

Ons volgende blyplek kan enige plek op aarde wees.

Dis ’n angswekkende dog diep bevrydende gedagte.

.........

Ons volgende blyplek kan enige plek op aarde wees.

Dis ’n angswekkende dog diep bevrydende gedagte.

...........

En dís waarom Nomadland ons nuwe tuiste geword het. Ons gaan vir ’n jaar lank swerf terwyl ons tydsaam besluit waar ons die volgende hoofstuk van ons lewe wil begin. Ons het vae planne om eers deur Frankryk te toer, om ou vriende en familie op te soek wat ons weens die pandemie baie lanklaas kon sien, en dan deur Italië en Griekeland te reis op soek na nog ’n bietjie son voordat die Europese winter ons oorval. As die krokkerige Kangoo nie langs die pad die gees gee nie, wil ons dit voor die einde van die jaar verkwansel en koers kies na die suide van die VSA (vir die noorde sien ons nie in die winter kans nie), waar ons ’n vriendin se huis vir ’n maand of drie kan oppas. Dis nou as die Amerikaners teen daardie tyd al besluit het om die grense weer oop te stel vir ingeënte reisigers uit Europa ...

Santé! Gesondheid! Op ons Jaar van Waagmoedig Lewe. Net buite Escurolles in die Auvergne. (foto: Marita van der Vyver)

As, as, as. As daar één les is wat hierdie nare pandemie my geleer het, is dit om van dag tot dag te lewe, meer aanpasbaar te wees, altyd ’n Plan B, Plan C en selfs Plan Z byderhand te hou vir ingeval Plan A nie uitwerk nie. Dis ’n swáár les vir ’n selferkende beheervraat, en ek leer steeds, elke dag, maar ná hierdie Jaar van Waagmoedig Lewe gaan ek waaragtig so aanpasbaar soos ’n verkleurmannetjie wees.

Plan A is dus om vroegerig volgende jaar vir minstens drie maande deur Suid-Afrika te toer. Hoewel Alain my al dikwels na my geboorteland vergesel het, kon hy weens sy werk nooit langer as ’n week of twee vertoef nie. Nou sal ons oplaas genoeg tyd hê vir ’n behoorlike verkenningstog na die Karoo, wat ek so graag vir hom wil wys, en ander plekke uit my verlede waaroor hy al in my boeke gelees het, maar wat hy nog nooit self kon besoek nie.

"La France profonde", of die diep platteland van Frankryk, wat jy net kan leer ken as jy tydsaam op kleiner paaie toer. Soos die dorp Fleurines se burgemeesterskantoor ("mairie"), wat voorheen ook skool en plek van asiel was, soos jy op die torinkie net onder die horlosie kan lees. (foto: Marita van der Vyver)

Vir hom sal dit ’n ontdekkingstog wees; vir my ’n terugkeer na ’n lank verlore verlede tyd – à la recherche du temps perdu, soos Proust dit genoem het. Of ’n soektog na die begin van ’n volgende hoofstuk.

En as Plan A as gevolg van die voortslepende pandemie of om enige ander rede onmoontlik raak, nou ja, dan begin ons die volgende hoofstuk elders. Die wêreld is inderdaad ons woning, anders as wat Totius gedig het. Altans vir so lank as wat die avontuur van hierdie “geriatriese gap year” voortduur.

  • 24

Kommentaar

  • Baie, baie voorspoed wens ek julle toe. Die wapad is my woning. Julle gaan dit so geniet en besef dat al die "wêreldsgoed" wat mens so opgaar eintlik maar onnodig was.

  • Mariëtte Hartley

    Hoe heerlik is dit Marita! Geniet elke oomblik, dis min wat die voorreg het! Hef aan!

  • Ons het dit reeds begin besef toe ons moes besluit watter besittings om te stoor en waarvan ons maar ontslae kan raak!

  • Ansie Prosser

    Dit klink wonderlik om so vry te wees! Mag julle reise veilig wees en dankie dat ons kan saam droom.

  • 'n Wonderlike opwindende tyd vir julle. Geniet julle reis en wees veilig. Ek reis graag saam met Liefde uit Pretoria.

  • Sit ‘n pouveer in jou hoed en put juwele uit die avontuur! En dankie dat ons deel kan hê daaraan.

  • Reinette Anastagi

    Ek is in dieselfde boot as jy, Marita. Ek móét ook volgende jaar 'n geriartiese gap jaar doen. Ek gaan in Italië woon. Dit vul my met beide vrees en opwinding, want ek is alleen. My Italiaanse man is 5 jaar gelede al oorlede. Wat hou die toekoms in? Wag en kyk is al wat ek kan doen.

  • Sureen Janecke

    Almal gooi deesdae die "resoneer-woord" rond, maar elke woord wat jy skryf, druk daardie knoppie aanmekaar in my. Baie dankie vir hierdie eerlike reis wat ons mag meemaak. Ons sien uit na die res.

  • Bernadette Richards

    Om te lees oor julle wanderlus-avontuur los my met 'n vonk in my oog en 'n huppel in my stap. Bon Voyage, Marita!

  • So lekker gelees en reis saam. Voorspoed, Marita en jou Fransman. Vertel ons wat jul eet ook so tussen-in.

  • Ja, ons is reeds ten volle ingeënt, soos die meeste mense in Frankryk, anders sou ons nie so 'n reis gewaag het nie.

  • Jolene Muller

    Marita, ek dink hierdie swerfjaar gaan die bloed weer vinnig en warm laat bruis in julle are en die ouderdom 'n ding of twee wys.

  • Wonderlik dat julle, ten spyte van 'n mate van onsekerheid, nou die tyd maak daarvoor. "Celebrate life and live to the brim." Dit is die stof waarmee kosbare herinneringe geweef word om ons warm en knus te hou gedurende grou wintertye. Veilige reise!

  • Annora Eksteen

    Sjoe. Maar ja. Wonderlik. Ek sou net graag 'n Charlie ook in daai campervan wou gehad het. Tres bon voyage et merci beaucoup vir die vertelling en pics so ver.

  • Andre Roothman

    Merci a vous deux risquer l'inconnue enorme. C'est aussi le grand depart pour moi. Je vais ranger une vie de sante dans mon metier du cinema. Depuis le present je m'imagine comme producteur, pas encore l'acteur. Merci.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top