Ons enigste vaste reël vir hierdie seniorswerfjaar is om so min as moontlik reëls te hê.
Die pandemie sorg reeds vir soveel regulasies en beperkings – nuwe vorms wat ingevul moet word elke keer as ons ’n landsgrens oorsteek, dokumente wat gewys moet word elke keer as ons in ’n restaurant wil eet of ’n museum wil besoek in sommige lande, die maskers en buisies ontsmettingsmiddel wat altyd byderhand moet wees – dat ons nie ons reis nog moeiliker wil maak met allerhande selfopgelegde wette nie.
..........
Ons enigste vaste reël vir hierdie seniorswerfjaar is om so min as moontlik reëls te hê.
..........
Ons het net een Goue Reël, en dis om snelweë en tolpaaie te vermy. Ons kies aspris die stadiger, langer, onbekender paaie na enige bestemming. Robert Frost en M Scott Peck se Road less traveled wat elke rit in ’n avontuur kan verander.
Dis boonop ’n ongelooflike bevryding vir ’n ouerpaar wat ’n kwarteeu lank met ’n klomp kinders in die kar altyd noodgedwonge die vinnigste moontlike roete tussen die beginpunt en die bestemming moes kies. Anders word jy, soos elke ouer weet, weldra tot waansin gedryf deur die koor van “Wanneer is ons daar?”, “Hoe lank nog?”, “Ek is honger”, “Ek wil piepie”, “Ek is naar”, “Ek wil opgooi”, “Maaaa, hy’t bo-oor my opgegooi!” Noudat ons oplaas sonder die klaende, bakleiende, verveelde bende op die agtersitplek kan reis, rek ons die rit na hartelus uit.
Ons hou stil vir foto’s in lieflike landskappe, eerder as by lelike petrolstasies langs die snelweg omdat een van die kinders dringend die toilet moet besoek. (Gewoonlik skaars tien minute nadat hy by ’n vorige petrolstasie geweier het om toilet toe te gaan omdat hy verdiep was in ’n videospeletjie.) Ons vat afdraaipaadjies na onbekende dorpies wat aanloklik teen heuwels hurk, na interessante kerktorings in die middel van nêrens of ’n onbekende kasteel wat iewers aan ’n krans vasklou. Ons swaai weg van die hoofpad omdat ons ’n rivier of ’n meer in die verte sien glinster en graag ons padkos langs die water wil geniet.
En as ons ’n halfuur moet soek voor ons die water vind, is dit ook oukei. Ons het die luukse van tyd terwyl ons reis, vir die eerste keer in ons lewe.

Prentjies langs die pad
Ons werk wel soggens ’n roete uit, want ons weet (min of meer) waar ons die nag wil oorslaap. Dit was gelukkig nog nie nodig om in die kar te slaap nie, maar ons hét ’n opblaasmatras en slaapsakke en ’n gasstofie ingepak vir ’n moontlike noodgeval. Ons piekel selfs ’n tweemantentjie saam, een van daardie “maklikes” wat jy net so gooi, dan is dit woerts-warts opgeslaan. (Die volgende oggend sukkel jy egter twee uur lank om die ronde oornagskuiling weer platgeslaan te kry – dit het ’n vorige reis ons geleer – daarom is ons nie juis gretig om in ons tentjie te slaap nie.)
So ons bestudeer Google Maps en apps soos Waze op die selfoon om te kyk watter alternatiewe paaie ons verby watter dorpies sal lei, oor watter bergpasse, deur watter woude, en hoe lank elke alternatiewe roete sal vat. Dan kies ons die stadigste, begeerlikste pad, en as die app ons inlig dat dit ses uur sal duur om ons bestemming te bereik – pleks van twee en ’n halfuur op ’n snelweg – las ons nog drie tot vier uur by sodat ons genoeg tyd sal hê om stil te hou en af te draai en weg te dwaal.
Of om sommer net te verdwaal, want soms vergaap ons ons so aan die omgewing dat ons per ongeluk links draai pleks van regs – en dan beland ons dikwels op die nouste, steilste, angswekkendste paadjies om weer by die “regte” pad uit te kom. Op hierdie dwaalpaadjies word ek ’n prewelende, swetsende senuweewrak op die passasiersitplek terwyl Alain met ’n maniese adrenaliengedrewe grinnik bestuur.

Op een van ons verdwaalpaaie langs ’n veld met Limousinbeeste tussen nêrens en êrens
Ek sou nie goed gevaar het in die Parys-Dakar-tydren nie, besef ek telkens. Ek hou van off the beaten track, maar daar moet darem ’n vae track wéés. En tog, sodra ons weer op die “regte” pad beland, lag ons soos twee stout skoolkinders wat oornag uit ’n koshuis gesluip het en kort voor dagbreek weer veilig terug in die bed kan klim. Ons het dit gedoen sonder om uitgevang te word!
En dan is ons weer paraat vir die volgende verrassing om die volgende draai in die pad. Jy kan maar sê ons het die Scouts se leuse, “Be prepared”, aangepas na “Be prepared to be surprised.”
Ná vier weke van reis deur vier lande begin datums en bestemmings soos ’n wasige waterverfskildery ineenvloei, maar sekere dae is so vol onverwagse ontdekkings dat hulle soos spatsels dik olieverf uitstaan. Ons kan hulle vóél as ons terugkyk. Een so ’n dag was toe ons ’n langsame slingerroete van Vichy in die Franse Bourbonnais-streek tot Lausanne op die oewer van die Switserse Leman-meer gevolg het. Ek onthou die datum, Donderdag 9 September, omdat dit ons huweliksherdenking was – ’n toevalligheid wat ons eers teen laatmiddag bygeval het.
..........
Wat ons langs die pad belewe, word baie belangriker as die datum op die kalender.
..........
Ek en my man het al meermale vergeet om ons troudag te vier, maar dié keer het ons ten minste ’n aanvaarbare verskoning gehad. Wat maak ’n huweliksherdenking nou saak as elke dag ’n avontuur geword het?
Die meeste ander dae in die afgelope maand onthou ek bloot as “o ja, dis mos toe ons van Boussac in die Creuse tot Escurolles in die Auvergne gery het”, of “nee, dáái dag het ons van Genève bo-oor die manjifieke Switserse Alpe en deur ’n magdom tonnels tot anderkant die Italiaanse grens gereis”. Wat ons langs die pad belewe, word baie belangriker as die datum op die kalender.
Maar op Donderdag 9 September vertrek ons die oggend van ’n dorpie naby Vichy waar ons drie nagte by ons Afrikaans-Franse vriendin Lynn Chaulieu deurgebring het, in ’n voormalige stal wat sy in ’n stylvolle selfsorgkothuis omskep het. Ons mik om teen sewe-uur die aand by een van ons seuns se woonstel in Lausanne te wees – niks vroeër nie, want dan is hy en sy meisie nog nie terug van die werk nie en ons sal nie parkeerplek in hulle besige straat in die hart van die stad kry nie – wat beteken ons kan rêrig rustig ry en gereeld stilhou.

By vriendin Lynn Boerin naby Vichy eet ons vir die lang pad wat voorlê.
Met die snelweg is dit ’n gemaklike rit van skaars vier uur; ons kies egter soos gewoonlik die stadigste, mooiste roete, wat minstens ses uur van ry sal kos met nog ’n paar uur bygelas vir allerlei afleidings. Ons weet nie wat die afleidings gaan wees nie, maar afleidings sal daar beslis wees. En die eerste een kom binne die eerste uur, ná ons die Allier-rivier oorsteek en verby verskeie dorpies met koppelteken-name kruie: Saint-Rémy-en-Rollat, Saint-Germain-des-Fosses, Creuzier-le-Neuf. (Hoe kleiner die dorpie, hoe langer die naam, bespiegel ons dikwels op die Franse platteland.)
Sommige name van dorpies en gehuggies laat ons grinnik en grappies maak. Binne enkele kilometers ry ons ook verby La Crotte (“turd” in Engels, wat seker maar met “drol” vertaal kan word), La Goutte (“druppel”), Versaille (niks te doen met die Sonkoning se spoggerige paleis buite Parys nie) en Magnet (wat geen magnetiese aantrekkingskrag uitoefen nie en uitgespreek word as “Manjê”). Maar die naam wat ons summier van die pad laat afswaai om die dorp te voet te verken, is Lapalisse.
Want dís waar die Franse woord lapalissade vandaan kom, merk Alain agter die stuurwiel op, wel wetend dat ’n honger woordmens soos ek só ’n brokkie sal opraap. Lapalissade is ’n taalkundige term vir ’n soort toutologie wat ’n onbedoelde komiese effek veroorsaak. Die adellike Jacques de la Palice (later ook la Palisse gespel) is in 1470 hier gebore en sy massiewe kasteel troon steeds uit bo al die ander geboue in die dorp wat vandag sy naam dra. Ná hy in 1525 op die slagveld gesterf het, het sy grafskrif gelui: “Hier lê die Heerser van La Palice: as hy nie dood was nie, sou ons hom steeds beny/bewonder het.” As gevolg van ’n verwarring tussen die outydse letter s en die f het dit egter gelyk soos “As hy nie dood was nie, sou hy steeds gelewe het.” Voilà, die eerste voorbeeld van wat ons vandag in Frankryk ’n lapalissade noem.
..........
“As hy nie dood was nie, sou hy steeds gelewe het.”
..........
Reeds in die vroeë 1700’s is sowat 50 humoristiese “La Palice-kwatryne” gepubliseer as die burleske Lied van La Palice, en deesdae pleeg veral politici gereeld sulke onsinnige lapalissades wat die volk vermaak. Een van die bekendstes bly die onsterflike woorde van die sanger Johnny Halliday, wat (anders as ek) wel daarvan gehou het om aan die Parys-Dakar-tydren deel te neem. “As ons nie ’n uur en ’n kwart verloor het nie,” het Johnny by die wenstreep gesê, “sou ons ’n uur en ’n kwart gelede reeds gearriveer het.”
Dink net, as Alain nie sy mond oopgemaak het om iets oor lapallisades te sê net toe ons die dorp binnery nie, sou sy mond toegebly het (jammer as dit nou nogal soos ’n lapalissade klink) en sou ek ewe niksvermoedend dwarsdeur die dorp gery het. Maar hierdie krummel onweerstaanbare inligting het my na my selfoon laat gryp om La Palice se lewensverhaal op Google te soek. Ons het sy kasteel van nader gaan bekyk en deur die dorp gestap en vir ons piekniekkos aangeskaf by ’n winkel wat plaaslike produkte verkoop.

Lapalisse met die adelheer La Palice se kasteel
Dit was nog te vroeg om piekniek te hou; ons moes wag tot Charolles, wat ons teen ’n meer geskikte tyd vir middagete bereik het. In dié hoofstadjie van die streek wat die lieflike wit Charolais-beeste hulle naam gegee het, het ons in ’n park agter die Sacre Coeur-kerk piekniek gehou. Ons kon natuurlik nie ’n stuk van die gesogte rou beesvleis vir ons piekniek koop nie, miskien ook maar goed, want ná ek ure lank die beeste se gespierde bleek lywe en groot dromerige oë langs die pad bewonder het, sou ek swaar gesluk het as ek dieselfde dag een van hulle moes eet.

Charolles se pragtige Sacre Coeur-kerk
Ná ’n ietwat meer beskeie maal van brood en kaas en patee op ’n parkbankie het ons by die kerkgebou van gloeiende goue stene ingeloer omdat die Blumenroeder-orrel glo nogal iets is om te aanskou – en sowaar, daar sit ’n orrelis en oefen vir die gereelde konserte wat in die kerk gehou word. ’n Mooi orrel is ’n mooi orrel, maar eers as jy die klank hoor wat deur die pype dans, kan jy dit waarlik waardeer. En omdat ons nie haastig was om weer in die kar te spring en verder te jaag nie, kon ons op ’n kerkbank inskuif om net te sit en luister.
Dis terwyl ek daar my man se hand sit en vashou dat ek skielik onthou dis ons troudag – en toe ons verder ry, stel ek voor ons neem ’n foto van onsself iewers teen ’n skilderagtige agtergrond om darem die dag op ’n manier te gedenk. Die hele pad was skilderagtig, maar Alain wil elke keer net nog ’n entjie verder ry om ’n nog méér skilderagtige agtergrond te vind vir hierdie spesiale kiekie. Toe ek oplaas begin diklip trek omdat my boude deurgesit raak, swaai hy summier van die pad af kort voor Beaurepaire-en-Bresse (nog ’n hoogdrawende naam vir ’n plekkie met ’n bevolking van 700 siele) en volg ’n kronkelpaadjie tot waar dit skaars twee minute verder langs ’n verlate huis doodloop.
Beaurepaire-en-Bresse is sekerlik so aansienlik soos enige ander dorpie waardeur ons dié dag gery het, maar hierdie uithoek was ongetwyfeld die lelikste stilhouplek van die dag, week of selfs die afgelope maand op die pad. Die plaaslike bevolking gebruik die werf blykbaar as rommelhoop, en kinders of tieners het al die ruite gebreek, bloot uit vandalisme of om toegang tot die huis te kry. Die stoep was besaai met leë bierblikke en sigaretstompies. In die garage langs die huis was ’n helse hoop plastiekkanne met ’n chemiese landbouproduk wat deesdae in die Europese Unie verbied word.
’n Dump, dus, letterlik en figuurlik. Die laaste plek waar ek ’n foto wou neem om my 21ste troudag te gedenk.

Die verlate huis in die buitewyke van Beaurepaire-en-Bresse waar iets gebeur het ...
Miskien kan ons dit as ’n metafoor van ons huwelik sien, terg Alain toe hy nader stap om deur die vensters binnetoe te loer. Ons lyk dalk oud en vervalle – ’n stoorplek vir verbode chemiese produkte, voeg ek sarkasties by – maar daar is nog heelwat lewe in en om ons. Want kyk, wink hy my nader, daar staan ’n bord op die kombuistafel, ’n flessie speserye in ’n kombuiskas met ’n oop deur, ’n onopgemaakte bed in ’n slaapkamer, ’n stapel bont dekens en ’n teddiebeer in ’n hoek van ’n ander vertrek ...
En net daar vergeet ek skoon van ons troudag en kry so ’n kriewelrige gevoel dat hier iets gebeur het wat die inwoners inderhaas verdryf het. Dit herinner net te veel aan video’s wat geneem is nadat gesinne holderstebolder uit hulle huise moes vlug in Tsjernobil of Foekoesjima. ’n Kernkragramp kon dit nie gewees het nie, bespiegel ons met ons neus teen die stukkende ruite gedruk, so dalk was dit die toneel van ’n gesinsmoord, een of ander trauma of tragedie ...
Ons lees waarskynlik te veel speurverhale, kyk te veel rillerflieks, want toe ons wegry, soek ek vergeefs op Google na iets vreesliks wat in dié huis gebeur het. Ons sal nooit weet waarom wie ook al hier gewoon het, op ’n dag net padgegee het sonder om die beddegoed of die kind se teddiebeer saam te vat nie. Maar dis die begin van ’n storie wat ons kan uitdink terwyl ons verder reis.
Eintlik voel elke dag wanneer ons ’n onbekende pad vat, soos die begin van ’n storie. Een van daardie boeke wat jy so geniet dat jy al hoe stadiger lees hoe nader jy aan die einde kom. Ons ry amper vanself stadiger as ons nader aan ons bestemming kom, want terwyl ons nog nie die einde van ons storie ken nie, is enigiets mos moontlik.

Eindelik in Lausanne – die foto wat nie op ons huweliksherdenking geneem is nie
Lees ook:
Kommentaar
Heerlik saam gereis met julle. Ek is ook een vir die stadige roetes!
So 'n totale wegbreek van die alledaagse bekende lewe laat mens besef die dinge, wat ons aan vashou, het geen waarde nie. Die lewe het 'n manier om ons uit te spoeg uit ons eentonige, veilige lewe sodat ons visie kan verbreek en ons kan besef drome sterf nooit.
Baie interressant.
Ons besef dit elke dag van hierdie reis.
Wat ‘n voorreg om so ‘n senior-gap jaar te kan vat! Soms word mens deur omstandighede gedwing, wat dan blyk ‘n bedekte seën te wees!