Swerfjaar vir seniors, aflewering vyf: ’n Road trip is nie dieselfde as ’n motortoer nie

  • 3

Wie sê ’n oorbruggingsjaar is net vir waagmoedige jongmense bedoel? So ’n avontuur is wat Marita van der Vyver onderneem het toe sy kort na haar twintigste verjaardag ’n swerfjaar in Europa aangedurf het. Maar veertig jaar later pak sy en haar pas afgetrede Franse man ’n “geriatriese gap year” aan – ’n vae droom wat skielik ’n angswekkende, bevrydende werklikheid geword het.

Foto’s en teks: Marita van der Vyver

Road trip is ’n term wat nie rêrig in Afrikaans – of enige ander taal – vertaal kan word nie. Dis ’n plesiertog wat nie altyd plesierig verloop nie, ’n avontuur agter die stuur, iets wat in 1957 in die populêre kultuur verewig is deur Jack Kerouac se roman On the road en sedertdien deur Hollywood ontgin is in die gedaante van tallose road movies. En dit bly die beste manier om Amerika te leer ken.

’n Road trip is so Amerikaans soos Route Sixty-Six (wat niemand ooit Roete Ses-en-Sestig noem nie), soos hot dogs of hamburgers, soos cowboys of coyotes – alles verskynsels wat ons op ons Amerikaanse road trip teengekom het. Die coyotes was weliswaar doodgery, slagoffers langs die eindelose paaie van Texas, maar dis seker ook tipies Amerikaans. Indirekte skade in ’n land waar motors steeds koning kraai en almal skynbaar ewig op pad is êrens heen.

Ek het Kerouac se boek in my prille jeug gelees, toe dele daarvan my nog genoeg kon skok om dit absoluut onweerstaanbaar te maak. Toe ek en my pas afgetrede Fransman egter besluit om Amerika in ’n kampeerwa te verken, het ’n ander bekende (en meer besadigde) skrywer ons gids geword. Ek het nie eens geweet dat die Nobelpryswenner John Steinbeck in 1960 ook ’n road trip in ’n soort kampeerwa saam met sy Franse poedel, Charley, aangepak het nie, maar ’n Afrikaanse vriend het ons aangeraai om Travels with Charley – in search of America te lees terwyl ons reis.

Dit was die beste raad wat enigiemand ons gegee het – en glo my, as jy só ’n avontuur aanpak, kry jy meer as genoeg raad, gevraag en ongevraag, van almal wat jy ken. Steinbeck het vir hom ’n huisie agter op ’n trok laat bou en sy buitengewone voertuig Rocinante gedoop – ter ere van Don Quichot se getroue perd – en soos Cervantes se dwalende ridder deur sy vaderland getoer. Van die kus van Connecticut in die noordooste na die weste in Kalifornië en daarna deur die suide terug na die noordooste, waar hy sy sirkelroete voltrek het.

Bagdad Café (ja, die een in die fliek) langs Route 66 in Kalifornië

Ons het ons toer nes syne ook in die herfs en winter aangedurf – vóór ons Steinbeck se boek gelees het – bloot omdat Covid-regulasies dit vir ons onmoontlik gemaak het om in enige ander seisoen in die VSA uit te kom. Ons het ook in die noordooste begin, weer eens niks met Steinbeck te doen nie, maar bloot omdat ons ’n gehuurde handgeverfde kampeerwa noord van New York moes gaan afhaal. Daarna het ons van Connecticut suidwaarts gereis tot in die begeerlike musiekstad van New Orleans, van jongs af op ons albei se emmerskoplys (lank voordat ons geweet het daar bestaan iets soos ’n emmerskoplys), en van daar af in die rigting van die sakkende son aangekruie tot in die Wilde Weste van Kalifornië.

Langs die pad het ons beblomde hippiewa elektriese probleme opgedoen wat die hoofligte al hoe flouer laat skyn het, maar ons het ons nie juis daaraan gesteur nie, want ons het nie saans gereis nie. (Seker so slapgat soos iemand wat nie ’n lekkende dak herstel terwyl dit nie reën nie. Maar as jy in so ’n hippierige voertuig met ’n Hawaise naam soos Aloha rondry, raak jou verstand dalk ietwat beneweld van rustigheid.) Toe ons Los Angeles een laatmiddag bereik, net betyds om vir die eerste keer die son in die Stille Oseaan te sien sak, het Aloha se ligte heeltemal verdwyn. Wat ons gedwing het om dié nag op ’n parkeerterrein hoog bo die stad te slaap, want ons kon nie sonder ligte die kronkelende heuwelpad ondertoe aandurf nie.

Die Fransman kom tuis in ’n straat in New Orleans.

Dit was een van die vreemdste nagte wat ons in ons kampeerwa deurgebring het. Die parkeerplek is blykbaar ’n bestemming vir skelm vryers wat in karre moet vry en daggarokers wat hoog bo die stad “hoog” wil raak. Teen die vroeë oggendure het die daggawalms soos ’n digte mis oor die karre gehang. Ons het effe bedwelm geraak deur net die dampe in te asem, maar dit het ons darem gehelp om te slaap terwyl harde rockmusiek dwarsdeur die nag uit sommige van die rokers se motors dreun. 

En toe dit lig word, is ons beloon met ’n manjifieke uitsig oor Los Angeles, wat alles die moeite werd gemaak het.

Boonop moes ons teen dié tyd, ná weke van toer kruis en dwars oor die kontinent, seker al gewoond geraak het aan, wel, kom ons noem dit maar “interessante” oornagstanings. Aangesien ons die grootste deel van ons beperkte reisbegroting op ons kampeerwa geblaas het, moes ons goedkoop plekke vind om die wa snags te parkeer. Jy kan blykbaar in enige National Forest of State Forest gratis kampeer, maar in die winter is dit nie ’n goeie idee om op modderpaaie of sneeupaaie in digte bosse rond te foeter op soek na afgeleë kampeerplekke nie.

In elk geval nie vir my en my man wat geen sin vir rigting het nie en waarskynlik sou verdwaal en verkluim in ons kampeerwa, met die moontlikheid dat ons bevrore liggame eers weke later wanneer die sneeu weer smelt gevind sou word, soos in daardie fliek van Sean Penn, Into the wild, wat my vir altyd afgeskrik het van sulke avonture.

(Dit het ons nogal getroos om te lees dat Steinbeck ook rigtingloos was en voortdurend verdwaal het. En hy kon nie eens op die internet of GPS staatmaak om hom uit sy ellende te verlos nie, siestog.)

Ons het dus ’n paar apps op ons selfone afgelaai om ons te help om daagliks kort voor die donker toeslaan (wat in die winter omtrent vyfuur in die middag gebeur) ’n bekostigbare kampeerplek naby ons te vind, dikwels op plase of in State Parks wat nie gesluit is vir die winter nie. Die winterweer was trouens die rede waarom ons ons padtoer tot die suide en weste van die land beperk het, waar dit veronderstel is om warmer te wees.

Of so het ons gedog.

Dit was eintlik nog herfs toe ons in die omgewing van Atlantic City, New Jersey, die eerste keer deur die vroeë donkerte en die bibberende koue verras is. Hoewel die verrassing veel groter was toe ons die volgende oggend wakker word op ’n plasie wat ons op ons Hipcamp app opgespoor het en waar ons in die stikdonker nag (omtrent halfsewe die aand) aangekom het. In die daglig kon ons sien dat ons omring is deur llamas en hoppende hase waarmee die eienaar blykbaar boer.

Almal weet van free range chickens, maar ek het nog nooit van free range rabbits gehoor nie.

Boonop het die water in ’n ander woonwa op die plaas – wat ons veronderstel was om as badkamer te benut – in die nag gevries. Ek moes my oggendnood hurkend langs die woonwa tussen die hoppende hase verlig en my tande met vonkelwater borsel. Tog was die boer se vrou, toe sy eindelik die deur van die plaashuis kom oopmaak nadat ons al hoe meer desperaat geklop het, so vriendelik soos net Amerikaners (wat jou van geen kant af ken nie) kan wees.

Sy het ons genooi om die bad in haar huis te gebruik, maar ons was haastig om weg te kom van die llamas en die hase en ons volgende vreemde oornagplek te ontdek. Want teen dié tyd het ons begin begryp dat die kanse goed is dat dinge vorentoe selfs vreemder gaan word. 

En dit het.

Sneeu op ’n ossewa in New Mexico, wat ons gedog het is in die warmer suide van die VSA

In Arizona, op pad na die Grand Canyon, het die kwik skielik dramaties gesak tot –13 °C, wat ons gedwing het om by ’n goedkoop motel in te boek. Ons het dit as ’n avontuur beskou omdat my Europese man, wat die konsep van ’n “seedy motel” slegs deur Amerikaanse flieks ken, gretig was om hierdie gaping in sy ervaringsveld te vul. Boonop het hy gedurende die Covid-grendeltyd al 48 episodes van die Amerikaanse TV-reeks Room 104 binne ’n week gekyk, en die snaakse, skrikwekkende en soms absurde dinge wat in kamer 104 van ’n doodgewone Amerikaanse motel gebeur, het hom meer vasberade as ooit gemaak om nie net in ’n motel te slaap nie, maar spesifiek in kamer 104.

Arizona se gloeiend-oranje rotsformasies soos ons dit verwag het ...

In die eerste motel waar ons aanklop in Flagstaff, Arizona, is kamer 104 toe wraggies beskikbaar. Alain grinnik soos ’n kind wat ’n begeerde Krismispresent kry en ek speel maar saam. Diep in die nanag word ons gewek deur ’n bloedstollende gil uit ’n naburige kamer. Ons hoor dis ’n vrou, en gedagtig aan Room 104 vermoed ons sy word moontlik vermoor, en ek fluister paniekbevange vir Alain, “Call 911!” asof ek self ook in ’n Amerikaanse TV-reeks beland het.

Gelukkig, net vóór ons ons naam heeltemal gat kan maak, hoor ons nog geluide uit die naburige kamer. En ons besef dit was ’n gil van genot daai.

En Arizona onder sneeu, soos ons dit beslis nie verwag het nie

Die volgende oggend ry ons deur ’n sprokieslandskap van sneeuwoude om die Grand Canyon in sneeu te bewonder, ’n ervaring wat ons geheel en al oorrompel. Al die foto’s en beeldmateriaal wat ons nog ooit van dié natuurskouspel gesien het, het ons dorheid en hitte laat verwag. En hoewel die Grand Canyon ongetwyfeld in enige seisoen asemrowend is, is dit letterlik asemrowend in die soort koue wat jou asem in ’n wolk voor jou mond verander.

Die Grand Canyon onder ’n vars laag sneeu

Vir sommige van ons interessantste oornag-ervarings kan ons egter nie die weer blameer nie, net ons eie avontuurlus en nuuskierigheid wat ons soos gekke laat instorm by plekke wat engele versigtig sou betree. In New Orleans byvoorbeeld was dit salig warm, amper somers vergeleke met sommige ander streke, en ons vind ’n kampeerplek in ’n soort kommune so na as moontlik aan die French Quarter in die middestad. Die Hipcamp app waarsku ons dat hier net ’n buitelugstort en ’n droë toilet in ’n hokkie is, maar ek onthou mos puttoilette uit my kinderjare en ons twee dapper muise skrik nie vir koue pampoen of puttoilette nie.

Buitendien, ons het toe reeds daguitstappies in ’n paar National Parks onderneem en die omgewingsvriendelike droë toilette beproef, nou nie juis met vreugde nie, maar mens doen wat jy moet doen, Solank jy nie afkyk in die toiletbak terwyl jy doen wat jy moet doen nie.

In New Orleans, waar dit dag en nag dwarsdeur die jaar soos karnaval voel

En in hierdie omheinde kommune van New Orleans is die droë toilet uiteindelik die minste van ons sorge. Dis ’n groot werf met ’n heel skaflike houthuis waarin die vriendelike eienaar woon, omring deur woonwaens, meestal sonder wiele, waarin ’n verskeidenheid van eienaardige karakters blykbaar permanent gehuisves word. Rondom die woonwaens is kunswerke geskep uit ou poppe (‘n bietjie grillerig) en geraamtes van fietse en ander rommel. Op die houtheining wat van bo tot onder met graffiti versier is, pryk ’n plakkaat: Clothing optional beyond this point.

Dit moes seker as ’n waarskuwing gedien het.

’n Outydse "gas station" op die Blues Route langs die Mississippi-rivier

Die burgers van die kommune het darem nie almal kaal rondgeloop nie, maar die tuisgemaakte stort is ’n tuinslang buite onder ’n boom, agter ’n rietafskorting wat net ’n klein stukkie van enige kaal lyf kan wegsteek. Ek is nie onnodig skaam nie, maar op my ouderdom beskou ek dit as ’n gebaar van liefdadigheid om nie my lyf aan ’n onskuldige publiek bloot te stel nie. Veral aangesien die burgers van die kommune almal veel jonger as ek en Alain is. En daar is geen spoor van enige ander vrou op die werf nie.

Oggend-oefeninge om litte los te maak in Tennessee ná nog ’n nag op ’n "interessante" kampeerplek

Nee, dis nie ’n gaykommune nie, alles was net te deurmekaar en morsig – dit herinner my eerder aan Withnail and I, ’n klomp jongerige mans wat hulle eenvoudig nie steur aan die samelewing se verwagtinge van ’n higiëniese woonplek nie. Maar almal was weer eens ongelooflik vriendelik, en een van die woonwaens wat darem wiele het, is spesiaal geskuif om vir ons kampeerwa plek te maak. Toe sê ons maar vir onsself, ag nou ja, ons gaan tot laatnag in New Orleans se vele kroeë na musiek luister, ons soek tog net ’n sláápplek vir twee nagte. Ons oë gaan toe wees, en wat ons nie sien nie, kan ons nie hinder nie.

Ons het inderdaad heerlik geslaap (ná ’n paar van Nola se befaamde mango-daquiri’s sou ek waarskynlik selfs in ’n boom aan die slaap kon raak) en vroegoggend heerlik buite gestort, voordat die burgers van die kommune ontwaak.

Texas se waarskuwings teen ratelslange

’n Paar dae later het ons iewers in Texas by ’n Travel Information Center langs die grootpad oornag, dié keer met silwerskoon spoeltoilette en stomende warm water om mee te was, maar toe die son oor die uitgestrekte vlaktes opkom, sien ons orals kennisgewings wat ons teen ratelslange waarsku. Ná ons ’n foto van so ’n kennisgewing na ons gesin se WhatsApp-groep gestuur het, vermaan kleinsus Mia ons om nou op te hou om tussen slange en skelm vryers en daggarokers te slaap, want haar senuwees kan dit nie meer hou nie.

In Los Angeles kry ons ’n pers kampeerwa wat Lancelot genoem word

Haar toon was spottend, maar ná soveel jare waarin ons snags wakker gelê en wroeg het oor wat ons tienderjarige kinders aanvang, is dit nogal amusant dat ons volwasse kinders nou soms besorg raak oor wat hulle ouers aanvang. Hulle ken ons darem ook goed genoeg om te weet ons sal nooit roekeloos onverantwoordelik raak nie.

Soos ons ook weer besef het daardie oggend toe ons op ’n parkeerplek hoog bo Los Angeles wakker word. Ons het geweet ons moet onmiddellik iets aan die kampeerwa se ligte doen as ons nie weer in so ’n situasie vasgevang wil word nie. Ná ’n string dringende teksboodskappe aan die maatskappy wat die kampeerwa aan ons verhuur, kon ons dieselfde dag nog die beblomde Aloha inruil vir ’n plaasvervanger wat minder hippierig en Hawais lyk.

Hoewel dit steeds nie die soort vaal voertuig was wat jy sou kies as jy byvoorbeeld ’n bank wou beroof nie. Die enigste beskikbare wa was persblou en beskilder met ridders in wapenuitrustings (pleks van blomme) en sy naam was Lancelot. Waaragtig.

Só lyk die ridder Lancelot van naby ...

Eensklaps was Steinbeck in sy ridderlike Rocinante nog meer gepas as gids vir ons Amerikaanse ontdekkingsreis.

Soos die noodlot dit wou hê, vertel ’n Suid-Afrikaanse kennis ons kort daarna van die fantastiese Steinbeck-museum in Salinas, die Kaliforniese dorp waar die skrywer grootgeword het en waaroor hy onder meer in East of Eden geskryf het. Toe ons hoor dat Steinbeck se Rocinante-trok óók hier besigtig kan word, het ons dadelik ons roete verander (soos omtrent daagliks op hierdie road trip gebeur het) om  deur Salinas te ry.

Om ons kampeerwa met die naam Lancelot in Salinas se mitiese Main Street te parkeer en hulde te betoon aan ’n sestigjarige kampeerwa met die naam Rocinante.

Eindelik by Steinbeck se Rocinante in Salinas!

“We do not take a trip,” skryf Steinbeck in Travels with Charley; “a trip takes us.” Dis ’n waarheid wat ons oor en oor getref het terwyl ons padlangs deur Amerika reis.

Steinbeck skryf ook: “A journey is like marriage. The certain way to be wrong is to think you control it.” En ons twee ou getroudes wat al hoe meer ervare reisigers word, moet weer eens instemmend knik.

Lees ook:

’n Swerfjaar vir seniors: Aflewering nommer een

’n Swerfjaar vir seniors, aflewering twee: Wees gereed om verras te word

’n Swerfjaar vir seniors, aflewering drie: Allerhande alledaagse wonderwerke

Swerfjaar vir seniors, aflewering vier: Watter fliek was dit nou weer?

 

  • 3

Kommentaar

  • Annora Eksteen

    Hoe heerlik ‒ en om daarvan te lees met die artistieke foto's daarby. Road trips is baie nice en nie vir sissies nie. Sover doen julle uitstekend en indien nie: call 911! Ek en my dogters kon ’n hele paar doen nadat ek geskei is. Op ’n Karooplaas is ek deur ’n bondel meerkatte aangeval wat my voete lelik gebyt het haha. Ek het maar oor dit ook gekom.

  • Ons kuier heerlik saam, en kan ons vereenselwig met van die situasies. Ons is ook pas terug nadat ons in Australië vasgekeer is deur COVID-19. Die beplande vier weke by die kinders en kleinkinders het uitgerek na vyf maande! In dié tyd kon ons ’n road trip van 9000 km deur die "outback" inpas, met dinge soos "long drop" toilette, slange en muskiete deel van die belewenis. Ons sien uit na die volgende aflewering.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top