Swerfjaar vir seniors: Op soek na ’n holte vir swerwersvoete

  • 7

Wie sê ’n oorbruggingsjaar is net vir waagmoedige jongmense bedoel? So ’n avontuur is wat Marita van der Vyver onderneem het toe sy kort na haar twintigste verjaardag ’n swerfjaar in Europa aangedurf het. Maar veertig jaar later pak sy en haar pas afgetrede Franse man ’n “geriatriese gap year” aan – ’n vae droom wat skielik ’n angswekkende, bevrydende werklikheid geword het.

Foto’s en teks: Marita van der Vyver


 

..........
Ons senior swerfjaar kruip einde se kant toe en ons begin soek na ’n meer langdurige holte vir ons moeë swerwersvoete.
..........

Ons senior swerfjaar kruip einde se kant toe en ons begin soek na ’n meer langdurige holte vir ons moeë swerwersvoete. Maar ons weet ook die konsert is nie klaar voor die spreekwoordelike fat lady gesing het nie, so ons swerf al soekend voort tot ons die laaste noot van die laaste aria hoor.

Dis ons elfde maand op die pad. On the road klink lekkerder, dalk net omdat dit ook die titel van ’n ikoniese boek is. En dit herinner ons aan Canned Heat se ode aan die langpad waarna ons dikwels die afgelope jaar in die kar geluister het. (“You know the first time I traveled / Out in the rain and snow / I didn’t have no payroll / Not even no place to go ...”) En aan al die verskillende karre – gehuur, geleen en gekoop – waarin ons na padmusiek met ’n beat kon luister.

Ons gehuurde kampeerwa langs die Stille Oseaan in Kalifornië

Soms het ons selfs Willie Nelson se lighartiger country-liedjie met dieselfde titel op ons playlist gesoek en lustig saamgesing: “On the road again / Goin’ places that I’ve never been / Seein’ things that I may never see again ...”

“On the road” in die karoo

Dis daardie dinge wat ons dalk nooit weer gaan sien nie wat ons wiele aan die rol hou. En ons voete aan die stap, natuurlik. Want ’n groot deel van hierdie pelgrimstog gebeur met dapper en stapper. Dis nou nie asof ons die Camino aangedurf het nie, maar volgens die app op my selfoon wat my treë tel, het ek in stede soos Rome en Athene, New York en New Orleans meer as 20 km per dag gestap. En dis nogal nie ’n slegte gemiddeld vir die Camino nie.

Met dapper en stapper in New York

Tussen die ry en die stap is daar die kuier saam met vriende en familie, die stoepsit oral in Suid-Afrika, die gesels aan lang tafels in Italië en Griekeland, die intiemer gesprekke langs vleisbraaivure buite of kaggels binne. Dis waarom ons nie wil ophou nie. Ons is nog nie sat geswerf nie, dalk nog lank nie, maar ons weet alle goeie dinge kom tot ’n einde.

Lang tafels op ’n dorpsplein in Griekeland

Ek lewe al vir elf maande uit ’n tas. Elke keer as ek iets nuuts aanskaf om te dra, moet ek van iets anders in die tas ontslae raak. Dis ’n reël wat ek graag vir die res van my lewe wil volg – hoewel ek hopelik binnekort weer uit ’n kas eerder as ’n tas sal aantrek.

Ek en die tas waaruit ek al 11 maande lewe, saam met ’n vriendin voor Washington DC se stasie

Ek het minstens vyf rokke langs die pad present gekry, en drie rokke en twee truie weggegee. ’n Ou denimbaadjie in ’n retrowinkel in Kalkbaai gekoop omdat ek my vorige een, te deurgeskif om langer te dra, in Stilbaai moes los. ’n Paar funky sokkies in New Orleans gekoop (“Fuck off I’m reading” staan daarop geskryf) voordat ek ’n paar sokkies met bont kolle in die Karoo agtergelaat het. ’n Turkoois sjaal op ’n mark in Santa Fe in New Mexico gevind en ’n rooi sjaal aan die Suid-Afrikaanse Weskus vir iemand geskenk.

Net laas week het ek hier in Périgord, waar ons ’n maand lank in ’n geleende kliphuisie bly, ’n lieflike langbroek van linne in ’n liefdadigheidswinkel opgespoor (vir ’n skamele 3 euro) en van ’n soortgelyke langbroek in my tas ontslae geraak. Indien enigeen dus wonder of my tas die weduwee se kruik is met ’n eindelose voorraad klere, die antwoord is nee, ek het bloot geleer om te laat gaan. Geliefde klere, boeke (wat ek steeds oral optel en agterlaat wanneer ek klaar gelees het), plekke, selfs mense.

Die bospaadjie agter ons geleende kliphuisie in Périgord

Dit word nooit makliker om geliefdes te groet nie, veral nie jou kinders en familie nie, maar as jy weet jy sien hulle net vir ’n kort rukkie voor jy verder reis, sorg jy dat elke oomblik saam met hulle tel. Ek weet nou waarlik wat gehaltetyd beteken. Dis nie hoe lank jy saam met iemand deurbring nie, dis wat julle saam belewe wat saak maak.

My Fransman, wat voorheen baie minder as ek gereis het vanweë sy werksverpligtinge, het in hierdie eerste aftreejaar sy nomadiese siel ontdek. Hy sê ons kan maar aanhou swerf, to infinity and beyond, soos in Toy Story. Maar ek kan nie aftree nie, ek moet aanhou skryf, en hoewel my voete altyd sal aanhou kriewel om verder te reis, begin my vingers ook teen dié tyd jeuk om weer ’n slag ’n boek te skryf.

Anders gestel: Ek moet my stert op ’n stoel kry, ’n stoel wat stilstaan, op één plek, verkieslik ’n stil en afgesonderde plek, sodat ek maande lank aanmekaar kan skryf. Op dieselfde stoel, voor dieselfde tafel, in dieselfde vertrek. Dis waarna ons nou begin soek, daardie stilstaande stoel, iewers op die Franse platteland.

..........
Ek moet my stert op ’n stoel kry, ’n stoel wat stilstaan, op één plek, verkieslik ’n stil en afgesonderde plek, sodat ek maande lank aanmekaar kan skryf.
..........

Dis nie ’n dringende soektog nie, want hierdie geriatric gap year is eers op 31 Augustus amptelik verby, en soos ’n wyse vriendin in Suid-Afrika ons herinner het, ons hóéf mos nie op 1 September ’n huis te hê waarin ons die res van ons lewe wil woon nie. ’n Swerfjaar hoef nie letterlik ’n jaar te duur nie, dit kan korter of langer wees, en terwyl dit duur, wil ons dit nie bederf deur te veel te wroeg oor waar ons ons hierna gaan vestig nie.

Vestig is buitendien so ’n gelaaide woord, die Afrikaanse vertaling van settle en die werkwoord vir wat settlers doen, en die meeste settlers in geskiedenisboeke se reputasie is deesdae aan flarde. Ons wil nie settlers wees nie, ons wil nie moor en plunder onder die plaaslike bevolking nie, ons wil eintlik maar net iewers insmelt. Tydelik, altans.

Want ons weet nou ons wil verder reis, minstens ’n paar maande van die jaar, terwyl ons nog gesond genoeg is om dit te doen, maar ek het ’n stilstaande skryfstoel nodig vir die res van die tyd. En ek verlang na my boeke in ’n skeepshouer. Na my skilderye ook, en na die teekoppies met die goue randjies wat ek by my ouma geërf het, en na my handgemaakte vierkantige etenstafel, en na my dubbelbed van hout met my eie beddegoed daarop. Maar ek verlang veral na my boeke.

Ons weet ook ons gaan waarskynlik nie in dieselfde streek woon waar ons die vorige kwarteeu van ons lewe deurgebring het nie. Ons het op 1 September laas jaar in ons oorlaaide Kangoo van ons pas verkoopte huis in Provence vertrek, hartseer om afskeid te neem, maar ook opgewonde omdat ons vir die eerste keer werklik kon kies waar ons verder wil lewe. Onbelemmer deur kinders se skole of Alain se werkplek of enigiets anders behalwe ons vrees vir die onbekende. Dis ’n angswekkende vorm van vryheid, het ons toe al besef, en ná elf maande van swerf is dit nog net so angswekkend.

..........
Jy kry nie sonskyn sonder skaduwees nie, en ons weet nou ons vrees is bloot ons vryheid se skadukant.
..........

Maar ons het geleer om die angs te aanvaar en die vryheid te geniet. Jy kry nie sonskyn sonder skaduwees nie, en ons weet nou ons vrees is bloot ons vryheid se skadukant. Ons het geleer om te grinnik oor sêgoed soos better the devil you know en ander trooswoordjies wat bang mense as verskoning aangryp om niks nuuts te doen nie. Ons soek nou eerder die onbekende duiwel, want wie sê hy’s rêrig ’n duiwel?

Daarom kyk ons na huurhuisies in Périgord en omstreke, ver van waar ons voorheen gewoon het, nader aan die Atlantiese kus sodat dit makliker is om by ’n groot see met branders uit te kom. Want ek het ook vanjaar geleer dat my matroosbloed selfs dikker as my nomadiese bloed is. Of dalk is alle matrose juis nomadiese wesens. Dalk is dit waarom my voete altyd sal jeuk.

Die huis wat ons soek, sal kleiner as die Hautefort-kasteel in Périgord wees

Een van die baie boeke wat ek langs die pad in gratis biblioteke opgetel het, dié een voor ’n teater in Durham, North Carolina, is The songlines van Bruce Chatwin. Toevallig ook een van die baie boeke wat ek lankal wou lees, maar nooit by uitgekom het in my vorige lewe nie. En toe word dit die ideale reisboek om te lees terwyl ek self ook reis. Chatwin skryf oor die nomadiese roetes van die Australiese Aborigines, met vele verwysings na ander nomadiese volke.

Aangesien die vroegste voorvaders van homo sapiens nomades was, sit daardie nomadiese drang steeds so diep in ons gene vas dat sommige van ons nooit werklik daarvan kan wegkom nie. Dis in elk geval die troos wat ek uit die boek gekry het, dalk net omdat ek ’n verskoning vir my ewige swerflus soek. Ander lesers sal weer ander trooswoorde vind.

..........
Aangesien die vroegste voorvaders van homo sapiens nomades was, sit daardie nomadiese drang steeds so diep in ons gene vas dat sommige van ons nooit werklik daarvan kan wegkom nie.
..........

Intussen word ons soektog na ’n geskikte woonplek net nóg ’n verskoning om verder te swerf en onbekende dorpies in die omgewing te verken. Ons swem in die riviere, ons stap deur die woude, ons proe die plaaslike spys en drank. Net ingeval ons dalk hier gaan woon.

Op 21 Junie, die langste dag en kortste nag van die jaar, vier ons die nasionale Fête de la Musique in Brantôme, ’n allerlieflike dorp wat ons hier ontdek het. Nie dat ons in Brantôme wil woon nie, dis te besig met heeltemal te veel Britse toeriste, maar dit bly ’n plesierige kuierplek. En op hierdie eerste landwye musiekfees in drie jaar, ná die lang stilte van Covid, dreun die keisteenstrate van die dorp soos daar gelag en gesing en musiek gemaak word.

Die jaarlikse musiefees in Brantôme

’n Week of wat later sit ons in ’n ou kapelletjie naby die vervalle abdy van Tourtoirac wat in 1003 opgerig is en ons luister na ’n kamermusiekorkes wat ’n strykkwintet van Mozart speel. Agter die musikante brand lang katedraalkerse en op die plafon kyk ’n beskilderde engel af op ons. Ons hou hande vas soos jong verliefdes, heeltemal meegevoer deur die musiek en die ruimte waarin dit opgevoer word.

Kamermusiek in ’n kapel naby die abdy van Tourtoirac

Die volgende aand geniet ons weer vrolike straatmusiek by ’n kosmark op die dorpie Montagrier, ’n indrukwekkende koperblaasorkes wat New Orleans blues speel terwyl ons saam met honderde dorpenaars by lang tafels eet en drink. Kinders jaag mekaar voor die verhogie rond, bejaardes spring op en begin in die straat dans, die vroulike saxofoonspeler sing met ’n stem wat rillings langs my ruggraat afjaag.

’n Koperblaasorkes by ’n straatfees in Montagrier

Help, sê ek vir die Fransman, ek word van voor af verlief op die Franse platteland. Ek het gedog ná so ’n lang swerftog sou ek elders ’n holte vir my voete vind, dalk in ’n ander land in Europa, Italië of Portugal, Griekeland of Spanje. Maar hier voel ek tuis – weliswaar op ’n ander manier as wat ek in my geboorteland tuis voel, maar nogtans tuis.

En toe herinner hy my aan James Baldwin se woorde wat ek vroeg op ons swerftog in hierdie rubriek met lesers gedeel het: “Perhaps home is not a place but simply an irrevocable condition.”

Dit voel al hoe meer waar.

  • 7

Kommentaar

  • Waar gaan julle settle? Dis die vraag wat ek gedurig gevra word! Wel, ek weet nie wat is 'settle' nie; nog nooit in my bestaan geweet wat dit beteken nie. Ons het darem ons basisse in die Périgord Noir en Kaapstad, waartussen ons agter somers aanswerf, en tussen-in swerf ons rond waar ons nomadiese hart ons neem …

  • As jy op soek is na inspirasie vir 'n nuwe boek, kan jy my kontak. Almal van ons het seker 'n lewenstorie, maar van ons was net soveel meer blootgestel as ander.

  • Marthe van Zyl

    Ek het besef, terwyl ek hier lees, ek het ook so twintig jaar uitmekaar sielsveranderinge beleef. Laat mens dink, nè?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top