Swerfjaar vir seniors: Dinge van die kind wat ek was

  • 6

Wie sê ’n oorbruggingsjaar is net vir waagmoedige jongmense bedoel? So ’n avontuur is wat Marita van der Vyver onderneem het toe sy kort na haar twintigste verjaardag ’n swerfjaar in Europa aangedurf het. Maar veertig jaar later pak sy en haar pas afgetrede Franse man ’n “geriatriese gap year” aan – ’n vae droom wat skielik ’n angswekkende, bevrydende werklikheid geword het.

Foto’s en teks: Marita van der Vyver


 

Ag, hoe wens ek nou weer daar was ’n lekker Afrikaanse woord vir serendipity. “Gelukkige toeval” is seker ’n gepaste omskrywing, maar dit kort die klokkespel van klank wat ek altyd in se-ren-dip-ity hoor. Soos ’n beiaardier wat al hoe swaarder aan die kloktou hang tot op dip en dan skietgee vir die vrolike geklingel van ipity.

Want dit was voorwaar ’n wonderlike soort toeval dat ek vandeesmaand vir my Fransman die Laeveldse omgewing van my tienerjare kon gaan wys, skaars ’n week voordat die TV-reeks Dinge van ’n kind op kykNET begin wys het. Die storie waarop die reeks gegrond is, is ’n fiktiewe weergawe van daardie jare. Nadat ek en my man (danksy die Engelse onderskrifte) saam na ’n voorskou van al tien episodes kon kyk, is allerhande dinge van die kind wat ek was, weer losgekrap op die modderige bodem van my geheue.

Dinge wat in elk geval net ’n ligte aanraking nodig gehad het om weer boontoe te dryf. Ek moes onlangs op daardie einste bodem gaan rondkrap om ’n jeugmemoir in die vorm van ’n brief aan my dogter te skryf. En terwyl ek die Laeveld, ’n deel van wat nou bekend staan as Mpumalanga, saam met Alain herontdek, is ek ook gevra om op Moedersdag met ma’s en dogters (en pa’s en metgeselle en wie ook al wou luister) oor ’n Baie lang brief aan my dogter te gesels.

Dié optrede was op die dorp waar ek my laaste twee skooljare in die meisieskoshuis deurgebring het, nou bekend as Mbombela, maar in die jare sewentig nog Nelspruit. Nes Maputo in daardie jare Lourenço Marques, of LM, was, waar LM Radio soos ’n vuurtoring in die donker vir opstandige tieners geskyn het. LM in Mosambiek was ’n plek waar jy flieks kon sien en boeke kon lees en musiek kon luister wat in ons Christelik-Nasionale vaderland verbode was. Dit was al wat nodig was om die stad vir baie van ons onweerstaanbaar aanloklik te maak.

..........
Vir my was dit boonop ’n kans om die speelgrond van my tienerjare vir my man te wys, en terselfdertyd vrede te maak met daardie ontevrede tiener wat eerder in die stad wou gaan jol as om naweek ná naweek tussen wilde diere rond te hang.
..........

Maar terug na Nelspruit/Mbombela, wat nié die fiktiewe Swartstroom in Dinge van ’n kind is nie, maar tog as ’n fondament gebruik is waarop ’n dorp in my verbeelding gebou kon word. Met ’n bietjie van Witrivier bygelas (Witrivier, Swartrivier, Swartstroom ... dis mos maar hoe denkbeeldige plekke deur vrye assosiasie name kry), asook ander dorpe in die omgewing. Malelane met die uitgestrekte suikerrietplantasies waardeur ek en Alain moes ry om by die Nasionale Krugerwildtuin uit te kom, Sabie, Hoedspruit, Komatipoort en bowenal Hazyview, wat ek destyds goed geken het. 

Ons het op die Kruger Mpumalanga-lughawe geland, wat eers lank ná die jare sewentig opgerig is, en dadelik in ’n huurkarretjie koers gekies na die Wildtuin, soos ons dit destyds genoem het (en baie Afrikaanssprekendes dit nog steeds noem), waar ek ’n skeppende skryfkursus moes aanbied. Hoe kan enigiemand ’n uitnodiging weier om in so ’n manjifieke omgewing te kom werk? Vir my was dit boonop ’n kans om die speelgrond van my tienerjare vir my man te wys, en terselfdertyd vrede te maak met daardie ontevrede tiener wat eerder in die stad wou gaan jol as om naweek ná naweek tussen wilde diere rond te hang.

Ons was gelukkig genoeg om selfs renosters in die Wildtuin te sien

Dit was die eerste keer sedert my hoërskooljare dat ek weer in die Wildtuin was, dié keer heeltemal vrywillig. Diékeer het ek elke wilde dier, voël en selfs insek waardeer.

Ek was gek oor die geure van braaivleisvure saans (ek het moontlik meer vleis in een week verorber as wat ek gewoonlik in ’n maand eet) en die veld vroeg soggens. Selfs die reuk van vars olifantmis het my bekoor. As ek dít kon sê aan daardie tiener van 1975 wat so verveeld was met nóg ’n blerrie olifant, sou sy sweerlik haar oë ongelowig gerol het.

’n Vry vrou op ’n rots in die Wildtuin, met apologie aan Antjie Krog

En die klanke van die bos. Die skielike roep van ’n visarend terwyl ek saam met ’n tiental talentvolle skrywers om ’n stoeptafel sit en gesels oor hoe belangrik dit is om te lúister as jy oortuigend wil skryf. Die aanhoudende tartlag van ’n hiëna terwyl die aktrise Cintaine Schutte vir ons sommer so langs die vuur ’n uittreksel uit haar eenvrouvertoning van Dinge van ’n kind opvoer. Ek het onwillekeurig gewonder of die toneelstuk ooit weer met so ’n rare, spontane klankbaan opgevoer sal word.

Cintaine Schutte voer 'n stukkie van Dinge van 'n kind vir ons op

Sonsondergang in die Wildtuin

In Mbombela het ek vir Alain die baksteenmure van my hoërskool en koshuis gaan wys. Soos altyd wanneer jy terugdwaal na die dinge van lank gelede, het die meeste dinge onherkenbaar verander. Die ou skoolsaal met rye harde houtstoeltjies het nou ’n moderne ouditorium met sagte blou sitplekke geword. Die speelgrond waar ons pouses rondgehang het, is verdeel in verskillende afdelings vir verskillende grade (of standerds soos ons dit in die sewentigs genoem het) en versier met afdakkies wat koelte verskaf. En die meisieskoshuis wat vir my bitter na aan ’n tronk gevoel het, het nou heeltemal ’n ander atmosfeer.

My ou skool in Nelspruit het onlangs ’n erepenning aan my toegeken

Bygesê, as bevoorregte wit tiener het ek niks van tronke geweet nie. Maar nadat ek my ou kamer opgespoor het (naby die badkamer en langs die klok) en vir Alain gevra het om ’n foto te neem van my op die kateltjie teen die kaal muur langs die gordynlose venster, het ’n vriend spottend opgemerk dat dit hom herinner aan die beroemde foto van Madiba in sy gewese tronksel op Robbeneiland. 

In my ou koshuiskamer – amper ’n halwe eeu later

Tog is die koshuisgange deesdae vrolik volgens temas versier. Die matriekmeisies se tema is byvoorbeeld rolprente, met plakkate van verskeie flieks en TV-reekse waaroor ek of my kinders mal is, soos Stranger things en Peaky blinders. Die graad 11’s se gangtema is musiek. Ek kon nie anders as om te bespiegel dat my aanpassing by die koshuislewe miskien nie so pynlik sou gewees het as ek daagliks na plakkate van my gunstelingflieks of geliefde musieksterre kon kyk nie.

Daar sou natuurlik nie in my koshuisdae plakkate vir TV-reekse gewees het nie, want ons het nie TV in Suid-Afrika gehad nie – soos ek my kinders en selfs my man gereeld moet herinner. Maar ek weet ek het tóé al my wegkomkans in flieks en musiek en boeke gesoek, in fiktiewe stories eerder as die saai werklikheid van my alledaagse skoollewe. Hoe ironies dat daardie alledaagse skoollewe wat ek so verpes het, nou in ’n TV-reeks verander is. Die heelal is blykbaar besig om vir my ’n les te probeer leer. Ek is nog net nie seker ek verstaan die les nie.

My Moedersdagpraatjie was by Le Petit Zest, ’n eetplek met ’n Franse invloed wat beslis nie in my skooldae bestaan het nie. En terwyl ek en my Fransman daar buite onder ’n sambreel sit en luister na ou Franse liedjies soos “C'est si bon” en ons amper begin verbeel ons is terug in Frankryk, sien ek so tussen die bome deur ’n lelike baksteentoring wat enige Franse illusies net daar kelder.

Ma’s en dogters op Moedersdag in Mbombela

Dis die toring van die NG Kerk waar ek aangeneem is, besef ek. Die einste kerk waarheen ek as koshuismeisie twee keer op ’n Sondag moes stap, soggens en saans, in my sedige wit kerkrok en my sweterige nylonkouse. In Nelspruit se swoel hitte, dwarsdeur die jaar, en in die somer byna ondraaglik swoel.

Serendipity, waarskynlik weer, dat ek amper ’n halwe eeu later presies oorkant dáárdie kerk beland om met lesers te gesels oor ’n boek wat uit dáárdie tydperk voortspruit.

Die volgende dag, voordat ons die vliegtuig terug Kaapstad toe moet haal, ry ons na die piesangplase en avokadoboorde by Hazyview waaroor ek ook in ’n Baie lang brief aan my dogter skryf. Ek weet ek sal nie noodwendig een van ons twee gewese piesangplase vind nie, want ek het reeds in die verlede tevergeefs na hierdie plasies gesoek. Die name het verander en orals is hoë heinings en veiligheidshekke opgerig. 

Pasop vir krokodille en seekoeie by ’n koffiewinkel in Hazyview

Maar ek het gehoor daar is één plek wat dieselfde gebly het, vasgevang in ’n amperse time warp uit die sewentigs. Die Casa do Sol, ’n hotel in die Spaans-Sardoniese styl, soos my sardoniese eksman altyd na die nagemaakte Spaanse boustyl in Afrika verwys het, was reeds in my jeugjare ’n kuierplek wat homself nie te ernstig opgeneem het nie. Ek het besluit om vir Alain die Casa do Sol te wys omdat ek aan niks anders kon dink wat nog min of meer dieselfde as in die sewentigs lyk nie.

Ná ons van die hoofpad afdraai, volg ons ’n kronkelende grondpad deur oerwoudagtige plantegroei wat ek glad nie herken nie. Óf ons is op die verkeerde pad, sê ek vir my man, óf ek het so oud geword dat hier ’n oerwoud kon groei sedert ek laas hier was. Wel, ons is nie op die verkeerde pad nie, grinnik my man toe die Spaanserige hotelgebou links voor ons opdoem. 

Maar selfs hier het alles nie onveranderd gebly nie. ’n Entjie van die hotelgebou is ’n koffiewinkel-restaurant bygebou, gelukkig nie in die Spaanse styl nie, vlak langs ’n dam met seekoeie en krokodille. Of só waarsku verskeie kennisgewings in en rondom die water ons, en ons sal liewers die kennisgewings glo as om ons voete in die water te laat hang.

Bobotie-jafels en boeretroos by Casa do Sol

En terwyl ons op die houtstoep van die koffiewinkel sit en smul aan die mees tradisioneel Suid-Afrikaanse versnapering wat ons op die spyskaart kon kry – ’n geurige bobotiejafel – sien ek hoe die kind wat ek lank gelede was, vir my van die oorkantse oewer af wuif. Not drowning, wil sy vir my sê, just waving.

Ons is nooit werklik klaar met die dinge van ons kindwees nie, dit weet ek teen dié tyd. Maar soms is ons gelukkig genoeg om ’n oomblik terug te kyk na die lang pad wat ons afgelê het, en vir onsself te glimlag.

Die dinge van die kind wat ek was

  • 6

Kommentaar

  • Nou ja, ons woon al 36 jaar in die laeveld en die wildtuin is op ons agterstoep. Ons is geseënd tussen al die groen en weelderige bome, met voëls en slange en kruipende gediertes. Goed om te hoor jy het hier jou wortels gehad.

  • Uysie Alberts

    Hoe lekker het ek nou gelees.
    En hoe groen is ek dat ek nie 'n vlieg teen die muur by die skryfkursus kon wees nie - ek ken wel iemand wat daar was!

  • Dinelia (Fourie) Brink

    Goed of sleg, ons kinderjare vorm ons.
    Bly jy was weer terug in die Laeveld. Altyd interessant om iets van jou te lees!
    Nelspruit en Witrivier, het hulle in die sewentig gesê, gaan nog een dorp word! Nou is dit so!
    1975 nog skool gehou aan NHS.

  • Bly jy waardeer nou die Laeveld en praat nie meer van sy groen asof dit ’n vloekwoord is nie. Verlang self terug na my hartland.

  • Breyten Breytenbach

    Na só ’n skrywe verlang mens nou sommer na plekke wat mens nog nooit gesien het nie! Dankie …

    Sou "welgeluksaligheid" in Afrikaans kon deurgaan (of instaan) vir "serendipity"?

    Welgeluksaaa-lig?

    Veilig tuis!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top