Die dag toe ek die Here en ’n hond ontmoet het

  • 1

Dit het soos ’n massasaamtrek buite Đông Anh gelyk waar die verkeerspolisie motorfietse afgetrek het. Dis ’n heilige Sondag. Die motreën gly oor my helmskerm soos ek tussendeur die massas probeer vleg om by my klas uit te kom. Vir 27 minute volg ek die GPS-vrou se irriterende stem tot by Una, ’n klein taalskool net buite Hanoi. Vir twee uur vermaak ek die 12 jong snotneuse wat op hulle plastiekstoele sit en lawaai. Ek probeer hulle ook iets leer. Maar tevergeefs.

Ná my klas klim ek weer op my pers hings se rug en ry terug huis toe. Die son het st-a-a-adig sy verskyning kom maak. Sukkel-sukkel beur die bofbal deur die wolke.

“GPS signal lost,” sê die vrou op my selfoonskerm. Benoud stop ek langs die pad. Ek is mos bang om te verdwaal. My selfoon vibreer in my hande soos ek tik. Nes ek gedink het: My data is klaar. Hoe nou? Die bank app hier werk nie soos FNB waar jy sonder data kan inteken nie. Ek volg my instink en ry in ’n rigting in.

Niks lyk bekend nie.

Links, in die verte, staan ’n hoë gebou, bleek en grys, teen groen ryslande. Ek ry stadiger, sit my flikkerlig aan en ry nader. My hings skud sy derms los op ’n kort grondpad vol gate – nou gevul met water. Tot in Viëtnam het die grondpaaie sinkplate soos op die plaas in Reivilo.

Die reusagtige gebou staan enkele meters voor my. ’n Katolieke kerk. In Boeddhistiese Viëtnam. Ek stop, haal my helm af. Amper enkeldiep stap ek met my swart Lazada-stewels deur die modder om by die kerkdeur uit te kom.

Dis toe ek ’n gegrom hoor. Ek draai om. Agter my staan ’n swart straatbrak met bruin pote. Sy ore gespits; sy lippe bewe terwyl hy sy slagtande wys.

Een tree terug. Nog ’n tree. Mens hardloop nie weg vir ’n hond nie, dink ek. Ek reik my hand uit en maak roepgeluide met my mond. Honde hou van my. Of só het ek gedink. Die hond gee nie in nie. Hy grom.

Vreemd dat mens by ’n kerk sal kom staan met ’n hond wat vir jou grom, dink ek.

“Dog is God, fluffs,” sê ek vir die hond en probeer weer my hand uitsteek.

Niks.

Skielik dink ek aan Lazarus wie se sere deur straathonde gesond gemaak is. Ook aan St Rocco wat woud toe gegaan het om te sterf nadat hy ’n plaag opgedoen het. ’n Hond het sy sere gesond gelek en vir hom kos aangedra. Maar ’n hond by ’n kerk wys vir my net sy slagtande.

Toe ek opkyk, hou Maria wag oor my. Spierwit staan sy tussen die kerk se twee torings.

Ek gee op om die brak oor te wen en stap na my hings toe.

Net soos ek om die kerk ry, sien ek ’n groep kinders wat sokker speel.

“Hello!” skree die lot. Hulle kom nader gehardloop. Ek stop, skakel die enjin af.

“Hello,” groet ek.

“Where you from?” vra twee amper gelyk.

“Nam Phi.” Suid-Afrika.

Die hond is weer daar. Tussen ons. Stadig klim ek van my hings af.

“Is this your dog?” vra ek vir ’n mollige seun.

Hy skud sy kop.

Ek probeer weer om my hand uit te reik. Die hond kom nader. Ruik-ruik. Sy stert staan kiertsregop. Sy nat tong lek oor my vingers. Ek streel oor sy kop. Dan klim ek terug op my hings. Ek moet ry.

“Goodbye,” groet ek die seuns.

Hulle skree: “Bye-bye!”

Ek ry weg, ry weer om ’n hoek om by die pad uit te kom. Lewensgroot staan ’n man voor my met ’n waaiende hand en engelvlerke in die ander vasgeklem. Ek stop en stap nader. Klim die drie trappe tot bo om voor sy voete te gaan staan.

Dis die Here. In alle glorie met blomme aan sy voete en ’n kers op sy hoek.

Ek vat aan sy kaal voete. “Here,” vra ek, “hoekom het U ’n kwaai hond op U werf? Paulo Coelho skryf God het die hond eerste gemaak. Honde moenie kwaai wees nie. Dog is God.”

In die verte hoor ek die kinders is vrolik. Die son het sy volle verskyning gemaak. ’n Reënboog staan amper breë arms oor die ryslande.

Die brakkie kom nader gehardloop. Hy ruik aan my pers hings en lig sy been teen die voorwiel.

“Ey!” skree ek. Hy kom na my toe aangestap. Die stert waai. Vir oulaas streel ek oor sy kop só neffens die Here en Sy engelvlerke. In die ry kyk ek terug in my een spieëltjie. Wapperende ore en bruin pote agtervolg my. Ek hou aan ry. Hy moet by die Here bly.

Lees ook:

Op helium

Vlug ET640

Elders gesien: ’n Jaar gelede is ek uit Suid-Afrika uit

  • 1

Kommentaar

  • Sonyah Holder

    Zalman, ek't altyd gehoop jy sal jou rubrieke produseer. Dis heerlik om jou stories te lees. Ek kry 'n duidelike beeld van jou skrywe omdat ek self vir jare in Viëtnam gewoon het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top