Zalman S Davis skryf op Facebook:
Vandag, ’n jaar gelede, is ek sonder ’n plan uit Suid-Afrika uit. Ek is oor tydsones, seisoene en kontinente heen met net my paspoort en ’n rooi rugsak.
Dinsdag, 13 Desember 2022 om 13:40 vertrek ek vanuit Kaapstad op Kenya Airways, vlug KQ783 na Nairobi, Kenia. Hoekom Kenia? Ek weet nie, maar wat ek wel weet, is dat dié Afrikaland en haar mense my totaal en al verander het. Afrika is magies. Kenia word my “tuiste” vir 30 dae. Hiér dans ek met die Maasai, word ingelyf en ontvang die naam, Lemayan, wat vryheid beteken.
Ná Kenia, is ek Indië toe. Hier word ek ietwat heel in die Himalajas tussen Sadhguru-volgelinge en bewonderaars in Ashrams terwyl die wêreld buite dik onder die sneeu bedek lê. Nóg 30 dae verby.
Ná Indië, is ek Viëtnam toe. Hier word ek nie net op my tweede dag desmoers van ’n scooter afgestamp nie, maar ek word deur verskeie mense in hul huise verwelkom. Eet saam met kinders, drink bier met die ouers, vind vrede in tempels en word tevrede met die ontdekkingsreis waarop ek maande vantevore gegaan het.
Vele ander lande sou volg: Indonesië, Laos, Maleisië en Singapoer.
In Indonesië ervaar ek vriendelikheid en wat dit beteken om te kan gee.
In Laos teug ek aan ’n sigaret langs die Delta-rivier en probeer om van ’n lover te vergeet.
In Maleisië leer ek geduld.
In Singapoer ontvang ek ’n doodstyding en sterf amper van die honger (no pun intended), want dié land is fokken duur.
Volgende stop? Thailand. Daarna? Pakistan en Afghanistan.
Ek weet nie vir hoe lank hierdie reis nog gaan voortduur nie, maar kom saam.
Én mag 2024 minder traumaties wees.
Lees ook:
Swerfjaar vir seniors, aflewering sewe: Oor ons ver verlate vlaktes
Swerfjaar vir seniors, aflewering vyf: ’n Road trip is nie dieselfde as ’n motortoer nie