Swerfjaar: Korsika – liewers laat as nooit

  • 5

Teks en foto’s: Marita van der Vyver

Die son sink in die see naby die huis wat ons oppas.

..........
Ek het mos voorspel dat hierdie senior swerfjaar moontlik nog ’n episode kan oplewer. Kort voor Kersfees, ná meer as vyftien maande van ’n nomadiese bestaan, trek ons na ’n eenvoudige huurhuis met ’n wilde tuin in Périgord, waar ons oorblywende besittings oplaas weer uitgepak kan word. Maar eers geniet ons nog ’n laaste wals op die eiland van Korsika.
..............

Ek het mos voorspel dat hierdie senior swerfjaar moontlik nog ’n episode kan oplewer. Kort voor Kersfees, ná meer as vyftien maande van ’n nomadiese bestaan, trek ons na ’n eenvoudige huurhuis met ’n wilde tuin in Périgord, waar ons oorblywende besittings oplaas weer uitgepak kan word. Maar eers geniet ons nog ’n laaste wals op die eiland van Korsika.

Of miskien moet ek dit eerder ’n tango noem, met onverwagse kinkels en swierige swaaie soos die bergpaaie hier. Sensueel en smeulend soos die son wat saans in die sugtende see sink, soos in ’n minnaar se omhelsing, die wind wat oor die heupe van heuwels streel, die branders wat lui aan die strande lek.

Ja, Korsika is oorrompelend soos ’n geïmproviseerde dans van Latynse oorsprong. 

Een van die vele verrassings van ons swerftog is dat ons langs die pad ’n paar lieflike leë huise kon oppas. By die lang lys van tydelike beroepe wat ek al in my lewe beoefen het – van kelnerin en kroegmeisie tot parfuumverkoper en proefleser, van skottelgoedwasser en au pair tot toergids en TV-programaanbieder – kan ek nou nog ’n kwalifikasie voeg: deeltydse huisoppasser.

Verlate sandstrande met donkerblou water

Dit het half toevallig gebeur, soos die meeste dinge die afgelope anderhalfjaar. Vriende en vriende van vriende en selfs vreemdelinge wat intussen vriende geword het, het ons genooi om in hulle huise te bly terwyl hulle elders reis of werk. Van North Carolina en Connecticut in Amerika tot Périgord in Frankryk, en uiteindelik hierdie huis teen ’n berghang, met ’n uitsig op die see deur elke venster, in ’n afgesonderde gehuggie in Korsika.

Om ’n huis in Korsika op te pas is egter nie dieselfde as om ’n huis elders op te pas nie. In North Carolina kan jy dalk skrikkerig wees vir bure wat hulle ondersteuning vir Trump op kennisgewings op hulle grasperke adverteer of met plakkers van die Confederate-vlag op hulle motors pronk, maar jy kan hulle vermy en uit die moeilikheid bly. In Korsika, met ’n eeue-oue strewe na onafhanklikheid wat van geslag na geslag oorgedra word en ’n opstandigheid teenoor Frankryk wat steeds as koloniale besetter beskou word, kan jou bure jou huis met ’n tuisgemaakte bom aan die brand steek as daar niemand is om dit op te pas nie.

Die Korsikane hou nie van Franse van die vasteland nie, is ons gewaarsku, veral nie van Parysenaars nie. Parys is steeds die setel van die ongewenste owerheid. Ag wat, het my Fransman verklaar, hy hou ook nie van Parysenaars nie, so hy sal goed klaarkom met die Korsikane. En ek is in elk geval net baster-Frans. Soos die Korsikane het ek ’n ander komvandaan.

Politieke graffiti is alomteenwoordig – van die stede tot die kleinste gehuggies.

Tot dusver was almal – van kelners en winkeliers tot vreemdelinge op straat – nog net gaaf met ons. Maar laas naweek is drie onbewoonde huise op die eiland weer in bomaanvalle beskadig, een daarvan in Cargèse, ’n dorpie wat ons van ons stoep af aan die oorkant van die glinsterende blou baai kan sien. Hoewel die FLNC (Nasionale Bevrydingsfront van Korsika) in 2014 amptelik verklaar het dat hulle die gewapende stryd om onafhanklikheid laat vaar, het kleiner splintergroepe altyd militant gebly, en sedert die rebelleleier Yvan Colonna vroeër vanjaar deur ’n mede-gevangene in ’n Franse tronk vermoor is, dreig die FLNC om weer die wapen op te neem. Colonna se nom de guerre was Skaapwagter van Cargèse – wat dalk verklaar waarom ’n Franse eienaar se vakansiehuis in Cargèse ook laas naweek geteiken is.

Die voortslepende geweld is die grootste rede waarom ek, ná meer as ’n kwarteeu in Frankryk, nog nooit voorheen in Korsika was nie. Toe ek in die jare negentig in Europa kom woon het, het die terreur op die eiland hoogty gevier, met heelwat mense wat in aanvalle gesterf het. Vir my, as Suid-Afrikaner uit ’n gewelddadige samelewing, het dit onsinnig geklink om te gaan vakansie hou op ’n plek waar ek voortdurend bang sou wees vir geweld.

Almal, insluitend my Franse geliefde, het my aanhoudend vertel van die asemrowende natuurskoon wat vir enige moontlike gevaar kan vergoed – Korsika word nie verniet Die Eiland van Skoonheid genoem nie – maar ek wou eerder wag “tot dinge kalmer word”.

Die baai agter ons oppashuis

Nou is ek hier, ’n soort menslike veiligheidsmuur om ’n leë huis te beskerm, kan jy seker sê, en my asem word inderdaad daagliks weggeslaan deur die alomteenwoordige skoonheid van majestueuse bergpieke en groen woude, wit kranse en uitgestrekte strande en die see in elke denkbare skakering van blou. En hoe meer ek oor die bloedige geskiedenis van Korsika leer, oor vendettas wat dekades lank duur, oor “bandiete van eer” wat deur die polisie gejag en deur die bevolking beskerm word, oor rebellies en sluipmoorde en weerstandbewegings, hoe meer vermoed ek dat dinge nooit werklik “kalm” gaan word nie. Korsika se natuurskoon het weliswaar ’n kalmerende invloed, maar die geskiedenis van die eiland is allesbehalwe ’n kalm relaas.

En al waaroor ek spyt is, is dat ek nie lankal gekom het nie.

Ek onthou ook wat iemand in 1948 vir die Britse skrywer Dorothy Carrington gesê het, op die laaste dag van haar eerste reis deur Korsika: Gee pad hier voordat jy volkome betower en verslaaf is. Sy het nie geluister nie, sy het teruggekeer, weer en weer, en haar uiteindelik in Ajaccio gevestig, waar sy in 2002 op die ouderdom van amper 92 oorlede is.

Die wit kranse van die winderige Bonifacio in die suide

Carrington se boek Granite Island: A Portrait of Corsica het vyftig jaar gelede verskyn en intussen klassieke status verkry. Dis ’n magnum opus waarin haar persoonlike belewenis van die eiland saamsmelt met deeglike navorsing oor die politieke geskiedenis, mites en legendes. Sy skryf oor fassinerende verskynsels soos “droomjagters” en sieners, die spontane rouliedere van voceratrices, die polifoniese koorsang van skaapwagters of vissermanne.

Ter wille van eerlikheid moet ek dadelik bylas dat Korsikaanse polifoniese musiek vir my Fransman so pynlik op die oor is soos die Briels se Afrikaanse gejodel en Hawaiïese kitare vir my. Elke diertjie het sy plesiertjie, en Korsikaanse polifonie doen dit nie vir my man nie. Maar nogtans sal ons jubel, let wel, nie jodel nie, oor ons hier is.

... en die rooskleurige rotsformasies bekend as Calanques de Piana.

Hoewel die eiland die afgelope halfeeu onherroeplik verander het, is Carrington se liriese beskrywings steeds ’n beter gids vir ’n reisiger wat Korsika wil verstaan as enige moderne gidsboek met volkleurfoto’s en wenke oor waar jy kan eet en slaap. Ondanks al die veranderinge, is daar baie wat dieselfde gebly het. En wanneer ’n begaafde skrywer ’n reiservaring verwoord, word daardie woorde nooit werklik oud nie.

Dis waarom ek gedurende die Amerikaanse been van ons swerfjaar saam met John Steinbeck en sy hond in ’n primitiewe kampeerwa met die romantiese naam van Rocinante kon klim – danksy die boek Travels with Charley: In Search of America, wat sestig jaar gelede gepubliseer is – en kort-kort verwonderd kon glimlag of my kop instemmend kon knik. Soveel van wat Steinbeck beskryf, was nog net so waar vir ons eie reis in ’n moderne kampeerwa deur ’n ewig-veranderende Amerika.

My gidsboek en die uitsig van ons stoep af

Skrywers soos Steinbeck en Carrington kry dit reg om op ’n intens-persoonlike manier die siel van ’n plek vas te vang – die gees, die metafisiese essensie, wat jy dit ook al wil noem – eerder as om bloot plekname en feite met anekdotes af te wissel. Plekname verander, soos ons Suid-Afrikaners maar te goed weet, feite word verdraai, anekdotes verflou, maar die siel bly die siel.   

En Korsika het ’n óú siel. Kyk maar na die menhirs en obeliske uit die Nuwe Steentydperk wat duisende jare ongestoord op die eiland rondgelê het, soos klippers waarmee die kinders van Uranus en Gaia gespeel het, tot dit taamlik laat in die twintigste eeu eers deur geleerdes uit die buitewêreld “ontdek” is. Dis boonop ’n opstandige siel dié, gevorm deur die een ongewenste buitelandse besetter na die ander, van die antieke Grieke en Romeine tot die owerhede van Pisa en Genua. Selfs die Britse ryk het kortstondig hier kom baasspeel voordat die gebied uiteindelik twee eeue gelede deur Frankryk oorgeneem is.

Die Korsikaanse seerower-simbool word oral aangetref.

Van altyd af vind seerowers en voortvlugtiges hier skuiling, danksy al die beskutte baaie waar skepe veilig kon anker, die berge in die binneland wat moeilik bereikbaar was, en die onbegaanbare bosse of maquis, soos dit hier genoem word, waar enigeen na willekeur kon wegraak. Dis hoofsaaklik weens die maquis – en die inherente opstandigheid van die bevolking – dat ’n indrukwekkende weerstandbeweging in die Tweede Wêreldoorlog hier ontstaan het. Die eiland is eers deur die Italianers en daarna deur die Duitsers beset, maar vir baie Korsikane was dit net nóg twee besetters in hulle eeue-oue stryd om onafhanklikheid. So onwelkom soos al die ander – en teen dié tyd het hulle gewéét hoe om teen besetters te baklei. 

Deesdae is die maagdelikheid van die kuslyn inderdaad bederf, soos Carrington voorspel het, deur moderne toerisme en alles wat dit meebring – onaansienlike hotelle, kitskosrestaurante, supermarkte en sakeondernemings – maar die bergryke binneland bly grotendeels onbewoon en onontwikkel. Hier tref jy nog die soort afsondering aan wat al hoe skaarser word in Europa. In die somer sak kampeerders en stappers in swerms op die berge toe – op soek na die einste afsondering wat hulle dan met onbedoelde ironie help versteur – maar buite seisoen kan jy ure op bergpaaie met haarnaalddraaie ry, hoër en steeds hoër tot jou ore toeslaan en dit voel asof jy deur die klankgrens gaan breek, en net enkele ander motors teenkom.

Hierdie bergagtige, bosagtige landskappe waar die mens en sy maaksels nie so alomteenwoordig is nie, laat my na my geboorteland verlang. Ek het nie eens besef hoe ek sulke verlatenheid in Europa mis nie, tot Korsika in die herfs aan my geheue kom torring het. Die Calanques de Piana, ’n arena van rooskleurige rotsformasies in fabelagtige vorms, is so ontroerend soos die Vallei van Verlatenheid in die Oos-Kaap of die Swartbergpas op pad na Die Hel – twee ander hoogtepunte onder al die natuurskoon wat ons die afgelope jaar bewonder het.

Nog 'n weergawe van die seerower-simbool, nog ’n verlate strand.

Maar selfs aan die kus kan jy steeds verlatenheid en afsondering vind. Die huis wat ons oppas, hang teen ’n helling hoog bo die Golf van Sagone, en om dit te bereik moet jy ’n senutergende bergpaadjie beproef. Blinde hoogtes en bedrieglike draaie, sinkgate en plekke waar twee motors net-net by mekaar kan verbyskuur, met kranse aan die een kant en ’n gapende afgrond aan die ander kant. Die naaste winkel waar brood of enige soort kos gekoop kan word, is ’n halfuur se ry van ons, hoofsaaklik op sulke soort bergpaaie. Ná donker word die paaie nog gevaarliker, want as jy vir ’n wilde vark of ’n bok moet uitswaai, foeter jy teen die afgrond af tot in die see.

Ons beperk dus ons inkopies en ons uitstappies, sorg dat die spens vol bly en benut die vrugte en groente in die tuin. Maar ons maak saans kaggelvuur om die koue te verdryf en ons word soggens wakker in ’n dubbelbed met ’n uitsig op die see wat nie in geld gemeet kan word nie. Anderkant die baai lê berge en nogmaals berge, laag op laag van blou, blouer, blouste, sommige van die hoogste pieke reeds wit van die eerste wintersneeu.

Soos Napoleon, wat in Ajaccio gebore is, kan jy langs bergpaaie staan en uitkyk oor die landskap.

In die somer is die hele stemming op die eiland natuurlik anders, vroliker en bedrywiger, maar ek was nog alyd aangetrek tot die melankoliese stilte van vakansieplekke buite seisoen. Ek is seker in die somer sal Korsika weer ander vreugdes verskaf, maar ek kla nie oor hierdie herfservaring nie. Ek stap my kuitspiere seer teen die hellings en ek lees voor die kaggel en ek skryf by ’n kombuistafel. Elke keer as ek opkyk, is die see, die lug en die berge in ’n ander skakering van blou geverf.

Op hierdie presiese oomblik kyk ek na ’n donkerblou dam onder wolklose helderblou lug, ’n poskaartprentjie van die gladde Mediterreense see, maar eergister was die water grysblou en onstuimig en vol skuimbranders, en gister was die berge skoonveldweg agter misnewels.

Veelkleurige mure – en 'n eeue-oue wagtoring op die agtergrond – in die dorpie Nonza.

Ek weet nie hoe dit môre gaan lyk nie, maar ek sien uit na die prentjie.

’n Mens kan nie altyd aanhou beweeg en geraas maak nie, dit het ek reeds in ’n vorige rubriek beweer, soms moet jy stilsit, terugkyk, vorentoe kyk. Dis wat hierdie herfsverblyf in Korsika ons bied. Stiltetyd om te onthou waar ons oral was, te waardeer waar ons nou is, uit te sien na die volgende episode. Omring deur blou, die helderblou van herinneringe asook die wasiger blou van wonder (en ’n bietjie wroeg ook) oor wat voorlê in ons nuwe tuiste. Die blou van onthou én die blou van vertrou.     

Bonifacio se ou hawe in die reën

Foto’s en teks: Marita van der Vyver

Lees ook:

’n Swerfjaar vir seniors: Aflewering nommer een

Swerfjaar vir seniors: Dinge van die kind wat ek was

’n Swerfjaar vir seniors, aflewering drie: Allerhande alledaagse wonderwerke

Swerfjaar vir seniors: ’n Vreemde, bekende wonderland

Swerfjaar vir seniors: Op soek na ’n holte vir swerwersvoete

Swerfjaar: Leef om die storie te vertel

Lees nog aflewerings van die Swerfjaar-rubrieke hier.

 

 

  • 5

Kommentaar

  • Ek het nou so heerlik ontvlug tydens die lees hiervan met die pragtigste foto's hier en daar. Ek het 'n tyd gelede vir ons kinders my Vryheid HS taak van die laat 70s oor Napoleon woordeliks voorgelees.

  • david willers

    Pragtig! Ek beplan om volgende jaar die eiland weer te besoek en sal beslis Carrington se boek saamneem. Interressant om die graffitidialek teen die muur uit te maak - A Luta Continue - die stryd duur voort - het 'n mens altyd gelees in destytse Luanda, in 1975 ook teen mure geskryf. Min verander. My Franse vriende kuier versistig op Korsika. Soos in Wallis, waar ek bly, is daar sterk gevoelens teen 'uitlanders' wat plaaslik vakansiehuise besit.

  • Ja, die politieke slagspreuke in Korsikaans kan gewoonlik ontsyfer word met bietjie kennis van Frans en Latyn.

  • Annora Eksteen

    Liefste Franse na-aper,

    En toe wou ou Napoleon Egipte toe foeter. Ek wonder wat jy sou skryf as iemand julle daar aan die Nyl 'n huis aangebied het. In 'n huis geplant het. Hm?

    Maar regtig. Bomme gooi op mense se huise? Ag nee, Korsikane. (EN Egipte-narre.)

    Maar hier wonder ek toe net vanoggend wat moet ek my dennebol-hondjie noem vir my leerdertjie volgende week. Sy sal lekker lag die klein Hindoe’tjie.

    So. Dankie. Ek wonder nie meer nie.

    Wat is 'n skrywer egter sonder 'n kat. Ek verkies my Rosalkatjie, maar ek is darem so baie lief vir honde.

    Flip. Korsika? Genugtig.

    Maar komplimente aan die fotograwe. Eerste prys-medaljes op die kunswedstryd vir die skone fynere kunste.

    Met liefde en geniet die kaggelvuur en die uitsigte. Asem!

    Hier by my in simpel ou Randburg is die weer tans onoortreflik.

    Perfait.

    Vipassana.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top