Springmielies: Die magiese en simboliese eienskappe van juwele

  • 0

1

Ek droom soms die wonderlikste goed. Een van daardie drome waaruit jy taai en traag wakker word, asof jy uit ’n pot stroop loskom.

Ek het gedroom dat ek my eie juwele ontwerp – ’n Lotto-halssnoer, om presies te wees. Die ses helderkleurige krale met die wennommers op het trots om my nek gehang. En binne die surrealistiese milieu van my droom het dit volkome sin gemaak. In die agtergrond het ’n spreekkoor “Tata ma chance, tata ma millions” gedreunsing, met ’n sitkomgehoor wat hande klap. Want in ’n droom is enige iets moontlik. Ek het nog gemymer dat ek my Lotto-halssnoer in tye van nood kan inspan as ’n rosekrans … en dat die geluksgodin steeds tot my redding sal kom.

Die volgende oomblik, soos in ’n gesoute skrywer se cliffhanger, het my droom gedivergeer na Kamala Harris se Bluetooth-oorbelle. Die einste oorbelle wat tydens haar presidensiële debat teen Trump kwansuis die antwoorde in haar ore gefluister het. Dis ’n bisarre samesweringsteorie, maar kom ons wees eerlik: Dis innoverend en baie kreatief. Eintlik ’n idee – of uitvindsel – wat goed in ’n James Bond-film sou inpas. Wel, ek het van Harris se voorverkiesingsvideo’s gekyk, en sy dra daardie gewraakte Bluetooth-oorbelle al vir tien jaar. In die ou dae het skoolkinders mos “gekrip” tydens eksamens deur byvoorbeeld notas onder hulle skoenskole vas te plak. Vandag “krip” leerders en studente met kletsbotte soos ChatGPT om vir hulle ’n opsomming te gee oor ’n boek of ’n onderwerp. Maar ek is seker die moontlikhede wat KI nog gaan skep, is legio. En dit sluit juwele in.

Ek het teensinnig wakker geword met die Lotto-krale se draaiende gelyksyfers wat op ’n magiese wyse om my nek bly draai. ’n Juwelier moet nou nie my idee deps nie, want ek is seker dat my ontwerperskrale ’n wenner – in alle opsigte! – gaan wees.

2

Nou waarom hierdie anekdote oor die gelukskrale? Dit bring my by my volgende punt: Juwele beskik oor magiese eienskappe, en die geskiedenis en kwaliteit daarvan weerspieël dit.   

Sedert die antieke tye het die mens die begeerte gehad om sy liggaam te versier, of dit nou met blomme, skulpe, gepoleerde klip, of been was. Die oudste bekende juweliersware is kralekettings wat van Nassarius-skulpe gemaak is. En so magies as wat juweliersware kan wees, net so magies is die mites en legendes wat hierdie kleinode omring. Diamante is tydens die antieke tye gesien as die (gestolde) trane van gode – is dit nie poëties nie?

........
En tog ... diamante is bloot koolstof wat tydens vulkaniese uitbarstings uit die aarde se mantel gevuur word as gevolg van ekstreme hitte en druk. 
........

Diamante is ongelooflik oud – sommiges is selfs miljarde jare oud. Die woord diamant se herkoms is van die Griekse woord adamas, wat “onvernietigbaar” beteken (en die suggestie van ontsterflikheid dra). Wat herinner aan die James Bond-film (1971) met die mooi titel, Diamonds are forever. En tog ... diamante is bloot koolstof wat tydens vulkaniese uitbarstings uit die aarde se mantel gevuur word as gevolg van ekstreme hitte en druk. 

In Antieke Griekeland en Rome is smaragde met Venus, die godin van liefde, geassosieer. Saffiere is op hulle beurt met Apollo verbind, en daar is geglo dat dit psigiese vermoëns verbeter. Mites en verhale oor die onderwêreld toon ’n analogie met granaatstene, byvoorbeeld die mite van Persefone. In die Hindoe-mitologie is robyne, bekend as “ratnaraj” (“koning van die edelstene”), met lewenskrag geassosieer. Ook binne die Bybelse tradisie word die waarde van juweliersware geaksentueer: Die borsplaat van die hoëpriester in Eksodus het 12 edelstene bevat wat elk ’n stam van Israel verteenwoordig het. Die eteriese eienskap van edelstene en -metale word ook in die boek Openbaring vermeld waar die Nuwe Jerusalem, of hemel, beskryf word.

In wese versinnebeeld hierdie eskatologie en mitologieë rondom edelgesteentes en juweliersware méér as net dekoratiewe voorwerpe; dit bereik goddelike status en is deurspek met geestelike en simboliese betekenis wat die geloof en waardes van die kulture wat hierdie mites geskep het, weerspieël.

.........
Van antieke Egiptiese amulette tot moderne diamantringe is dit duidelik dat juwele se magiese en simboliese eienskap véél meer as net die versiering van die liggaam – die dekoratiewe – behels.
.........

Juwele dien dus inderdaad as merkers van kulturele identiteit en tradisie wat deur generasies oorgedra word en in verskeie seremonies gebruik word. Die dra van spesifieke tipes juwele was nog altyd ’n deelgenoot in godsdienstige of kulturele geleenthede soos troues, begrafnisse of feeste – met ander woorde, juwele sinjaleer liminale oorgange. Van antieke Egiptiese amulette tot moderne diamantringe is dit duidelik dat juwele se magiese en simboliese eienskap véél meer as net die versiering van die liggaam – die dekoratiewe – behels.

In sommige Afrika- en inheemse Amerikaanse kulture word kralekettings en ander vorme van liggaamsversierings, gewoonlik selfgemaakte artefakte uit die natuur, gekoppel aan stamidentiteite en geestelike praktyke. Dus het juwele ten doel om individue binne hul kollektiewe verband en erfenis te verenig.

En, soos ons almal weet, is juwele deur die loop van die geskiedenis gebruik as ’n sigbare simbool van status, rykdom en mag. In antieke beskawings soos Egipte en Mesopotamië het die heersersklas goud en kosbare edelgesteentes gedra om hulle sosiale status aan te dui. Vandag weerspieël luukse juwele, soos goue kettings en ontwerpershorlosies, eweneens persoonlike rykdom en sosiale status. Dit het deur die loop van die eeue nie verander nie.

Nou: As die koop van goedkoop vlooimarkjuwele ’n kommoditeit was, was ek seker ’n miljoenêr. Tog is ek skatryk aan sentiment. Daar is min dinge so lekker soos om tussen die stalletjies rond te dwaal en allerlei funky juwele uit leer, hout, been, ivoor of wat ook al te koop. Daar is soveel om van te kies. Ek het byvoorbeeld ’n steampunk-ring wat inderwaarheid ’n miniatuurhorlosie is (en ja, hy werk!). Dan dink ’n mens aan swaar gotiese juwele met kopbene en swart leer met klinknaels wat hierdie subkultuur se eiesoortige “donker” identiteit verteenwoordig. Ek verkyk my altyd aan mense se hippie- of informele juwele, en dan wonder ek waarom so ‘n persoon byvoorbeeld altyd dieselfde krale dra. Keith Richards van The Rolling Stones dra al vir dekades ’n silwer boei om sy pols om hom daaraan te herinner om nie (weer) vir die besit van dwelms gearresteer te word nie. Richards se boei het intussen gelei tot ’n kultus aanhangers wat ook replikas van dié boei dra, met derduisende aanlyn bestellings wat die gewildheid hiervan bevestig. Insgelyks dra prins Harry al vir 20 jaar dieselfde silwer armband wat sy moeder hom as geskenk gegee het. Juwele, as uitdrukking van individualiteit, bevestig weer eens die simboliese waarde wat mense daaraan heg.

Erfstukke soos Ouma se pêrels word gekoester, nie net vir hulle materiële waarde nie, maar ook vir die herinneringe en sentiment wat dit simboliseer. Verlowings- en trouringe verteenwoordig op dieselfde wyse liefde, toewyding en vennootskap, en het kragtige emosionele waarde vir die draers daarvan. Dit is ook interessant dat mediums wat kontak maak met afgestorwenes, juwele as voorkeuritems verkies (byvoorbeeld tydens séances), omdat die oorledene se energie sterk manifesteer via dié persoonlike items.

In baie kulture word geglo dat sekere stene, metale of simbole genesende of beskermende eienskappe besit. Amulette, talismans of godsdienstige medaljons word byvoorbeeld dikwels gedra om boosheid af te weer, geluk te bring of geestelike beskerming te bied. In antieke tye het krygers of priesters spesifieke juwele gedra as ’n bron van krag, moed of ’n goddelike verbintenis. In sekere kerke, byvoorbeeld die Rooms-Katolieke Kerk, is die dra van groot kruise deur die kerkvaders gelaai met hulle eiesoortige simboliek.

En steeds dra baie mense juwele soos kruise, Dawidsterre of gebedskrale as uitdrukking van hul spiritualiteit en as bron van persoonlike leiding.

Die sewe chakras is energiesetels in die liggaam wat volgens antieke Indiese tradisies ’n belangrike rol speel in ons fisieke, emosionele en geestelike welstand. Daar bestaan geen wetenskaplike bewyse dat edelstene mens se welsyn kan verbeter nie, en dit moet eerder holisties benader word. Let weer eens op die magiese kwaliteite van hierdie stene.

Die wortel-chakra is aan die basis van die ruggraat en word geassosieer met die kleur rooi (byvoorbeeld granaatstene), en verteenwoordig die fondasie (letterlik ruggraat!) van ons energie wat ons verbind met die aarde.

Die sakrale chakra is aan die onderbuik en word gesimboliseer deur die kleur oranje (soos die karneoolsteen), en verteenwoordig kreatiwiteit, seksualiteit en emosies.

Die solar plexus-chakra is geleë in die bobuik, word geassosieer met die keur geel (byvoorbeeld tieroog), en reguleer die sentrum van die ego en wilskrag.

Die hart-chakra is in die sentrum van die bors en word met die kleur groen (soos smarag) verbind; dit versinnebeeld liefde, empatie en vergifnis. 

Die keel-chakra is in die keel, verteenwoordigend van die kleur blou (byvoorbeeld akwamaryn), en word verbind met kommunikasie, selfuitdrukking en waarheid.

Die derde-oog-chakra is tussen die twee wenkbroue gesetel, vergesel van die kleur indigo (soos lapis lazuli), en verteenwoordig insig, wysheid en intuïsie.   

........
Alhoewel daar geen wetenskaplike bewyse is om hierdie beskouings te ondersteun nie [...] vind baie mense dat die dra van chakra-juweliersware hulle gevoel van persoonlike welsyn verbeter.
Dit verklaar ook dat die ligging van juwele op die liggaam (byvoorbeeld oor die hart, of tussen die oë) amper ’n primordiale oerkennis by die mens verteenwoordig.
........

En ten laaste is daar die kroon-chakra, bo-op die kop, wat gesimboliseer word deur die keur violet of wit (soos helder kwartskristal), en dit dui op die verbinding met die goddelike, spiritualiteit en bewussyn. Dit is die hoogste chakra en verklaar waarskynlik waarom koninklikes krone dra. In verskeie tradisies word geglo dat konings gesalfdes van God is, en dis net logies dat die kroon-chakra dus sigbaar gemaak word deur die dra van ’n kroon.

Die geloof dat edelgesteentes ’n mens se energiestelsels in harmonie kan bring, bly ’n interessante beskouing. In wese is die verband tussen juweliersware en chakras gebaseer op die oortuiging dat edelstene, hul kleur en hul simboliek, die liggaam se energievloei kan beïnvloed. Alhoewel daar geen wetenskaplike bewyse is om hierdie beskouings te ondersteun nie, soos reeds genoem, vind baie mense dat die dra van chakra-juweliersware hulle gevoel van persoonlike welsyn verbeter.

Dit verklaar ook dat die ligging van juwele op die liggaam (byvoorbeeld oor die hart, of tussen die oë) amper ’n primordiale oerkennis by die mens verteenwoordig.

Of dit nou dien as merker van kulturele tradisie, ’n uitdrukking van rykdom, ’n vorm van individualiteit, of ’n teken van sentimentele waarde, juwele was nog altyd artefakte wat véél meer as blote liggaamsversiering behels. Die dra van hierdie kosbaarhede, vergesel van die onderliggende narratiewe, emosies en betekenisse, wat dikwels die draer daarvan oorleef, verbind individue aan hulle onderskeie verledes, hul identiteite, en die mense vir wie hulle lief is/was. Van die geestelike betekenis, tot die rol van mode, subkulturele en status, het juwele se simboliese waarde epogge lank spesifiek, dog ook andersoortig, dieselfde gebly.

Lees ook:

Vinkel en koljander: Silwer, sand en kohl-omlynde oë

Spieëltjie, spieëltjie aan die wand …

Die 86 inkarnasies van Catherine

Springmielies: Die terapeutiese waarde van oorlogsfilms

Springmielies: Die intieme kameraderie tussen vreemdelinge

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top