Spieëltjie, spieëltjie aan die wand …

  • 0

Foto: Pixabay

Demi Moore het onlangs die Paris Haute Couture Fashion Week geopen met haar skrikwekkende nuwe voorkoms – sy het met ’n verbete kakebeen soos Popeye rondgeloop en koud na die gehoor gegluur. Wel, soos die idioom mos lui: “Beauty is in the eye of the beholder.” Dit het onmiddellik op Instagram begin gons of dié aktrise, wat bekend is vir haar tawwe rolle soos die soldaat in GI Jane, dalk plastiese chirurgie ondergaan het, en of die gedaanteverwisseling bloot aan grimering toe te skryf is. Natuurlik ontken Moore die gerugte van chirurgie.

.........

Op sosialemediaplatforms soos Instagram is min foto’s nog outentiek. Of eg. Meningsvormers het moeg geraak vir die klug – die glansbeelde van onrealistiese en foutlose liggame sonder vetrolle, velprobleme of die haelskade van selluliet.

..........

Op sosialemediaplatforms soos Instagram is min foto’s nog outentiek. Of eg. Meningsvormers het moeg geraak vir die klug – die glansbeelde van onrealistiese en foutlose liggame sonder vetrolle, velprobleme of die haelskade van selluliet. Om van die beeldskone gesigte nie eens te praat nie. Mooier, maerder en meer misleidend as ooit. Die skoonheids- en stylikoon Rianne Meijer byvoorbeeld het begin meedoen aan die nuwe tendens genaamd #Instagramvsreality waarin die Insta-perfekte foto’s neffens die werklike foto’s geplaas word. ’n Goeie fotograaf weet teen watter hoek, en met watse beligting, iemand afgeneem moet word om hom of haar goed te laat vertoon. Maar die ware kompetisie is waarskynlik die gebruik van sagteware vir fotoredigering – met ander woorde, wie kan die beste photoshop? Wie ken al die truuks? Wie het ’n groot gevolg? Sosialemediaplatforms soos Instagram bly inderdaad ’n vreemde moderne fenomeen. En mens dink onwillekeurig aan selfieslawe wat in hulle swartspieëls verdrink, daardie narsings wat dag en nag kompeteer om aandag – Narsisme 101 dalk?

In tandem met die #Instagramvsreality-beweging het die idee van body positivity gegroei. Alle mense verdien erkenning vir ’n positiewe liggaamsbeeld, ongeag die samelewingstandaarde wat die ideale vorm, grootte of gelaatstrekke dikteer. Dit sluit die normalisering van imperfeksies in. “Comparison is the thief of joy”, ’n bekende uitspraak van Teddy Rooseveldt, het veral vaalgesigvroue met gewone lywe selfbewus gelaat. Meijer se regtelewe-foto’s vs die gefabriseerde en gepoleerde Instas het reeds ’n gevolg van 630 000 wat gretig uitsien na haar volgende plasings. Dié beweging, om te beklemtoon hoe misleidend Instagram-foto’s kan wees, is besig om vinnig veld te wen.

........

Selfies, en in sommige gevalle geïmpliseerde ydelheid, kom egter ’n lang pad.

.........

Selfies, en in sommige gevalle geïmpliseerde ydelheid, kom egter ’n lang pad. Die bekende spieëltoets, of die MSR-toets van selfherkenning by diere, behels dat die betrokke dier onder narkose geplaas word en “gemerk” word met ’n plakker op ’n gedeelte van sy liggaam waarna hy nie dikwels kyk nie, en wanneer die dier ontwaak, word hy voor ’n spieël geplaas. As die dier in die spieël kyk en aan die vreemde merk vat, dui dit op ’n refleks van selfherkenning (maw die dier besef dis nie net nóg ’n dier in die trop nie, dis ék). Die vermoë om die self te herken, om oor ’n selfbewussyn te beskik, kom onder meer voor by die groot aapsoorte, dolfyne en sekere olifante. Nou ja, mens kan seker redeneer dat hierdie selfbewussyn in ons moderne tegnologiese era gelei het tot ’n virtuele ontploffing in die neem van selfies. ’n Selfie boekmerk ’n sekere onthoubare oomblik, byvoorbeeld om deel te vorm van ’n sosiale groep of gewild te wees – daardie yaaay!-selfie – of dis ’n vorm van sosialemedia-name-dropping, ek-is-oek-important om afgeneem te word saam met ’n bekende persoon, ikoniese kunswerk of historiese landmerk. ’n Healthy selfie is ‘n selfie deur daardie sweterige gimfanatikus wat sy muscles flex want hy’t so pas ’n twee uur lange workout agter die blad; ’n oorwinningselfie is een nadat jy byvoorbeeld graad gevang het; ’n simpatieselfie kom ná die dood van ’n troeteldier of geliefde; en ’n eendbekselfie is van die meisies wat met holgesuigde wange (om die wangbene te aksentueer, sien) hulle lippe saampers soos eendbekke. En so kan mens aangaan. Selfies is trofeë; artefakte van behoud om herinneringe vas te vang en te bewaar.

Swak fotoredigering maak my kriewelrig. Dis onnatuurlik en beslis nie vleiend nie. Veral nie as party mense begin photoshop en die editing- en beauty-funksies volvolume oopdraai nie. Soos “thin face”: die kakebeen word smaller tot op ’n punt waar die gesig alien-agtig begin lyk. As jou gesig so begin punt trek, vertoon die oë wyer uit mekaar. Voeg “enhance eyes” by, en die gesig is vreesaanjaend. Dan die “white teeth” – skielik kry jy ’n skaterwit flitsglimlag, A1 op ’n tandarts se kleurkaart. En die maanligvelle wat geen foundation op aarde kan bied nie ... party gesigte ontwikkel so ‘n silikatekstuur, veral hier by die voorkop langs. Versagtingseffekte werk nie vir die krakies rondom die oë nie, so party mense verouder selektief en heel gelokaliseerd. (Dit moet nie met Botox se appelkoosglanswange verwar word nie.) Geen neus kom ooit reg uit op ’n selfie nie – om die een of ander rede kap die lens dit teen ’n hoek waar alle selfies soos een reusefamiliesaamtrek begin te lyk. Dan het ek nog nie by die arm gekom wat so grotesk uitgroei na die kyker en genadiglik deur die lens geamputeer word nie. Vergeet editing om te verslank – min mense eindig in proporsie, met arms en bene van verskillende diktes, of ’n verstokte middel met arms soos King Kong. Volmaak vermink. Maar dis veral die eienaardige uitdrukking in die oë op selfies wat my vang – daardie ongefokuste halfmaskyk. En ander weer gluur in die niet in: ’n skisofreniese inkyk op die self.

.........

En waarom is daar so baie Barbie-doll-vroue op Instagram?

...........

Nou, van die estetiese na die kosmetiese. Ons almal het al voorbeelde gesien van plastiese chirurgie wat flop of lipfillers wat lyk of ’n by jou op jou bolip gesteek het. En waarom is daar so baie Barbie-doll-vroue op Instagram? Is dit mooi? (Asking for a friend.) Die bekende catwoman, Jocelyn Wildenstein, het die wêreld geskok met haar styfgetrekte kat-oë en lippe wat herinner aan dié van Homer Simpson. Nou ja, weer eens: Die siening van skoonheid is relatief, en die mens se drang om sy liggaam artistiek te verbeter en mooi te maak, kom ’n lang pad.

Volgens rekords van gemummifiseerde vel het tatoeëermerke reeds tussen 3370 en 3100 vC voorgekom. Die mens het graag dekorasies of artefakte aan sy liggaam gehang. Volgens opgrawings in ’n grot in Monaco is gevind dat mense c 25 000 jaar gelede vir hulself hangertjies geryg het met visgrate. Vere, skulpe en diertande was ook gesogte versiersels. Hierdie “juwele” is, afgesien van merkers van identiteit, status of gesag, as amulette teen die Bose of slegte geluk gesien – dieselfde magiese kragte wat toegeskryf is aan edelstene. Juwele was, soos vandag, ’n aanduider van mag en rykdom (byvoorbeeld die amptenare van die Middeleeuse Kerk), maar ook van onderdrukking (slawe het byvoorbeeld armbandjies gedra). Die smee van metale en fassinasie met duur gesteentes het op sy beurt gelei tot die ontwikkeling van esoteriese of religieuse simboliek in antieke beskawings. In Bahrein, ’n eiland in die Persiese Golf, het argeoloë 4 000 jaar oue pêrels in oorringe in ’n graftombe gevind – waarskynlik die oudste juwele wat tot op hede gevind is. Juwele was ‘n teken dat die mens sy liggaam versorg en versier het.

Hierdie skepping van selfwaarde en identiteit vind mens ook in die estetiese versorging – kosmeties – van die mens. Of dalk eerder: die voorloper van kosmetiek. Dit is duidelik dat die mens dit geniet het om met kleur en vorm te speel. Historiese rekords dui aan dat “primitiewe” mense reeds c 60 000 jaar gelede hulle vel met henna gekleur het. Dit herinner nogal aan die gespeel van ’n peuter, want die ontwikkeling van kuns loop parallel met die ontwikkeling van die mens se brein en kognitiewe vermoëns. Die kosmetiese konkoksies van die dag was kohl, as, fyngedrukte blomblare, beet, bessies en aarbeie. Loodwit, kryt, oker en klei is ook aan gesigte gesmeer, met byewas vir die lippe – die antieke Lip Ice. Dit klink egter of hierdie onkundige spul groot pret gehad het – afgesien van gesigsverf vir ritualistiese en stamdoeleindes, is daar besluit ’n skarlakenrooi, spookwit of gitswart gesig is mooi. (“Beauty is in the eye …”) Tydens die Elizabethaanse era was vroue weer bang vir die “gesondheidsgevare” wat grimering inhou, en het hulle eierwit aan hulle gesigte gesmeer (dit was glo gesond en het ’n glans aan die gesig verleen). Alhoewel vroue deeglik gewaarsku is teen die gevare van belladonna, is baie dames wat dit om kosmetiese redes gebruik het, dood (liewer dood as uit die mode – ja, letterlik). Die evolusie van moderne kosmetiese middels en grimering het eers in 1910 ’n aanvang geneem.

Die selfbewussyn, die ydel deelgenoot, vra ook vir ’n sexy en slanke figuur. Koningin Victoria se bloomers is onlangs op ’n veiling verkoop. Vandag kan ons giggel oor dié tente met frille, maar die genadelose ingord van onderklere het sy tol begin eis.

Vroue het vir eeue geworstel in hulle korsette om die skyn van uurglas- en perdebylyfies te bewaar – en ’n lae hals, ondersteun met ingesoomde balein, het die borste só hoog opgedruk dit het amper uitgeval. Kropduiwe. (Wat het verander?) Dís seker hoekom die dames so dikwels flou geval het in die 1800’s, iets wat vandag selde gebeur – geen versmorende harnas wat jou vetrolle op hok moet hou nie.

Die Victoriaanse draghervorming het heelwat te danke aan die feit dat die dames van toentertyd ook wou fietsry. Dit was egter moeilik, selfs onmoontlik, met soveel onderrokke wat in die fiets se speke beland of om die pedale klodder. Onfatsoenlik! het (manlike) joernaliste bekommerd in koerante geskryf; en dít sonder (manlike) chaperone? O, die vrese dat vroue se fietsry kwansuis kon lei tot prostitusie of lesbianisme! Die vroueregteaktivis en koeranteienaar Amelia Bloomer het begin om daadwerklik publisiteit te verleen aan dié “damesbroek”, die bloomer, in haar eksklusiewe koerant vir dames, The Lily. Fietsry en bloomers is sinoniem met die Eerste Feministiese Golf. Die gelaagde rokke het relieke geword; die buustelyfie het geskei van die korset; die brassière is gebore, en 1910 het die geboorte van die moderne bra aangekondig. Vandag is daar ’n verstommende verskeidenheid bra’s (wat eintlik maar neerkom op die vleiende (?) shapeshifting van borste, veral as daar vulsels (padding) betrokke is). Ingord-onderklere is steeds ’n florerende besigheid en daar is selfs bum lifter-onderbroeke vir manne sonder sitvlakke wat gespierde knopboudjies soos Bryan Habana s’n begeer. (Maak net seker jou vals agterstewe is nommerpas, want die bum lifter kan opskuif en op jou niere eindig, dan lyk jy eerder soos ‘n tienerbobbejaan, ewe ougat besig om af te show.)

Nou ja, van ’n spieëltoets na die persepsie van die artistieke self, ydelheid, en die neem van selfies … Selfies as sosiale fenomeen is nie net ’n verbygaande gier of geit nie. Slimfoontegnologie gee die pas aan, en of jy nou selfies kritiseer as ’n vorm van ekshibisionisme, of bloot as ’n onskuldige bydrae tot vriende se aanlyn dagboeke, hulle verhoog sosiale interaksie. Dis gewild en dit breek die bleek digitale tekslandskap op. Maar daar is ook irritasies, byvoorbeeld die snap-happy gebruikers wat bykans alles wil dokumenteer.

Soos mens kan raai, bly selfies egter nie net by die neem van foto’s nie. Daar is video’s ook.

.........

Hoekom maak mense video's van hulself in hulle karre?

...........

Voorbeeld: Hoekom maak mense video's van hulself in hulle karre? Dis iets wat nogal opval, en dis of die tendens begin toeneem. En dit het ’n naam: ’n “carfie”. Mans is lief hiervoor. In Suid-Afrika is dit gewoonlik ’n plattelander of plaasjapie – ja, ’n meneer met iets op die hart. Waarskynlik ’n groot ontboeseming. Die voertuig waarin die video geneem is, is in die reël ’n bakkie. Die video spoel uit die bloute deur jou Newsfeed. Interessant: Verreweg die meeste van hierdie bewegende kar-/bakkie-video's het ’n ideologiese ondertoon. Gun almal hulle seepkis of vryheid van spraak – ek is ’n ware demokraat. Die ou in die video het óf ’n two-tone- of check hemp of iets in dier voege aan, maar hy kan ook ’n metroman wees (alhoewel hulle in die minderheid is). Die manne, tot die tanne bewapen met die Bybel en boereretoriek, praat oor plaasmoorde, droogte, grondonteiening, Siener van Rensburg, die samesweringsteorieë rondom Covid en vaksiene, en Christelike eliksers. En die ou praat hárd: forseer sy stembande om hoorbaar te wees bo die magtige dreuning van die Cherokee, Fortuner, Land Rover of Land Cruiser of whatever. Noted. Ons het jou luukse 4x4 gesien. Teen dié tyd is ek amper in ’n staat van hipnose ingeskommel deur die soft toy bo die truspieël.

Die meneer word van voor af verfilm. Of van die kant af – in reliëf. Die lang baard wip op en af terwyl hy driftig praat. Die monoloog kry momentum en hy ry vinniger – jy sien net stof trek. Die landskap blits verby. Smeerspoed. Strategies laat val hy ’n paar sinne in sy beste Engels sodat die buiteland darem ook kan volg wat hy sê. Sy Afrikaanse aksent slaan soos doringdraad deur, maar hy laat hom nie van stryk bring nie.

Daar is min vroue wat video's maak van hulself in karre, maar hulle bestaan. Kyk maar mooi – hulle is meer aggressief as die gemiddelde vrou. Kompeterend. Hang af hoe jy daarna kyk.

Mens kan enige milieu of agtergrond kies vir jou seepkisvideo – so, hoekom ’n kar? Is dit ’n verlengstuk van die ego? Laat dit jou sterker, meer dinamies en in beheer vertoon? Taakgerig? Staan die kar/bakkie as ’n simbool vir iets, al is dit onbewustelik? Tja. Dit gee my ’n idee. Volgende keer as ek weer ’n video maak, gaan ek dit doen, swewend vanuit ’n lang, slap sedan.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top