Vinkel en koljander: Silwer, sand en kohl-omlynde oë

  • 4

Ek ontmoet die groepie Bedoeïen-vroue op die rand van die Wahiba-woestyn. Sand en sand en nogmaals sand. In die bloedige son strek die duine een na die ander so ver as die oog kan sien. Die woestynvloer het ’n goudbruin kors soos ’n varsgebakte brood. Maar dis waar die ooreenkoms ophou. Hier is geen voeding vir ’n honger maag nie. Dis ’n streek van wind, son en sand waar die mens nie sommer ’n holte vir sy voet vind nie.

Die Bedoeïene van die Midde-Ooste leef in die barre randvelde van die woestyn. Hulle het ’n oeroue kennis van en verbintenis met die woestyn en sy omtes. Dis hul wêreld, hul woonplek, hul waarheid.

Ek het lank gewag om Bedoeïen-vroue te ontmoet. Hul silwer juwele is oral in Oman te koop, groot handgemaakte stukke versier met klokkies en allerhande simbole van Islam. Ek het gewonder oor die nomadiese vroue wat in die eindelose duine van Wahiba rondtrek opgetof in swaar juwele.

Die hirz is 'n samestelling van juwelierstegnieke. Fatima se Hande, klokkies om die bose weg te dryf en sekelmane. (Foto: Michelle Shelby)

Sinauw is die Bedoeïene se markdorp. Dis waar ek net vóór Eid die Bedoeïene sal vind, wanneer hulle klere koop vir die belangrikste fees van Islam, verseker my Omani-vriende my. Dis ’n lang pad na Sinauw en my vertaler is nie juis opgewonde oor die uitstappie nie.

Dis warm, naby 50˚ C, toe Halima uiteindelik ’n groepie kry wat bereid is om met my te gesels. Hulle sit op rofgeweefde matte onder die yl skaduwee van ’n ghaf; skerp gelaatstrekke, growwe hande en ’n berekenende kyk in die oë. Hulle het min erg aan my en is baie beslis: geen foto’s nie. Van vroeg af wag hulle op die rand van die malende markmassa vir die mans om die bokgeld te bring. Hulle is gewoond aan toeriste wat hul juwele vir ’n appel en ’n ei wil koop.

Min werklik antieke stukke is te vinde juis omdat juwele gesmelt word ná 'n vrou se dood. Let op Fatima se Hande (beskermer van vroue). Foto: Michelle Shelby

Toe ek uiteindelik tussen hulle gaan sit, droog my woorde op. Die growwe hande met die oordadige ringe, die gebarste hakke met die stringe breë enkelringe, die swaar kohl-omlynde oë is so ver van die romantiese prentjie in my kop. Wat het ek nou eintlik verwag, wonder ek – fyn vroutjies met fladderende wimpers en gel-naels?

In die hitte en stof is ek skielik verleë oor my naïwiteit. Wie is ek om te krap aan ’n kultuur wat eeue oud is? Ek moet fyn trap. Ek durf die vroue nie meet aan my vooropgestelde Westerse standaarde nie.

Halima beduie met haar oë. Ek kug. Moet ek vra hoekom so baie juwele? Dalk, hoe ry mens op ’n kameel en jaag bokke aan in die warm sand met ringe, halssnoere en armbande? Hoe swaar is die silwer gordel met al die fieterjasies wat daaraan hang? Hoekom wag dat ’n man die bokgeld bring? Julle, die vroue, is immers die bokboere?

’n Dogtertjie met groot amandelbruin oë skuif nader, glimlag spontaan. Sy vat-vat aan my hare, draai ’n haarstringetjie om en om. Ek tel die kind op my skoot. Sy ruik na bokkraal en rook. Sy is beeldskoon met haar soel, sagte vel, haar lang donker hare en oë wat straal. Ek neem haar handjie in myne en trek liggies die voue van die vuil vingertjies na. Glimlagte versag die harde gesigte rondom my. Halima sug van verligting. Die ys is gebreek. ’n Kind se onskuld breek mure af tussen kulture en kontinente.

St Theresa-munte kan moeiteloos verwyder word. Die hirz is klein en waarskynlik oorspronklik 'n kind s'n. Die korale simboliseer 'n beskeie en wyse vrou. (Erkenning Michelle Shelby:)

“Sy het jou oë,” sê ek vir die jong ma. “En joune,” raai ek wie die ouma is. Die ouma kyk ingenome na die dogtertjie. Versigtig begin ons gesels.

“Hoekom die baie juwele? Is dit vir spesiaal markdag?”

Hulle lag net. Hulle dra dit elke dag, vind ek uit. In hul kultuur kan die man sy vrou skei deur in Mekka se rigting te draai en drie maal te sê: “Talaq, talaq, talaq”, en die egskeiding is finaal. Die vrou stap uit die huwelik met net wat sy aan haar lyf het – juwele. Nie kind of bok of die tent wat sy self geweef het nie.

Juwele is die vrou se bankrekening, versekeringspolis en noodfonds, als in een. Die meeste daarvan was in elk geval ’n bruidskat van haar ouers. Die vroue in die familie se juwele – net soos die grootte van die boktrop en die aantal kamele – gee die familie se status. Tradisioneel word die juwele gesmelt as ’n vrou sterf en ’n nuwe stuk vir haar dogters geskep. Dis hoekom min werklik antieke stukke nog gevind kan word.

Dis warm, bloedig warm. Die ghaf se skadu krimp soos die son klim.

St Theresa Daler (Thaler) die "groot riyal". Die duidelik-gekerfde rand het gesorg vir eerlike handel; stukkies silwer kon nie sommer afgeknip word nie. Foto: Michelle Shelby

Die Bedoeïene se wêreld is aan die verander, vertel die matriarg. Sy het grootgeword in die tyd voor Hilux-bakkies, voor plastiekwatertenke, voor goiingsak. Kamele was hul enigste vervoer. Al hul besittings moes op die kameel se rug pas. Water is in bokvelsakke gestoor en tente is van bok- en kameelhaar geweef. Die Bedoeïene was selfvoorsienend, vry in die randveld en tussen die duine.

Verbeel ek my of is daar ’n trek van weemoed op haar gesig?

Toe die vroue agterkom dat ek nie hul juwele wil koop nie, gesels hulle meer gemoedelik. Hulle wys die verskillende stukke uit en verduidelik. Almal het enkelringe met tientalle los klokkies en plaatjies wat klingel as die vrou loop. “Dit jaag die mans weg. As ’n man in die duine die geklingel van silwer hoor, móét hy padgee,” vertel die matriarg. “Onthou tente het nie toilette nie!” ’n Paar ander vroue maak heftig beswaar en Halima vertel dat die Bedoeïene glo dat bose geeste deur die geklingel van klokkies weggejaag word.

Die versierings het simboliese betekenis, gegrond op die Bedouin se bygelowe en ook uit Islam-tradisies. Goud is 'n meer moderne toevoeging tot die Bedoeïen-juwele (foto: Michelle Shelby).

’n Swanger tiener vertel van haar ouma se besonderse kopstuk, ’n silwer keps met ’n stewige band oor die voorkop. Hieraan was ’n lang ketting vas aan ’n rugsak met die baba en haar hande los om te werk.

Net een, ’n besonder mooi vrou, het ’n silwer gordel om die lyf. Sy ignoreer my en neem glad nie aan die gesprek deel nie. ’n Ouer vrou praat skerp met haar en sy laat toe dat Halima die swaar gordel vir my wys. Dis die Westerse vrou se Gucci-handsak, met ’n parfuumbotteltjie, haartangetjie en kohlpotjie wat daaraan hang. Dit laat die hande vry om te werk. Dit bevat soveel silwer dat net welgestelde vroue dit kan bekostig, verduidelik Halima onderlangs. Sy is die tweede vrou en het dit by haar man gekry. “Die ander vroue hou nie van haar nie,” fluister sy saggies.

Ek ruik aan die parfuum, onthou Lady Macbeth wat vol selfverwyt uitroep: “Here’s the smell of the blood still. All the perfumes of Arabia will not sweeten this little hand. Oh, oh, oh!” Met ontsag kyk ek na die groepie vroue wat elke dag parfuum en juwele dra – hitte ten spyt en boonop te voet deur die duine.

Hoewel dit na oorbelle lyk, was dit deel van 'n groter stuk, waarskynlik 'n halssnoer of gordel. Die klokkies jaag die bose weg; waarsku ook die mans dat die vroue naby is. Foto: Michelle Shelby

Hul swart-omlynde oë is dramaties teen die soel velle. Mans én vroue omlyn die oë. Kohl beskerm die oog teen stof, oogsiektes en veral teen die bose oog, glo die Bedoeïene. Dis meestal tuisgemaak – ’n mengsel van die as van wierook en bokvet as hoofbestanddele.

Ek leun nader om na ’n kohlpotjie te kyk en ’n stewige hand gryp my oogbank vas. Behendig word my oog omlyn. Ek gril, wil protesteer. Voor ek ’n woord kon uitkry, is die ander oog ook omlyn. Die groepie glimlag ingenome. Ek wens ek het Dettol byderhand. Ek bid dat kohl wel sy naam gestand doen en my teen die bose sal beskerm – die bose kohlkieme van die Wahiba-woestyn. Tuis lees ek ’n artikel waarin ’n wetenskaplike waarsku teen tuisgemaakte kohl. Dit bevat hoë vlakke van lood en kan selfs blindheid veroorsaak.

Ons groet toe die vroue mark toe gaan. By een van die stalletjies ontmoet ek en Halima ’n silwersmid wat lank reeds sy tagtigste verjaardag vergeet het. Sy swaar-omlynde oë is melkerig. Ek stuur ’n skietgebedjie op dat sy kohl nie van dieselfde bron kom as dié wat ek so onwillig bekom het nie.

Hy is lus vir gesels en haal trots sy ware uit. “Dit is Fatima se Hande. Fatima is die Profeet – prys sy naam – se dogter. Fatima is die een wat Hagar en die baba Ismail by die put gehelp het toe Abraham haar weggejaag het. Fatima is vandag nog die beskermer van vroue.” Sy stem is yl vanuit sy tandelose mond.

Hy soek-soek tussen ’n paar verbleikte matte, kry ’n vuil doek, lig ’n klein silwer boksie omring met klingelende silwer fraiings en klokkies uit. “Hirz,” sê hy. “My pa het dit vir my suster gegee toe sy gebore is. Sy is dood die jaar toe die sandstorms nooit opgehou het nie. Binne-in is ’n versie uit die Koran.” Hy dink so ’n bietjie. “Ek kan nie eens onthou watter suster nie. So baie sustertjies is vroeg dood.”

Die meeste van die stukke in sy stalletjie kom van Bedoeïen-vroue wat geld soek vir Eid – klere vir die kinders, spesiale soetgoed. Maria Theresa-munte is tradisioneel vir Bedoeïen-juwele gesmelt. Oman, wat reeds eeue lank internasionaal handel dryf, het vir baie jare Maria Theresa-munte as amptelike geldeenheid gebruik. Die munte is steeds in omloop, almal 1780 gedateer. Baie ekspats word lekker uitgevang deur die datum, gie-gie my nuwe vriend. Hulle dink dis ’n antieke munt. Oostenryk het tot in 1950 aangehou om geldstukke met die datum 1780 te munt.

Mansringe, elke vinger het 'n spesifieke ontwerp gebaseer op 'n funksie. Die ring bo, tweede van links, is bedoel vir die wysvinger, waarmee die rigting na Mekka aangedui word. Foto: Michelle Shelby

Bedoeïen-juwele is tradisioneel tuisgemaak en verskil daarom in kwaliteit en silwerinhoud. Die amper-blinde ou juwelier wys vir my stukke wat hy vir sy eie dogters gemaak het, versier met amber, koraal, turkoois vir geluk en vrugbaarheid. Dis presiese werk met fyn kerfwerk, korreling (shotwork), en is van goeie silwer.

“Het dit gewerk? Was jou dogters gelukkig en vrugbaar?” Die onsensitiewe vraag is uit voor ek kon keer. Halima vertaal dit nie, maar die ou man moes iets in my stemtoon opgemerk het. “Hulle is al drie dood met die geboorte van ’n eersteling. Die seuntjie het ’n week gelewe, die dogtertjies nie eens ’n paar uur nie.”

“Jou seuns?” Weer hang my vraag in die lug. Die Bedoeïene van Oman is besig om te verstedelik. Oor die afgelope dekades het veral die jongmans die sandduine verruil vir die stad. Oman het olie en olie het werk en welvaart gebring. Halima huiwer, maar vra tog na sy seuns.

“Weg,” sê hy. “My enigste seun is weg Muskaat toe. Maar ek hou die hirz. Mohammed kom elke Eid. Hy het ’n nuwe vrou; dalk sal daar binnekort ’n dogtertjie wees. Ek hoor die dokters in Muskaat is goed. Die ma’s en babas gaan nie meer sommer dood nie. Dis amper Eid.” Sy gesig verhelder in afwagting op sy seun se koms en die moontlikheid van ’n dogtertjie wat haar grootjie se hirz teen haar hart kan dra.

Hy lyk skielik moeg en Halima beduie ons moet gaan.

Ek onthou die lyne op die ou man se gesig, die melkerigheid in sy oë. Sy wêreld krimp saam met sy sig, in kontras met sy land se vooruitgang. Sy seun het lank reeds die grens tussen ’n nomadiese en stadslewe oorgesteek. Dis ’n vreemde, ontoeganklike wêreld vir die ou man hier op die rand van die Wahiba-woestyn.

“Ek vertrou jou seun kom vir Eid," gesels ek op pad terug na Muskaat in my gedagtes. “En ek kan net hoop die simboliek van silwer – die metaal waarmee jy jou lewe lank gewerk het – sal jou metgesel wees in jou afdraandjare. Hoop, liefde en veral ’n silwer maan om jou die pad te wys in die donker woestynnagte van jou ouderdom.”

Teks: Helena Opperman
Foto’s [email protected]

  • 4

Kommentaar

  • Helena, dankie dat jy vir ons 'n bietjie meer insigte gegee het in die pragtige juwele of liggaamsversierings wat ons dikwels bewonder, en wonder.... Ek wonder, is die kohlpot so iets soos die Himba se kosmetiese olie van vet en oker?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top