Hans du Plessis (1945–2024)

  • 2

Foto: Naomi Bruwer

Gebore en getoë

Hans du Plessis is op 15 Januarie 1945 in Pretoria gebore. Sy volle name is Hans Georg Wilhelm. Hy is een van vier seuns, word op Silverton groot en woon die plaaslike laerskool by. Hy vertel aan Elfra Erasmus dat Silverton daardie jare ’n plattelandse dorpie was wat vir hulle as kinders ver van die stad af gevoel het.

Hans vertel aan Carla van der Spuy (Vrouekeur, 13 Januarie 2017) ietsie wat hy nog van sy eerste skooldag kan onthou: “Ek is so oud, ek onthou nie eens my matriekafskeid nie! Onthou is soos water in ’n emmer met ’n gat in, hoe verder jy loop, hoe minder water het jy. Daarom probeer ek hard om my eerste skooldag te onthou, want die emmer is al bietjie leeg. Nogtans onthou ek dat ek ’n blokkieshemp aangehad het en ’n kakiebroek wat gemaak is, nie gekoop nie. Daar was nie geld vir onsin nie en skooldrag het ons nie geken nie. Skoene was net vir Sondae.

“Ek dink ek het die myl of twee agter broer Tjaard aan deur skuins voetpaadjies gestap. As ek reg onthou, was Pa met die ou Jeep werk toe. Lekker was die eerste dag nie, want ek is toe nie in juffrou van Jaarsveld se klas nie en van al die juffrouens was sy die vriendelikste met groot oorbelle van goud en armbande wat rinkel. Hoe moes ek weet sy is die graad 2-juffrou. Dan was daar ook te veel kinders, amper 200 in die skool!”

Hy matrikuleer in 1962 aan die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria. Hulle moes aanvanklik met die trein hoërskool toe gaan en later met die bus, aangesien daar net ’n laerskool op Silverton was.

Hans vertel aan Erasmus (Beeld Kalender, 13 Februarie 1992) dat hy en sy broers maar soos plattelandse seuns van die vyftiger- en sestigerjare grootgeword het. “Omdat die mense op ons dorp in die algemeen maar arm was, moes ons ons ontspanning buite in die veld loop soek. Om mispels of stamvrugte of wildeperskes te soek, was deel van ons bestaan. Ek meen dat my liefde vir die natuur en ’n empatie met enige agtergestelde mens toe al bestaan het en dat dit ’n groot invloed op my skryfwerk gehad het.”

Hy het nie uit ’n skryffamilie gekom nie, maar beslis uit ’n leesfamilie. Hans se ma en pa het ’n groot rol gespeel in sy grootwordjare en ook in die tipe mens wat hy geword het. “Ek het met boeke grootgeword. Hoewel ek in my laerskooljare nie ’n goeie leser was nie, het ek dit later geword.”

Hy vertel aan Maryke Roberts (Vrouekeur, 22 Julie 2016) dat hy in grondstrate, veld en koppies tussen die bome en die klippe en die voëls grootgeword het. “Dit was ons enigste speelplek en jy moes kon kyk waar die stamvrugte en die wildeperskes is, jy moes ’n haas kon bekruip en jy het geweet hoe ver ’n kettie se klip trek. Dit leer ’n mens om waar te neem. Daarby kom die talent, en dit het ek sonder verdienste by die Here gekry.”

Oor sy liefde vir skryf vertel hy verder aan Roberts: “Ek is nie seker hoe ek by skryf beland het nie. Maar vandat ek van skryf geweet het, wou ek skryf; nie dat ek so danig geweet het wat skryf is nie. Ek was nog op laerskool toe ek op ’n keer ’n opstellerige stukkie vir ons Voortrekkers se kampkoerantjie geskryf het. Dit kon selfs meer as vyf sinnetjies gewees het. En ek wou later oor ons bende skryf, maar dit was ongelukkig ’n geheime bende waarvan niemand moes weet nie. Later in my hoërskooldae het ek oor skryf gedroom, opstelle geskryf en hier en daar darem ’n skaflike punt daarvoor gekry.

“Daar was van altyd af boeke in ons huis. ’n Boek was amper heilig, iets wat jy met respek en skoon hande moes hanteer. Jy het nie eens daaraan gedink om die bladsy hoek-om te vou om jou plek te hou nie.”

In Huisgenoot (26 Mei 2016) vra Elna van der Merwe ’n klompie Afrikaanse skrywers watter Afrikaanse boek in hulle kinderjare ’n indruk op hulle gelaat het. Hans vertel aan haar: “Om ’n Afrikaanse boek uit my jeug te kies, is om te vra of biltong lekkerder as droëwors is. My eerste eie boek was Paultjie alleen in die wêreld, toe Patrys-hulle, die Trompies, Uile en Keurboslaan. Maar ek het ’n leser geword met Karl Kielblock se Jasper le Feuvre, want ek wou nie net soos Jasper wees nie; ek wou kon skryf, Afrikaans skryf soos dié Kielblock-ou.”

Verdere studie en werk

Hans wou aanvanklik na skool ’n radio-omroeper word, het hy aan Anim van Wyk (Beeld, 13 November 2011) vertel. “Nou waar ek daaraan gekom het, moet jy my nie vra nie. Ek het nie die stem nie, maar ek het gelukkig die looks vir ’n radio-omroeper!” Dit was dan ook hoekom hy aanvanklik geskiedenis en Noord-Sotho as hoofvakke geneem het.

Na skool gaan Hans na die Universiteit van Pretoria, waar hy in 1966 sy BA-graad behaal. Hy studeer later verder aan Unisa en verwerf sy UOD (universiteitsonderwysdiploma) in 1969. Hy slaag sy BA honneurs met lof in 1970 en so ook sy MA-graad in 1972. In 1975 behaal hy sy DLitt et Phil na voltooiing van sy doktorsgraad in Afrikaanse Taalkunde word die senior beurs van die RGN in 1976 aan hom toegeken en sit hy sy studies voort aan die Harvard-universiteit in Amerika, waar hy ’n kursus onder die taalkundige Susumu Kuno volg. In Amerika studeer hy ook verder in die algemene taalwetenskap by die wêreldbekende Noam Chomsky, destydse ghoeroe op die terrein van die transformasionele generatiewe grammatika.

Na ses jaar in die onderwys (onder andere vier jaar aan die Hoërskool Evander) word Hans in 1971 aangestel as lektor in Afrikaanse taalkunde aan Unisa. Vanaf 1977 tot 1980 is hy senior lektor aan die Randse Afrikaanse Universiteit. In 1981 word hy professor in Afrikaanse taalkunde aan die Potchefstroomse Universiteit (vandag die Noordwes-Universiteit). Sy intreerede handel oor die Afrikaanse taalkunde as besondere wetenskap en hy sê dat mense wat die taalwetenskap bemeester het sonder om die taal behoorlik te kan gebruik en te spel, nie veel vir die taal beteken nie. Hy bepleit ’n instituut vir eietydse Afrikaans aan die Potchefstroomse Universiteit, omdat ’n opname en behoud van kwynende vorme soos Griekwa-Afrikaans en Johannesburgse Afrikaans noodsaaklik is.

Hans is al sedert 1985 betrokke by skryfkursusse wat die ATKV saam met die departement Afrikaans van die Noordwes-Universiteit aanbied, en toe die universiteit in 1989 besluit om ’n skryfskool te stig, was Hans die logiese keuse om as die eerste direkteur aangestel te word. In 1990 kry hierdie skool beslag en staan dit bekend as die ATKV-skryfskool.

Hy is in 1968 getroud met Magdaleen Potgieter en die egpaar het vier seuns, Rudolph, Louis, Hansie en Tjaard.

Hans se eerste gedigte word in letterkundige tydskrifte soos Kol (1969) en Tydskrif vir Letterkunde (1978) gepubliseer. Benewens verskeie resensies in koerante en oor die SAUK, verskyn daar ook wetenskaplike artikels in onder andere KlasgidsTaalfasetteTydskrif vir Geesteswetenskappe, Linguistic Inquiry en Die Transvaler. Hans is ook die outeur van etlike taalkundige publikasies soos Sintaksis vir eerstejaarsVariasietaalkunde en En nou, Afrikaans? Saam met Dawie Steenberg is Hans die redakteur van Skryfateljee: gesprekke oor skryfwerk, waarin bekende Afrikaanse skrywers hulle menings oor skryfwerk met lesers deel.

Buiten sy skryfwerk lewer Hans ’n belangrike bydrae om Afrikaans van sy historiese en politieke beperkinge te bevry met sy ondersoeke na die variasies van Afrikaans. In die begin van die tagtigerjare het Christo van Rensburg, toe van die Universiteit van die Vrystaat, ’n omvattende navorsingsprojek oor die Afrikaans van die Griekwas gelei. Hans was een van die medewerkers en het saam met die navorsingspan veldwerk onder die Griekwas gedoen. Hy lei ook later ’n ondersoek na die gebruik van Afrikaans in Namibië. Soms het hy alleen op ver plekke na Afrikaanse dialeksprekers gaan soek, en kon hy hoor hoe Afrikaans die taal van Afrika geword het.

Hans se eerste digbundel, Kleinwild, word in 1978 deur HAUM gepubliseer. Hierdie bundel beklee ’n besondere plek in Hans se hart, omdat hy die oudste is en die swaarste gekry het. Hoewel Hilda Grobler in Hoofstad (1 Februarie 1979) die bundel nie baie goed ontvang het nie, skryf Rika Cilliers-Preller (Beeld, 12 November 1984) later: “Die soort epigrammatiese kleingedig van Hans du Plessis se voorkeur, of stemming- en natuurindrukke, vra ’n sintuig vir klank, ritme en beeldevokasie waaroor dié digter, myns insiens, wel beskik. Kleinwild se bekoring het daarin gesetel.”

In 1984 word sy tweede digbundel, Gewete van glas, deur Human & Rousseau gepubliseer en hieroor sê Rika Cilliers-Preller (Beeld, 12 November 1984): “Dit is egter die digter se werkwêreld in sekere tegnieke wat die aandag opeis. Daar is die reeds genoemde pogings om te skryf soos ons praat (wat ek maar as sambreel vir verskeie prosesse gebruik), reeds in die motto geantisipeer deur die poëtiese ou vertaling deur die nuwe, spreektaalgerigte te vervang. (...) Weliswaar is die digterlike transformasies nog nie konsekwent tot poësie deurgevoer nie en al slaan die dink- en maakwerk nog deur, is [daar genoeg] aanduiding dat ene ‘Kleinhans’ (van ‘Silverton’) tog in die land van die muse bly.”

Grensgeval, Hans se eerste roman, word in 1985 deur Human & Rousseau uitgegee. Dit vertel die verhaal van ene Jan Adamse se reis deur Namibië, in die eerste plek om na die wortels van Suidwes-Afrikaans te gaan soek (hy is naamlik ’n taalkundige) en in die tweede plek om op die spoor van sy eie herkoms te kom. LS Venter (Volksblad, 22 Maart 1986) skryf: “Dit is ’n alleenreis, maar Jan Adamse het tog ’n verbeelde reisgenoot, oom AE, met wie hy voortdurend in ’n soort innerlike debat gewikkel is. Die groot deug van hierdie roman lê nie in die storie of in die oorspronklikheid van die gedagte dat ’n wit Afrikaner bruin voormense het nie. (...) [D]ie deug van hierdie roman lê in sy styl. Du Plessis skryf ’n sappige en soms werklik pittige Afrikaans. Daarby het hy die vermoë om met enkele raak, beskrywende woorde ’n situasie te teken.”

In 1990 publiseer HAUM-Literêr Hans se volgende roman, Skuiwelinge. Die roman handel oor drie Suid-Afrikaners uit totaal verskillende agtergronde, wat in ’n kamertjie in ’n parkeergarage vasgekeer word wanneer politieke geweld die stad se strate in ’n slagveld omskep. Hoewel hierdie drie mense, elkeen op sy eie manier, geweld verwerp, word hulle gesamentlik en afsonderlik slagoffers daarvan. En hoewel Barend Toerien (Die Burger, 16 Augustus 1990) meen dat die roman nie werk nie, skryf Heilna du Plooy in Beeld (11 Junie 1990) dat die roman sy verhaal op ’n gemaklike en eenvoudige manier vertel en dat dit vlot lees. “Maar dit het meer om die lyf as net ’n storie van mense in Suid-Afrika. (...) Hierdie roman spreek in sy aktualiteit. Die gemaklike verteltrant is toeganklik en die menslikheid van die karakters, veral in die herinneringsvlugte, bewerkstellig warmte en natuurlikheid. Die oplettende leser gaan egter veel meer as ’n storie kry en sal waarskynlik heelwat nadink oor die manier waarop kontemporêre probleme die mense van hierdie land, as individue en as groepe, raak.”

Hans se eerste jeugboek, Disse flippen stukkende wêreld dié, my ou, word in 1991 ook by HAUM-Literêr uitgegee. Hy dra die boek aan sy vier seuns op, want, sê hy aan Elfra Erasmus, hy het baie by sy seuns geleer. “Baie wat ek nou van myself as kind weet, het ek deur my seuns leer verstaan. Omdat ons ’n hegte gesin is, leer ons (hulle hopelik ook van my) baie van mekaar.”

Op ’n vraag hoekom daar destyds so min jeugboeke in Afrikaans was, antwoord Hans: “Ek raai dat ons letterkunde vir die jeug kwalik by die bendeboek verby kon kom, omdat daar te veel taboes vir ’n jeugboek was. Moet nie politiek praat nie, niks seks en kinders vloek mos nie! Ek meen ons het die jong lesers klaaglik onderskat en ons skewe beheptheid met nasionalisme het veroorsaak dat ons ons kinders in dom, wit watte verpak het. En dan, natuurlik, sou jy uit jou eie ’n leser geword het op grond van die klomp goed wat jy op skool (en universiteit) voorgeskryf gehad het?” Sy seuns se reaksie op die boek was volgens Hans verrassend goed, “maar hulle het kritiek gehad wat ek opgevolg het – ek meen tot voordeel van die boek”.

Die verhaal beeld die politieke en sosiale werklikheid van die Suid-Afrika van die vroeë 1990’s uit. Thomas is ’n bruin seun wat nadat sy pa oorlede is, saam met sy ma en twee sussies in ’n kamer op die erf van die Ankers, ’n wit gesin, woon. Ook in die kamer woon sy pa se neef wat die kinders aanrand en beledig. Sy ma laat hom ook agter en al wat Thomas het om aan vas te hou, is sy vriendskap met Dirk Anker. Dirk en sy pa wend pogings aan om hom by die “blanke” skool te laat skoolgaan, maar daar is weer mense soos Hare Harmse en sy maats wat glo hy behoort nie in die skool nie.

Thomas van der Walt (Beeld, 7 Desember 1992) meen dat dit een van dié jeugboeke tot op daardie stadium in Afrikaans is. “Een van die positiewe aspekte van die boek is die lekker taalgebruik, Afrikaans, soos jong mense hom vandag praat, en soos die bruinmense van die Noordweste hom praat. Die humor in die boek spruit gewoonlik ook uit die taalgebruik voort. (...) Dit is egter ’n boek wat vir groot leesplesier sal sorg, miskien juis omdat hy so bitter eerlik is.” Gunther Pakendorf meen egter dat die roman nie heeltemal oortuig nie, omdat dit té skematies en resepmatig is.

Op versoek van die dramadepartement van die Hoërskool Pro Arte Alphen Park in Pretoria verwerk Hans in 1995 Disse flippen stukkende wêreld dié, my ou tot ’n eenakter. Dit was die eerste keer dat hy sy hand aan ’n toneelteks gewaag het. Die skool bring die stuk op die planke tydens die jaarlikse ATKV-tienertoneelkompetisie in 1995. Die beoordelaars, Lizz Meiring, Fred Steyn en Etienne Bloemhof, was só beïndruk dat hulle aan Hans die CR Swart-prys toegeken het, ’n geldprys wat jaarliks toegeken word aan ’n nuutgeskrewe eenakter wat in ’n betrokke jaar by die ATKV-tienertoneelkompetisie opgevoer word. Volgens hulle word ’n verhaal “wat kennelik behoort aan die Suid-Afrika van die onlangse verlede, met groot ekonomie vertel. Die situasie is kontemporêr; daar is konflik op meer as een vlak; die karakters, ofskoon stereotipes, is aanvaarbaar en die dialoog oortuig feitlik deurgaans. Dit is duidelik dat die skrywer baie tyd daaraan bestee het om die teks te visualiseer, en die praktiese uitvoerbaarheid daarvan deurgaans in gedagte te hou.” (Beeld, 7 Januarie 1997)

Hans se volgende jeugboek is Bakgat, en wat van my? wat in 1995 deur Human & Rousseau uitgegee is. Hoewel baie van die karakters wat in Disse flippen stukkende wêreld dié, my ou ook in hierdie verhaal optree, kan dit op sy eie gelees word. Herrie is nou die hoofkarakter en hy moet na Johannesburg gaan om sy matriek te maak. Elsabe Steenberg (Beeld, 10 Julie 1995) skryf: “Hier gaan dit om die geestelike groei wat Herrie, baie jare emosioneel verwaarloos deur sy ouers, in die eerste persoon beleef; dit word moontlik deur verhoudings met veral sy pa en die meisietjie Loelien. Die werk is ’n besonderse jeugwerk.”

In 1996 verskyn Ditsem, Dawid! by Human & Rousseau. Lindie Visser sit die verhaal in Die Burger van 19 Maart 1997 as volg uiteen: “Al die bestanddele van ’n klassieke avontuurverhaal is in dié jeugverhaal aanwesig: ’n probleem wat opgelos moet word, volop aksie, helde en skurke, ’n intrige wat opwerk na ’n klimaks en die ontknoping waar die ‘goeie’ die ‘bose’ oorwin. Dawid word uitgenooi na die Bosveldplaas van die pa van Ernesta, ’n meisie op wie Dawid sy oog het. Daar word hulle by wildstropery betrek. Die dialoog is die loslit Afrikaans van die tiener en dit lees lekker. Sonder om moraliserend te klink, word die etiek van jag bespreek en word die natuurskoon en diere met liefde en deernis beskryf.”

Tydens die KKNK in 1997 word Hans se eerste Griekwadrama, Broerse, opgevoer. Dit word ook beskou as die eerste drama in Griekwa-Afrikaans, hoewel daar al in ander dramas karakters was wat in hul eie dialek gepraat het. Hans vertel aan Theunis Engelbrecht (Beeld, 5 Maart 1997): “Broerse is ’n storie van ’n gesin wat deur kleurvooroordeel uitmekaar geruk word; die storie van broers wat weerskante van die kleurlyn beland, en dan deur ’n kleurbehepte gemeenskap van mekaar af weggehou word. En tussen die twee staan ’n mooi meisie – ’n mooi meisie wat ook nie altyd haar kies gekies het nie. ’n Liefdesverhaal eintlik, maar hoe het mense lief as hulle nie altyd toegelaat word om lief te hê soos wat die liefde dit wil hê nie?” Dit was Salome Combrink se idee dat Hans ’n drama vir die KKNK moes skryf wat iets moet “weergee van die diep wonders van Afrikaans en iets van die mense wat in die ou Suid-Afrika die agterspeen gehad en nou, in die nuwe ene, ook nie juis ’n voorspeen in die mond het nie”. Ben Kruger was die regisseur en die akteurs Anthony Wilson, James Winkler en Jackie Davids.

Saam met Annette du Plessis ontvang Hans in 1997 die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Erepenning vir Afrikaanse dokumentêre televisieprogramme vir die program Afrikaans: ons eie mixed bredie. In 2018 het die FAK die NP van Wyk Louw-toekenning vir die bevordering van Afrikaanse taal en kultuur aan Hans du Plessis toegeken. Vir hom was die toekenning onverwags: “Afrikaans is maar my lewe, so ek het maar net gelewe en toe kry ek ’n toekenning daarvoor.” (Maroela Media, 27 Oktober 2018)

Hans du Plessis ontvang ook die CBSA-prys (Christelike Boeke Suid-Afrika) vir godsdienstige werk vir die digbundel, Innie skylte vannie Jirre, waarvan daar reeds meer as 65 000 eksemplare verkoop is.

In 1999 het Hans met die komponis Wilhelm Joubert kragte saamgesnoer om ’n besonderse stuk Suid-Afrikaanse geskiedenis na teatergangers te bring. Dit is Liefde en oorlog, ’n kabaret/musiekspel oor die Anglo-Boereoorlog, wat tydens die Aardklop Kunstefees in 1999 opgevoer is. Die produksie is spesiaal vir Aardklop se hooffees ontwikkel. Daar was die klanke van viool en saksofoon wat in teenstelling is met die visuele beeld van ’n outydse Mauser en ’n moderne waarheid-en-versoeningsverhoor. Die akteurs was At Botha, Heidi Bouwer en André-Jacques van der Merwe. Die regisseur was Alwyn Swart.

Reeds in Hans se bundel Gewete van glas verskyn daar gedigte in Griekwa-Afrikaans. In 1999 publiseer hy self ’n boekie, Die Griekwapsalms en annerlike goeterse yt die Woord yt. Dit is die voorloper van Innie skylte vannie Jirre: Griekwapsalms en ander gedigte wat in 2001 by LAPA Uitgewers verskyn. Hierdie bundel is die wenner van die Christelike Boekhandelvereniging van Suid-Afrika se algemeen-Christelike kategorie. Dit word die Afrikaanse boek waarvan tot op daardie stadium die meeste eksemplare in die eerste jaar – nagenoeg 38 000 – verkoop is. Hans vertel aan Gert Coetzee (Die Burger, 23 April 2002) dat hy een aand, tydens Christo van Rensburg se navorsingsprojek, in die hotel op Douglas gesit en wonder het hoe Psalm 23 in Griekwa-Afrikaans sou klink. Tydens sy navorsing het Hans besef dat die Griekwas “iets ongeloofliks” in hulle het. “Hulle het ’n kinderlike geloof – amper ’n Europese toegewydheid – in God, maar terselfdertyd leef oer-Afrika se mite in hulle. Dié paradoks in hulle maak van hulle oer-Afrikane, én dat die woord vlerke kry hoe verder dit loop.”

Hans het verder verduidelik: “My Griekwagedigte is nie vertalings of omdigtings nie, maar ’n transponering op drie vlakke. Eerstens is dit ’n transponering in tipiese Griekwa-Afrikaans met ’n vertaler wat eenvoudige taal praat en woorde soos ‘kinderse’ en ‘goeterse’ gebruik. (...) Dit is ook ’n transponering van die omgewing. Dawid slaan sy oë op na die berge, maar in die Kalahari is nie berge nie, ook nie ’n dal van doodskaduwee nie. Daar is wel koppe en strate (tussen die duine). Dawid kan ook nie onder ’n olyfboom sit nie, maar onder ’n kameeldoringboom. En die aarde is net so groot soos Prieska. Laastens is dit ’n transponering op godsdiensvlak. Dawid beskryf die stryd tussen goed en boos deur beelde van oorlog en siekte. Vir die Griekwa is onheil die beerlou, waterslang, son en droogte.”

Hans meen dat die sukses van die boek waarskynlik te danke is aan ’n mengsel van die bekende en die onbekende (soos Psalm 121 in onbekende metafore) en omdat die eenvoud van die mense in poësie oorloop. “Ook is daar iets geesteliks in die bundel. Baie mense het aan [my] gesê hulle het nie meer die Bybel gelees nie, totdat hulle dié bundel onder oë gekry het.”

Hy verduidelik aan Anim van Wyk (Volksblad, 31 Desember 2011) dat hy met die Griekwapsalms vir homself gesê het dat dit baie is soos om in ’n sepie te speel. “Dis al waarvoor mense jou onthou! Ek wil so graag hê hulle moet oor die ander goed praat, maar dit is altyd so. En dit wás ’n reuse-sukses. Ek dink daar is baie meer genade as talent by daai hele ding ...”

Wium van Zyl skryf in sy resensie (Die Burger, 16 Julie 2001) dat GR von Wielligh in 1925 gesê het: “Hul taal is ongetwyfeld die laagste vorm wat Afrikaans bereik het.” Van Zyl skryf verder: “Die bundel bied egter spanne leesplesier en ’n nuwe ervaring van die rykdom van die Afrikaanse streektaal, sowel as van die literêre skatte van die Bybel en Psalmboek. Dat Afrikaanse digters en taalkundiges vandag aangetrokke voel tot die Griekwataal, bevestig dat Von Wielligh se optiek ver agter ons lê. Hierdie bewonderaars is egter steeds nie-Griekwas, iets wat ’n ligte nasmaak laat: van ’n eens trotse kultuur waarmee nou as kleurryke, onskadelike folklore omgegaan word.” Cecile Cilliers (Beeld, 14 Mei 2001) beskou veral Du Plessis se hantering van die psalms as “meesterlik” en sê dat daar in hierdie bundel “’n weelde van woord en mens opgesluit” lê.

Hans vertel aan Gerda Dullaart (Beeld, 5 Mei 2001): “Innie skylte vannie Jirre vang die romantiek van eenvoud vas op die manier waarop sterre, doringbome, veldheuning en bokke ingespan word om groot geestesgoed te sê. Daar is ’n onmeetlikheid, ’n wyd- en woestheid nie net in die landskap en in die Heer se goedheid nie, maar ook in die intense gevoelens wat gedig word.” Hans voel ook dat hy aansluiting gevind het by die Griekwabenadering tot geloof: dat ’n mens kinderlik afhanklik van God is.

Innie skylte van die Jirre het Paulette van Heerden so geïnspireer dat sy ’n unieke reeks linne met uittreksels uit die psalms daarop geborduur, die lig laat sien het. Griqua Linen word vanuit haar huis in Scarborough in die Kaapse Skiereiland bedryf. Die reeks bestaan uit duvetoortreksels met bypassende kussingslope in wit katoenbatis, geborduur in goud of steenkool.

Randall Wicomb toonset Hans se Griekwapsalms en bied landswyd konserte aan, met groot sukses. Randall se CD’s is ook suksesvol.

Hans se volgende twee bundels is op dieselfde lees geskoei as Innie skylte vannie JirreBoegoe vannie liefde: Griekwahooglied (2002) en Hie neffens my (2003) word ook albei by LAPA gepubliseer. In ’n onderhoud met Elise Tempelhoff (Beeld, 25 September 2002) vertel Hans dat Randall Wicomb hom gevra het om net een liefdesgedig in Griekwa-Afrikaans te vertaal. “Dis toe dat ek deur die Bybel blaai en op Hooglied 8 afkom. Ek het onmiddellik geweet Hooglied roep om in Griekwa-Afrikaans vertaal te word. Die erotiek en die mistiek van die liefde moes na die Kalahari gebring word.” Hans het Hooglied woord vir woord in die idioom van die Griekwas oorgeskryf, sonder om iets by te voeg of weg te laat. Hy meen dat Hooglied ’n liefdesgedig is waarin die man en vrou hul ekstase oor mekaar uitspreek. “Sommige teoloë meen dis ’n allegorie wat die verhouding tussen die kerk en Christus uitspel. Dit mag so wees, maar liefde is tog Godgegewe. Daarom hoort dit in die Bybel.”

Hy erken teenoor Ronél van Oort dat hy nog nooit soveel navorsing en moeite met ’n boek gedoen het soos vir Boegoe nie en dat hy nog nooit so hard gewerk het nie. “Magdaleen, my vrou, het aanvanklik die manuskrip gelees en gesê die liefde is mistiek en Boegoe het dit nie. Sy was reg, en ek het gaan oorskryf. Boegoe is meer literêr gesofistikeerd as Innie skylte vannie Jirre, maar is nie ontoeganklik nie.”

Hans vertel aan Elise Tempelhoff dat toe hy ’n eksemplaar van die bundel vir een van die Griekwakapteins geneem het, die man daaruit gelees het en uitgeroep het: “Maar dis dan in ons Afrikaans!”

Cecile Cilliers skryf in Beeld (4 November 2002) oor Boegoe vannie liefde: “Hierdie samevoeging van ’n liefdesverhaal van ongeveer 2 000 jaar gelede met ou Griekwagebruike, maar dan geplaas binne ’n moderne opset, val nie vreemd op nie, maar skep ’n dinamiese spanning. Alledaagse beelde word afgewissel met liriese gedeeltes van uitsonderlike musikaliteit en digterlikheid. (...) Dit sou maklik wees om te sê dat Hans du Plessis op die rug van Griekwa-Afrikaans ry om die gedigte so bekoorlik te maak. En miskien is dit gedeeltelik waar, want veral met hardop lees word mens verlei deur die ritmes van die tongval. Maar dit is nie hele waarheid nie. Wat sowel opset as raamwerk betref, is hier ’n digter aan die werk. Elke woord is op sy plek, en die oorspronklike Hooglied word (sonder verlies van respek vir die bron) omgeswaai om in die raamwerk van ’n eie verhaal te pas. Selfs die mees uiteenlopende stof word ten volle geïntegreer, onder meer met die gebruik van herhalings of herhaalde gedigte in ietwat veranderde vorm.”

Hans se rubrieke wat oor die jare in veral in die Potchefstroom Herald asook in ander koerante en tydskrifte verskyn het, word in 2004 deur LAPA uitgegee onder die titel Splinters: ’n keur uit rubrieke. Vir Gretel Wybenga (Beeld, 13 Desember 2004) is rubriekskryf die een genre wat Hans baie goed pas. Hy is ’n “bobaas-oorreder, boonop geseën met ’n gladde tong. En hy kén al die tegnieke.”

Na ’n stilte van negentien jaar in die genre van die roman verskyn Hans se roman Verbrande paradys in 2009 by LAPA Uitgewers. Willem Pretorius (Die Burger, 9 Maart 2009) vertel: “Die verhaal speel in die Vredefortkoepel af waar die Koepelaars onrustig woon asof hulle bewus is daarvan dat daar geen beskerming vir hulle teen die noodlot is nie. Die verhaal gaan oor Sybrand Venter wat baie vinnig moet grootword wanneer sy pa tragies sterf; sy broer Henro, wat goed kan ‘weld’, maar wie se hyser voor die boonste verdieping stop; en Andries Spogter, die atleet.” Pretorius beskou die roman as ’n lekker lees.

Stoffel Cilliers (Beeld, 6 April 2009) beskryf die roman as “veelvlakkig, iets wat hom nie sommer in ’n genre laat plaas nie. Tiener- of studenteverhaal is dit nie. Ook nie juis ’n gesinsroman nie. Dit sal beslis kan kwalifiseer as karakterroman. Sommige lesers sal dit ’n natuurroman wil noem. Verskeie temas word in die verhaal aangeraak, soos die verantwoordelikheid van die mens teenoor die natuur, die dood met sy vele gesigte en gevolge en die verganklikheid van die mens. As aktuele, eietydse roman bied Verbrande paradys inderdaad baie stof tot nadenke oor ’n verskeidenheid onderwerpe. (...) Dit bied ’n besonder aangename leeservaring.”

In 1977 tydens ’n FAK-byeenkoms op Sasolburg sê Hans dat die bruin mense in Suid-Afrika deel is van die Afrikaanse gemeenskap. In 1998 vertel hy aan Alta van Wyk dat hy toe nie eens bedank is vir sy referaat nie en boonop daarvan beskuldig is dat hy “die taal weggee”. Vandag sê hy: “Dit was ons hele probleem met Afrikaans. Die feit dat politiek diegene wat nie sogenaamde algemene beskaafde of Standaardafrikaans praat nie, uitgedefinieer het; dat ons nie wou erken dat al die variante van Afrikaans die taal verryk en verruim nie. Dit terwyl Afrikaans hoeka uit Hottentots stam. (...) Die stryd teen Afrikaans was egter nie teen die taal nie, maar teen die witgeverfde gesig daarvan. Daarom is ’n inklusiewe herdefiniëring nodig. Want plaas jy vir Standaardafrikaans baklei, baklei jy vir ’n minderheidstaal. Baklei jy vir Afrikaans in al sy skakerings, bevorder jy ’n taal met sowat sestien miljoen sprekers – die grootste taal in Suid-Afrika!”

In 2000 word Hans verkies tot ondervoorsitter van die ATKV, ’n posisie wat hy beklee tot 2008 aangesien hy deur die ATKV se grondwet verplig word om op 63-jarige ouderdom as direksielid uit te tree. Hy was voorsitter van die FAK se Taalkomitee, voorsitter van die direksie van LAPA Uitgewers, trustee van die Kanselierstrust van die PU vir CHO, en trustee van die Arts and Culture Trust van die President. Hy dien ook in die direksie van die Aardklop Nasionale Kunstefees.

Tydens 2000 se Aardklop Kunstefees lewer Hans ’n lesing getiteld “Sol Plaatje en Totius” waarin hy die ooreenkomste tussen die Batswana-skrywer-politikus en die Afrikaanse digter-teoloog uitlig. Albei is in 1877 gebore en albei het doktorsgrade ontvang.

Hans se uitsprake rondom Afrikaans is alombekend. In 1997 skryf hy in Karring, die Universiteit van Wes-Kaapland se tydskrif vir taalonderrig: “Die bitterbekke wat so kla dat dit deesdae kwansuis sleg met Afrikaans gaan, het die ding aan die stert beet. Dit gaan in die nuwe bedeling inderdaad goed met die taal Afrikaans. Dis by die vak Afrikaans wat dit lol. (...) Dat die vak Afrikaans soveel teenspoed ondervind, veral aan Afrikaanse universiteite, het te doen met die vak self en met daardie universiteite se vakmense wat ongewillig is om by die nuwe eise aan te pas. (...) Kortom, wie wil nog weet van die teoretiese sintaksis of die literêre semantiek? Die twintig wat aangemeld het vir die akademiese vak, ja, maar hulle is nou die minderheid. Versigtig: so mis jy die ander duisend wat Afrikaans wil leer praat, omdat hulle dit op hul werkplek sou nodig kry of omdat dit ’n ander venster op Europa kan oopmaak.”

In 2002 lewer Hans die Hoërskool DF Malherbe se sewende gedenklesing. Die titel van sy lesing was Afrikaanses en Afrikaans: van Malherbe tot Mbeki. Hy spreek die mening uit dat Afrikaans vir hom in die eerste plek die somtotaal van al sy dialektiese en sosiolektiese moontlikhede is. “Met dit in my agterkop het ek in 1993 al die term Afrikaanses die eerste keer gebruik, bedoelende daarmee al die moedertaalsprekers van Afrikaans, maar ’n belangrike groep het uitgebly: die gebruikers van Afrikaans wat nie moedertaalsprekers van Afrikaans is nie, maar ’n belangrike deel uitmaak van die sogenaamde sekondêre taalgemeenskap. Juis binne die eksterne omgewing, speel hierdie deel van die Afrikaanse taalgemeenskap ’n belangrike rol.”

Hans skryf graag vroeg smôrens, “alleen saam met die voëls wat baie mooier as ek skryf” en gewoonlik vanweë werkdruk op Potchefstroom; maar, vertel hy aan Jeanette Ferreira, “verkieslik in my aardse skylte op Eersterivier waar ek alles wat ek skryf, gaan afrond, want stilte en alleente is dáár vanself, al raas wie ook al. As ek vashaak, wil ek opstaan, die natuur om my hê.”

Op ’n vraag van Jeanette Ferreira oor hoe hy skryf – sommer so, of eers met notas, frases, so aan – antwoord Hans: “Lang aanloop. Los woorde baiekeer in die kerk, vroeër agter in die Gesangeboek, maar deesdae sit ek maar altyd skoon papier in my kerkpak se sak.”

Hans het sedert die vroeë negentigerjare las van ’n oorerflike oogsiekte waarvoor hy laserbehandeling gekry het. Hierdie behandeling het sy detailsig so aangetas dat hy nie meer kan motor bestuur nie en met behulp van die tegnologie moet lees. Hy spot: “Ek kan byvoorbeeld nie mense se gesigte erken nie, maar dan vóél ek maar wie hulle is!” Ondanks sy sigprobleem gaan hy onverpoosd voort met skryf. In Finesse van Februarie 2002 vertel Hans aan Alita Vorster: “Die genade is mos altyd groter as die moeilikheid, maar moeilikheid se moeilikheid is dat dit so sigbaar is. Genade se genade is daarin dat dit daar is as jy dit die nodigste het, al sien jy dit eers later raak. Eintlik moet genade ook met ’n hoofletter begin, want ek praat van God se Genade. Miskien het ons geloof en godsdiens só ingewikkeld gemaak dat ons dit in sy eenvoud (en ons eie eenvoudigheid) nie wil raaksien nie. Hoe kan die hemelse Genade dan so aards, so alledaags, so wêrelds wees? Tog is dit. En al wat ons moet doen, is om dit raak te sien, en te ervaar. (...) En toe die Genade: die bundel (Innie skylte vannie Jirre) word ’n wegholsukses, Awie (van Wyk) se koor bly sing en Randall (Wicomb) maak met ’n produksie en CD nuwe paaie oop. Maar dit is genadegoed dié, want ek het nie vooraf besluit ek wil ’n godsdienstige boek skryf nie. Ek het gedigte geskryf wat uiteindelik groter as ek geword het.

“Die ou met die swak oë en die onvaste woorde word deur die Genade saggies gevat en op ’n pad vol verrassings gesit – ’n pad wat hy nie vir homself só sou kon uitdink nie. Ook maar goed, want die Here se pad loop beter. En dan wonder ons steeds of genade groter is as moeilikheid?”

Tydens die Woordfees van 2011 op Stellenbosch het ’n groep jong kunstenaars van Potchefstroom onder regie van Adri Breed Boegoe vannie liefde opgevoer, Hans se Boegoe was die basis van hierdie produksie. Dit is getoonset deur Lize Beekman met Franco Prinsloo op klavier.

Marina Nel skryf in Die Burger (10 Maart 2011) dat hierdie ’n produksie is wat “jou geloof in die skoonheid van, en noodsaak vir, woorde en musiek opnuut bevestig.

“Dit begin as ’n kamma-lesing oor dialektologie, voorgedra deur die Professor (Natie Klopper). Hy spreek die gehoorlede direk aan en berispe en prys hulle by naam, of hulle werklik sy studente is. Die lesing word egter net gebruik om die sangnommers te bind en aan die taalvariant konteks te verskaf. Die hoofbestanddeel is die erotiese dog tere liefdesverhaal van Koib (Jako Meyer) en Kois (Netanja Brink), wat daar tussen die rooi duine van die Kalahari in die allermooiste beeldspraak ontvou.

“Ester de Vos, Kois se vriendin, dans ’n riel dat jy jou verbeel jy sien die stof staan op die verhoog. Pierre-Louis le Grange en André Klopper, Kois se broers wat haar eer moet beskerm, laat ook nie op hulle wag nie.

“Die sukses van Boegoe vannie liefde lê in sy eenvoud: die klem altyd net reg; die byeenbring van uitstaande stemme en treffende verwerkings deur Prinsloo. Daar is ’n iets van alles – kostuums, dekor en rekwisiete – maar die musiek en lirieke is altyd voorop.

“Benewens die klavier, bestaan die begeleiding uit kitaar (Deon Meiring), perkussie en – wag hiervoor – ’n traporreltjie (Rineke Viljoen). Laasgenoemde is wat die produksie bo die alledaagse verhef. Dit skep ’n klank wat jou dit as waarlik outentiek laat ervaar.

“Bowenal maak Boegoe vannie liefde jou ook verlief – op Afrikaans in al sy vorme en variante.”

Hans du Plessis het aan die einde van 2011 afgetree as hoof van die Noordwes-Universiteit se ATKV-skryfskool. Die 28 November 2013-uitgawe van die tydskrif Literator is aan hom opgedra. Oor die aftrede en die oppak vertel hy aan Anim van Wyk (Volksblad, 31 Desember 2011) dat dit vir hom swaar werk was: “Want jy pak 32 jaar van jouself in. Soos wat jy nou al daai boeke in ’n boks moet pak, moet jy jouself ook in ’n boksie pak, want jy moet ’n nuwe benadering hê.”

Maar hy het beslis nie stilgesit sedert sy aftrede nie. In 2011 is Die pad na Skuilhoek gepubliseer, in 2012 Karos orie dyne, in 2013 As die wind kom draai en in 2014 Inboekeling.

Die pad na Skuilhoek speel af tydens die Groot Trek. Hans vertel aan Anim van Wyk (Beeld, 13 November 2011): “Ek het geweet ek wil ook eendag in my lewe ’n liefdesverhaal skryf. My vrou het gesê: Wat weet jy daarvan af?” Hans moes uitgebreide navorsing doen vir Skuilhoek. Só het hy uitgevind dat die Voortrekkers die Vaalrivier die eerste maal by Parys oorgesteek het.

“Daai stuk van die Groot Trek se geskiedenis was vir my verstommend interessant en lekker. As jy nou mooi gaan kyk, dan weet ons niks daarvan nie,” vertel hy aan Anim van Wyk. “Baie van daai geskiedenis van ons is gekleur deur Afrikaner-nasionalisme. Wat gemaak het dat ons heeltemal verkeerde helde het. Afrikaner-nasionalisme het Bloedrivier en Sarel Cilliers tot die Groot Trek verhef.

“Ek probeer in die roman heeltemal ’n ander beeld van die Afrikaner (te gee) – maar ek noem die woord glad nie, want hulle het hulself nie Afrikaners genoem nie. Daar is ’n stilte in die geskiedenis, met ander woorde, waar jy niks weet nie. Die feit dat daar nie soveel feite is nie, maak dat jy lekker fiksie daarin kan skryf.”

In Beeld van 2 April 2012 skryf Joan Hambidge dat die roman baie vlot geskryf is en dat dit die geskiedenisboeke van Van Jaarsveld uit haar jeug oproep. En hoewel Die pad na Skuilhoek as ’n roman vir jong volwassenes aanbeveel is, kan dit dalk eerder persone soos die resensent help om die geskiedenis wat hulle op skool gelees het, te deromantiseer.

“Die verhaal gebruik die geskiedenis van die Matabeles wat in die nag van 23 Augustus 1836 ’n staning Voortrekkers uitgewis het. Net twee jong mense (Lourens en Petronel) en hul vriend, Vryheid, oorleef. Daar is rassespanning en geweld. Name soos Meester, Vryheid en Bybeltjie stel ’n tyd van voor waar begrippe soos ‘staning’ eweneens ’n gelade betekenis het. Swart mense is nasies of ‘die volk’. Hier is dus ’n waarheidsgetroue weergawe hoe wittes ander mense gesien het. (...)

“Die verteller se taalgebruik val presies in die karakters se mond, behalwe een keer wanneer die begrip ‘krities’ gebruik word en binne die konteks te geleerd klink. Die prosa is gestroop en sonder enige taalfoute wat vele romans deesdae ontsier. Daar is ook ’n nuttige outeursnota vir die speurende leser en ’n indrukwekkende bibliografie, Die roman is soos ’n diorama.”

Met die publikasie van Karos orie dyne in 2012 het Elias Nel op Versindaba aan Hans du Plessis gevra of hy reken daar kan kopiereg op tradisie, taal of ’n variëteit daarvan wees. Hierop het Hans geantwoord: “’n Taal, of enige vorm daarvan, het nie op sigself kopiereg nie, want dit is nie iemand spesifiek se intellektuele eiendom nie. As dit was, sou ek of Antjie Krog ook nie in Engels mog skrywe nie – of Elias Nel in Standaardafrikaans nie. Afrikaans is die somtotaal van al sy dialekte, en Afrikaans behoort aan almal wat dit praat. Intellektuele eiendom lê daarom in die oorspronklike skepping in die besondere taal en nie in die linguistiese kode self nie. Sou die Griekwapsalms dus iewers bestaan het voordat ek dit geskryf het, beteken dit dat ek iemand anders se intellektuele eiendom gesteel het en as my eie skepping voorhou. Nie een van die gedigte bestaan egter elders as in my eie publikasies nie. ’n Kunstenaar kan net approprieer wat reeds geskep is. Geen wet of reël of regulasie kan egter voorskryf in watter medium die kunstenaar mag skep nie. Dis soos om te sê ek mag nie op ’n rots met plant-en-dier-verf teken nie, want iemand anders het dit al gedoen. Dit is egter ’n ander saak as ek ’n rots met ’n oertekening daarop uitkap en dit as my eie kunswerk gaan uitstal. Dit is appropriasie. Plagiaat, of steel in gewone Afrikaans. Dit is nogal vreemd dat niemand dieselfde vraag met betrekking tot die gebruik van die Bybelgedeeltes vra nie. Miskien is dit simptomaties van ons gebroke taalgemeenskap, ’n taalgemeenskap met grense wat nie bestaan nie, maar deur politieke domastrantheid gefabriseer is. Inteendeel, die skep in ’n variëteit is daarop gemik om die variëteit se potensiaal as skeppingsmiddel te bevestig. Dit probeer juis grense afbreek.” 

Oor Karos orie dyne skryf Bernard Odendaal op Versindaba: “Met hierdie derde bundel Bybelse poësie in Griekwa-Afrikaans maak Hans du Plessis en LAPA Uitgewers as ’t ware weer so: vlot, toeganklike en waarskynlik gewaarborgde gewilde verskuns vir waardeerders van Christelike literatuur én van die verkwiklike seggingskrag van ’n niestandaardvorm van die taal.

“Die twee genoemde waarderings het ook met mekaar te doen. Naas Du Plessis se vaardige omdigtings van die Bybelse materiaal – hy noem in die ‘Outeursnota’ dat al die gedigte in die bundel, ‘op een of twee uitsonderings na’, gegrond is op Bybeltekste – is dit juis die kleding van die bekende geestelike stof in die aards-konkrete, romanties-eenvoudige baadjie van die Griekwatongval wat die poëtiese effek bewerkstellig. (...)

“Die klem val deurgaans eerder op die menslike afhanklikheid van God en op God se liefdevolle, deurlopend reddende teenwoordigheid in die leefwêreld wat hier uitgebeeld word – die ‘karos’ van die ‘jimmel ... orie donker dyne’ waarvan in ‘Die Jirrie spannie jimmel’ gewag gemaak word, en waarvan die bundeltitel afgelei is.

“Met Karos orie dyne versterk Du Plessis die gewaardeerde posisie wat hy as religieuse digter en as funksionele benutter van ’n Niestandaardafrikaans-vorm beklee.”

Op LitNet het die uitgewers, LAPA, Karos orie dyne as volg bemark: “Karos orie dyne is ’n splinternuwe bundel met Griekwapsalms deur Hans du Plessis. Dit is weereens oorspronklike gedigte in die aangrypende Afrikaanse dialek van Griekwaland-Wes en bevat die res van die Dawidspsalms en ook verse oor ander Bybelgedeeltes, soos van die gelykenisse.

“Die gedigte vertel van die skepping, die voorspelling en geboorte van Christus, die kruisiging en die einde van die aarde, maar veral van die Groot Genade. Bekende sowel as minder bekende Skrifgedeeltes word weer nuut gemaak deur die seggingskrag van hierdie variëteit van Afrikaans en die treffende transponering van die Bybelse omgewing na dié van die Kalahari. Die verse verras weer met die vernuwing van die Bybelse metafore.”

As die wind kom draai maak net soos Skuilhoek sy draai tydens die Groot Trek en daarby saam is ook ’n liefdesverhaal ingeweef. Die verhaal van Skuilhoek word hier verder gevat en vertel die storie van Vryheid.

Op LitNet vertel Nini Bennett van As die wind kom draai: “Dit is 1844 en die seun van ’n slavin, Vryheid, raak verlief op Magriet Prinsloo. Haar gesin, en veral drie broers, is ernstig gekant teen hulle verhouding, en dié weerstand ontketen ’n paar kwelvrae: Wie is Vryheid se pa? Wat is die Prinsloos se groot geheim? Waarom mag net die wit trekkers grond besit? In sobere styl beskryf Du Plessis die lotgevalle van sy karakters; die historiese stoffering van die verhaal is oortuigend en outentiek.

“Naas Vryheid se liefde vir Magriet sentreer die roman ook om twee ander sleutel-intriges, naamlik Lourens se ambisie om veldkornet van die Berglandwyk te word en Bybeltjie Steyn se roeping om in Nederland vir predikant te gaan studeer. Meester Joachim Roos, wat drie uur te perd van die plaas Skuilhoek op Mooirivierdorp (Potchefstroom) woon, is die aangewese persoon om die drie jong mans met hulle onderskeie vrae (wat inderwaarheid die kern van ideologiese vraagstukke vorm) te help.

“In oënskynlik onskuldige verhaalgebeure word ’n paar magsdiskoerse van die Afrikanergeskiedenis geaktiveer. Sonder om in historiese pedanterie te verval, volg die verteller op trekkersweë self die oorsprong van netelige kwessies, byvoorbeeld dié van Afrikaner-identiteit (slawe en rassevermenging en -afkoms ingereken).”

Bennett sluit af: “In As die wind kom draai word die karakters se interaksie en noue verbondenheid met die natuur akkuraat en liries geskets. Naas verwysings na die weer, diersoorte en plantegroei word laasgenoemde ook effektief ingespan om betekenis aan die individue se innerlike monoloog te gee, wat op sy beurt weer die emosionele beleweniswêreld van die onderskeie karakters registreer.

As die wind kom draai is ’n liefdesverhaal en historiese roman wat eindelik daarin slaag om magsvraagstukke te besleg deur die morele hoë grond te kies. Dit is ’n genietlike werk vir oud en jonk en spreek omstrede kwessies met die nodige piëteit aan. Dit is ’n boek wat getuig van hoop – en binne die historiese inbedding steeds ’n tydlose relevansie sal hê.”

In Rapport van 6 Mei 2013 skryf Malene Breytenbach dat Hans du Plessis in As die wind kom draai daarin slaag om nie net die tydsgees nie, maar ook die omstandighede en die geestelike en fisieke deel van die lewe van daardie tyd oortuigend te skets. “Die kwessie van slawe, rassevermenging en afkoms kry dikwels aandag in ons literatuur en hier is dit weer die kruks van dié verhaal. Die roman lees maklik en lekker en die karakters is geloofwaardig in hul stryd teen hul omstandighede en vooroordele.”

Hans se jongste publikasie, Inboekeling, is weer ’n roman wat op die Voortrekkers in die noorde van Suid-Afrika fokus. Hierdie slag vertel hy van die inboekelingstelsel waarvan baie mense, en dan veral wit Afrikaanse mense, weinig weet.

In Rapport (16 Augustus 2014) skryf André Gouws oor Hans se Inboekeling: “Die Voortrekkers in die noorde van die land het in die middel tot laat 19de eeu, toe slawerny reeds in die Kaap afgeskaf is (1834), steeds voortgegaan met die handel in ‘swart ivoor’. Swart kindertjies wat op strooptogte gevang is, is ‘ingeskryf’ in ’n boek op die dorp en het as slawe vir die Boere gewerk. Sommige is ook uitgevoer.

Inboekeling begin met ’n man wat aan ’n riem op die werf van Hier aangebring word deur die bullebak Niklaas Opperman. Niklaas kan niks verkeerd doen in die oë van sy oupa, die patriarg Hermaans Opperman, nie. Die vreemdeling met die riem aan die nek stel homself voor as Japie Niemand, van Elders. Hy is ietwat stadig van begrip. Hy kan glad nie onthou met watter pad hy by die mense van Hier aangekom het nie. Sy broer is iewers langs die pad doodgemaak, maar hy deel nie veel meer van sy storie nie. Hy is vreeslik honger en dors en kan homself kwalik in toom hou wanneer die Coetzees hom nooi vir ete.

“Die verhaal wentel meestal om Japie, wie hy is en waar hy vandaan kom, met ’n hele paar ander storielyne daar rondom. Japie gee voor hy is ’n ystersmid, wat hy nie is nie. Die patriarg stel hom voor ’n toets, want die mense van Hier is maar agterdogtig teenoor dié vreemdeling wat so uit die bloute opgedaag het en net sê hy was op pad na Niemandsland. Hy sê ook nie waarom hy daarheen op pad was nie, maar Niemandsland is nie ’n goeie plek nie. Daar is (aanvanklik) geen geografiese aanduidings in die boek nie.

Inboekeling is ’n heerlike boek. Dit lees soos ’n speurverhaal wat ’n mens nie wil neersit nie, maar ’n mens kan ook nie te veel sê sonder om die hele storie weg te gee nie.

“Die lewenswêreld van die inboekelinge is ’n groot deel van die verhaal. Eenkant, maar tog ook nie heeltemal nie. Die vroue (Susanna Coetzee en haar kinders) verteenwoordig die teenslawerny-mening. Hulle is erg gekant teen die steel van die swart kinders en die inboekelingstelsel, maar die ander steun dit steeds. Tarentaal, een van die ingeboektes, kom in opstand teen die hele stelsel. ’n Mens wonder of Japie ook ’n inboekeling is?

“Die boek slaan soms oor na die eerstepersoonsverteller, wat aanvanklik steurend is, want ’n mens het geen idee wie aan die woord is nie. Eers later blyk dit ‘Meester’ is die skrywer van die boek en praat soms in die eerste persoon.

“Daar is iets steurends aan die ontwikkeling van die storielyn van Meester se eie verhaal. Dit voel geforseerd en dra nie vir hierdie leser werklik by tot die verhaal nie. Dit doen egter geen afbreuk aan die res van die teks nie.”

“Hierdie roman het my op hierdie oomblik geneem na ’n herbesoek van die Afrikaanse geskiedenis en in welke mate romans die waarheid beter kan vergestalt as geskiedenisboeke,” skryf Joan Hambidge op LitNet. “Dit is ’n roman klein in omvang wat baie nadenke tot gevolg het.”

Wium van Zyl het in sy resensie in Rapport (22 September 2014) gemeen dat ’n mens die indruk kan kry dat publikasie van Inboekeling afgejaag is en dat dit ’n baie goeie literêre spanningsverhaal sou kon gewees het, maar daar is ’n onafgerondheid aan die boek wat nie Hans du Plessis waardig is nie.

Op 18 Junie 2014 het Hans du Plessis saam met Bernard Odendaal, Christo van Rensburg en Jaap Steyn ’n brief aan die pers geskryf oor ’n Afrikaanse universiteit: “Wat van ’n Afrikaanse universiteit? Daar is mos genoeg Afrikaanssprekendes in die land, nie waar nie? Ons praat van ’n volwaardige staatsondersteunde Afrikaanse universiteit wat sonder druk van binne of buite vrye Afrikaans as onderrig- en administrasietaal gebruik. Een van die bestaande universiteite, waar die infrastruktuur reeds bestaan. Personeel is klaar aangestel. Ons vra nie toestemming om op die leemte in ons hoër onderwys te wys nie en ons praat ook nie namens enige organisasie of instansie nie.

“Natuurlik is so ’n universiteit ook nie uitsluitlik vir Afrikaners of Afrikaanssprekendes nie. Die studente hoef nie Afrikaans te wees nie, hulle moet net aanvaar dat dié veelrassige instelling se ankertaal Afrikaans is. Ons ken die geskiedenis van Afrikaans. Aan hierdie nuwe universiteit kan sonder kniebuigings of inmenging skoon begin word. Ons het volle vertroue in die versoenende toekoms van Afrikaans en in die onmisbare gehalte-bydraes wat daardeur gelewer sal word. Ons praat van ’n outonome, nie-rassige Afrikaanse universiteit, wat net ’n bate vir Suid-Afrika kan wees. So maklik. So regverdig.”

Tussen die klippe, Hans du Plessis se volgende roman, is in 2016 deur LAPA gepubliseer. Dit is sy vierde roman wat die Groot Trek as agtergrond het.

In die Potchefstroom Herald van 3 Junie 2016 vertel Hans aan Marianke Saayman dat hy hierdie roman gesitueer het in 1852 in Pretoria, meer spesifiek waar die Moot is: “1852 is in die middel van die eeu – net na die Groot Trek ... en niks is seker nie. Hulle weet nie of hulle ’n republiek gaan word nie, hulle weet nie wie gaan die goewerneur wees nie, so dis ’n totale onsekerheid.

“Die roman is fiktief maar grens aan vele ander genres. Dis ’n roman oor die geskiedenis en ’n roman oor die liefde, maar dis nie ’n historiese verhaal nie en ook nie ’n liefdesverhaal nie. Dis ’n roman met spanning, maar dis nie ’n spanningsverhaal nie.”

Die beeldskone Susanna staan sentraal in hierdie verhaal. Sy moet voor die hof van landdroste en heemrade verskyn waar sy beskuldig word van veelmannery “en al die sondes wat daarmee gepaard gaan”.

Hans het die stuk van die storie waar Susanna in die hof is, gebaseer op ’n werklike saak wat gedurende daardie tydperk plaasgevind het, toe dit ’n man was wat van veelwywery aangekla is. Susanna is ’n fiktiewe karakter, maar is gebaseer op Susanna wat in die Apokriewe boek van Daniël 13 voorkom. “Maar,” sê Hans, “my Susanna is nie so vroom soos daardie Susanna nie. Die hele verhaal gaan daaroor om haar skuldig te bewys en die hof is sommer onder die boom tussen die klippe.

“Ek kom self van die Moot-area in Pretoria en het as kind onder die wilgerbome in Silverton gespeel, daar waar die botaniese tuine nou is, en dít is waar my roman afspeel. Hierdie roman was vir my baie lekker om te skryf omdat ek dit in die Moot kon plaas en omdat ek dit in die onsekerste tyd in ons geskiedenis kon plaas,” sê hy.

Dominee Johannes word deur die weledele Sinodale Kommissie aangestel om die hofverrigtinge by te woon. Johannes, wat geen insig in die psige van die vrou het nie, word veral geraak deur Susanna se skoonheid, haar krag, maar terselfdertyd ook haar broosheid en hoe onversetlik sy kan wees. Hy is ook op soek na die waarheid van die liefde soos dit in die Bybel uitgelê word.

“Hoe meer verdoemend die getuienis teen Susanna raak, hoe meer wonder hy of die liefde wat hy verkondig, meer is as die liefde tussen God en mens. Pure Du Plessis-magie.” (Rooi Rose, April 2016)

In Volksblad (16 Mei 2016) skryf Ronel Nel: “Die storie is gekrui met heerlike karakters uit die mid-1800’s, en gee ’n kykie in hoe dié getemde streek toe nog met olifante, seekoeie en waterkuile sou gelyk het.”

Cas van Rensburg (Rapport, 5 Junie 2016) maan lesers om nie afgeskrik te raak “as die tema wat hom so saggies in dié verhaal aanmeld te swartgallig lyk nie.

“’n Mens kan dit maklik miskyk wanneer jy in die greep van die ontvouende verhaal vasgevang is. Du Plessis oortref homself deurdat hy in ’n gewone liefdesverhaal seer punte in die kollektiewe onbewuste van die Afrikaner treffend uitwys. En met so ’n treffende komiese aanslag. Min skrywers kan hom dit nadoen.”

Op LitNet is Nini Bennett ook baie positief oor Tussen die klippe. “Soos in As die wind kom draai ontgin Du Plessis aardse simboliek op ’n meesterlike wyse. So word die klippe eindelik die verkondiging van ’n tasbare liefde tussen mense, en die filosofie van die waarheid loop parallel met dié van die liefde. Aldus die wyse, maar ongeletterde Kornelius vorm die twee klippe van Moses die twee testamente, maar binne die sluitsteen van één verbond: die liefde van Christus.

“Die roman wemel van onthoubare en eenvoudige alledaagse waarhede. (...) Tussen die klippe is ekonomies verpak in 48 kort hoofstukke met ’n intrige en kleurryke karakters wat enduit boei. ’n Hoogtepunt is die aankoms en getuienis van die formidabele Catharina Nortier. Die roman bied ook heelwat vir die fynproewer van goeie fiksie. Afgesien van natuurtaferele wat meermale die hofverrigtinge op ’n komiese wyse simuleer, is dit dominee Johannes se brief aan sy vriend Gous wat opvallende ooreenkomste met Paulus se sendingbriewe toon (bl 35) wat vir klein literêre juwele sorg.

“Du Plessis lewer ’n goeie skeut kritiek op die bevoordeling van Calvinisme bó die uitleef van Christelike beginsels, daarom verlaat hy hom op die liefde vir God, die teenoorgestelde geslag en sy medemens: ‘Daar is dan maar net een liefde, en dit weet ek nou, is klip en ster’ (bl 283). 

“Hier is ’n roman uitgeknip vir ’n lesing oor die rol van die reg in die letterkunde, ’n studieveld wat nog relatief braak lê binne die Afrikaanse literatuur. ‘Bylaag 2, die drie en dertig Artikelen (1844)’ as addendum tot die roman posisioneer die verhaal binne die reële regspleging van 1851. Dit herinner die leser daaraan dat die hofsitting – hóé absurd dit mag klink in die oop natuur onder wildeseringbome en tussen bobbejane, voëls en vlakvarke – nog steeds ’n hof in die ware sin van die woord is.

“Van hierdie roman sê Jeanette Ferreira die volgende: ‘’n Broos mooi liefdesverhaal, heerlik bevredigend vir die leser wat ’n gelukkige einde wil sien, maar tegelykertyd geloofwaardig en nie opgedoen met deursigtige sentiment en onhaalbare ideale nie.’

“Hans du Plessis is ’n gevierde digter, skrywer en akademikus en Tussen die klippe is sy tiende roman. Die outeur plaas met die historiese narratief dan ook ’n stuk Trekkergeskiedenis (met sy mengelmoes van identiteite: slaaf en vryburger, wit en swart, man en vrou) allegories in die beskuldigdebank. Dit word ’n verhaal wat vryspraak bied aan sy inboekelinge, beklaagdes, afgevaardigdes en uitgeloofdes – ’n roman wat bevestig dat die mens wel deur die mag van vergifnis en liefde kan uitstyg bo ’n verlede gekontamineer deur wettiese vooroordeel.”  

Hy het op die idee van Tussen die klippe gekom omdat hy nog altyd ’n roman met ’n vrou as hoofkarakter wou skryf, maar dit moes nie ’n liefdesroman met ’n tipiese heldin wees nie. En dan het Hans ook die gevoel gehad dat hy nog nie die Groot Trek agter hom gesit het nie.

Sy laaste vier romans het almal ’n historiese agtergrond en is gesitueer in die tyd voor en na die Groot Trek. Geskiedenis is iets waarin Hans baie belangstel. Hy besluit ook nie vooraf wat die temas van sy boeke gaan wees nie – hy skryf oor dit wat oor sy pad kom.

“Die Groot Trek is vir my nog altyd een van die mees romantiese stukke geskiedenis, miskien juis omdat dit nie so noukeurig eerstehands opgeteken is nie. Veral die Potgieter-trek is nie goed gedokumenteer nie, maar dit is ’n geskiedenis vol waagmoed, of domastrantheid, hoe jy dit ook al wil sien. Historici, en veral politici, het dit gemitologiseer. Dit is mos kos vir die romansier.”

Hans is ook van mening dat daar ’n leemte in Afrikaanse fiksie oor die Voortrekkers is. Dit is vir hom iets vreemds waaroor hy wonder, “want dit is ’n geskiedenis van pioniers wat net soveel skryfstof het as wat die Amerikaanse Frontier vir die Amerikaners het. Dit kan wees dat ons hierdie geskiedenis polities só misbruik het, dat daar oënskynlik min fiksie oorgebly het waaroor ons kon of wou skryf,” sê Hans aan Maryke Roberts. “Ek weet nie regtig nie, maar ek vermoed ons soek ons moderne self nou opnuut in daardie stuk geskiedenis, en die ‘ons’ is nie net Afrikaners nie.”

In Du Plessis se elfde roman, Drie vroue en ’n meisie, kom vernedering, stereotipering, verbode liefde en die geskiedenis van die Afrikaner na vore. Dit word alles in die sage van vier generasies van vroue diepgaande beskryf. ’n Sage wat begin in ’n klein delwersdorpie net so duskant Potchefstroom.

Drie vroue en ’n meisie vertel die storie van die vier vroue, waar hulle drome begin het, en tot waar dit vandag gekom het.

Hy vertel aan Marianke Saayman (Potchefstroom Herald, 15 Februarie 2018) dat dit nie ’n geskiedkundige roman is nie, hoewel die boek in die vorige eeu begin en die geskiedenis van die Afrikaner vertel. “Die storie speel af oor ’n lang tydperk – oor vier generasies van vroue om presies te wees. Dis ook nie ’n liefdesroman nie, hoewel daar ’n liefdesverhouding in die boek afspeel. Dit is eintlik ’n sage – dit is familiegeskiedenis,” sê hy. “Die hele roman speel af binne die raamwerk van ’n moderne liefdesverhaal.”

Du Plessis het die geskiedenis van ’n sage self ook as inspirasie vir sy eie sage gebruik. Die oorspronklike sage kom uit die 12de eeu en die man wat dit opgeteken het se naam was Sago. Hy het die eerste sage geskryf, wat gaan oor Amlet, die prins van Denemarke, wat toe later bekend was as Hamlet.

“Die eerste van die vier vroue in my boek se naam is Amlet om die Germaanse oorsprong van die Afrikaner uit te beeld.”

Die titel van die boek het ook net op ’n dag by hom uitgekom, vertel hy vir Naomi Meyer op LitNet. “Die titel het sommer net gekom omdat dit die verhaal vertel van vier geslagte vroue van Varkensfontein, distrik Rysmierbult buite Potchefstroom, en die jongste is nog ’n meisie en ’n moderne student, dus sy is die meisie, terwyl die vroue al óf dood óf oud is. En Vier vroue het nie opwindend geklink nie ...”

Die storie, soos opgesom deur Hans self, loop as volg: “Die storie is regtig deur ’n vriendin – ongelukkig nie ’n jong student nie – van ons vir my en my vrou vertel vir die waarheid: ’n Skotse delwer en sy vrou kom in die twintigerjare van die vorige eeu soek na diamante op die delwerye van Rysmierbult. Die Skotse vrou sterf pas na die geboorte van haar eerste dogter wat in pleegsorg kom van een van die arm boere in die omgewing, maar die pleegma sterf en die pleegpa trou weer met ’n gebreklike vrou wat die Skotse kind soos ’n Aspoestertjie laat werk. Uit radeloosheid trou die Skotse dogter dan, teen heftige teenkanting, met ’n ryk boer se sieklike seun, wat ook gou sterf. Sy trou dan oorhaastig met die ou wat die dorsmasjien bedryf en hulle trek stad toe met drie kinders. Een hiervan is dan die derde vrou van die storie en sy beland in die weeshuis. Dit is die kinderhuiskind se dogter, die vierde vrou, die meisie, wat vir ons die storie van armoede en vernedering kom vertel. Hiervan moes ek ’n roman maak.

“Die storie van hierdie vier geslagte beeld nie net die geskiedenis van die Afrikaner uit nie, maar het ook ’n sterk tema van vooroordeel tussen ryk Afrikaners oor armes.”

Vir Naomi Meyer is die landskap en natuur ’n integrale deel van Drie vroue en kan dit as ’n karakter in die boek gesien word. Hans het dit beaam: “Vir my is die natuur, die skepping, nog altyd ’n karakter, eintlik ’n medemens wat jou slyp. Die verteller is juis self ’n boorling uit die omgewing van die roman en ’n jong skryfkunsprofessor wat die letterkunde ken en wat kan aansluit by Afrikaanse poësie, en dus redelik natuurlik kan aanhaal uit bestaande gedigte om hom te help om die Noordweshoëveld te beskryf – liries en nostalgies as hy wil. Die somer is die ‘gelukkiger’ dele van die roman.”

Hans het baie navorsing gedoen vir die roman: “Eers wyd gelees, met die ou mense gaan praat en toe, met die hulp van die vriendelike mense by ons museum, rondgery en die ou delwerye en ou delwers gaan besoek. PG du Plessis en sy vrou Marie het dekades in die omgewing gebly en die geskiedenis en die agtergrond geken. Ek kon ou notules van die VLU [Vroue-Landbou-unie] kry, want Marie se ma was al sedert die veertigerjare die VLU se sekretaresse in die Rysmierbult-distrik. Die huidige eienaar van die plaas Varkenskraal is ’n vriend van ons en ek kon op die plaas rondloop soos wat ek wou. Tussen die rêrige kleims.”

Meyer wou ook meer weet van Varkensfontein: “Die plaas se oorspronklike naam, vandag nog, is Varkenskraal, glo omdat die wilde varke lief is vir die rosyntjiebosse. Omdat die plot fiktief is, het ek die romanruimte Miersehoop en Varkensfontein genoem. Onthou jy die varke van Animal Farm?”

Hans brei verder uit teenoor Saayman: “Dit is ’n komplekse storie wat ek maklik probeer vertel. Terugvoer wat ek van mense gekry het, is dat die boek hulle vreeslik laat huil het aan die einde. Ek het nie gedink die boek sou mense laat huil nie, maar dit is hartseer – die geskiedenis van die Afrikaner is hartseer.

“Die boek eindig met die vierde geslag in die hede tyd. Die einde is ’n einde van hoop, omdat ons nou hoop het. Die meisie leef nou uiteindelik die drome van die vorige drie geslagte uit.”

As die storie begin, vra Katryn, die “meisie” van die titel, haar professor in skryfkunde om haar familiegeskiedenis te boek te stel. Deur die navorsing wat hy doen, word die storie van Katryn en haar voorgeslagte vir die leser duidelik.

In haar indrukke as leser skryf Irene van Staden (LitNet) dat die drie vroue na wie daar verwys word, die drie generasies van vrouens in die Angus Murray-stamboom, Amlèth, Cathy en Kartin is. “Die ‘meisie’ in die titel van die roman is die agterkleinkind van Amlèth wat as Katryn bekend staan. Al vier hierdie karakters het die kenmerkende blonde hare gehad en kan met ander woorde as die meisie op die voorblad geïdentifiseer word.”

Ook op LitNet skryf Elbie Adendorff in haar resensie: “Die roman bied nie net ’n blik op die lewe van die drie vroue nie, maar vertel ook die verhaal van ons land se geskiedenis van armoede en swaarkry. Dit vertel hoe swaar ons voorgeslagte gekry het, maar veral van die hoop en die moed van die vrouens wat nooit ophou droom het van ’n beter toekoms nie.

“Drie vroue en ’n meisie vertel die verhale van veral die drie voorgeslagte van Katryn – die een se verhaal lei tot die volgende. Die chronologie word nie net gevind in die historiese tydverloop betreffende die karakters van Skotland na Johannesburg en die subtiele verwysings na historiese gebeure nie, maar ook in hulle name: Amlèth, Catherine, Katrina en Katryn, asook in die Victoriaanse teestel wat, soos die verhale vorder, breek totdat daar niks van oor is nie – simbolies van die Skotse verlede. (...)

“Dit is ’n roman wat nie net oor die karakters handel nie, maar ook oor die landskap – veral die landskap van die Noordwes-Hoëveld. Al is dit ’n ongenadige en wrede (selfs lelike) landskap, slaag Du Plessis daarin om dit mooi in te kleur: ‘Miersehoop lê in die ou Wes-Transvaal, daar waar dit blom tussen die bantoms, waar dit wyd is en ’n mens nog in ’n droom kan glo. God het geen berge of bosse oorgehad toe Hy die land moes maak. Toe het Hy net die vrede en ’n duisend duiwe hier gelaat.’ (...) Die landskapbeskrywings toon die keurige en liriese taalgebruik van die skrywer as woordkunstenaar. Die keurige beskrywings is ook gepas, aangesien die verteller ’n skryfkundeprofessor uit die streek is.

“Maar dit is ook ’n verhaal van die geskiedenis van die land. Die boek handel oor delwers en oor oorlog en die nalatenskap van beide in ons land. Dit is hierdie twee gebeurtenisse wat aanleiding gegee het tot geweldige armoede in Suid-Afrika, asook tot swaarkry, mishandeling en ellende. Dit het gelei tot vooroordele en diskriminasie en stereotipering. Maar dit het ook daartoe gelei dat mense mekaar help: so byvoorbeeld sorg Hetta vir Amlèth en neem haar dogter later as haar eie in; Hannie Deysel gee ’n bietjie kos vir Cathy as daar niks meer oor is nie; Judy help vir Cathy in die stad met ’n bietjie kos; die ouderling kom gee kos.

“Drie vroue en ’n meisie is ’n aangrypende lekkerleesboek. Enkele punte van kritiek kan wel teen die roman genoem word, soos die laaste paar bladsye wat die roman vinnig einde se kant toe laat staan; die ellende en die swaarkry kan nogal erg wees om van te lees; en die ‘gelukkige einde’ en ‘mooi slot’ is hinderlik. Ten spyte hiervan is dit ’n roman wat lesers gerus kan lees, want dit verwoord nie net die verhaal van drie vroue en ’n meisie nie, maar verwoord veral die verhaal van oorlewing en aanpassing in moeilike tye en van hoop: ‘Hulle het die dromer vernietig, maar nie die droom nie.’”

In Rapport van 11 Februarie 2018 skryf Riette Rust dat dit in Drie vroue kompleet is asof die skrywer se “fiksionele plot die geskiedenis vermenslik” en selfs lesers wat nie veel van geskiedkundige romans hou nie, sal van hierdie een hou. “Die karakters is lewensgetrou en sorg vir holderstebolder emosies, en die skrywer se pen is deurentyd in deernis gedoop. (...)

“Die sterk punt van Drie vroue en ’n meisie lê in die karakterisering, die gestrooptheid waarmee die verkragtingstoneel beskryf word, die beeldspraak en die milieuskildering. Die tydvak word getrou weergegee en op die oog af is daar geen anachronismes nie. Du Plessis se verhaal eindig waar dit begin het: by Katryn, die student. Selfs al bevind sy en die professor hulle in Johannesburg, én waarskynlik midde-in ’n tugsaak, word die verhaallyne uit die plaaslewe netjies geknoop. Dis interessant hoe die skrywer die sêding ‘en hulle het vir altyd en altyd gelukkig saamgewoon’ omskep in ’n slot wat toe nie ’n cliché is nie. Wel een wat ophelder.”

Op Netwerk24 (15 Januarie 2018) is Helen Schoër die volgende mening aangedaan: “Ek het eers gewonder hoekom Du Plessis Katryn se storie as raamwerk vir die res van die verhaal gebruik, want dit het die boek ’n bietjie hortend laat begin. Maar aan die einde kom alles baie bevredigend bymekaar. Die lineêre storie kry ’n knap sikliese slot wat ná al die swaarkry en ellende ’n groot verligting is.”

In 2020 word Kruis van liefde: ’n Paasspel by Naledi uitgegee. Bernard Odendaal vertel op Maroela Media meer oor hoe die projek wat hy en Hans du Plessis saam aangepak het, sy ontstaan gehad het: “Eendag gesels ek met Hans oor sy bundeltjie Kersfeesgedigte in Griekwa-Afrikaans: Kalahari Krismis: ’n Kersspel wat in 2008 verskyn het. Dit bevat gedigte wat ook deur Randall Wicomb getoonset, op die planke gebring is en op CD vasgelê is. Tydens ons gesprek sê hy hy let op dat daar veel meer gedigte in Afrikaans bestaan oor die Kersgebeure (die geboorte van Christus) as wat geskep is oor die Paasgebeur (die dood van Christus). En net daar vra hy of ek saam met hom iets in dié verband sou wou aanpak. Kruis van liefde: ’n Paasspel, wat in die Covid-pandemiejaar 2020 die lig gesien het, was die resultaat. Sowel Franco Prinsloo as Lizanne Barnard het toonsettings daarvan gemaak en by verskeie geleenthede uitgevoer.”

Prinsloo se toonsetting is op Goeie Vrydag 2021 op RSG uitgesaai. Die projek was in opdrag van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en is in samewerking met die ATKV, die ATKV-Skryfskool aan die NWU, RSG en die SAUK-musiekbiblioteek aangebied.

Johan Myburg is die resensent van Kruis van liefde (Maroela Media): “As ’n mens dink hoe sentraal die kruisgebeure in die kerkkalender staan en aan die magdom musiek – vir kore én soliste – wat deur die eeue tot stand gekom het om die lyding van Christus te vergestalt, is dit eintlik vreemd dat daar in Afrikaans so min geskik vir tablo’s en selfs kleiner produksies is. Vanjaar hoef niemand te skarrel om geskikte teks vir die Paasgebeure in die hande te kry nie – verlede jaar het Naledi Hans du Plessis en Bernard Odendaal se Kruis van liefde: ’n Paasspel gepubliseer.

“Die publikasie beslaan 35 bladsye met poësietekste oor die kruisiging en sluit sewe verse oor Jesus se kruiswoorde in wat geskik is vir koor of soliste. Die oogmerk met die aanbieding is ’n eietydse weergawe van die gebeure, só geskryf dat gemeentes, skole of wie ook al die teks kan gebruik en aanpas vir Paasvierings.

“Aan die woord is twee Bybelse figure, Barabas, ’n oorblufte jong misdadiger wat pas deur Pilatus vrygelaat is, en Salome, ’n fiktiewe naam vir die jong vrou wat vroeër ’n prostituut was, maar toe vir Jesus leer ken het en Hom begin volg het. Die stemme van Pilatus, vroue en ’n skare word ook gehoor en daar is aanduiding van tekste wat geskik is vir voordrag deur soliste of ’n koor.”

Bernard Odendaal het die liedere geskryf met Hans du Plessis wat verantwoordelik was vir die bindingsteks en anders as met ander tekste soos die Bach-passie, is Kruis van liefde bondig en kan dit in minder as ’n uur aangebied word.

“Die wins van Kruis van liefde is die rek-en-krimp-moontlikhede wat dit bied – van ’n volledige produksie met videoprojeksies (met nuttige leidrade in die teks) en wat nie al nie tot ’n voorlesing as gestroopte aanbieding vir die kleinste groep of gemeente.”

Franci Prinsloo het aan Christiaan Boonzaier (Netwerk24, 30 Maart 2021) vertel dat Hans du Plessis en Bernard Odendaal hom ongeveer twee jaar vantevore genader het om deur musiek lewe aan hul woorde te gee: “Hans en Bernard het spesifiek ’n nuwe Paasteks geskep omdat daar betreklik min gedigte en bundels spesifiek oor die kruisiging handel. Ek het die geleentheid dadelik aanvaar. Daar is ’n eerlikheid in die verse wat my sterk aangetrek het, asook ’n ontsaglike mooi gebruik van die Afrikaanse taal – so kleurryk en uitdrukkingsvol.”

Dit het Prinsloo twee jaar geneem om die toonsetting te voltooi. Die werk bestaan uit 25 dele en vertel die hele kruisigingsverhaal in byna 60 minute: “Dit was vir my ’n ontsaglike geestelike ervaring om die werk te komponeer, en wat dit nog meer spesiaal gemaak het, is dat ek konstant die Vox Chamber Choir in my agterkop gehad het terwyl ek dit geskryf het.”

Hans se volgende roman word ook in 2020 by LAPA gepubliseer onder die titel Die opstand van Poppie Nel. Dit is gegrond op die aangrypende verhaal van ’n weerlose meisie wat jare lank deur ’n sleutelfiguur in haar lewe gemanipuleer en verneder is, skryf Christa Steyn-Bezuidenhout op Maroela Media in ’n onderhoud met Hans du Plessis: “Die skrywer bring hoop aan vroue wat dieselfde hel deurgemaak het of tans daarmee gekonfronteer word. Du Plessis se roman fokus op die skaamtelose manipulasie en misbruik van vroue deur belangrike rolspelers in die kerk.”

Hans het self aan Steyn-Bezuidenhout vertel: “Dit was vir my, veral in hierdie tye van geslagsgebaseerde geweld, belangrik om die leser bewus te maak van ’n misdaad wat daagliks onder ons oë aan die gebeur is.

“Ek wil uiteindelik die boodskap by die lesers tuisbring dat daar altyd ’n uitweg is vir mense wat in só ’n emosionele stryd vasgevang is. In Die opstand van Poppie Nel ontvou Poppie se verhaal teen die agtergrond van haar grootwordjare. Sy word in ’n stad groot, maar die stad word nêrens gespesifiseer nie, dit kan enige plek wees. Haar kinderjare is vir Poppie onwerklik, dit maak nie eintlik saak waar dit was nie.”

Soos die lesers al gaandeweg vir Poppie en haar familie leer ken, raak dit duidelik dat Poppie se ouers se huwelik nie op ’n baie stewige basis gebou is nie en dat die kerk se greep op die gesin al hoe groter en sterker word. Poppie en haar ma, Levona, word soos marionette deur die pastoor hanteer terwyl hul pa, Matewis, weer meer afsydig word en die broer, Markus, openlik teen die kerk in verset kom.

Hans gaan voort: “Ek het doelbewus dié name vir my karakters gekies. Poppie is inderdaad ’n poppie in die hande van die pastoor en sy word soos ’n marionet gemanipuleer. Sy is ook nie die enigste pop in die pastoor se hande nie. Daarom die name uit Liewe Heksie – Levona, Matewis en professor Karel.

“Die kerk en ’n huislike omgewing bied vir baie mense sekuriteit en standvastigheid, maar in Poppie se verhaal is albei steunpilare wankelrig. Dit is juis hierdie wankelrigheid wat van die jong Poppie ’n onsekere en soekende mens maak, ’n maklike slagoffer wat geïsoleer en gemanipuleer kan word.”

Hans wou nie die boek gebruik om ’n aanval op die kerk te loods nie en daar word juis daarom nie na ’n bepaalde geloofsgroep of kerk verwys nie: “Dit is eerder ’n aanval op ampsdraers wat ’n vertrouensposisie in die kerk misbruik om in die naam van godsdiens hul luste te dien.”

Die tonele in die verhaal wat in die hede afspeel het Hengelaarsrivier, naby Eersterivierstrand in die Tsitsikamma, as agtergrond. Dit is hier waar Poppie en Lukas se paaie kruis, verduidelik Hans oor die betekenis van die ruimte wat hy gekies het: “Hengelaarskroon is vir Poppie (en vir Lukas) die werklike wêreld en die plek van genesing. Aanvanklik is Lukas geensins ingenome met Poppie of haar probleem nie. Hy is self aan die worstel en twyfel of sy nie maar net sukkel om te glo nie.”

Hy besluit egter om haar te help omdat hy skuldig voel om vir sy diaken, Gawie, nee te sê: “Gawie het geredeneer dat sy eie predikant (Lukas), wat toevallig op Hengelaarskroon met vakansie is, die ideale luisteraar sou wees omdat hy in sy eie gemeente dieselfde soort probleme met kundigheid en deernis kon hanteer.”

Vir Christa Steyn-Bezuidenhout handel Poppie se storie oor haar wroeging en worsteling met die bose in die kleed van die kerk. “Dit is ’n verhaal wat op eenvoudige wyse vertel word, maar lesers daarop wys dat dit moontlik is om die euwels van ’n grou verlede af te skud en aan te beweeg.”

Op Netwerk24 skryf Jonathan Amid só oor Die opstand van Poppie Nel: “In die tyd van die MeToo-beweging, waar die stem van die vrou en diegene wat gely het onder fisieke en seksuele magsvergrype onder die soeklig geplaas word, is daar geen tekort aan letterkunde deur vroue om die euwel oop te skryf nie. (...)

“Dit is egter verblydend om te sien dat ’n gerespekteerde, ervare skrywer soos Hans du Plessis met 18 vorige fiksiewerke op sy kapstok, hierdie wêreld betree.

“In ’n neutedop, dan: Dit is pakkende, dikwels subtiele skryfwerk wat met deernis en deeglikheid ondersoek wat dit beteken wanneer daar van die daad van verkragting as ‘moord’ gepraat word. Waar die ‘dooies’ moet aanhou om te lewe en hul trauma saamdra, sonder enige vervaldatum of oplossing. ’n Populêre roman wat onverskrokke ’n helder lig skyn op die newels wat die kerk alte dikwels eerder sou verbloem. (...)

“Ten spyte van die gegewens is Die opstand van Poppie Nel – wat beslis ook die eie stryd van Poppie Nongena oproep – met ’n sagte hand en ’n byna liriese aanvoeling vir taal geskep. Watter verskil kan dit maak in die regte wêreld, vir die werklike slagoffers, wanneer ’n fiksieroman poog om die onderdrukte stem aan die vergetelheid te ontruk?”

Op LitNet sluit Nini Bennett-Moll haar resensie van Die opstand van Poppie Nel só af: “Die verhaalvertelling verloop vlot en die skrywer verstaan die kuns van ewewig tussen hoofstukke. Daar word lewe geblaas in die karakters, en die verpakking in kort, ekonomiese hoofstukke werk effektief om die leser enduit te boei. Die leser mag wonder of die slot, en die verwysing na ’n betrokke Bybelboek, nie dalk naïef of ongeloofwaardig is gegewe die geskiedenis van trauma daaraan verbonde nie – maar aan die ander kant kan ’n mens die skrywer hierdie titsels magiese realisme vergewe. Die opstand van Poppie Nel is ’n belangrike werk, ’n seminale roman wat geskryf móés word.”

Tydens ’n boekgesprek by Aardklop van 2022 met Didi Potgieter, aangetroude familie van Hans du Plessis, het hy meer vertel oor sy volgende roman met die titel Inkommers. Susan Cilliers (Netwerk24) beskryf die agtergrond van die boek só: “Die Vredefortkoepel word die skilderdoek waarop die bedrewe woordsmid prof Hans du Plessis in sy nuutste roman ’n fiktiewe verhaal vol lewenswaarhede verf.”

Hierop het Hans du Plessis vertel: “Die koepel, ’n Unesco-erfenisgebied, was die grootste inspirasie vir my verhaal. Die afgesonderdheid van die omgewing was die ideale verhoog oor wat sal gebeur wanneer jy ’n klomp mense op ’n plek ingooi waar hulle nie kontak met die buitewêreld het nie. Die koepel is die werklike ruimte waarbinne die storie afspeel.”

Die Vredefortkoepel verwys na ’n massiewe krater en omringende heuwels naby Parys in die Vrystaat wat ontstaan het toe ’n meteoriet miljoene jare gelede die aarde daar getref het, skryf Susan Cilliers verder, en dit is hier waar Hans du Plessis sy roman gesitueer het – ’n plek wat die karakters die Kom noem.

Inkommers het as tema die wel en wee van families wat in die Kom bly en Potgieter wou weet wat die effek van die Covid-pandemie was tydens die skryf van die boek. Du Plessis het geantwoord: “Nuwe invloede en inspirasie kom van buite terwyl jy skryf en die verhaal vorder. Die pandemie was die inspirasie vir die Chinese virus in die boek. Die virus beweeg geleidelik al hoe nader aan die karakters.

“Ek het aanvanklik nie gedink Covid gaan figureer nie, maar toe moes een van die karakters doodgaan. Só het Covid hom by die boek aangemeld. In die redigeringsproses het ek die Covid-element verder vorentoe na die verhaal geskuif.”

Ook wat die naamgewing in Inkommers betref, het Hans met goeie rede name en vanne soos De Wit, De Swart, Plakker Prinsloo, De Bruin en Afrikaner om onderliggende temas aan te dui. Plekke met name soos Flenterkom, Langsaankom en Oorkantkom kan as hoofkarakters in die verhaal beskou word.

Hans het verder oor Inkommers verduidelik dat die liefde en sy intriges nie agterweë bly in Inkommers nie. Ook die karakter wat alles weet en alles google bly nie agter nie: “Dan is daar ook die karakter wat uit die kom gespoeg is, maar later weer ingeneem word.”

Volgens die omslag op die boek ontstaan een van die boeiendste vrae binne die verhaal: “Is almal nie oral maar inkommers sonder enige regte nie? En is die grond en alles wat dit dra nie almal se verantwoordelikheid nie?”

Op LitNet is Didi Potgieter die resensent van Inkommers: “Die karakter Bennie Afrikaner bring sy nuwe liefde, die karakter Plakker Prinsloo, na Kom toe om vir haar sy plek en sy mense te wys en haar te laat verstaan hoekom die bewaring daarvan vir hom nog altyd so belangrik is. Uit die staanspoor weet sy nie of sy gereed is daarvoor nie al vermoed sy sy ken reeds Bennie se buurvrou, die karakter Mara de Wit, die vriendin wat geweet het sy moenie vrae vra nie. Die Kom se mense vertrou nie buitestanders sommer nie, en dit is wat Plakker Prinsloo nog haar hele lewe was – ’n buitestander wat nooit lank genoeg op ’n plek kon bly om daar te hoort nie.

“Dit is hierdie buitestander wat uiteindelik in hierdie verhaal verantwoordelik is vir die narratiewe eksposisie. As aspirant-skrywer is Plakker die ideale persoon om die Kom en sy mense aan die leser voor te stel. Hierdie vertelstyl is deurgaans baie effektief gebruik en sorg vir ’n gemaklike vertelling. Dit sorg ook dat die leser self die verhaal uit die perspektief van die ‘inkommer’ beleef, terwyl ander verhaallyne oorgedra word deur ’n verteller met ’n fyn oor. (...)

“In teenstelling met die vreemde name en vae karakteromskrywing word die omgewing waarin die verhaal afspeel, baie eg weergegee en sal iemand wat bekend is met die Vredefortkoepel, die bakens herken. Dit lê die klem op die baie belangrike rol wat die Kom, ’n stuk grond wat wydsbeen oor die Vaalrivier lê, in die verhaal speel. (...)

“Die belangrikste tema in Inkommers is bewaring, en met woorde soos reeds op die tweede bladsy gesien, kan die leser uit die staanspoor aflei dat die Kom ‘heilige grond’ is.

“Deur die loop van die verhaal lê Du Plessis baie klem op die belangrikheid daarvan om die Koepel as wêrelderfenis te bewaar en die regering se sloer met die proses. Dit is egter nie net ’n stryd om die omgewing te bewaar nie, maar ook die liefde – nog ’n tema wat soos ’n goue draad deur die verhaal loop. Die Kom word as’t ware ’n simbool van die liefde. Dit is nie net ’n plek wat bewaar moet word nie, maar ook ’n plek wat bewaring bied vir sy mense.

“Met Inkommers slaag Du Plessis daarin om nie net romantiese liefde nie, waarvan daar ’n goeie skeut is, maar ook vriendskaplike liefde, die liefde tussen ouers en kinders en die liefde vir die natuur in so mate oor te dra dat die leser nie anders kan as om emosioneel betrokke te raak nie.

“Du Plessis vertel dat nuwe invloede en inspirasie uit die werklike lewe die verhaal tydens die redigeringsproses geslyp het. Van daardie invloede is die uitbreek van die Corona-virus en beurtkrag, wat struikelblokke word wat die karakters moet oorkom. Soos die mense van die Kom nie die inkommers kan keer nie, kan hulle ook nie hierdie elemente uithou nie, en vorm dit wie hulle is.

Inkommers vra ten einde die vraag: Is ons almal nie maar inkommers nie en is dit nie almal se verantwoordelikheid om die omgewing en die liefde vir ons nageslagte te bewaar nie? Na my mening, slaag Du Plessis met Inkommers daarin om sy bedrewenheid met beelde, sy vermoë om ’n ingewikkelde storie eenvoudig weer te gee, sowel as sy kennis van die omgewing in te span om die leser te lei om hierdie vrae te beantwoord en self ’n inkommer in die verhaal te word.”

Vir Fanie Olivier (in Rapport) is daar egter enkele gebreke in Inkommers: “Die relatiewe onbekendheid van die gebied word egter vir Du Plessis ’n probleem. Hy spandeer heelwat verteltyd om inligting aan lesers oor te dra en só verdwyn die werklike intriges effens in die agtergrond. Soms is dit vol wetenskaplike gegewens wat wel in die storie verweef is, maar wat nooit ’n hoofrol speel nie. (...)

“Hoewel byname deel van ’n ou Afrikaanse tradisie is, word hierdie keuse van die skrywer tekenend van stereotipering. (...) Hierdie bewuste keuse van name blyk ook uit die vanne van die families wat ons leer ken. (...)

Inkommers lees lekker, maar ek mis tog die vasvat van Du Plessis se ander romans. Op die verhaalvlak is die karakterisering van die baie verskillende persoonlikhede redelik yl of stereotiep, die verhouding tussen Plakker en Bennie te sentimenteel, en is dit harde werk om ’n prentjie van die opset van die verskillende Kom-plase te vorm. Dalk sou ’n ruwe kaartskets, iets wat iemand soos Plakker sou maak, lesers met laasgenoemde kon help.

“Daar is hinderlike foute rondom die gebruik van leestekens, maar dalk moet ’n mens verwagtings hieroor maar laat vaar. Daarenteen lyk dit asof die stukke ‘mooiskrywery’ rondom veral natuurbeskrywings weer in die kol is en dat die ‘happy ever afters’ van die TV-reekse voorlopig aanvaarbaar is.

“My bedenkinge ten spyt, is Inkommers ’n welkome toevoeging tot Hans du Plessis se oeuvre van meer populêre, goed geskrewe en bedinkte romans.”

Aan die begin van 2024 het Hans du Plessis ’n ligte beroerte gehad, maar het sodanig herstel dat hy nog in September by Etienne van Heerden se Veldsoirée op Cradock ’n lesing aangebied het. Hans du Plessis is op Vrydag 25 Oktober 2024 oorlede. Sy seun, ook Hans, het aan Maroela Media vertel dat sy pa teen so tienuur Vrydagaand ’n suster by Huis Eikelaan-aftreeoord in Potchefstroom waar hy en sy vrou Magdaleen gewoon het, geroep het. Hy het nie lekker gevoel nie. Hy laat sy vrou, Magdaleen, sy vier seuns en skoondogters, Rudolph en Marié, Louis en Jolandi, Hansie en Marthlé en Tjaard en Ilzé, asook nege kleinkinders agter.

Huldeblyke:

  • Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media: “Met prof Hans se afsterwe het ’n groot boom in die woud van Afrikaans omgeval. Vir so baie van ons was hy ’n plek van skaduwee. In boeke en argiewe sal hy onthou word as taalstryder, digter, skrywer, navorser. Maar in die harte van almal wat vir hom lief was, sal ons hom onthou as prof Hans met die fyn sin vir humor, met die vlymskerp verstand; ’n mentor vir so baie jong skrywers en studente. Sy nalatenskap aan Afrikaans is ryk en wyd. Maar sy nalatenskap in die harte van dié wat hom geken en liefgehad het, is onmeetbaar.” (Maroela Media, 26 Oktober 2024)
  • Hennie van Deventer: “Oor Hans sal daar vele kundige huldeblyke wees wat sy enorme bydrae tot Afrikaans en ons literatuur gesaghebbend sal ontleed. Net een iets wil ek in hierdie opsig kwytraak. Dit is oor sy Griekwapsalms wat dermate volksbesit geword het dat baie die herkoms vergeet het. Oral duik sy werk op sonder enige vermelding van die digter, asof dit sommer net uit die lug geval het of vir altyd bestaan het. Nie-erkenning is natuurlik in geen omstandighede goed te praat nie, maar in sy geval tog ’n soort van omgekeerde ‘eer’ wat min beskore is, meen ek.

“Oor die warmte van sy besondere menswees sal ’n hoop getuienis opstapel. Ek steek my hand geesdriftig op om ook raakgesien te word wanneer ek vrymoedig wil verklaar dat Hans du Plessis die soort vriend was waarvoor elkeen wat hom geken het, deur die vuur sou loop. Dat hy ’n vyand op aarde gehad het, lyk vir die waarnemer uiters onwaarskynlik.” (LitNet, 27 Oktober 2024)

  • Hansie du Plessis, seun: “Vir my was my pa soos die potjiekos waarvoor hy so lief was. Dit was sy gunstelinggereg en dis hoe hy ook sy lewe geleef het. Iets wat bestaan het uit ’n verskeidenheid bestanddele. Die hele proses van potjiekos-maak was vir hom belangrik – die vuur; die Afrikapot; elke bestanddeel. Die vleis was nie meer werd as die groente nie; elke spesery en elke ander bestanddeel was vir hom belangrik. Dis ook hoe hy Afrikaans gesien het; hoe hy sy lewe gesien het. Elke stukkie en elke gedeelte het sy plek gehad. Alles saam het die geheel gevorm.” (Netwerk24, 27 Oktober 2024)
  • Magdaleen du Plessis, sy wederhelf: “Sy onwrikbare geloof was onlosmaaklik deel van hom, en was ’n goue draad deur sy lewe, asook sy prosa en poësie. Ons vind troos en vrede dat hy nou by sy Hemelse Vader is.” (Netwerk24, 27 Oktober 2024)
  • Louis du Plessis, seun: “Op elkeen van ons – kinders, kleinkinders en almal wat hom goed geken het – het hy ’n blywende afdruk gemaak.” (Netwerk24, 27 Oktober 2024)
  • Tjaard du Plessis, seun: “My pa was ’n baie wyse man, met diep-diep kennis. Ten spyte daarvan het hy ’n eenvoudige lewe gelei, sonder enige tierlantyntjies. Ek sal altyd sy ongelooflike humor en kreatiwiteit onthou, wat ’n reuse-inspirasie vir baie was.” (Netwerk24, 27 Oktober 2024)
  • Hansie du Plessis, seun: “’n Belangrike les wat my pa en ma ons geleer het, is dat kuns is hóé jy dit doen, nie wát jy doen nie. Bly by jou geloof, doen wat reg is. En doen dit goed, en die res sal vir hulself sorg.” (Netwerk24, 27 Oktober 2024)
  • Marthlé du Plessis, skoondogter: “My skoonpa was ’n naby-mens. Hy het absoluut 100% ingeklim in wie ek as individu is, en 100% deel gevorm van wie my gesin is vandag, en hy gaan altyd ’n groot deel wees van wie ons in die toekoms gaan word.” (Netwerk24, 27 Oktober 2024)
  • Ilse Salzwedel, aanbieder van Skrywers en Boeke op RSG: “Prof Hans was byna 80, maar steeds onder almal wat ek ken bekend as prof Hans. Nie omdat hy daarop aangedring het nie. Hy was een van die mees onpretensieuse mense wat ek geken het. Slimmer as baie van ons, uitgesproke oor sy liefde vir Afrikaans en die dinge wat vir hom saak gemaak het, maar ook ’n warm mens met ’n lieflike sin vir humor. Lekker kuier met jou groot vriend PG.” (Netwerk24, 27 Oktober 2024)
  • Etienne van Heerden, skrywer en hoofredakteur van LitNet: “Hans het in September vanjaar by die Veldsoirée in Cradock die ATKV-Slypskool vir prosaskrywers aangebied, as deel van die skrywersfees. Die lof oor sy bydrae was agterna volop. Hy het ook oor Griekwa-Afrikaans ’n boeiende lesing gegee. Dit was na my wete sy laaste openbare lesing. Hans was een van die mees geliefde mense in die Afrikaanse lettere.” (Netwerk24, 27 Oktober 2024)
  • Sophia Kapp, skrywer: “Die grootste bydrae wat Hans gelewer het tot die Afrikaanse taalgemeenskap, is die feit dat hy sulke harde akademiese kennis, navorsing, kon vat en dit vir ons almal toeganklik kon maak deur die geestesgoed wat hy geskep het.” (Netwerk24, 27 Oktober 2024)
  • Didi Potgieter, skrywer en aangetroude familielid: “Hy was ’n pa vir almal. Vir my man was hy ’n tweede pa nadat sy pa oorlede is. Hy het net altyd opgedaag. Vir my was hy ’n mentor. Ek sou nie ’n skrywer gewees het as dit nie vir hom was wat agter my gestaan het en gesê het ek moet gaan daarvoor nie.” (Netwerk24, 27 Oktober 2024)
  • Tobie van Dyk, voormalige kollega aan die NWU se Skool vir Tale: “Hy het sy studente en ander met wie hy te doen gehad het nie net geleer oor sy vakgebied nie, maar hulle ook aangemoedig om krities te dink en om die wêreld om hulle beter te verstaan. Dit alles altyd met ’n stewige stukkie humor daarby.” (Netwerk24, 27 Oktober 2024)
  • Heilna du Plooy, digter, skrywer en kollega: “Wat ek van hom onthou, is sy vermoë om altyd die regte woord te vind en iets op ’n unieke manier te verwoord. Daarin was hy ’n digter met ’n bykomende spesiale taalvermoë uit sy linguistiese skoling. Hy het die beste verduideliking van wat poësie is wat ek ken vir kursusgangers en studente gebruik.

“Jy kan sê:
     Ons twee is lief vir mekaar
     maar ons sal nooit bymekaar uitkom nie.
“Of jy kan skryf:
     Ek en jy se huis
     is die suiderkruis,
     maar ek is in Alfa
     en jy in Beta tuis.

“Die eerste is ’n stelling, die tweede poësie. In sy woorde en in sy geliefdes se harte sal Hans voortleef.” (LitNet, 27 Oktober 2024)

  • Awie van Wyk, voormalige dirigent van die Puk-koor: “My innige simpatie met die skielike dood van Hans du Plessis. Ek sal altyd dankbaar bly vir Mientjie le Roux by die Puk wat my destyds bekendgestel het aan Hans du Plessis se Griekwapsalms en hom as mens. Die ontmoeting met hom was hemels. Die Griekwapsalm Ek slaat my twee oge ophet die Puk-koor eerste gesing; my vrou Sucille van Wyk was die solis. Die mense het baie daarvan gehou. Hans du Plessis, ek groet jou met ’n saluut, uit respek vir jou gawes om te skrywe. Jy was so sag en so nederig. Wat ’n voorreg om jou te kon ken. Dankie vir jou bydrae.” (LitNet, 27 Oktober 2024)
  • Marlene Verhoef, registrateur van die NWU: “Hans du Plessis was ’n reus van ’n mens. As linguis het hy diep spore in die Suid-Afrikaanse akademiese wêreld getrap. As variasietaalkundige het hy die diversiteit van Afrikaans gevier. As skrywer en digter het hy met die fyn net van die woord vir ons blink en vet visse in Afrikaans uitgehaal. Afrikaans en die Afrikaanse gemeenskap is sóveel armer sonder hom. Ons eer Hans se nagedagtenis.” (LitNet, 27 Oktober 2024)
  • Adri Breed, adjunkdirekteur van die NWU se Skool vir Tale: “Ek was – nes baie ander – bevoorreg om in my voor- en nagraadse studiejare nóú saam met Hans du Plessis te kon werk. In hierdie vormingsjare as jong taalkundige het hy by my ’n grondige insig in Afrikaans gekweek en my waardering vir taal as draer van identiteit verdiep. Hans het ’n onuitwisbare bydrae gelewer tot die bevordering van Afrikaans as akademiese taal en as studieveld. Sy nalatenskap leef voort, nie net in die talle werke wat hy agterlaat nie maar ook in die werk van sy studente en kollegas, wie se loopbane deur sy toewyding en integriteit blywend beïnvloed is. Sy heengaan laat ’n groot leemte. Ons gaan hom intens mis.” (LitNet, 27 Oktober 2024)
  • Dirk Hermann, familievriend: “Hy was ’n goeie pa en net ’n gewone mens. Dit was wat oom Hans ’n voorste skrywer gemaak het. Hy het gewone mense wat ons taal praat verstaan. Hy was lief vir almal wat ons mooi taal praat, die volle rykdom daarvan. Ek onthou hoe hy die unieke Afrikaanse gemeenskap van die Vredefort-koepel se unieke dialek kom opskryf het. Op ons plaas, Jakkalsdraai, met Apie, Henru en Lena. Hy was nie bo enigiemand nie, maar tussen hulle. Hy kon hulle praat en emosie oordra. Omdat hy net gewoon was, was hy buitengewoon. My hart is seer saam met my vriend Louis, sy gesin en Afrikaans. Ons het almal ’n gewone mens, maar ’n groot reus verloor.” (LitNet, 27 Oktober 2024)
  • Franci Greyling, Hans se voormalige kollega en mededosent aan die ATKV-Skryfskool: “Ek sal altyd dankbaar bly vir die rigtinggewende invloed wat Hans du Plessis op my lewe en loopbaan gehad het. Ongeveer 30 jaar gelede het hy my, destyds ’n onderwyser in Pretoria, by ’n kongres genader om te hoor of ek belang sou stel in ’n nagraadse kwalifikasie in Skryfkuns. Dit was ’n voorreg om die studie onder sy leiding te kon doen, en die kwalifikasie het grootliks daartoe bygedra dat ek in 2002 as Skryfkunsdosent by die destydse PU vir CHO aangestel is. As direkteur van die ATKV-Skryfskool het Hans baanbrekerswerk in skryfopleiding in Suid-Afrika verrig; die vestiging van Skryfkuns as akademiese vak was een van die belangrike uitvloeisels van die Skryfskool. My aanstelling by Skryfkuns was ’n besondere loopbaangeleentheid, en ek en Hans kon vir tien jaar as kollegas saamwerk en mekaar oor en weer by Skryfkuns en die Skryfskool bystaan; ek kon letterlik aan die voete van Gamaliël sit en uit sy uitgebreide ervaring leer. Selfs ná sy aftrede het hy steeds met belangstelling en entoesiasme aan ons kreatiewe en navorsingsprojekte deelgeneem, en sy insig en skeppende bydraes het diepte aan ons werk verleen. Ek eer sy nagedagtenis – ook namens talle ander mense wie se lewens deur Hans du Plessis aangeraak is. Mentor, kollega, vriend: Hans du Plessis.” (LitNet, 27 Oktober 2024)
  • Frieda le Roux, reklamekoördineerder by Penguin Random House: “Ons almal by Lapa is baie geskok oor Hans se skielike dood – ons was nog verlede week in kontak om te praat oor ’n bekendstelling vir sy nuwe roman, Klein Wonderwerk. Dit word in Februarie bekend gestel en hy wou baie graag iets spesiaal by die aftreeoord hou. Hans se geskiedenis met Lapa gaan baie ver terug – lank voor ek hom ontmoet het – en hy was bekend en geliefd by almal. In ’n kort V&A met Hans vir die Jan/Feb-uitgawe van ons tydskrif, Penguin Post, het Hans oor sy 80ste verjaardag, wat in Januarie sou wees, gesê: ‘Ek is vanjaar tagtig en dankbaar vir die genade om te wil en te kan skryf.’” (LitNet, 27 Oktober 2024)
  • Jaco Jacobs, kinderboekskrywer wat as 17-jarige seun vir die eerste keer ’n ATKV-skryfkursus van Hans bygewoon het: “My hart is baie seer oor prof Hans. Ek het hom nog so ’n maand gelede by Etienne van Heerden se Veldsoirée gesien. Dit was wonderlik om te sien hoe hy daar nog skrywers afrig. Dit het my laat onthou hoe ek as sewentienjarige seun vir die eerste keer by die Herfsskool vir Skrywers was, nadat ek ’n prys van die ATKV gewen het. (...) Hy was so ’n ongelooflike warm mense-mens. By elke skryfskool, elke kunstefees, elke boekefees waar mens hom raakloop, was dit ’n ongelooflike voorreg om hom te kan sien. Hy was so onbaatsugtig – dit het altyd gevoel of dit vir hom ’n plesier is om sy kennis met skrywers en ander mense te deel. Ek dink sy grootste nalatenskap is wat hy vir jong, ontluikende en deesdae gevestigde skrywers beteken het. Ek eer sy nagedagtenis.” (LitNet, 27 Oktober 2024)
  • Johnny Davids, sanger, en die laaste persoon wat van die Griekwagedigte (soos getoonset deur Randall Wicomb) vertolk en opgeneem het: “My innige simpatie en medelye met die familie, vriende en kollegas van Hans du Plessis. Mag julle in hierdie tydperk vertroosting vind in God. (...) As dit kom by prof Hans – sjoe, daai Griekwapsalms is iets wat my na aan die hart lê. Ek onthou toe ek hom die eerste keer gekontak het en vir hom gesê het ek wil graag sy Griekwapsalms soos dit deur Randall Wicomb getoonset is, opneem, en só die nalatenskap laat voortleef. Hy het nie geaarsel om vir my sy seën daarop te gee nie. Wat ’n voorreg om dit te kon doen. Ek kon dit met groot welslae opvoer, tot in Namibië. (...) Hans du Plessis, ek salueer jou. Nou dat ek weet daar vloei Griekwabloed deur my are, sal ek seker maak dat daardie Griekwapsalms van jou die wêreld ingaan met die talent wat God my gegee het.” (LitNet, 27 Oktober 2024)
  • Johny Klein, akteur: “Prof Hans het altyd reg gestaan om my met enigiets te help; vir my gesê ek kan hom enige tyd iets vra. Sy stories sal vir altyd bly leef. Ek is so dankbaar ek kon hom ontmoet en ’n bietjie beter leer ken. Ons het elke keer lekker gesels wanneer ons mekaar gesien het, of oor die foon of op WhatsApp gesels het. Hy het ’n hart vol liefde gehad. Ek is so dankbaar dat ek van sy stories kon voorlees. Rus in vrede, Prof. En baie dankie vir al die lekker stories wat Prof vir ons gelos het. Liefde, altyd.” (LitNet, 27 Oktober 2024)
  • Willie Burger, hoof van die Departement Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria: “Hans du Plessis was by verre die beste voorgraadse dosent wat ek op universiteit gehad het. Hy kon in ’n klas instap en ons oorrompel met sy energie en kennis. Sy manier van praat het ons almal betower. Dit het my sodanig geïnspireer dat ek later in my honneursjaar verder studeer het in sintaksis – eintlik net omdat ek nog by Hans wou klas hê. Hy was ’n ongelooflike dosent. Later het ek hom ook leer ken as mens en as skrywer. Hy het vir my ’n voorbeeld gestel van hoe ’n mens kreatiewe skryfwerk kan aanbied. Ek dink dit is ’n model wat ek in my lewe nagevolg het as dosent, voorgraads sowel as nagraads, in kreatiewe skryfwerk. Hy het ’n baie groot indruk op my gemaak. Sy afsterwe laat ’n ongelooflike leemte. Dit is so droef dat ons vir Hans nou verloor het.” (LitNet, 27 Oktober 2024)
  • Annette Combrink, voormalige rektor van die NWU: “Hans du Plessis het ’n ontsaglike liefde vir sy taal gehad. Jy moes suiwer Afrikaans praat en jy moes erkenning gee aan die skrywer, daarop was hy baie erg gesteld. Hy het ongelooflik baie vir Afrikaans en die verbreding van die taal met sy digting in Griekwa-Afrikaans gedoen. Hy was ’n lojale vriend wat ’n goeie grappie kon waardeer en net so lekker grappies kon vertel. Hy was ’n geliefde dosent oor wie studente gaande was en oor wie hy altyd besorg was.” (Netwerk24, 26 Oktober 2024)
  • Wannie Carstens, taalkundige en eertydse direkteur van tale aan die NWU: “Om Afrikaans in ’n groter konteks te plaas en te bestudeer was Hans du Plessis se strewe. Hy het op sy manier gehelp om antwoorde op talle vrae te gee. Sy boeke oor die Afrikaanse taalkunde het gapings gevul (...). Hy en Christo van Rensburg was visionêre taalkundiges wat gehelp het om van die geheime van Afrikaans se verlede oop te sluit, soos met hulle werk oor Khoi-Afrikaans en die impak wat dit het op ons kyk na Afrikaans se ontwikkelingsproses.” (Netwerk24, 26 Oktober 2024)
  • Heindrich Wyngaard, mediapersoonlikheid: “Hy was ’n leermeester oor hoe om in eenvoud met taal om te gaan. Hy het gehelp om Griekwa-Afrikaans in ons letterkunde in te skryf. En ek is dankbaar daarvoor dat ek nog onlangs by die Etienne van Heerden Veldsoirée te Cradock tyd in sy geselskap kon deurbring.” (Netwerk24, 26 Oktober 2024)
  • Bertie Jacobs namens die Noordwes-Universiteit: “He was of a different ilk. His immense literary stature cast a shadow under which so many South Africans found solace and comfort. Now, it is with sadness but also gratitude for the many contributions he made both culturally and academically, that the North-West University (NWU) has to say farewell to Prof Hans du Plessis, who passed away on Friday 24 October at the age of 79. (...) He was an esteemed writer, and in addition to his novels, Prof Hans made a remarkable contribution to South African literature through his work on the Griqua Psalms by capturing the spirit and cultural essence of the Griqua people. These Psalms, written in Afrikaans, reflect the unique dialect and worldview of the Griqua community, who have a rich heritage within South Africa. Du Plessis’s Griqua Psalms are not merely translations, they are heartfelt adaptations that blend religious themes with Griqua culture, celebrating their linguistic identity and spirituality. His work also preserves and amplifies the Griqua voice in literature, fostering deeper cultural understanding and appreciation within South Africa. Prof Hans was a legend at the NWU, and he will be remembered for the many contributions he made to the development and expansion of Afrikaans. The university would like to express its sincere condolences to his family, friends and everyone who was touched by his remarkable talent.” (NEWS@NWU)
  • FAK: “Dit is met leedwese dat die FAK verneem het van prof Hans du Plessis se afsterwe. Die FAK het in 2018 die NP van Wyk Louw-toekenning vir die bevordering van Afrikaanse taal en kultuur aan hom toegeken. Hierdie toekenning is toegeken aan persone wat in die tradisie van NP van Wyk Louw ’n wesenlike bydrae gelewer het om die Afrikaanse taal, kultuur of geskiedenis te bevorder. En dit het prof Hans inderdaad gedoen.” (Facebook, 26 Oktober 2024)
  • LAPA: “Met groot hartseer en ’n gevoel van diep verlies neem ons afskeid van Hans du Plessis, wat op 25 Oktober 2024 skielik oorlede is. Sy heengaan laat ’n groot leemte by LAPA Uitgewers, maar ons is ook oneindig dankbaar vir die rykdom van gedigte, verhale en ander werke wat hy aan ons nagelaat het. Hans sal voortleef in die bladsye van sy boeke en in die harte van sy lesers. Sy talent en toewyding is met verskeie toekennings bekroon, insluitend die CR Swart-prys vir tienertoneel, die ATKV-kinderboekprys, ’n erepenning van die SA Akademie en die CBSA-prys vir godsdienstige werk. Sy digbundel, Innie skylte vannie Jirre: Griekwapsalms en ander gedigte, het meer as 65 000 eksemplare verkoop, ’n bewys van sy vermoë om die siel van sy lesers aan te raak.

“Hans se laaste roman, Klein wonderwerk, sal postuum in Februarie 2025 verskyn, en ons sien daarna uit om hierdie finale geskenk van hom met die wêreld te deel. Sy werk sal bly voortleef en toekomstige geslagte inspireer.

“Ons sal Hans onthou as die skrywer met die groot hart, ’n ware meester van sy kuns, en ’n geliefde vriend en kollega. Ons gedagtes en gebede is met sy familie en geliefdes in hierdie moeilike tyd. Rus in vrede, Hans du Plessis. Jy sal altyd in ons herinneringe en harte wees.” (LitNet, 29 Oktober 2024)

Vir Bernard Odendaal was Hans du Plessis geen “enkelvoudmens” nie. Hy is vir Odendaal ’n “bewonderenswaardige Afrikaanse literêre figuur”. Sy publikasies getuig van sy veelsydigheid en daarby was hy ook ’n geliefde dosent en navorser by uitnemendheid.

Bernard Odendaal skryf verder in sy huldeblyk op Maroela Media: “Digby 200 vakkundige publikasies uit sy pen het die lig gesien, en oral by kongresse, werkswinkels en ander sulke geleenthede het ek opgemerk hoe opgewonde oudstudente van hom was om hom weer raak te loop. En toe, sowaar, kom dit my oor: Ek moet hom in 2012 opvolg as Skryfkunsdosent en direkteur van die ATKV-Skryfskool aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus. Steeds kry ek dié gedagte nie heeltemal klein nie.

“Dan was Hans ’n (Afrikaanse) taalmens soos min. Diensbaar as lid vanaf die Taalkommissie van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns tot direksielid van die Aardklop Nasionale Kunstefees. Noem maar op. En min taalnavorsers en -denkers het soveel bygedra as hy om ons onder die besef te bring dat ‘Afrikaans’ ’n versamelnaam is, vir Afrikaanse wat almal ewe wonderbaarlik en waardevol is.

“Ook as Christen-gelowige was hy vir my tot voorbeeld. Nederig; nooit beterweterig nie. Maar van hart en verstand oortuig. Sy bundels Bybels begronde digbundels in Griekwa-Afrikaans getuig klinkklaar hiervan. (...)

“Ook wat skeppende skryfwerk betref, was hy dus ’n begeesterende faktor in my lewe. En talle kere kon ek, daar op Potchefstroom, of waarheen ook al ons op uitnodiging die land vol moes reis, saam met hom slypskole in kreatiewe skryfwerk lei. Dit onder die vaandel van die ATKV-Skryfskool, ’n instelling wat hy van die grond af gekry en waarvan hy 21 jaar lank aan die stuur van sake gestaan het. Op hierdie wyse kon hy talle opkomende skrywers se loopbane beïnvloed. (...)

“Dan was ek ook nog so gelukkig om Hans du Plessis as vriend te ken. Behalwe tydens ons daelange gesamentlike rondreise, soms ook met wyle Jaap Steyn en Christo van Rensburg in die bussie, het ons ook meermale oor en weer aan huis kon gesels en kuier. Niks minder as stimulerend en verkwiklik nie, só was sy geselskap. En nou moet ek dit leer mis.

“Ek voel om, ’n bietjie soos die Bybelse figuur waaroor hy in Griekwa-Afrikaans dig in ‘Die gebed van Jabes’ (uit: Innie skylte vannie Jirre), te wil pleit:

(...) draai tog net onse lewe wee bietjie reg:
lattie hyl ons nie innie nagte so maklik slattie,
ennie trane ons nie oppie mirrag skierlik vattie.

“Maar wat is mý misgevoel in vergelyking met dit wat sy allernaastes nou moet ly? Want ook gesins- en familieman – dit was hy op voortreflikste wyse. Sy wederhelf – ja, so! – Magdaleen; sy vier seuns en hulle gesinne; ander familielede ... my hart gaan saam, saam met soveel ander mense s’n uit na hulle.”

En dan sluit ons Hans du Plessis se skrywersalbum af met hierdie staaltjie wat sy seun Hansie vertel het: “My pa se sig was nie goed nie, maar hy het sy humor behou deur die hele sage waartydens hy sy sig verloor het. ’n Spesifieke staaltjie is waar hy die oogdokter gaan sien het en die oogdokter vir hom gesê het: ‘Oom, ek skryf vir jou ’n bifocal lens voor, kyk of dit werk.’ Die volgende dag stuur my pa die volgende boodskap vir die dokter terug: ‘Dokter, as ek bo kyk, sien ek focal; as ek onder kyk, sien ek ook focal. Ek dink nie hierdie bril gaan werk nie.’” (LitNet, 27 Oktober 2024)

LAPA Uitgewers beoog om Hans du Plessis se volgende roman, Klein wonderwerk, in Februarie 2025 te publiseer.

Publikasies:

Publikasie

Kleinwild

Publikasiedatum

1978

ISBN

0809701507 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: HAUM

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Wat is wat?: ’n inleidende ondersoek na wat-verskuiwing in Afrikaans

Publikasiedatum

1979

ISBN

08697013200 (sb)

Uitgewer

Johannesburg: RAU

Literêre vorm

Taalkunde

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Sintaksis vir eerstejaars

Publikasiedatum

1982

ISBN

086874168 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Academica

Literêre vorm

Taalkunde

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Gewete van glas

Publikasiedatum

1984

ISBN

0798117184 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Taalfeite en -foute: hersieningsoefeninge vir Afrikaans

Publikasiedatum

1984

ISBN

0869541692 (sb)

Uitgewer

Johannesburg: Macmillan

Literêre vorm

Taalkunde

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Grensgeval

Publikasiedatum

1985

ISBN

0798119179 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Le Roux, André: Prosa laat mens hoog trap. Die Burger, 29 Mei 1986

 

Publikasie

Sintaksis

Publikasiedatum

1985

ISBN

086874221X (sb)

Uitgewer

Pretoria: Academica

Literêre vorm

Taalkunde

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Variasietaalkunde

Publikasiedatum

  • 1987
  • 1995

ISBN

  • 0620115882 (sb)
  • 0798635525 (sb)

Uitgewer

  • Pretoria: Serva
  • Pretoria: Kagiso

Literêre vorm

Taalkunde

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Skuiwelinge

Publikasiedatum

1990

ISBN

0798630574 (sb)

Uitgewer

Pretoria: HAUM-Literêr

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Du Plooy, Heilna: Veel meer as net ’n storie. Beeld, 11 Junie 1990
  • Toerien, Barend J: Skuif verby, hy werk nie. Die Burger, 16 Augustus 1990

 

Publikasie

Disse flippen stukkende wêreld dié, my ou

Publikasiedatum

1991

ISBN

0798632489 (sb)

Uitgewer

Pretoria: HAUM-Literêr

Literêre vorm

Jeugroman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

1995 CR Swart-prys vir nuutgeskrewe eenakter gebaseer op boek

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Pakendorf, Gunther: Deursigtige waagstuk oortuig nie. Die Burger, 14 April 1992
  • Van der Walt, Thomas: Die tieners verdien veel meer boeke soos dié een. Beeld, 7 Desember 1992

 

Publikasie

En nou, Afrikaans?

Publikasiedatum

1992

ISBN

0627018084 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Taalkunde

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Coetzee, Anna E: Dié boek gee ’n beter begrip van Afrikaans se posisie. Beeld, 15 Februarie 1993
  • Louw, Liesl: Breek af die Afrikaanse taal se eie Berlynse Muur! Beeld, 8 Mei 1992

 

Publikasie

Skryf ’n storie: praktiese wenke en opdragte vir die voornemende skrywer

Publikasiedatum

1993

ISBN

(sb)

Uitgewer

Pretoria: JP van der Walt

Literêre vorm

Letterkundige gids

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Gouws, Tom: Bruikbare boekie vir “aspirante”. Beeld, 5 Augustus 1993

 

Publikasie

Bakgat, en wat dan van my?

Publikasiedatum

1995

ISBN

0798133740 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Jeugroman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Le Roux, Marina: Sommer drie gawe jeugboeke gelyk. Die Burger, 28 Junie 1995
  • Redelinghuys, Mariska: Roman laat vooroordele by die venster uitvlieg. Beeld, 15 Augustus 1995
  • Steenberg, Elsabe: Ervaringe in ’n groeiproses. Beeld, 10 Julie 1995

 

Publikasie

Ditsem, Dawid!

Publikasiedatum

1996

ISBN

0798136626 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Jeugroman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

ATKV-Kinderboekprys 13–15 jaar 1998

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Visser, Lindie: Lekkerlees avontuur met romanse. Die Burger, 19 Maart 1997

 

Publikasie

Die Griekwapsalms en annerlike goeterse yt die Woord yt (Saamgestel uit Randall Wicomb se tekste vir sy verhoogaanbiedings van Hans du Plessis se Griekwa-gedigte)

Publikasiedatum

1999

ISBN

0620251921 (sb)

Uitgewer

Potchefstroom: H du Plessis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen 

 

Publikasie

Innie skylte vannie Jirre: Griekwapsalms en ander gedigte

Publikasiedatum

2001

ISBN

0799328758 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Algemeen Christelike Boeke 2002 (Christelike Boekhandelvereniging van Suid-Afrika)

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Britz, Etienne: Psalms wat wil ontroer uit die hart van Griekwaland. Rapport, 24 Junie 2001
  • Cilliers, Cecile: “Innie skylte vannie Jirre” taalrykdom. Beeld, 14 Mei 2001
  • Joubert, Marlise: Ander Afrikaanse wêrelde. Versindaba, 20 Januarie 2010
  • Odendaal, Bernard: Griekwaverse se gewildheid gewaarborg. Volksblad, 7 Mei 2001
  • Van Zyl, Wium: Streektaal weer ontgin. Die Burger, 16 Julie 2001

 

Publikasie

Boegoe vannie liefde: Griekwahooglied

Publikasiedatum

2002

ISBN

799330507 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Cilliers, Cecile: “Niemand mooierder as jy”. Beeld, 4 November 2002
  • Odendaal, Bernard: Hans du Plessis “sing” sy “hooglied” in Griekwa-Afrikaans. Volksblad, 11 November 2002
  • Tempelhoff, Elise: Hooglied sing nou in Griekwa-Afrikaans. Beeld, 25 September 2002
  • Van Zyl, Wium: Daar is nog paaie na Arkadië. Die Burger, 20 Januarie 2003

 

Publikasie

Hie neffens my

Publikasiedatum

2003

ISBN

0799330256 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen 

 

Publikasie

Splinters: ’n keur uit rubrieke

Publikasiedatum

2004

ISBN

0799333220 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Rubrieke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Marais, Willemien: Rubrieke ’n plesier om te lees. Volksblad, 20 Desember 2004
  • Wybenga, Gretel: Grootkaptein luister eers en slaan dan toe. Beeld, 13 Desember 2004

 

Publikasie

Die Griekwapsalms en annerlike goeterse yt die Woord yt II (Saamgestel uit Randall Wicomb se tekste vir sy verhoogaanbiedings van Hans du Plessis se Griekwa-gedigte)

Publikasiedatum

2006

ISBN

(sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen 

 

Publikasie

Kalahari Krismis: ’n Kersspel (Saamgestel uit Randall Wicomb se tekste vir sy verhoogaanbiedings van Hans du Plessis se Griekwa-gedigte)

Publikasiedatum

2008

ISBN

(sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen 

 

Publikasie

Verbrande paradys

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780799343137 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Die pad na Skuilhoek

Publikasiedatum

2011

ISBN

9780799351613 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

2016 Nederlands; Opweg na Schuilhoek; uitgegee deur Mozaiek

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Karos orie dyne

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780799355314 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

As die wind kom draai

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780624057468 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugverhaal

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

2016 Nederlands; onder titel Als de wind draait; uitgegee deur Mozaiek

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Inboekeling

Publikasiedatum

2014

ISBN

97806240690355 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Tussen die klippe

Publikasiedatum

2016

ISBN

9780799378559 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en

 

Publikasie

Drie vroue en ’n meisie

Publikasiedatum

2017

ISBN

97807993786110 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Kruis van liefde: ’n Paasspel. Saam met Bernard Odendaal

Publikasiedatum

2020

ISBN

 

Uitgewer

Kaapstad: Naledi

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Die opstand van Poppie Nel

Publikasiedatum

2020

ISBN

9780799399899 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Inkommers

Publikasiedatum

2022

ISBN

9781776359561 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Hans du Plessis as redakteur

  • Skryfateljee: gesprekke oor skryfwerk. Saam met Dawie Steenberg. Pretoria: Van Schaik, 1992 [ISBN 0627018408 (sb)]
  • Erasmus, Elfra: Skrywers gesels oor hul kuns. Beeld, 10 Desember 1992
  • Hambidge, Joan: Lees hier en leer jouself skryf. Die Burger, 5 Januarie 1993

Artikels en gedigte deur Hans du Plessis

Artikels oor Hans du Plessis

Hans du Plessis se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2019-04-29 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 2

Kommentaar

  • Wat 'n vreugde en inspirasie was hierdie artikel nou nie oor 'n meester en sy vak. Dankie Prof Hans vir die oopbreek van waarhede rakende die skryfkuns en die fokus op dit wat waarde daarin het.
    Dankie vir u enorme bydrae tot die raak verstaan van Afrikaans as taal in SA - in al sy doen en late - vorme en gebruike ... en die reuse-skatkis van boeke uit jou pen en hart.

  • Mêrie Scheepets

    Ek weet dat Prof Hans volgende jaar tagtig word. Na hierdie lese, weet ek veel meer en bewonder ek veel meer. Ek glo hy en sy werk moet erkenning kry...iets soos LEWENSLANGE BYDRAE TOT AFRIKAANS EN SKRYWERS IN AFRIKAANS. Liefs vroeër as later.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top