Die opstand van Poppie Nel
Hans du Plessis
Lapa Uitgewers, 2020
ISBN 978 0 7993 9989 9
Met Die opstand van Poppie Nel skryf die gewilde en gerespekteerde skrywer en digter Hans du Plessis ’n belangrike roman: Geslagsgebaseerde geweld het sedert die inperking geëskaleer en bly een van die brandpunte van ons zeitgeist. Geweld teen vroue kom in alle gedaantes voor, en in dié roman maak die leser kennis met die sielkundige en seksuele trauma wat vroue binne religieuse kultusse (sektes) beleef.
Die inleidende motto tot die verhaal is die FAK-liedjie "Staan, Poppie, staan":
Staan, Poppie, staan
en laat jou gedagte gaan
dat jy vir my kan sê
hoe diep die liefde lê.
Die woorde resoneer met die titel, waar die woord "opstand" verwant is aan opstaan teen iets / in verset kom teen iets. ’n Vrou se hand in ’n verweerposisie en die suggestie van spinnekopdrade is ’n voorafskaduwing van die web van verraad en leuens waarin Poppie haar gaan bevind. Tematies skakel die werk met Christine Barkhuizen-le Roux se roman Getuie (2012), wat die wanpraktyke van die Jehovagetuies as kultus aan die kaak stel.
Die verhaal se teenswoordige tonele speel in Hengelaarskroon, naby Eersterivierstrand in die Tsitsikamma, af. In tandem met die teenswoordige loop ’n parallelle verhaallyn: terugflitse van Poppie as kind, en haar betrokkenheid by die kerk en die pastoor. Die 60 hoofstukke se progressie in die hede, sowel as die verloop van Poppie se grootwordjare, speel afwisselend só uit. Diaken Gawie Galant vertel vir ds Lukas van Poppie se trauma, en rig ’n versoek dat hy simpatiek na Poppie sal luister. Net dit. Want Gawie ken vir Markus, Poppie se broer, en dié het baie te vertelle van die "snaakse" kerk waarteen hy hom vir jare bly verset het. Ds Lukas het op sy beurt sy eie pyn en katarsis wat hy moet deurwerk nadat sy geliefde Amanda hom verlaat het.
Op ’n dag in November begin Poppie vir ds Lukas haar verhaal te vertel. Haar en broer Markus se pa, Matewis, is ’n messelaar van beroep, en die enigste band wat Poppie met haar vader kan vorm, is om "ystergoeters vir hom in die garage vas te hou". Matewis is egter ’n afwesige, skisoïede vader wat sy inspirasie put uit die kultuskerk waarby hy aangesluit het. Hy ontvang openbaringe en visioene van God, die engele en die hemel self. Die voorklimaat in Poppie se kleinkinderjare is een van kontaminasie en kritiek: Omtrent alles is sonde/verkeerd. Poppie het weinig en later géén maatjies nie. Uiteindelik koop Poppie en Markus se moeder, Levona, in op die idee om kerk toe te gaan. En nie te lank daarna nie is die Nel-gesin ingetrek – ten volle geïndoktrineer – deur die pastoor en sy sekte. Die Nels doen afstand van hulle TV-stel (dis wêrelds en boos) en selfone (dis die duiwel se sein), en weier om ’n rekenaar te besit, al vereis die kinders se skooltake andersins. Poppie en haar ma dra lang, vormlose rompe met lang moue (want ’n vrou mag nie haar ontblote arms wys nie) en manskoene. Grimering is taboe. En swem is sonde; maar as Poppie smiddae van die skool af kom, is die pastoor besig om die "bekeerdes" in hul swembad te doop. Hierdie absurde scenario’s sorg vir afwisseling en welkome humor. Sedert ’n engel vir ma Levona ’n boodskap gebring het dat alles voortaan anders sou wees, word die Nels gemarginaliseer tot randfigure: Poppie se gewese maatjie, Lindie, sê: “Ek speel nie meer met jou nie, my ma sê die Nels is gevaarlike mense” (35). Ná ’n visioen uit die hemel skilder pa Matewis ’n Dawidster op hulle garagedeur, natuurlik tot groot spot en hoon van die buurt se verbygangers.
Poppie raak al meer geïsoleer; die teenswoordige wêreld wemel van die sonde en sy leef in ’n konstante vrees om te oortree. Die metafoor om te bly staan vorm ’n leitmotief: “‘Jy sal maar moet bly staan, my kind, vas bly staan ter wille van die boodskap,’ sê haar pa voordat hy die Bybel vat en vir hulle twee lang hoofstukke uit Openbaring lees” (41).
Die onskuldige volksliedjie in die inleidende motto, wat volksbesit is, suggereer ook dat die seksuele misbruik van kinders algemeen voorkom – en op ’n wrang manier ook ’n soort "volksbesit" is.
Die koeël is deur die metaforiese kerk. Du Plessis laat niks oor aan toeval nie. In ’n onderhoud met Christa Steyn Bezuidenhout op Maroela Media noem hy dat Poppie ’n marionet (van die kerk en pastoor) word: “Poppie is inderdaad ‘n poppie in die hande van die pastoor en sy word soos ’n marionet gemanipuleer. Sy is ook nie die enigste pop in die pastoor se hande nie. Daarom die name uit Liewe Heksie – Levona, Matewis en professor Karel.”
En:
“Poppe kan nie staan nie, jy weet mos.”
“Is nie, Liewe Heksie staan dan en sy is ’n pop.”
“Nee, sy kan nie self staan nie, want sy is ‘n marionet.” (12)
Poppie het grootgeword in "Verkeerdestraat 777" (27); let op die kontras en numerologiese simboliek in dié adres. Nêrens in die roman word die pastoor se naam genoem nie – slegs op bl 220 wanneer Poppie vir die eerste maal teen hom opstaan en hom in sy maai stuur: "Nooit weer hoef ek na een van jou boodskappe te luister nie, Niek, en ek hoef nooit weer een daarvan te glo nie." In die Afrikaanse omgangstaal is "Niek” ’n verwysing na die duiwel. Ook Poppie se regte naam, haar ware identiteit as Maria Nel, tree na vore as sy die houvas wat die pastoor op haar het, verbreek.
Intussen worstel ds Lukas om die verraad van Amanda, wat met die ryk ouderling Botes weggeloop het, te verwerk. Hy slaag egter daarin om Poppie, sku en diep verwond, oor haar disfunksionele kinderjare te laat praat.
Poppie is talentvol: Sy sing soos ’n engel en kan goed klavierspeel. Ontredderd en op soek na ’n vaderfiguur, terwyl pa Matewis ronddobber tussen werke, word sy uiteindelik deur die pastoor raakgesien. Die "vername man" praat met haar! En vra of sy ’n paar liedjies saam met hom sal opneem. Poppie is nou "’n uitverkorene van God, volledig in diens van die kerk en die pastoor." Die draaipunt kom egter wanneer sy in graad 9 saam met die herder op pad na ’n skoledebat was. Ek wil nie die verhaal verklap nie, maar haal Du Plessis in genoemde onderhoud aan: "... word Poppie deur hul charismatiese pastoor vir sy eie gewin gemanipuleer en seksueel misbruik". Poppie se doop in hul swembad is in alle opsigte ’n groteske ontering van dié sakrament. Die gewetenlose sekteleier het Poppie in sy web; skaars die begin van haar skreiende breinspoeling en trauma. Om dinge te vererger, help die pastoor die Nels finansieel – en Poppie betaal die prys. Pa Matewis word ondertussen gediagnoseer as skisofreen, wat sy visioene binne ’n rasionele konteks verklaar. Die roman vra indringende vrae oor wat die "waarheid" is – en die skokwaarde lê in die normalisering van die leuen en van aberrasies in die algemeen, alles natuurlik geboekstaaf en geregverdig uit die Bybel. Die donker onderwêreld van ’n kultus beland onder die vergrootglas. Die verhaal is soms diep ontstellend, soos vertel uit die fokale punt van Poppie, ’n onskuldige kind wat op naïewe wyse die sogenaamde waarheid as delusies opdis. Die roman vra indringende vrae oor die verdraaiing van eksegese tot leuens, waanbeelde, fantasie en illusie. Hierdie sektariese praktyke word vreesloos oopgeskryf en ’n objektiewe werklikheid word verruil vir visioene en openbaringe, wat op sy beurt vrae laat onstaan oor die massapsigose van die kollektief, die kultus. Die pastoor, as prototipe van ’n sjarmante, gladdemond, gewetenlose kultusleier word uitstekend verbeeld.
Die see word in die roman ook ’n “karakter” uit eie reg; dit dra by tot die inkleding van Poppie en Lukas se emosies; dit skep atmosfeer; tree op as katalisator van die narratief en bied op panoramiese wyse vertroosting. Du Plessis verdien lof vir die treffende en poëtiese stelwyses wat dwarsdeur die boek voorkom, byvoorbeeld:
“Is die mis altyd so verskriklik dig hier by julle?” vra sy.
“’n Mens sal op jou eie werf kan verdwaal.”
“Dit het nog altyd met my gebeur.”
Maar dit is asof elkeen met homself praat, twee monoloë, asof hulle mekaar in die mis verpas het. (72).
Asook: “Die mis hang ’n kantgordyn oor die oggendsee, selfs die naaste rotse is, soos sy gedagtes, net ’n grys metafoor vir die werklikheid” (71).
Sal Poppie en Lukas – twee gebroke siele – weer liefde vind? Poppie se kerk het van die liefde ’n vuil gewete gemaak – is soveel trauma enigsins oorkombaar, of is dit reeds te laat?
Die verhaalvertelling verloop vlot en die skrywer verstaan die kuns van ewewig tussen hoofstukke. Daar word lewe geblaas in die karakters, en die verpakking in kort, ekonomiese hoofstukke werk effektief om die leser enduit te boei. Die leser mag wonder of die slot, en die verwysing na ’n betrokke Bybelboek, nie dalk naïef of ongeloofwaardig is gegewe die geskiedenis van trauma daaraan verbonde nie – maar aan die ander kant kan ’n mens die skrywer hierdie titsels magiese realisme vergewe.
Die opstand van Poppie Nel is ’n belangrike werk, ’n seminale roman wat geskryf móés word.