PG du Plessis – die hoekwoord in Afrikaans se mooiste sin

  • 7

Hans du Plessis het tydens Pieter Georg du Plessis se gedenkdiens op 13 Junie 2017 die huldigingswoord gelewer. Dit verskyn met sy toestemming hier onder.

 

Marie-hulle het gevra dat ek iets oor Pieter se werk moet sê, en dit doen ek uit liefde vir hom en vir Marie, vir Frits en Dollie, vir Marita en die kleinkinders. Maar Pieter sal my dit verkwalik as ek vanoggend hier oor sy werk gesels met verwysing na literêre terme en teorieë. “Dis ’n oefening in futiliteit,” sou hy gesê het. “Die literati sal in elk geval oral mooi daaroor praat, mooier nou as toe ek gelewe het,” sou hy seker nog bygevoeg het.

Ek praat ook omdat hy iets reggekry het waaroor die meeste skrywers net kan droom: hy het die literati genoeg beïndruk om vir hom die heel hoogste literêre pryse te gee en ingewikkelde commendatio’s, en proefskrifte en artikels daaroor te skrywe. Terselfdertyd het skoonmakers in besemkamers skelm in werktyd Koöperasiestories gekyk. Hy het met die ganse volk gepraat.

Daarom wil ek met jou gesels oor die PG du Plessis wat nie net wóórdkunstenaar was nie, maar wat in sy hele siel ’n kunstenaar was. Ek wil met jou gesels soos wat ek en hy daaroor kon gesels. Sommer net praat. Maar daarvoor sal jy saam met my moet uitry Rysmierbult toe, want ons sal eers oor klippe moet praat.

En as ons dan by die plaashek indraai, groet groot hekpilare ons, en soos wat ons dieper inry werf toe, begin die klippe dit uitroep. Die hekke is almal klaar oop, omdat ons laat weet het ons kom.

As ons stilhou, staan Pieter en Marie vir ons en wag en Knak vroetelgroet ons groot en geweldig. Ons stap eers om studeerkamer toe om klip vir klip te groet, later verder deur die eerste klippoort onder die groot eik deur, oor die bruggie klipkroeg toe, om uiteindelik deur die kliplabirint tot in die lapa te kom. Jy staan verstom in ’n grootse uitstalling van kuns – klipkuns wat hy met sy eie twee hande help skep het. Daarom is dit nodig om eers oor klippe te praat, want elke klip lê presies. “Want klippe,” sal hy verduidelik, “spring nie vanself in ’n muur in nie; jy vra hom, luister en bou hom eers in as jy klaar met hom gepraat het. ’n Klip het ’n gesig”, en dan glimlag hy, “en ’n agterkant”, maar agterkant is nie presies sy woord nie, maar sy woord is nou nie heeltemal ’n kerkwoord nie.

’n Klip lê gesigkant vorentoe, partykeer plat, dan ’n bietjie regop, soms sommer net-net skuins dwars. Grotes en kleintjies, almal het ’n plek. Soos woorde en soos mense.

Dis hoekom die muur kuns is, en net iemand wat klippe liefhet, kan só met klip skep. Ek sal Pieter onthou as die kunsklip in Semoer se mooiste muur.

Vir hom was woorde soos klippe, en hy was die meesterbouer. Maar woorde is sagter as klippe, gladder. Eiesinnig. Die gesig is mos ook nie altyd voor nie. Soms onduidelik, omdat elkeen sy eie betekenis wil hê. En dan is daar nog die wispelturiges ook.

Nogtans het sy woorde altyd gelyk of hulle net reg in elke sin ingemessel is, soos wanneer Tjokkie vir Tiemie oor Jakes sê: “Hy’s skorriemorrie so groot as wat hy is.”

Een ding is seker: as die heel voorste professionele akteurs van jou dialoog sê dat ’n mens nooit daaraan hoef te torring nie, dan weet jy jy kán met woorde werk.

Dis net PG du Plessis wat woorde soos dié aanmekaar kon ryg: “Vrydagaande drink ek en Jan van Breda enkele slukkies brandewyn om die week te vier of te vergeet, al na gelang van omstandighede.”

“Hy ryg woorde soos ‘jollies’ en ‘smarties’ in en uit soos in ’n neklis.”

Dan is woorde nog mensliker as klippe en net iemand wat die woord liefhet, kan só talig mooi messel. As ek aan hom dink, sal ek PG du Plessis onthou as die hoekwoord in Afrikaans se mooiste sin.

Mense is kantiger as klippe en wolleriger as woorde, en tog, o so broos. Daarom moet die skrywer die sag en die hard verstaan by woord en klip verby voordat hy aan mense kan begin teken. Dan dink party mense nog ook vir hulleself, en die goed voel mos. Tog het PG du Plessis mense ongemaklik goed verstaan. Soos Tjokkie, het Pieter die gawe van sien gehad, want hy kon sien tot waar ander mense nie kon kyk nie.

In die voorhuis op die plaas staan daar ’n stomp hout op die vloer langs die bank. Dolfhout, het ek altyd geraai. Uit hierdie stomp groei daar die gesig van ’n vrou, sag gebeitel uit die harde hout. En Pieter het haar met sy eie hande uit die hout gehaal. Soos met ’n Jakes in Siener. Dis hoekom Genis en Mietie, Jan van Breda, Daantjie en die Minters so van die volk besit geneem het. Pieter se karakters is ronder as gewone mense, want hulle sê en hulle voel en hulle dink. Hulle is iemand wat jy ken en met wie jy deernis het omdat die skrywer die deernis in hulle ingeskryf het.

Om so te skep, moet jy mense ken tot anderkant die kennis. Maar dan moet jy woord en mens saam verstaan. Hy wat PG du Plessis is, kon hulle inmessel, want hy het die siel gesien. Hy het verstaan wat min onder ons verstaan, want net iemand wat mense liefhet soos wat hy mense liefgehad het, kan hulle teken soos wat hy hulle geteken het.

As ek aan Pieter Georg du Plessis dink, sal ek hom onthou as die sin in Suid-Afrika se mooiste boek.

Marie, ek weet huil en lag lê langs mekaar vandag, maar dis die lag wat vir ons sal agterbly.

Hans du Plessis, 13 Junie 2017, Potchefstroom

Foto van PG du Plessis: Izak de Villiers

  • 7

Kommentaar

  • Avatar
    elmarie fuller

    Liewe prof Hans, wie beter as Prof om hierdie hulde te bring?

    Hoe reg en met ken het Prof hier gewerk!

    Ek het my liewe mentor nog liewer hieroor.

    'n Reus het gaan rus. Dankie tog vir sy woorde wat op my rak lewe!

  • Avatar
    marieta dippenaar

    Ek het nou die aand na die mooi program gekyk wat deur die van den Heevers, of is dit van Heerdens , gemaak is. PG, wat al van my prille jeug af my asem wegslaan en my diep raak met sy werk, het gesê hy skryf om mense te raak. Dit was 'n bevestiging van wat ek vermoed het, hierdie skrywer is volledig 'for real'. Nou, die artikel is ook so. Baie dankie.

  • Sjoe, wat 'n beskrywing en huldeblyk! So raak verwoord, ek hoor PG tussen die lyne.
    Wens ek kon hom ken.

  • Avatar
    Corlietha Swart

    Kosbare herinneringe pragtig verwoord deur 'n ware vriend wat nie net die gelykpad nie, maar ook die laaste "klipperige" deel van sy lewenspad saam met oom/dr PG du Plessis gestap het. 'n Bittereinder het tot ruste gekom. RIV, Oom PG! Corlietha Swart (Voorsitter, namens die Bloemfonteinse Skrywersvereniging).

  • Avatar
    Hans du Plessis

    Dankie vir die positiewe terugvoer. Dit is maklik om mooi oor 'n groot gees soos PG te skryf.

  • Avatar
    Stefan Van Rensburg

    Dankie aan almal. Julle is pragtig en waardevol. PG gaan sekerlik in dieselfde as die gevierde Sagmoedige Neelsie, Tolla Van Der Merwe en Jan Spies en Ollie Viljoen onthou word. 'n Skrywer ontwaak een keer en begin skryf, tikketik die malheid in. Kosbare verhaal, roman, satire en dikwels krities ook. Dierbare mens. Kosbaar vir taaldom.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top