Huldeblyke is soos blomme op ’n graf: dit voel so vals omdat jy blomme moes gegee het toe die mens nog hier tussen ons was en mooi woorde moes gesê het toe hy of sy dit nog kon hoor. Ek weet dit help vir die skok en vir die hartseer, maar dié om wie alles gaan, sien of hoor dit nie eens nie. Of weet hulle juis nou; verstaan dit miskien nou soveel beter. Dit is net dat dit vir my, soos spyt, voel of dit te laat is. Nou moet jy agterna sê wat die mens eintlik vir ons wat agterbly, beteken het. Nogtans wil ek hiermee hulde bring aan die ikoon Randall Wicomb, want sy stem bly in my, en baie ander bewonderaars, se ore sing.
My pad saam met Randall was ’n pad van omtrent twintig jaar, vandat hy op ’n dag uit die bloute by my huis opdaag met sy kitaar en ’n bladsytjie papier. Natuurlik het ek geweet wie hy is, maar ek het hom toe nog nie self geken nie. Toe staan hy voor my, want hy wil vir my ietsie sing. Toe sing hy sy toonsetting van die Griekwapsalm 121, ek slat my twee oge op ... Mag hy dit toonset? Jy vra nog!
Weet jy hoe voel ’n gewone mens as so ’n groot talent skielik op jou sitkamerbank sit en net vir jou ’n uitvoering lewer wat jy nooit ooit sal vergeet nie? Die woorde, weet jy, was eens joune, maar sonder die silwer vlerke van die musiek, die interpretasie van stem en snaar. En jy weet sommer hier kom iets groter en mooier as wat jy kon gedink het. Sommer net so, sonder dat jy dit gevra het.
So was hy: jy het nooit geweet wat volg nie, al het jy geweet daar moet iets kom. Talent kondig homself mos nie oor raserige luidsprekers aan nie. Dit adverteer nie op padborde langs snelweë nie. Dit lewe vanself – as dit goed is en dit bly lewe as dit uitsonderlik goed is. Daarom sal Randall se stem nie sterf nie, dit sal voortleef, al is dit digitaal. Dankie tog vir die digitale wêreld waarin ons leef.
Ek kan nie anders nie as om by die Griekwapsalms te begin, want ek het van die begin af met die ontstaan daarvan saamgeleef en saam beleef. Van daardie eerste dag wat hy en sy kitaar my sitkamer kom betower het, het ek geweet hier is iets aan die gebeur, al is my musikale aanvoeling maar betreklik verdag.
Dit was toe ook net die begin, want in die later jare negentig het ons weer begin praat. Randall wou meer Griekwagedigte hê om te toonset. Ek het ’n klompie gehad wat nog nie gepubliseer was nie en ek het een of twee nuwes geskryf. Hy was verder aan die toonset en ek het ondertussen aan ’n bundel Griekwagedigte begin werk. Dit verskyn in 2001 onder die titel Innie skylte vannie Jirre. Sowat ses maande na die verskyning van die bundel kom Randall by die Aardklop Nasionale Kunstefees aan met die produksie van Innie skylte vannie Jirre. ’n Ongelooflike produksie, met Randall se toonsetting van ’n vyftiental gedigte uit die bundel. Daar moes ekstra vertonings ingeruim word, want dit was ’n hoogtepunt van die fees. En van vele feeste en vertonings daarna. Die bundel het saam met die vertoning en die CD wat daaruit gespruit het, byna volksbesit geword. As dit nie die talent van Randall Wicomb bevestig nie, weet ek nie. Die musikale talent as toonsetter en as sanger is dit wat in ons wat treur se ore en harte sal bly voortleef.
Daarna volg nog twee vertonings en CD’s met Griekwagedigte uit ander bundels. Die produksies en CD’s Hie neffens my en Kalaharikrismis is musiek van gehalte.
Randall se talent het vir die Afrikaanse musiek en liriek oneindig baie beteken omdat hy die ou Afrikaanse woord uit die sand kon gaan optel en dit nuut kon maak met ’n melodie en ’n stem wat die gewone woord tot ongewone kuns kon verhef. Nie sommer net kuns nie, maar kuns wat tot in die Europese sale geklink het en waardeer is. Hy kon die tradisionele lied, wat iemand soos Pieter W Grobbelaar opgeteken het, met sy voortreflike talent as sanger, weer aan die hele gemeenskap wat Afrikaans gebruik teruggee. Daarvoor huldig ons hom.
Randall was tuis op die verhoog. Nee, die verhoog was sy tuiste en die gehoor sy huismense vir wie hy lief was. Hy het vir musiek bestaan en die kwaliteit daarvan bly slyp, want hy het byna tot aan die einde volgehou om sangonderrig te ontvang.
En hy was ’n mens. Ek en hy is op ’n keer genooi na die Ameliana-sorgsentrum in Potchefstroom. Hulle koortjie het vir ons Randall se toonsetting van Voete vanne gemsbok ... (Habakuk 3) gesing. En hy wat Randall is, het saam met ons gehuil oor die aangryplikheid daarvan. Omdat die reus ’n mens was.
Ons huldig ’n groot man met ’n groot stem omdat sy talent nie onder die maatemmer gebly het nie, maar omdat hy dit onselfsugtig gedeel het met enigiemand wat wou luister na die stem wat nie gou gaan stil raak nie.
Hans du Plessis
Kommentaar
Ja, wat anders kan 'n mens van RW se talent sê, behalwe dat dit ongelooflik was.
Ons het baie van sy cd's en my gunsteling is ongetwyfeld die Griekwapsalms wat hy getoonset het. Elke keer wat ek daarna luister is dit asof daar net nie 'n ander melodie by die woorde sou kon pas nie!
ONS GROET JOU.
Dankie hiervoor, Hans du Plessis. Geen huldeblyk sal werklik reg kan laat geskied aan hierdie groot gees nie. Ons kan almal maar net probeer.
Baie dankie vir hierdie besondere huldeblyk. Randall Wicomb se toonsettings van Prof Hans du Plessis se werk gee my baie vreugde.
So kosbaar ... hy het as verrassing vir ons op my man se 60ste verjaardag die Griekwapsalms kom sing. Wonderlike belewenis gewees. Soms bietjie gedagtes uitgeruil deur die 10 jaar en toe maar net bemoedig deur die siektestryd. Gelukkig het ek heelwat van die dvd's gekoop asook die laaste cd ... Êrens is jy. Dankie ou Grote, ons gaan weet dat jy weg is. Selfs vir ons 'n koorstuk se bladmusiek gestuur.
Ja-nee - te danke aan julle twee se vermoëns is die Afrikaanse kultuurskat aansienlik groter.
Namens my vriende in België en Nederland was ons geskok om te hoor van die nuus van die afsterwe van hierdie groot Afrikaner. Ek glo ek praat ook namens al die Griekwamense van Suid Afrika en ek dink veral vandag aan 'n jong seun van Griekwastad Hendrik Oor. Wat 'n voorreg was dit net nie om na Randall te luister nie. Hy het soveel mense geraak en aai wat 'n mooi taal is die Afrikaans net nie.
Dankie , sy lewe is verby maar, sy stem leef voort deur sy kuns. Dankie daarvoor.
“Gewone” mense teenoor “ongewone” mense? Griekwas teenoor “’n groot man met ’n groot stem omdat sy talent nie onder die maatemmer gebly het nie, maar omdat hy dit onselfsugtig gedeel het met enigiemand wat wou luister na die stem wat nie gou gaan stil raak nie”. Die vraag is hoe het dit gekom dat so ’n magdom mense hul talente onder die maatemmer laat bly het met die gepaardgaande armoede en ellende om ons. Waar’s die “gelykheid” wat so dikwels as vanselfsprekend aanvaar word. Dis iets wat kunstenaars soos Randall, wat bevoorreg was om nie hul talente onder ’n maatemmer te laat bly nie, ernstig moet behandel. Pleks daarvan om vir passiewe gewone mense te sing en só hul toestand in stand te hou . . .
Hans, ek het jou huldebleik baie waardeer, Soos ook elke CD van Randall.
Pragtige huldeblyk van iemand wat ons mooi taal kom inkleur het in die lieflikste kleure.
Hoe gepas is die huldeblyk van Hans du Plessis nie. Dankie daarvoor. Ek wou nog so graag van sy vertonings bywoon, maar ai, die tyd het uitgeloop. Tyd wag vir niemand nie. Dankie vir die wonderlike musiek wat deur my kop draai en wat ek kan loop en sing. Dasie 'n lantie ... Nog voordat ek 'n mens was ... Die woorde so waar, die opvoering daarvan so eerlik opreg. Dankie Vader vir die talent van Randall Wicomb.
Randall het as gaskunstenaar by ons jaarlikse Suster Saamtrek in 2012 opgetree. Sy vertolking daardie dag van Psalm 139 laat my steeds met die gedagte dat Randall rustig tuis gekom het by ons Hemelse Vader. Wat 'n wonderlike diep mens was hy nie. Ons groet jou Randall Wicomb.
Liewe Randall Wicomb, So moet ons jou dan groet. ....Ons ry deur jou ou Groot Karoo en luister na jou musiek. Jou sontjie sak toe weg. Die môre op die dou,...die trane in ons oё, die hartseer van ons rou is om maar liewer weg te hou...Platteland, o mooi land, hier wil ek kom lệ. Woorde uit die diepte van jou hart het gestroom na jou mond. Jou liedjies het ons taal so suiwer soos goud en beeldskoon laat klink. Jy was `n ware woordkunstenaar en jou lirieke het hart en siel laat lag en huil. Blink snoek, vet snoek, wie gaan jou nou in die Kaap kom soek. In jou eie woorde sệ ons, nou lag ek met my lippe maar ek huil in my gemoed. Rus in vrede.
Ek het die meeste van Randall se CD's - Griekwapsalms my gunsteling en al behoorlik 'deur' geluister. Wanneer Voete van 'n Gemsbok speel, bevind ek myself in die Kalahari met sy rooi duine - ek is 'n Kalahari-kind deur en deur. My sus en haar man het gedurende 1989 'n besoek by Randall afgelê in Stellenbosch. Hy het vir hul elkeen 'n koper bakkie gemaak met hul name en die datum op gegraveer. Dis 'n kosbare besitting in hul huis. Met liefde sal hy onthou word - met nostalgie sal ons voortluister na sy musiek en sy wonderlike gawe om met gewone mense te kon omgaan.
So mooi, so besonders! Baie dankie vir hierdie woorde. Ek dink Randall weet van hulle en ek weet wat dit vir hom beteken.
Baie dankie vir al die wonderlike kommentaar op Randall se lewe en sang. Ons sê so ongelooflik dankie vir hom in ons lewens. Baie dankie vir almal wat ons so ondersteun het en nog steeds dra. Vriende is so kosbaar.
Albei onder onkologiebehandeling by Tygerberg, wag Ek en Randall ons beurte af, so drie/vier maande gelede. Hulle roep my eerste, en na die konsultasie binne, kom ek weer uit in die lang gang met rye en rye wagtendes, Langs Randall is een sitplek oop, maar sy briewetas of iets is daarop. Ek wys na die sitplek en vra, '"mag ek maar daar kom sit, ek belowe ek sal nie vir jou begin sing nie". Die vreemdheid en duidelike spanning was gebreek en ons het saam gelag. Mense het Randall lank en goed geken, vir my was ons vriende vir so twee of drie ure. Lees my gedig vir Randall op LitNet: Met kopdoek baret en kitaar.
O ja, en met ons afskeid daardie dag in die Tygerberg se gange, het ek vir hom my eerste gepubliseerde gediggie sommer op `n stuk los papier geskryf. Die titel daarvan is Sakramentjie, en klink so: Neem die pepermentjie # my aangebode sakramentjie# van heimlike hoop # plaas dit onder die kussing waar jy snags op slaap # en droom my ongesegde woorde # toe, seblief # woorde wat moes sê # ek het jou lief. # Groete. Johann de Jager.
Haai Johann, kan nie glo dat Randall ons al vier maande gelede gegroet het nie. Voel soos laas maand. Jy was werklik bevoorreg om 'n vlytige uur of twee 'n grappie met hom te kon deel. Ek en Meisie het ook daai voorreg 'n paar jaar gelede gehad. Randall het eenkeer by ons gastehuis in Paternoster tuisgegaan saam met vrinne van hom. Ons sit toe een middag so vir die see en kyk en wag vir die krewe om op te hou skree in die kookpot (vaderland is daar tog nie 'n alternatief vir kreef kook nie?). Randall sit langs my. Daar loop toe 'n ouerige paartjie voor ons verby; die man so 'n tree of wat voor sy vrou. Dit was toe al agtermiddag so ons was nie verbaas om te sien dat albei van hulle so skeef-skeef skuifel nie (hoes daai vir 'n tikkie alliterasie of wat noem 'n mens dit nou weer?). Die vrou staar ons aan en roep haar man om te stop. Dan volg 'n beraadslaging met swaaiende arms in ons rigting. Pa stap toe huiwerig nader, maak die hekkie ongenooid oop en kom staan oorkant die tafel. Hy leun so half vooroor, kyk my stip in die oge en blaker uit: “Is jy nie familie van Al Debbo nie?" Nodeloos om te sê dat Randall, wat gewoonlik 'n totale jintelman is, onbeskaamd agteroor getop het soos hy gelag het. Snaaksste van als is dat die besoeker verdwaas na ons gekyk het, sy kop geskud en na vroulief teruggekeer het. Dit was nou ons wonderlike grappie wat ons vir altyd sal onthou. Hannes
Ek was bevoorreg om Randall se laaste en my eerste huiskonsert van hom in PE by te woon, maar ek kon sien dat hy 'n baie siek man was. Alhoewel ek gehoop het om nog 'n optrede van hom te kon bywoon, het die Here het dit anders beskore. Rus sag ou grote. Nou het jy jou voete van 'n gemsbok gekry.
Ik leerde Randall Wicomb tien jaar geleden kennen toen hij optrad in Lier bij Antwerpen (het repertoire van de CD 'hie neffens my', ondersteund met prachtige videobeelden). Ik was er samen met collega's filosofie Willie Van der Merwe, die hem kende van in Stellenbosch, en Sam IJsseling. Deze was diep onder de indruk, en telkens als hij later thuis kwam dineren, moest ik hem 'Voete vanne gemsbok' laten beluisteren. Het was voor ons beiden telkens een uniek moment. Tot aan zijn dood, vorig jaar. IJsseling wordt algemeen beschouwd als de grootste naoorlogse filosoof van het Nederlandse taalgebied. Dank u, Randall.