Van Afrikaans gepraat: ’n onderhoud met Hans du Plessis

  • 0

Op Saterdag 20 Oktober 2018 is ’n splinternuwe boek deur wyle Christo van Rensburg, Van Afrikaans gepraat (LAPA Uitgewers; Engelse weergawe: Finding Afrikaans) in Pretoria bekendgestel.* 

Menán van Heerden het met Hans du Plessis oor die boek gesels, asook oor wyle Christo van Rensburg se waardevolle bydrae tot navorsing oor Afrikaans.

Hans du Plessis en Christo van Rensburg in 2016 (Foto: Izak de Vries)

Hans, in jou LitNet-huldeblyk aan Christo van Rensburg beklemtoon jy onder andere sy bydrae tot navorsing oor die variëteite van Afrikaans en die invloed van die inheemse tale op die ontwikkeling van Afrikaans. 

  • Vertel asseblief vir lesers meer oor die boek Van Afrikaans gepraat: Wat kan lesers leer oor die ontstaansgeskiedenis van Afrikaans wat nie noodwendig algemene kennis is nie?

  • Noem gerus enkele hoogtepunte.

  • Daarmee saam: Wat beteken Christo se navorsingsnalatenskap vir die geskiedskrywing van Afrikaans? Wat is die belang van hierdie boek vir doodgewone lesers of sprekers van Afrikaans?

Christo van Rensburg se belangstelling in die variëteite (of dan dialekte) van Afrikaans gaan terug tot die jare sestig van die vorige eeu. Maar eintlik vestig hy hom as leidende figuur op die gebied van navorsing oor die taalverskeidenheid in Afrikaans toe hy aan die begin van die jare tagtig ’n omvattende projek oor die Afrikaans van die Griekwas lei.

Dit was hierdie navorsing, wat gegrond was op intensiewe en uitgebreide veldwerk dwarsoor Griekwaland-Wes, wat vir Van Rensburg die insig gebring het dat kennis van die variëteite van Afrikaans ons insig in die ontstaansgeskiedenis van Afrikaans verdiep.

Lang en stimulerende gesprekke oor die noue verband tussen taalverskeidenheid en die geskiedenis van ’n taal het tot sy siening gelei dat daar eintlik drie basiese dialekte in Afrikaans vandag bestaan, wat nuwe insigte oor die ontstaan van Afrikaans bring.

Dit veronderstel dat die siening dat Afrikaans bloot die resultaat van sogenaamde spontane ontwikkeling van Afrikaans uit Nederlands is, nie korrek is nie. Verdere navorsing in die Richtersveld en Namibië, en studies oor Kaapse Afrikaans beklemtoon die belang van dialekkennis vir die verstaan van die ontstaan van Afrikaans.

Van Rensburg se navorsing vir die Afrikaanse Taalraad ten einde die boek So kry ons Afrikaans te kon skryf, het hom tot die ontdekking gelei dat Afrikaans se wortels teruggevoer kan word na ’n halwe eeu vóór die koms van Jan van Riebeeck.

Dit lei tot die insig dat die Khoi-invloed op die vorming van Afrikaans veel dieper gaan as net ’n paar woorde. Dit is hierdie herwaardering van die bydraes wat sowel die Khoi as die slawe gelewer het in die ontwikkeling van Afrikaans, wat die wese vorm van Van Afrikaans gepraat (saam met die uiters belangrike vertaling van die teks in Engels onder die titel Finding Afrikaans).

In hierdie publikasie vertel Van Rensburg ’n alternatiewe verhaal oor die ontstaan van Afrikaans. Boonop nog op ’n lekkerlees, toeganklike manier. Die boek is daarom meer as net ’n akademiese verslag van waar Afrikaans regtig vandaan kom.

Dit is inderdaad die nuwe storie van Afrikaans, en wanneer daar oor Afrikaans gepraat word, kan die gewone leser saampraat. Met hierdie boek word Afrikaans op bewysbare grond as ’n taal van Afrika gevestig.

Hoe verskil
Van Afrikaans gepraat van So kry ons Afrikaans (Christo van Rensburg, LAPA, 2012)?

  • Is hulle aanvullings van mekaar?

  • Sal mens die een boek moes gelees het om beter begrip van die ander een se inhoud te verkry?

Die twee boeke verskil nie wesenlik van mekaar nie. Van Afrikaans gepraat is bloot ’n hersiene en uitgebreide weergawe van So kry ons Afrikaans. Nuwe insigte oor die invloed van die Khoi-tale en verfrissende insigte oor die verloop van dinge net ná die eeuwending aan die begin van die 20ste eeu kom ook wel na vore.

Daar is ’n ses jaar verskil tussen die publikasie van hierdie twee boeke. Watter bydrae kan Van Afrikaans gepraat in 2018 lewer rakende algemene persepsies oor Afrikaans?

Afrikaans is die somtotaal van al sy dialekte, en die bydrae van al die sprekers van Afrikaans word in die boek erken. Dit bevestig die siening dat Afrikaans aan al sy gebruikers behoort, dat Afrikaans nie ’n uitsluitend wit taal is nie, en dat dit juis as taal van versoening deel van die Afrika-erfenis van Suid-Afrika is en nog altyd was.

Is albei boeke ook in Engels beskikbaar? Waar is hulle te koop?

Dit is uiters belangrik om te weet dat Van Afrikaans gepraat wel ook in Engels beskikbaar is, naamlik as Finding Afrikaans, aangesien die belangstelling uit die Engelssprekende wêreld oorweldigend is, en verder sodat ons in die gesprek oor Afrikaans nie net met onsself praat nie, maar met die breër Suid-Afrikaanse gemeenskap.

Die boeke is in boekwinkels beskikbaar, of dit kan bestel word by www.lapa.co.za.

 * Hierdie geleentheid is aangebied deur die Afrikaanse Taalraad (ATR), die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) en Die Erfenisstigting.

Lees meer oor:

So kry ons Afrikaans

LitNet Akademies-resensie-essay: Só maak Afrikaans ons

Die Khoekhoegowab-tale en Afrikaans (Christo van Rensburg)

Die Khoekhoegowab-tale en Afrikaans

Genadendal: ’n erfenisjuweel (Christo van Rensburg vertel meer)

Genadendal: ’n erfenisjuweel

Beginafrikaans (Christo van Rensburg)

Beginafrikaans

Die begin van Afrikaans as onderrigtaal (Christo van Rensburg)

Onderhoud: Waar het die spoor van Afrikaans as onderrigtaal begin?

Hoe Nederlands is Afrikaans? (Hans du Plessis)

Afrikaans, gekry of gemaak?

Die klassifikasie van Afrikaans (Ernst Kotzé)

Die klassifikasie van Afrikaans

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top