Huldeblyk aan Christo van Rensburg: ’n Afrikaanse woord is weg

  • 5

Christo van Rensburg | Foto: Frikkie Lombard

’n Woord is uit die Afrikaanse woordeskat weg, ’n groot woord! Die bekende taalkundige Christo van Rensburg se stem is stil. Hy is vroeg Maandagaand (13 Augustus) by sy huis in Klerksdorp aan natuurlike oorsake oorlede. Ten tye van sy afsterwe was hy op 80 nog ’n aktiewe navorsingsgenoot in die Navorsingseenheid vir Taal en Literatuur in die Suid-Afrikaanse konteks van die NWU se Potchefstroomkampus.

Die Afrikaanse taalkunde was Christo se hele lewe, in die eerste plek as dosent aan Tukkies vanaf die beginjare ’60. Daarna word hy professor in Afrikaanse taalkunde aan die UOVS, waar hy ook as departementshoof dien. Van sy oudstudente speel tot vandag toe nog ’n leidende rol in die Afrikaanse akademiese wêreld.

As navorser het Van Rensburg min gelykes in die Afrikaanse taalwêreld. Reeds vroeg in die jare ’60 begin hy met intensiewe en uitgebreide navorsing oor die dialekte van Afrikaans vir die destydse Afrikaanse Taalatlas, maar hy sal veral onthou word vir die omvattende navorsingsprojekte oor taalvariasie in Afrikaans, soos dié oor die Afrikaans van die Griekwas in die tagtigerjare. Sy navorsing oor die variëteite van Afrikaans is nou nog die inspirasie vir nuwe navorsing, want daar is min mense wat ander navorsers so kon motiveer. Vir sy bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal ontvang hy vroeër vanjaar die gesogte Jan H Marais- en ook die CJ Langenhoven-prys.

Hy was akademikus in elke vesel en hy kon werk totdat die fynste besonderheid na sy sin perfek was. Tot Maandagmiddag was hy nog toegewyd besig met die Afrikaanse taalkunde toe hy die laaste afronding aan die bladproewe van sy nuwe boek oor die geskiedenis van Afrikaans aangebring het. Dit is ’n geskiedenis waarin die invloed van die inheemse tale op die ontwikkeling van Afrikaans deeglik en kreatief herwaardeer word.

Hy was ook ’n goeie leser wat die Afrikaanse letterkunde geken en waardeer het, en hy kon saamgesels oor ’n letterkunde ver wyer as net die Afrikaanse boek.

As mens sal baie hom mis, want ek weet nie van ’n vyand wat hy kon gehad het nie, want hy was ’n mens deur ander mense. Altyd vriendelik en innemend. Ek behoort te weet, want ons ken mekaar langer as wat ons mekaar nie geken het nie. Die leemte is groot vir sy familie, kollegas, wye vriendekring en die Afrikaansgebruikende gemeenskap, want aan grense het hy hom nie gesteur nie.

Afrikaans is ’n bietjie woordeloos in sy hartseer, want ’n groot woord is weg.

  • 5

Kommentaar

  • Wannie Carstens

    Hans, ek is dit 100% met jou eens. 'n Groot woord en 'n dik boom van kennis is weg. Ons moes nog soveel by hom geleer het. Ons eer hom vir wat hy wel nagelaat het. Mag hy as voorbeeld vir die volgende geslagte taalkundiges in die land dien. My innigste simpatie aan sy familie, en in die besonder aan sy kinders en kleinkinders vir wie hy so oneindig lief was.

  • Theodorus du Plessis

    Die verlies aan my mentor is groot. Dankie Hans (en LitNet), vir 'n gepaste huldeblyk.

  • Jacques Van Keymeulen

    Ik heb Christo pas een paar maanden geleden leren kennen, en we waren van plan elkaar meer te ontmoeten. Dat kan nu helaas niet meer. Mijn deelneming aan de familie en vrienden bij dit grote verlies.

  • Bruce Donaldson

    Baie dankie,Christo,vir die belangrike rol wat jy gespeel het in my akademiese loopbaan in die tagtigerjare en dankie vir jou vriendskap en vrygewigheid. Ek het en sal dit nooit vergeet nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top