Die kwessie wat in hierdie artikel aan die orde kom, is die vraag of Afrikaans spontaan uit Nederlands ontwikkel het en of Afrikaans die resultaat is van nie-Nederlandssprekendes wat Nederlands as teikentaal probeer bemeester het. Die artikel aanvaar die kontakhipotese en interpreteer die implikasies van die aanvaarding van hierdie beskouing.
Hoekom is dit so dat Noord-Amerikaanse Nederlandssprekendes en Nederlandssprekendes mekaar na eeue steeds goed kon verstaan, maar Afrikaans- en Nederlandssprekendes verkies om met mekaar liewer Engels te praat? Is Afrikaans dan minder Nederlands as wat algemeen aanvaar word? Die meeste tradisionele beskouinge oor die ontwikkeling van Afrikaans uit 17de-eeuse Nederlands neem aan dat moderne Afrikaans evolusionêr uit Nederlands ontwikkel het. Daarteenoor plaas navorsing sedert die opkoms van die sosiolinguistiek van die 1960’s oor die ontstaan van Afrikaans meer klem op die interpretasie van die bestaan van Afrikaans met verwysing na sy variëteite. Hieruit spruit die driedialekteorie van die 1980’s en die meer onlangse teorie van byvoorbeeld Christo van Rensburg, wat op die verskille tussen Afrikaans en Nederlands fokus, eerder as op die ooreenkomste tussen die twee. Hierdie artikel stel die tradisionele verwantskapshipotese teenoor die kontakhipotese en bespiegel ten slotte oor die Voorpos (Binnelandse Grensgebied) van die Kaapkolonie in die 18de eeu as die bakermat van Afrikaans. Dit beredeneer die vestiging van moderne Afrikaans as aanleerdersvariëteit binne die raamwerk van die intertaalteorie. Hierteenoor verklaar die aanhangers van die verwantskapshipotese moderne Afrikaans as die resultaat van spontane, evolusionêre ontwikkeling uit 17de-eeuse Nederlands. Die doelbewuste proses van die vernederlandsing van die Afrikaanse skryftradisie aan die begin van die 20ste eeu het die ontwikkelingsteorie onnatuurlik versterk. Dit is egter misleidend, omdat Standaardafrikaans in hoë mate ʼn abstraksie is, terwyl Omgangsafrikaans ʼn meer geloofwaardige vorm van moderne Afrikaans is. |
- Inleiding
Die vraag wat in hierdie artikel gevra word, is letterlik: Hoe Nederlands is Afrikaans? Met verwysing na die intertaalteorie kan die vraag meer wetenskaplik geformuleer word, naamlik: Is Nederlands histories die brontaal vir Afrikaans of was dit die teikentaal in die ontstaansgeskiedenis van Afrikaans? In meer populêre terme: Is Afrikaans aangebore Nederlands of is dit aangeleerde Nederlands?
Die gesprek oor die herkoms van Afrikaans verdiep sedert die vroeë 1980’s met die opkoms van die wetenskaplike belangstelling in die variëteite van Afrikaans, veral binne die raamwerk van die sosiolinguistiek. Aan die een kant is daar die meer tradisionele siening dat Afrikaans die spontane ontwikkeling van 17de-eeuse Nederlands is teenoor die ander uiterste, naamlik dat Afrikaans gebore is uit verskillende skakerings binne ʼn breë taalgemeenskap se pogings om Nederlands as teikentaal te bemeester.
Christo van Rensburg (2015b:1) argumenteer dat Afrikaanssprekendes en Nederlandssprekendes in Nederland en België mekaar nie maklik verstaan nie: Afrikaanssprekendes “sukkel om Nederlands te verstaan, en meermale neem hulle hulle toevlug tot Engels”. In vergelyking met die Nederlands wat ná 300 jaar nog in voormalige Nederlandse koloniale gebiede, byvoorbeeld Noord-Amerika, gebruik is, is Afrikaans minder toeganklik vir moderne Nederlandssprekendes, redeneer Van Rensburg verder in die artikel op dieselfde bladsy.
Daar bestaan na die beste van my wete nie enige omvattende, gepubliseerde empiriese navorsing oor die onderlinge verstaanbaarheid tussen Nederlands en Afrikaans nie. Selfs ʼn voorstander van die hegte band tussen Afrikaans en Nederlands, soos Petrus van Eeden (1998:125), merk op: “Die Afrikaner verstaan selfs vandag Nederlands, sonder skoling daarin ...” Hy voeg egter daaraan toe (1998:125 voetnoot 35) dat dit eers “na ʼn blootstellingsperiode van ongeveer twee weke” is! Van Eeden gee ongelukkig nie verdere besonderhede van die aard van hierdie blootstelling nie. Hy skryf (1998:144) verder oor die opstel van norme vir Afrikaans: “Indien opdrag gegee sou gewees het aan voorstanders van die Patriotspelling, sou Afrikaans vandag heel anders gelyk het, en ook onleesbaar vir die Nederlandstalige gewees het.” (Vergelyk verder die bespreking van die vernederlandsing van Afrikaans in afdeling 4 hier onder.)
Teen hierdie agtergrond kan dit my vergewe word as ek in hierdie verband uit eie ervaring meld dat Vlaamssprekende studente wat ʼn lesingreeks oor die Afrikaanse taalkunde in 2015 aan die Universiteit van Antwerpen gevolg het, my versoek het om liewer die kursus in Engels aan te bied, aangesien hulle nie my Afrikaans verstaan nie. Eers hier teen die agtste lesing van 12 kon ons gemakliker met mekaar in Nederlands en Afrikaans kommunikeer.
Kan ʼn mens hieruit aflei dat Afrikaans se geskiedenis daarop dui dat die taal met verloop van tyd nie noodwendig spontaan ontwikkel het nie en dat Afrikaans en Nederlands nie bloedfamilie is nie? Die punt is dat ons mekaar nie sonder meer verstaan nie. Hoekom dan nie?
Hierdie artikel sluit aan by Van Rensburg (2012, 2015a, 2015b en 2016) se hipotese dat Afrikaans nie evolusionisties uit Nederlands ontwikkel het nie, maar eerder ʼn aanleerdersvariëteit is wat al selfs vóór die koms van Jan van Riebeeck as intertaal aan die Kaap gebruik is en die moedertaal van nie net die Khoisprekende Kapenaars verplaas het nie.
Dit is nie die primêre doel van hierdie artikel om die ontstaan van hierdie aanleerdersvariëteit te beredeneer of te beskryf nie, maar om dié denkrigting verder te interpreteer. Met verwysing na die klassifikasie van opstelle op skool moet hierdie artikel nie net as feiteopstel gelees word nie, maar eerder as ʼn bespiegelende opstel. Dit is die doel van hierdie artikel om die vestiging en verspreiding van Afrikaans as aanleerdersvariëteit te probeer interpreteer en dit is daarom spekulatief en polemies van aard. Ten einde hierdie doel te kan bereik, word daar slegs oorsigtelik aandag geskenk aan twee benaderings tot die ontstaan van Afrikaans, sonder om voor te gee dat dit die enigste geldige benaderings is. Op grond hiervan kan daar ten slotte bespiegel word oor die herkoms en vestiging van moderne Afrikaans.
Die uitgangspunt van hierdie artikel is dat ʼn vroeë vorm van Aanleerdersafrikaans, wat ek ten slotte Voorposafrikaans sal noem (vergelyk afdeling 3 hier onder), deur ʼn verskeidenheid Afrikaanssprekende groepe in die grensgebiede gevestig is en verder noord van die Oranjerivier versprei is deur groepe Afrikaanssprekendes, soos Khoi, trekboere, Oorlams, Basters en veeboere. My interpretasie dui daarop dat hierdie Afrikaans die kern vorm van die taal wat ons vandag Afrikaans noem.
Dit moet reg van die begin af duidelik gestel word dat hierdie artikel nie daarop uit is om die aanvanklike rol van Nederlands as teikentaal vir die oorspronklike Afrikaanssprekendes te ontken nie, en dat moderne Afrikaans binne ʼn aangepaste teoretiese raamwerk van die intertaalteorie as aanleerdersvariëteit beskryf kan word.
Ter wille van duidelikheid kan daar onderskei word tussen moedertaalsprekers van ʼn bepaalde taal en sprekers van dieselfde taal wat dit later as bykomend tot hulle eie moedertaal aanleer. ʼn Moedertaalspreker is iemand wat die taal as baba op natuurlike wyse verwerf, teenoor ʼn aanleerder, wat dieselfde taal naas sy of haar eie moedertaal op enige latere stadium aanleer. Die aanleerder se poging om die doeltaal te beheers vertoon uiteraard nog kenmerke van sy of haar moedertaal, wat as die brontaal beskou word. ‘n Moedertaal kan daarom as ʼn aangebore taal beskou word, teenoor ʼn aangeleerde taal.
Teen hierdie agtergrond kan daar onderskei word tussen moedertaal en aanleerderstaal. By die aanleer van ʼn tweede of vreemde taal vorm “(e)lke ontwikkelingstadium ... ʼn tussengeleë taalsisteem (ʼn grammatika en leksikon) as deelversameling van ʼn reeks sisteme wat ʼn intertaalkontinuum vorm tussen die moedertaal (T1) en die doeltaal,” argumenteer Van Jaarsveld (2001:1148–9). Binne hierdie kontinuum word daar twee vlakke tussen die brontaal en die doeltaal (ook bekend as teikentaal) onderskei, naamlik tussentale wat moedertale word, byvoorbeeld kreools, en gebroke tale, byvoorbeeld gebroke en stabiele pidgin. Hierdie tussentale word ook aanleerdersvariëteite genoem. Die intertaalteorie aanvaar die onderskeid tussen moedertaal en aanleerderstaal.
Barbara Bosch (1989:14–5) wys daarop dat insigte oor die konsep intertaal hoofsaaklik op taalgebruiksdata gegrond word “en die uitgangspunt is dat indien moedertaalsprekers van taal A daarna streef om ’n nuwe doeltaal aan te leer, ’n aanleerdersvariëteit wat as ’n intertaalstadium beskou kan word, ontstaan”. Die spreker van die aanleerderstaal streef daarna om die teikentaal te bemeester en die variëteit van die aanleerder op enige stadium op pad na die intertaal toe word dan die intertaalvariëteit van die aanleerder genoem omdat die taal van die aanleerder noodwendig verskil van die taalgebruik van die moedertaalspreker van die teikentaal.
By die interpretasie van Afrikaans as aanleerdersvariëteit word daar verder in hierdie artikel uitgegaan van die standpunt dat die studie van variasie nie net die diachroniese studie van ʼn taal stimuleer nie, maar ook die geskiedenis daarvan kan verhelder (Du Plessis 1995:144 en Van Rensburg 2016). Dit vind aansluiting by die siening van taalkundiges soos Janda en Joseph (2003) wat Bailey aanhaal. Die strekking hiervan is dat die geskiedenis van ʼn taal die geskiedenis van sy omgangsvariëteite is, eerder as die geskiedenis van die standaardvariëteit:
[T]he history of […] language is the history of vernaculars rather than standard languages. Present-day vernaculars evolved from earlier ones that differed remarkably from present day textbook[-varieties] […].These earlier vernaculars, rather than the standard, clearly must be [...] the focus of research into the history of [...] [languages]. (Janda en Joseph 2003:8)
Judith Nobels (2013:123) argumenteer dat tradisionele taalgeskiedenisse van baie Europese tale gebaseer word op die taalgebruik van die hoër klas. In die meeste gevalle was die meerderheid van die sprekers nie uit die hoë klas nie. Sy wys daarop dat die klem op die studie van die ontwikkeling van ʼn uniforme standaard gelei het tot beperkte taalgeskiedskrywing. Dat daar verskeie geldige redes bestaan vir sodanige benadering, is te verstane, maar “Wat ook moge hebben meegespeeld, deze situatie betekende in alle gevallen een vertekening van de gevarieerde taalwerkelijkheid uit het verleden.”
Ook in die geval van die studie van die Afrikaanse taalgeskiedenis dien die Nederlands van die hoër klas van die 17de- en 18de-eeuse amptenary dikwels as basis vir die beskrywing van die ontwikkeling van Afrikaans tot talige eenvormigheid. In afdeling 4 hier onder word daar geargumenteer dat selfs die taalgebruik van die hoër segment aan die einde van die 19de eeu die basis word waarop die taalgeskiedskrywing van die 20te eeu gegrond word. Dit impliseer dat Afrikaanse taalvariasie wat vóór die formalisering van die Afrikaanse skryftaal bestaan het, nie die beskrywing van die geskiedenis van Afrikaans aanvul nie.
Hierdie siening veronderstel die verskuiwing van die fokus wanneer daar oor die ontstaan en die geskiedenis van ʼn taal besin word. Dit sal verderaan in hierdie artikel duidelik word dat die ontstaansgeskiedenis van Afrikaans eerder vanuit die geskiedenis van die variëteite van Afrikaans beskryf kan word. Veral omdat dit wat ons vandag as Standaardafrikaans beskou, nie sonder meer die betroubaarste weerspieëling van vroeë Afrikaans is nie (vergelyk afdeling 4 hier onder). Dit kan selfs misleidend wees as die ontstaan van Afrikaans net vanuit ʼn fokus op hedendaagse Standaardafrikaans onderneem word.
Lees ook: |
---|
• NeerlandiNet |
• LitNet Akademies-resensie-essay: Ons gaan 'n taal maak deur JC Steyn |
In die 1970’s sou so ʼn benadering sonder meer verwerp gewees het, omdat dit aansluit by iets soos kreolisering. Kreools, weet ek uit eie ervaring, was toe nie ʼn algemeen aanvaarbare term wanneer daar oor die ontstaan van Afrikaans gepraat is nie. Hoe fel die reaksie was as iemand dit sou waag om Afrikaans ʼn kreoolse taal te noem, spreek byvoorbeeld uit HJJM van der Merwe (1972:34–8) se reaksie op Marius Valkhoff (1966) se stelling, soos verwoord deur Van der Merwe, dat die rol van Maleis-Portugees as ʼn bron vir die ontstaan van Afrikaans verreken moet word. Valkhoff verwys na die Hollandse swemspan wat Suid-Afrika in 1963 besoek het, en sê dat hulle en Afrikaners mekaar nie kon verstaan nie. Dit, sê Van der Merwe (1972:35), is “doelbewuste onsin om te probeer bewys dat Afrikaans sy ontstaan in Kreools-Portugees het en nie in Hollands nie, waardeur hy dan wil bewys dat ons albosentriste voortdurend wys op die groot ooreenkoms tussen Afrikaans en Nederlands omdat ons nie nieblanke invloed wil erken nie”. In sekere politieke kringe is kreools selfs vandag nog ʼn taboewoord wanneer dit met verwysing na die ontstaan van Afrikaans gebruik word, al is dit as taalkundige term neutraal.
Miskien sou ʼn vereenvoudigde opsomming (ter wille van ʼn meer verstaanbare verloop van die kernargument van hierdie artikel) van die huidige taalkundige gesprek oor die ontstaan van Afrikaans juis iets wees in die orde van “Afrikaans is Nederlands met kreoolse kenmerke” teenoor “Afrikaans is Kreools met Nederlandse kenmerke”.
Kom ons noem, ter wille van die gesprek, eersgenoemde die verwantskapshipotese en laasgenoemde die kontakhipotese. Die verwantskapshipotese fokus op moderne Afrikaans as die evolusionêre produk van die ontwikkeling uit 17de-eeuse Nederlands, terwyl die kontakhipotese Afrikaans as ʼn aanleerdersvariëteit van 17de-eeuse Nederlands benader.
Teen hierdie agtergrond kan die ontstaansgesprek verder gevoer en geïnterpreteer word.
- Drie teorieë
Byna as oorgang tussen bogenoemde twee hipoteses staan die teorie wat Afrikaans se geskiedenis terugvoer na drie basiese dialekte. Tereg sal die ingeligte leser onmiddellik vra hoekom net hierdie teorieë? Daar is immers nog vele ander beskouinge oor die ontstaan van Afrikaans – vergelyk byvoorbeeld Ponelis (1993:69 ev) se uiteensetting daarvan. Die antwoord is dat verwantskapshipotese en kontakhipotese gerieflike sambreelterme is wat die twee pole van die huidige gesprek oor die ontstaan van Afrikaans tipeer en dat die driedialekteorie die ontwikkeling van idees oor die ontstaan van Afrikaans kan verduidelik.
2.1 Die verwantskapshipotese
Meyer de Villiers (sj:4) argumenteer dat daar twee redes is hoekom ons mag aanneem dat daar ʼn “eng verband” tussen Afrikaans en Nederlands is, die een taalkundig van aard en die ander histories van aard. De Villiers voer dan as taalkundige argument aan dat Nederlandssprekendes en Afrikaanssprekendes mekaar verstaan, terwyl Duits- en Engelssprekendes nie Afrikaans verstaan nie! Hierdie standpunt bots met Van Rensburg en met Valkhoff se waarnemings, soos hier bo bespreek.
De Villiers (sj:8 ev) wys in hoofstuk 2 ook op die “duidelike sisteem” wat daar bestaan in die verskil tussen Afrikaans en Nederlands. Dit gaan met ander woorde in die spontane beskouing om die beskrywing van sistematiese verandering in die ontwikkeling van Afrikaans uit Nederlands. Dit veronderstel ʼn natuurlike, of dan spontane, proses van reëlmatige ontwikkeling van moderne Afrikaans uit ou Nederlands.
Edith Raidt, as ʼn belangrike eksponent van die verwantskapshipotese, verklaar met groot stelligheid: “Ons weet dat Afrikaans uit 17de-eeuse Nederlands ontwikkel het” (Raidt sj:171). Die ontwikkeling wat hier ter sprake is, is die gevolg van “normale taalverandering,” meen sy (sj:173). Sy wys wel daarop (sj:93) dat die kontak tussen Nederlands en Khoi reeds van die landing van Van Riebeeck af bestaan het en dat daar ʼn “werkgewer-werknemer-situasie” was. Sy aanvaar verder in dieselfde paragraaf dat die amptenary wye handelskontakte met die Khoi gehad het. Teen 1679 word die eerste plase anderkant die Kaapse Vlakte aan vryburgers toegeken en taalkontak word in daardie tyd ook algemeen met ander Europese immigrante aan die Kaap.
Ofskoon van die literatuur oor die Kaapse samelewing van daardie tyd (vergelyk byvoorbeeld Giliomee 2003:2–3) die skaal van hierdie soort kontak met die Khoi betwyfel, het taalkontak reeds van 1595 af tussen Khoi en Nederlands bestaan (vergelyk Nienaber 1963:6 ev en Van Rensburg 2016:1). Raidt verkies om die taalkontaksituasie te onderbeklemtoon en doen selfs doelbewus moeite om te beklemtoon dat die “opgevoede” Nederlanders aan die Kaap moeite doen om hulle Nederlands versorg te gebruik en goeie Nederlands in stand te hou (sj:176). ʼn Mens wonder egter wat die invloed van hierdie groepie sprekers op die taal van die Kaap was as die klein getalle van in die groep in ag geneem word. Volgens Ponelis (1993:2) was daar in 1661 105 sogenaamde vryliede en 120 VOC-amptenare. VOC-amptenare sluit egter soldate en matrose in, wat beteken dat die “opgevoede Nederlanders” inderdaad, soos wat die Nederlandse historikus Bart de Graaff (2015:30) dit stel, “het kleine aantal Compagniesdienaren” was.
Dit is uit die literatuur duidelik dat voorstanders van die verwantskapshipotese oor die ontstaan van Afrikaans hoegenaamd nie die taalkontaksituasie aan die vroeë Kaap ontken nie, al pas dit nie in by hulle teorie nie. Die evolusionêre ontwikkeling of dan “normale verandering” van Nederlands aan die Kaap word egter oorbeklemtoon. Die voorstanders van die verwantskapshipotese onderskat die belangrike rol wat die taalkontak van Afrikaanssprekendes in die grensgebiede gespeel het en konsentreer te veel en te eensydig op die inwoners van die Kaapse Skiereiland en die onmiddellike omgewing.
Volgens Van Rensburg (1997:2) het die Nederlandse amptenare van die VOC aan die Kaap “’n formele soort sewentiende-eeuse Nederlands gepraat”. Streng gesproke is die frase “Nederlands aan die Kaap” in die 17de eeu weinig meer as ʼn metafoor, want dit is bloot ʼn gerieflikheidsterm vir ʼn moeilik definieerbare taalvorm. In die eerste plek was die seelui, en selfs die kompanjie-amptenare, nie almal gebore Nederlanders nie, en dus nie almal moedertaalsprekers van Nederlands nie. Tweedens was daar van ʼn gestandaardiseerde Nederlands in die 17de eeu nog nie werklik sprake nie. Raidt (sj:104) wys daarop dat selfs die Nederlanders aan die Kaap nie almal dieselfde vorm van Nederlands gebruik het nie: “Uit die aard van die saak was hulle Nederlands nie ʼn volledige refleksie van Europese Nederlands van die 17e eeu nie.” Hulle het jare lange kontak met Nederlandse seemans- en handelstaal gehad. Onder Nederlands aan die Kaap moet ʼn mens daarom nie ʼn homogene taalvorm verstaan nie. Dit impliseer ook dat veral die inheemse Kapenaars, seelui, soldate, die vryburgers en die slawe hulle meer geredelik tot ʼn aanleerdersvariëteit van Nederlands as onderlinge omgangstaal sou wend. Die aandeel van die Khoi in die ontstaan van hierdie vroeë variëteit, en die feit dat dit reeds vóór die koms van Van Riebeeck ontstaan (Nienaber 1994:139 en afdeling 2.3 hier onder), lei daartoe dat dit verder in hierdie artikel Khoi-Afrikaans, en nie Khoi-Nederlands nie, genoem word.
As toonaangewende eksponent van die kontakhipotese voer Van Rensburg aan dat “Afrikaans se geskiedenis nie aanduidings gee dat tale met verloop van tyd vanself verander nie.” Hy argumenteer (Van Rensburg 2015a:1):
Die opvallendste verskille tussen Afrikaans en Nederlands, is al meermale beskryf as prosesse wat verband hou met weglatings, opheffings, en vereenvoudigings (Raidt 1976:186 ev), of uitstoting, verlies, en verdwyning (Van der Merwe 1972:53, 59–61), en kan in dié terme geïllustreer word aan:
- tussenvokaliese konsonantweglating (schouder/skouer; hebben/hê),
- die opheffing van die tweeklassesisteem by selfstandige naamwoorde (de/het-naamwoorde), en
- die vereenvoudiging van die Afrikaanse werkwoordstelsel, ten opsigte van persoon en getal (hij werkt/zij werken); en tydsaanduiding, waar nie van imperfektumvorme gebruik gemaak word nie (loop/liep; zit/zat).
Die verwantskapshipotese aanvaar dit wat Van der Merwe (1972:17) aanhaal: “Afrikaans stoelt op het Nederlands” en, voeg hy onthuts by, dat daar “diegene is wat sowaar die spontane ontwikkeling van Afrikaans uit Nederlands ontken”!
Dit is nie die doel van hierdie artikel om in besonderhede in te gaan op die verskillende tradisionele argumente ten gunste van die verwantskapshipotese nie. Dit gaan hier bloot daaroor om aan te dui dat dit oor die algemeen beskouings oor die spontane ontwikkeling van Afrikaans uit Nederlands behels, terwyl die meer onlangse teorieë, veral sedert die 1980’s en die sosiolinguistiese belangstelling in die studie van die variëteite van Afrikaans, ʼn ander benadering tot die geskiedenis van Afrikaans voorstel.
2.2 Die driedialekhipotese
Die driedialekbenadering tot die ontstaansgeskiedenis van Afrikaans is in ’n sekere sin ʼn oorgang tussen die ontwikkelings- en die kontakhipotese. Nêrens in die literatuur van die voorstanders van hierdie benadering word dit eksplisiet so gestel nie, maar dit sal uit die bespreking wat hier onder volg, duidelik word dat Oosgrens- of Transvaalse Afrikaans ʼn meer spontane ontwikkeling uit 17de-eeuse Nederlands kan veronderstel, terwyl Khoi-Afrikaans en Slawe-Afrikaans duidelik aanleerdersvariëteite is wat die moedertale van die Khoi en van die slawe onderskeidelik verplaas het. Daarom is die driedialekhipotese byna ’n hibridiese hipotese tussen die verwantskapshipotese en die kontakhipotese.
Teen die agtergrond van die intertaalteorie word geargumenteer dat sodra een of meer tale met mekaar in kontak kom, sodanige tale mekaar op verskillende maniere beïnvloed. In ’n koloniale situasie, soos in die Kaapse samelewing van die middel van die 17de eeu, word die taal van die koloniseerder die teikentaal van die gekoloniseerde. In die geval van die Kaap net na die koms van Van Riebeeck in 1652 het Nederlands toenemend die teikentaal vir die Khoisprekende inwoners van die suidpunt van Afrika geword. Die Khoi streef dus daarna om Nederlands te praat, maar bereik nie die teikentaal nie. Die Khoi verwerf dus ʼn intertaalvorm van Nederlands, Khoi-Afrikaas, naas hulle moedertaal Khoi (Du Plessis 1994 en Van Rensburg 1994).
Volgens Schoeman (2012:120) kry Van Riebeeck dit in 1658 reg om die eerste slawe in die Kaap te kry en op 28 Maart, skaars ses jaar ná die koms van die VOC, kom die eerste 82 slawe in die Kaap aan. Hierna word slawe uit Afrika en verskillende dele van die Ooste na die Kaap ingevoer. Al het baie van die slawe Oosterse tale gepraat, impliseer die uiteenlopende herkoms van die Kaapse slawe dat hulle selfs met mekaar moes kommunikeer in ʼn taal anders as hulle moedertaal. Hiervoor word die eienaars se tale, wat Nederlands insluit, as teikentaal gebruik en in die strewe na die beheersing van die teikentaal ontstaan ʼn verdere intertaalvorm met ’n sterker Oosterse inslag en ’n ander sosiale reikwydte.
Aanleerders bereik egter byna nooit volkome die teikentaal nie, en verskillende variëteite van die intertaal is die gevolg hiervan. Hierdie intertaalvariëteite word dan op ʼn glyskaal van vaardigheid in die teikentaal benoem as pidgin, kreools en so meer. Daar word ook na hierdie vorme as aanleerdersvariëteite verwys.
Die derde variasie op Nederlands wat aan die Kaap vorm aanneem, is die Nederlands van die Nederlandssprekendes aan die vroeë Kaap, ’n Nederlands wat al gou en al meer van die Nederlands in Nederland verskil, omdat kontak daarmee al minder word, en omdat die VOC nie net Nederlanders as skeepslui, soldate en amptenare gewerf het nie.
Teen hierdie agtergrond onderskei aanhangers van dié sienng, soos Van Rensburg (1997) en Du Plessis (1994 en 1995), die vroeë aanleerdersvariëteite van die Khoi en die slawe reeds voor die einde van die 17de eeu as Afrikaanse variëteite. Daar word binne hierdie teoretiese raamwerk onderskei tussen die aanleerdersvariëteit van die Khoisprekendes as Khoi-Afrikaans en die variëteit van die slawe as Slawe-Afrikaans. Achmat Davids (1992) skryf insiggewend oor laasgenoemde aanleerdersvariëteit van Afrikaans. Die derde variëteit staan algemeen as Kaapshollands bekend. Waar daardie sprekers se taal nie meer volledig Nederlands was nie, was dit al Afrikaans, ofskoon dit nie as ‘n aanleerdersvariëteit beskryf kan word nie.
In die laat 1970’s word die belangstelling van Afrikaanse taalkundiges in die sosiolinguistiese variasie in Afrikaans gestimuleer deur die opkoms van die sosiolinguistiek, soos veral beskryf deur die Amerikaanse sosiolinguiste William Labov en Joshua Fishman. Variasiestudies onder meer onder die Griekwas en die Kaapse Maleiers lei tot ʼn nuwe siening van taalvariasie in Afrikaans. (Vergelyk die bespreking van die ontwikkeling van die Afrikaanse variasietaalkunde in Du Plessis 2001:69 ev.)
Op grond van variasiestudies in die 1980’s word die drie variëteite wat in die bostaande paragrawe onderskei is, verbind aan drie hoofvariëteite wat vandag in Afrikaans onderskei kan word (Van Rensburg 1997 en Du Plessis 1994). Van Rensburg (1997:7) wys daarop dat hierdie drie historiese variëteite verbind kan word met Kaapse Afrikaans, wat hoofsaaklik deur die slawe gepraat is, Oranjerivierafrikaans, waarin Khoi-Afrikaans neerslag gevind het, en Oosgrensafrikaans as die variëteit van die latere Oosgrensboere.
Van Rensburg (2015a en b) hersien egter self dié siening van die ontstaan van Afrikaans uit die drie historiese variëteite en op grond van sy navorsing kom hy tot die gevolgtrekking dat daar reeds vóór die koms van Van Riebeeck onder die Khoi ʼn Nederlandse aanleerdersvariëteit ontstaan het en wat as die begin van Afrikaans beskou moet word en dat die Khoi-aandeel in die ontstaan van Afrikaans nog sterker beklemtoon kan word.
Die driedialekbenadering gaan uit van die standpunt dat daar reeds teen die einde van die 17de eeu drie variëteite van Nederlands (of dan van vroeë Afrikaans) bestaan het, waarvan twee aanleerdersvariëteite was, naamlik ʼn Khoivariëteit, vandag bekend as Oranjerivierafrikaans, en die variëteit wat deur die slawe gebruik is en nou bekend staan as Kaapse Afrikaans. Khoi-Afrikaans het veral teen die Weskus op beweeg, terwyl die slawevorm min of meer tot die onmiddellike omgewing van Kaapstad beperk gebly het. Die Nederlandse variëteit (Kaaps-Hollands) versprei aanvanklik ooswaarts tot aan die oosgrens van die Kolonie en later verder noordwaarts, en word aanvanklik Oosgrens-, en later Transvaalse Afrikaans genoem.
2.3 Die kontakhipotese
Daar is reeds vroeër in hierdie artikel gewys op die klemverskuiwing in taalkundiges se beskouing van die ontstaan van Afrikaans. “In ’n soeke na die wortels van Afrikaans het vroeë taalkundiges op die raakpunte tussen Afrikaans en Nederlands gefokus. Die invloed van die nie-Europese tale het min aandag gekry. Gaandeweg is ’n rigtingverandering in hierdie studies opgemerk,” merk Van Rensburg (2013:1) reeds in die opsomming van ʼn artikel oor Khoi-Afrikaans op. Die siening oor die dialektiese ontstaan van Afrikaans wat in die voorafgaande afdeling uiteengesit is, is ʼn sprekende voorbeeld van sodanige klemverskuiwing waaroor taalkundiges, soos Den Besten (1989) en Ponelis (1995), naas die variasiekundiges, hulle uitlaat. Van Rensburg (2015 en 2016) se meer onlangse siening plaas die invloed van Khoi op die ontstaan van Afrikaans nie net meer sentraal nie, maar dui ook op die bestaan van ʼn Afrikaanse intertaalvariëteit nog voor die koms van Jan van Riebeeck. Hierdie dialektiese vorm van Afrikaans word later na die binnelandse grensgebiede versprei deur verskillende groepe sprekers. Van Rensburg meen op dieselfde plek selfs dit “kon moontlik die belangrikste fase in die geskiedenis van Afrikaans gewees het, waartydens die manier waarop dit gepraat is, indringend gewysig is”.
Dat daar in die geskiedenis van Afrikaans al van so vroeg af as 1595 taalkontak tussen Khoi en Nederlands was, is natuurlik nie ʼn nuwe insig nie, want GS Nienaber (1963:6 ev) toon dit al meer as 50 jaar gelede aan. Van Rensburg (2016:1) argumenteer dat Khoi-Afrikaans heel moontlik met die besoek van De Houtman se vloot aan die Kaap in 1595 begin het as die Aanleerdersnederlands van die Khoisprekers wat Nederlands probeer praat het. Dit impliseer dat Khoisprekendes Nederlands as teikentaal gesien het. Dit was aanvanklik vir die Skiereilandse Khoi nodig om Nederlands aan te leer vir handelsdoeleindes omdat ruilhandel met die skeepslui voordelig gelyk het. Die skepe was naamlik aangewese op die inheemse inwoners vir produkte soos vars water en vleis. Mettertyd was die kontak nouer en van die Khoi moes Nederlands ook aanleer vir die uitvoer van beperkte administratiewe pligte. Daar was ook sprake van nouer skakeling met die ander Nederlandsvreemde sprekers aan die Kaap. Hierdie sprekers het volgens Van Rensburg (2016:22) egter nie by Nederlands as doelwittaal uitgekom nie. Khoi-Afrikaans is in ʼn diglossiesituasie naas Khoi gebruik, wat daarop neerkom dat Khoi-Afrikaans die prestigetaal vir sommige Khoisprekers geword het en dat dit hulle moedertaal teen die einde van die 17de eeu verplaas het. Uit hierdie kontak tussen Khoi en Nederlands ontstaan ʼn vorm van vroeë Afrikaans van aanvanklike Khoisprekers wat al merkbaar nie meer Nederlands is nie.
Hierdie variëteit van vroeë Afrikaans word ná die vestiging van vryburgers sedert 1657 verder as die Kaapse Vlakte versprei omdat heelwat Khoi en vryboere as veeboere en veeherders oor die berge uit die Skiereiland trek en al dieper die grensgebiede (waarna verder in hierdie artikel verwys sal word as die Voorpos, soos gemotiveer in die volgende afdeling) inbeweeg.
Die gevolg van hierdie ooswaartse beweging van Afrikaanssprekendes was dat Khoi-Afrikaans en die vroeë “Afrikaans” van die vryburgers (wat nie meer Nederlands was nie) vir die hele 18de eeu die twee hooftale in die binnelandse Voorposgebied, tussen die Hottentots-Hollandberge en die Gariep, word. Op die Voorpos het hulle mekaar oor en weer toenemend beïnvloed (Van Rensburg 2015b:7). Dit is immers te verstane dat mense wat met mekaar in een of ander verband saamleef, met die veeboerdery in hierdie geval as bindende faktor, mekaar ook op taalvlak moet beïnvloed.
Die omgangsvariëteite van ʼn taal is gewoonlik moeiliker verstaanbaar vir vreemdtaliges as die geskrewe standaardvorm van dieselfde taal. Die Afrikaanse variëteite wat daarom op die Voorpos gebruik is, moes toe al vir Nederlandse moedertaalsprekendes betreklik vreemd geklink het. Hoe dit ook al sy, die omgangstaal van die 18de-eeuse Voorpos moes al in hoë mate ʼn aanleerdersvariëteit gewees het wat vandag nie maklik volledig gerekonstrueer kan word nie, hoofsaaklik omdat dit nie ʼn skryftaal was nie, maar tog in die monde van ʼn verskeidenheid Afrikaanssprekendes geleef het en van die een geslag na die ander oorgedra is.
Die vraag wat hieruit voortvloei, is of hedendaagse omgangsvariëteite, soos Transvaalse Afrikaans en Oranjerivierafrikaans, nie eerder op die Voorposvariëteit van die 18de eeu geskoei is nie. Dit impliseer dat die moedertale van die Voorposmense deur hierdie aanleerdersvariëteit nog verder verplaas is, en nie spontaan uit 17de-eeuse Nederlands ontwikkel het nie. Dit kan verklaar hoekom moderne Afrikaans- en Nederlandssprekendes mekaar moeilik verstaan.
Wat het op die Voorpos gebeur dat Afrikaans hier ʼn selfstandige taal geword het?
- Voorposafrikaans
!Gaise !Gû re
As die leser van hierdie artikel op grond van bostaande Khoisinnetjie opstaan en loop, dan dui dit miskien daarop dat die Afrikaans wat in die 18de eeu op die Voorpos gepraat is, ʼn intertaalvariëteit met Khoi as doeltaal was. Indien die leser egter bly sit, het hy of sy nie verstaan dat die sin totsiens sê nie. Letterlik groet: Mooi loop moet!
Verder is dit so dat die veeboere op die Voorpos nie beduidend baie slawe gehad het nie (Schoeman 2012:741 ev). Slawe-Afrikaans se reikwydte het nooit veel verder as die Kaapstad-omgewing gestrek nie, en kon daarom nie die basis vir Voorposafrikaans gewees het nie.
Nou wat is dié Voorpos, en wat word met Voorposafrikaans bedoel, veral as dit nie net Khoi-, Slawe-Afrikaans of Nederlands is nie?
Ek verwys na die totale binnelandse grensgebied van die 18de-eeuse Kaapkolonie as die Voorpos. Die term wat tradisioneel vir die gebied tussen die Hottentots-Hollandberge en die Gariep gebruik word, is “die Oosgrens”, maar ek bedoel met “die Voorpos” hierdie hele streek en sluit daarby ook die totale gebied tussen die wes- en ooskus van die Kaap in. Soos wat “Oosgrens” of “binnelandse grensgebied” tradisioneel gebruik word, verwys dit na ʼn geografiese gebied. “Voorpos” dui vir my ook op die totale gebied suid van die Gariep, maar met uitsluiting van die vroeë buitedistrikte, wat wes van die Hottentots-Hollandberge gestrek het. Verder sluit dit ook nie die Boland en die Kaapse Skiereiland in nie.
Hoekom “Voorpos”? Omdat dit op sowel ʼn mentaliteit as ʼn geografiese gebied dui.
In 1893 lewer die Amerikaanse historikus Frederick Jackson Turner volgens Nigel Penn (1995:3) 'n lesing voor die American Historical Association in Chicago: "The significance of the frontier in American history". Turner se basiese stelling was dat die Frontier vir Amerikaners en hulle geskiedenis 'n onderskeidende kenmerk gegee het. Die Frontier was nie net 'n plek nie, maar 'n toestand of 'n proses waar die ongevestigdes die gevestigdes geword het deur fisieke beweging van trekkers die land in. Die Frontier was die voorpos van die beskawing, soos wat die Westerlinge beskawing gedefinieer het. Soos die Kaapse binnelandse grensgebiede was die Amerikaanse voorpos 'n gebied in konstante transformasie. Amerikaanse instellings en die Amerikaanse persoonlikheid spruit volgens Turner uit hierdie evolusie op die voorpos. (Kyk Du Plessis 2014 vir ʼn vollediger bespreking hiervan.)
Dit is ook van toepassing op die grensgebied van die Kaapkolonie, waar verskillende gemeenskappe mekaar in die 18de eeu intiem ontmoet en op mekaar aangewese is vir oorlewing, ook linguistiese oorlewing. Die omgewing, die aard van die veebedryf en die gemeenskaplike gebruik van meer as een vroeë variëteit van Afrikaans bind die Voorpos se mense saam in ʼn transformerende, nuwe gemeenskap.
Daarom die term Voorpos. Ek meen dit is wat Van Rensburg (2015a:7) impliseer as hy aanvoer dat dit die bakermat van Afrikaans is.
Hiermee word Nederlands as aanvanklike teikentaal van die Afrikaanse dialeksprekers op die Voorpos nie ontken nie, en dit is hoegenaamd nie wat die kontakhipotese doen nie. Die verskil tussen die voorstanders van die ontwikkelingsbenadering van Afrikaans uit Nederlands en die aanhangers van Afrikaans as aanleerdersvariëteit lê daarin dat die verwantskapshipotese fokus op die ooreenkomste tussen Afrikaans en Nederlands, terwyl die aanhangers van die kontakhipotese op die verskille konsentreer en ander voedingsbronne sonder bestaande taalverbande rekonstrueer.
Verder wil dit uit Van Rensburg se meer onlangse publikasies (2013, 2015 en 2016) voorkom asof hy in sy weergawe van die kontakhipotese vir slegs die Khoivariëteit voorsiening maak en nie vir drie nie, maar dit is omdat hy hierin konsentreer op die Khoi-aandeel in vroeë Afrikaans. Dit is egter duidelik dat Van Rensburg steeds met drie vroeë dialekte rekening hou, want hy verwys in sy artikels oor hierdie onderwerp steeds na Slawe-Afrikaans, Khoi-Afrikaans en Veeboerafrikaans. Van die skakerings van Kaaps het immers saam met die Afrikaanse uitbreiding van die 18de eeu neerslag in elkeen van Afrikaans se variëteite gevind. Veeboerafrikaans is niks anders nie as dit wat hy in sy vroeëre navorsing Oosgrensafrikaans of Transvaalse Afrikaans noem.
Sewentiende-eeuse Europese Nederlands was ʼn vreemdeling op die Voorpos, en soos reeds vroeër in hierdie artikel aanvaar is, hoef daar nie met iets soos Amptenaarnederlands rekening gehou te word nie. Die getalle van Nederlandse administratiewe amptenare in die laat 17de en die 18de eeu in die Kaap, en veral op die Voorpos, is weglaatbaar klein.
Van Rensburg (2012:43–6) gee heelwat toeligtende voorbeelde van die aard van Veeboerafrikaans. Hy skenk ook aandag aan die aard en plek van Khoi-Afrikaans en meen dat hierdie vorm van Afrikaans reeds baie van die Khoi se taal was toe hulle uit die Wes-Kaap getrek het en dat dit teen die 18de eeu al baie van hulle se moedertaal was (2012:47 ev). Van Rensburg (2012:47) aanvaar dat “(n)á ʼn eeu [...] daar baie min verskille tussen Khoi-Grensafrikaans en Veeboer-Grensafrikaans [was]”. Dit is hierdie Grensafrikaans wat ek Voorposafrikaans noem: die vorm van vroeë Afrikaans wat in die binnelandse grensgebied gepraat is. Dit vorm die basis van moderne Afrikaans. Dit ondersteun die stelling dat die Voorpos die bakermat van moderne Afrikaans is.
Teen hierdie agtergrond is dit ʼn baie belangrike stelling wat verdere bespreking verdien.
Die punt is dat die bewoners van die Voorpos in die 18de eeu byna deur die bank Afrikaanssprekend was, maar dit moet beklemtoon word dat hierdie primêre taalgemeenskap nie etnies homogeen was nie en volgens verskillende oorwegings taalkundig gedifferensieer was. Dit was nie ʼn homogene wit gemeenskap nie, al skenk min navorsers in besonderhede aandag aan die Boesmans, Khoi, Oorlams, Basters en trekboere op die Voorpos van die 18de eeu (vergelyk Penn 1995).
Daar was inderdaad meer groepe wat deel vorm van die Afrikaanssprekende Kaapse Voorpos, naamlik die Boesmans, Khoi, Oorlams, Basters, Trekboere, Europese veeboere en ʼn beperkte aantal slawe. ʼn Mens moet jou ook nie laat lei deur ʼn eenvoudige digotomie soos “Christen teenoor heiden” in hierdie groter gemeenskap nie. Dit was veel komplekser as dit.
'n Voorpos is net soseer die skepper van nuwe identiteit as wat dit die verwoester van ou identiteite is, redeneer ek in Du Plessis (2014) na aanleiding van die werk van Penn en die insig van Turner. Dit lyk vir my al meer na die skepper van die identiteit van moderne Omgangsafrikaans, veral as ʼn mens die uitspraak van Giliomee en Mbenga (2007:68) saamlees met die kontakhipotese: "Die gemeenskap is deur die gesproke woord saamgesnoer."
Dit is verder belangrik om daarop te wys dat die Afrikaanssprekende Voorposgemeenskap moeilik in etniese groepe verdeel kan word, want die grense tussen mense mag sosio-ekonomies gewees het, maar dit was nie op rasselyne getrek nie (Du Plessis 2014).
Teen hierdie agtergrond maak Van Rensburg se siening veel sin: die taal van die Voorpos was Afrikaans.
Daar kan egter nie uit voorgaande bespreking van die mense van die Voorpos in die 18de eeu afgelei word dat Voorposafrikaans linguisties homogeen was nie, want soos in enige taalgemeenskap moes daar sprake van sosiolinguisties variasie gewees het, al is daar geen konkrete skriftelike bewys dat daar verskillende dialekte van Afrikaans gebruik is nie. Die veldwagterbriewe, die spotdigte en namaak van Khoi-Afrikaans, en briewe van sendingstasies bevestig hierdie stelling. Die variëteite van die Voorpos leef vandag nog voort in die omgangsvariëteite van Afrikaans en in die moderne Afrikaanse kontreiliteratuur.
Weens die demografie van die Voorpos en die latere beweging van sprekers uit die Voorpos dieper die binneland in, veral met die Groot Trek, kon daarom kwalik in ʼn ander taal as Afrikaans gewees het. Dit impliseer natuurlik ook dat die eerste intieme kontak tussen die swart inwoners van suider-Afrika en dié van Wes-Europa in Afrikaans geskied het! Afrika en Europa ontmoet mekaar in Afrikaans byna twee eeue voor die sogenaamde “scramble for Africa”.
Die Voorpos is die bakermat van Afrikaans en Voorposafrikaans is die basis van moderne Afrikaans, maar is dit noodwendig dan moderne Standaardafrikaans?
- Interpretasie
Hoe Nederlands is Afrikaans – ons sukkel om mekaar te verstaan?
Die kwessie oor Afrikaans of Nederlands is nie nuut nie. JC Steyn (2014:28) verwys na die Nederlandse letterkundige Siegfried Huigen se uitspraak dat Afrikaans geen “tussentaal” is nie, maar “goeie negentiende-eeuse Nederlands, met hier en daar (Suid-) Afrikaanse woorde en uitdrukkings”. Die benaming “Afrikaans” teenoor “Hollands” is ook niks nuut nie (Steyn 2014:19). Teen die einde van die 19de eeu is na Afrikaans verwys as Hollands. Dié benaming is tot in die 19de eeu selfs in Nederland as benaming vir Nederlands gebruik en was tot in die 1930’s die algemene naam in Suid-Afrika.
Die weerstand teen Afrikaans aan die einde van die 19de eeu weerspieël iets van die houding teenoor Afrikaans, in teenstelling met Nederlands. ʼn Rede vir die teenstand teen die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) is ʼn uitspraak in die eerste nommer van hulle lyfblad, Di Patriot, naamlik: “Die ou’e Patriotte hou vas, en klou vas, an die Hollans taal” (Steyn 2014:20). Die GRA daarenteen wou juis nie Hollands wees nie. Hulle wou die plattelandse Afrikaans van die tyd weergee, en daarom het hulle geskryf soos wat hulle gepraat het. Die grootste deel van hierdie platteland moes die Voorpos gewees het. Steyn (2014:20) voer verder aan dat ʼn groot rede vir die teenstand teen die GRA geleë was in die “houding van die statusbewuste koloniale Afrikaners in die stede en dorpe: Hulle wou volgens Giliomee graag aanvaar word deur die toonaangewende Engelssprekendes, wat Afrikaans beskou het as ’n onwaardige openbare taal. Vir hulle was Afrikaans ’n verleentheid.” Die Afrikaans wat die GRA gebruik het, was inderdaad die omgangstaal van die tyd, die aanleerdersvariëteit van die Voorpos.
Hierdie teenstand was na my mening tekenend van die houding teenoor “die kombuistaal”, ʼn teenstand wat saamloop met die opkoms van Afrikanernasionalisme. Dit verklaar in ʼn sekere sin vir my die hele proses van doelbewuste vernederlandsing van Afrikaans aan die begin van die 20ste eeu (vergelyk die bespreking hier onder).
Afrikaans as spontane ontwikkeling uit Nederlands het beter ingepas by die poging om Afrikaans as “een enigste witmenstaal” op te eis, om die bekende uitspraak van CJ Langenhoven te probeer kontekstualiseer.
Dit kan die verloop van die geskiedenis van Afrikaans, en veral die doelbewuste vernederlandsing van Afrikaans aan die begin van die 20ste eeu help verklaar. Sowel Van Rensburg (2015b) as Steyn (2014) gaan in besonderhede hierop in.
My afleiding is dat dit die vernederlandste vorm van Afrikaans is wat in hoë mate hedendaagse Standaardafrikaans geword het. Dit het die filosofie van Afrikanernasionalisme gepas om die variëteite van Afrikaans uit die standaardvorm te definieer. Blatant gestel: Hoe nader Standaardafrikaans aan Nederlands is, hoe minder Afrika is daar in die taal. Dit word “suiwerder” Germaans. Meer Europees. Dit word op skrif makliker deur Nederlandssprekendes verstaan. Hierteenoor is Omgangsafrikaans moeiliker om te verstaan. Dit bevat immers meer elemente van die oorspronklike aanleerdersdialekte. Daarom is selfs moderne gesproke Afrikaans nie so heeltemal Nederlands as wat baie van ons dit graag sou wou hê nie!
Hoekom sukkel Nederlandssprekendes en Afrikaanssprekendes vandag nog om mekaar te verstaan? Die antwoord moet daarin geleë wees dat moderne Afrikaans in ʼn hoë mate uit Voorposafrikaans saamgestel is, en nie uit 17de-eeuse Nederlands ontwikkel het nie.
Die vraag is dan eintlik in watter mate moderne Afrikaans nog Voorposafrikaans is.
My ervaring is dat Nederlandssprekendes geskrewe Afrikaans makliker volg as wat hulle gesproke Afrikaans verstaan, en omgekeerd. Is dit moontlik dat moderne geskrewe Afrikaans nader aan Nederlands is as gesproke Afrikaans? Indien wel, dan is moderne gesproke Afrikaans in al sy skakerings nader aan Voorposafrikaans as moderne Standaardafrikaans. Is dit moontlik?
Daar is in alle tale ʼn verskil tussen die abstrakte standaardvorm van die taal en die gesproke omgangstaal. ʼn Standaardtaal is in ʼn sekere sin ʼn blote abstraksie. Dit is ʼn variëteit van die taal wat die meeste sprekers, maar veral die ingeligtes en geletterdes, kan gebruik en weet hoe dit gebruik behoort te word. Maar niemand gebruik dit werklik as omgangstaal nie. Eintlik is dit net ʼn geskrewe vorm van die taal of ʼn formele register wat in sommige formele of hoëfunksiesituasies gebruik word.
In die geval van Standaardafrikaans is dit nog meer ʼn abstraksie, omdat Standaardafrikaans doelbewus ʼn nabootsing van Nederlands as sogenaamde stamtaal is. Dit spruit uit ʼn houding dat daar in die aanvanklike standaardisering van veral die skryftaal rekening gehou moes word met Nederlands as die stamtaal (Steyn 2014:159–61). Steyn wys daarop dat taalpraktisyns en gewone gebruikers van die skryftaal aan die begin van die 20ste eeu moeilik van die Nederlandse skryftradisie kon loskom. Volgens Van Rensburg (2015b:6) is die skryftradisie van die GRA op die Afrikaans van die Voorpos gebaseer, maar juis om hierdie rede nie maklik aanvaar deur dié wat Afrikaans wou skryf nie.
Hieruit spruit ʼn doelbewuste vernederlandsing van Afrikaans aan die begin van die vorige eeu. “Vernederlandste Afrikaans is die resultaat van ingrypende veranderings wat in die eerste dekades van die twintigste eeu aan die Afrikaans van dialeksprekers aangebring is” (Van Rensburg, 2015b:5). Taalmakers het gesproke Voorposafrikaans “verbeter” deur dit met vernederlandste Afrikaans te vervang. Dit was daarom nie die spontane ontwikkeling van Afrikaans uit Nederlands nie. Daar was weinig “Nederlandse reste uit ʼn vroeëre stadium wat later herdoop is tot Afrikaans” sê Van Rensburg (2015b:6).
Teen die agtergrond van die betoog in hierdie artikel is Afrikaans nie die resultaat van die spontane ontwikkeling uit Nederlands nie. Ofskoon Nederlands die teikentaal van die 17de- en 18de-eeuse Afrikaanse taalmakers was, is moderne Afrikaans die produk van niewit en wit Voorpossers wat in ʼn ongenaakbare landstreek op mekaar aangewese was, nie net sosio-ekonomies nie, maar juis ook linguisties. In hierdie saambestaan was Nederlands ʼn veraf herinnering.
- Slot
Taal is wat ons praat, nie wat ons skryf nie, word aksiomaties in die taalkunde aanvaar. Die Afrikaans wat ons praat, is die Afrikaans wat al voor die koms van Jan van Riebeeck in die monde van die Kaapse bevolking vorm begin aanneem het. Afrikaans is aangeleerde Nederlands, nie aangebore Nederlands nie. Afrikaans ontstaan uit Nederlands as teikentaal vir die koloniale Kaap, nie as brontaal nie.
Bibliografie
Bosch, B. 1998. Die Afrikaans van Engelssprekende universiteitstudente: intertaalperspektiewe, Literator, 19(2):13–30.
Carstens, Adelia en Heinrich Grebe (reds). 2001. Taallandskap. Pretoria: Van Schaik.
Davids, Achmat. 1993. Die Afrikaans van die Kaapse Moslems 1815–1915. ‘n Sosiolinguistiese studie. Ongepubliseerde MA-verhandeling, Universiteit van Natal.
De Graaff, Bart, Caeser Hulstaert en Corine de Maijer. 2015. Zeeuwen aan de Kaap, verhalen uit Zuid-Afrika. Vlissingen: Uitgever Den Boer.
Den Besten, H. 1989. From Khoekhoe foreigner talk via Hottentot Dutch to Afrikaans: The creation of a novel grammar. In Pütz en Dirven (reds) 1989.
De Villiers, M. sj. Nederlands en Afrikaans. Kaapstad: Nasou.
Du Plessis, H. 1994. Taalkontakvariasie in Afrikaans. In Olivier en Coetzee (reds) 1994.
—. 1995. Taalverskeidenheid in Afrikaans as spieël van sy kontakgeskiedenis. In Ester (red) 1995.
—. 2001. Die ontwikkeling van die Afrikaanse variasietaalkunde. In Carstens en Grebe (reds) 2001.
—. 2013. Die Groot Trek 175: storie of historie. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 53(3):437–51.
Ester, H (red). 1995. Afrikaans in een veranderend context. Amsterdam: Suid-Afrikaanse Instituut.
Giliomee, H. 2003. The Afrikaners, biography of a people. Kaapstad: Tafelberg
Giliomee, H en B Mbenga. 2007. Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika. Kaapstad: Tafelberg.
Janda, RD en BD Joseph. 2003. On language, change, and language change – or, of history, linguistics, and historical linguistics. In Joseph en Janola (reds) 2003.
Joseph, BD en RD Janola (reds). 2003. Handbook of historical linguistics. Oxford: Blackwell.
Nienaber, GS. 1963. Hottentots. Pretoria: JL van Schaik.
—. 1994. Die ontstaan van Khoekhoen-Afrikaans. In Olivier en Coetzee (reds) 1994.
Nobels, J. 2013. (Extra)Ordinary letters. A view from below on seventeenth-century Dutch. Utrecht: LOT.
Olivier, G en A Coetzee (reds). 1994. Nuwe perspektiewe op die geskiedenis van Afrikaans. Halfweghuis: Southern.
Penn, NG. 1995. The Northern Cape Frontier zone, 1700–c.1815. Ongepubliseerde PhD-proefskrif. Universiteit van Kaapstad.
Ponelis, FA. 1993. The development of Afrikaans. Frankfurt am Main: Peter Lang 16.
Pütz, M en R Dirven (reds). 1989. Wheels within wheels. Papers of the Duisburg symposium on pidgin and creole Languages. Frankfurt am Main: Peter Lang.
Raidt, EH. sj. Afrikaans en sy Europese verlede. Kaapstad: Nasou.
Schoeman, K. 2012. Portrait of a slave society, the Cape of Good Hope, 1717–1795. Pretoria: Protea Boekhuis.
Steyn, JC. 2014. Ons gaan ʼn taal maak. Pretoria: Kraal Uitgewers.
Valkhoff, M. 1966. Studies in Portuguese and creole (with special reference to South Africa). Johannesburg: Witwatersrand University Press.
Van der Merwe, HJJM. 1972 (red). Afrikaans, sy aard en ontwikkeling. Pretoria: JL van Schaik.
Van Eeden, Petrus. 1998. Afrikaans hoort by Nederlands. Ons Afrikaanse taalverdriet. Howick: Brevitas.
Van Jaarsveld, GJ. 2001. Die intertaalteorie en taalverskeidenheid. In Carstens en Grebe (reds) 2001.
Van Rensburg, C (red). 1997. Afrikaans in Afrika. Pretoria: JL Van Schaik Akademies.
—. 2012. So kry ons Afrikaans. Pretoria: Lapa.
—. 2013. ’n Perspektief op ’n periode van kontak tussen Khoi en Afrikaans. Literator, 34(2). http://www.literator.org.za/index.php/literator/article/view/413/1230.
—. 2015a. Die onderlinge verstaanbaarheid van Nederlands en Afrikaans: ʼn verhaal van drie nedersettingstale. Ongepubliseerde lesing. Internationale Vereniging voor Neerlandistiek, Universiteit van Leiden. In skrywer se argief.
—. 2015b. Oor die eerste 50 jaar se maak aan Standaardafrikaans. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 55(3):319–42. http://www.scielo.org.za/pdf/tvg/v55n3/01.pdf.
—. 2016. Toe Afrikaans begin het. Ongepubliseerde artikel, voorgelê vir publikasie. In skrywer se argief.
Kommentaar
Heel interessant, maar na my mening gaan al die gestelde hipoteses mank aan 'n geloofbare oordragsmeganisme. Byvoorbeeld:
In die kontakhipotese, watter rede sou meerderwaardige Nederlandse koloniste hê om die Khoi se namaaksel aan te leer? En daarsonder, watter rede sou die Khoi hê om by nadere kontak te volhard met 'n namaaksel?
En in die verwantskapshipotese, watter rede sou enige Hollander hê om boers te wil lyk of klink voor sy gekultiveerde vrinne?
Nee, daar was 'n kritieke kontakterrein en -venster, en my sin is dat dit was tussen die taamlik heterogene "dienaarsgemeenskap" (ek's onseker wie almal tegnies of prakties slawe van die Hollanders was), wat dringende rede en ryke geleentheid gehad het om vinnig 'n kreolisering van Nederlands as ontwikkelende lingua franca te skep en te praat (die ware taalskeppers, eer hul nagedagtenis!), en die KINDERS van koloniste (onder dienaarsorg!) wat hierdie kreolisering onweerstaanbaar as eerste taal (en ware moedertaal) gehoor en geleer het, vlot daarin was, met Nederlands tussen mede-Hollanders aanvanklik na noodsaak en uiteindelik slegs vir amptelike doeleindes sou vervang het, maar na die ander kant ook hul eie kritieke bydrae tot die kreoolse lingua franca gemaak het. En als sommer gou-gou ook!
Die res is geskiedenis, reken ek, en g’n wonder dat Nederlands so vreemd (en lomperig, totdat jy ook sý skoonheid, anders as Afrikaans s’n, sien) klink nie.
Die demografie van die vroeë Kaapse gemeenskap dui myns insiens daarop dat die Nederlandse amptenare verreweg in die minderheid was. Die matrose en soldate het ook nie almal (dieselfde) Standaardnederlands gepraat nie - as daar toe al iets soos Standaardnederlands was. Kyk ook na die bevolkingsamestelling soos wat ander historici dit rekonstrueer. Verder was 'n kennis van Nederlands vir die Khoi belangrik omdat die handel met die Nederlanders vir hulle voordelig gelyk het. In sulke omstandighede is dit makliker dat 'n aanleerdersvorm van 'n taal die lingua franca word.
My vraag sou wees: Makliker vir wie? Ons praat tog oor opname van die ontluikende variant deur die Hollanders, dan nie? En húlle sou wel die variant verstaan, maar waarom dit praat, indien nie soos ek bo voorstel nie?
Wat demografie betref, sien asb my kommentaarbyvoegsel bo (of onder). Die Kaap was in die eerste plek kosvoorsiener, en die Hollandse en Europese bevolkingsgroei was sekerlik aan Vryburgerboere, gou gevolg deur hul slawe van oraloor in die belang van verhoogde produksie. En dan geld my argument sover ek kan sien soos gestel, en sterker, op die geografiese gebied van Kaap-plus-Vryburgerplase.
Dit opper egter, hoewel mi tersyde, Dan Roodt se geldige vraag (onder) na die invloed van die Hugenote: Heelwat van hulle was 'n oogwink ná van Riebeeck se koms op die toneel, doelbewus versprei tussen die Hollander-boere, en wesentlik verbied om Frans te praat. Watter soort Hollands sou húlle mee vorendag kom? Ek wou nou so graag oor iets met Dan saamstem, maar nee: ’n Bietjie nabetragting lewer dat die Hugenoot-Vryboere hul volkies se Hollands, te wete Afrikaans, sou praat; saak opgelos!
Maar terwyl ek Dan nou so mooi ter wille probeer wees: As hy reg is oor Afrikaans as invoerproduk kan die tekens daarvan tog nie in die taalgeskiedkundige sin verdamp nie. En ek kan my ook nie voorstel dat só 'n soepel spreektaal sonder dwang van die een of ander aard sou verdwyn nie. Is daar tekens daarvan te bespeur in Nederland en omstreke? Is daar enige Nederlandse dialek wat veral grammatikaal met Afrikaans ooreenkom? Anders, moet ek sê, kry my gewilligheid daar en dan ent!
Mens sou kon byvoeg en verfyn:
Op die plase was daar (as die reël, sou ek raai) Khoi-houvroue, en dus ook speelmaats vir die Hollandertjies, en die spreektaal sou niks anders as die ontluikende Afrikaans kon wees nie. Of nét die Khoivroue en hul kindertjies, almal reeds min-of-meer Afrikaanssprekend, met die Hollandse mans en boere dan gou net so. Anders sou die lewe darem saai en eensaam wees!
Ek sou ook wys op die merkwaardige ooreenkomste, grammatikaal en foneties, tussen die vroegste geskrewe Moslem-Afrikaans, die Taalstryders se pogings, en selfs Griekwa-Afrikaans. En dit desondanks die feit dat min-of-meer alle geletterdes in alle subgroepe tot by eersgenoemde bo in Hollands moes lees, skryf en aanbid!
Die gevolgtrekking lyk vir my moeilik te ontwyk dat die taal vroeg al gevestig was as volwaardige lingua franca. En as daar ander vatbare verklarings as myne hiervoor is hoor ek maar te graag van hulle!
Hier is baie hipoteses, maar maar min bewyse. Die polities korrekte "kreoolse teorie" het nog nie verder gevorder as Valkhoff se bevooroordeelde boekie uit die sewentigerjare, waarna die skrywer ook verwys nie.
Edith Raidt het Valkhoff se teorie grondig weerlê deur te wys op die rol wat Nederlandse dialekte by die ontstaan van Afrikaans uitgeoefen het. Die hele Europese dimensie van Afrikaans is benewens Raidt se boek wat eintlik as 'n soort handboek vir ondergraadse studente geskryf is, nog nooit na behore ondersoek nie. Onder meer omdat Afrikaanse taalkundiges nie genoeg van tale weet nie ... Die Lae Lande, asook die hele Noorde van Europa waarvan die VOC-amptenare en koloniste afkomstig was, is 'n mengelmoes van tale en dialekte. Daar was nie net kontak tussen Khoi en Nederlanders nie, maar ook kontak onderling tussen Europeërs wat verskillende dialekte van Germaanse tale gepraat het, tesame met die koms van die Hugenote natuurlik. Watter invloed het die Hugenote op Afrikaans gehad?
Opvallend is ook die groot rol wat Afrikaners met Franse vanne in die taalbewegings van die negentiende eeu, asook die opstand teen Engels, gespeel het.
Afrikaans het oor 'n lang tyd geweldig stabiel gebly, hoewel dit oor 'n groot gebied in Suid-Afrika en die oud-Suidwes (nou Namibië) gepraat is en word.
My eie teorie of hipotese is dat Afrikaans in klaargemaakte vorm uit Europa ingevoer is ... as 'n spreektaal naas Standaardnederlands. Nederlands was die geskrewe vorm en Afrikaans of Proto-Afrikaans die gesproke vorm. Regoor Europa het sulke situasies bestaan en bestaan vandag nog, waar mense hul dialek praat maar die Standaardtaal skryf of in formele situasies gebruik. Ek kan ten minste netsoveel bewyse daarvoor inbring as wat Du Plessis of Valkhoff vir hul kreoolsteorie kan inbring. Met verdere navorsing kan dalk bevind word dat Afrikaans veel meer Europees is as wat ons dink. Die hele "borrowing-from-below"-teorie van Labov is aanvegbaar, veral voor die koms van popkultuur en media toe die hoërstatusgroepe kwalik van onder beïnvloed kon word. Die verhaal van taal is die verhaal van status: ons sien vandag hoe Engels as statustaal van die staat en die handel 'n sterk aantrekkingskrag op feitlik alle etniese groepe in SA uitoefen. Mense in 'n kontaksituasie gryp dikwels na die sterkste standaardtaal, eerder as wat hulle 'n "tussentaal" tussen mekaar praat. Hoeveel mense kommunikeer vandag in Suid-Afrika met sy elf of meer tale in 'n "tussentaal" of pidgin of kreools (behalwe dalk 'n paar linkse Afrikaanse sangers wat dit doelbewus doen omdat hulle weet hulle maak Afrikaners se ore seer)?
Afrikaans het oor bykans vier eeue behoue gebly, ondanks twee standaardtale - Nederlands en Engels - wat dikwels met wapengeweld selfs in konsentrasiekampe (in die geval van Engels) afgedwing is. Tans word Afrikaans aggressief deur die staat en radikale groepe met slagspreuke soos "Afrikaans must fall" aangeval. Die feit dat die taal steeds sy lojale sprekers behou, sê vir ons dat dit 'n besonder sterk standaardtaal verteenwoordig wat dalk veel ouer is as wat ons dink, dalk nog ouer as Standaardnederlands of Engels ... Die feit dat dit eers vanaf die negentiende eeu geskryf is, mislei ons om te dink dat dit eers onlangs gestabiliseer het.
Daar is nog baie werk om te doen; ek kan net sien dat dit onder die huidige opgeruide toestande in Suid-Afrika waar ons 'n soort Sowjetrevolusie deurmaak nie gaan plaasvind nie en ook nie gepubliseer gaan word nie, omdat dit indruis teen die "amptelike doktrine" van vermenging, hibridisering, kreolisering, ens.
Naskrif: Die feit dat Nederlands en Afrikaans nie onderling verstaanbaar mag wees nie, of dan meer op skrif as andersins, bewys eintlik niks, want daar is vele soorte Engels wat ook nie onderling verstaanbaar is nie. In Frankryk word Québecois-Frans op TV gewoonlik van onderskrifte voorsien omdat die uitspraak ook moeilik vir Franse is om te verstaan, hoewel Québec en Frankryk een standaardtaal deel. Vele Germaanse dialekte in Noord-Europa is ook nie onderling verstaanbaar nie, sowel in die Lae Lande as in Duitsland en Switserland, en dit is nou tussen mense wat geografies al eeue digby mekaar woon en teoreties "dieselfde" standaardtaal soos Hochdeutsch of die ABN gebruik. Gesproke Afrikaans is heelwat nader aan die ABN as heelwat dialekte in Nederland en Vlaandere self. Al die sogenaamde "kreoolse eienskappe" van Afrikaans word ook deur etlike Europese tale en dialekte gedeel wat nooit aan kontaksituasies met nie-Europese sprekers blootgestel is nie.
Ek vermoed dat Nederlandse taalkundiges soos Valkhoff en Den Besten deur ander faktore gemotiveer word as bloot taalkunde deur Afrikaans as 'n kreools voor te stel. Sommige Nederlanders voel ook bedreig deur die gemak waarmee Afrikaans tweede- en derdetaalsprekers verwerf het, sodat byna 20 miljoen mense in Afrika dit reeds in mindere of meerdere mate verwerf het, terwyl min mense buite Nederland en Vlaandere ooit die moeite doen om Nederlands aan te leer. Dis 'n punt wat Gerard Reve tydens sy besoek aan Suid-Afrika ook gemaak het, dat Afrikaans eintlik in sommige opsigte baie beter met Engels kan meeding as Nederlands. Afrikaans is tegelyk volkstaal én kultuurtaal, en is nie soos Frans of Hochdeutsch deur 'n klompie aristokrate op die res van die bevolking afgedwing nie. As dit nie vir ons haglike politiek was nie, sou Afrikaans dalk teen dié tyd 'n wêreldtaal gewees het. Trouens dit is iets wat selfs as "Europees" sou kon deurgaan, synde afkomstig uit Noord-Europa en wat baie makliker aangeleer kan word as die meeste Europese tale met hul gekompliseerde grammatika en allerlei idiosinkratiese gewoontes (dink maar aan die Romeinse telwyse van Frans waar tagtig "vier-twintig" heet, negentig "vier-twintig-tien", ens).
Ek dink taalkundiges probeer te veel politiek speel en vir ons 'n "groot teorie" opstel. Hulle behoort veel eerder op kleiner, baie spesifieke kwessies te fokus, wat die boublokke kan word waarmee ons meer van Afrikaans kan verstaan. Met al die tegnologiese hulpmiddels wat vandag bestaan, behoort dit nie te moeilik te wees nie.
Dan Roodt kan ons gerus vollediger inlig oor sy teorie oor die ontstaan van Afrikaans, bv die rol wat die skeepstale van destyds gespeel het. Die indruk wat ek het, is dat sommige Afrikaanse taalkundiges, bv Gerhard van Huyssteen, eerder polities korrek as taalkundig verantwoordelik is. Wannie Carstens se boek oor hierdie onderwerp word, na beloftes wat letterlik oor jare strek, moontlik eersdaags gepubliseer. Dan sal daar waarskynlik opnuut heelwat stof vir verdere debat wees.
Beste Johannes Comestor,
Dis al lankal op my "doenlysie" om 'n artikel of twee oor die ontstaan van Afrikaans en die skeepstale te skryf. Ek sal dit graag hier aan LitNet Akademies of die Tydskrif vir Geesteswetenskappe wil voorlê.
In 'n neutedop kom dit daarop neer dat Afrikaans wat toe nog nie 'n naam gehad het nie, reeds as 'n lingua franca aan die Kaap "uitgespoel" het. Wat woordeskat en idiome aanbetref, is daar heelwat ondersteuning daarvoor. Feitlik elkeen van die "kreoolse eienskappe" van Afrikaans wat deur taalkundiges voorgehou word, is ook te vinde by Europese tale en dialekte.
Ek wil egter nog enige fonologiese studies wat daar oor Afrikaans gedoen is met Noord-Europese dialekte vergelyk, want ek voel dit mag dalk die sleutel wees. Afrikaans is 'n veel "sagter" taal as Nederlands en hoewel ons woordeskat 95% dieselfde is, is daar belangrike klankverskille tussen die twee tale wat dalk vanuit die Europese dialekte of die 17de-eeuse skeepstaal verklaar kan word.
Toe ek verlede jaar bietjie Sweeds begin leer het, het dit my opgeval hoe eenvoudig dié taal se grammatika is, 'n bietjie soos Afrikaans en daar is reeds allerlei gepubliseer oor die vereenvoudiging van die Skandinawiese tale, wat in dieselfde tyd as die ontstaan van Afrikaans plaasgevind het. Tydens die laat-Middeleeue was daar baie taalverandering, veral in Noord-Europa waar vrylik tussen stede handel gedryf is en hulle dus behoefte aan 'n lingua franca gehad het waarin hulle kon kommunikeer.
My hipotese is dat hierdie "eenvoudige Nederlands" wat later Afrikaans genoem sou word, in die Westelike deel van Noord-Europa as lingua franca gebruik is en dat al die matrose en Kompanjiesamptenare wat verskillende moedertale en dialekte gepraat het, bykans almal met proto-Afrikaans vertroud moes gewees het. Anders, in watter taal het hulle met mekaar gekommunikeer? Standaardnederlands was waarskynlik in daardie dae, afgesien van die hoëlui en die Rederijkers wat poësie daarin geskryf het, 'n vreemde taal. Dis ook opvallend hoe ryk Afrikaans aan 'n skeepswoordeskat is, terwyl die taal deesdae meesal in die binneland gepraat word en ons nooit werklik 'n maritieme mag soos Engeland of die destydse Nederland was nie.
Oor die afgelope 150 jaar het Afrikaans baie min verander, wat 'n aanduiding is van hoe stabiel en gevestig die taal reeds was, selfs sonder 'n geskrewe letterkunde of Bybelvertaling. Ek dink ook dis onmoontlik vir 'n taal soos Afrikaans om so lank teen twee kultuurtale soos Engels en Standaardnederlands te kon oorleef het, sónder dat dit reeds 'n bepaalde status gehad het, en wat teruggevoer kan word na sy voorgeskiedenis in Noord-Europa.
Ek verstout my om te sê: Noudat Engeland die EU verlaat het, kan Afrikaans maklik wéér die lingua franca van die hele Germaanssprekende Europa word, want dis eenvoudig, maklik om aan te leer, tegnies gevorderd, en toeganklik vir alle Nederlanders, Vlaminge, Duitsers en Skandinawiërs. Net die Romaanse taalsprekers van suidelike Europa sou dit nie so maklik kon aanleer nie. Ons sien egter hoe Engels internasionaal gedy op dié behoefte aan 'n lingua franca, iets waarin Afrikaans oor eeue heen insgelyks voorsien het ...
Vir Europa om sy onafhanklikheid teenoor die VSA te behou, sal hy egter 'n ander lingua franca moet vind, en dit kan nie een van die huidige nasionale tale wees nie. Dít so terloops.
Heelwat maande later, en tog moontlik hulpsaam om hier te noem, alhoewel nie noodwendig uit 'n amptelike vakgebied wat julle kenners hoog sal skat nie ...
Selfs 'n terloopse bestudering van die Noorse "Elder Futhark" met eenvoudige vergelyking tussen Ou Noors, Oud-Germaans ens. wys 'n verstommende ooreenkoms tussen Afrikaans en Oud-Noors, veral op 'n tipe “intuïtiewe klank-herkenning” vlak.
Byvoorbeeld: Fehu (wat glo uitwys na vuur, rykdom, magie) vergelyk met Afrikaanse "vee" soos in beeste, en misken selfs ook soos in "vee" om skoon te maak. Dit was die letter van Freya, vergelyk met die woord "feeks".
Nauhtiz wat basies dieselfde as "nodig" of "noodsaak" beteken in die konteks van die Taufr-spreuke.
Oftewel Uruz, wat weereens verbasend dieselfde as "oers" klink, en gewoonlik beteken "wild, ontembaar" ens.
Kenaz kan onmiddellik herken word as kennis, en dis asof die oorspronklike betekenis (wat te doen het met bv voorvaders, metaalsmeul, en selfs seks) baie nader aan ons innigste verstaan van die woord as sy woordeboekdefinisie is.
Die Futhark veral die "Elder Futhark" lyk vir my soos 'n verbasende sleutel tot moontlike insig in die Engels-Afrikaans verskil met die Engels wat meer na die oud-Germaans aard en Afrikaans 'n vreemde maar sterk trekking na Oud-Noors. Selfs woorde soos oorlog en die “heidense” ørlög, of orde en urðr en telke ander. Ek wys daarna uit omdat dit vir my voel as of sekere “volkseienskappe” en 'n amper obsessiewe trouheid en trots op "die Woord" as 'n taal, 'n wet amper, as die finale mag of bemagtiging (later ook met die gekerstening) iewers van baie ver en baie oud af kom en dat dit spesifiek met klank te doen het.
Miskien klink dit te esoteries maar wanneer mens begin kyk na ook veral geloofsterme wat besonders diep emosionele aanklank vind, "sier en ryn" asof gepraat van die Æsir of die rivier "Rhine" dan voel dit of iets van lank terug roep. Miskien klink dit soos nonsies en tog ...
Dit sou interesant wees om Dan Roodt se indrukke te lees ivm die skakel "Kaap se dinkskrum pleit vir oop inklusiewe Afrikaanse universiteit"
https://www.litnet.co.za/kaapse-dinkskrum-pleit-vir-oop-inklusiewe-afrikaanse-universiteit/#comment-84949
Ek het groot respek vir Hans du Plessis en waardering vir die werk wat hy doen. Ek meen egter, met alle respek dat hy te veel maak van die onderlinge "onverstaanbaarheid" van Afrikaans en Nederlands. Op sigself is dit korrek; ek het dit self al hoeveel kere meegemaak - waar Nederlanders en Afrikaanssprekendes bymekaar kom, moet hulle stadig en duidelik artikuleer, en selfs dan ontstaan misverstande soms. Tog, Hans misken 'n belangrike element: Aksent, oftewel wat ek graag noem die "musiek van die taal". In die Nederlandse taalgebied kan 'n Groninger en 'n Wes-Vlaming wat in hul onderskeie dialekte met mekaar probeer praat, mekaar ook bitter moeilik verstaan. Die geskrewe dialekte is veel makliker verstaanbaar. Hoekom? Omdat die Groningse dialek 'n ander "melodie" het as Wes-Vlaams, net soos Nederlands en Afrikaans wat van ander note gesing word. Dit kos jou nogal 'n tyd voordat jou oor die musiek onder die knie het. Ek sal dit tog waardeer as Hans hierdie aspek vorentoe dalk in sy gewaardeerde navorsing wil betrek.
Dankie Leopold. Ek stem saam dat ek die verskil tussen hedendaagse Afrikaans en Nederlands oorbeklemtoon. Ek sien nou ek het die verskil as ontstaansfaktor gestel, maar eintlik was dit bloot die een ding wat my weer oor die ontstaan laat dink het. Jou opmerkings help die gesprek vorentoe.
Meepraten over het ontstaan van het Afrikaans kan ik niet; ik ben daarin totaal onbevoegd. Maar ik kan u wel een paar dingen uit de eerste hand vertellen over hoe begrijpelijk Afrikaans is voor Nederlandssprekenden, en vice versa. In de bovenstaande tekst wordt de moeilijkheidsgraad overdreven, vind ik (ondanks die Antwerpse studenten).
Zelf heb ik nooit ook maar één minuut speciaal gewijd aan de studie van het Afrikaans. Ik ben gewoon boeken in die taal beginnen lezen en ik kan u verzekeren: geen Afrikaanssprekende zal mij verkopen terwijl ik erbij sta, om het volks te zeggen.
Wat het gesproken Afrikaans betreft, daar moet ik toegeven dat het een beetje moeilijker ligt. Een Nederlandstalige moet even wennen, maar dat moet hij ook als zijn gesprekspartner Nederlands spreekt met een sterke dialectische inslag, als hij dat bewuste dialect niet kent. We moeten de moeilijkheidsgraad zeker niet overdrijven. Een voorbeeld: André P Brink heeft hier in ons dorp in november 1997 een lezing gehouden en deed dat - op algemeen verzoek - niet in het Nederlands, maar in het Afrikaans. Geen mens in de goed gevulde zaal die hem niet begreep.
Ander voorbeeld: in ditzelfde dorp heb ik Peter Snyders en Clinton V. du Plessis op bezoek gehad. Ik praatte mijn Belgisch Nederlands en zij hun eigen Afrikaans. Ik herinner me niet dat we elkaar één keer uitleg hebben moeten vragen!
Ook met Dan Roodt en Karen heb ik (in de jaren '80) gesprekken gevoerd. Ik heb hen zonder moeite begrepen. Vraag maar aan Dan of hij toen mijn Belgisch Nederlands begreep.
Gewoon als belangstellende leek kan ik hier nog aan toevoegen dat de -oo en de -ee (boom, see) in het Afrikaans precies zo klinken als in mijn dorp. Misschien is de invloed van de Nederlandse dialecten in de ontstaansgeschiedenis van het Afrikaans onvoldoende in rekening gebracht?
Heel interessant studieterrein!
Jan Deloof, baie goed om van jou hier te hoor! Dit is wel so, dat die invloed van Nederlandse en Vlaamse dialekte op Afrikaans nog nooit na behore verreken is nie, behalwe die werk wat Raidt en voor haar J du P Scholtz gedoen het.
Vanweë die internet gaan Nederlands en Afrikaans in die toekoms vir seker nog méér onderling verstaanbaar raak, omdat Nederlanders Afrikaanse artikels lees, asook YouTube-video's van Afrikaanse sangers bekyk, en andersom.
Waar gesproke Nederlands moeilik raak, is waar sleng ter sprake kom, asook natuurlik streekstale of dialekte, maar soos jy tereg opmerk: dié probleem bestaan in Nederland en Vlaandere onderling tussen dialeksprekers ook. Op 'n stadium het ek en Karin onlangs 'n klomp Nederlandse flieks gekyk en waar die karakters in sleng en spreektaal verval, verloor 'n mens hulle hier en daar. Meer formele Nederlands is egter geen probleem nie. Oor die algemeen dink ek die Vlaamse uitspraak is vir Afrikaners makliker om te volg as die Nederlandse uitspraak.
Ek weet nie veel van die twee standaardvorme van Noors nie, maar ek stel my voor dat die verskille tussen Nederlands en Afrikaans in "afstand" soortgelyk aan dié tussen Bokmål en Nynorsk moet wees. In die Afrikaanse Wikipedia word die volgende gesê:
Bokmål, wat letterlik "boektaal" beteken, is een van die twee Noorse standaardtale. Soos die ander Noorse standaardtaal, Nynorsk, is dit hoofsaaklik 'n geskrewe taal, aangesien die meeste Noorweërs dialekte praat wat in verskillende mates van die geskrewe taal verskil. Bokmål is verwant en deels afgelei van 19de eeuse Deens. Van die twee Noorse vorms is Bokmål die oudste en word dit regdeur die land gebruik – deur 'n geraamde persentasie van 85-90% van die Noorweegse bevolking. Een uitsondering is Wes-Noorweë, waar 'n meerderheid van die sprekers nog steeds Nynorsk gebruik. Bokmål is ook die mees algemene standaard wat aan buitelandse studente van die Noorse taal geleer word. 'n Meer konserwatiewe ortografiese standaard, algemeen bekend as Riksmål, is nie 'n amptelike taalvorm nie, maar wel wyd in gebruik deur koerante en skrywers.
Ek het 'n baie onaangename ervaring gehad waar Nederlanders my gevra het om asseblief nie my taal te praat nie en het soveel minagting vir my en my taal gehad dat ek dit nooit met hulle sal praat nie. Ongelukkig het ek nie ervarings met Nederlanders wat Afrikaans aanvaar of waardeer nie (behalwe die wat al lank in Suid Afrika woon).
Waarskynlik was hulle polities links; die meer regse Nederlanders en feitlik al die Vlaminge het groot waardering vir Afrikaans. Aan die ander kant is daar linkse Afrikaners wat ewe groot minagting vir Afrikaans het, Engels verkies asook hul kinders in Engels opvoed. Van hulle argumenteer ook dat alle opvoeding in Suid-Afrika in Engels moet geskied.
Dag Dan.
We vinden elkaar hierin blindelings!
En leve YouTube! Ik zit 's avonds wel eens te luisteren naar Jan Spies en/of Tolla van der Merwe. De eerstgenoemde begrijp ik zonder enige moeite, van Tolla gaat er wel een deel verloren. Het kan verduiveld ook aan de techniek liggen, de opnames van Tolla zijn misschien minder goed?
Voor mevrouw Vogel: er lopen overal oliedomme mensen rond, zelfs in Nederland. Heb medelijden met hen. Vanwege mijn slecht karakter zou ik dan precies doen wat ze onaangenaam vinden: Afrikaans praten!