Kaapse dinkskrum pleit vir oop inklusiewe Afrikaanse universiteit

  • 26

As Akademia wil slaag met sy planne om ʼn volwaardige Afrikaanse universiteit op die been te bring, mag daar geen sweempie van ʼn gevoel wees dat sekere mense uitgesluit word nie.

Dit was die algemene gevoel tydens ʼn dinkskrum wat op Stellenbosch gehou is oor die rol wat Akademia kan speel ter voortsetting van die Afrikaanse universiteitswese.

Hierdie verkennende gesprek is deur Theuns Eloff gefasiliteer en bygewoon deur meningsvormers in die Wes-Kaap. Byna soos ʼn groepie Regte Afrikaners van ouds destyds in die Paarl – maar dié slag uit verskillende kulture en agtergronde.

Theuns Eloff

Eloff is onder meer voorsitter van die Trust vir Afrikaanse Onderwys, die Dagbreektrust en die FW de Klerk Stigting.

As Akademia wil slaag met sy planne om 'n volwaardige Afrikaanse universiteit op die been te bring, mag daar geen sweempie van 'n gevoel wees dat sekere mense uitgesluit word nie.

Onder diegene wat die dinkskrum bygewoon het, was die historikus en bekende kampvegter vir Afrikaans as akademiese taal Hermann Giliomee, Ebbe Dommisse, voormalige redakteur van Die Burger, en meningsvormers uit die bruin gemeenskap soos Willa Boezak, Danie van Wyk, bestuurder van die Suid-Afrikaanse Onderwysontwikkelingstrust, asook verteenwoordigers van verskeie Afrikaanse organisasies soos die ATKV, die Afrikaanse Taalraad en lede van die media.

Die doel van die gesprek was om inligting oor Akademia se vordering tot dusver en oor hulle bestaande planne te deel en in die lig van die versnelde verskraling van Afrikaans by tradisioneel Afrikaanse universiteite, kommentaar en voorstelle in te win oor wat Akademia nou te doen staan.

Pieter Malan, Ria Olivier, Willa Boezak en Danie van Wyk

Theuns Eloff sê die regering kan nie alleen blameer word vir die agteruitgang van Afrikaans as akademiese taal nie.

Hy sê dit help nie vir Afrikaanse mense om hulle hoop op ʼn politieke party soos die DA te vestig om die taalstryd te stry nie. Die sukses van so ʼn inisiatief sal bepaal word deur dit wat die breë Afrikaanse gemeenskap self gaan vermag.

“As die meerderheid studente by enige kampus nie meer in Afrikaans wil klasloop nie, flits die rooi ligte nie net vir Afrikaans as akademiese taal nie, maar ook by Afrikaanse skole. Waarom sal mens in Afrikaans wil skoolgaan as jy net in Engels verder kan studeer?”

Minstens 50 van die wêreld se top universiteite is nie Engels nie.

Hy meen die jongste taalbeleid aan die Universiteit Stellenbosch kan beteken dat Afrikaans as akademiese taal binne vyf jaar op pad uit is by dié universiteit. Op Potchefstroom, wat nog oorwegend Afrikaans is, behoort Afrikaans vir die volgende agt tot tien jaar nog redelik veilig te wees. Eloff voorspel egter dat die druk op Afrikaans ook daar sal opbou.

“Uiteindelik is die vraag hoeveel Afrikaanse studente op hulle regte sal staan om op tersiêre vlak in Afrikaans onderrig te word.”

Hy sê dit is onsin dat slegs Engelse universiteite van wêreldgehalte kan wees. Minstens 50 van die wêreld se top universiteite is nie Engels nie.

“Die wit dosente op Stellenbosch wat so pleit vir Engels as primêre taal van onderrig besef nie dat hulle eie loopbane op die lange duur in die weegskaal is nie. Diegene wat agter die huidige verengelsing van die US sit, is glad nie so begaan oor taal nie. Hulle wil ontslae raak van die wit personeel in hulle strewe om die kampus te ‘dekoloniseer’.”

Hy meen Afrikaanses wat meehelp om die Universiteit Stellenbosch te verengels, doen dit dikwels omdat hulle steeds skuldig voel oor apartheid. Hulle dink dit sal tot versoening bydra as Afrikaans as akademiese taal opgeoffer word. Eloff sê dit is ʼn swak argument, want dit gaan oor veel meer as net Afrikaans.

Piet le Roux, akademiese bestuurder van Akademia, en Mari Bosman, studentewerwingsbeampte van Akademia.

Piet le Roux van Akademia het die agtergrond geskets van Akademia se planne vir ʼn volwaardige Afrikaanse universiteit. Die strewe is om so gou as moontlik ʼn volwaardige Afrikaanse universiteit van wêreldgehalte op die been te bring wat nie net afstandonderrig sal verskaf soos Unisa nie, maar wat ook ʼn sterk inwoonkarakter sal hê met ʼn kampus waar studente kan tuis voel. Hy voorsien ʼn kombinasie van afstandsonderrig en ʼn inwoon-universiteit.

Akademia se model lê groot klem op ʼn gevorderde hoëtegnologie-model waar studente in verskillende lokale regoor die land lesings kan bywoon deur middel van hoogs gevorderde tegnologie. Daar bestaan reeds sewe sulke studiesentrums in die land waar studente en dosente interaktief kan kommunikeer asof hulle almal in dieselfde lesingslokaal sit. Die plan is om dit reeds volgende jaar te verdubbel tot 14.

Hermann Giliomee sê die Universiteit Stellenbosch se nuwe taalbeleid is ʼn groot terugslag vir Afrikaans as akademiese taal.

Hermann Giliomee aan die woord.

Giliomee sê Akademia moet besef dieselfde model om Afrikaans in die noorde van die land in stand te probeer hou, geld nie noodwendig in die Wes-Kaap nie. Afrikaanse mense in die noorde streef volgens hom steeds die republikeinse tradisie na, terwyl Afrikaanse mense in die Wes-Kaap kolonialers is wat anders kyk na die taaldebat as hulle taalgenote in die noorde.

Tydens die gesprek was dit veral opmerklik hoeveel gespreksgenote in Stellenbosch ongemaklik was met een van Akademia se waardes, naamlik dat dit ʼn Afrikaanse Christelike universiteit moet wees.

Hoewel Akademia toegee dat die universiteit moet oop wees vir almal, voel die Kapenaars die term “Christelik” is onnodig en dat die woorde “Christelik” en “oop” in een sin verwarring skep.

Hoewel Akademia toegee dat die universiteit moet oop wees vir almal, voel die Kapenaars die term “Christelik” is onnodig en dat die woorde “Christelik” en “oop” in een sin verwarring skep. Hulle meen dit kan tot verdere uitsluiting en vervreemding aanleiding gee as daar te veel klem gelê word op een groep se waardes en voel die universiteit moet totaal oop en inklusief wees.

“En hoe lyk julle personeel?" wou van die gespreksgenote by Piet le Roux weet. Hulle sê daar moet ʼn doelbewuste poging wees om bruin deelname te verhoog om die ideaal van ʼn Afrikaanse universiteit te laat slaag.

Die feit dat Akademia ʼn Solidariteit-gedrewe inisiatief is, skep ook sekere persepsies by sommige mense. Die vraag is hoe mens daardie persepsies verander sonder om afbreuk te doen aan die belangrike werk wat Solidariteit in dié verband doen, was nog een van die vrae wat geopper is.

Willa Boezak en Ebbe Dommisse

Die Stellenbosch-gesprek vorm deel van Akademia se vyfpuntplan vir versnelde universiteitsontwikkeling in Afrikaans. Le Roux het ter afsluiting gesê dit voel soos om ʼn nuwe pad vir Afrikaans te bou en terselfdertyd ook na ʼn nuwe rigting te soek terwyl die pad gebou word. Hy het die versekering gegee dat so ʼn inisiatief toeganklik moet wees vir al die vennote om te kan slaag en dat sterk gemeenskapsbetrokkenheid deurslaggewend is.

 

Hierdie artikel is deel van LitNet Akademies (Opvoedkunde) se universiteitseminaar. Klik op die “University Seminar 2016”-banier hierbo om alle essays wat deel vorm van die gesprek, te lees.

This article forms part of the ongoing university seminar, with new essays continually being added. Please click on the “University Seminar 2016” banner above to follow the ongoing conversation and to read more essays on education, access, transformation, language and the Constitution.

 

  • 26

Kommentaar

  • Sambok Viljoen

    Ek dink ook die christelike woord kan uitgelaat word, maar ek weet as daar ander gelowe deelneem, gaan daar wrywing ontstaan. As daar hardop gebede om 12nm by die koshuis geskree word, gaan die vet in die vuur wees.

    Ek wonder ook of die biologiese wetenskappe gelyke behandeling gaan kry?

    Dis deel van die psige van die mens.

  • Hanno Visagie

    "Tydens die gesprek was dit veral opmerklik hoeveel gespreksgenote in Stellenbosch ongemaklik was met een van Akademia se waardes, naamlik dat dit ʼn Afrikaanse Christelike universiteit moet wees. Hoewel Akademia toegee dat die universiteit moet oop wees vir almal, voel die Kapenaars die term “Christelik” is onnodig en dat die woorde “Christelik” en “oop” in een sin verwarring skep. Hulle meen dit kan tot verdere uitsluiting en vervreemding aanleiding gee as daar te veel klem gelê word op een groep se waardes en voel die universiteit moet totaal oop en inklusief wees." - Watter teleurstellende twak. Nee dankie. Ek en my familie, ons sal Here Jesus Christus bly dien.

    • Ek bewonder jou vir jou standpunt dat jy en jou familie die Here wil dien en dink dit is bewonderingswaardig dat enigiemand sy saak so sterk wil stel. Ek verstaan egter nie hoekom 'n mens nie jou Christenskap kan uitleef saam met mense van ’n ander geloof of gelowe nie. As jy so sterk glo sal niemand jou mos beïnvloed nie en wie weet miskien kan jy die lig laat skyn vir Christenskap tussen almal en dalk ander se persepsies oor Christenskap verander. Moet ons nie mekaar respekteer ten speite van iemand se geloof nie?

      • Hanno Visagie

        'n Christusdissipel sal nie sy kind stuur na 'n universiteit waar prominente posisies beklee word deur bv ateïste, Moslems en homoseksueles nie.

  • Ja asseblief. Hou dit oop en inklusief! Wat van die Moslems van die Bo-Kaap wat die taal begin het?

    • Maryna Griesel

      Die woord "Christelik" is regtig nie nodig nie, Christene kan mos hulle geloof self uitleef sonder om studente van ander gelowe te vervreem! 'n Afrikaanse, Christelike, Moslem, Hindu, Boeddistiese, ens ens. Universiteit! Kan ons regtig nie net in vrede saamlewe nie?

  • Indien Akademia nie slaag nie, is die Afrikaanse taal op tersiêre vlak moontlik finaal verdoem, dus is daar geen alternatief as om te sorg dat dit slaag nie.

  • Dr Hedwig van der Westhuizen

    Dit is wonderlik en dankie vir julle wat die voortou neem!
    Moet asseblief nie uitsluitende besluite neem nie. My geloof is belangriker as my taal vir my - maar hier gaan dit oor die taal, kultuur en die behoudende waardes wat baie Moslems, Christene en ander gelowe deel. Ons moet nie net hande vat nie - ons moet inhaak by mekaar en 'n stewige menseketting vorm op grond van dit wat ons deel en wil behou vir ons nageslag. Elkeen van ons het 'n verantwoordelikheid om brûe te bou en mure af te breek. Ruimte en respek omdat ons nie oor alles presies dieselfde kan en hoef te dink nie.

  • Hanno Visagie

    Geen probleem dat jy jou Here dien nie. Die argument gaan of die woord "Christelik" van toepassing hoort te wees al dan nie in die beskrywing van die voorgestelde universiteit, gesien dat die Christelike geloof dalende syfers onder Afrikaanssprekendes toon, en verder dat ander Afrikaanssprekendes Moslems en 'n groeiende aantal ateïste insluit.

  • Johannes Froneman, woordvoerder van prof. Dan Kgwadi

    Theuns Eloff is reg. Afrikaans is vir die afsienbare toekoms veilig op die Potchefstroomse kampus van die NWU. Een rede is dat ons meer ruimte vir Engelse parallelle klasse geskep het.

    • Dit het Tukkies en Vrystaat Univ al lank gelede gedoen en tog het Afrikaans gesneuwel. Wat sal eventueel anders wees by Potch?

  • Ek is 'n aspirerende student om in Afrikaans te studeer by Stellenbosch volgende jaar.
    Die universiteit kan nie Christelik wees nie. Net sekulêr. Dit beteken nie daar kan nie gesprekke wees oor godsdiens nie. Dit beteken nie mense is nie vry om te dink wat hulle wil nie. Maar dit sluit mense uit om 'n universiteit te assosieer met 'n seker godsdiens of jy so dink of nie, en of jy nou dink dit is goed om 'n Christen te wees of nie. Dit is irrelevant. Ons het nie Christenskap nodig om vir goeie mense goeie opleiding te gee nie. Daar is omgewings waar almal van alle religieuse oortuigings welkom is om openlik te glo en uitspraak te maak waaroor hulle wil. 'n Universiteit/Skool is ongelukkig nie een van hulle nie. Hoe kan 'n mens byvoorbeeld Nietzsche leer in 'n filosofieklas by 'n Christelike universiteit? Wil jy nie byvoorbeeld hê die Afrikaanse Moslem moet ook kan voordeel trek uit 'n plek soos hierdie nie? Nee, hulle kan dit nie net "ignoreer" as dit openlik Christelik is nie. Dis nie reg nie. Afrikaans is Afrikaans, en dit is vir almal. Ek is jammer my huistaal word so vernietig, maar dit is omdat Afrikaners dit misbruik as 'n skerm om hulle konserwatiewe waardes te beskerm. Hierdie artikel bevestig dit net. Nie net kan die universiteit Afrikaans wees nie, maar ook Christelik. Ek sal nie verbaas wees as hulle ook besluit op 'n uniform nie. Hulle soek die Afrikaans want hulle soek die godsdienstige druk, die dissipline, die militaristiese kultuur wat daarmee saamgevleg is. Hulle is nie lief vir die taal nie. Hulle is lief vir die destruktiewe kultuur wat daardeur beskerm word. Dit is wat nie verander het van Afrikaans nie. Die universiteit is 'n goeie idee, maar julle mense moet wakker skrik en begin verander as julle rêrig ons taal wil bewaar en dit wil toelaat om te groei as iets waarlik progressief.

  • Gustaf Claassens

    Dr Hedwig van der Westhuizen se argument is in die kol en maak sin. Dit behoort hier uitsluitlik te gaan oor tersiêre onderrig in die TAAL van jou keuse, iets wat Afrikaanses toenemend ontsê word. Niks meer, niks minder nie. Om taalonderrig nog verder te wil kwalifiseer is om die baba met die badwater uit te gooi. Sekuralisme bied die beste kans tot sukses en dit op sigself ontneem die individu geensins van sy of haar geloofsoortuiging nie. Dit behoort egter nie as 'n toelatingsvereiste gestel te word nie ten spyte van die feit dat dit 'n belangrike werklikheid en groot erns vir van ons mense is.
    Studente gaan nie na 'n universiteit toe om 'n punt oor hulle geloof te probeer maak of bewys nie. (Omdat dit bloot nie die doel van 'n universiteit is nie.) Mense poog om hulle geloof prakties uit te leef aan die hand van 'n stel waardes en indien hulle dit goed doen is dit prysens- en-navolgingswaardig. So' n leefwyse is egter nie beperk tot een enkele geloofsoortuiging nie, soos die meeste van ons sal toegee. Daar is en sal steeds kerkverbande/denominasies wees waar individuele studente hulle op godsdienstige vlak kan uitleef soos en wanneer die behoefte bestaan. Niks staan ook in die pad van studente om hulle in godsdiensverband te organiseer wanneer die behoefte vir of gesprekvoering, of gesamentlike gebedsgroepe bestaan nie.
    Om as onderrigtaal te oorleef het Afrikaans as taal egter almal nodig wat lief is en in hom glo. Of jy 'n Blou Bul, Cheetah of Stormer is; man, vrou of gay is; van rock, blues of boeremusiek hou; vir of teen die doodstraf is; of jy die DA, Vryheidsfront, ACDP of wie ook al ondersteun en of jy Wit, Bruin of Swart is ... dit alles behoort geensins van belang te wees nie. Om die waarheid te sê, die werklikheid is dat Afrikaner/Afrikaanses in elk geval op die huidige oomblik 'n groepering van mense is wat al hierdie groepe insluit. Die GEMENE DELER is en behoort bloot TAAL te wees en in die geval, Afrikaans.
    Om eng definisies te probeer toedig aan 'n kultuurgroep of taalgemeenskap en hom sodoende te verskraal tot 'n randeier groepering, laat die rooi ligte flikker. Dit bring die lelike in ons na vore en stellings/beskuldigings van wie dan nou die sogenaamde "beter" Afrikaner is al dan nie; 'n les wat ons darem nou al uit ons geskiedenis moes geleer het. In hierdie slagstrik moet ons in hemelsnaam nie weer trap nie ... die dinamika van verskille binne 'n taalgemeenskap hou ons op ons tone en is gesond. Dit leer ons dink en maak ons ontdek, dit voorkom blindelingse navolging, maak ons meer kreatief en laat ons die groter prentjie sien. Dit laat ons uit ons gemaksones beweeg en rus ons toe om die wêreld vierkantig in die oë te kyk. Bowenal stel dit ons gelyk met enige ander kultuurgroep in die wêreld, presies dit wat ons is en wil wees. En op hierdie pad is dit die taal Afrikaans wat ons voertuig is en moet wees ...

  • Ek weet nie wat die groot bohaai oor die Christendom is nie. Ons almal weet tog in België tel geloof weinig. Tog staan die Christendom van die topwêreldklas Katolieke Universiteit van Leuven bankvas in sy identiteit: "Vanuit haar christelijke mens- en wêreldbeeld wil zij een plaats zijn van open discussie over maatschappelijke, levensbeschouwelijke en ethische thema’s, en een kritisch denkcentrum in en voor de katholieke gemeenschap."

  • Hanno Visagie.
    Tsk! Tsk!
    Jy skryf: "'n Christusdissipel sal nie sy kind stuur na 'n universiteit waar prominente posisies beklee word deur bv ateïste, Moslems en homoseksueles nie."
    Jy is ooglopend uit pas uit met al die ander Christene wat hierbo menings gelug het, lynreg teenstrydig met joune. Met jou stelling, insinueer jy dat hulle nie Christen-dissipels is nie, want hulle huldig ooglopend nie dieselfde besware vir hulle kinders soos jy nie. In elk geval, wie doen die moeite om eers uit te vind of die prof 'n ateïs, Moslem of gay is alvorens hy sy kinders universiteit toe stuur?

    • Hanno, dankie vir hierdie webskakel na die artikel wat ek nou gelees het. Dit bied inderdaad waardevolle en belangrike stof tot nadenke (soos 'n vars bries) al is dit nie noodwendig prakties toepasbaar of eenvoudig oordraagbaar na ons huidige harder Suid-Afrikaanse werklikheid nie. Dit verg die relatief meer beskermende omgewing van die VSA om so 'n idille daar te laat werk. Maar ons weet ook van die morele mishoop (eksterminasies, ens) waarop die VSA hul "beskermende" omgewing gebou het en steeds krampagtig probeer in stand hou. Eerder dan die harder en betekenis gelaaide uitdagings van ons omgewing wat weliswaar breekpunte koggel.

  • Met verwysing na Hanno se 1ste twee kommentare hierbo: 'n universiteit is 'n plek waar studente veronderstel is om te leer om verder te dink. Daardie opdrag word onmoontlik wanneer ongemaklike idees en mense van diverse agtergronde nie verwelkom word nie. Byvoorbeeld kan mens heelwat leer van ateïste. Die Oxford bioloog Richard Dawkins het getwiet: "A university is not a "safe space". If you need a safe space, leave, go home, hug your teddy & suck your thumb until ready for university."
    Gustaf Claassens stel dit goed hieronder: "Die GEMENE DELER is en behoort bloot TAAL te wees en in die geval, Afrikaans." Deur nog eksklusiwiteite anderkant taal in universiteite by te sleep, skep mens versmorende denk-omgewings vir mens se kinders. In die onlangs bewese brose omstandighede vir Afrikaans by universiteite, is dit boonop onverskillig om enige verdere beperkings soos godsdiens op 'n Afrikaanse universiteit te wil plaas. Dit sal die praktiese haalbaarheid van 'n Afrikaanse universiteit grootliks onderdruk.

  • Dis steeds kortsigtig van huidige besluitnemers om die onlangse baie vrygewige gebaar om Afrikaans na slegs gelyke status by die Universiteit Stellenbosch te reduseer in die wind te slaan. Mens sou dink dat 'n suiwer Afrikaanse universiteit (soos waarna die nuwe "Akademia" nou mik) minder verteerbaar vir sulke besluitnemers sou wees as een waarin Afrikaans slegs gelyke status met Engels geniet soos die geval by Universiteit Stellenbosch kon gewees het. Maar terselfdertyd dui lg waarneming klaarblyklik daarop dat die huidige verskraling van Afrikaans tot mindere status as Engels s'n by die Universiteit Stellenbosch oa gaan oor die persoonlike eiebelang van die huidige universiteitspersoneel en geensins oor die so veronderstelde beginsel om die ontstaan van 'n nuwe nog meer "eksklusiewe" suiwer Afrikaanse universiteit soos Akademia te voorkom nie (deur eenvoudig gelyke status vir Afrikaans by Universiteit Stellenbosch toe te laat nie). Inteendeel, die oneerbare manier waarop dinge onlangs by die Universiteit Stellenbosch deurgevoer is, stook selfs 'n soort verontwaardiging aan wat die strewe na 'n suiwer Afrikaanse universiteit blyk aan te vuur.

  • Jean, ek moet met jou saamstem - dit was werklik kortsigtig van die Universiteit Stellenbosch om nie Afrikaans op gelyke vlak met Engels te akkommodeer nie - sodoende het hul bygedra daartoe om Afrikaanse onderrig verder uit hoofstroom tersiêre onderwys te rangeer. Dit laat baie Afrikaanssprekendes onwelkom voel en laat hul met geen ander keuse as om weer laer te trek vir die selfbehoud van hul kultuur en verdere opvoeding van hul begaafde jeug nie. Indien daar nie nuwe geleenthede geskep gaan word vir tersiêre opvoeding vir Afrikaanssprekendes van alle rasse nie, gaan daar nog baie Afrikaanssprekende ouers en studente se trane op Maties en ander universiteite rol, waar gemiddelde studente wat met Afrikaanse opvoeding sou slaag, maar nie Engels behoorlik onder die knie het nie, nou in die hek gaan duik, hoofsaaklik weens hul gebrek aan voldoende kennis van die Engelse taal en beslis nie weens hul gebrekkige vermoëns nie. Die hoë druipsyfer onder Swart studente kan in my opinie ook hoofsaaklik daaraan toegeskryf word dat daar van hul verwag word om akademies te presteer in 'n taal wat hul, soos meeste van ons Afrikaanssprekendes, slegs tot 'n beperkte mate kan praat. Ek sou graag wou sien hoe Engelse moedertaalsprekers sou vaar indien hul slegs in Afrikaans of Zulu tersiêre opleiding kon ontvang. As 'n mens deur samewerking jou identiteit verloor is Afri-exit jou enigste kans op oorlewing - vra maar vir die Britte self!

  • Wat is die praktiese implikasies daarvan om die woord "Christelik" by te voeg?

    Gaan Akademia studente nie van evolusie leer nie?

  • Wat min Afrikaners besef is dat Afrikaans oorspronklik in Arabiese skrif geskryf was voordat dit in Romeinse-skrif geskryf was; dat dele van die heilige Koran van die Moslems in Afrikaans vertaal was, lank voordat die Bybel in Afrikaans vertaal was; dat 'n volledige godsdienstige boek, nl "Uiteensetting van (Moslem) Godsdiens" deur Abu Bakr Effendi, in Afrikaans geskryf was lank voordat die amptelike opstel van die skriftelike taal bestaan het en dit deur Kaap-Maleise Moslems wat vandag maar net 6% van Afrikaanssprekendes uitmaak.
    Indien die voorgestelde private Afrikaanse universiteit wel erkenning aan die Christelike leer wil toestaan, hoort sodanige erkenning aan die Afrikaanssprekende Moslem op gelyke vlak ook te geskied.
    Afrikaner tradisionele bredie, bobotie, sosaties, koeksisters, ens het hul oorsprong in hierdie Afrikaanssprekende Moslem-kultuurgroep.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top