LitNet Akademies-resensie-essay: Ons gaan 'n taal maak deur JC Steyn

  • 1

Titel: Ons gaan ’n taal maak
Skrywer: JC Steyn
Uitgewer: Kraal Uitgewers
ISBN: 9780987025692

Ons gaan ’n taal maak kan by Kraal-uitgewers bestel word.

 

Soos taalbewuste Suid-Afrikaners almal weet, het die demokratisering van Suid-Afrika meegebring dat 11 tale nasionaal as amptelike tale verklaar is; dat dit absoluut ononderhandelbaar is dat die Afrikatale ontwikkel en bevorder word as tale wat in hoëfunksie formele kontekste gebruik moet kan word; en dat Afrikaans sy funksionele en kontekstuele rolle en funksies moet behou.

Soos ons ook weet, is (byna) al die nodige meganismes tot stand gebring wat hierdie talige oogmerke moet verwesenlik:

  • ’n Taalwet is in 2014 gepromulgeer.
  • Taalbeleid is op byna alle vlakke van staatsadministrasie ontwikkel.
  • Die Nasionale Taaldiens is binne die Departement van Kuns en Kultuur gestig en opdrag gegee om taalbeplanning te bestuur, terminologie te ontwikkel en regeringsdokumente te redigeer en te vertaal.
  • Die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT) is gestig en verantwoordelik gemaak vir die bevordering van meertaligheid, die verhoging van die status van die amptelike tale in amptelike kontekste (veral, uiteraard, die status van die Afrikatale), die ondersteuning en die gebruik van taal in die onderwys, vertaling en tolking, die leksikografie, die ontwikkeling van vakterminologie, die regstelling van plekname, die ontwikkeling van die letterkunde, die beskerming van taalregte en die bevordering van navorsing oor Suid-Afrika se tale.

Van “bo” bekyk, het die staat sy verantwoordelikhede teenoor die belangrikste tale van Suid-Afrika nogal deeglik nagekom, soos uit die voorgaande blyk.

Maar wat is op voetsoolvlak, in die alledaagse talige omgang tussen Suid-Afrikaners, aan die gang? Word die mikpunte van die staatsinisiatiewe nagekom? Bereik?

Soos taalbewuste Suid-Afrikaners ook almal weet, het die staat, en meer spesifiek die twee verantwoordelike staats- (of semistaats-) instellings sedert hulle totstandkoming (min of meer 18 jaar gelede) min bereik ten opsigte van die take wat aan hulle opgedra is. Vandag is die “magsverhoudinge” tussen die 11 amptelike tale van Suid-Afrika byna nog swakker as wat dit in 1996 was.

Hierdie “magsverhoudinge” kan diagrammaties ten opsigte van hulle onderwyskundige, ekonomiese, sosiale en politieke waarde soos volg voorgestel word (met die “tale-anders-as-Engels” (TAaE) uiteraard deur die klein sirkeltjies hier onder verteenwoordig).

Konstitusioneel en wetlik gesproke mag hierdie ongelyke ekonomiese, politieke en sosiale magsverhoudings tussen die amptelike tale uiteraard nie aanvaar word nie, veral nie na die promulgering van die Nasionale Taalwet van 2014 nie. (Amptelik: Regeringskennisgewing nommer R150 van die Departement Kuns en Kultuur: Use of Official Languages Act, 2012, geteken op 5 Februarie, 2014.)

Die taalkwessie is klaarblyklik ’n nasionale probleem, en taalbewuste Suid-Afrikaners móét vra wat daaromtrent gedoen kan word.

Jaap Steyn se boek Ons gaan ’n taal maak. Afrikaans sedert die Patriot-jare kan gerus as ’n soort verwysingsraamwerk gebruik word vir die hantering van die huidige skeefgetrekte taalpolitieke opset. Dis waar: Steyn se boek is uitsluitlik op Afrikaans gerig, maar die taalpolitieke storie van Afrikaans is nogtans toepaslik ten opsigte van Suid-Afrika se nege ander nasionaal amptelike tale, soos hopelik sal blyk uit die bespreking van sy boek hierna (wat uiteraard nie in eerste instansie bedoel is as ’n antwoord op die vrae hier bo nie, maar geskryf is as ’n resensie van sy boek).

Soos die titel van Steyn se boek aandui, word die taalpolitieke ontwikkeling van Afrikaans bespreek vanaf die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) en die verskyning van die eerste Afrikaanse koerant, Die Afrikaanse Patriot, in 1875.

Steyn gee ’n deeglike oorsig van die taalpolitieke geskiedenis van Afrikaans vanaf daardie periode tot vandag, in hoofsaak die volgende:

  • die aanvanklike (byna) uitsluitlike erkenning en gebruik van Engels as staatstaal
  • die “smalende verwysing na Afrikaans as ‘the taal’ en as die taal van “low-class women” (144)
  • die stryd ten gunste van die amptelike erkenning van Afrikaans
  • die vestiging van liggame vir die bevordering van die taal
  • die vertaling van die Bybel in 1933
  • die geleidelike uitbouing van Afrikaans as volwaardige hoëfunksietaal: as taal van die parlement, die formulering van wette en staatsregulasies, die howe, die staatsadministrasie, die onderwys op alle vlakke – as vak en as voertaal, die klem op moedertaalonderwys, en as taal van die media en die sakewêreld.

Saam hiermee bespreek hy ook die verswakking van Afrikaans as openbare taal sedert 1994, toe wit Afrikaanssprekendes hulle politieke mag verloor het, en (veral) na 1996, toe Suid-Afrika se amptelike tale vermeerder is tot 11, ’n besluit wat uiteraard in die praktyk moeilik implementeerbaar is, onder andere as gevolg van die taalpolitieke gevolge van internasionalisering en globalisering.

Steyn lê sterk klem op die taalpolitieke kontekste: taal en identiteit, en taal en etnisiteit. Soos hy dit stel (148): “Die beginsel van solidariteit, wat tipies van etniese mobilisering is, het gegeld.” Onderwerpe wat hy in hierdie verband in die boek bespreek, is: die Anglo-Boereoorlog, die rebellie van 1912 en 1913 wat verband hou met Suid-Afrika se deelname aan die Eerste Wêreldoorlog, en die stigting van die Helpmekaarfonds (wat die rebelle moes bystaan met die delging van die skuld wat hulle opgelê is).

Van sentrale belang in hierdie geval is dat die aksies wat rondom Afrikaans ontstaan het, meegebring het dat Afrikaans ook “ekonomiese waarde gekry het en sy woordeskat kon ontwikkel”. ’n Praktiese voorbeeld wat Steyn in hierdie verband noem, is dat “Sanlam se prospektusse, polisse, briewe en leesstof [...] in [...] Afrikaans opgestel (is), en daarvoor moes Afrikaanse versekeringsterme geskep word” (152).

Vandag, met wydverspreide internasionalisering en globalisering, het die taalpolitieke realiteit in die land weer totaal verander, soos in die diagram aan die begin aangedui is:

  • Afrikaans se openbare rol het aansienlik verswak – waarskynlik weens die voortgesette assosiasie van Afrikaans met apartheid; en, byna uiteraard
  • die rol van die Afrikatale het in die praktyk weinig verbeter, onder andere as gevolg van totaal onvoldoende steun van die ANC-regering en “sy” staatsdepartemente sowel as hul sprekers.

’n Laaste (uiters) positiewe eienskap van Steyn se boek is die indrukwekkende, verstommende hoeveelheid inligting wat daarin opgeneem is. Feitlik alle terreine van Afrikaanssprekendes se lewensruimtes word gedek. Selfs redelik ingeligte vakkundiges op hierdie vakterrein kan nie anders as om verwonderd te staan oor waar en hoe die inligting verkry is nie. In die kort tydperk van twee jaar is bykans 500 bronne opgespoor, geraadpleeg en gestruktureerd in een publikasie omskep. Daarby bevat die werk ’n verstommende 1 493 eindnotas: in elke geval met bykomende inligting oor stellings wat in die hoofteks gemaak is, die historiese kontekste van die standpunte wat bespreek is, en die presiese erkenning van die bronne wat geraadpleeg is.

JC Steyn

Drie mooi voorbeelde:

Die aanhaling uit De Burger van 26 Julie 1915, waarin verwys word na die onregverdige optrede van die Suid-Afrikaanse (Engels-gedomineerde) regering van daardie tyd om, anders as in die geval van die Britse optrede na die “Ierse Paasopstand van 1916 [...] [te besluit dat] die Afrikaner rebelle self die skade moes vergoed wat hulle veroorsaak het” (147).

’n Tweede interessante geval is die argumente oor “die intervokaliese [g] en [d] en die gebruik van die deelteken” (162).

’n Derde, waardevolle voorbeeld is die uitvoerige statistiek wat Steyn verskaf oor die stand van Afrikaans omstreeks 1925 (vanaf bl 208).

Steyn se boek is ’n uiters waardevolle bydrae tot medevakkundiges se kennis en begrip van, en insig in, die taalpolitiek van Afrikaans in die besonder, maar ook tot die taalpolitiek as doseer-, studie- en navorsingsterrein.

Ten slotte tog wel ’n paar kritiese opmerkings:

Afgesien van enkele drukfoute (160: “agter” in plaas van “egter”; 174: die weglating van “het” na “Anglikaanse Kerk gevoel ...”), sou mens kon verwag dat so ’n omvattende studie ook aandag (of meer uitgebreide aandag) sou kon gegee het aan kwessies soos die volgende:

  • die impak van ’n groeiende tegnologiese wêreld (byvoorbeeld outomatiese tegnologies-gedrewe masjienvertaling) op die voortbestaan en effektiewe funksionering van “tale-anders-as-Engels” in die onmiddellike toekoms
  • die mate waarin “nasionalisme” (of dan, die lojaliteit van lede van ’n gemeenskap aan hulle taal- of groepsidentiteit of eiesoortigheid) in die moderne tyd steeds ’n faktor is
  • die vraag: Wat is ’n “volk” in eietydse terme?
  • die taalpolitieke opset in KwaZulu-Natal (histories gesien) en die stryd daar tussen Afrikaans en Engels, wat gelei het tot ’n taalverdeling, met Afrikaans meer dominant in die noorde van die provinsie (byvoorbeeld op Vryheid)
  • die impak op “kleinere tale”, soos Afrikaans in Suid-Afrika in 2014, te midde van internasionalisering en globalisering in die moderne wêreld
  • die fundamentele rol van diversiteit (ook linguistiese diversiteit) in die produktiewe voortbestaan van ’n land, en, ewe fundamenteel, dat die groeiende Engelstaligheid van die land regstreeks in konflik is met Suid-Afrika se politieke filosofie op alle vlakke van staatsadministrasie
  • die impak van apartheid op Suid-Afrikaners se sieninge van en houdings teenoor Afrikaans
  • die rol van die Afrikatale in vergelyking met die rol van Afrikaans as deel van Suid-Afrika se buitengewone linguistiese diversiteit
  • regeringsinisiatiewe soos LANGTAG (Language Task Group) en sy opvolgers
  • staats- en semistaatsinrigtings wat op taal gerig is, soos die Nasionale Taaldiens van die Departement Taal en Kultuur, en die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad, wat baie strenger gemonitor moet word, verkieslik deur nieregeringsorganisasies
  • die regering se onderwysbeleid ten opsigte van veral swart leerders: dat hulle aangemoedig moet word om ná graad 3 van onderrigmedium te verander, byvoorbeeld van hulle moedertaal na Engels, selfs in plattelandse gebiede waar Engels byna nooit gehoor word nie
  • die Linguistevereniging van Suider-Afrika, wat deur die Departement Afrikaans aan Unisa gestig is en aanvanklik hoofsaaklik aan Afrikaans aandag gegee het, en wat nog steeds bydraes oor Afrikaans bevat.

Ten spyte van hierdie kwessies wat ook moontlik in so ’n omvattende publikasie gedek sou kon gewees het, moet Steyn sowel as die uitgewers en verspreiders van die boek, Kraal-uitgewers, wat deel uitmaak van die Solidariteit-beweging, geluk gewens word met die produksie van hierdie boek. Dis sonder twyfel ’n positiewe bydrae tot die terrein van die Afrikaanse taalpolitiek.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top