Drie vroue en 'n meisie deur Hans du Plessis: ’n resensie

  • 12

Drie vroue en ’n meisie
Hans du Plessis

Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799386110

Drie vroue en ’n meisie is Hans du Plessis se nuutste roman en is onlangs deur LAPA uitgegee. Die keurige voorblad gee reeds ’n aanduiding van die belangrikste temas in hierdie roman, naamlik dat dit ’n verhaal is oor vroue, diamantdelwery, ’n ongenadige landskap en vooroordeel: “Vooroordeel is die een sonde wat niemand onaangeraak laat nie.”

Die roman begin met die “meisie” van die titel, Katryn, wat vir ’n skryfkundeprofessor vra om haar familiegeskiedenis op te skryf. En so word die historiese verhaal van die “drie vroue”, Amléth Murray, Catherine (Cathy) Deysel en Katrina Coetzee, saam met die hedendaagse verhaal van die “meisie”, Katryn, vertel. Die roman bied nie net ’n blik op die lewe van die drie vroue nie, maar vertel ook die verhaal van ons land se geskiedenis van armoede en swaarkry. Dit vertel hoe swaar ons voorgeslagte gekry het, maar veral van die hoop en die moed van die vrouens wat nooit ophou droom het van ’n beter toekoms nie.

Drie vroue en ’n meisie vertel die verhale van veral die drie voorgeslagte van Katryn – die een se verhaal lei tot die volgende. Die chronologie word nie net gevind in die historiese tydverloop betreffende die karakters van Skotland na Johannesburg en die subtiele verwysings na historiese gebeure nie, maar ook in hulle name: Amléth, Catherine, Katrina en Katryn, asook in die Victoriaanse teestel wat, soos die verhale vorder, breek totdat daar niks van oor is nie – simbolies van die Skotse verlede.

Die eerste verhaal is dié van Amléth – Katryn se oumagrootjie – wat uit Skotland saam met haar man na Suid-Afrika gekom het. Hy delf diamante in die Noordwes-Hoëveld en daar is gedurig by hom die hoop op die volgende diamant sodat hulle kan terugkeer Skotland toe: “Almal wat kom soek het na ’n diamant so groot soos ’n skaapkop, weet reeds, die droom is aan’t sterwe; maar die hoop bly, die hoop bly.” Die Murrays leef in uiterse armoede en leer reeds vernedering, minagting en vooroordeel ken – veral van die Deysels, wat die plaas Varkensfontein (nie ’n naam sonder enige betekenis nie!) besit.

Die tweede verhaal is dié van Cathy Deysel – Katryn se ouma – wie se verhaal ’n Aspoestertjie-element kry. Cathy se ma sterf ’n paar maande na haar geboorte en sy word by Hetta, ’n pleegma, groot. Wanneer Hetta sterf, trou haar peetpa, Gert, met ’n weduwee met twee dogters. Cathy word die “Aspoestertjie” wat moet skoonmaak, kos maak, in die kombuis slaap en totale vernedering en minagting moet verduur. Sy word nie na die troue van Hennie en Hannie Deysel (die "bal" van die Aspoestertjie-verhaal) genooi nie en staan eenkant en verworpe na die swierigheid en kyk. Dan neem die Aspoestertjie-verhaal ’n wrede draai wanneer Cathy verkrag word en ’n skoen agtergelaat word. Maar dit is die skoen wat tog uitkoms bied wanneer dit as troefkaart gebruik word sodat sy en Jopie Deysel kan trou. Cathy gryp ná Jopie se afsterwe die geleentheid aan om weg te breek van die armoede en vernedering wanneer sy later met Dors Ferreira trou, maar ook hierdie droom van haar word nie bewaarheid nie: “Ek is al weer belieg” en “Ek het lankal geleer om my swaarkry weg te steek, maar dit is my kinders se swaar wat my snags laat wakker lê. Ek het soveel drome vir hulle gehad en Dors en die stad het vir my na ’n nuwe droom vir die kinders gelyk.”

Die derde verhaal is dié van Katrina Coetzee – Katryn se ma – wat, net soos haar ma, droom om ’n onderwyseres te word, maar ook armoede en vernedering ken. Sy en haar broer en suster beland in die weeshuis, maar Katrina staan sterk en verloor nooit haar hoop op ’n beter lewe nie. ’n Sikliese verloop begin in Katrina se verhaal intree wanneer karakters van die vorige verhaal weer na vore tree – veral belangrik is juffrou Gous, wat Cathy se onderwyseres was en nou die skoolhoof van Katrina se skool is.

Dit is ’n roman wat nie net oor die karakters handel nie, maar ook oor die landskap – veral die landskap van die Noordwes-Hoëveld. Al is dit ’n ongenadige en wrede (selfs lelike) landskap (“Katryn vertel my ook dat die delwer se dogter Cathy Murray die Noordwes-Hoëveld gehaat het en dat die delwer se kleindogter Katrina, gebore Deysel, dit is nou Katryn se ma, die Hoëveld vandag nog haat”), slaag Du Plessis daarin om dit mooi in te kleur: “Miersehoop lê in die ou Wes-Transvaal, daar waar dit blom tussen die bantoms, waar dit wyd is en ’n mens nog in ’n droom kan glo. God het geen berge of bosse oorgehad toe Hy die land moes maak. Toe het Hy net die vrede en ’n duisend duiwe hier gelaat”; “Die rivier riviere luier vandag nog in hul kronkels tussen fluitjiesriet en onder wilgers deur totdat hulle verder suid, hier anderkant die dorp, in die Vaal invloei”; “En as jy verder weg staan, sien jy hoe roer stoppels wintermielies op uitgestrekte, droë lande oorkant die rivier teen die wind, onbewus van die komplekse kom wat oornag soos ’n negeoog tussen die opstal en die rivier in die spoelgrond oopgebars het.” Die landskapbeskrywings toon die keurige en liriese taalgebruik van die skrywer as woordkunstenaar. Die keurige beskrywings is ook gepas, aangesien die verteller ’n skryfkundeprofessor uit die streek is.

Maar dit is ook ’n verhaal van die geskiedenis van die land. Die boek handel oor delwers en oor oorlog en die nalatenskap van beide in ons land. Dit is hierdie twee gebeurtenisse wat aanleiding gegee het tot geweldige armoede in Suid-Afrika, asook tot swaarkry, mishandeling en ellende. Dit het gelei tot vooroordele en diskriminasie en stereotipering: “Twee beskimmelde siele wat mekaar gevind het, maar dit nie in woorde en sinne kan uitspreek nie omdat hulle mekaar se woorde moeilik verstaan. Hulle verstaan mekaar desondanks; weet wat dit is om verwerp te voel, al is die oorsaak van hulle verwerping verskillend. Dalk ook nie so anders nie, want hulle is uit ’n laer klas, die een is ’n delwer se vrou en die ander een is die bywoner se vrou. Onaanvaarbaar vir ’n deel van die gemeenskap met ’n skuldige gewete; die deel wat na meer as twee dekades steeds met hulleself ’n Boereoorlog voer op soek na ’n vyand en ’n geskikte slagveld.” Maar dit het ook daartoe gelei dat mense mekaar help: so byvoorbeeld sorg Hetta vir Amléth en neem haar dogter later as haar eie in; Hannie Deysel gee ‘n bietjie kos vir Cathy as daar niks meer oor is nie; Judy help vir Cathy in die stad met ‘n bietjie kos; die ouderling kom gee kos.

Drie vroue en ’n meisie is ’n aangrypende lekkerleesboek. Enkele punte van kritiek kan wel teen die roman genoem word, soos die laaste paar bladsye wat die roman vinnig einde se kant toe laat staan; die ellende en die swaarkry kan nogal erg wees om van te lees; en die “gelukkige einde” en “mooi slot” is hinderlik. Ten spyte hiervan is dit ’n roman wat lesers gerus kan lees, want dit verwoord nie net die verhaal van drie vroue en ’n meisie nie, maar verwoord veral die verhaal van oorlewing en aanpassing in moeilike tye en van hoop: “Hulle het die dromer vernietig, maar nie die droom nie.”

 

  • 12

Kommentaar

  • Andre Heyns (weer terug in Potch)

    Dankie, Hans. Soos wat alles wat ek van jou gelees het, is die een iets wat my ver laat dink - in die verlede.

  • Bettie Venter

    Ek wil dit graag luister op potgooi maar kan dit nie vind nie; ek het 'n paar episodes gemis. Kan u my asb help.

  • Fanie Booysen

    'n Puik verhaal, dit voel of 'n mens in die storie kan klim en die arme Cathy net kan help! Luister tans op RSG, maar sal die boek aanskaf.

  • miemie Hanekom

    Ek gaan die week nie na die voorlesing Drie vroue en 'n meisie kan luister nie. Ek kry dit nie op potgooi nie. Help asb.

  • Hartseer verhaal, maar ons dra kennis van bywoners, delwers en boere wat hul plase verloor het na die groot droogte van 1932.

  • Jackie van der Walt

    Dankie, wat 'n wonderlike verhaal om ons weer net te laat onthou hoe die verlede mens inhaal en die werklike nare gevolge van vooroordeel, ek dink nog lank aan die verhaal nadat ek dit gelees het, onvergeetlik.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top