Vir Christine – Christine Barkhuizen le Roux (1959–2020)

  • 2

As daar nou iemand was wat haar droom gelééf het, dan was dit Christine Barkhuizen le Roux!

Ek sal haar toewyding om ’n skrywer te wees altyd onthou, en aan aspirantskrywers sal ek haar altyd as rolmodel voorhou. Sy was nie die eerste persoon wat oor my pad gekom en gedroom het om ’n skrywer te word nie, maar sy was een van min wat haar droom bereik het.

Nie net het sy haar eie gepubliseerde boek in haar hand gehou nie, sy het meer as net nog ’n skrywer geword. Sy het ’n belangrike skrywer met haar eie stem geword. Iemand met ’n beduidende klomp lojale lesers wat haar werk opgeraap en verslind het.

Christine het haar droom bereik en dit kan ’n mens nie in alle eerlikheid van baie mense sê nie. Maklik was dit ook nie altyd nie, maar vir haar was skryf ’n passie waarvoor sy sou kon opoffer en as sy iets wou doen, het sy dit met oorgawe begin en deurgevoer.

Skryf was ook nie haar enigste talent nie – sy kon sing en sy kon skilder. Maar vandat ek haar omtrent dertig jaar gelede leer ken het, was dit haar droom om ’n skrywer te word. Dit is waarvoor sy die eerste keer ’n skryfkursus van die ATKV-skryfskool bygewoon het. In 2000 publiseer Ronnie Belcher haar debuutdigbundel, Dimensie, en ten spyte van ’n vernietigende resensie hou sy aan met skryf en breek werklik deur met haar debuutroman, Padmaker, en bewys haarself as ’n vaardige romansier.

Die dogtertjie uit die padkamp en die plaasmens van Barrydale word só ’n rolmodel vir jong skrywers wat self nog hierdie steil bult moet uit.

Christine het my geleer wat passie is en dat geen droom ooit te groot is vir iemand wat van natuurlike talent toewyding maak en van ’n droom ’n lewe maak nie. Vrede en rus vir jou, my vriendin.

Bertus en die kinders bid ons troos en seën toe. Julle verlies is ook die Afrikaanse boekwêreld se verlies. Ons sal almal Christine se lag mis, maar haar woorde sal met ons bly praat.

Lees ook:

NB bring hulde aan Christine Barkhuizen le Roux

Christine Barkhuizen le Roux (1959–2020)

Skrywersonderhoud: Christine Barkhuizen-Le Roux oor My naam is Prins, ek slaap met die lig aan

Boekresensie: Drieklawerblaar deur Christine Barkhuizen-le Roux

Lesersindruk: My naam is Prins, ek slaap met die lig aan deur Christine Barkhuizen-le Roux

  • 2

Kommentaar

  • Ai, prof Hans, ek kan jou woorde slegs beaam. Ek het ook Christine leer ken voor sy haar eerste bundel voltooi het. Dit was juis omdat sy kunsklasse op Swellendam gehad het dat ek haar in my winkel ontmoet het waar sy haar doeke, verf en kwaste {ek verkies kwasse) kom koop het. En die ander dae wanneer sy Bonnievale toe gery het vir sangles, het sy eers kom stop by Juksta en het ons koffie gedrink.
    Haar hart en lag kan 'n mens nie vergeet nie. Kosbare mens.
    Groetnis, Ronél Dunn

  • Gustaf Claassens

    As jou 'pen' droog word terwyl jy nou eers begin reg skuif het, is die skok en hartseer soveel groter. Dit was hopeloos te gou.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top