Sêgoed van Christine le Roux "Om te skryf, moet jy wil. Dit beteken om aan te hou en aan te hou." (LAPA Webruimte, Skrywerfokus, 23 Aug 2006) "My gunstelinggenre is die poësie – die presiesheid van elke woord, die juiste nuanse, die afgerondheid wat die poësie bring. Dis ’n bietjie soos ’n legkaart bou met woorde. As jy goed luister, sê die gedig vir jou wát wáár hoort. (En dit duur soms maande, soms wel jare.) Dit beteken egter nie dat ’n afgeronde gedig ’n 'klinkklaar' antwoord veronderstel nie." (LAPA Webruimte, Skrywerfokus, 23 Aug 2006) Elna van der Merwe wou by Christine weet hoe hanteer sy die alleenheid van skryf: "Dit is ’n ander deel van ’n mens se persoonlikheid wat jy dan na vore haal. Ek is lief vir mense, maar dit is die alleenheid op die plaas wat my laat begin skryf het. Ek moes, anders sou ek nie oorleef het nie. Dit is goed vir my om dinge soos vandag (bekendstelling van Drieklawerblaar) te doen, maar dan weer op my bed met ’n klomp kussings agter my te sit en skryf." (Eikestad Nuus, 17 Oktober 2016) Oor haar liefde vir Nederland en Nederlands: "Daar was altyd by my ’n hunkering na Nederland en Nederlands. Ek dink om in Nederlands besig te wees verryk ’n mens se eie taal. Jy kom by die wortels van jou taal." (Eikestad Nuus, 17 Oktober 2016) "Elke keer wanneer ek ’n boek begin, dink ek ek gaan dit nie kan doen nie, hoe gaan ek dit doen? En ek wonder ook hoekom kies ek vir myself sulke moeilike onderwerpe, maar dit maak dit ook interessant. Daarom raak skryf nooit vervelig nie, want met elke nuwe onderwerp leer jy nuwe goed by." (Eikestad Nuus, 17 Oktober 2016) "Ek is nogal ’n goeie waarnemer en het áltyd ’n notaboek in my handsak om iets neer te skryf as ek dit raakloop. Wanneer ek bestuur, skryf ek soms in my notaboek op my skoot en probeer dan later ontsyfer wat ek gekrabbel het. Maar só het ek onlangs op die plaas se grondpad die bakkie afgeskryf..." (Netwerk24, 20 September 2016) "As ek nie self betrokke is by die verhaal nie, kan ek dit gewoon nie skryf nie. Daar moet tog stukkies van jou eie persoonlikheid in van jou karakters weerspieël. En die verhaal moet my só aangryp dat ek gedronge voel om dit te skryf. Ek wil morele kwessies, en veral onreg ondersoek, dinge waarmee mense dikwels nie gekonfronteer wil word nie." (Netwerk24, 20 September 2016) Oor die verskil tussen poësie, kortverhale en romans: "Ek dink my prosa word nogal sterk beïnvloed deur my poësie. Poësie is meer gedistilleerd, maar by albei geld die soeke na die juiste woord. Ek dink dis eintlik ’n kwessie van oorskakel na ’n ander rat." (Beeld, 17 April 2010) Is sy voltyds boervrou, wou Kirby van der Merwe weet: "Gits. Dis amper soos om vir iemand te vra of jy voltyds met ’n dokter of skrynwerker getroud is. My man is die toegewyde boer. Ek is gelukkig dat hy verstaan dat ek moet skryf om te leef, want sonder hierdie wêrelde in my kop – waardeur ek die lewe probeer ontrafel – sal ek nie kan bestaan nie." (Beeld, 17 April 2010) "Menslike verhoudings is die ding wat my die meeste interesseer, die dinamiek binne ’n gesin, maar ook die invloed wat die verlede op ’n nuwe geslag het. Kan ’n volgende geslag dit regkry om ’n vasgelegde patroon te verbreek om só ’n nuwe vryheid moontlik te maak?" (Huisgenoot, 10 Junie 2010) Hoe gaan sy te werk wanneer ’n tema van ’n nuwe boek beplan word? "Ek skryf eintlik oor dinge wat oor my pad kom en aan my begin krap – verál wanneer menslike onreg betrokke is. Natuurlik ontwikkel ek dan karakters asook die verloop van die verhaal, maar altyd op so ’n manier dat dít wat in die boek gebeur, werklik kon plaasvind. Daarom is dit vir my belangrik om baie navorsing oor ’n tema te doen sodat ek in die karakters se koppe kan klim en uitvind hoe hulle dink en doen. Verál waarom hulle doen wat hulle doen." (Landbouweekblad, 25 Januarie 2013) Is dit vir haar belangrik om uit eie ervaring te skryf, wou Phyllis Green weet: "Ek skryf eintlik altyd so. Ek moet ’n verhouding hê met die mense wat ek gaan skep. Ek moet myself in die boek kan voel. Op ’n manier moet ek altyd self daar wees, nie as ’n karakter nie, maar my wese moet in die boek wees." (Sarie, 3 Januarie 2013) "Ek skryf, dink ek, elke dag. En hoe meer die onderwerp my pak, hoe langer die ure voor die rekenaar. Nie ’n dissipline van soveel uur of stip van so laat tot so laat nie, maar ’n innerlike dissipline opgelê deur dit waarmee ek aan die gang is." (Rapport, 28 Mei 2006) "Ek lees om te leer (skryf). En ook omdat ek nie anders kan nie – ek is verlief op letters." (Rapport, 6 Mei 2007) "En nie alle negatiewe kritiek is net daar om af te breek nie – soms is daar meriete in en móét ek my daaraan steur." "Ek hou daarvan dat elke woord in digkuns soveel gewig dra. ’n Mens moet letterlik oor elke woord dink en besluit of dit sy plekkie in die gedig werd is." "Ek skets egter net situasies in my verhale; ek kom nie tot gevolgtrekkings nie. Die leser moet self besluit wat hy of sy met dié gegewe sal maak." Wat krap Christine om? "Die onverdraagsaamheid van een mens teenoor ’n ander. Ek kan nie verstaan dat mense behae daarin skep om ’n ander te vertrap nie. Is ons nie almal weerloos en uitgelewer aan wat ons 'die lewe' noem nie? In Padmaker sê die dogtertjie vir haar ma: 'Mamma is liewer vir Oubie en Lenie.' En die ma antwoord: 'Jy máák daarna.' Dit maak my die bliksem in. Daardie houding, dat mense wanneer iets slegs met iemand gebeur, só kan reageer: Jy het daarna gesoek..." (Huisgenoot, 10 Junie 2010) "Die werk in verskillende genres stimuleer mekaar. Dit laat my anders na die taal kyk en die manier hoe jy dit kan inspan. Die Afrikaanse taal voel vir my dikwels na halfedelstene en mooi klippies wat jy in jou hand skommel en vat-vat totdat jy die régte een tussen duim en voorvinger raakvat." (Netwerk24, 20 September 2016) "Besig wees is die groot entstof teen die lewe." (aan Trisa Hugo, Netwerk24, 19 November 2020) |
Gebore en getoë
Christine (doopname Cornelia Christina) Barkhuizen is op 18 November 1959 in Vryburg in die Noord-Kaap gebore. Sy, haar broer en haar suster word groot in ’n "padmakersgesin". Haar pa was ’n dieselwerktuigkundige wat aan masjinerie soos padskrapers, stootskrapers, laaigrawe, ens gewerk het. Haar ma, ’n huisvrou, se passie was, en is, haar kinders. Hulle trek tussen die jare 1954 en 1980 rond tussen verskeie dorpe in die ou Kaapland, waar daar toe deur die regering hoofpaaie tussen die dorpe gebou is. Die drie kinders woon gesamentlik sewe verskillende skole by as gevolg van die voortdurende verskuiwing.
Christine vertel aan Elmari Rautenbach (Huisgenoot, 10 Junie 2010) dat haar pa ’n padmaker was. "As kind het ek en my ouer broer en jonger sussie so saam met ons ouers van padkamp tot padkamp getrek. Dit was ’n swerwersbestaan en die 'regte mense' het meestal met ’n gesonde dosis afkeer na die bewoners van die tydelike Masonite-huise gekyk.
"Ek was baie na aan my pa, maar het my ma nogal laat swaar kry. Ek was ’n moeilike kind, rebels, 'anders'; vinnig om my mening te lug, vinnig om te sê as ek nie saamstem nie."
Christine vertel aan Rachelle Greeff (Rapport, 28 Mei 2006) dat dit ’n sub B-juffrou (juffrou Aucamp) op Steynsburg in die Oos-Kaap was wat haar liefde vir die letter vasgeknoop het. "Boeke was van altyd af ’n manier om ook op ander plekke te kan wees as daar waar jy jou bevind. Dié juffrou het hierdie leesgierigheid aangewakker. Ek onthou hoe ons as kinders elke Vrydagmiddag biblioteek toe gegaan het en teruggekom het met ses boeke onder die arm."
Haar eerste leeservaring was vroeg in haar lewe. Sy vertel (Rapport, 6 Mei 2007): "Die eerste keer dat ek self ’n verhaal gelees het, was in die jaar voor ek skool toe is – een van my broer se st 2-boekies. Oor ’n man wat waatlemoene verkoop langs die pad. Toe ’n vrou laatmiddag die laaste waatlemoen wil koop, wys hy haar ’n steekplek en raai haar af om dit te koop. Iets aan die egtheid van die man, van die storie, bly by my. Ek wil só skryf dat mense terugkom om ’n waatlemoen te koop, en geloofwaardig bly."
Tydens ’n onderhoud met Elna van der Merwe na die verskyning van Drieklawerblaar in 2016 vertel Christine hoe haar skeppingsdrang reeds as kind na vore getree het: "Van kleins af wou ek graag dinge maak. Ek onthou my sussie was dikwels kwaad vir my, want as sy ’n speletjie wou speel, wou ek dit self maak. En as dit klaar was, wil ek nie verder daarmee speel nie.
"Ek onthou hoe ek in Queenstown, toe ek tussen twee en ses jaar oud was, op die agterstoepie gesit het en met verskillende kleure klippies op die sement geteken het. Opstel skryf op skool was vir my die lekkerste, want dan kon ek self iets maak. Ek hoef nie wat iemand anders geskryf het, te memoriseer nie.
"Die skrywer, Mark Haddon, het gesê 'as ek nie skryf nie, voel ek soos ’n hond wat nie uitgelaat word nie'. Dit is presies soos ek voel."
Ook haar liefde vir Nederland en Nederlands het sy ontstaan in haar kinderjare gehad: "Toe ek ’n kind was, kon ’n mens Die kinders van die wêreld-boeke nog uitneem. Ek het daardie boeke oor en oor en oor uitgeneem en die land waarheen ek wou gaan, was Holland. Dit was altyd iets wat my bygebly het. In matriek het ons ’n voorgeskrewe boek, Karakter, gehad. Tussen die pa en die seun in die boek het daar iets afgespeel wat my my lewe lank bygebly het." (Eikestad Nuus, 17 Oktober 2016)
Verdere studie en werk
Christine studeer aan die Universiteit Stellenbosch, waar sy in 1980 haar BA-graad behaal met Bybelkunde en Sielkunde as hoofvakke.
In 1980, kort voor haar gradedag en haar 21ste verjaardag is haar pa op 47-jarige ouderdom in ’n motorongeluk oorlede. Haar ma se beserings was so ernstig dat sy nie die gradeplegtigheid kon bywoon nie. "Dit het my omtrent 15 jaar gekos om die skok te verwerk," vertel sy aan Elmari Rautenbach in Huisgenoot. "Uit so iets moet ’n mens vir jouself sin maak. Uiteindelik het ek ’n gedig geskryf oor ’n meisietjie wat by die hek wag dat haar pa huis toe kom. Ek het dit eenkeer by die KKNK vir Hans du Plessis gegee om te lees. Sy kommentaar was: 'Christinatjie, dis nie ’n gedig dié nie, dis ’n roman ...'"
Haar pa se afsterwe het ’n baie groot invloed op die res van Christine se lewe gehad, vertel sy aan Elmari: "Ek's allermins ’n smartvraat, maar daardie intense verlies wat ek destyds ervaar het, het by my ’n deernis geskep vir mense wat verlies ervaar. My sielkunde-professor op Stellenbosch, Herman van Niekerk, het destyds vir ons gesê ’n sielkundige moet saam met die kind wat bang is vir spinnekoppe, onder die tafel gaan sit en sy vrees sáám met hom ervaar. Ek dink die dood van my pa het gemaak dat ek daardie empatie met mense kan hê."
Sedert 2001 studeer sy verder en behaal in 2002 haar honneursgraad cum laude aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Sy volg dit op in 2005 met ’n meestersgraad, ook cum laude, in Afrikaans en Nederlands met Nederlandse poësie as haar navorsingsveld. Haar skripsie fokus op die poësie van die Joods-Nederlandse digteres Judith Herzberg, met Wium van Zyl as haar studieleier.
Christine begin in 2006 met haar MA in Skeppende Skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad onder leiding van Etienne van Heerden. Sy was ook die wenner van die beurs vir Skeppende Skryfwerk wat deur NB Uitgewers en die Departement van Afrikaans en Neerlandistiek aan die Universiteit van Kaapstad toegeken word. Sy slaag hierdie graad met lof en die roman wat sy as Meestersprojek voltooi het, word in 2010 deur Human & Rousseau uitgegee onder die titel Padmaker.
Christine woon saam met haar man, Bertus le Roux, ’n wyn- en vrugteboer, op ’n plaas 30 kilometer vanaf Barrydale in die Suidwes-Kaap. Hulle het drie kinders, Joané, Albert en Carli. Sy meen dat die afgesonderde leefwyse op die plaas en in ’n kleindorpse gemeenskap ’n definitiewe invloed op haar skryfwerk het. Sy is ook ’n skilder en doen veral studies met ’n simboliese inslag.
Sy erken teenoor Rachelle Greeff (Rapport, 28 Mei 2006) dat sy nie ’n goeie boervrou is wat melktert bak en ander boervroudinge doen nie, maar dat sy baie lief is vir die ghwarriebome en die grysgroen van die Klein Karoo. "Dít, dink ek, is wat my tot skryf gedwing het. Die afsondering hier, dertig kilometer buite Barrydale. Die natuur het my klankbord geword. Barrydale is my gemeenskap, ook my kerk."
Een van Christine se groot liefdes is lees. Sy voel dat as jy lees, "reis" jy na ander plekke, situasies, mense. "Wie lees, leef soveel meer lewens as maar net een. En dis iets wat ek so dikwels dink: as ek meer lewens kon hê, want daar’s soveel wat ek nog wil sien, beleef en deel wees van. En as jou kinders jou sien lees, en die plesier wat jy daarin het, sál hulle lees – daai ou ding van woorde wek, voorbeelde trek." (Rapport, 28 Mei 2006)
In 1994 woon Christine ’n ATKV-Skryfskool by en daarna is heelwat van haar gedigte in die letterkundige tydskrif Literator opgeneem. In 1999 is sy weer na ’n ATKV-Skryfskool, waar die poësiekursus deur Breyten Breytenbach aangebied is. Dit was vir haar ’n groot aansporing toe hy gesê het hy kan sien sy "begin haar eie stem hoor".
"Ek is eintlik Christine le Roux," vertel sy aan Willemien Marais (Volksblad), "maar toe ek begin skryf het, was daar klaar ’n Christine le Roux. Eleanor Baker het soms onder die skuilnaam Christine le Roux gewerk, en ek kon beslis nie met iemand soos Eleanor Baker meeding nie! Gevolglik het ek besluit om my nooiensvan tot die vergelyking toe te voeg."
Christine het artikels en kortverhale vir Insig geskryf en van haar kort prosa verskyn ook in Rooi Rose. Tussen 2000 en 2006 word verskeie van haar gedigte en/of verhale in Nederlandse publikasies en Afrikaanse bloemlesings opgeneem, soos Schoon Schip, Altijd Dichtbij, Kostbare momenten, Vrede sluiten is wegen openen, Een honderd dichters 3, Mense is mense, Metafore van herlewing, As die son kom oogknip, Honderd jaar later, Vers reise en Woordreise. In 2005 en 2006 is van haar gedigte en kortverhale in Tydskrif vir Letterkunde gepubliseer. Van haar verse is ook in Groot Verseboek opgeneem.
In 2000 het John van Reenen, die diskusgooier, haar na ’n voorleesaand op Stellenbosch in die Dorpstraat Teaterkafee genooi. Die digter Ronnie Belcher het sulke aande gereël waar digters kon voorlees en daar was ook geleentheid vir ongepubliseerde digters van die vloer af. Christine se vriendin Cobie Cilliers het voorgestel dat sy ’n boekie van haar gedigte maak om daar te gaan uitdeel. Sy het die aand haar gedig "roudiens" voorgelees, maar nie die indruk gekry dat sy enigiemand "geraak" het nie. John het die boekies uitgedeel en Ronnie Belcher het ook een gekry.
Christine vertel op LitNet: "Twee maande daarna kom ek by die huis en my man sê: 'Ronnie Belcher het gebel; hy soek jou – jy moet hom terugbel.' Ek het dit gedoen sonder om enigsins opgewonde te raak, want ek het teen daardie tyd al harde lesse geleer oor mense, uitgewers, ander digters en lesers wat hulle nie aan die poësie steur nie; veral glad nie belangstel daarin om te kyk na die werk van nóg ’n ou (boer) vroutjie – soos Ronnie later gesê het om my siel uit te trek – wat nou ook gedigte wil skryf nie. Dus, ek het gebel, maar sonder om ooit te dink dat Ronnie dalk dink daar steek iets in my werk.
"Wat hy my oor die telefoon gevra het, was 'Het jy nóg van hierdie gedigte?' Ek het gesê, ja, ek het, en hy het gesê, 'Stuur dit vir my.' Ek het gesê ek sal dit pos. 'Nee,' het hy gesê, 'faks dit, dis baie gouer.' Die faksmasjien (wat ons nou nog het) het Noag gebruik om die buitewêreld te laat weet hy sit op Ararat, en dit het ure geneem om die omtrent 60 gedigte deurgestuur te kry. Maar ek het nie verwag dat hy dit ernstig sou opneem nie. In hierdie lewe is daar min mense wat ander sommer help – daar is uitsonderings, en ek het agterna met nog sulkes te doen gekry – maar dit is nie ’n algemene ding nie. Veral nie met iets soos poësie nie."
Intussen is Christine en Cobie deur Marzanne Leroux-Van der Boon genooi om na die Afrikaanse Skrywersvereniging se jaarvergadering in die Kaap te gaan. Ronnie het ook gebel en vir nog gedigte gevra, aangesien hy baie goeie goed gevind het. Christine het gemeld dat sy Kaap toe gaan, maar Ronnie het ’n ander afspraak vir dieselfde aand gehad.
Die aand van die vergadering was die hoofspreker nog aan die praat toe Ronnie ingestap kom. "In sy hand het hy ’n bruin papiersak gehad, soos iemand wat op pad was om êrens ’n skof handewerk te gaan doen en sy toebroodjies daarin saamgeneem het. (...) Toe die vergadering verdaag vir die teepouse, het Ronnie na my toe gekom en gesê ek moet by hom kom sit en tee drink, want hy wil met my praat. (...) Hy het gevra of ek van my gedigte die dag daar het. Ek het gesê ja, ek het, want Marzanne het gesê ek moet iets lees, en toe vir hom gevra: 'Maar wat dink jy? Dink jy ek moet lees, of nie?' Sy antwoord was: 'Ja, ek dink definitief so, en ek sal jou ’n baie goeie rede gee hoekom ek dit sê – want jou eerste bundel is vandag gepubliseer ...' Hy het die papiersak wat langs hom op die vloer gestaan het, opgetel en ’n stuk of agt proewe van die bundel dimensie uitgehaal."
In De Kat skryf Wium van Zyl (Februarie 2001) dat dimensie een van die sterkste en mooiste eerstelinge in ’n lang tyd is. "Die gedigte betrek ’n wye verskeidenheid temas – boervroue, verplant na harde, vreemde streke word stem gegee. Die veelvlakkige aandag aan die natuur is deel van ’n ryk verkenning van die menslike bestaan. dimensie bied egter ’n oes aan wysheid en sensitiwiteit in keurige verse uit ’n landskap waar ver en helder gekyk word, iets wat poësieliefhebbers nie mag mis nie."
In Volksblad van 13 November 2000 skryf Bernard Odendaal en Sulette Bruwer dat die bundel nie sonder "mankemente is nie (hier en daar ’n gesogtheid, of ’n versierseltjie wat nie so funksioneel is nie). Al die gedigte bereik nie ruimer dimensies nie, tog is dit ’n goeie debuut wat van aansienlike digterlike rypheid en geslyptheid getuig. Hulle voel dat sy met haar debuutbundel ’n belangrike bydrae lewer tot die plaasliteratuur in Afrikaans en spesifiek op die gebied van plaasdigbundels waarvan daar maar enkeles in Afrikaans is. In dimensie word die boervroubestaan enersyds as ’n uitdagende, soms moeilike bestaan geteken; andersyds as ’n wêreld wat veel skoonheid en wonderbaarlikheid inhou. (...) Dit sou egter ’n verskraling van die bundelgegewe wees om dit te reduseer tot die verwoording van die plaaslewe. Die kompleksiteit van geometriese vorme waaruit (deur die digter self) geskilderde figuur op die voorblad opgebou is, illustreer reeds die veelkantigheid van ervaringe waaroor dit in die bundel gaan."
Hoewel Joan Hambidge (Die Burger, 12 Maart 2001) meen dat die bundel nooit uitgegee moes gewees het nie, is Fanie Olivier van mening dat daar verse in hierdie bundel is wat vir sekere lesers baie sal kan beteken en "wat bowendien die sê-krag van Afrikaans bevestig".
Vir kritiek skrik Christine nie, hoewel die resensie van Joan Hambidge oor dimensie haar geweldig geskok het. Dit het haar egter ook weerbaar gemaak, erken sy.
Tydens die ATKV se Skryfskool in April 2001 in Potchefstroom het Christine ’n lesing gelewer oor poësie, met verwysing na haar eie gedigte, en by die KKNK van dieselfde jaar het sy ’n voorlesing van haar gedigte gedoen tydens die program Verslantern. Sy was ook in 2001 die redakteur van PoësieNet, LitNet se poësie-afdeling.
In 2005 word Christine se kortverhaal "Persiese sprokie" aangewys as die naaswenner van die Stellenbosse Woordfees, Protea-Boekhuis en LitNet se nasionale kortverhaalkompetisie. Rachelle Greeff se verhaal "Swiets in Rhodesië" is as die wenner aangewys. Christine se ander twee verhale behaal die vyfde en sesde plekke. Haar reaksie op die tweede prys: "Ek was heeltemal oorstelp. Ek het gehoop om in die bundel opgeneem te word, maar beslis nie om ’n prys te wen nie!" (Die Burger, 10 Februarie 2005)
In Januarie 2006 word sy aangewys as een van die vyf finaliste in LitNet se Beste Prosastukke van 2005 vir "’n Persiese sprokie".
Christine se tweede digbundel, roset, verskyn in 2006 by LAPA. Op die agterblad skryf JC Kannemeyer: "In dimensie, haar debuut van 2000, bundel Christine Barkhuizen-le Roux ’n aantal geslaagde verse waarin die woordgebruik, beelding en klankgevoeligheid reeds besonder opvallend is en van ’n sensitiewe poëtiese vermoë getuig. Dit sit sy nou voort in roset, ’n versameling kompakte, kriptiese, soms ook singende verse wat die leser musies meevoer. Sentraal in die bundel staan die Griekse Phaistos-tablet waarvan die 45 simbole nog deur niemand bevredigend verklaar kon word nie. Hierdie 'old stone that cannot be deciphered' (TS Eliot), en spesifiek die Griekse roset in die middel van die tablet, is dan feitlik die toonsleutel vir die belangrikste motiewe in die bundel: die kringloop van geboorte, dood en herrysenis; en die verlange na die afwesige liefde. Roset is nie alleen ’n vooruitgang op dimensie nie, maar in sy eie reg ’n sterk en waardige toevoeging tot die hedendaagse Afrikaanse poësie."
Cecile Cilliers (Die Burger, 23 April 2007) noem haar ’n sprankelende stem. "Soos die historiese roset, vra die bundel stiplees om die volle woordwaarde daarvan te ontdek. Barkhuizen-le Roux is lief vir die ongewone woord. (...) Sy skrik nie om woorde op eiesinnige en eiesoortige wyse in te span nie. Dit gee aan haar poësie ’n uitsonderlike varsheid en sjarme, mits sy daarteen waak om té vergesog, té esoteries te word, en sodoende haar lesers vervreem. Poësie is metafoor en begrip, maar poësie is ook begrip. Die Phaistos-steen is aanloklik in sy geheimsinnigheid, maar uiteindelik verloor selfs die verbete navorser belangstelling ... Geboorte, groei, dood en herrysenis is van die temas wat in roset aan die bod kom, en elkeen van die onderwerpe toon Barkhuizen-le Roux se enigmatiese, soms kriptiese aanslag. Dat sy haar aan haikoes waag (’n digvorm wat nie altyd met sukses in Afrikaans aangepak word nie), toon haar voorliefde vir die digte vers, en sy het wel sukses daarmee. (...) roset met sy wye verwysingsraamwerk (die bundel is van ’n register voorsien om sommige simbole en beelde te verklaar) is vanweë die ontginning van die Afrikaanse taal, maar ook ter wille van die liriese gehalte en die onverwagte metafore, ’n stuk digtersvreugde. Die naam Christine Barkhuizen-le Roux is een om dop te hou."
Ampie Coetzee (Rapport, 5 November 2006) begin sy resensie só: "Daar is gedigte waarin dít wat gesê word, analiseerbaar is van inhoud, onderwerp en tema; én dan die poëtiese. Maar dan is daar ook gedigte waar die gedig op sigself beteken, en dan nie eintlik saamgevat kan word nie. Só is die meeste gedigte van Christine Barkhuizen-le Roux in hierdie nuwe bundel, roset. (...) Daar is by die digter ’n intense ervaring, visueel, van die natuur, waar waarneming en beskrywing ook ellipties werk. (...) Die assosiatiewe, die skeppende metafoor, wending, en veral die selfreflekterende vers bewys die poëtiese vaardigheid van Christine Barkhuizen-le Roux."
*********************
Volgens Bernard Odendaal (Volksblad, 30 Oktober 2006) verteenwoordig roset aan die een kant ’n bepaalde groei in Christine se digterskap, maar aan die ander kant tog ook nie. "Daar is ’n opvallende klank- en beeldgevoeligheid, wat tesame met die romantiese getinte kyk op sake dikwels tot mooi liriese uitinge aanleiding gee. Veral die natuurverse in afdeling drie van die bundel, en die gedigte oor die skugtere herontdekking van die erotiese liefde in afdeling 4, is sprekend hiervan. Die digter is haar klaarblyklik bewus van die gevare van ekstatiese liriese belydenisse, sodat sy ’n aantal strategieë aanwend om vormlike en stilistiese beheersdheid en objektivering in die hand te werk. (...) Barkhuizen-le Roux is ook ’n skilder, en in sommige gedigte word natuur- en toneelsienings treffend tot woordgestalte geformeer, wat in die haikoes en ’n gedig soos skemerkombuis byvoorbeeld stillewe-agtig aandoen. Alles werk egter nie so goed uit nie. ’n Paar keer vind ’n mens dat ’n stuk beelding wat belofteryk gekonsipieer is, ontspoor as gevolg van ’n troebelheid of ’n ongeldigheid op reële vlak. (...) Daar is egter ’n klompie gedigte in roset wat enige individuele vers uit die debuut oortref."
In 2010 is die Nederlandse vertaling van roset tydens die Boekebeurs in Antwerpen in België bekendgestel. Die vertaler was Joost van Hulle. Vir Christine was dit ’n wonderlike gebeurtenis, vertel sy aan Willem de Vries (Volksblad, 20 Julie 2010).
Christine se eerste bundel kortverhale, Waar koek en wyn ontbreek, word ook in 2006 deur LAPA gepubliseer. Die bundel was op die kortlys vir die M-Net/Jan Rabie-prys saam met Dana Snyman en Johan Engelbrecht wat gewen het met Kaffertjie.
Sy vertel aan Willemien Marais (Volksblad): "Ek skryf my verhale vir gewone mense; meestal vroue, maar nie doelbewus nie. Ek probeer egter ook om elke verhaal op verskillende vlakke te skryf sodat skryf ’n mens dit as ’n blote storie kan lees, of as iets diepers. Ek skryf nie vir akademiese lesers nie, ek wil hê my verhale moet toeganklik wees."
Christine huiwer nie om kwessies aan te pak nie. Iets wat haar baie na aan die hart lê, is die netelige kwessie van "subtiele onderdrukking". Dít is daardie onderdrukking van vrouens deur hulle mans wat nie as "mishandeling" beskou kan word nie. "’n Mens hoor dikwels hoe ’n man in ’n geselskap opmerk dat hy sy vrou 'toelaat' om dit of dat te doen. Toelaat!" Sommige lesers en kritici het al haar bundel as negatief teenoor mans beskou, maar sy reken dat dit beslis nie so is nie. "Ek glo wel dat daar sekere sake is wat eenvoudig aangespreek moet word."
Wium van Zyl moes by die lees van hierdie verhale gereeld dink aan die verskriklike oomblikke wanneer die lont sy lading bereik. "Die leser word gekonfronteer met die klein tragedies wat dikwels nie die koerant of statistieke haal nie. Juis daardeur word deernis gewek vir die eg-menslike." (Nuusvrystelling, Lapa, Maart 2006)
Hans Ester van Nederland (Zuid-Afrika, Oktober 2006) beskou dit as "een mooie bundel" wat hopelik deur ander gevolg sal word. "De enige valkuil door Christine Barkhuizen-le Roux ligt in de afsluitende regels van veel van de hier verzamelde verhalen. De schrijfster neemt de lezer hier en daar te veel bij de hand uit angst dat het toch misgaat met het begrijpen. Ze kan dat begrijpen gerust aan haar lezers overlaten."
Vir Belia van der Merwe (Literator, Augustus 2006) staan "afskeid, verlies en vervreemding voorop in hierdie aangrypende en goedgestruktureerde verhale waarin die leser volkome kan identifiseer met die uiteenlopende en eg-menslike situasies waarbinne die karakters geplaas word. (...) Die ruimte waarbinne ’n groot aantal verhale in Waar koek en wyn ontbreek afspeel, is die plaas. In ’n paar verhale val die klem veral op die afsondering en isolasie wat die karakters binne hierdie ruimte ervaar en hoe dit die tema van verlies en vervreemding ondersteun. As teenpool vir die plaas of platteland as verhaalruimte is daar twee verhale wat binne die stadsmilieu geplaas is. (...) Hierdie is werklik, soos op die agterblad gestel word, ’n bundel soos ’n 'geknoopte mat met ineenvloeiende aardsgekleurde drade' en lesers kan met verwagting uitsien na nog verhale uit die pen van Christine Barkhuizen-le Roux." Carolyn Meads meen dat Barkhuizen-le Roux se bundel vir ’n besonderse leeservaring sorg en sy stel voor dat lesers al hul sintuie en verbeelding inspan en hulle in haar stories inleef. "Laat woorde beelde word waar koek en wyn ontbreek."
Hierdie verhale laat Lisa van Aswegen (Rapport, 28 Mei 2006) dink aan gevoelens van medelye en menslikheid vir jou medemens en vir haar is dit een van die redes hoekom sy hierdie redelike beskeie bundel sal onthou.
In 2007 het Christine ’n biografie van die Nederlandse skrywer Simon Carmiggelt gelees. "Hierin figureer die groot skrywersfiguur Heijermans, want ‘hij (had) geen deel aan de nieuwsgaring (nuussoekery). Hij legde alleen vast hoe grote nieuws de kleine mense beroerde’. Hiermee vereenselwig ek my ook – om dít neer te skryf wat die mens ten diepste raak. Iets van ‘where do you go to ... when you’re alone in your bed’." (Rapport, 6 Mei 2007)
Die Versindaba van 2009 se oorkoepelende tema was die naasbestaan van poësie en die visuele kunste. Om dit toe te lig is ’n kunsuitstalling in die Oude Libertas Ouditorium gehou van digters wat ook skilder, en van Christine se skilderye is ook daar uitgestal.
Padmaker, Christine se roman wat in 2010 verskyn het, word beskryf as ’n deurleefde, sensitiewe roman oor die komplekse verhouding tussen ouer en kind wat een geslag op ’n volgende laat.
Christine vertel aan Elmari Rautenbach in Huisgenoot (10 Junie 2010) meer oor Padmaker. "Dit is die storie van Katrien wat voor ’n kruispad in haar lewe staan. Haar verhouding met haar man stuur op ’n mislukking af en boonop verdwyn haar bejaarde ma, met wie sy van kindertyd af ’n troebel geskiedenis deel. Daar is vir haar net een uitweg: Sy moet haar ma gaan soek. Toe sy haar motor se neus draai in die rigting van die padkampe waar sy grootgeword het, is dit haar pa se wyse woorde wat haar lei: om te weet waarheen jy op pad is, moet ’n mens onthou waar jy vandaan kom."
Christine het baie lesse by Etienne van Heerden geleer terwyl sy gewerk het aan haar meestersgraad, maar die moeilikste een was om te besef dat ’n mens se lewensverhaal nie altyd geskik is vir ’n storie nie: "jy moet nog fiksie daarvan maak".
Die verlede in Padmaker is dus Christine se verlede, maar die intrige is fiksie. "Etienne se rol was om sulke chevron-borde, daardie geel-en-swart waarskuwingsborde wat ’n mens langs die pad sien, op te hou, wat sê: Pasop! Dan het ek geweet hier is ’n beskrywing of karakter wat nie werk nie."
Katrien se ma se siekte word nooit in Padmaker by die naam genoem nie, maar daar is tog rigtingwysers in die boek wat daarop wys dat dit Münchhausen se sindroom is. Christine het aan die idee vir die roman gekom deur ’n vriendin se ma wat aan hierdie vreemde siekte gely het. Die invloed wat so-iets op ’n hele familie kan hê, het ’n groot indruk op Christine gemaak, vertel sy aan Kirby van der Merwe in Beeld (17 April 2010). "Ek wou ook nog altyd iets oor die padmakerslewe skryf en hierdie twee heeltemal verskillende dinge het ’n eiesoortige dinamika verkry wat die storie gedryf het."
Stephanie Nieuwoudt skryf in Rapport (11 April 2010) dat Christine met Padmaker ’n "stuk ervaring oopgeskryf het wat nog nie voorheen so grondig in die Afrikaanse letterkunde aangepak is nie. Hierin kry ’n mens te doen met die geskakeerdheid van menswees in die padkampe: die drinkers en die skellers teenoor die verfynde vroue en mans wat hule kinders lei om opgevoede volwassenes te word. (...)
"Dis byna onmoontlik om ’n boek oor ’n emosionele reis te skryf sonder om die een of ander grootse naam in die sielkunde by te sleep. En ja, Jung se spore lê duidelik in onder meer die drome en in Ma Kinnie se bykans obsessiewe betrokkenheid by haar breiwerk.
"Maar Padmaker raak nie verstrik in allerlei intertekstuele verwysings wat die leser vervreem nie. Dis ’n boek wat op verskillende vlakke gelees kan word weens sy geskakeerde verwysings.
"Die leser wat net agter ’n lekker storie aan lees, het nie kennis van die sielkunde of letterkunde nodig om die boek te kan verstaan of, belangriker nog, te kan geniet nie."
Ook Adéle Dempers (Volksblad, 12 April 2010) was positief oor Padmaker: "Padmaker is ’n weldeurdagte, sensitiewe roman wat netjies geskaaf is. Dit sou kon deurgaan as deel van die molesteringsgenre en as sulks is dit effe neerdrukkend en wroegend. Tog het dit ’n interessante invalshoek met sy gelyklopende innerlike en uiterlike reistema. Die hoopvolle einde, die berusting en heling wat Katrien vind, maak die roman ligter. Barkhuizen-le Roux kan ’n storie vertel, ons sien uit na meer."
En vir Jeanette Ferreira is Padmaker ’n "knap en genoeglike, selfs ontroerende, leeservaring". (Beeld, 12 April 2010)
Christine se volgende bundel kortverhale, Wat die oog gesien het, word in 2011 deur Human & Rousseau uitgegee. In Die Burger (21 Maart 2011) sit Joan Hambidge die inhoud van die bundel as volg uiteen: "dit bevat anekdotes, herinneringe, reisverhale, ’n raamvertelling ('Verby') waarin die verteller se ervarings in jukstaposisie geplaas word met ’n vroulike werker se lot op die plaas en hoe vroue binne verskillende klasstrukture op die noodlot reageer.
"Hierdie verhale lewer implisiete kommentaar op vrouwees. Dikwels word in verhale, tersluiks, verwys na ’n beperkte begroting en ’n vrou wat van die man se begroting afhanklik is. Tog is daar reise buite die patriargie en sensitiewe waarnemings in ’n vreemde landskap (soos Turkye) waar verskillende gebruike en gelowe verhaal word."
Vir Hambidge is die gehalte van die verhale nie almal dieselfde nie. Daar is ’n klompie verhale wat baie knap is, maar dan is daar etlikes wat vasgevang is in die "anekdotiese of die momentopname".
Vir Riette Rust (Rapport, 1 Mei 2011) is Wat die oog gesien het ’n bundel wat geskryf is vir die leser en nie vir die resensent nie. Die verhale is toeganklik en die slotte van die meeste verhale het ’n impak. Die stories lees lekker, maar het ook diepte.
Hoewel die bundel kon gebaat het by besnoeiing van die aantal verhale en konsolidasie van sommige van die verhale, aldus Cilliers van den Berg, maar die bundel is nie sonder wins nie. Die verhale is toeganklik en baie lesers sal kan identifiseer met die temas. (Volksblad, 12 Maart 2011)
Christine het in Oktober 2009 Vlaandere besoek, waar sy saam met Jooris van Hulle (die vertaler van haar gedigte) en Ingrid vander Veken, wie se boek sy vertaal het, opgetree het in die boekwinkel De Groene Waterman in Antwerpen; in November 2009 het sy saam met Laurinda Hofmeyr in die Arendbergschouwburg en in die Cultuurfabriek Sijsele opgetree.
Sy begin in 2009 met ’n vertaling van Ingrid vander Veken se boek Papavers – ’n ontroerende verhaal van die lewe saam met ’n skisofreniese seun. Die vertaling, Papawers, word in Mei 2010 deur LAPA uitgegee. Tans werk sy aan nog ’n vertaling, De kinderspelen deur Marc Pairon, en nog ’n bundel nuwe kortverhale vir Human & Rousseau. Christine weet nie of De kinderspelen ooit gepubliseer is nie.
Christine se volgende roman is in 2013 onder die titel Getuie gepubliseer. Hierin pak sy ’n redelike omstrede onderwerp aan, naamlik die Jehova se Getuies. Sy vertel aan die Landbouweekblad (25 Januarie 2013) dat sy ongeveer in 2007 ’n oproep van ’n skoolmaat van haar gehad het. Hulle twee het ontmoet en die vriendin het aan Christine vertel dat sy grootgeword het in ’n gesin van Jehova se Getuies en dat dit haar lewe verwoes het. Sy kon nie na skool verder studeer nie en het ook emosionele probleme gehad.
Christine het dadelik geweet dat sy, wat op daardie stadium nog besig was met Padmaker, een of ander tyd ’n roman wou skryf wat die lewe van só ’n mens uitbeeld. "Ek wou aan mense wys hoe ’n individu in omstandighede vasgevang kan word en wat die verloop daarvan kan wees. In Getuie het ek die karakters se lewensloop bepaal op grond van dit wat werklik soms met lede van die Jehova se Getuies gebeur. Ek wou wys dat dié mense slagoffers is van hul leierskorps, en dat hulle, wanneer hulle daarin slaag om 'uit te gaan', bitter alleen in die wêreld is.
"Die titel Getuie slaan enersyds op die 'Jehova se Getuies', maar ook op die feit dat Maggie ’n getuie word van wat met Mignon gebeur, en van Bea, die vrou in die tronk, ’n niggie van Mignon. Eindelik word die leser ook getuie van wat in dié vroue se lewens afspeel."
Vir Christine was die grootste uitdaging met die skryf van Getuie om ’n ewewigtige verhaal van die Getuies te vertel – nie net die leiers wat die lede uitbuit nie, maar ook dié verhaal van die gewone mense en die mense wat die Getuies verlaat het. "Ek was ook lugtig dat dit nie moet lyk na ’n aanval op die Getuies nie, maar om te wys hoe gevaarlik dit kan wees om in so ’n fundamentele groep jou man te kan staan en die gevolge daarvan. Die uitgangspunt van my skryfwerk is altyd om vir die leser iets te probeer oopmaak waarvan hy tevore nie eintlik geweet het nie."
Christine het baie deeglike navorsing gedoen voordat Getuie geskryf is. Hierdie navorsing maak egter nie inbreuk op die vloei van die verhaal nie. Dit help om die lesers bekend te stel aan die wêreld van die Jehova se Getuies en hulle meer breedvoerig in te lig oor die praktyke en geskiedenis rondom hierdie godsdiensrigting.
Oor hierdie navorsing vertel Christine aan Phyllis Green (Sarie, 3 Januarie 2013) dat dit as ondersteuning tot haar verhaal moes dien. Sy kon egter nie al die navorsing in die skryf van die boek gebruik nie, want sy wou nie ’n storie vol feite aan die leser opdien nie, maar die leser moet meer vertel word oor die Getuies. "Dis eintlik ’n godsdiens met twee verskillende bene. Die een is die leiers bo wat hulle volgelinge breinspoel en misbruik. Dis ’n geldmaak-organisasie. Daar is miljoene der miljoene dollars op die spel. Die mense wat in die veld werk, wat die publikasies verkoop en versprei, besef nie dis ’n geldmaakstorie. Ek wou die leiers blootstel en ek wou wys dat die Jehova se Getuies eintlik die prooi van ander mense is."
In Vrouekeur (22 Februarie 2013) skryf Willie Burger: "In Getuie word gekyk na iemand uit ’n klein subkultuur waarteen die groter gemeenskap vyandiggesind is. Die hoofkarakter, Maggie, ontmoet ná jare weer ’n skoolvriendin, Mignon. Op laerskool was hulle vir ’n klein rukkie boesemvriendinne, maar hul vriendskap het skipbreuk gely omdat Maggie se pa, maar ook die hele gemeenskap, dit vir Mignon onhoudbaar gemaak het omdat sy ’n Jehovasgetuie was. Die roman ondersoek die invloed van ’n gemeenskap se norme en die manier waarop sekere mense in- en uitgesluit word. Dit is egter ook ’n ondersoek van die vernietigende houvas wat ’n godsdiensgroep op individue kan hê. Dit is gewigtige temas en Barkhuizen-le Roux lei die leser om met veel begrip en deernis na groepe en die invloed daarvan op mense te kyk. Die roman behels egter meer. Maggie ontmoet vir Mignon weer ná baie jare – as haar man al dood is en kort voor haar kleinkind in Frankryk gebore word. Wanneer Mignon selfmoord pleeg, raak Maggie ook by ’n ander Jehovasgetuie betrokke, wat tronkstraf vir moord uitdien, en sodoende leer sy geleidelik nog meer oor die effek van dié geloof op mense. In die proses ontmoet sy ook ’n ander skoolvriend – wat ’n hoë pos in die gevangenisdiens bekom het. Die verhaal gaan dus nie net oor die problematiek van ’n geslote groep se invloed op individue nie, maar dit word ook die verhaal van hul ontluikende liefde – terwyl sy dit geleidelik regkry om emosioneel van haar oorlede man los te kom."
Op LitNet skryf Dineke Volschenk dat die lees van Getuie vir haar baie bevredigend was. Een van die rigtingwysers in die roman is dat dit dui op die gevare van godsdiens, asook op die vernietigende invloed wat ouers op hulle kinders kan hê.
In Volksblad (19 Januarie 2013) is Riaan Grobler van mening dat Christine ’n "knap skrywer is wat die destruktiewe natuur van fundamentalisme subtiel aanbied. Getuie is die soort boek wat die leser laat besin oor die donker kant van die godsdiens en die vernietigende invloed wat dit op mense se lewe kan hê."
In 2015 verskyn Christine se volgende bundel gedigte by Naledi onder die titel skynskadu. Dit is uitgegee met ’n CD waarop sy haar gedigte voorlees en waarop sangers ook van haar gedigte sing.
Op Woorde wat weeg skryf Joan Hambidge dat "herinnering en haar skynmaat, nostalgie, belangrike dimensies in hierdie bundel is." Op die agterflap van die bundel beskryf Fanie Olivier die bundel as ’n "herroeping van talle verledes".
Die digter keer in hierdie bundel terug na die jeug, skryf Hambidge; "vandaar die verse oor ouers en oumas en oupas en die bestaan op die plaas. Behalwe hierdie verse is daar ook lykdigte oor ander digters, soos Lucas Malan, Chris Lombard en George Weideman. In die laaste afdeling van die bundel vind die leser reisgedigte oor stede wat die digter besoek het en, skryf Hambidge, besinnings oor ’n stad, ’n besoek aan ’n museum of katedraal aktiveer sodanige gedigte die spanning tussen land van herkoms en land van besoek".
Christine het aan René Bohnen op Versindaba uitgebrei oor die reisgedigte: "Kyk, ek bly mos op ’n plaas, nie ’n landgoed nie, ’n regte egte boereplaas. Hier by ons is dit meesal droog; jy kyk die reën uit die wolke uit, en dan kom daar net ’n buurmansreën. Maar dis in die spanning tussen hierdie lap grond en die groter wêreld wat die skryfwerk gebeur. Dis om dit wat jy weet van jou eie wêreld te amalgameer met ’n nuwe omgewing. Om te beleef: hoe anders is ons – en hoe dieselfde is ons nie! En dan sien jy jou eie plek, dorp, plaas, met nuwe oë – kry jy nuwe beelde om die ou vertroude dinge mee te beskryf. Dan sien jy die man buite die Primada-katedraal in Toledo as iemand anders as die bedelaar voor die OK in jou eie dorp."
Vir Hambidge is Christine se herinnerings- en nostalgie-verse die skerpste, terwyl sy die reisgedigte as "minder gefokus" vind. Maar dit is ’n bundel vir diegene wat "hou van afgewerkte, dog toeganklike gedigte. Gedigte hoef nie vol intertekste en swaar verwysings te sit om te werk nie. Daar is ’n plek vir al die verskillende style in die huis van onse digkuns."
In ’n onderhoud met René Bohnen op Versindaba oor skynskadu verduidelik Christine aan Bohnen dat dit nie haar bedoeling was dat die gedigte in die bundel oor ’n spesifieke tema gaan nie, aangesien sy nie so skryf nie: "Söteman praat van 'impure en pure dichters'. Laasgenoemde skryf uit die hart, uit die taal, nie uit die aktuele gebeurtenisse van die dag nie. Ek dink dat my gedigte deur die jare heen ’n sekere strekking het, maar dit sien ek eers wanneer ek na ’n lang tyd die skryfsels langs mekaar sit. Dus daar is nie vooraf ’n 'program' nie – eerder die resultaat van ’n stuk lewe wat geleef is, en waaroor daar agterna besin is."
Op Versindaba resenseer Marlies Taljard skynskadu en som sy die bundel as volg op: "En dit bring my by die totale aanbod van die bundel. Soos dit so dikwels met onlangse (en minder onlangse) digbundels gesteld is, is ook hierdie bundel te lywig. Dit behoort uit my bespreking in die eerste deel van die resensie duidelik te wees dat daar ’n aantal sterk gedigte in skynskadu is wat weldeurdag en deeglik afgewerk is. Barkhuizen-le Roux kan wel dig, maar sy het nie die ondersteuning van ’n streng teksredakteur gehad wat, in haar eie belang, vir haar gesê het: 'Kill your darlings!' nie. Veral die laaste afdeling, wat 18 gedigte oor die reiservaring bevat, is heeltemal te lomp. Die meeste van dié gedigte kon myns insiens weggelaat gewees het ten einde ’n meer gebalanseerde digbundel te produseer. Minder gedigte beteken dikwels ook ’n waardevolle seleksie van goed afgeronde gedigte met groter diepgang. Ook die gebrek aan die metaforiese 'goue draad' wat die bundel tot ’n geheel sou kon saambind, ontbreek tot ’n groot mate deurdat te veel gedigte willekeurig opgeneem is en die klem waarskynlik geval het op 'wat kom in?', in plaas van op 'wat moet uit?'"
In 2015 publiseer Naledi Diane Broeckhoven se Die buitekant van Meneer Jules wat deur Christine vertaal is. Op Netwerk24 skryf Danie Botha (13 Julie 2015) dat binne 60 bladsye leer die leser vir Alice en haar gevoelens ná haar man se dood van naderby ken. Een wintersoggend vind sy vir Jules wat doodstil op die bank sit en nie sy koffie drink nie. Dan ontdek sy dat hy dood is.
"Hier aan die begin bespreek sy lank hoe hulle twee nog altyd verskil het oor hoe hul wil sterwe. Daar is aanvanklik nie skok nie. Ontsteltenis en gemengde gevoelens volg eers ’n bietjie later. Sy besluit: niemand moet weet hy's dood nie – 'Hy is nie dood solank as wat sy dit nog nie vir iemand gesê het nie.’"
Danie Botha skryf verder: " Haar gedagtes is insiggewend en geloofwaardig, maar neig dit nie na skrywersmanipulasies om dit tog net in die teks te kry nie? (...)"
"Iets wat nog baie sterker bydra tot geloofwaardigheid is die tonele met Dawid. Wanneer sy nog wik en weeg hoe om Jules te versorg, besef sy skielik dat Dawid stiptelik om tienuur sal opdaag om skaak te speel saam met Jules. Dawid is ’n outis en veilig binne roetine, herhaling en orde. Sy buitengewone invloed op Alice verskerp die intrige, sy nugter uitsprake en optrede skep klimakstonele.
"Broechhoven het reeds heelwat jeugboeke en prosa vir volwassenes in die Lae Lande gepubliseer. Danksy Barkhuizen-le Roux se woordkeuses en sinsbou gaan die Nederlands vlot oor in 2015-Afrikaans. Maar ... die leestekens en hoofletters het nie genoeg aandag gekry nie."
Christine se volgende roman is Drieklawerblaar wat in Augustus 2016 gepubliseer is. Oor die ontstaan van die roman en die impetus wat haar dit laat skryf het, vertel Christine aan Elmari Rautenbach (Netwerk24, 20 September 2016) dat die agtergrond ’n ware verhaal is: "Abré Marais van die Paarl het een middag, aangedaan, vir my die verhaal van sy familie se verlies vertel – hoe sy oupa Abraham Bier die familieplaas verloor het nadat hy vir ’n buurman borg gestaan het. Maar die wiel het gedraai, het die oupa gesê – oor hóé, wou hy egter nooit uitwei nie. Die antwoord het Abré eers later as ’n amper middeljarige man by een van die oudste inwoners van Barrydale gehoor. Die res van die gemeenskap het óf nie geweet nie, óf dit doodgeswyg. Die verlies wat die familie ervaar het, was die vonk om die roman te skryf, maar ook die tragiese geheim wat Abré laat in sy lewe eers ontdek het – daardie 'wiel wat gedraai het'."
Die roman speel in die hede in die Klein Karoo, waar Christine bly, af. "Drieklawerblaar verweef die verhale van drie karakters: Kate, ’n afgetrede verpleegster, Tinneke, gastehuiseienaar en weduwee, en haar hardkoppige buurman, Abel, ’n wildboer. Op die plaas Doringboomlaagte soek Kate na antwoorde: hoe het haar Ierse oumagrootjie hier, in Afrika, beland? Terselfdertyd is Abel gemoeid met sy familiegeskiedenis: watter houvas het die grond waarop Doringboomlaagte nou is op sy voorsate gehad? ’n Roman oor herkoms en grond, en hoe om vrede te maak met die verlede." (uitgewers se inligtingstuk)
Op LitNet skryf Juliana Coetzer die resensie oor Drieklawerblaar. "Hoe is dit moontlik om enigsins kritiek te lewer op ’n storie waarin soveel belê en soveel diepte bereik is, dink ek telkemale terwyl ek die boek lees. Ek kan nie anders as om te dink die skrywer het moeite vir haar lesers gedoen nie. Dit is asof ’n mens dit aanvoel; die storie kom van ’n goeie mens en dit gaan oor goeie mense.
"Drieklawerblaar beskryf die lewens van die drie hoofkarakters, Kate, Tinneke en Abel. Elkeen dra swaar aan sy eie storie, 'die gisterdae wat soos die agterpant van ’n trui is', soos Kate dit noem. Hulle paaie loop onafhanklik van mekaar, maar die behoefte om die verlede agter te laat, om ’n skoon toekoms tegemoet te gaan, bring die drie uiteindelik bymekaar uit en hulle lewens word in mekaar verweef.
"Die storie word tydsaam vertel, met baie detail. Alhoewel die drie karakters die buitelyne vorm, amper soos ses arms wat inmekaar gevleg is, gebeur daar ook baie aan die binnekant. Elkeen se lewe word totaal oopgeskryf en jy leer hulle intiem ken. Die skrywer neem jou op ’n reis binne elkeen se realiteit terwyl die raaisels en geheime in die agtergrond teenwoordig is en die gewete van die storie uitbeitel. Jy leer ken hulle vriende en kinders en die alledaagse bedrywighede waarmee hulle hul besig hou. Jy lees van ’n proteaboerdery waarin ’n karakter haar honger na ’n konneksie uitleef en van die skaam protea wat hoog in die berge groei, die Trots van Franschhoek. En van iemand wat sy herkoms in Frankryk soek en die effek van ’n impulsiewe daad in Egipte." (...)
"Die skrywer maak ruim van godsdienstige simboliek gebruik, soos ’n kruis, heiliges en gebede om die storie ’n dieper betekenis te gee. En dan is daar die onverklaarbare wond aan die arm, dalk as stigmata bedoel."
"Vir my het die storie gelees soos ’n spanningsverhaal. Ek het letterlik my asem opgehou tot by die laaste hoofstuk. Wat kan dan so erg wees dat iemand so swaar onder die gewig van die verlede loop? En dan die skok, die ongeloof en skielik het alles wat ek in die vorige hoofstukke gelees het en nie kon verstaan nie, sin gemaak. Dit is wat die skrywer regkry; sy hou die leser aan die wonder, asof ’n mens met ’n frons lees, die hele tyd."
"Lesers wat van intriges hou, sal die boek geniet. Die storie is aangrypend en raaiselagtig. Boonop is dit menslik met deernis geskryf sodat ’n mens nie anders kan as om selfs onvergeeflike dade te verskoon nie. Alhoewel die storie boeiend is, is dit die skrywer se vermoë om taal in te span om ’n beeld te skep sodat jy dit op jou tong proe en haar gebruik van beskrywende woorde, soos medemens wat 'ewemens' word, wat die boek ’n besondere sjarme gee."
"Die boek eindig met die woorde van Iyanla Vanzant: 'Forgiveness is giving up the hope that the past could be any different.' Ja, die geheime, ja, die raaisels, ja, die onreg, maar dan kom die verstaan en die vergifnis, opstaan, aangaan en nuut lewe. Vir my was dit die boodskap, vir elkeen sal dit iets anders wees. Jy sal nie met leë hande wegstap nie."
Marida Fitzpatrick was op Media24 (4 Oktober 2016) net so positief oor Drieklawerblaar. Sy beskryf Christine as ’n "vaardige storieverteller wat weet hoe om volronde, komplekse karakters te weef. Dit is ook Drieklawerblaar se sterk punt: Die karakters is volrond en lewensgetrou. Al drie is ouer mense wat deurleefd en geskakeerd is."
"Die skrywer kry dit ook baie goed reg om ’n sterk kontras te skets tussen die eenvoudige, rustige buitelewe op die plaas en die verstrengelde, stormagtige binnelewens van die karakters. Dit sorg vir lekker afwisseling in toonaard."
"Plek-plek trap sy in die slaggat om haar karakters oor te verduidelik. (...) Die dialoog tussen die karakters wil ook nie altyd vlot nie. (...) Maar behalwe vir dié paar dinge wat pla, is Drieklawerblaar ’n sterk roman met stories, karakters en temas wat oortuig."
Oor die wisseling tussen genres het Christine aan Phyllis Green in Sarie verduidelik: "’n Roman is vir my soos ’n kasteel met baie vertrekke, sale en kamers en op ’n manier moet jy alles met mekaar verbind. ’n Kortverhaal is vir my soos een vertrek waarbinne alles binne ’n beperkte tyd afspeel. ’n Gedig is die plantjie wat buite in die skaduwee groei, wat baie min mense raaksien. Dis soos ’n verwisseling van ratte en in elke rat doen jy iets anders. Elke genre het sy eie dissipline en dan moet jy oorskakel na daai dissipline toe."
In 2019 verskyn My naam is Prins, ek slaap met die lig aan wat later blyk te gewees het Christine se laaste roman by Human & Rousseau.
Op LitNet beskryf Anke Theron die storie van My naam is Prins as volg: "My naam is Prins, ek slaap met die lig aan handel hoofsaaklik oor die reis van drie karakters wat deur ’n gemeenskaplike trauma verbind word. Corinne (’n sielkundige), haar predikant-man Frank en Corinne se pasiënt, Deon, vertel en (her)beleef elkeen hul verhaal van verwerping, aanvaarding en die hunkering na liefde. Alice Miller, ’n psigoanalis wat in die vroeë tagtigs weggebreek het van tradisionele Freudiaanse psigoanalise, se navorsing oor kindermishandeling en geweld (2006) kan behulpsaam wees. Haar verwonde kind en proses van (her)belewing word hier ontbloot tot voordeel van die leser se insig."
"Die karakters worstel elkeen met ’n tweeledige proses van (her)belewing; hulle beleef dit in die verlede en herbeleef dit met verloop van die roman. Die seksuele mishandeling van vier seuns gedurende hul verblyf in ’n skoolkoshuis in die Oos-Kaap is die kern waarom elkeen se verhaal draai. Dis ’n deeglik nagevorste boek, waar feitlike kennis gestaaf word en op kritiese plekke die leser tot insig kan bring.
"Corrine verduidelik oor pedofiele: 'Dit gaan oor die manipulasie en die beheer wat hulle het oor iemand wat weerloos is. Dikwels spruit daardie gedrag uit ’n minderwaardigheidskompleks wat nooit oorkom is nie, of iets wat met die dader self gebeur het' (180). Dit bied sielkundige kennis wat die leser help om die karakters beter te verstaan en diepte in die teks skep."
Theron sluit haar bespreking af: "Barkhuizen-le Roux skryf in al haar romans, Drieklawerblaar, sowel as in My naam is Prins, ek slaap met die lig aan, met eerlikheid en deernis oor diep en pynlike ervarings wat die leser sal skok, maar nie sal afskrik nie. Dit onderstreep weereens die stiltes aangaande seksuele geweld, kindermishandeling en spesifiek kindermolestering wat steeds in ons samelewing teenwoordig is."
In ’n onderhoud met Remona Voges op LitNet wou Voges by Christine weet hoe My naam is Prins tematies aansluit by haar vorige romans. Hierop brei Christine as volg uit: "Remona, voordat ek hierdie boek begin skryf het, het daar soveel twyfel in my kop gedraai. Sál ek dit kan regkry om reg te laat geskied aan hierdie onderwerp – aan die slagoffers van soveel emosionele én fisieke pyn? Dis om die minste te sê ’n "tall order". Maar ek glo vas die onderwerp is deur "Iets groter as ek" op my tafel kom sit. En toe ek uiteindelik begin navorsing doen, en begin skryf, het ek besef: Eintlik het ál my romans tot dusver ook te make met onreg. En veral onreg teenoor kinders."
"Ek was ongeveer twee jaar oud toe ek die eerste keer self ’n ervaring gehad het wat my laat voel het / weet het: wat hier gebeur, is nie reg nie. Natuurlik het ek nie ’n woord gehad om aan daardie gevoel te gee nie, maar deur die jare het ek besef dat dít dalk die ding is wat my die meeste aangryp. Onreg teenoor kinders, teenoor die weerloses, die randfigure – diegene wat hulleself nie kan verdedig nie. Hulle wat "nie gehoor is nie", soos wat Juliana Coetzer dit stel."
"Terselfdertyd het ek geweet dis ’n baie groot verantwoordelikheid wat ek op my skouers neem. En tog het ek besluit om die verantwoordelikheid te aanvaar en dit te dra. Natuurlik kan ek nóóit werklik in die lyf/vel van só ’n misbruikte seuntjie klim nie, maar ek het wyd gelees, baie onderhoude gevoer, werklik die meeste inligting (wat my soms so verskriklik ontstel het dat ek uit die huis gehardloop het om net asem te haal) bymekaar gemaak oor ’n tydperk van baie jare. Daarmee het ek probeer om ’n profiel van ’n pedofiel te 'maak', en so ook ’n profiel van ’n slagoffer. Ek het ’n verhaal daar om geweef wat ek gehoop het die leser die verskrikking en die onreg sal laat besef. Terselfdertyd het ek probeer om dit só aan te bied dat die leser die teks nie as walglik ervaar nie – hoewel die dade teen die kinders natuurlik wel walglik en verskriklik is."
"Ek wil egter hê dat lesers dit as ’n verhaal lees, nie as ’n verhandeling nie – dis nie wat dit is nie. Hoewel ek baie navorsing gedoen het, is dit ’n roman, en nie ’n verslag nie. Dis ’n verhaal oor verhoudings – verskeie verhoudings; en nie te vergeet nie: die verhaal van ’n sielkundige wat al meer as twee jaar lank op ’n sabbatical is en nou deur ’n ekspasiënt, en veral sy dogter, gevra word om saam met hulle te reis na die plek van haar pa, Deon, se grootwordjare."
Oor hoekom sy die storie oor die boeg van spesifiek mishandelde seuns gegooi het, vertel Christine aan Voges dat sy besef het dat daar feitlik nooit geskryf word oor seuntjies of seuns wat seksueel gemolesteer word nie: "Toe ek met mense daaroor begin praat, was dit soos ’n magneet wat al die ystervylsels na hom toe aantrek. Met die lees oor die onderwerp (my eerste bronne is altyd persoonlike gesprekke en dan boeke, in plaas van die internet – wat ook later bykom) was ek opreg geskok. In baie Engelse boeke, en boeke in Engels vertaal, is daar ’n magdom gevalle, meer as om op te noem, lewens, waaroor geskryf word. Daar is ook sindikate van mense in hoë posisies wat kinders – in dié geval seuns – 'aangee' van die een na die ander."
"In Afrikaans was daar Die reuk van appels van Mark Behr en Roepman van Jan van Tonder wat die verlies van onskuld van so ’n seun net-net aanraak, en dit in die leser se kop laat hang. Maar waar was die stem van die slagoffers? Die seuns? Die emosies en gedagtes wat jare lank in hierdie mans verwarring bly skep. Iemand moes dit skryf – en omdat ek gevoel het hierdie ding druk só hard op my hart, het ek ’n roman daaroor geskryf. Let wel, om ’n nuwe werklikheid te skep (die roman-werklikheid) uit verskeie ware werklikhede waaroor ek navorsing gedoen het. ’n Verhaal – nié ’n lys van statistieke of ’n gevallestudie nie."
Voges wou verder weet of Christine met die boek mense wou inlig of wou waarsku: "Dis ’n swaar en ingewikkelde tema, ja. Maar ek kry daagliks terugvoer van lesers wat sê die onderwerp en dít wat met die seuns gebeur, is verskriklik, maar hulle kon nie ophou lees nie. Dit was nie vir hulle ’n 'grusame' leeservaring nie, hoewel dit ontstellend is om jou oë op ’n dag oop te maak en te sien: Dit gebeur hier rondom, tussen, ons!"
Vir die skrywer is My naam is Prins ’n verhaal van hoe mense op gebeure gereageer, asook hoe verskillende sake deur die samelewing benader word. "’n Diverse samelewing met diversiteit wat keuses maak, betref, wat besluit om te praat of stil te bly – veel meer as wat dit ’n kliniese realiteit van ’n sielkundige is," vertel sy aan Voges.
Oor die invloed wat die skryf van Prins op haar gehad het, sê Christine dat dit die moeilikste iets is wat sy nog ooit geskryf het. Die skryf van haar eerste roman, Padmaker was ook nie maklik nie, want dit was grotendeels haar eie storie, maar Prins het haar binnegoed uitgeruk, vertel sy verder aan Voges.
"Die bewuswording van onskuldige seuntjies wat misbruik word – op so ’n groot skaal! – en die stilswye van almal wat weet. Ek het verskeie gevallestudies deurgewerk, verskeie onderhoude gevoer (ook met buitelandse kundiges soos Peter Adriaenssens wat vanaf 2010 met die slagoffers van pedofilie in die Rooms-Katolieke Kerk gewerk het – die meeste toe al in hulle tagtigs), baie boeke (fiksie sowel as niefiksie) en artikels (gedruk sowel as op die internet) gelees."
"Tog is hierdie boek ook ’n verhaal waarin versoening en vergifnis ’n rol speel. Ek, die skrywer, gee nie uitsluitsel hieroor nie. Maar die vraag word gevra: Kán ek ’n pedofiel vergewe? Hieroor moet elke leser vir homself/haarself besluit. Wat egter belangrik is, is dat daar heling moontlik is. Die Ierse skrywer Colm O’Gorman het aan my gesê: "Wanneer jy hierdie boek skryf, maak seker dat mense daar buite, veral slagoffers, wéét dis nie bepalend vir hulle hele lewe nie. Daar ís ook lewe ná seksuele molestering."
"Die skryf van My naam is Prins, ek slaap met die lig aan het my nie onaangeraak gelaat nie. Ek is iemand anders as wat ek daarvóór was."
En uiteindelik het sy gehoop dat mense nie net te wete sal kom van hierdie onreg wat grootskaals voorkom, maar dat hulle sal begin praat daaroor. "Jy hoef nie 'betrokke' te raak nie – maar as jy vermoed ’n kind word misbruik, gaan gee dit aan by die maatskaplike werker in jou omgewing. Jou identiteit word nie in gedrang gebring nie! Maar as ons swyg, is ons skuldig. Net so skuldig soos die persoon wat die kinders molesteer."
Op haar blogspot, Woorde wat weeg, skryf Joan Hambidge as volg oor My naam is Prins, ek slaap met die lig aan: "Die voorblad, soos die een van Nadia de Kock se Die wolkversamelaars, is volgens hierdie leser te populisties. Beide romans se voorblaaie mislei die ernstige leser. Die romans is verrassend in die kompleksiteite wat aangesny word róndom trauma en herinnering."
"Dit is ’n roman wat ontstig. Daar is baie drade wat saamgebind word, soms met ’n groot skeut suspension of disbelief. Maar jy weet terselfdertyd die grimmige boodskap is waar. Dit is egter so dat wát ons hier lees wél met mense gebeur. Die skrywer wys op skuldgevoelens, die rol van die kerk, die jong kind wat ambivalent voel oor sy aandadigheid en dat pedofilie nie gelyk is aan gay-wees nie."
"Soms sien jy die hand van die digter wat beeldend vertel, soos: 'Die dag was ’n ovaal, gladgeskuurde klippie wat op die water land …' (196). Of: 'Die lug is ’n swanger vrou wat weet haar uur is naby…' (188)."
"Dis nie ’n boek vir ’n Sondagaand nie. Lees dit saam met Die wolkversamelaars. Beide tekste analiseer die impak van jeugtrauma op die psige."
"Dit is die einde van die 'silent generation'. Die outeur wil met hierdie boek ’n bydrae lewer om ongeregtighede aan die kaak te stel."
Tydens die Woordfees van 2020 het Christine met Chris Jones gesels oor My naam is Prins. Jean Oosthuizen berig op LitNet: Sy het onder meer gesê dat iémand oor hierdie onderwerp moes skryf, aangesien die kinders wat te doen gehad het met hierdie seksuele teistering, nie gepraat het nie en bekend staan as die "silent generasie". Christine se oupa het haar en haar suster as kinders gemolesteer: "Ek was twee en ’n half jaar oud toe ek vir die eerste keer die emosie van onreg ervaar het en mens vergeet dit nooit nie. Ek het besluit om die boek as ’n roman te skryf omdat die leser makliker met die karakters kan identifiseer en hulle as’t ware beter leer ken. In ’n roman leef jy saam met die karakters en voel hulle pyn terwyl dit dikwels anders is as mens ’n koerantberig of artikel daaroor lees."
Om te vergewe is iets waaroor elke mens self moet besluit. "Ek dink nie mens kan ’n pedofiel maklik vergewe vir sy dade nie. Voor in my boek haal ek die skrywer Dalene Matthee aan in Fiela se kind waar Fiela sê: 'God vergewe ons baie, maar God vergewe ons nie die kwaad wat ons ’n kind aandoen nie.'"
"Pedofilie is ’n psigopatiese siekte en dit kan geensins in verband gebring word met homoseksualiteit nie. Om gay te wees is nie ’n siekte soos wat party mense dink nie. Pedofilie is ’n siekte wat behandel moet word en mens kan nooit die twee met mekaar vergelyk nie. Daar is ook baie meer heteroseksuele mans wat kinders molesteer as gay mans wat dit doen."
Op 18 November 2020, op haar 61ste verjaardag, is Christine in die Life-Bayview-hospitaal op Mosselbaai in die Suid-Kaap oorlede. Sy laat haar man Bertus en hulle drie kinders, twee dogters en ’n seun, agter.
Huldeblyke:
- Hans du Plessis: "As daar nou iemand was wat haar droom gelééf het, dan was dit Christine Barkhuizen-le Roux! Ek sal haar toewyding om ’n skrywer te wees altyd onthou, en aan aspirantskrywers sal ek haar altyd as rolmodel voorhou. Sy was nie die eerste persoon wat oor my pad gekom en gedroom het om ’n skrywer te word nie, maar sy was een van min wat haar droom bereik het. (...)
"Christine het haar droom bereik en dit kan ’n mens nie in alle eerlikheid van baie mense sê nie. Maklik was dit ook nie altyd nie, maar vir haar was skryf ’n passie waarvoor sy sou kon opoffer en as sy iets wou doen, het sy dit met oorgawe begin en deurgevoer. (...)
"Die dogtertjie uit die padkamp en die plaasmens van Barrydale word só ’n rolmodel vir jong skrywers wat self nog hierdie steil bult moet uit. Christine het my geleer wat passie is en dat geen droom ooit te groot is vir iemand wat van natuurlike talent toewyding maak en van ’n droom ’n lewe maak nie. Vrede en rus vir jou, my vriendin. Bertus en die kinders bid ons troos en seën toe. Julle verlies is ook die Afrikaanse boekwêreld se verlies. Ons sal almal Christine se lag mis, maar haar woorde sal met ons bly praat." (LitNet)
- Truïse Prinsloo (uitgewer): "Christine Barkhuizen-le Roux was ’n dapper en deernisvolle skrywer, een van Afrikaans se veelsydigste. Vanaf haar eerste digbundel, dimensie(2000), tot haar jongste roman, My naam is Prins, ek slaap met die lig aan, het Christine skreiend eerlik met haar stof te werk gegaan. Christine het die gawe gehad om met dieselfde intensiteit en diepgang waarmee sy die lewe aangepak en ervaar het, ook haar karakters se wêrelde oop te skryf. Ons eer jou, Christine, mag daar nog baie lesers daarbuite wees wat vreugde en wysheid in jou werk vind. Ons gaan jou mis." (LitNet)
- Eloise Wessels (uitvoerende Hoof van NB-Uitgewers): "Die verlies van dié wonderlike, deernisvolle skrywer en lieflike mens is hartverskeurend. Ons sal vir Christine ontsettend baie mis." (LitNet)
- Corlia Fourie: "Baie hartseer oor Christine. Sy was ’n ware vriendin met deernis vir ander. Ons het ook lekker gesels en mekaar vertel van goeie boeke gelees en moeite-werd-flieks gesien. Haar stem is net heeltemal te gou stil." (LitNet)
- Phyllis Green: "Al is sy nie meer in ons geledere nie, sal Christine se stem nooit stil word nie. Dit sal voortleef in haar nalatenskap, die karakters wat sy met soveel omsigtigheid geskep het." (Sarie, 19 November 2020)
- Jean Oosthuizen: "Christine het baie empatie met die underdog Sy het haar ander se hartseer aangetrek. Onregverdigheid het haar ondergekry. Sy het ’n sagte plek vir die gemarginaliseerde gehad. Sy was ’n fantastiese mens wat haar kon oopmaak as sy jou eers geken het." (Netwerk24, 19 November 2020)
- Etienne van Heerden: "Sy het die MA in skeppende skryfwerk met my as studieleier by UK voltooi. Harde werker, goeie student, onpretensieus met ’n praktiese ingesteldheid oor die noodsaak van slyp en herskryf. Sy het uit die murg geskryf." (Netwerk24, 19 November 2020)
- Fanie Olivier: "Ek is stomgeslaan oor haar dood. Dis so ’n verskriklike verlies. So ’n lewenslustige en lewensblye mens. So produktief." (Netwerk24, 19 November 2020)
- Jeanette Ferreira: "Sy het ’n vreeslike mooi hart gehad en absoluut haar hande uitgesteek vir ander. Haar heengaan is hartseer, want sy het nog soveel gehad om te vertel." (Netwerk24, 19 November 2020)
- Trisa Hugo, skrywer: "Ek is dankbaar dat ek nou op so ’n hartseer manier hierdie vrou met die sagste hart denkbaar se woorde ('Besig wees is die groot entstof teen die lewe') namens haar met die wêreld kan deel. Haar woorde oorleef haar. Ek sal Christine se volgehoue ondersteuning vir ewig onthou." (Netwerk24, 19 November 2020)
Publikasies:
Publikasie |
dimensie |
Publikasiedatum |
2000 |
ISBN |
0620263369 (sb) |
Uitgewer |
Stellenbosch: Suider Kollege Uitgewers |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Waar koek en wyn ontbreek: kortverhale |
Publikasiedatum |
2006 |
ISBN |
0799336297 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: LAPA |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
roset |
Publikasiedatum |
2006 |
ISBN |
0799336939 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: LAPA |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
In België 2010 |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Padmaker |
Publikasiedatum |
2010 |
ISBN |
97807981 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Wat die oog gesien het: kortverhale |
Publikasiedatum |
2011 |
ISBN |
9780798152563 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Getuie |
Publikasiedatum |
2013 |
ISBN |
9778079815707 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
skynskadu |
Publikasiedatum |
2015 |
ISBN |
9780928316117 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Naledi |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Drieklawerblaar |
Publikasiedatum |
2016 |
ISBN |
9780798174039 |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
My naam is Prins, ek slaap met die lig aan |
Publikasiedatum |
2019 |
ISBN |
9780798179706 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Vertalings deur Christine Barkhuizen-le Roux
- Broeckhoven, Diane: Die buitekant van Meneer Jules. Kaapstad: Naledi, 2015
- Van der Veken, Ingrid: Papawers. Pretoria: LAPA, 2010
Artikels oor Christine Barkhuizen-le Roux beskikbaar op die internet
- Bohnen, René: Onderhoud met Christine Barkhuizen-le Roux (skynskadu)
- Christine Barkhuizen-le Roux
- Christine Barkhuizen-le Roux stelt psychische verdrukking aan de kaak
- Dordley, Lucinda: South African poet dies on birthday
- Du Plessis, Hans: Vir Christine – Christine Barkhuizen-le Roux (1959–2020)
- Green, Phyllis:
- Groot skrywer besoek Groot-Brakrivier
- NB bring hulde aan Christine Barkhuizen-le Roux
- Ons gesels met: Christine Barkhuizen-le Roux
- Opperman, AJ:
- PEN-Schrijversflat
- Rautenbach, Elmari: Ware familiegeheim die vonk van roman
- Skrywer Christine Barkhuizen-le Roux gesels oor die moeilike tema in haar jongste roman
- Slabber, Annette: Debuutbundel van Barrydaler verskyn
- Steyn Bezuidenhout, Christa: Christine Barkhuizen-le Roux sterf op verjaardag
- Van der Merwe, Elna: Drieklawerblaar: Christine Barkhuizen-le Roux gesels met Elna van der Merwe
Artikels deur Christine Barkhuizen-le Roux beskikbaar op die internet
- Dag 1: Kwarantyn-ketting: "Liefde en leef in die tyd van korona" deur Christine Barkhuizen-le Roux
- Doring in my vlees [kortverhaal]
- Gedigte
- hóú [gedig]
- kersmaal [gedig]
- Kop bo water of verdrink
- ’n Milkshake vir Ronnie
- ’n Persiese sprokie [kortverhaal]
- roof [gedig]
- ’n Stopseltjie vir Braam op 70 [gedig]
Die samesteller vra om verskoning vir Media24-argiefskakels wat tans nie werk nie.
Christine Barkhuizen-le Roux se ATKV LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2019-02-14 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.
Bron:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum
• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.
Kommentaar
Nou , in die gereatriese Pre-dier 12-fase van my bestaan, kom verlede-glimpe ook na my terug, veral in die name hier bo genoem, Rene Bohnen, en ander Christine self het ook bydraes gelewer vir die tydskriffies VELLETJIES en KOMSAT wat my pogings was, onder die kombers van BENT UITGEWERS. Nou is ek meer dikwels by Cape Gate Onkologie as by digtersgeleenthede, maar die passie leef, soos my gedig op LITNET DIGTERS (Juis oor Christine se domicilium-wêreld (en natuurlik BB wat daar grootgeword het). Groete aan almal wat die vuurvliegie in my aan die gloei gehou het. Johann de Jager.
Met skok en hartseer die nuus ontvang van die verlies van 'n toekomstige boonste meester van Afrikaans. Ons het 'n gemeenskaplike band met Queenstown, wat my laat droom het dat sy ook in die skadu van die Stormberge ontvang is.
Ek weet nou oor wie Christine geskryf het in "Getuie". Een van ons klasmaats moes elke oggend buite die klas gaan staan as ons Bybel lees en bid. Dit was erg. Sy was ’n Jehova getuie.
Ek wil en moet weet wat die oorsaak van Christine se dood was? Ek sal dit private hou.
Dit is 'n beeld van 'n ooglopend dierbare en talentvolle mens. Dit is juis so 'n beeld wat bevestig dat hierdie Skrywersalbum 'n belangrike inisiatief is. Waar anders sal 'n mens soveel inligting oor een skrywer bymekaar sien? En dis meer as 'n skrywer wat uitgebeeld word: dis 'n mens met geluk en hartseer en drome, met 'n geskiedenis, 'n standplaas, 'n herkoms. 'n Toekoms ook, want ek stel my voor dat hierdie inligting oor dekades nog beskikbaar en in aanvraag mag wees. Ek hoop baie mense lees sommer dikwels aan Erika se werk.
Baie dankie vir die mooi woorde, Jaco. Ek waardeer dit. En dit is net 'n plesier om die werk te doen!
Pingback: Christine Barkhuizen-Le Roux (1959-2020) - Het Zuid-Afrikahuis