Titel: My naam is Prins, ek slaap met die lig aan
Skrywer: Christine Barkhuizen-Le Roux
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798179706
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.
Halfpad deur die boek het ek gedink as jy nou jou maag met ’n kaal hand uit jou lyf geruk wil hê, dan lees jy hierdie boek. Ek het dit toevallig gelees dieselfde week wat Deon Wiggett se storie die lig sien en oor hoe hy en ander deur Willem Breytenbach misbruik en verkrag is. Daar is soveel parallelle, ’n gerespekteerde hoë-profiel persoon, wat oënskynlik hulle slagoffers se welsyn op die hart dra. Die letsels wat hulle laat, wat vir jare onder die letsel verberg bly en dan op ’n dag uitbars.
Dit is ’n onthutsende verhaal oor die skending van onskuld, die toesmeer van dinge en ook die aandeel van elkeen wat kies om daaroor te swyg.
"Is elkeen van ons op hierdie aarde dan sowel onskuldig as skuldig?"
Christine Barkhuizen-le Roux hanteer hierdie uiters sensitiewe onderwerp met die hand van ’n meester. Haar navorsing is uitstekend en sy dra groot sorg dat die sielkundige letsels op slagoffers en ook hulle naastes, deeglik uitgewys word, sonder dat dit ’n tranetrekker word. Die karakters ken jy, dis mense om jou, soos wat die statistieke ook uitwys. Mense wat tegelykertyd goed is, maar hulle donkertes alleen dra, al smeer die gevolge ook aan hulle naastes af. Jy leer hoe verpletterend die liefde van lewensmaats kan wees en hoe selfbeskerming mense kan laat optree op ’n manier wat jy nooit sou kon raai nie. Wat beteken dit om ’n goeie man te wees? Is goed altyd goed, en sleg altyd sleg?
Oor die rol van die kerk sou mens baie kon sê in ’n tyd wat die smerighede van die Rooms-Katolieke priesters se gelol met kinders aan die lig kom. Hoe die kerk ook, net soos die gemeenskap swyg en toesmeer.
Een tema wat ek dalk duideliker ontgin sou wou sien, net ter volledigheid – Kan goeie en slegte dade op ’n weegskaal geplaas word, en wie bepaal die gewig? Dit is een vraag wat konstant in my kop was terwyl ek die boek gelees het.
Jou maag bly konstant hol, jy weet wat gebeur het, maar hoe? Hoekom?
Padmaker was vir my tot dusver Christine Barkhuizen-le Roux se beste boek, waar sy ook diep in die psige van menslike verhoudings gedelf het, maar hierdie een oortref al haar vorige werk.
Die tema is al voorheen deur Annelie Botes se Thula-Thula aangespreek. Daar is ’n hele paar ooreenkomste, die hoë-profiel man, die vroue en gemeenskap wat swyg, mama Thandeka teenoor mama Indwe wat dien as alsiende en uiteindelik ook as gewete, die slagoffer wat nie vasgehou wil word nie. Sou dit bloot wees omdat hierdie fenomeen so universeel is?
My naam is Prins, ek slaap met die lig aan, is ’n boek wat nog lank by lesers gaan bly, wat waarskynlik nog meer slagoffers by lewensmaats en terapeute na vore gaan laat kom en hopelik help om die pyn van die verlede te heel.
Dit is n grootse werk. Lees dit.
"Want wie wil die waarheid oor ’n goeie man weet?"
Lees ook:
Skrywersonderhoud: Christine Barkhuizen-Le Roux oor My naam is Prins, ek slaap met die lig aan
Resensie: My naam is Prins, ek slaap met die lig aan deur Christine Barkhuizen-Le Roux
Kommentaar
Gaan definitief volgende jaar die boek in elke biblioteek sit.
Ek sal dit vir seker ook wil lees.