Titel: My naam is Prins, ek slaap met die lig aan
Skrywer: Christine Barkhuizen-Le Roux
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798179706
Hoeveel kinders in hierdie wêreld slaap met ’n nagliggie? ’n Liggie om die donker te verdryf. My naam is Prins, ek slaap met die lig aan (2019) spreek met ’n sombere ondertoon tot dié universele verskynsel onder kinders, maar skud ook die leser wakker vir die realiteit van pedofilie en kindermolestering. Die woorde deur Fiela Komoetie in die openingsaanhaling, “God vergewe ons baie, maar God vergewe ons nie die kwaad wat ons ’n kind aandoen nie” (Matthee, 1985:149), dien as gids vir die leser. Dié boek is nie vir sissies nie en verg deernis van sy leser, al word jy met tye briesend van woede.
Christine Barkhuizen-Le Roux is ’n veelsydige skrywer wat sedert 2000 digbundels, kortverhaalbundels en romans soos Padmaker (2010), Getuie (2013) en Drieklawerblaar (2016) publiseer. Haar romans is telkens verskillende toespelings op ’n ontwykende geheim en die reis na antwoorde, hetsy die geheim ’n skande, duistere verlede of trauma is waaroor daar stilgebly word.
Dié ontwykende geheim word gebruik om die verhaal se verskillende tydlyne, herinnerings en narratiewe saam te snoer. Dit is immers alles waaroor stilgebly word wat die karakters se onderskeie ervarings, herinnerings en (her)belewings verbind.
My naam is Prins, ek slaap met die lig aan handel hoofsaaklik oor die reis van drie karakters wat deur ’n gemeenskaplike trauma verbind word. Corinne (’n sielkundige), haar predikant-man Frank en Corinne se pasiënt, Deon, vertel en (her)beleef elkeen hul verhaal van verwerping, aanvaarding en die hunkering na liefde. Alice Miller, ’n psigoanalis wat in die vroeë tagtigs weggebreek het van tradisionele Freudiaanse psigoanalise, se navorsing oor kindermishandeling en geweld (2006) kan behulpsaam wees. Haar verwonde kind en proses van (her)belewing word hier ontbloot tot voordeel van die leser se insig.
Die karakters worstel elkeen met ’n tweeledige proses van (her)belewing; hulle beleef dit in die verlede en herbeleef dit met verloop van die roman. Die seksuele mishandeling van vier seuns gedurende hul verblyf in ’n skoolkoshuis in die Oos-Kaap is die kern waarom elkeen se verhaal draai. Dis ’n deeglik nagevorste boek, waar feitlike kennis gestaaf word en op kritiese plekke die leser tot insig kan bring. Corrine verduidelik oor pedofiele: “Dit gaan oor die manipulasie en die beheer wat hulle het oor iemand wat weerloos is. Dikwels spruit daardie gedrag uit ’n minderwaardigheidskompleks wat nooit oorkom is nie, of iets wat met die dader self gebeur het” (180). Dit bied sielkundige kennis wat die leser help om die karakters beter te verstaan en diepte in die teks skep.
Die roman se bemoeienis met geheime en stilte is ’n tema wat in Barkhuizen-Le Roux se ander romans ook opduik. In haar nuutste roman is daar verskeie geheime, maar die spilpunt is wat werklik in Skuilkranz se seunskoshuis gebeur het. Dié geheim waaroor daar nie vertel is nie, maar wat gesien is, van geweet is, maar nooit erken is nie en waaroor daar beslis nooit gepraat is nie. Hier kan Alice Miller se insigte moontlik lig werp.
Volgens Miller het te veel van Freud se teorieë berus op die seksuele en spesifiek dat hy toegegee het aan die samelewing se morele hiërargieë en moraliteit. Hy verbind seksuele dade waar kinders betrokke is met ’n uitwissingsdrang by die kind om die ouer uit te wis – die bekende Oedipuskompleks. Miller se grootste bewering is dat die liggaam die prys betaal vir hierdie moraliteit. Die liggaam onthou alle ervarings, en (her)beleef hierdie ervarings sou dit onderdruk word. Hierdie (her)belewing, waar die liggaam onthou, bied insig tot elkeen van die karakters en hoe hulle deur ’n spesifieke ervaring of ervarings as verwonde kinders na vore tree. Deon se verhaal illustreer wat in van die mees ekstreme gevalle kan gebeur. Miller bepleit wel dat hierdie (her)belewing nie genesing bring nie, maar vra vir die erkenning en afsluiting daarvan. In hierdie roman kan Miller se antwoord in die ironiese woorde van Frank gehoor word: “Vergifnis is uiteindelik beter vir die een wat vergewe as die een wat vergewe word” (120).
My naam is Prins, ek slaap met die lig aan bied vir die leser ’n blik op hoe ’n slagoffer van seksuele geweld ’n proses van (her)belewing deurmaak om die verwonde kind (diepgaande ervarings) te vind en te troos. Elke karakter moet die “verwonde kind” in hulself eerstens vind en dan probeer verstaan voordat hulle hul onderskeie traumas kan verwerk.
Die boek probeer ook deur die karakters se ervarings sekere wanopvattings oor seksuele geweld en pedofilie onder die loep neem. “Dit het met seksualiteit niks te make nie; soos ek gesê het, dit gaan om mag. Dit gaan nie om liefde en teerheid nie, glad nie, hoewel die dader dit by sy slagoffers inprent” (181).
Barkhuizen-Le Roux skryf in al haar romans, Drieklawerblaar, sowel as in My naam is Prins, ek slaap met die lig aan, met eerlikheid en deernis oor diep en pynlike ervarings wat die leser sal skok, maar nie sal afskrik nie. Dit onderstreep weereens die stiltes aangaande seksuele geweld, kindermishandeling en spesifiek kindermolestering wat steeds in ons samelewing teenwoordig is.
Boeke soos My naam is Prins, ek slaap met die lig aan voeg nóg ’n stem by ’n verskeidenheid ander boeke in Afrikaans, soos Dis ek, Anna (2004) deur Elbie Lötter, wat handel oor hierdie onderwerp. Buiten die bewusmaking van die gebeure, gaan dit oor mense se stories wat vertel moet word, die behoefte aan erkenning, en die universele soeke na betekenis, liefde, aanvaarding en geborgenheid.
Bibliografie
Terblanche, E. Christine Barkhuizen le Roux (1959–). https://www.litnet.co.za/christine-barkhuizen-le-roux-1959/.
Matthee, D. 1985. Fiela se kind. Kaapstad: Tafelberg.
Miller, A. 2006. The body never lies: The lingering effects of hurtful parenting. Vertaal deur Andrew Jenkins. New York: WW Norton & Company.
Skrywersonderhoud: Christine Barkhuizen-Le Roux oor My naam is Prins, ek slaap met die lig aan
Kommentaar
Pingback: My naam is Prins, ek laap met die lig aan (2019) – Nerd Literêr