Human & Rousseau en NB-Uitgewers verneem met groot hartseer en leedwese van die afsterwe van die geliefde skrywer Christine Barkhuizen le Roux (61).
Christine is in 1959 in Vryburg gebore. Sy was ’n digter, romansier en kortverhaalskrywer – vyf van haar boeke het by H&R verskyn: Padmaker (2010), Wat die oog gesien het (2011), Getuie (2012), Drieklawerblaar (2016) en My naam is Prins, ek slaap met die lig aan (2019). Haar werk is ook opgeneem in Die nuwe Afrikaanse prosaboek (2019) en Vers en vrou (2020).
Truïse Prinsloo (Uitgewer): "Christine Barkhuizen-Le Roux was ’n dapper en deernisvolle skrywer, een van Afrikaans se veelsydigste. Vanaf haar eerste digbundel, dimensie (2000), tot haar jongste roman, My naam is Prins, ek slaap met die lig aan, het Christine skreiend eerlik met haar stof te werk gegaan. Christine het die gawe gehad om met dieselfde intensiteit en diepgang waarmee sy die lewe aangepak en ervaar het, ook haar karakters se wêrelde oop te skryf.
"Ons eer jou, Christine, mag daar nog baie lesers daarbuite wees wat vreugde en wysheid in jou werk vind. Ons gaan jou mis."
Eloise Wessels (Uitvoerende Hoof van NB-Uitgewers): "Die verlies van dié wonderlike, deernisvolle skrywer en lieflike mens is hartverskeurend. Ons sal vir Christine ontsettend baie mis."
Kommentaar
Andre P. Brink het vyf van haar gedigte opgeneem in Groot Verseboek Deel 3 (Tafelberg, 2008). Sy was ook 'n kunsskilder.
Baie hartseer oor Christine. Sy was 'n ware vriendin met deernis vir ander. Ons het ook lekker gesels en mekaar vertel van goeie boeke gelees en moeite-werd-flieks gesien. Haar stem is net heeltemal te gou stil.
Christine, dankie vir wat jy my gegun en geleer het. Jy was lieflik. Ek eer jou nagedagtenis, Padmakerkind.