Getuie deur Christine Barkhuizen le Roux: 'n ysingwekkende blik op Jehovasgetuies

  • 1

Getuie
Christine Barkhuizen le Roux
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798157070

 Koop Getuie van Kalahari.com

Dis ’n dapper skrywer wat enige vorm van godsdiens in ’n roman aandurf. Mense het sulke vooropgestelde en onbuigsame idees daaroor, en kyk wat het met Salman Rushdie gebeur. Maar Christine Barkhuizen le Roux is ’n vreeslose en goeie skrywer. In Getuie word Jehovasgetuies onder die vergrootglas geplaas en die feite wat sy aanbied, is ysingwekkend. Te oordeel aan die lang bibliografie aan die einde van die roman is dit baie goed nagevors. Dis skokkende inligting en vul die leser met groot weemoedigheid vir die talle weerlose mense wat nog steeds vandag in die kloue van sulke sisteme val. Nog meer ontstellend is die feit dat kinders slagoffers word daarvan. Hierdie roman wys genadeloos hoe dit twee vroue se lewens beïnvloed en uiteindelik totaal verwoes het. Eintlik wys dit op die gruwel en uitbuiting van enige vorm van fanatiese en kultus-godsdiens, maar ook die tradisionele godsdiens loop deur. In ’n stadium dink Maggie: “Al hoe meer voel dit of godsdiens maar net nog ’n soort politiek is” (79). Uiteindelik is dit die onverdraagsaamheid, die benepenheid en veral die liefdeloosheid van ál hierdie ideologieë wat die skade aan hierdie vroue se lewens veroorsaak het.

Getuie is die verhaal van Maggie McKairn, haar skoolvriendin, Mignon van Mechelen, en Bea Mosterd, ’n vrou in die tronk, en hoe hulle lotsbestemmings onlosmaaklik verstrengel is. Mignon is ’n Getuie, maar in ’n stadium word sy deur haar familie en kerk verwerp weens haar “sonde”. Sy was nie ’n gelukkige kind nie, want die Getuies is stief behandel deur die samelewing, en sy het toe reeds geworstel het met die ekstremisme van hulle geloof. Maggie weer het ’n baie oorheersende Ierse pa wat die sensitiewe dogtertjie geboelie het om te wees wie hy wil hê sy moet wees. Hy is ook baie veroordelend oor haar maat en die Getuies. Hierdie twee eenkantkinders vind mekaar en vorm ’n sterk band.

As volwassene is Maggie ’n weduwee wat baie diep rou oor haar verlies, en baie kwaad is vir haar onverbiddelike pa, en Mignon ’n suksesvolle advokaat, maar obsessief oor die Getuies en haar verlede. Sy kan nie vrede maak daarmee nie en pleeg selfmoord, en nou moet Maggie dít ook verwerk. In ’n brief vra Mignon haar boonop om vir Bea by te staan, en al is sy onwillig, doen Maggie tog wat sy kan.

Die leser weet nie wat die onvergeeflike misdaad is wat Bea gepleeg het nie, en so vestig Barkhuizen le Roux die spanningslyn. Dit word ’n ondersoek na die geheim van Bea se sonde, na hoe so iets enigsins kon gebeur het. Maggie se betrokkenheid by hierdie vrou fokus haar lewe en mettertyd slaag sy tog daarin om op ’n manier vrede te maak met haar pa en die dood van haar man. Sy word getuie van die Getuies, die tragedies van Mignon en Bea se lewens, en vind so verlossing.

Die verhaal meander tydsaam deur hierdie mense se lewens, maar bly boeiend en oortuigend. Tog is daar dele wat nie wesenlik bydra tot die verhaal nie, soos Maggie se uitgerekte besoek aan Duitsland, maar dit belemmer nie die leesgenot nie. Barkhuizen le Roux se sensitiewe taalgebruik en beskrywende vermoë maak dit ’n plesier om selfs die oorbodige gedeeltes te lees. Dit het my ook gepla dat Bea, nadat sy vir vyftien jaar byna nooit gepraat het nie en so uiters afgesluit was, so oënskynlik maklik instem om met Maggie te praat en dan so openhartig, selfs al motiveer die skrywer dit goed.

Hierdie roman is ’n hoogs bevredigende leeservaring wat wys hoe vernietigend dit is wanneer kinders nie onvoorwaardelik liefgehad word deur hul ouers nie, en hoe gevaarlik godsdiens kan wees, en beslis ’n waardige opvolg van die skrywer se veelgeprese eerste roman, Padmaker. Dis ook keurig versorg en mooi uitgegee, ‘n publikasie waarvoor beide uitgewer en skrywer lof verdien. 
 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 1

Kommentaar

  • Elsa du Preez

    Altyd interessant om van nuwe publikasies te wete te kom. Ons het 'n lewendige leeskring!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top