Boekresensie: Drieklawerblaar deur Christine Barkhuizen-le Roux

  • 4

drieklawerblaar280Drieklawerblaar
Christine Barkhuizen-le Roux
Uitgewer: NB-uitgewers
ISBN: 9780798174039

Hoe is dit moontlik om enigsins kritiek te lewer op ’n storie waarin soveel belê en soveel diepte bereik is, dink ek telkemale terwyl ek die boek lees. Ek kan nie anders as om te dink die skrywer het moeite vir haar lesers gedoen nie. Dit is asof ’n mens dit aanvoel; die storie kom van ’n goeie mens en dit gaan oor goeie mense.

Drieklawerblaar beskryf die lewens van die drie hoofkarakters, Kate, Tinneke en Abel. Elkeen dra swaar aan sy eie storie, "die gisterdae wat soos die agterpant van ’n trui is", soos Kate dit noem. Hulle paaie loop onafhanklik van mekaar, maar die behoefte om die verlede agter te laat, om ’n skoon toekoms tegemoet te gaan, bring die drie uiteindelik bymekaar uit en hulle lewens word in mekaar verweef.

Die storie word tydsaam vertel, met baie detail. Alhoewel die drie karakters die buitelyne vorm, amper soos ses arms wat in mekaar gevleg is, gebeur daar ook baie aan die binnekant. Elkeen se lewe word totaal oopgeskryf en jy leer hulle intiem ken. Die skrywer neem jou op ’n reis binne elkeen se realiteit terwyl die raaisels en geheime in die agtergrond teenwoordig is en die gewete van die storie uitbeitel. Jy leer ken hulle vriende en kinders en die alledaagse bedrywighede waarmee hulle hul besig hou. Jy lees van ’n proteaboerdery waarin ’n karakter haar honger na ’n konneksie uitleef en van die skaam protea wat hoog in die berge groei, die Trots van Franschhoek. En van iemand wat sy herkoms in Frankryk soek en die effek van ’n impulsiewe daad in Egipte.

Kate is die verpleegster wat haarself by die gastehuis van Tinneke inboek om bevestiging van haar verlede te kry en met ’n geheim loop wat by die regte adres afgelewer moet word. Abel boer op die buurplaas en lewe met ’n belofte wat hy aan homself gemaak het en onverwerkte onreg oor die verlede. Tinneke worstel met haar eie verwonding van ’n man "soos wat hy daardie eerste oggend deur die kombuisdeur se kosyn sý eie wêreld instap, op sý plaas, om na sý beeste te gaan kyk, om sý water in die wingerd te gaan versit, so stap hy dag vir dag verder van haar af."

Tinneke gun haarself nie kwesbaarheid nie, maar toe Kate by haar opdaag, word sy deur die vrou se menswees ontwapen "asof sy ’n bontplakkie is wat oor Tinneke se swere kom lê en die kwaad begin uittrek"

Kate word die heler, die een wat kom om die wonde skoon te maak en die siklus van die verlede te breek – nie net simbolies nie, maar ook fisies wanneer sy Abel se wond moet versorg nadat ’n buffel sy been met sy horing deurboor. Dit skep dan die oomblik wat die katarsis bring.

Die skrywer maak ruim van godsdienstige simboliek gebruik, soos ’n kruis, heiliges en gebede om die storie ’n dieper betekenis te gee. En dan is daar die onverklaarbare wond aan die arm, dalk as stigmata bedoel.

Vir my het die storie gelees soos ’n spanningsverhaal. Ek het letterlik my asem opgehou tot by die laaste hoofstuk. Wat kan dan so erg wees dat iemand so swaar onder die gewig van die verlede loop? En dan die skok, die ongeloof en skielik het alles wat ek in die vorige hoofstukke gelees het en nie kon verstaan nie, sin gemaak. Dit is wat die skrywer regkry; sy hou die leser aan die wonder, asof ’n mens met ’n frons lees, die hele tyd.

Lesers wat van intriges hou, sal die boek geniet. Die storie is aangrypend en raaiselagtig. Boonop is dit menslik met deernis geskryf sodat ’n mens nie anders kan as om selfs onvergeeflike dade te verskoon nie. Alhoewel die storie boeiend is, is dit die skrywer se vermoë om taal in te span om ’n beeld te skep sodat jy dit op jou tong proe en haar gebruik van beskrywende woorde, soos medemens wat "ewemens" word, wat die boek ’n besondere sjarme gee.

Die boek eindig met die woorde van Iyanla Vanzant: “Forgiveness is giving up the hope that the past could be any different.”

Ja, die geheime, ja, die raaisels, ja, die onreg, maar dan kom die verstaan en die vergifnis, opstaan, aangaan en nuut lewe. Vir my was dit die boodskap, vir elkeen sal dit iets anders wees. Jy sal nie met leë hande wegstap nie.

  • 4

Kommentaar

  • Uitstaande boek! Daar is enkele aspekte wat ek nie lekker gesnap het nie. Ek soek 'n eenvoudige antwoord: wat is die konneksie tussen Kate en Abel?

  • Ongelukkig maak sy die fout om van 'n onegte kind ipv 'n buite-egtelike kind te praat. Nogal 'n groot fout vir 'n skrywer wat haar taal behoort te ken. Wonder hoe dit by die uitgewers verbygeglip het. Persoonlik dink ek haar boek oor die Jehovagetuies was beter.

    • Avatar
      Karin-marie van Niekerk

      Kernwoordeboek - FF Odendal, p 398: 'Onegte' word gebruik in die betekenis van 'buite die huwelik', veral in die uitdrukking 'onegte' kind.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top